Читать книгу Tryna du Toit-omnibus 8 - Tryna du Toit - Страница 5
Hoofstuk 2
ОглавлениеAnsie sou vir die Paasnaweek saam met vriende Drakensberge toe gaan, maar twee aande voor hulle sou vertrek, bel Mercia en vra dat sy die naweek saam met hulle Donkerpoort toe kom.
“Ek weet jy het ander reëlings,” voeg Mercia haastig by voor sy kan antwoord. “Maar Jacob dring daarop aan. Julle móét almal die naweek Donkerpoort toe kom. Hy gaan volgende week vir sake Suid-Amerika toe en sê daar is iets wat hy eers met die familie wil bespreek.”
Ansie protesteer verontwaardig. Sy kan Peet-hulle tog nie op die laaste nippertjie in die steek laat nie. Buitendien, sy is nie deel van die onmiddellike familie nie en sy wil liewer nie by hulle sake betrokke wees nie.
“Jy móét kom, Ansie,” hou Mercia vol. “Ek kan goed verstaan dat jy liewer saam met jou vriende wil gaan, maar Jacob het uitdruklik gevra dat jy ook Donkerpoort toe moet kom. Hy sal baie omgekrap wees as jy nie daar is nie. Asseblief,” vra sy sag, byna pleitend toe Ansie nog aarsel. “Ek vra dit as ’n baie spesiale guns, Ons het jou die afgelope tyd so min gesien. Jy wil mos nie meer vir ons kom kuier nie …”
“Jy weet goed dat julle weg was, Mercia, en ek sien jou gereeld as jy Pretoria toe kom om by ouma Visser te kuier,” antwoord Ansie ferm, maar sy voel tog skuldig. Mercia is reg, sy kuier die afgelope tyd al hoe minder op Donkerpoort of in die groot, deftige huis in Johannesburg. “Gaan jy nie saam met oom Jacob Suid-Amerika toe nie?”
“Nee,” sê Mercia. “Nee, ek gaan nie saam nie.” Sy aarsel, dan sê sy sagter. “Ek wil ook met jou gesels, Ansie. Daar het iets gebeur – nee, ek kan nie oor die foon sê nie, maar ek wil graag jou raad vra.”
Wat kon daar nou weer gebeur het? wonder Ansie met ’n tikkie onrus. Of is dit sommer weer net ’n streek van Mercia om haar op Donkerpoort te kry? As haar stiefpa egter so ’n bevel uitgereik het, is dit seker beter om te gehoorsaam. Sy is nie bang vir Jacob Lessing nie – daardie dae is gelukkig verby – maar om Mercia se ontwil sal sy moet gaan. Maar sy is nogtans vies en teleurgesteld. Sy het daarna uitgesien om saam met Peet en die ander te gaan naweek hou, om te stap en berg te klim en perd te ry en saans onder die sterre te ontspan; om weg van die stad tyd te hê om te dink – oor die lewe, oor haar eie toekoms – en miskien ook om klaarheid oor haar eie probleme te kry.
“Ek sal dan seker moet kom,” sê sy vir Mercia. “Wie sal almal daar wees?”
“Almal kom. Ouma Visser is terug uit die Vrystaat – sy sal sommer saam met ons ry. Thelma en Tommie sal daar wees, en Bettie – sy sou die naweek weggegaan het, maar Jacob sê nou hy het haar nodig. Frank kom ook …” – dis of sy effens stamel oor die naam – “en die bure kom Saterdagaand vir ete. So, bring asseblief ’n lang aandrok saam – jy weet Jacob is gesteld op dié dinge. Kan ons jou ook oplaai, of verkies jy om self te kom?”
“Ek sal self kom, dankie.”
“Dan verwag ons jou Donderdagmiddag vroeg. Terloops, daardie skildery van Jacob is klaar. Jy sal dit die naweek op Donkerpoort sien.”
Wat broei daar nou weer in haar stiefpa se kop? wonder Ansie toe sy die telefoon neersit. Wat is die dringende saak wat hy met die familie moet bespreek? Waarom gaan Mercia – wat so graag reis – nie saam met hom Suid-Amerika toe nie? En waaroor wil Mercia met haar gesels? In haar hart is daar weer die roering van onrus, die vae gevoel van naderende onheil wat sy nie kan afskud nie. Hopelik is dit net haar verbeelding, die ou opstandigheid wat haar stiefpa se outokratiese optrede so dikwels in die ou dae by haar gewek het.
Dan is die skildery klaar. Hoe sou dit lyk? Hoe “sien” ’n kunstenaar van John Stevens se kaliber ’n man soos Jacob Lessing? Hoeveel van wat sy kennersoog sien, sal hy in die skildery blootlê? Sal dit die suksesvolle nyweraar en direkteur van maatskappye wees, die waardige ou man met sy wit kop, ’n gesiene en gerespekteerde lid van die samelewing? Of sal die skilder – soos in van sy ander portretskilderye – die man afstroop tot op die been sodat hy in al sy swakhede naak voor die wêreld staan: ’n koue, liefdelose, onverbiddelike mens met ’n onversadigbare dors na geld en mag, wat deur almal wat hom ken, gehaat en gevrees word?
Sy ril skielik asof sy koud kry. Al hou sy nie van haar stiefpa nie, sal sy dít nie graag wil sien nie.
Peet is vies en teleurgesteld toe hy hoor Ansie gaan nie meer saam met hulle nie.
“Ek is baie lus om ook te bly,” sê hy. “Sonder jou sal dit nie dieselfde wees nie. Maar ek is moeg, die wegkom sal my seker goed doen. En wanneer ek terugkom, wil ek ernstig met jou praat. Ek kan van Junie af ’n pos in Kaapstad kry. Dink solank daaraan, dan kan ons ná die naweek gesels. Miskien kan ek jou nog oorreed om saam met my te gaan.”
“Ek het nie geweet jy het sulke planne nie,” sê sy verras. “In elk geval, geniet die naweek en dink soms aan my. En wees versigtig – jy weet hoe gevaarlik daardie kranse is.”
“Miskien sal dit jou hart vermurwe as ek ’n arm of ’n been breek …”
“Of jou nek,” sê sy koel.
Peet lag. “Toe maar, ek sal versigtig wees. En sal jy intussen dink aan wat ek gesê het?”
“Ek sal,” belowe sy.
