Читать книгу Tryna du Toit-omnibus 7 - Tryna du Toit - Страница 7
ОглавлениеHoofstuk 4
Aan die begin van die jaar het Cathy haar intrek in die woonstel geneem. Tannie Blanche, wat die hele woonstelstorie ten strengste afgekeur het en geen kans laat verbygaan het om so te sê nie, het gereël dat sy voorlopig by tannie Mona gaan bly. Om onnodige spanning te vermy, het Cathy ingewillig. Maar gelukkig het tannie Mona kuiergaste verwag en sy was blykbaar verlig toe Cathy sê dat sy graag aan die einde van die week in die woonstel wil intrek.
Terwyl sy by tannie Mona was, het Cathy gereël dat die meubels wat sy en Wilna uitgesoek het – twee divans, twee stoele en ’n tafel – by die woonstel afgelewer word. Sy het ’n dag lank skoongemaak en uitgepak, die linnegordyne wat haar ma vir hulle gegee het opgehang, haar boeke uitgepak, en met trots na haar handewerk gekyk.
Die mooi geweefde divanoortreksels – nog deel van haar uitset – en helderkleurige kussings het gesellig gelyk. Die vertrek was nog ’n bietjie leeg, maar sodra Wilna kom, sal hulle probeer om op ’n vendusie een of twee gemaklike stoele, ’n boekrak en ’n paar los tafeltjies te koop. Die tafel en twee stoele het op die balkon gestaan, met ’n mooi helder geweefde tafeldoek wat Cathy by haar ma gebedel het. ’n Paar etse het teen die muur gehang en daar was ’n Leerdamvaas en ’n paar geraamde vakansiefoto’s op die kaggelrak. Buite het die son geskyn, die stukkie blou see het geskitter, en Cathy het gewens daar was iemand wat haar woonstel saam met haar kon bewonder.
Jos was terug en het haar twee aande vantevore by tannie Mona kom groet. Hy was egter besig en sou nie kon kom kuier nie. Jos het aan die einde van sy vakansie ’n ligte aanval van longontsteking gekry en moes ’n paar dae in die hospitaal in Salisbury deurbring. Hy het bleek en moeg gelyk en was nog maerder as gewoonlik, maar hy het Cathy se besorgdheid weggelag.
“Ek het lankal van die ou siektetjie vergeet! Moenie jou bekommer nie, julle sal nog lank met my opgeskeep sit.”
Hy het reeds met sy werk by die uitsaaikorporasie begin en bly voorlopig in ’n residensiële hotel in Seepunt. Hy was vol planne en reeds besig met voorbereidings vir ’n radiodrama. Hy is ook deeltyds aangestel as musiek- en dramaresensent by een van die plaaslike koerante en het intussen gewerk aan ’n reeks artikels oor sy onlangse reis deur Afrika.
Jos se geselskap was so stimulerend soos altyd en Cathy was bly om hom weer te sien. Soos gewoonlik het sy geesdrif haar ook aangevuur, en die vae onsekerheid van die afgelope weke het soos mis voor die son verdwyn. Die gerugte oor Jos kan dalk waar wees – niemand is volmaak nie – maar sy weier om te glo dat dit so ernstig is of dat dit enige bedreiging vir sy toekoms inhou.
Jos het haar genooi om die Sondag ’n ent saam met hom te gaan ry en sy het die uitnodiging gretig aanvaar. Sy wou graag meer hoor van sy vakansie en daar was baie dinge wat sy met hom wou bespreek.
Vir Andries het sy nog nie weer gesien nie, maar sy het dikwels aan hom gedink en gewonder hoe sy vriendskap met Annette vorder. Cathy kon goed verstaan dat Andries aangetrokke tot Annette voel, veral omdat hulle by die werk dikwels met mekaar in aanraking kom. Sy het egter gehoop dat dit – voorlopig altans – by vriendskap sal bly. Sy sal bly wees as Andries weer ’n meisie kry, maar hy hoef darem nie so haastig te wees nie. Dis nie reg nie en buitendien, voor sy vir Andries aan ’n ander meisie afstaan, wil sy eers heeltemal seker wees dat sy hom nie self wil hê nie!
Cathy het gaan bad, ’n wit moulose bloese en ’n wye swart linneromp met groot pienk blomme aangetrek en op die balkon gaan staan en droom terwyl sy kyk hoe die skemering oor die stad toesak. Sy het net gedink dat sy seker aanstaltes moet maak om met haar aandete te begin toe die voordeurklokkie lui. Verras hardloop sy deur toe en maak dit oop.
Dit is Andries wat voor die deur staan met ’n groot bos rooi angeliere in sy hand.
“Goeienaand,” glimlag hy. “Is dit te vroeg om besoekers te ontvang?”
“Andries!” Sy is so bly om hom te sien dat sy hom byna omhels. “Jy kom asof jy gestuur is. Is die blomme vir my? Dis pragtig, dankie – en net wat die woonstel kortkom. Maar kom in, dan kan jy self sien.”
Hy volg haar na binne en kyk stilswyend na die mooi, vrolike kamer, dan na die jong meisie wat met blomme in haar arms en sterre in haar oë langs hom staan.
“Wel, wat dink jy daarvan?” vra sy toe hy nie praat nie.
