Читать книгу Tryna du Toit-omnibus 8 - Tryna du Toit - Страница 6

Hoofstuk 3

Оглавление

Die plaasklok maak Ansie die volgende oggend wakker.

Dit is nog vroeg, voor sonop, en ’n bietjie styf en stram ná die ongewone oefening van die vorige dag, kruip sy dieper onder die lakens in en probeer weer slaap. Maar die slaap is weg, en met oop oë lê sy en luister na die gekwetter van die voëls en die ander vreemde plaasgeluide, terwyl sy dink aan die gebeure van die vorige dag.

Sy probeer aan Peet dink, maar hy is ver weg, in ’n ander wêreld.

Bella bring later vir haar tee en bied aan om vir haar ontbyt in die bed te bring, maar Ansie is te rusteloos om langer in die bed te bly. Ná ’n lekker stort voel sy ook nie meer so styf nie.

Ontbyt op Donkerpoort het geen vasgestelde uur nie. Oom Jacob eet gewoonlik vroeg en gaan sy gang. Die gaste kom eet wanneer hulle gereed is, en dié wat nog ’n rukkie langer wil rus, kry ontbyt in die bed.

Die ontbytkamer is leeg toe Ansie daar kom. Helder sonskyn stroom by die vensters in en die glasdeure wat na ’n toegerankte pagode lei, staan oop. Nog ’n perfekte herfsdag.

Sy is nog besig om te eet toe John inkom. Hy het van­oggend ’n kort kakiebroek en ’n blou sporthemp aan. Hy is glad geskeer en lyk of hy nou net onder die stort of uit die swembad ­kom.

“Ek het vroeg al saam met oom Jacob geëet,” sê hy nadat hy gegroet het. “Maar ek sal graag ’n koppie koffie saam met jou drink. Goed geslaap?”

Sy knik, bewus van sy ondersoekende blik. “Heerlik, totdat die klok my vanoggend wakker gemaak het.” Sy eet klaar terwyl hy sy koffie inskink en drink. Hy lyk effens afgetrokke en sy wonder waaraan hy dink.

Toe sy klaar is, sê hy: “Kom saam met my. Ek wil jou iets wys.”

Die skildery!

Met ’n gevoel van afwagting, en tog half bang, stap sy saam met hom studeerkamer toe. Dis ’n groot vertrek, met houtpanele en boekrakke wat tot teen die dak strek. Die leerstoele is breed en gerieflik, en ’n groot stinkhoutlessenaar staan naby die venster. Bokant die breë kaggel hang die skildery van Jacob Lessing.

Dis ’n vollengteportret, meer as lewensgroot. Dit toon Jacob Lessing sittende, in formele drag, ’n dokument in sy hand asof hy pas ’n gewigtige aankondiging gedoen het.

Dis Jacob Lessing soos sy hom ken. Die streng, koue gesig en die harde grysblou oë wat jou so kwaai kan aankyk. ’n Ongenaakbare man, wat geen kompromis ken nie. ’n Man wat deur sy krag en visie uittroon bo sy medemens, maar ook ’n eensame man, wat selfs in sy grootheid iets van daardie eensaamheid verraai.

Dis of die skildery met sy ryk agtergrond die kamer vul, alles daarin oorheers.

Is dit hoe John vir oom Jacob sien? dink sy verwonderd en sy voel die skielike brand van trane agter haar oë en in haar keel. Dis ’n besef wat die afgelope tyd al sterker in haar groei, dat sy haar stiefpa nooit werklik geken het nie, dat sy, verblind deur haar kinderagtige haat en vooroordeel, iets moois en kosbaars in die lewe gemis het.

Sy word skielik bewus daarvan dat John na haar kyk.

“Wel, Anna?”

Sy wil met hom praat, vir hom sê sy dink die skildery is wonderlik, maar daar is ’n knop in haar keel en sy voel die trane wat haar oë vul.

“Wat is verkeerd?” vra hy verbaas. “Hou jy nie daarvan nie?”

Sy knik heftig, maar die trane kom al hoe vinniger, en haastig draai sy om, hardloop die kamer uit en vlug na haar slaapkamer.

Waarom huil sy? wonder sy ontsteld en verleë. Omdat sy hartseer is oor die verlore jare, omdat ’n vreemde kunstenaar ’n deernis en begrip teenoor haar stiefpa toon wat sy – wat beter moes geweet het – nooit gehad het nie?

Sy was later haar gesig, trek haar ryklere aan en glip met ’n sydeur uit na die stalle.

Oom Jacob is ook daar, besig om na die perde te kyk en met meneer Kleynhans, die bestuurder, te gesels. Hy het ’n sagte grys hemp en ’n grys broek aan, en sy merk weer op dat hy moeg lyk. Hy was altyd so sterk en vol energie; nou is dit met­eens asof die jare hom ingehaal het. Maar die streng gesig, die harde blou oë, verraai niks van sy gevoelens nie.

Ansie groet, wissel ’n paar woorde met meneer Kleynhans en vra of Nelson vir haar ’n perd kan opsaal.

Jacob Lessing knik en roep na Nelson, wat in een van die stalle besig is.

“Bring vir Cognac,” beveel hy. “En maak gou.”

Daar is ’n nukkerige uitdrukking op Nelson se gesig, maar hy spring om die bevel te gehoorsaam.

“John het vir my die skildery gewys,” sê Ansie vir haar stiefpa.

’n Oomblik kyk hy na haar en sy blik is skerp en deurvor­send.

“En wat dink jy daarvan?” vra hy.

“Ek hou baie daarvan,” sê Ansie sag. Sy aarsel, dan sê sy: “Ek … ek was verniet bang; ek het John heeltemal onderskat.”

’n Vreemde glimlaggie flits oor die streng gelaat.

“Ek het jou gesê hy is ’n besonder begaafde kunstenaar. Ek wil hê hy moet jou portret ook skilder – ek hoop jy sal instem.”

Ansie staar hom ’n oomblik aan.

“Vir my?” vra sy verbaas. “Nee, dankie, oom Jacob. Ek het geen begeerte – of plan – om toe te laat dat hy my skilder nie.”