Ansie pak in en maak gereed vir die naweek, maar haar hart is swaar. Waarom het haar stiefpa die familie ontbied? ’n Familiekrisis ontstel haar altyd; sy wil liewer nie daarby betrokke wees nie.
Ansie moet die oggend nog werk. Hulle is kort aan personeel, en sy het ’n paar moeilike gevalle. Dit is byna eenuur toe sy by die woonstel kom, moeg en warm. Sy verklee vinnig, drink ’n glas melk, en ’n rukkie later val sy in die pad. Die verkeer is druk, die pad langer as gewoonlik, en Ansie is dankbaar toe sy van die groot pad kan afdraai op die stiller grondpad wat na Donkerpoort lei.
Die groot ysterhekke na die huis staan wyd oop, asof in verwelkoming vir die verwagte gaste.
Ansie hou voor die ingang stil en skakel die motor af. Met haar arms op die stuurwiel gestut, tuur sy fronsend voor haar uit na die huis wat hiervandaan tussen die bome en struike sigbaar is. Ná die drukte en spanning van die oggend en die swaar verkeer op die pad, het sy ’n paar minute nodig om tot verhaal te kom voor sy verder ry.
Dis ’n lieflike herfsmiddag, stil en buitengewoon warm vir April, met ’n blou rokerigheid wat soos ’n waas oor die namiddag hang.
Jacob Lessing onthaal dikwels naweke of met vakansies van sy sakevriende op Donkerpoort. Donkerpoort is sy trots, die groot hartstog van sy lewe, simbool van wat hy alles deur eie inisiatief in die lewe bereik het. Met welgevalle kan hy sy oë laat gaan oor die sierlike huis met die mooi antieke meubels, die Persiese tapyte en duur skilderye, oor Donkerpoort se groen landerye, sy stoetbeeste en perde wat oor die hele land bekend is. Donkerpoort is ’n juweel, ’n sieraad waarop enige man met reg trots kan wees.
Is die skildery wat John van oom Jacob gemaak het, bedoel vir die fabriek? wonder Ansie meteens. Of is hy van plan om dit hier op Donkerpoort op te hang, waar dit die kroon sal span op ’n lang en luisterryke loopbaan?
Wat sou John se planne wees? Gaan hy dadelik terug Rhodesië toe noudat die skildery klaar is?
Sy het John net een keer gesien nadat hy van Rhodesië teruggekom het. Ná Mercia se partytjie het sy aan hom ’n kort briefie geskryf om hom vir die skildery te bedank. Sy het niks weer van hom gehoor nie, maar ’n paar weke later het sy by Mercia gehoor dat hy terug in Johannesburg is en reeds aan oom Jacob se skildery begin werk het. Mercia het Ansie na ’n klein onthaal genooi wat sy vir John wou reël, maar Ansie het verskoning gemaak en tuis gebly.
En toe, een middag, heeltemal onverwags, het hy in Pretoria vir haar kom kuier.
Sy het die middag pas van die hospitaal af gekom en was besig om vir haarself ’n koppie koffie te maak toe die voordeurklokkie lui. Haar uniform was verkreukel, sy was tam en moeg en warm, en in geen bui vir geselskap nie. Maar toe die voordeurklokkie weer lui, dié keer dringender, was sy verplig om te gaan kyk wie dit is.
Dit was John Stevens.
Verras het sy hom aangestaar. Wat soek hy hier?
Hy het effens geglimlag.
“Wel. Anna? Gaan jy my nie groet nie?”
Anna? Sy het verleë geglimlag en vlugtig haar hand in syne gelê.
“Ek is jammer, ek het nie verwag om jou hier te sien nie. Kom in, asseblief. Sit solank, ek is net besig om koffie te maak.”
Met ’n tintelende gevoel van opwinding, haar tamheid vergete, haal sy twee koppies uit die rak en sit dit op die skinkbord.
“Ek hou van jou woonstel,” sê hy toe sy met die koffie inkom.
Sy glimlag. “Dankie.”
Sy hou self daarvan. Elke meubelstuk is met sorg gekies – meestal op uitverkopings gekoop, herstel waar nodig en oorgetrek na haar smaak. Die twee pragtige Persiese tapytjies het Mercia en Jacob haar met haar laaste verjaardag gegee, die skilderye het Jacob haar van tyd tot tyd gegee – met verjaardae of vir ’n spesiale geleentheid, wanneer sy dit nie kon weier nie. Bo die elektriese kaggel, waar dit die lig die beste vang, hang die skildery van die Griekse eiland wat John vir haar gegee het. Sy sien hy kyk daarna, maar hy maak geen opmerking daaroor nie.
“Woon jy alleen hier?” vra hy.
Sy lig haar wenkbroue.
“Dis nie ’n baie diplomatiese vraag nie, is dit?” vra sy tergend. Dan glimlag sy: “My woonstelmaat is verlede jaar getroud, sedertdien woon ek – amptelik – alleen. Ek verkies dit so.”
Hulle drink hulle koffie en sy wonder wat die rede vir sy besoek is. Terloops vra sy of hy haar brief gekry het.
“Ek het – twee dae voor ek sou terugkom Johannesburg toe. Ek was die meeste van die tyd by my ma. My pa is – soos ek jou gesê het – ’n paar maande gelede oorlede en sy het besluit om terug te kom Suid-Afrika toe. Haar mense is almal hier. Ek het haar gehelp om haar sake in orde te kry.”
Hy steek sy hand in sy binnesak en haal sy sakboekie uit. Hy haal ’n kiekie uit en gee dit vir haar. “Terwyl ek my pa se dokumente opgeruim het, het ek op dié kiekie afgekom. Ek het gedink jy sou miskien ook daarin belang stel. Dis my pa en twee van sy vlieëniervriende in Engeland, afgeneem tydens die Tweede Wêreldoorlog.”
Ansie neem die foto by hom. Drie jong mans in hulle vroeë twintigerjare, geklee in die uniform van die Britse Lugmag. “Herken jy een van hulle?”
Ansie knik. “Die een in die middel. Ek is seker dis hy.”
“Kyk agterop,” sê hy.
Sy draai die foto om. Agterop staan geskrywe: The Three Musketeers: Billie, Mark, John.
Sonder ’n woord staan Ansie op en gaan na haar lessenaar toe. Uit een van die laaie haal sy ’n mooi geelhoutkissie. Sy sluit dit oop en haal ’n foto uit. Sy gee dit aan John.
“Dis hy,” sê sy bondig.