“Ek dink dit lyk baie mooi en gesellig,” sê hy sag. “Amper net so mooi soos die woonstel waarvan ons twee saam gedroom het.”
Sy draai vinnig na hom en die lig verdwyn uit haar gesig. Berouvol kyk sy na hom.
“Andries, ek is jammer, ek het nie bedoel . . .”
Hy glimlag. “Toe maar, ek was nie besig om jou te verwyt nie. Die gedagte het maar net by my opgekom.”
“Dis gaaf van jou om vir my te kom kuier,” sê sy skamerig. “Hoe het jy geweet waar ek is?”
“Jou tannie Mona het vir my gesê. Ek het haar gebel om te vra of jy al gekom het.”
Solank sy die blomme in die water sit, stap hy balkon toe om die wêreld van daar te bekyk. Toe sy terugkom in die woonkamer staan hy voor die kaggel met een van die foto’s in sy hand. Dis van hulle twee, glimlaggend en gelukkig, geneem in Mon Désir se tuin kort nadat hulle verloof geraak het.
“Ek het al vergeet van die foto,” sê hy. “Waarom het jy dit saamgebring?”
“Waarom nie?” vra sy. “Jy is mos nog my vriend, is jy nie?”
Hy kyk ’n lang oomblik na haar, dan sê hy onverwags: “Dis ’n baie mooi romp wat jy aanhet. Deel van jou uitset?”
Sy kyk onseker na hom, dan sien sy die glinstering in sy oë en glimlag verlig. “Maak dit saak of dit is?”
“Nie in die minste nie. Hoe lyk dit, het jy lus om vanaand saam met my te gaan eet? Of sal jy dit nie oor jou hart kry om nou hier weg te gaan nie?”
Sy lag. “Dankie, ek sal baie graag gaan. Ek het hard gewerk en is dood van die honger.”
Hy het haar na ’n stil restaurantjie geneem waar hulle heerlik geëet het. Daarna het hulle ’n entjie langs die see gaan ry en later het sy aangebied om vir hom koffie by die woonstel te maak. Hulle verhouding was gemaklik en soos in die ou dae het hulle gesels of sommer net stil langs mekaar gesit sonder om te praat.
“Hoe gaan dit met Annette?” vra sy vir hom toe hulle op die balkon sit, elkeen met ’n koppie koffie. “Sien jy haar dikwels?”
“Ek sien haar byna elke dag by die hospitaal.”
“En onoffisieel?” vra sy tergend.
“Af en toe,” sê hy lakonies. “Terloops, is Jos al terug?”
Sy vertel hom dat Jos siek was en van al sy bedrywighede en planne. Hy luister stil, sy oë op haar opgewekte gesig, dan sê hy stil: “Ek wil nie vir jou voorskryf of dinge vir jou bederf nie, en ek wil ook nie vir Jos probeer verkleineer nie, maar wat die man daardie aand met June se partytjie gesê het, is waar.”
Cathy se gesig verhard effens.
“Ek weet nie waarom julle almal so teen Jos is nie. Ek ken hom al byna twee jaar en het laas jaar baie van hom gesien. Daar was nooit – nie eens een keer nie – sprake van so iets gewees nie.”
“Almal wat hom ken, sal bly wees as hy homself regruk. En solank jy op jou hoede is . . .”
Sy kyk reguit na Andries.
“Is dit waarom Annette en Jos se verhouding doodgeloop het? Omdat sy nie vertroue in hom of ’n toekoms saam met hom gehad het nie?”
“Ek weet niks van Annette en Jos se sake nie, maar te oordeel aan die bietjie wat ek van hom weet, is hy iemand wat tot groot dinge in staat is – mits hy daardie swakheid van hom kan oorwin. As hy dit nie regkry nie, sal hy nie net homself nie, maar almal wat na aan hom is, in die grootste ellende dompel.” Sober vervolg hy: “Jy wou nie met my trou nie omdat ek en ons liefde vir mekaar tekort skiet aan die hoë ideale wat jy vir jouself gestel het. Hou daardie ideale altyd so hoog, en wees met niks minder as die beste tevrede nie. Moenie toelaat dat ’n jammer hart jou dinge laat doen waarvan jy andersins nie sou droom nie.”
Hy staan op en kyk af na haar, albei sy hande in sy sakke. “Ek is jammer as ek nou die aand met my prekery bederf het, maar ek is nie baie gelukkig oor jou vriendskap met Jos nie. Maar ek besef dis nie my saak nie en belowe jou dit sal nie weer gebeur nie.”
“As al die dinge wat julle sê waar is, dan het Jos juis sy vriende nou nodiger as ooit vantevore. Wat beteken ’n vriend as hy sy rug op jou draai juis wanneer jy hom die nodigste het?”
“Ek sê nie jy moet jou rug op hom draai nie. Ek sê net jy moenie uit jammerte vir hom dinge doen wat jou eie lewe kan verongeluk nie.”
“Ek is nie jammer vir Jos nie,” sê sy koud. “Ek bewonder hom en ek dink hy is ’n besonder interessante en stimulerende mens.”
“Wel,” sê hy spottend, “ek hoop hy deurstaan die toets van die tyd beter as ek!”