“Waarom nie?” vra hy nuuskierig en sy glimlag onwillig.

“Omdat ek hom nie vertrou nie. Hy kyk dieper as wat ander mense kyk. Hy sien dinge raak wat hy nie veronderstel is om raak te sien nie.”

“Jy het tog niks om weg te steek nie, Anna,” sê Jacob Lessing en sy stem is onverwags sag.

“Ons het almal ons swakhede, oom Jacob,” glimlag sy. “Die dinge wat ons graag verborge wil hou. Dis … verontrustend as ’n vreemde man dié dinge oopvlek vir almal om te sien.”

Nelson kom met Cognac uit een van die stalle gestap en Ansie se gesig verhelder. Die goudbruin flanke blink in die son, die jong merrie is ’n prentjie van lewenslus en gesondheid.

Oom Jacob hou die toom vas terwyl sy opklim.

“Geniet die rit. En wanneer jy terugkom, Anna, wil ek graag met jou gesels. Maak dit twaalfuur, ek sal in die studeerkamer wees.”

Ansie is lank voor twaalf terug by die huis. Dit is ’n lieflike herfsdag, maar warm en drukkend, asof daar iewers ’n storm aan die broei is. Dit was egter nie net die hitte van die dag wat haar teruggedryf het huis toe nie.

Twaalfuur, het oom Jacob gesê. Dit was ’n bevel, nie ’n versoek nie. Sy weet nie waaroor hy met haar wil gesels nie. Sy het niks van hom te vrees nie – inteendeel, hulle verhouding het die afgelope tyd baie verbeter. Tog is sy bewus van die ou spanning wat alle konfrontasies met oom Jacob nog al die jare by haar gewek het.

By die huis is alles – uiterlik altans – stil en rustig.

Mercia en Frank is by die swembad. Mercia – ter wille van ouma Visser in ’n wit eenstuk – sit in ’n lang stoel in die skadu van ’n groot sonsambreel, terwyl Frank langs haar op die teëls sit. Die son blink op die blou water en die twee onder die sambreel lyk lui en op hulle gemak. Maar Ansie weet dat dit maar net skyn is, dat hulle wag om te sien wat die naweek alles gaan oplewer.

Mercia waai toe sy verbystap.

“Jy lyk warm. Kom swem. Die water is heerlik.”

Ansie waai terug. “Ek kom later!” roep sy.

Op die wye systoep met sy luukse tuinmeubels en weelderige potplante, sit ouma Visser, tannie Thelma en John. Ouma Visser hekel, tannie Thelma blaai deur ’n tydskrif en John is besig om in sy sketsboek te teken. Hy kyk op toe sy nader kom, sy blik ondersoekend.

Ansie groet ligweg, opnuut skaam oor haar gedrag vroeër die oggend.

Ouma Visser kyk na haar kleindogter se warm gesig en verwaaide hare en skud besorg haar kop.

“Ek wens jy wil jou nie so verniel nie, Ansie. Om so op die hitte van die dag rond te ry, en dit nog sonder ’n hoed …”

Ansie vly haar in een van die gemakstoele neer.

“Ek het nie besef dis so warm nie, Ouma,” sê sy gedwee. “Is ek darem betyds vir tee?”

Bella verskyn in die deur. Daar is ’n oproep vir John.

“Wat dink jy van die skildery?” vra Thelma toe hy weg is.

“Ek hou baie daarvan,” sê Ansie sag.

“Manjifiek! So gedistingeerd! Maar natuurlik, as jy bereid is om daarvoor te betaal …”

Daar is ’n smalende klank in haar stem en Ansie voel haar wange word warm.

“Oom Jacob ís ’n gedistingeerde man; ons het dit maar net nie altyd besef nie,” sê sy. “ ’n Kunstenaar soos John Stevens is nie te koop nie. Hy kies sy onderwerp sorgvuldig en – of dit nou ’n ou boemelaar is, of ’n bekende persoon soos oom Jacob – hy skilder wat hy sien, nie wat jy wil hê hy moet skilder nie.”

Thelma Lessing haal haar skouers op.

“Jy verstaan my verkeerd, Ansie, ek het dit nie so bedoel nie. Wat ek eintlik wou sê, is: dit is nie soos óns Jacob ken nie.”

“Miskien het nie een van ons hom ooit werklik geken nie,” sê Ansie sag. Thelma lag skor.

“Ek ken Jacob Lessing langer as dertig jaar, my liewe kind. Jy kan my niks van hom vertel nie.”

John Stevens, gevolg deur Bella met die teewaentjie, verskyn op die stoep en Ansie staan op om die tee te skink. Ansie voel sy blik op haar en hoop maar hy het nie hulle gesprek ge­hoor nie.

“Jy is gou terug,” sê sy.

“Daar was niemand nie,” sê hy. “Die lyn was dood toe ek daar kom.”

“Die plaastelefone maak maar soms so,” sê Ansie toe sy vir hom sy tee gee. “Veral met vakansietye. As ’n mens ’n dring­ende oproep het, is dit soms beter om dorp toe te gaan en van daar af te bel.”

“Ek wonder waar Tommie is,” sê Thelma en neem ’n stukkie roomkoek. “Ek het hom nog glad nie vanoggend gewaar nie.”

“Ek het hom langs die pad gekry,” sê Ansie. “Maar hy het net in die verbygaan gewaai en nie gesê waarheen hy gaan nie.”

Thelma kyk agterdogtig na haar.

“Was hy alleen?”

Ansie aarsel. “Nee,” sê sy. “Bettie was by hom.”

Thelma se mond trek stywer en daar is ’n frons op haar gesig, maar sy sê niks nie. Waarom pla dit haar? wonder Ansie. Tommie en Bettie werk in dieselfde gebou en hulle sien mekaar seker daagliks, maar Bettie is drie, vier jaar ouer as Tommie. Sy is in alle opsigte meer volwasse en gesofistikeerd as Tommie, daar is tog nie sprake van ’n verhouding tussen hulle nie.