Hy knik. “Ek het met my ma ook gepraat. Hulle het Mark Lessing goed geken. Hulle was … baie lief vir hom. Billie, die ander jong man op die foto, se vliegtuig is ook afgeskiet. John, my pa, is net gewond en is later terug Rhodesië toe.”
“Dis baie interessant,” sê Ansie sag. “Ek het so dikwels aan Markus gedink – gewonder wat van hom geword het, hoe hy gesterf het. Ek wens jy kon dit vir oom Jacob wys en vir hom sê jou ouers het hom geken, maar ek is bang dit sal hom net ontstel.”
“Ek is van plan om hom te vertel,” sê hy.
Sy kyk hom verras aan.
“Hy sal baie kwaad en ontsteld wees.”
“Na al die jare? Hy is ’n ou man – en eensaam ondanks al sy geld en besittings. Ek dink hy sal bly wees om te hoor dit het goed gegaan met Markus – dat hy onder sy vriende bekend was as ’n dapper jong vlieënier.”
“Ek sou dit liewer nie waag nie,” sê sy onseker. “Oom Jacob is ’n harde, onverbiddelike mens. Hy vergewe nie gou of maklik nie.”
“Ek gaan hom nogtans vertel,” hou hy vol. “Maar eers later, wanneer die skildery klaar is.” Hy bly ’n rukkie stil, dan vra hy onverwags: “Hoe gaan dit met Peet?”
Sy glimlag effens.
“Dit gaan goed met hom, dankie.”
Hy kyk ’n lang oomblik na haar, dan neem hy haar linkerhand in syne. Hy kyk daarna en dan sê hy: “Jy is nie verloof aan Peet Bruwer nie, is jy?”
Ansie verstyf.
“Nog nie,” sê sy koel.
“Jy het hom nie lief nie, Ansie. Hoe kan jy daaraan dink om met hom te trou?”
Sy trek haar hand vinnig en verontwaardig uit syne.
“Wat weet jy daarvan af?”
Sy blik is helder, deurvorsend.
“As ’n meisie verlief is, kan ’n mens dit op haar gesig, in haar hele houding sien. Jy is nie verlief nie, Ansie. Nie op dokter Peet Bruwer nie!” Hy glimlag vir haar verontwaardiging. “Toe maar, ek weet dis nie my sake nie; dat jy sal trou met wie jy wil. Ek verstaan, as ’n meisie hier na dertig se kant toe staan, raak sy seker paniekerig, gryp sy na enige strooihalm …”
Ansie kyk hom kil aan.
“Peet Bruwer is geen strooihalm nie!”
John lag, dan raak hy liggies aan haar wang.
“Moet my nie so aangluur nie. Ek terg jou maar net.” Hy kyk op sy horlosie. “Jammer, ek moet nou gaan. Ek het ’n afspraak met ’n ou dame wat wil hê dat ek haar kleindogter se portret moet skilder.”
“Dit was ’n haastige besoekie,” sê sy liggies. “Jy het my nog nie eens gesê hoe vorder jy met oom Jacob se portret nie.”
“Ek sal nie lank besig wees nie. Kom eet vanaand saam met my, dan kan ons verder gesels.” Sy kyk onseker na hom, en hy glimlag. “Kom, dit sal ons albei goed doen. As ek so sewe-uur kom, sal dit jou pas?”
Ansie het nie verder teëgepraat nie. As hy nou weggaan, wanneer sien sy hom weer? Daar is nog so baie wat sy wil weet, dinge wat sy hom wil vra. Wat ’n vreemde toeval dat sy ouers Markus Lessing geken het en goed bevriend met hom was.
Arme oom Jacob. Om net een seun te hê en hom so te verloor, vervreemd tot die laaste toe.
Sy het tydsaam gebad en ’n koel wit rok aangetrek, met die lang robynoorringe wat oom Jacob vir haar van oorsee af gebring het toe sy agtien was. Sy wou hulle ’n lang ruk nie dra nie en het hulle weggesluit saam met die ander duur presente wat hy van tyd tot tyd vir haar van oorsese reise saamgebring het. Dit was eers later, nadat sy haar onafhanklikheid getoon het, toe sy kon voel sy het niks meer van hom te vrees nie, dat sy die presente een vir een uitgehaal en begin dra het. En van almal het sy die meeste gehou van die robynoorringe. Dit is asof haar hare ’n dieper glans het, haar oë blinker is, haar vel mooier wanneer sy die robyne dra.
Toe John kom, lees sy die goedkeuring in sy oë.
“Pragtig,” sê hy en raak liggies aan een van die skitterende robyne. Bedoel hy die robyne is pragtig, of sy? wonder Ansie. En toe: “As ek jou eendag skilder, sal dit wees in ’n wit rok, met dié robynoorringe.”
“Ek het jou gesê ek sal nooit toelaat dat jy my portret skilder nie.”
“Nooit is ’n lang tyd,” sê hy glimlaggend.
“Waar gaan ons eet?” vra sy koel.
“Jy kan kies – êrens waar daar musiek is en ons kan dans.”
“Ek het gedink ons gaan gesels.”
“Daar is ’n tyd vir alles. Vanaand gaan ons dans.”
Dit was ’n heerlike aand: lig en opwindend soos vonkelwyn. Hulle het geëet en gedans en tussenin gesels. Hy wou haar egter niks van oom Jacob se portret vertel nie. “Dis nog te vroeg, ek kan nie nou al sê nie,” was al wat hy wou sê.
“Jy het my onder ’n valse voorwendsel hierheen gebring,” beskuldig sy hom.
“Is jy spyt?” vra hy tergend, en sy skud net haar kop.
Hy het haar huis toe geneem en saam met haar ingegaan, maar hy wou nie vir koffie bly nie.
“Jy het ’n lang dag gehad. Dis tyd dat jy in die bed kom. En ek moet nog vanaand terug Johannesburg toe ry.”
“Ry versigtig,” maan sy liggies.
“Ek sal.” ’n Oomblik nog kyk hy na haar, dan buk hy en soen haar liggies op haar mond. “Pas jouself op,” sê hy bruusk, draai om en stap weg.
Sedert daardie aand – nou byna ’n maand gelede – het sy hom nie weer gesien nie. Mercia het eendag terloops genoem dat John en Pat Hart ’n Sondagaand by hulle geëet het en in een van die koerante het sy ’n foto gesien waar hy saam met Pat en ’n professor en sy vrou by een of ander voorvertoning afgeneem is.