Sy stap saam met hom binnetoe, kwaad en ontsteld. Voor die kaggel staan hy ’n oomblik stil en tot haar verbasing en verdere ontsteltenis neem hy die geraamde foto van hulle twee van die kaggelrak af en steek dit in sy sak. “Ek verkies om nie hier op jou kaggel te pryk nie. Kry liewer ’n foto van Jos.”
Sy gluur hom vererg aan.
“Dis my foto, gee dit asseblief terug. Ek sal dit nou hier voor jou oë stukkend skeur.”
Hy glimlag geamuseerd.
“Ek sal dit in die familie-argief bewaar! Dankie vir die koffie en moenie so kwaad wees nie. ’n Dame moet leer om haar humeur te alle tye te beteuel.” Dan sê hy op heeltemal ’n ander toon: “Ek sal weer kom. Ek het jou ouma belowe ek sal af en toe by jou inloer om seker te maak dit gaan goed met jou.”
Haar gesig val en sy kan nie haar teleurstelling verberg nie.
“Is dit waarom jy vanaand gekom het? Omdat jy vir Ouma belowe het?”
“Waarom anders dink jy het ek gekom?”
Sy haal haar skouers op en sê gesteurd: “In daardie geval hoef jy nie weer te kom nie.”
“As ’n mens vir jou ouma ’n ding belowe, sorg jy dat jy daardie belofte nakom. Maar jy hoef nie bang te wees nie. Ek is nie van plan om jou onnodig lastig te val of my in jou privaat sake in te meng nie.”
Daarmee sê hy tot siens en stap uit.
Kwaad en ontsteld bly staan sy daar in die middel van die vloer.
Sy kyk na die kaggelrak waar sy die foto’s gerangskik het, maar selfs met die rooi angeliere lyk dit skielik leeg en oninteressant. Wat verbeel Andries de Wet hom! Net omdat hulle eenmaal verloof was en hy ’n simpel belofte aan haar ouma gemaak het, gee dit hom nog nie die reg om vir haar te wil voorskryf wat om te doen nie. Sy is oud genoeg om op haar eie voete te staan en haar eie besluite te neem. En hoe gouer hy dit besef, hoe beter.
Vermetele, baasspelerige man! Sy voel of sy hom kan braai. Hy het nou haar hele bui bederf. En sy was nogal so bly om hom vanaand te sien.
Die Sondag was ’n helderblou dag. Nie ’n windjie het geroer nie. Cathy het vroeg opgestaan, vir haarself ontbyt gemaak, die woonstel aan die kant gemaak, en toe met ’n boek op die balkon gaan sit. Sy het Jos nie voor elfuur op die vroegste verwag nie. Hy was ’n regte nagwolf en het vroeë oggende gehaat. Tot haar verbasing klop hy net na tienuur aan haar deur.
“Jy is vroeg,” sê sy verras.
“Ek het gedink miskien waai die wind later, so kom ons geniet maar die mooi dag terwyl ons kan.” Hy het haar woonstel deurgekyk en goedkeurend geknik. “Dit lyk baie gesellig, maar ek sal maar voorlopig in die hotel bly. As ek vir myself moet kos maak, vergaan ek seker van ellende. Maar kom, die blou dag roep en dit raak laat.”
Opgewonde het Cathy saam met hom by die trap afgehardloop. Hulle het die pad na Somerset-Wes en die Strand gekies, maar dit het daar reeds gewemel van die mense en hulle het besluit om verder met die kuspad aan te ry. Op een plek, waar die grond skerp wegval van die pad, het hulle uitgeklim en ’n lang ruk sit en kyk hoe die hoë golwe hulleself skuimend te pletter loop teen die donker rotse daar onder.
“Wat ’n volmaakte plek,” sê Jos later saggies en daar is ’n peinsende uitdrukking op sy gesig. “Ek is seker ’n mens sal hier altyd inspirasie vind, al is jy ook hoe moeg en sat vir die lewe.”
Cathy, wat die afgrond heimlik so ’n bietjie vreesaanjaend vind, sê liggies: “Wie raak nou moeg en sat van die lewe as daar nog so baie interessante dinge is om te doen? Kom ons ry.”
Hand aan hand stap hulle terug na die motor. Later hou hulle stil by ’n strandjie en gaan stap ’n ent. Die somerson brand op hulle neer en hulle is verplig om in die skadu van ’n groot oorhangende rots skuiling te soek. Die vars seelug en oefening het Cathy se eetlus geprikkel en sy begin wonder wanneer en waar hulle gaan eet. Asof in antwoord staan Jos op en stap na die motor. Hy kom terug met ’n kardoesie appels en ’n stuk sjokolade wat hy vir haar aanbied.
“Is dit ons middagete?” vra sy laggend.
“Hier is nog ’n halwe pakkie beskuitjies ook,” sê hy en bring dit ook te voorskyn. “Ons kan later as ons by ’n kafee kom ’n koppie tee of ’n koeldrank gaan drink. Ek hoop dis genoeg,” voeg hy effens bekommerd by.
“Heeltemal genoeg,” sê sy. Sy vryf ’n appel met haar sakdoek blink en begin smaaklik daaraan eet. As sy geweet het, kon sy ten minste vir hulle ’n paar lekker hamtoebroodjies ingepak het. Maar sy is so gewoond aan Andries se deeglikheid dat sy nooit daaraan gedink het nie. Volgende keer sal sy beter weet.