Of is daar? Tommie is ’n aantreklike man, hy is die baas se broers­kind, sy protégé en moontlike opvolger, en dit sal nie die eerste keer wees dat ’n ouer meisie op ’n man jonger as sy self verlief raak nie. Sy dink aan die toneeltjie die vorige aand toe hul­le so verdiep in hulle gesprek was dat hulle nooit eens bewus was van haar teenwoordigheid nie. Dan skud sy dié gedagtes van haar af. Tommie steur hom nie veel aan vroumense nie. Sy sport­motors is sy groot liefde; dis oor die rooi Ferrari dat hy droom, waarom hy lugkastele bou.

Terwyl Ansie haar tee drink, bestudeer sy John ongemerk. Hy is weer met sy sketsboek besig, en is so verdiep in sy werk dat sy koppie tee koud word op die tafeltjie langs hom. Sy wonder wat hy teken, maar waag dit liewer nie om nader te gaan en te kyk nie. Toe sy klaar is, staan sy op en maak verskoning: sy wil gaan swem.

John maak sy sketsboek toe.

“Nooi jy my nie saam nie?” vra hy.

“Jy was so besig, ek wou jou nie steur nie,” sê sy koel. “Jy het ook nog nie jou tee gedrink nie. Maar kom gerus – ek is net nie van plan om lank te bly nie.”

Mercia en Frank sit nog daar langs die blou swembad en nadat sy ’n paar keer op en af geswem het, los Ansie vir John by hulle. Sy weet Mercia sal weer van die kans gebruik maak om hom te probeer oorreed om haar portret te skilder, en sy wonder hoe lank hy nog Mercia se aanslae sal kan weer­staan.

Ingedagte stap Ansie van die swembad af terug huis toe. Waaroor wil oom Jacob met haar gesels? Mercia? Daar is ’n hol kol op haar maag as sy dink aan wat Mercia haar die vorige dag vertel het. Het sy al met oom Jacob gepraat? Wil hy hê sy moet vir hom voorspraak doen by Mercia? Tog seker nie! Oom Jacob is nie ’n man wat gunste vra nie. Hy sal ja of nee sê, en daarmee sal dit uit en gedaan wees.

Die studeerkamerdeur is toe, maar in die verbygaan hoor Ansie oom Jacob se stem. Hy klink kwaad, en onrustig wonder sy wie nou aan die beurt is. Op daardie oomblik gaan die deur van die studeerkamer oop en mevrou Perold kom haastig uit. Haar lippe is opmekaar gepers en sy is wit en ontsteld. Sy kyk nie in Ansie se rigting nie, maar stap reguit na die swaaideur wat na haar eie woonvertrekke lei. Verbaas kyk Ansie haar agterna. Wat sou nou gebeur het? Dit gebeur selde dat die bekwame, korrekte mevrou Perold ’n fout begaan.

Dis beslis nie ’n goeie voorteken vir haar eie onderhoud met oom Jacob nie!

In haar kamer stort sy gou en trek aan: ’n wit langbroek en ’n mooi geblomde pienk bloese. Haar lipstiffie is dieselfde kleur as die bloese, so ook die lint waarmee sy haar donker hare vasbind. ’n Oomblik kyk sy na haarself in die spieël. Sy lyk koel en mooi en op haar gemak. Dié wete help om haar selfvertroue te gee vir die onderhoud.

Oom Jacob se “kom binne” is kortaf, maar sy gesig verander toe hy Ansie in die deur sien staan.

“Kom binne,” herhaal hy. “En maak die deur toe.”

Ansie gehoorsaam en kom nader. Oom Jacob sit agter sy lesse­naar en skuins agter hom, bokant die kaggel, hang die portret wat John geskilder het. Dieselfde gesig, streng en onverbiddelik, die kwaai grys oë, die regop, ongenaakbare houding. Maar as jy mooi kyk na die man agter die lessenaar – noudat jy weet – sien jy die eensaamheid en diepe vermoeiens wat hy agter die ou, bekende masker probeer verberg. Sy dink aan sy liefdelose lewe, die swaar las wat hy al die jare alleen gedra het, en skielik is sy nie meer vir hom bang nie.

Sy kyk na hom en glimlag effens.

“Ek dink die skildery is pragtig, oom Jacob. Wie gaan dit een­dag erf?”

Hy lyk verbaas, dan haal hy sy skouers op.

“Dit sal seker maar na die fabriek gaan. Wie anders sal daarin belang stel?”

“Ek wil dit graag hê, oom Jacob,” sê sy impulsief. “Ek … ek weet ek het die minste reg daarop, maar as niemand anders belang stel nie …”

Sy breek af, bewus van die skerp, deurdringende blik wat op haar rus.

“Ons sal sien,” sê hy bruusk. “Sit, Anna. Ek wil met jou praat.”

Ansie gaan sit in een van die wye leerstoele en vou haar hande saam in haar skoot. Dis stil in die vertrek. Ingedagte draai oom Jacob sy goue potlood om en om tussen sy vingers, asof hy sy woorde eers versigtig weeg, dan kyk hy na haar.

“Ek het jou hulp nodig, Anna.”

Mercia, dink sy dadelik, en verstyf effens.

“Ek was verlede week by die dokter,” vervolg hy. “’n Gewone roetine-ondersoek, maar sy bevindinge was nie so gun­s­tig nie. Niks ernstigs nie,” vervolg hy haastig. “Op my leeftyd moet ’n mens ’n bietjie aftakeling te wagte wees. Maar dit het my opnuut laat besef dat die jare nie stilstaan nie, dat ek my sake in orde moet bring.”

“Ek is jammer oom is nie gesond nie,” sê Ansie. “Oom werk natuurlik te hard …”

“Harde werk is die beste medisyne in die wêreld,” sê hy. “Maar daar kom ’n tyd dat jy die pas net nie meer kan volhou nie. Al die jare – vandat ek besef het dat Mercia en ek geen kinders sou hê nie – was my hoop op Tommie gevestig. Hy is ’n Lessing, my broerskind, en ek sou hom slyp en vorm sodat hy uiteindelik die plek kon inneem van die … die seun wat ek verloor het. Ek was geduldig met hom, ek het toegewings gemaak – hy was jonk en Thelma het hom gruwelik bederf. Ek het gehoop hy sou mettertyd sy voete vind en wys dat hy van die regte stoffasie gemaak is. Maar dis vir my baie duidelik dat Tommie nie die man is wat ek gehoop het nie. Hy het nie die visie, die insig of die oordeel wat ’n goeie sakeman – selfs ’n jong sakeman – moet hê nie. Ek het onlangs weer ’n belangrike kontrak deur sy nalatigheid verloor. Al waarin hy belang stel, is sy sportmotors waarmee hy homself seker nog eendag te pletter sal jaag.”