Wel, sy het dit van die begin af geweet: dis die soort meisie van wie hy sal hou, in wie hy sal belang stel. Sy het dit geweet, ja, maar die dae was vreemd leeg. Sy is maar net moeg, het sy besluit. Die naweek in die berge saam met Peet en die ander sal haar goed doen.
Maar van die naweek het toe niks gekom nie, en hier voor haar is Donkerpoort se oop hek. Die stilte en vreedsaamheid van die goue herfsmiddag het haar onrustigheid laat bedaar, en stadig, in ietwat ligter stemming, ry sy uiteindelik aan huis toe.
Toe sy laas hier op Donkerpoort was, was dit hoogsomer, maar nou lê die weelde van herfs oor die bome en plante uitgestrooi: die brons en die rooi en die geel van die hoë populiere, die goud van die lang eikelaning, die bougainvilleas en gouereën wat oor die mure en pagodes val en die donker dennebome soos veelkleurige linte deurstrengel. Die frangipani’s blom nog en daar is ’n hele heining eksotiese maanblomme wat in weelderige trosse hang.
Die dubbelverdiepinghuis, gebou van goue sierstene met sierlik gedraaide skoorstene, is ’n argiteksdroom, perfek in elke detail. Met die kleurryke pagodes, die vlamrooi en goud van die bome, die blou rokerigheid wat soos ’n waas oor die landskap hang en die ver blou berge daaragter, laat dit haar aan ’n skildery van Gregoire Boonzaier dink. Mooier kan ’n mens nie maklik kry nie.
Sy hou voor die huis stil en twee yslike wolfhonde spring blaffend op die motor af. Sy vertrou die honde nie en wag tot Piet, oom Jacob se motorbestuurder, nader kom voor sy uitklim. Piet verwilder die honde, groet en haal haar tas uit die motor.
“Juffrou was lank laas op Donkerpoort,” sê hy vriendelik. “Kan ek sommer die motortjie gaan bêre?”
“Dankie, Piet. Is die mense tuis? Alles lyk so toe en stil.”
“Meneer-hulle is met die Jeep weg; ek dink hulle het na die beeste gaan kyk. Mevrou en die ou mevrou is binne. Sal ek Nelson vra om Cognac so oor ’n rukkie vir juffrou op te saal?” voeg hy skelmpies by.
Ansie se gesig verhelder.
“Asseblief, Piet. Dit sal heerlik wees.”
Piet maak die voordeur vir haar oop en sy gaan in. Die toe binnehof is so groot soos ’n ontvangkamer. Die vloer, die spuitfontein in die middel van die vertrek, die breë trap wat na die eerste verdieping lei, is van klein groen-en-blou mosaïekteëltjies, en saam met die eksotiese pot- en rankplante skep dit ’n koel en rustige atmosfeer. Bo die trap hang ’n kosbare tapisserie, ook met ’n tuinmotief. In die een hoek, naby die hoë glasdeure wat die een muur van die vertrek vorm, staan ’n swaaibank en ’n tafel en stoele van wit gietyster. Net buite die deure droom Pierneef se bosveldbome in die broeiende middagstilte.
Die swaaideure wat na die kombuis en agterste deel van die huis lei, gaan oop en mevrou Perold kom in.
“Middag, juffrou Anna,” groet sy beleef. “Dis gaaf om jou weer hier op Donkerpoort te sien.”
“Dankie, mevrou Perold,” sê Ansie vriendelik. Al die jare kon sy mevrou Perold nie verdra nie. Nou – soos met oom Jacob – voel sy dikwels vir haar jammer. “Weet jy waar Mercia – waar mevrou Lessing is?”
Nog voor mevrou Perold kan antwoord, kom Mercia vinnig met die trap af. Hoe mooi is sy nie, dink Ansie. Sy word met die jare net mooier. Die blink rooigoue hare is pragtig gekam, haar oë is blou soos vergeet-my-nietjies, haar vel fluweelsag, haar liggaam slank en jeugdig. Toe sy nader kom, sien Ansie dat sy gespanne lyk en haar hart sak.
“Ansie!” roep sy bly uit en steek haar hande na haar dogter uit. “Jy is seker doodmoeg, hartjie. Was die pad baie bedrywig?”
Ansie omhels haar ma liggies.
“Stoet gery tot by die uitdraaipad,” sê sy lakoniek.
“My arme liefie,” sê Mercia simpatiek. “Maar ek is so bly om jou te sien – jy het heeltemal ’n vreemdeling geword. Mevrou Perold, sal jy asseblief vir Bella vra om vir ons nou tee te bring? Ons sal in my sitkamer wees. Kom, Ansie, ouma is ook daar. Piet sal jou tas kamer toe neem.”
Mercia neem haar hand en saam stap hulle met die trap op na die gesellige klein sitkamer waar ouma Visser in ’n diep stoel voor die venster sit en hekel.
Ansie is bly om haar ouma weer te sien. Sy het ’n maand lank by haar enigste suster in die Vrystaat gekuier en Ansie het haar nog nie gesien sedert sy teruggekom het nie.
Ouma Visser is reeds drie-en-tagtig, maar nog sterk en gesond vir haar jare. Met haar wit hare, haar regop houding, die mooi donker oë en sterk, edel gesig, is sy ’n egte ou aristokraat. Ansie is nie net lief vir haar ouma nie, sy is ook trots op haar, en sy merk die afgelope tyd onrustig op dat ouma Visser soveel broser, meer tenger geword het.
Sy buk en soen haar teer.
“Hallo, Ouma,” groet sy. “En hoe gaan dit met die familie in die Vrystaat?”
Daar is ’n sagte glans in die ouer vrou se oë toe sy na Ansie kyk.
“Hulle word ook oud, my kind, soos ons almal, maar dit gaan goed. Hulle sê groete en wil weet wanneer jy dan eendag kom kuier.”
“Ek sal seker ’n plan moet maak om hulle eendag te gaan groet,” sê Ansie. “En hoe gaan dit by die weeshuis?”
Ouma Visser glimlag rustig. Sy is gewoond aan Ansie se tergery.
“Dit gaan goed, dankie. Die mense is blykbaar bly om my weer te sien. En ek was ook bly om terug te wees. Ek het lekker gekuier, maar dit was lank genoeg. ’n Mens verlang maar terug na jou eie kamer – om jou eie goedjies om jou te hê.”