Vir Jos is kos natuurlik van minder belang as die dinge van die gees. Sy is seker hy eet nie genoeg nie, daarom lyk hy soos hy lyk. Hy het iemand nodig om na hom te kyk, iemand wat sal sorg dat hy genoeg eet en rus.
“Haai,” sê Jos saggies langs haar. “Kom terug. Ek is besig om vir jou iets belangriks te vertel.”
“Ek was nooit weg nie,” sê sy. “Vertel maar, ek luister.”
Hulle het oor alles en nog wat gesels. Oor boeke en oor mense, oor die lewe en hulle planne en ideale. Later het hy ’n digbundel uit sy sak gehaal en met die gedreun van die see in die agtergrond vir haar daaruit voorgelees. Hulle het saam met die digter gedroom, gefilosofeer, gejuig en gepeins – hulle was een met die volmaakte dag en die son en die see. Heerlike gedigte, ewig en onverganklik, en sy sanik oor ’n hamtoebroodjie?
Heelwat later, toe dit so ’n bietjie koeler was, het hulle ge-swem en ’n rukkie in die son lê en bak. Jos se byna pynlike skraalheid het Cathy weer opgeval. Hy is heeltemal te maer, dink sy, maar sy het dit nie gewaag om iets te sê nie.
“Jy het my nog nie van jou vakansie vertel nie,” sê Jos onverwags.
“Dit was heeltemal lekker en daar was meer as genoeg om te doen, maar ek was nogal eensaam – ek het seker maar na my ouers en my broers verlang. Maar ek het lekker gerus en baie gelees, en ek is gereed vir alles wat voorlê.” Sy aarsel ’n oomblik, dan sê sy: “Ek het Annette ook daar gesien.”
“Annette? Het sy daar gekuier?”
“Sy het een naweek saam met Andries gekom – sy ouers het ook daar vakansie gehou.”
“Andries? Ek het nie geweet sy en Andries is so goed bevriend nie.”
“Hulle werk by dieselfde hospitaal en sien mekaar glo dikwels.”
Jos antwoord nie. Daar is ’n diep frons tussen sy wenkbroue en Cathy wonder wat hy dink. Sy moes seker nooit gesê het dat sy vir Annette gesien het nie.
“Wel,” sê Jos eindelik. “Andries en Annette! Wie het dit nou kon dink? Kom, dis tyd dat ons huis toe gaan.”
In die laatmiddag ry hulle huis toe. By die plek met die gevaarlike afgrond vertoef hulle weer ’n lang ruk, terwyl Jos stilswyend voor hom uitstaar. Dit is byna asof hy hom nie daar kan wegskeur nie. Die see is nou vol goud en silwer, en Cathy sit roerloos langs Jos, bang om die vreedsaamheid van die oomblik te versteur.
Jos hou van haar, dink sy toe hulle verder ry. Hulle is goeie vriende, maar tog bly hy in baie opsigte vir haar ’n raaisel. ’n Gekompliseerde persoonlikheid en dikwels seker ook ’n eensame mens. Hoe meer sy van Jos sien en hoe beter sy hom leer ken, hoe meer hou sy van hom en bewonder sy hom. Sy wens hy wil haar meer van homself vertel – nie net van sy planne en ideale nie, maar ook van sy vrese en die dinge wat hom pla. Maar vir daardie oomblik – dit weet sy intuïtief – sal sy geduldig moet wag.
By die huis het sy vir hulle ’n omelet en roosterbrood en koffie gemaak Tot haar blydskap het hy net so smaaklik soos sy geëet.
“Dit was heerlik, dankie,” sê Jos toe hy klaar geëet het. “Ek het nie geweet koskook is een van jou talente nie.”
“Dit is nie eintlik nie,” glimlag sy. “Maar my ouma het daarop aangedring dat haar kleindogters darem die elementêre beginsels van koskook ken.”
“Jou ouma? Die een wat stoksielalleen daar in die oudorp bly?”
Sy knik. “Jy moet eendag saam met my gaan dat jy haar kan ontmoet. Ons is almal maar in ons pasoppens vir haar, maar ons is ook lief vir haar en baie trots op ons mooi ouma. Sy is volgende jaar tagtig, maar jy sal dit nie sê as jy haar sien werk in haar huis en tuin nie. Haar verstand is ook nog besonder helder, en sy stel belang in alles wat gebeur – in familiesake sowel as die wêreld daar buite.”
“Ek sal haar graag wil leer ken. Dit klink vir my of jy so ’n bietjie na jou ouma kan aard. Wat het sy van die verbreekte verlowing gesê?”
“Sy was ontevrede en ek dink ’n bietjie teleurgesteld – Andries is een van haar gunstelinge en die Louws was al die jare hulle bure en goeie vriende gewees. Sy het ook die tafeldoek teruggeneem wat sy spesiaal vir my uitset gehekel het. Maar sy het later vir my gesê dis miskien ’n goeie ding dat ek ’n bietjie meer ervaring van die lewe kry voor ek trou.”
“Bedoel sy daarmee dat jy nog nie volwasse genoeg is nie?” vra hy glimlaggend.
“Dis moontlik,” sê sy skouerophalend. “Moet jy nou gaan?” vra sy toe hy opstaan.