“Tommie is ’n genie met motors,” waag Ansie dit. “Dis nie sy skuld dat hy geen aanleg vir sake het nie. En hy is nog jonk – en bederf – miskien moet oom hom nog kans gee …”

Hy antwoord nie en ’n rukkie is dit stil in die kamer. Dan sê hy: “Ek het gedink – miskien sal die regte vrou stabiliteit aan sy lewe gee, hom aanspoor om sy motors te laat staan en ernstiger te wees oor sy werk. Dis toe dat ek aan jou gedink het, Anna.” Sy kyk verskrik op, maar hy hou sy hand op om haar stil te maak. “Wag eers tot ek klaar is voor jy praat.”

Wat nou? wonder Ansie onthuts. Waarheen lei dit alles?

Weer is dit of oom Jacob na die regte woorde soek voor hy aangaan.

“Toe ek met Mercia getroud is, was ek bereid om jou as my dogter te aanvaar. Ek wou jou wettig aanneem, vir jou my naam gee, alles wat ek ’n eie dogter kon gee. Jy wou nie tot die aanneming toestem nie, en nóg Mercia nóg ek kon jou oorreed om dit te doen. Ek besef vandag my benadering was heeltemal verkeerd. Jy was emosioneel ontwrig, ek moes jou tyd gegee het om aan my, aan die nuwe omstandighede gewoond te raak. Maar ek was nooit ’n geduldige mens nie en ek kon ook nie verdra om gedwarsboom te word nie, en so het ek toegelaat dat ’n situasie ontwikkel wat ons verhouding van die begin af vertroebel het. Jy was opstandig, jy het my gehaat, en die atmosfeer in die huis het so gespanne geraak dat ek later verplig was om jou koshuis toe te stuur. Ek weet jy het my kwalik geneem – ek hoop jy besef vandag dat daar vir my geen ander uitweg was nie.”

Hy is ’n rukkie stil, dan sê hy: “Toe jy my huis so summier verlaat het nadat jy matriek gemaak het, was ek diep gekrenk en hartseer. Maar ek het terselfdertyd jou moed en koppige onafhanklikheid bewonder. Van almal was jy die enigste een wat dit gewaag het om teen my op te staan, jou lewe in te rig soos jy dit wou hê. Te laat het ek besef dat geld nie liefde of ka­meraadskap – of ’n dogter – kan koop nie; dat dit iets is wat jy moet verdien.”

’n Glimlaggie versag sy gesig: “Dit alles, my kind, is bedoel as ’n verskoning – om vir jou te sê ek is jammer – dat as ek terug kon gaan, ek anders sou opgetree het.”

Ansie staan op en stap na die venster. Sy is diep ontsteld, maar ook ontroer deur die onverwagte bekentenis. Sy weet dit kan nie maklik wees vir ’n man met sy trotse, ingetoë natuur nie. Hoe lank voel hy al so? Waarom het hy nie eerder met haar gepraat nie?

Na ’n rukkie draai sy na hom en sê bewoë: “Ek is bly oom Jacob het vandag met my gepraat. Dis al geruime tyd dat ek ook hartseer en ongelukkig is oor ons verhouding, dat ek besef hoe anders dit kon gewees het. Ek weet ek was ’n onmoontlike kind, en ek wil graag ook vanoggend vir oom sê: ek is jammer. Ek … ek wil nie verskonings maak nie, maar ek blameer ook my ouma en Mercia vir wat gebeur het.”

“Ek weet. Jou ouma het my nooit vergewe omdat ek met Mercia getrou het nie. Sy het my nooit vertrou nie. Dit was nie net omdat ek soveel ouer as Mercia was nie; sy was bang vir my geld, bang vir wat dit aan Mercia en aan jou kon doen. En Mercia? Mercia het soos gewoonlik net aan haarself gedink. Sy het jou teen my opgemaak: om my te straf wanneer sy nie haar sin kon kry nie, om jou simpatie te behou. En natuurlik was jy altyd partydig vir Mercia, al het jy ook in jou hart geweet dat sy verkeerd was.”

Dis die eerste keer dat hy so met haar praat, dink Ansie. In die ou dae sou sy hom ingevlieg het, geweier het om na hom te luister. Sy weet nou hy doen dit nie om Mercia te kritiseer of te verkleineer nie, of om simpatie te soek nie – wat Mercia betref, het hy lankal geen illusies meer nie. Dis maar net dooie hout wat hy wegkap in ’n eerlike poging om die pad tussen hulle oop te maak.

As sy maar net in die jare wat verby is, kon droom dat hy haar ook nodig gehad het, net soos sy hom nodig gehad het!

“Waarom het oom Jacob nie lankal met my gepraat nie?” vra sy.

“Ek wou nie haastig wees nie. Dis maar die afgelope tyd dat ek voel dat daar ook van jou kant ’n bietjie toenadering is. Ek was ook baie besig op kantoor. Ons belange brei steeds uit en die probleme word meer, maar met my komende besoek aan Suid-Amerika het ek besef dat ek my familiesake in orde moet kry. Ek was toe verlede week by my prokureur om ’n nuwe testament op te stel. Ek het besluit om al my skilderye aan jou na te laat, Anna.”

Ansie voel hoe haar hart ruk, maar weer hou hy sy hand gebiedend op. “Jy is die enigste een wat nog ooit belang gestel het in my skilderye en beeldhouwerk – wat kennis daarvan dra. Ek weet daar is van die werke wat jy liefhet, soos ek hulle al die jare liefgehad het. Soek uit wat jy wil hê, verkoop die res, skenk daarvan aan ’n museum, doen daarmee wat jy wil.”

Ansie kyk na hom en die mooi bruin oë is blink van die trane.