Hoe krimp ’n mens se wêreld nie as jy ouer word nie, dink Ansie. Vroeër, toe oupa Visser nog geleef het, het haar ouma in ’n groot, ruim huis met ’n mooi tuin gewoon, het hulle ’n wye vriendekring gehad. Later, ná haar skoonseun se dood, het sy stad toe getrek en saam met Ansie en Mercia in die woonstel gebly. En toe hulle haar nie meer nodig gehad het nie, het sy na ’n ouetehuis toe getrek.
Terwyl hulle tee drink en van Bella se lekker toebroodjies eet en gesels oor ouma Visser se kuier in die Vrystaat, hou Ansie vir Mercia ongemerk dop. Het daar iets gebeur? Waarom lyk sy so gespanne? Weet sy waarom Jacob hulle almal die naweek na Donkerpoort ontbied het? Toe Ansie haar daarna vra, haal Mercia egter net haar skouers op.
“Ek weet nie. Jy ken vir Jacob. Hy bespreek nooit sy sake met my nie. Ons sal maar moet wag en kyk wat gebeur.” Sy aarsel, kyk onseker van Ansie na ouma Visser, en dan stamel sy effens: “Daar is … iets anders … Ek wou eers nie vir julle sê nie – nie nou al nie – maar julle moet dit tog vroeër of later weet.”
Ansie staar na Mercia, getref deur iets in haar stem en houding. Dan sit sy haar koppie neer en gaan vinnig na haar toe.
“Wat skort, Mercia? Is jy siek?”
Mercia skud haar kop en sê met ’n gedwonge glimlaggie: “Moenie so na my kyk nie, Ansie, jy maak my senuweeagtig. Nee, ek is nie siek nie.”
“Wat is dit dan?” vra Ansie sagter. “Waarom is jy so ontsteld?”
Mercia steek ’n sigaret aan en Ansie sien hoe haar hande bewe. “Daar is iets wat ek vir julle wil sê – julle moet dit tog te hore kom …” Mercia trek ’n paar vinnige skuiwe, dan druk sy die sigaret dood. “Ek het besluit om te doen wat ek lankal moes gedoen het: ek gaan Jacob om ’n egskeiding vra.”
Hulle kyk albei na haar, onthuts, verslae. Daar is ’n naar kol op Ansie se maag. Haar voorgevoel was dus reg. Sy staan op, stap na die venster toe en staar met nikssiende oë na buite. Ná ’n rukkie sê sy: “Is dit die rede waarom oom Jacob die naweek die familie bymekaargeroep het?”
“Nee, nee! Hy weet nog niks daarvan af nie.”
“Ek verstaan nie,” sê Ansie. “As jy jare gelede van oom Jacob af weggegaan het, sou niemand jou kwalik geneem het nie. Daar was ’n tyd dat ek dit sou … verwelkom het. Maar om nou, ná vyftien jaar, van oom Jacob te wil skei … Daar moes iets gebeur het om jou so te laat besluit.”
“Jy kan maklik praat, Ansie. Jy het weggegaan en ek moes alleen die spit afbyt. En Jacob word ouer en al hoe onmoontliker. Ek sien net nie kans om langer so aan te gaan nie. Ek is nog jonk. As ek wil weggaan, moet ek nou gaan. Dit help nie om te wag tot ek vaal en oud en lelik is nie. Jacob het my nie nodig nie. Hy sal my nie eens mis as ek weg is nie.”
Ouma Visser se gesig is strak en wit, maar sy sê nie ’n woord nie. Verslae kyk Ansie na haar en dan weer na Mercia. Vyftien jaar van weelde en gerief! Die rokke wat Mercia dra, spesiaal vir haar ontwerp deur ’n bekende modehuis, die juwele wat blink teen haar bors, in haar ore, aan haar vingers; die skoonheid en weelde wat hulle omring, daar buite, in elke vertrek van die huis. Ja, dit was moeilike jare, daar was dikwels spanning en ongelukkigheid. Hoe dikwels het sy nie in die jare wat verby is, gewens Mercia sal van Jacob weggaan nie. Maar toegespin in die goue web van weelde en gerief en sosiale aansien, kon of wou sy nie wegbreek nie. Wat het nou gebeur? Waarom wil sy nóú gaan?
“Is daar iemand anders, Mercia?” vra sy reguit.
Sy sien dadelik dat sy reg geraai het.
“Ja, daar is iemand anders,” sê Mercia koel. “Ek is van plan om met Frank Mentz te trou sodra ek ’n egskeiding gekry het.”
“Frank Mentz! En sy vrou?”
Mercia kyk haar verbaas aan.
“Het jy nie gesien nie? Dit was in al die koerante. Frank se vrou is ’n paar weke gelede in ’n verpleeginrigting oorlede.”
Frank Mentz! Bekende argitek, jare lange huisvriend van die Lessings, skepper en argitek van Donkerpoort, ook van Jacob se praghuis in die stad, sy luukse strandhuis, sy fabriek, talle sakekomplekse en wolkekrabbers. Hy was ’n onbekende jong argitek toe oom Jacob hom ontdek het en hom ’n kans gegee het om te wys waartoe hy in staat is. Dit was die begin van ’n vrugbare en suksesvolle vennootskap. Vandag is Frank self ’n ryk man wat vir Mercia alles kan gee wat haar hart begeer, al die weelde waaraan sy gewoond geraak het.
Frank Mentz se vrou was al die jare sieklik en neuroties, later heeltemal verslaaf aan verdowingsmiddels, en die afgelope ses, sewe jaar was sy in ’n inrigting. Haar dood verklaar dan die nuwe ontwikkeling. Maar dink hulle werklik Jacob Lessing sal instem tot ’n egskeiding? So naïef kan hulle tog nie wees nie.
Ansie sien hoe bleek ouma Visser is en skink vir haar ’n glas yswater in. Sy help haar om dit te drink, dan draai sy na Mercia.
“Jy kan dit nie doen nie. Oom Jacob is oud en eensaam – om nou van hom te wil skei sal wreed wees.”
“Ek sê jou, hy sal my nie eens mis nie. Jacob se geld, sy besittings, is al wat vir hom belangrik is. En hy kan altyd weer ’n ander vrou kry. Vir ’n man so ryk soos Jacob is dit geen probleem nie.”