“Dis al laat en ek het nog baie werk om te doen.” Onverwags sit hy sy arm om haar – die eerste keer dat hy so iets doen – en trek haar ’n oomblik saggies teen hom aan. “Nogmaals dankie vir alles – dit was ’n volmaakte dag, in alle opsigte. Jy is ’n baie spesiale meisie, Cathy, en ek sien uit na die jaar wat voorlê. Ek hoop dit gaan vir jou en my albei ’n baie interessante en produktiewe jaar wees.”
Hy laat sak sy kop en soen haar liggies op die mond, en soos een in ’n droom stap sy saam met hom deur toe.
Net die volgende dag het sy werk begin soek. Haar deeltydse aanstelling by die tegniese kollege sou haar bedags net ’n paar uur besig hou, en die salaris was nie genoeg om van te leef nie. Sy het ’n bietjie geld in die spaarbank in geval van nood, maar sy was vasbeslote om nie daaraan te raak nie. Sy wil vir haar ouers en almal wys dat sy na haarself kan kyk en op haar eie voete kan staan.
Sy het gehoop om ook by die uitsaaikorporasie werk te kry – Jos het belowe om ’n goeie woordjie vir haar te doen – maar tot haar teleurstelling was daar nie op die oomblik enige vakatures nie. Haar stemtoetse was egter geslaagd en sy is daar weg met die belofte dat hulle haar in gedagte sal hou. Maar sy het gewonder vir hoeveel meisies voor en ná haar hulle dieselfde belofte maak en het ’n bietjie bedruk gevoel.
Sy het die hele middag lank sommetjies gemaak en nadat sy die saak goed oorweeg het, het sy – ten spyte van wat Jos gesê het – besluit om ’n paar privaat leerlinge te probeer kry. Sy gee liewer taalles as om in ’n kantoor tikwerk te doen of die hele dag met droë, oninteressante lêers te werk.
Sy het dadelik ’n paar advertensies in die koerante laat plaas en ongeduldig gewag om te sien of dit enige resultate sal oplewer. Die eerste week het egter verbygegaan sonder dat iets gebeur, en haar hart het in haar keel gesit. Sy het so grootgepraat, sy was so seker dat sy op haar eie voete kan staan – wat ’n vernedering sal dit nie wees as sy weer by die familie moet gaan aanklop om hulp nie. Nee, daarvoor sien sy nie kans nie. Dan liewer in ’n kantoor gaan werk!
Sy sal volgende week weer advertensies laat plaas. Miskien sal dit dié keer beter gaan. Mense begin stadigaan van hulle vakansies af terugkeer en die skole heropen oor ’n week of twee. Dinge sal eers dan weer hulle normale gang gaan.
Cathy was een middag laterig alleen by die woonstel, besig om haar lesings agtermekaar te kry, toe daar aan haar deur geklop word. Effens ongeduldig staan sy op. Dis seker maar weer een van die talle straatverkopers wat heeldag by die woonstel aanklop.
Sy maak die deur oop. Dis haar broer Charl wat glimlaggend buite wag. ’n Oomblik staar sy haar besoeker aan asof sy haar eie oë nie kan glo nie, dan val sy hom om die nek.
“Charl! Waar kom jy vandaan? Wat maak jy hier?”
Charl vou sy sussie in sy lang arms toe en ’n oomblik druk sy haar gesig teen sy bors. Dan stoot sy hom liggies weg, vee die trane met die agterkant van haar hand af en nooi hom binne.
“Dis wonderlik om jou te sien, ouboet. Wanneer het jy gekom? En hoe lank bly jy?”
“Ek is net ’n dag of twee hier en hoop om môre weer terug te vlieg as hulle vir my plek kry. Dit het alles baie vinnig gebeur. Maar ek wou jou in elk geval kom verras.”
Sy wys die woonstel vir hom, maar hou die hele tyd aan sy arm vas, bang dat hy sal verdwyn as sy hom laat los. Eers noudat sy hom sien en aanraak, besef sy hoe baie sy die hele vakansie na haar familie verlang het.
“Nou toe,” sê hy terwyl hulle van die balkon af kyk na die stukkie hawe wat silwerblou in die laatmiddagson vertoon. “Geniet jy jou vryheid, of is dit nie heeltemal so wonderlik as wat jy jou dit voorgestel het nie?”
“Natuurlik is dit wonderlik, maar ek verlang darem baie na julle almal en partymaal vang die eensaamheid my so ’n bietjie. Maar sodra Wilna kom en dinge aan die gang kom, sal dit seker weer te besig raak.”
Hy vra wat sy alles gaan doen en ’n bietjie onwillig vertel sy hom hoe sake staan.
“Jy sal maklik genoeg werk kry,” sê hy. “Daaraan twyfel ek nie. Maar Jeanne en ek het gewonder of jy nie lus het om ’n rukkie Pretoria toe te kom nie. Ek sal dadelik vir jou werk kry en die verandering sal jou goed doen. As jy bang is daar is nie oulike mans in die Transvaal nie – kom kyk gerus. Jy sal ’n verbasende aantal Maties onder hulle vind! Jy kan aan die begin by ons inwoon – finansieel sal dit vir jou baie makliker wees – en ek belowe jou ons sal ons glad nie met jou sake bemoei nie.”
Cathy kyk na haar broer, geraak deur die vriendelike aanbod, maar dan skud sy haar kop.