“Ek weet nie wat om te sê nie, oom Jacob,” sê sy uiteindelik bewoë.

“Daar is niks om te sê nie. Ek wil maar net hê jy moet weet dat dit vir my ’n besondere vreugde gee om te weet dat hulle eendag na jou toe sal gaan. Maar kom sit, Anna, ek is nog nie klaar nie. Daar is nog Tommie.”

“Wat van Tommie?” vra sy huiwerig toe sy weer sit.

“Tommie het goeie moontlikhede. Die regte vrou kan hom help om hulle te verwesenlik, om rigting in die lewe te kry.”

Ansie kyk reguit na hom.

“Ek is nie daardie vrou nie, oom Jacob.”

“Hoe weet jy?”

“Ek het Tommie nie lief nie. Hoe kan ’n vrou ’n man help om homself te vind, hom inspireer, rigting en betekenis aan sy lewe gee as sy hom nie liefhet nie?”

Jacob Lessing se gesig verhard.

“Liefde het niks met die saak te doen nie. Jy hou van Tommie, julle kom goed oor die weg. Julle sal die gemeenskaplike belange hê van die besigheid en alles wat daarmee saamgaan. Daar sal kinders wees om groot te maak en op te voed. Don­kerpoort met sy stoetery, die perde waarvoor jy so lief is … meer as genoeg dinge om jou ’n vol en interessante lewe te besorg.”

Die goue web, dink Ansie, en sy ril skielik asof daar ’n koue windjie oor haar waai. Sy het geweet sy sal eendag nog in daardie web ingetrek word.

“Nee, oom Jacob, nee! So iets mag u nie van my vra nie!” sê sy ontsteld. Maar weer hou hy sy hand op om haar stil te maak.

“Ek weet ek kan jou nie dwing nie – allermins vir jou. Die skilderye het ook niks met hierdie ander transaksie te doen nie. Ek verwag ook nie dat jy vandag al moet besluit nie. Al wat ek vra, is dat jy die saak goed moet oordink, dat jy nie aan ’n ander man verloof raak of enige beloftes maak voor jy weer met my gesels het nie.”

“En as ek nee sê?” vra sy huiwerig.

“Dan sal ek dit so aanvaar. Ek het in elk geval vir die res van die familie in my testament voorsiening gemaak.” Hy glimlag suur. “Seker nie volgens hulle verwagting nie, maar ruim genoeg om in hulle behoeftes te voorsien. ’n Gedeelte van my boedel gaan vir liefdadigheid, hospitale, skenkings aan universiteite vir beurse en navorsing … Die res kry jy en Tommie. As jy – julle – nie my voorstel aanvaar nie, gaan dit ook vir liefdadigheid.”

Sy skud haar kop in stille verbasing, totaal oorbluf deur die onverwagte wending wat sake so skielik geneem het.

“Het oom al met Tommie gepraat?”

“Nee. Ek wou eers met jou praat.” Hy breek af, dis of hy skielik snak na sy asem. Vlugtig lê hy sy hand teen sy bors en stadiger, met inspanning vervolg hy: “Tommie – ek is seker Tommie sal geen beswaar opper nie. Hy het alles om te wen …”

Ansie staan haastig op en gaan na oom Jacob toe. Sy gesig is grys, daar is ’n wit kring om sy mond en sy sien die sweet wat op sy voorkop pêrel.

“Voel oom sleg?” vra sy besorg. “Kan ek help?”

Hy skud net sy kop. Hy trek een van die lessenaarlaaie oop, haal ’n botteltjie met pille daaruit en skud een in sy hand uit. Ansie skink vir hom ’n glas water uit die kraffie op sy lessenaar en hy sluk die pil. ’n Paar oomblikke sit hy met sy kop op sy hand gestut, terwyl Ansie angstig wag, dan haal hy diep asem en sit weer regop.

“’n Bietjie slegte spysvertering,” sê hy skor. “Ek kry dit meer dikwels die afgelope tyd. Gelukkig het ek die pille. Hulle gee byna dadelik verligting.”

Ansie kyk onseker na hom.

“Wat sê die dokter daarvan?” vra sy, maar hy skud weer sy kop.

“Niks om onrustig oor te wees nie. Dis kwale wat saam met die ouderdom kom; ’n mens moet dit maar net aanvaar,” sê hy gerusstellend. Sy kleur is beter en Ansie sien met verligting dat hy makliker asemhaal. “Sê maar niks hiervan nie. Ek is klaar weer beter. Dit sal dan al wees, Anna. Dink oor die saak – later gesels ons weer.”

Ansie bly onseker staan, dan sit sy haar hand liggies op sy skouer.

“Ek is seker daar is ’n ander en beter oplossing. Kyk maar eers hoe sake ontwikkel. Miskien verras Tommie oom nog. En daardie ander wonderlike geskenk … ek hoop oom kan dit self nog baie jare geniet.”

Sy buk en lê haar wang ’n vlugtige oomblik teen syne. Dan, sonder ’n woord verder, stap sy by die kamer uit.

In die ingangsportaal wag Thelma. Sy sit in een van die stoele in die hoek van die vertrek, besig om haarself met ’n ivoorwaaier koel te waai. Sy kyk na Ansie, haar blik koel, agterdogtig.

“Jy was lank daar binne besig,” sê sy beskuldigend.

Hoe lank wag sy al hier buite? wonder Ansie. Hoeveel van hulle gesprek het sy gehoor? Oom Jacob se stem is fors en duidelik, maar hy het redelik sag gepraat en die deur was die hele tyd toe. Maar al het sy nie alles gehoor nie, is dit duidelik dat tannie Thelma ’n vermoede het dat daar iets aan die gang is – iets wat moontlik haar geliefde Tommie kan benadeel.

Wel, sy sal gou genoeg by Tommie self van die nuwe verwikkelinge hoor, dink Ansie.