Daar is ’n klank van bitterheid in haar stem wat Ansie nie dikwels by haar lughartige ma hoor nie. “Buitendien, ek is dit aan myself verskuldig. Ek kan nie sit en wag tot Jacob eendag doodgaan nie – sien hoe die beste jare van my lewe verspil word nie …”
“Mercia,” sê ouma Visser geskok. “Jy mag nie so praat nie, my kind. Op sy manier was Jacob baie goed vir jou. Ansie is reg: Jacob is oud. Dit sal wreed wees om nou van hom weg te gaan om met ’n ander man te trou.”
Daar is ’n koppige uitdrukking op Mercia se gesig wat Ansie goed ken.
“Ek het klaar besluit. Ek gaan dié naweek nog met Jacob praat. Maar ek is nie van plan om hom nou te sê dat ek met Frank wil trou nie. Hulle het werk om te doen en dit sal net onnodige wrywing veroorsaak. Later, as ek die egskeiding gekry het, is dit tyd genoeg om vir hom te sê.”
“Jy kan maar daarvan vergeet. Oom Jacob sal jou nie ’n egskeiding gee nie.”
“Hy durf nie weier nie. Frank en ek het mekaar lief, en noudat sy vrou dood is, wil ons graag trou. Jacob is ’n ou man – julle sê dit self – en sy lewe is verby. Hy kan nie nou in ons pad staan nie.”
Voor Ansie kan antwoord, word daar saggies aan die deur geklop. ’n Oomblik kyk hulle verskrik na mekaar, dan roep Mercia: “Kom binne!”
Dis mevrou Perold. Hoe lank staan sy al daar buite die deur? wonder Ansie. Hoeveel van die gesprek het sy gehoor?
“Verskoon my, mevrou, ek het ’n boodskap vir juffrou Anna. Piet sê die perd is opgesaal. Hulle wag vir jou by die stalle.”
“Dankie, mevrou Perold. Ek gaan net aantrek, dan kom ek dadelik.”
Ansie is verlig om weg te kom. Mercia se onverwagte bekentenis het haar vreemd ontstel, sy weet self nie waarom nie. Jare lank het sy gehoop Mercia gaan weg van oom Jacob af. Sy hardvogtigheid, die manier waarop hy hulle lewens oorheers het – hoe het sy Jacob Lessing nie gehaat nie!
Met die jare het daar egter groter insig en begrip gekom, het sy besef dat die skuld nie net by oom Jacob lê nie. Ouma Visser was al diep in die dertig toe Mercia gebore is. Daar was geen ander kinders nie en omdat Mercia so mooi was, het almal haar bederf, was sy gewoond om haar sin in alles te kry, dat alles haar vergewe word. Jacob Lessing was anders. Vir hom kon sy nie om haar pinkie draai nie. Hulle rusies het dikwels gespruit uit haar onvolwassenheid, die dikwels onredelike eise wat sy aan hom gestel het.
Jacob Lessing het geweet – soos almal geweet het – dat Mercia net met hom getrou het omdat hy ’n ryk man was, omdat hy haar alles kon gee wat haar hart begeer. Hy het dit geweet, ja, maar in die stilligheid het hy seker ook verwag om iets terug te kry – ’n bietjie waardering, ’n bietjie warmte en begrip. Mercia het alles geneem, maar van haar kant het sy weinig gegee. Dis nie haar skuld nie, het Ansie gedink. Haar hele lewe het sy net ontvang. Sy het nooit geleer om te gee nie. Maar dié wete is nie goed vir ’n man se gevoel van eiewaarde nie – selfs nie ’n man soos Jacob Lessing nie. Dis dan dat hy hom op ander maniere laat geld.
Ansie trek gou haar ryklere aan en vlug buitentoe na die stalle waar Nelson Perold, oom Jacob se stalkneg en jokkie, reeds vir Cognac, haar gunstelingperd, opgesaal het. Die perd is ’n goudbruin merrie, vinnig, lewendig en goed gehumeurd, sonder die streke en grille wat baie opreg geteelde resiesperde so dikwels openbaar.
“Hallo, juffrou Anna,” groet Nelson beleef en raak vlugtig aan sy pet. “Ek hoop jy geniet die rit.”
“Ek geniet dit altyd om Cognac te ry.” Sy haal ’n paar suikerklontjies uit haar sak en gee dit vir die perd, wat dit fyntjies by haar vat. Sy streel die sierlike nek, sag en blink soos satyn. “Sy is in ’n pragtige kondisie, Nelson. Julle kyk mooi na haar.”
Hy knik trots.
“Dis ’n plesier om na so ’n perd te kyk. Geen nukke of fiemies soos party van die ander nie.”
Nelson is mevrou Perold se enigste kind. Hy is omtrent twee-en-twintig, maar met sy klein, skraal liggaamsbou lyk hy veel jonger. Hy is donker soos sy ma, sy houding is uitdagend, dikwels stuurs, maar teenoor Ansie is hy altyd vriendelik. Of dit te danke is aan die ruim fooitjie wat sy hom van tyd tot tyd gee, haar vriendelike belangstelling in sy sake, of hul gemeenskaplike belangstelling in die perde – en veral in Cognac – weet sy nie. Watter hoë verwagtinge het mevrou Perold vir die seun gekoester toe sy hom Nelson gedoop het? het Ansie dikwels gewonder. Van haar drome en planne het egter min gekom. Nelson was lui op skool en wou nie leer nie. Hy het onder verkeerde maats verval en nadat hy ’n paar jaar rondgeval het, het Jacob Lessing hom in diens geneem. Hy het uitgevind dat Nelson ’n slag met perde het en hom as leerlingjokkie laat inskryf. Nelson het besonder goed gevaar en reeds ’n paar belangrike resies gewen. ’n Paar maande gelede het sy perd egter met hom geval en Nelson het sy been gebreek. Sedertdien het hy nog nie weer aan enige belangrike byeenkomste deelgeneem nie.
Nelson help Ansie om op te klim, en haastig, met ’n vrolike wuif, ry sy weg. Heerlik op ’n wilde galop, asof sy van haar eie gedagtes wil wegkom, jaag sy deur die veld, voel sy hoe die wind deur haar hare waai en die ergste kommer en onrus van haar wegval. Mercia is nie meer ’n kind nie, besluit sy. As oom Jacob bereid is om haar ’n egskeiding te gee sodat sy met Frank Mentz kan trou, is dit hulle saak. As hy weier, sal Mercia haar eenvoudig daarby moet berus.
Die goue herfsmiddag is aan die taan, die lig op die berge onbeskryflik mooi, toe Ansie uiteindelik omdraai om huis toe te gaan.