“Dankie, ouboet, dis lief van jou en Jeanne, maar voorlopig wil ek liewer hier bly. Ek wil op my eie voete leer staan.”
“Ek verstaan. Maar die aanbod staan, so as jy van plan verander, laat weet maar net. Jou kamer sal reg wees vir jou. Jy kom in elk geval Juliemaand by ons kuier. Terloops, sien jy ooit vir Andries? Of het julle alle diplomatieke betrekkinge verbreek?”
Sy lag. “Ons is nog goeie vriende – behalwe wanneer hy my kwaad maak. Hy het by my kom kuier die eerste dag wat ek hier ingetrek het en my die aand vir ete uitgeneem – hy het glo vir Ouma belowe om ’n ogie oor my te hou.”
“Wel, sus,” sê Charl, “jy ken natuurlik jou eie hart beter as enigiemand anders, maar Jeanne en ek was albei teleurgesteld toe ons hoor dat die troue nie net uitgestel is nie, maar dat jy ook die verlowing verbreek het. Wat het gebeur? Julle was dan albei so halsoorkop verlief.”
“Verlief, ja, maar dit was al. By Andries sal sy werk altyd eerste kom – en ek is nie bereid om ’n meubelstuk in enige man se huis te wees nie.”
Charl kyk sy sussie skerp aan en daar is ’n fyn glimlag op sy gesig. Maar hy sê niks.
Hulle gesels heerlik totdat sy later besef dat dit seker tyd is om te dink wat sy vir aandete gaan maak. Charl los egter die probleem op deur haar vir ete te nooi.
“Dit sal wonderlik wees. Maar ek wou jou darem graag gewys het ek kan kos maak – al is dit ook net spek en eiers.”
“Jy kan my volgende keer wys. Sal ons Andries nooi om saam te gaan?”
Cathy dink ’n oomblik na. Dit sal lekker wees om Andries weer te sien – al is sy nog vir hom kwaad. Maar as Charl môre al weer weggaan, wil sy hom vanaand met niemand deel nie, nie eens met Andries nie.
Hulle het lekker geëet en gekuier, maar sy het Charl gewaarsku dat sy halftien, wanneer een van Jos se programme uitgesaai word, weer terug in die woonstel wil wees. Charl wou natuurlik meer van Jos weet, en sy het hom die een en ander vertel.
“Hy klink na ’n interessante man,” sê Charl. “Jammer ek moet môre al weer teruggaan – ek sou graag met hom kennis wou maak.”
Hulle was betyds terug in die woonstel en Charl het saam met haar na die program geluister. Dit was ’n geselsie oor bekende operas en Cathy het met stille trots geluister. Die program was kunstig opgestel en Jos se mooi stem, so musikaal en vol vitaliteit, het haar met ’n vreemde opwinding vervul.
“Baie interessant,” sê Charl toe dit klaar was. “Ek sal vir Jeanne sê om volgende keer te luister. Maar vertel my gerus meer van Jos. Van waar ken jy hom?”
Sy het net vir hulle koffie gemaak, toe daar weer ’n klop aan haar deur is. Charl se wenkbroue lig, maar Cathy skud net haar kop. Sy kan nie dink wie so laat in die aand vir haar kom kuier nie.
Dit was Jos. Sy kuif het oor sy voorkop gehang, sy klere was gekreukel en hy het moeg gelyk. Maar die blou oë het geblink en hy was so opgewonde soos ’n skoolseun.
“Wel?” sê hy. “Hoe het dit geklink?”
“Pragtig,” sê sy. “Maar kom in. My broer is hier en ek het nou net vir ons koffie gemaak.”
Jos het ingekom en saam met hulle koffie gedrink. Hy was in ’n opgewekte bui en hulle het so lekker gesels dat dit twaalfuur geword het voor hulle dit besef het.
“Ek is jammer, mense, ek het nie besef dis so laat nie,” sê Jos verskonend. Hy groet Charl en voeg glimlaggend by: “Wees gerus, ons sal na haar kyk.”
“Hmmm,” sê Charl toe Jos weg is. “Nou verstaan ek waarom jy nie wil weggaan nie. Die ou, bekende jagvelde is te interessant.”
“Onsin,” glimlag sy. “Wat dink jy van hom, Charl?”
“’n Buitengewone man – ten spyte van sy deurmekaar hare en verkreukelde voorkoms. Geesdriftig, oorspronklik, begaafd en temperamenteel! Loop maar lig, sussie. Hy is seker ’n baie interessante vriend, maar as jy aan trou dink, sou ek liewer vir Andries neem.”
Charl is die volgende middag weer terug na Pretoria toe. Cathy het hom by die lughawe gaan afsien. Die kuier het haar goed gedoen en sy het sekerder van haarself gevoel. Alles sal regkom, sy moet net geduldig wees.
Sy was eintlik van plan om direk terug woonstel toe te gaan, maar was warm en moeg en eensaam, en het dit oorweeg om sommer iets in die stad te eet en dan na ’n middagvertoning toe te gaan. In die bioskoop sal dit ten minste koeler wees, en dalk sal sy daarna beter voel en weer lus voel vir werk.
Sy het voor ’n boekwinkel se venster gestaan en kyk na die jongste boeke wat daar uitgestal is, nog nie seker wat om te doen nie, toe iemand aan haar arm raak. Sy kyk op in Andries se glimlaggende gesig.