Aan tafel die middag verloop alles normaal. Oom Jacob eet min en sê nie veel nie. Tommie en Bettie, wat die oggend op een van die buurplase gekuier het, vertel van ’n tamaai luislang wat die twee Louw-seuns gevang het en wat hulle na ’n dieretuin toe wil stuur. Thelma luister glimlaggend, haar argwaan blykbaar vergete. Sy kon nooit lank vir Tommie kwaad bly nie. Mercia se laggie is skriller as gewoonlik en ouma Visser is stil, die donker oë somber, John is afgetrokke, besig met sy eie ge­dagtes, en Ansie is verlig toe die ete verby is.

Toe oom Jacob opstaan, sê hy: “Die weer is so heerlik, ons sal vanaand buite vleis braai.”

“Deon het ons genooi om vanaand springhase te kom skiet,” sê Tommie.

“Nooi hulle om saam te kom eet,” beveel oom Jacob. “En as julle op Donkerpoort springhase of fisante wil skiet – Kleyn­hans sê die lande is vol. Daar mag net nie by die kloof geskiet word nie.”

Tommie knik. Hy het vroeg al sy les geleer: die bosbe­groeide kloof met sy helder stroom water en die dam daar na­by is verbode terrein vir ’n jong seun – of enigiemand – met ’n ge­weer.

“Jy is ook genooi, John,” sê Tommie. “En die meisiekinders – as hulle wil kom.”

John knik. “Ek sal sien, dankie. Eintlik jag ek deesdae liewer met die kamera as met die geweer.”

Oom Jacob kyk van onder sy ruie wenkbroue na Tommie. “Daar is ’n sakie wat ek met jou wil bespreek, Tommie. Ek sal vieruur in die studeerkamer wees.”

’n Oomblik is dit stil, kan jy die spanning in die kamer aanvoel. Tommie sluk ’n slag en Ansie sien hoe bleek hy geword het. Arme Tommie! En dan weet hy nog nie eens wat alles op hom wag nie!

Thelma kyk van Tommie na haar swaer, onseker of dit goed of kwaad vir Tommie voorspel. Tommie lyk ontsteld en Jacob se gesig verraai soos gewoonlik niks van sy gedagtes nie. Natuurlik is Tommie ontsteld: met Jacob Lessing – onredelik, veeleisend, puntenerig – weet ’n mens nooit wat om te verwag nie. Maar sy is seker Tommie het niks te vrees nie. As daar moeilikheid was, sou Jacob al op kantoor met Tommie gepraat het. Dié naweek wil hy familiesake bespreek, het hy gesê. Dalk gaan hy hulle verras en bekend maak dat hy besluit het om hom van die sakewêreld te onttrek, om plek te maak vir die jonger geslag.

Toe hulle by die kamer uitstap, haak sy vertroulik by Tommie in en sê: “Ons is almal baie nuuskierig om te weet wat die belangrike saak is wat oom Jacob met jou wil bespreek.”

“Hy het nie gesê dis belangrik nie, Ma.”

“Natuurlik is dit belangrik. Hy het ons almal na Donkerpoort ontbied omdat daar sake is wat hy met ons wil bespreek. Van almal hier op Donkerpoort staan jy die naaste aan oom Jacob. Jy is ’n Lessing, sy eie broerskind. Miskien het hy besluit om hom geleidelik te onttrek …”

“Oom Jacob hom onttrek?” sê Tommie bitter. “Dan ken Ma die oubaas maar swak.”

“Dis tyd dat hy hom begin onttrek! In elk geval, ek is seker daar gaan interessante dinge gebeur wat net tot jou voordeel kan wees.”

As sy ma net kon weet! dink Tommie.

“Ek hoop Ma is reg,” sê hy swaar. “Ons sal maar wag en kyk wat gebeur. Ek hoop maar hy slag my nie lewendig af nie.”

Toe hulle opstaan van die tafel af, sê John vir Ansie: “Ek wil vanmiddag na die kloof gaan kyk. Wil jy nie saam met my ry nie?”

Ansie aarsel. “Wanneer wou jy gaan?”

“Sommer dadelik. Ouma Visser sê daar is ’n groot verskeidenheid wilde voëls. Ek wil my kamera en sketsboek neem.”

’n Oomblik weifel Ansie, maar dan skud sy haar kop.

“Die kloof is pragtig, en ek was van plan om nog soontoe te gaan. Maar ek kan nie nou gaan nie; daar is iets wat ek moet doen. Nee, moenie vir my wag nie. Ek weet nie hoe lank ek besig sal wees nie. Ry jy solank – jy sal die pad maklik kry. Ek sal miskien later kom. Neem jou swembroek saam – en natuurlik ’n verkyker. As jy belang stel, oom Jacob het pragtige boeke oor voëls. Kom, ek sal jou gaan wys.”

Sy neem hom na die studeerkamer en wys hom waar die boeke is.

John kyk na die titels van die boeke, haal een van hulle uit die rak en skud verwonderd sy kop.

“’n Merkwaardige oubaas!” Hy sit die boek terug in die rak en kyk op na die skildery wat bokant die kaggel hang. “Ek is bly ek het die voorreg gehad om hom te leer ken.”

’n Merkwaardige oubaas inderdaad, dink Ansie. Jammer dit het haar so lank geneem om dit uit te vind!

’n Paar minute later klop Ansie saggies aan Mercia se deur.

Mercia het ’n koel blou négligé aangetrek – die besondere blou wat haar so goed pas – en sy is besig om room aan haar gesig en nek te vryf. Oom Jacob, weet Ansie, is na die stalle toe. Dis al baie jare dat hy en Mercia afsonderlike slaapkamers het. As hy wil kom rus, sal hy na sy eie kamer toe gaan.

“Gaan jy slaap, of kan ek ’n bietjie gesels?” vra Ansie.

Mercia kyk vlugtig na haar.

“Die swem het my moeg gemaak en ek het effens hoofpyn. Ek wil graag ’n bietjie slaap. Waaroor wou jy gesels?”

“Ek wou sommer net gesels. Soos jy self gesê het, ons het die afgelope tyd min van mekaar gesien. Ek wil graag meer van jou toekomsplanne hoor en ek wil oor myself en my planne ook gesels.”

“Is dit Peet? Het jy besluit om met hom te trou?”