Op pad stalle toe ry sy by die motorhuise verby. Die Jeep is nog nie terug nie, maar Tommie se rooi sportmotor is daar. Die kap is oop en Tommie, geklee in ’n ou oorpak, staan met sy kop onder die kap, besig om aan die enjin te werk.
“Ag foei tog,” sê sy simpatiek. “Het die ou rooi motortjie gebreek?”
Tommie loer om na haar en grinnik.
“Ek luister net, my verbeel ek hoor iets.” Dan kom hy orent en wys met die skroewedraaier vermanend na haar. “Ek het gesien hoe jy deur die veld jaag, meisiekind. Een van die dae breek jy nog jou nek.”
Ansie lag. “Wie praat!” Oor haar skouer roep sy na hom: “Ek gaan swem. Kom jy saam?”
Hy roep iets agterna, maar sy stem raak weg in die klank van Cognac se hoewe op die sementblad.
Toe sy die huis binnegaan, kom Bettie, oom Jacob se sekretaresse, net met die trap af. Bettie is ’n susterskind van oom Jacob se eerste vrou. Sy is baie bekwaam – anders sou sy nie oom Jacob se sekretaresse gewees het nie – maar sy is ook opvallend mooi, met gladde swart hare, diepblou oë en sterk, reëlmatige gelaatstrekke. Mercia hou nie van Bettie nie. Sy sê sy is hooghartig en baasspelerig, maar ongesteurd gaan Bettie haar gang, veilig in die wete dat sy vir Jacob Lessing onmisbaar is. Ansie hou van haar en sy het net die grootste bewondering vir die kalm, selfversekerde jong vrou. Jacob Lessing is ’n moeilike baas en koppe het al dikwels gewaai, maar Bettie het die afgelope drie jaar elke krisis deurstaan. Sy weet seker vandag meer van Jacob Lessing se sakebelange en transaksies as enigeen van die familie, Tommie ingesluit.
Weet sy wat die rede vir die familiebyeenkoms is? Hoe pas sy daarin?
“Ek sien jy is al aangetrek,” sê Ansie vir haar. “Ek wou jou nooi om saam met my te kom swem.”
“Ek het klaar gebad en aangetrek, soos jy kan sien. Buitendien, ek het nog werk wat ek voor ete wil doen.” Sy glimlag effens. “Geniet die swem en moenie haastig wees nie. Op Donkerpoort eet ons saans nooit voor halfnege nie.”
Ná die warmte van die dag en die rit met Cognac deur die veld, is die water in die swembad koel en verfrissend.
Ansie is nog besig om te swem toe Tommie ook daar aankom. Hy swem ’n paar lengtes saam met haar en kom toe by haar op die kant van die swembad sit. Daar is ’n frons op sy aantreklike jong gesig en Ansie wonder waarom. Miskien het hy en oom Jacob weer struweling gehad.
“Weet jý wat die oubaas nou weer in die mou voer?” vra hy aan Ansie. “Waarom wil hy nou ewe skielik die familiesaamtrek hou?”
“Ek weet niks nie – behalwe dat ek vir die naweek berge toe sou gegaan het en nou sit ek hier op Donkerpoort.”
“Ons het almal planne gehad,” sê hy suur. “Ek wonder …” hy breek af en staar fronsend voor hom uit. “Nou ja, ons sal maar sien wat gebeur. Ek … ek wil self ook met oom Jacob praat. Nou is miskien die regte tyd. Op kantoor is daar nooit tyd nie.”
Ansie kyk nuuskierig na hom.
“Wil jy gesels oor die motor en jou planne om aan motorresies deel te neem?”
“Nee,” sê hy en sy stem klink swaar. “Daardie planne sal ek voorlopig maar laat vaar. Daar is ander, belangriker sake wat ek met oom Jacob moet bespreek.”
“Jy klink nie baie geesdriftig nie,” sê sy droogweg.
Hy grinnik effens.
“Om die waarheid te sê, ek is doodbang. Maar dit moet gedoen word en hoe langer ek uitstel, hoe moeiliker sal dit wees.”
“Jy is nie in die moeilikheid nie, is jy, Tommie?” vra sy skerp.
“Ek is maar gedurig in die moeilikheid, soos jy self weet. Maar ek het nie geld verduister of so iets nie, as dit is wat jy bedoel. Nog nie! Kom, dis tyd dat ons gaan aantrek. Ek het nou lus vir ’n lekker koue bier.”
“Gaan jy solank, ek wil nog ’n slag deurswem.”
Die water is koel en sag soos sy teen haar vel, en die eerste sterre het reeds begin skyn toe sy uit die water klim en tydsaam huis toe stap. Sy stort gou en trek haar aan, skielik haastig om by die geselskap aan te sluit. Sy klop eers aan ouma Visser se kamerdeur, dan aan Mercia s’n, maar hulle is reeds weg.
Ansie het nog nie vir oom Jacob gegroet nie, en sy loer eers by die studeerkamer in om te sien of hy nie daar is nie. Die kamer is leeg. Maar net buite die oop deure wat op die pagode uitgaan, staan Tommie en Bettie. Hulle is so verdiep in hulle gesprek dat hulle haar nooit eens raaksien nie.
Die res van die familie is almal saam in die sitkamer vergader. Dis ’n pragtige vertrek, gevul met skatte wat oom Jacob oor die jare met sy reise deur die wêreld versamel het.
Ouma Visser, geklee in ’n mooi blou rok, sit op ’n roomkleurige sofa, regop, ’n bietjie styf, asof sy nie heeltemal op haar gemak is nie. Sy lyk moeg en ’n bietjie bedruk. Maar Ansie weet sy sal haar nie met haar dogter se sake bemoei nie. Al wat sy sal doen, is om vir haar te bid.
Mercia het ’n blou brokaatbroekpak met silwer borduurwerk aan, dramaties en opwindend. Soos gewoonlik is sy betowerend mooi. Sy gesels aanmekaar, maar haar laggie is ’n bietjie gedwonge en sy beduie te veel met haar hande – alles tekens van haar innerlike spanning. By haar is haar skoonsuster, Thelma Lessing, ’n lang, sterk geboude vrou met pikswart hare en donker oë wat alles om haar raaksien.
Frank Mentz is ook daar. Hy is omtrent vyftig jaar oud, ’n opvallende persoon in enige geselskap met sy mooi liggaamsbou, grys hare en aantreklike, bruingebrande gesig.