“Dokter Andries de Wet!” sê sy verras en haar gesig verhelder. Dan onthou sy dat sy nog vir hom kwaad is, en heelwat koeler vervolg sy: “Die wêreld is darem maar klein, nè? Het jy al weer vakansie?”
“Ek het stad toe gekom om ’n paar dinge te doen en my hare te laat sny,” antwoord hy onverstoord. “Is jy besig, of kan jy gou saam met my gaan eet?”
Sy aarsel. Sy is baie, baie lus om saam met hom te gaan, maar Andries moet darem ook nie dink hy kan maar net sy vinger lig, dan kom sy aangehardloop nie. Andries sien sy weifel en neem haar aan die arm.
“Kom, wat ook al die moeilikheid is, jy sal beter voel as jy eers iets geëet het.”
“Daar is geen moeilikheid nie,” protesteer sy, maar sonder om verder teë te praat, stap sy saam met hom.
Net buite die restaurant waarheen hy haar neem, staan ’n groot skaal, en Andries vra haar om daarop te klim. Sy wil nog teëpraat, maar die volgende oomblik is sy op die skaal en Andries druk ’n sent in die gleufie. ’n Oomblik kyk hy na die naald wat haar gewig registreer, dan knik hy.
“Hmm! Is jy op dieet of het jy nie geld om kos te koop nie?”
“Ek het baie geld en ek is ook nie op dieet nie,” antwoord sy koud. Toe hulle aan tafel sit, haal hy sy sakboekie uit en maak ’n aantekening daarin.
“Wat teken jy nou aan?” vra sy nuuskierig.
“Jou gewig. Vir die rekord. As ek aan jou ouma verslag doen, moet dit darem op ’n wetenskaplike grondslag ge-skied. Gewig, bloeddruk, hart, longe, algemene gemoedstoestand, voorkoms . . .”
Sy kyk hom ’n oomblik fronsend aan, maar die bruin oë glimlag en onverwags giggel sy.
“Jy’s verspot,” sê sy. “Maar sowaar, Andries de Wet, as jy stories by my ouma aandra, vergewe ek jou nooit nie. Sjoe, maar ek is honger. Wat gaan ons eet?”
“Waarvoor is jy lus? Ek is vol geld!”
Sy kies en die kelner neem die bestelling. Dis heerlik om Andries weer te sien, dink Cathy terwyl haar blik ’n oomblik goedkeurend op hom rus. Met sy donker, kortgeknipte hare en helderbruin oë is hy ’n baie aantreklike jong man, en hy is seker baie populêr onder sy pasiënte.
“Nou toe, laat ek hoor wat makeer,” sê Andries saaklik. “Waaroor het jy so diep staan en peins daar voor die boekwinkel?”
Sy lag ’n bietjie onseker en sê spottend: “Dit lyk my jy sit een van die dae met my opgeskeep. Ek kan nie werk kry nie.”
“Wat het van jou aanstelling by die tegniese kollege geword?”
“Dit het ek nog, maar dis nie genoeg om van te lewe nie.”
Sy vertel hom wat gebeur het en hy luister stil.
“Wat het jy verwag?” sê hy toe sy klaar is. “Dis vakansietyd, niemand lees nou daardie tipe advertensies nie. Wag tot die skole begin en kyk of die reaksie dan beter is.”
“Ek hoop dit is,” sê sy sober. “Ek is nie baie lus om in ’n kantoor te gaan werk nie. En wie sê ek sal werk in ’n kantoor kry – my tikwerk is maar beroerd.”
“Hou moed,” troos hy. “Alles sal regkom. En as die ergste gebeur, kan jy altyd by jou ouma gaan bly.”
“Dankie,” sê sy liefies. “In daardie geval trou ek liewer met jou.”
’n Oomblik kyk die bruin oë in hare, dan skud hy sy kop.
“Nee, my lief. Jy het jou kans gehad! Ek het jou gesê ek is ná daardie Vrydag nie meer beskikbaar nie.”
Sy stem is lig en hy glimlag, maar sy voel skielik ongemaklik en kyk verleë weg.
“Jy hoef nie bang te wees nie,” sê sy koud. “Ek het maar net ’n grappie gemaak.”
“Natuurlik,” sê hy kalm. “Ons verstaan mekaar goed! Wat hoor jy van jou ouers?”
Die kos is heerlik en hulle gesels lekker, maar Cathy voel nie heeltemal op haar gemak nie. Wat het haar besiel om so ’n opmerking te maak!
Andries bied aan om haar gou huis toe te neem, maar sy bedank die aanbod.
“Dis net so maklik met die bus,” sê sy. “Dankie, dit was baie lekker. Ek sien nou weer kans vir die wêreld.”
Sy gesig versag effens.
“Alles sal regkom – wees maar net so ’n bietjie geduldig. En as die nood regtig druk, kan jy nog altyd tik- en snelskriflesse neem.”
’n Vlugtige oomblik rus haar hand in syne, dan draai hy om en stap flink weg. Cathy kyk hom met ’n frons agterna. Dis dieselfde Andries, en tog ook nie heeltemal nie. Daar is tye dat sy amper voel asof hy ’n vreemdeling is.