“Ek weet nie. Maar ek sal nou haas moet besluit! Ek kan Peet nie langer aan ’n lyntjie hou nie. Hy gaan Juniemaand Kaap toe – hy het ’n aanstelling by ’n hospitaal daar gekry – en hy wil hê ek moet saam met hom gaan.”

“Trou met Peet en gaan saam met hom,” sê Mercia. “Peet is ’n gawe jong man en sy ouers is welgesteld; hy sal seker eendag goed erf. Wat meer wil jy hê? Maar as jy nie omgee nie, ek het nie nou lus om te gesels nie. Dis warm en ek is moeg, ’n lekker ou slapie sal my goed doen. Ons gesels later weer.”

“Dis goed, ons kan later gesels. Ek wil net vir jou iets vra, dan sal ek dadelik gaan. Moenie die naweek met oom Jacob oor ’n egskeiding praat nie. Wag tot hy terugkom van Suid-Amerika af – dis tog net ’n paar weke …”

Mercia se gesig verhard.

“Ek is nie van plan om te wag tot Jacob terugkom nie. En dit help nie om te praat nie, Ansie, ek het klaar besluit. Ek weet nie waarom jy nou ewe skielik bekommerd is oor Jacob nie – ek verseker jou, hy het geen simpatie nodig nie. Toe, loop nou. Jy ontstel my net. Ek het jou gesê my kop is seer.”

Ergerlik pluk Mercia die gordyne toe om die kamer donker te maak. Wat sou met die kind aangaan? wonder sy. Al die jare het sy haar verset teen Jacob, nooit ’n goeie woord vir hom gehad nie. Waarom is sy nou skielik bekommerd oor hom? Wel, sy het geen plan om te wag nie! Jacob is oud, sy lewe is verby. Jacob het sy fabriek, sy sakebelange, sy werk is vir hom genoeg. Maar ’n vrou het liefde nodig, ’n man wat haar bemin, wat haar jonk en begeerlik laat voel.

Sy is nog jonk en sy weet sy is mooi, maar die tyd staan nie stil nie. Dis of die jare steeds vinniger verbygaan. Sy het Frank lief, sy het hom nodig. En as sy wag, is daar altyd die gevaar dat sy Frank verloor, dat hy iemand anders vind om haar plek in te neem.

Sy gaan badkamer toe en kyk in die helder middaglig na haar gesig in die spieël. Haar vel is nog verbasend sag en soepel, haar oë helder, en wanneer sy gegrimeer is, lyk sy nie ouer as Ansie nie. Haar lyf is soos ’n jong meisie s’n. Vitamines, hormoonpille, massering, dieet, al die middels wat die wetenskap tot sy beskikking het – dit help om die illusie van jeug en skoon­heid te skep, maar dit kan nooit die tyd laat stilstaan nie. Elke dag as die son opkom, is jy ’n dag ouer en word dit moeiliker om die illusie van jeug en skoonheid te bewaar.

Wel, dis dan tot daarnatoe, dink Ansie toe sy na haar kamer toe stap. Sy kon maar net sowel saam met John gegaan het en haarself die moeite gespaar het. Sy kan nog saam met hom gaan as sy wil; hy is seker nog nie weg nie. Maar dis warm, die Bosveldson steek vandag genadeloos en sy het ’n behoefte om ’n bietjie alleen te wees, om na te dink oor haar gesprek met oom Jacob, oor alles wat die afgelope tyd gebeur het.

Ansie wag later die middag by die stal terwyl Nelson vir Cog­nac opsaal toe Tommie van die huis af oor die werf aangestap kom. Hy loop kop onderstebo, hande in die broeksak, en skop die los klippies venynig voor hom uit. Dit het blykbaar nie goed met sy onderhoud gegaan nie. Ansie aarsel, onseker of sy na hom toe moet gaan. Ouma Visser wou eers met haar gesels en dit het laat geword, die kloof lê reeds vol skaduwees. As sy wil ry, moet sy nou ry. Maar Tommie lyk so bekaf en verslae. Sy kan hom nie so los nie.

“Tommie!” roep sy, maar hy kyk nie op nie. Sy roep harder, maar hy maak of hy haar nie hoor nie. Moet sy hom maar uitlos sodat hy self tot bedaring kom? Maar iets in sy houding maak haar onrustig. As hy in so ’n bui is, moet hy liewer nie met die Ferrari ry nie.

Ansie hardloop na Tommie toe en roep weer na hom, maar hy steur hom nie aan haar nie. Sonder om die deur oop te maak, spring hy in die motor. Maar Ansie is dadelik by en voor hy besef wat sy doen, het sy die sleutel uitgetrek.

“Wat de duiwel doen jy? Gee hier my sleutel,” snou hy haar toe.

Ansie skrik toe sy Tommie se gesig sien. Die blou oë smeul, sy gesig is donker van woede, ’n spiertjie trek senuweeagtig in sy wang. Hy is in ’n verskriklike bui. Sy moet hom probeer kalmeer voor hy iets onbesonne aanvang.

“Wat gaan aan, Tommie?” vra sy dringend.

“Gee hier die sleutel,” sê hy boos.

“Ek het nie die minste plan om vir jou die sleutel te gee solank jy in so ’n bui is nie,” sê sy streng. “Wat het gebeur, Tommie? Waarom is jy so ontsteld?”

Hy bal sy vuiste saam op die stuurwiel.

“Ek haat hom! O, ek haat hom!” sê hy hartstogtelik. “Een­dag sal ek hom nog vermoor!”

Nelson, wat intussen vir Cognac nader gebring het, staan ’n paar treë weg en kyk belangstellend toe. Daar is ’n sardoniese glimlag op sy gesig en Ansie is skielik self kwaad.

“Ruk jouself reg, Tommie,” sê sy koud. “En pas op wat jy sê.” Sy draai na Nelson toe. “Neem asseblief vir Cognac terug stalle toe. Ek sal haar netnou kom haal.”

Sy wag tot Nelson weg is, dan stap sy om en klim langs Tommie in die motor. ’n Rukkie sit sy stil langs hom. “Vertel my wat gebeur het,” sê sy. Haar stem is koel en gebiedend, en dis of hy na ’n rukkie verslap. Hy haal ’n slag diep asem, dan sê hy skor: “Ek is jammer. Ek het nie bedoel om my humeur so te verloor nie.”