Oom Jacob kyk op toe Ansie inkom en staan op om haar te groet. Ansie soen vlugtig sy wang en sy dink dat hy oud en moeg lyk.
“Dag, Anna,” sê hy. Hy kyk ’n oomblik af na haar en dis of sy gesig effens versag. “Ek is bly jy kon jou sake so reël dat jy ook vir die naweek Donkerpoort toe kon kom.”
Ansie se wenkbroue lig effens.
“Ek het van Mercia verstaan dis ’n bevel, nie ’n versoek nie!” sê sy koel. Oom Jacob se grysblou oë glinster effens.
“Jy kan dit seker so stel. In ieder geval, ek is bly jy het gekom. Donkerpoort met al die herfskleure is pragtig, en natuurlik is daar nog altyd Cognac!”
Ansie glimlag effens.
“Dis waar, Cognac vergoed vir baie dinge!” Sy kyk op toe ’n man die kamer binnekom en skielik verstyf sy. Dis nie Tommie, soos sy die eerste oomblik gedink het nie. Dis John Stevens! Wat doen John hier?
“Jy ken vir John Stevens, Anna,” sê oom Jacob.
“Goeienaand, Anna,” groet John kalm.
’n Oomblik kyk sy na hom asof sy haar oë nie kan glo nie. Sy is bewus van die harde geklop van haar hart. Dan groet sy ’n bietjie verleë.
“Sal jy vir julle ’n drankie skink, John?” sê oom Jacob. “Ek moet nog gou iemand gaan bel.”
“Kom saam,” sê John vir Ansie. Hy vou sy hand liggies om haar arm, en sonder ’n woord stap sy saam met hom na die kroegie langsaan. Hy skink vir hulle albei ’n drankie in en dan lig hy sy glas vir haar.
“Op die naweek.”
“Wanneer het jy gekom?”
“Net ná middagete. Ek het vanmiddag saam met oom Jacob en een van sy bure gery om na die beeste te gaan kyk.” Hy kyk na haar, sy blik spottend. “Het jy nie verwag om my hier te sien nie?”
“Nee. Ek het van Mercia verstaan dit sou net die familie wees.”
Hy glimlag effens.
“Ek verseker jou, ek het nie ongenooi gekom nie.”
“Ek het nooit so gesê nie,” sê sy styf. “Dis net …” Sy breek af en sê beleef: “Ek moet jou nog gelukwens. Mercia sê die skildery is klaar.”
“Wag maar eers met jou gelukwense totdat jy dit gesien het.”
“Wanneer sal dit wees?”
“Seker nie voor môre nie.”
“Sal ons dan ’n toegangsfooitjie moet betaal om dit te sien?”
Sy sien hy vererg hom, maar die uitdrukking in Ansie se blinkbruin oë laat hom onwillekeurig glimlag.
“Dis nie my reëling nie, hoor! Ek het vanmiddag aangebied om die skildery uit te pak en op te hang, maar die oubaas het gesê hy is moeg, dit moet liewer tot môre wag.”
Sy proe aan haar drankie en die lagliggies verdwyn uit haar oë.
“Hoe gaan dit met Pat?” vra sy beleef.
“Baie goed, dankie,” antwoord hy, net so beleef.
“Waarom het jy haar nie saamgebring nie?”
“Ek sal graag wil, ’n volgende keer. Dié naweek, soos jy self weet, is daar ander sake wat eers afgehandel moet word.”
Sy stem is vasberade, sy gesig skielik ernstig, en Ansie voel ’n nuwe onrus in haar roer.
“Daardie kiekie wat jy van die huis af gebring het – het jy dit toe vir oom Jacob gewys?” vra sy huiwerig.
“Ek het gesê ek sal wag tot die skildery klaar is. Ek is van plan om die naweek met hom te gesels.”
Ansie draai vinnig na hom en die drankie stort oor haar arm.
“John …”
“Pas op!”
Hy haal sy sakdoek uit en droog haar arm af. Dan sê hy: “Wat wil jy vir my sê?”
Ansie glimlag onseker.
“Ek wil jou iets vra. Moenie die naweek met oom Jacob oor … oor Markus praat nie.”
“Waarom nie, Ansie?”
Sy skud haar kop.
“Ek dink ons sal die naweek genoeg probleme hê sonder dat dit ook nog bykom.” Hy kyk vraend na haar en versigtig vervolg sy: “Ons het almal die naweek ander planne gehad, maar oom Jacob het gevra ons moet hierheen kom. Hy gaan volgende week Suid-Amerika toe en daar is familiesake wat hy glo eers met ons wil bespreek. Maar dis nie al nie. Mercia het ook ander … ontstellende planne. Nee, ek kan nie nou vir jou sê nie; oom Jacob weet nog niks daarvan nie. En Tommie – arme Tommie is doodbenoud. Hy sê hy is in die moeilikheid.” Sy glimlag ’n bietjie verleë: “Jy verstaan – met al dié dinge …”
John Stevens se gesig is ongewoon ernstig.
“Dit klink nie na ’n baie rustige naweek nie, nè? Jammer, Ansie, maar die dinge wat ek vir oom Jacob wil sê, kan ook nie langer wag nie.” Hy raak liggies aan haar arm. “Kom ons gaan terug. Ek wil nog ’n bietjie met jou ouma gesels.”
Sonder ’n woord verder stap sy saam met hom terug.
Bettie en Tommie kom die vertrek binne. Bettie lyk mooi en selfversekerd soos altyd, maar Tommie lyk nie heeltemal op sy gemak nie. Waaroor sou hulle so lank gesels het? wonder Ansie. Sy sien tannie Thelma kyk ook na hulle en daar is ’n frons op haar gesig, asof sy ook wonder wat hulle so lank buite gehou het.
Ná ’n rukkie kom oom Jacob terug. ’n Oomblik bly hy in die deur staan terwyl hy sy blik oor hulle laat gaan, sy gesig stroef en niksseggend.
John stap na die vleuelklavier toe en begin een van Beethoven se sonates speel. Eers sag, maar al hoe harder namate hy in die musiek verdiep raak. In stille verbasing luister Ansie. Van die eerste note af is dit duidelik dat hy ’n begaafde musikus is. Sy aanslag is suiwer en hy speel met gevoel en oorgawe. Soos sy na hom luister, is dit of sy geleidelik verslap en sy voel hoe die spanning uit haar wegvloei.