“Jy het jou kans gehad!” Verbeel jou! Het hy regtig gedink sy bedoel dit ernstig? Maar dit is nogtans ’n vreemde gedagte dat Andries nie meer beskikbaar is nie, al sou sy bereid wees om hom terug te neem.
Voor Wilna gekom het, het Cathy nog ’n kuiergas gekry. Annette het onverwags een oggend daar aangekom en ’n koppie tee saam met haar gedrink. Annette het ’n blou rok aangehad en het koel en baie mooi gelyk.
“Ek het net kom hallo sê,” sê sy toe Cathy die deur vir haar oopmaak.
Cathy was aangenaam verras om haar te sien – sy het gewonder of Annette regtig sal kom. Hulle het lekker gesels en Annette het haar uitgevra oor haar werk, maar sy het nie ’n woord van Jos of sy werk gesê nie. Cathy het opsetlik ook nie na hom verwys nie, en dit was eers toe sy opstaan om te gaan dat Annette terloops vra of sy hom al gesien het.
Cathy vertel haar dat Jos siek was, maar gelukkig gou herstel het en vol planne vir die toekoms is.
“Nog net so vol energie en geesdrif soos altyd,” merk Annette op. “Ek is bly dit gaan goed met hom.”
Cathy kyk onseker na haar, dan sê sy impulsief: “Jy en Jos was sulke goeie vriende en nou sien julle mekaar nooit nie. Het julle rusie gemaak?”
Daar is skielik ’n hartseer trek op Annette se mooi gesig.
“Jy kan dit seker rusie maak noem – ons het in elk geval besluit dit sal beter wees as elkeen maar sy eie pad gaan.” Cathy wag, haar oë vraend op Annette gerig, en ná ’n rukkie vervolg sy: “Ons was van plan om aan die einde van daardie jaar verloof te raak, maar toe . . . toe het die ou moeilikheid weer begin. En dít nadat dit lank so goed gegaan het dat ek gedink het hy is heeltemal genees. Ek was baie teleurgesteld en ongelukkig en het geweier om verloof te raak. Maar ek was bereid om hom nog een kans te gee en het voorgestel dat ons die verlowing ’n jaar lank uitstel. As hy ’n jaar lank kon uithou, kon ons dadelik verloof raak. Jos het hom vreeslik vererg – hy het gesê ek het geen vertroue in hom nie en dat dit baie onbillik van my was om sulke voorwaardes te stel. ’n Paar aande later het hy nie vir ’n belangrike afspraak opgedaag nie, omdat hy nie in staat daartoe was nie. Hy het my daarna om verskoning gevra – hy was altyd agterna so spyt en hy het belowe om weer te probeer, maar ek het genoeg gehad. Ek is miskien ’n lafaard, maar ek het net nie kans gesien om met Jos te trou nie – al het ek hom ook liefgehad. Liewer nou ’n bietjie hartseer as om later te sien dat alles wat vir jou kosbaar is – jou selfrespek, jou trots, jou liefde, jou hele lewe – vernietig word.”
Cathy haal haar skouers op.
“As jy so voel, was daar seker niks anders wat jy kon doen nie. Maar dis vir my moeilik om te glo dat dit so erg is. Die feit dat ek nog nooit so iets by hom gesien het nie, bewys tog seker dat hy genees is – of goed op pad na genesing is.”
“Dis moontlik. Ek hoop so. Daar is baie mense wat heeltemal genees word en daarna ’n vol en gelukkige lewe lei. Maar ek wil jou tog waarsku om baie versigtig te wees. Ek weet nie wat julle verhouding is nie . . .”
“Daar is nie ’n verhouding nie. Ons is vriende, dis al.”
“Ek hoop jy sal baie ander vriende ook maak. Die lewe is so interessant, en daar is so baie gawe mans . . .”
“Jos is my vriend,” val Cathy haar koel in die rede. “En ek is nie van plan om hom te verstoot nie, nie vir ’n dosyn ander gawe mans nie. Ek waardeer sy vriendskap. Buitendien het Jos sy vriende nodig. Ek sal soos ’n verraaier voel as ek nou – noudat ek alles weet – my rug op hom moet draai.”
“As dit net ’n kwessie van vriendskap was, sou ek met jou saamstem. Maar wanneer dit by liefde kom . . .”
“Is liefde nie soveel groter en sterker as vriendskap nie?” sê Cathy trots.
“Jy is heeltemal reg, liefde is groter en sterker as vriendskap. Maar voor ek ’n man kan liefhê – opreg liefhê – moet ek na hom kan opsien en hom kan respekteer. Want sonder respek sal liefde nie lank bestaan nie.” Sy steek haar hand na Cathy uit. “Kom kuier vir my, ek sal jou graag beter wil leer ken.”
Die lewe is darem maar snaaks, dink Cathy toe sy weer alleen is. Sy het Andries se ring teruggegee omdat sy meer van die lewe en die liefde wou hê as sekuriteit en respek. Annette weer, wou nie liefde hê wat haar nie dié dinge kon gee nie. Wie van hulle is reg?
Is dit moontlik dat sy nog eendag ’n liefde sal vind wat haar nie net sekuriteit en respek bied nie, maar ook daardie vonkie wat iets seldsaams en kosbaars daarvan maak? Sy dink so, en sy gaan soek totdat sy dit kry.