“Jy het seker genoeg aanleiding gehad,” sê sy simpatiek.

Hy haal sy skouers op. “Dis seker maar alles my eie skuld. Ek het jou gesê ek is in die moeilikheid. Ek het geld nodig gehad en op ’n wenk van ’n vriend het ek mynaandele gekoop. Dis goeie aandele. Sy oom is ’n direkteur van die maatskappy, hulle het ryk nuwe vondste gemaak, en die verwagting was dat die aandele gou – sodra dit rugbaar word – die hoogte sou inskiet. Maar daar het iets verkeerd geloop – niemand weet wat nie – en die aandele het skielik begin daal. Ons het gehoop dit sal gou herstel, maar die mense het paniekerig geword en begin verkoop. Om ’n lang storie kort te maak, ek moet Vrydag tienduisend rand hê of ek is in my peetjie.”

“Tienduisend rand!” sê Ansie geskok. “Het jy vir oom Jacob gesê?”

“Ek moes hom sê. Hy is al een wat my kan help. Die ergste is, toe ek met hom oor die aandele gepraat het, het hy my ten sterkste afgeraai om hulle te koop. Hy was natuurlik woedend. Hy het my ’n niksnuts, ’n parasiet en ’n deurbringer genoem. Hy het gesê hy sal nie ’n vinger verroer om my te help nie, dat ek maar self moet sien hoe ek uit die penarie kom. En as ek my nie regruk en meer belang stel in my werk nie, kan ek maar vir my ander werk gaan soek.”

Ansie skud haar kop simpatiek.

“Arme Tommie. Maar jy het alles verdien wat jy gekry het. Hoe kan jy aandele koop as oom Jacob jou spesifiek gewaarsku het om hulle nie te koop nie? En om hulle nog op skuld te koop …”

Tommie is stil, en Ansie lê haar hand vlugtig op syne. “Moenie jou so ontstel nie. Natuurlik was oom Jacob kwaad – jy moes dit verwag het. Maar ek is seker hy sal jou help. Het hy jou toe van die ander plan van hom ook vertel?”

Tommie knik verleë, en sê bitter: “Tipies oom Jacob om almal se lewens vir hulle te reël – selfs voor te skryf met wie hulle moet trou. Die ou man word nou regtig kinds!”

“Oom Jacob is nie kinds nie. Ver daarvandaan! Hy word oud, ja, maar sy verstand is nog glashelder. Dis maar net die droom van ’n eensame ou man wat nie eie kind of kraai het nie.”

“Hy is ’n bemoeisieke ou man wat alles en almal wil regeer. Hy sê hy sal ons sy erfgename maak – die fabriek, Bergheim, Donkerpoort – ons sal alles kry. Dis jammer, nè? Ek kan met so ’n meevallertjie doen.” Hy haal sy skouers moedeloos op. “Maar nou ja …”

Ansie kyk hom nuuskierig aan.

“Jy is nie baie vleiend nie,” spot sy saggies. “Gaan jy oom Jacob se voorstel nie eens oorweeg nie?”

Tommie word rooi en dan weer wit.

“Moenie nog spot nie,” grom hy. “Jy weet maar net nie. Ek kan nie met jou trou nie, al wil ek ook. Bettie en ek is Woensdag met ’n spesiale lisensie voor die landdros getroud.”

Ansie kyk hom sprakeloos aan. Dié keer het Tommie haar asem heeltemal weggeslaan.

“Ek en Bettie is lief vir mekaar. Ons wou graag trou, maar ons het geweet daar sal te veel besware wees. Jy sien nou self oom Jacob het ander planne vir my gehad, en my ma hou nie van Bettie nie. Ons het gedink, as dit ’n voldonge feit is, sal die familie dit ná die eerste skok aanvaar.”

“En nou?” vra Ansie.

“Ons sal nou eers moet wag – kyk hoe dinge ontwikkel. Miskien, as ons – ek en jy – voorgee dat ons oom Jacob se voorstel oorweeg, sal hy my weer help. Dis goeie aandele. Hy sal sy geld terugkry. Dis net, ek moet nóú die geld hê … En met Bettie se hulp sal ek ’n nuwe begin kan maak. Harder werk, meer in die besigheid belang stel. Al die dinge doen wat oom Jacob van my verwag.”

Ansie leun oor en soen hom op die wang.

“Jy is ’n dapper man, Tommie. Ek hoop jy en Bettie is baie gelukkig saam.”

“Dankie,” sê hy sober. “Ons het al die goeie wense nodig wat ons kan kry. Dit help baie om te weet jy is aan ons kant.”

’n Rukkie sit hulle stil langs mekaar, elkeen besig met sy eie gedagtes. Die berge kry kleur en ’n goue waas lê oor die laat herfs­middag. Dis Ansie wat eerste roer.

“My perd is opgesaal. As ek nog wil gaan ry, moet ek nou gaan.”

“Kan ek net my sleutel kry?” vra Tommie.

Ansie kyk na hom. Die blou oë is helder, die drif het uit hom verdwyn. Dis weer die ou Tommie wat sy ken.

“Kom liewer saam met my. Nelson kan gou vir jou ’n perd opsaal.”

“My liewe Ansie,” sê hy en glimlag, “ek is baie veiliger in my Ferrari as op ’n vreemde perd se rug. Ek gaan ook nie nou ry nie, ek wil net die motor gaan bêre.”

Ansie gee hom die sleutel en stap dan na die stal toe waar Nelson nog op haar wag. Sy maak verskoning omdat sy so laat is en belowe dat sy nie lank sal wegbly nie. Nelson raak sy pet beleef aan. Sy gesig is uitdrukkingloos.

“Alles reg, juffrou Anna.”

Nelson begin baie op sy ma trek, dink Ansie toe sy wegry.

Toe sy by die uitdraaipad kom, kyk sy weer op na die kloof waarin die blou aandskaduwees reeds begin saampak, en sy wonder hoe John sy middag geniet het. Dan neem sy die pad wat aflei na die landerye.

Tryna du Toit-omnibus 8

Подняться наверх