Читать книгу Die wit ringmuur - Tryna du Toit - Страница 3

Оглавление

Hoofstuk 1

Die opstal lê ’n entjie van die pad af: ’n groot wit gewelhuis met koel luike en netjiese buitegeboue tussen wingerde en reuse-eike, omsluit deur ’n wit ringmuur met stewige houthekke. Dit het ’n soldertrap en ’n breë stoep met versierde pilare, en daar is ’n ou slaweklok en ’n kelder waarin vorige eienaars hulle eie wyn en brandewyn gemaak het. Sommige van die eikebome is al ’n paar honderd jaar oud.

’n Geskiedkundige huis wat beelde oproep van ’n grasieuse verlede, van beeldskone jong dames in wye hoepelrokke en galante jong here in kniebroeke en satynbaadjies wat saam in die koelte van die aand onder die eike kuier. Van deftige koetse, van onthale by die Kasteel, van seilskepe wat die Kaap aandoen op pad na die Verre-Ooste. Van tye toe die wit ringmuur ’n verskansing was teen roofdiere en ander gevare wat daar buite geskuil het.

Maar daardie dae is lank verby. In die koetshuis staan daar vandag ’n blink, moderne motor. As die dogter van die huis besoek ontvang, kom kuier haar jong ridder nie met ’n vosperd nie, maar met ’n lawaaierige motorfiets of ’n vinnige sportmotor. Vandag is die ringmuur, soos die slaweklok en kelder, net ’n herinnering aan daardie vervloë romantiese dae.

Dit is ’n sonnige lenteoggend teen die einde van Oktober. Die eikebome is ’n sagte groen en in die vleie en oral langs die paaie staan die aronskelke vol in die blom. Vanuit die hoë bome langs die huis klink die sagte gekoer van duiwe.

Professor Pieter Joubert, die huidige eienaar van Mon Désir, en sy vrou sit nog aan die ontbyttafel. Die son stroom by die eetkamervenster in en die geur van rose en kanferolie vul die vertrek. Die professor is agter sy koerant versteek terwyl Elsabé Joubert vir die hoeveelste keer die gastelys nagaan vir hulle dogter, Cathy, se troue oor net meer as ’n maand.

Professor Joubert is ’n lang, effens geboë man van omtrent sestig met ’n kaalkop en sagte, dromerige blou oë. Hy is ’n professor in klassieke tale en gedurig verdiep in boeke en geskrifte oor die antieke Griekse geskiedenis en mitologie. ’n Paar maande gelede is hy genooi om ’n paar lesings aan Amerikaanse universiteite te gaan gee. Dit was die uiteindelike erkenning van ’n leeftyd van toegewyde studie en navorsing, en hy was so opgewonde soos ’n skoolseun oor die vooruitsig.

As die oudste seun het Pieter Joubert Mon Désir sestien jaar gelede van sy pa geërf. Oorspronklik was Mon Désir ’n groot plaas, met baie morge vrugbare grond, maar met die jare is die ou plaas verdeel en onderverdeel tussen seuns en skoonseuns. Vandag bestaan die landgoed slegs uit die huis en ’n paar morg grond. Die res behoort byna alles aan vreemdelinge. Die opbrengs van die wingerd en vrugtebome is genoeg om die uitgawes van die boerdery te dek en af en toe af te betaal aan die verband wat Pieter moes uitneem om sy jonger broer en twee susters hulle erfdeel uit te betaal.

Elsabé Joubert is ’n aantreklike en energieke vrou, ’n paar jaar jonger as haar man. Oorspronklik ’n Vrystater van geboorte, het sy haar met die jare heeltemal vereenselwig met haar man se familie en agtergrond. Sy is vandag net so trots op Mon Désir en byna net so geheg aan die ou opstal as haar man.

Drie kinders is uit die huwelik gebore: twee seuns wat albei op universiteit presteer het en reeds besig is om hulle merk in die lewe te maak. En Cathy, wat byna tien jaar na haar tweede broer haar verskyning gemaak het en nou op een-en-twintig met die buurman se seun gaan trou. So tussendeur die voorbereidings vir die troue, wat weens haar ouers se oorsese reis ’n bietjie vervroeg is, is sy ook besig met haar eindeksamen vir haar B.A.-graad. Maar sy is net so slim soos haar broers en het hard gewerk, en almal verwag dat sy goed sal presteer.

Elsabé kyk vlugtig op toe Cathy by die eetkamer inkom in ’n kort, verbleikte kamerjas, haar donkerbruin hare in ’n poniestert vasgebind. Sy is effens bleek en daar is skaduwees onder die mooi diepgroen oë, asof sy die nag maar min geslaap het.

Haar ma glimlag effens ingedagte. “Môre, Cathy. Jy’s vroeg op. Goed geslaap, hartjie?”

Sy lui ’n klein silwerklokkie sodat die huishulp Cathy se lemoensap en roosterbrood kan bring. Dan, sonder om vir haar dogter se antwoord te wag, vervolg sy: “Ek sê nou net vir Pappa ons sal vir die Van Blerks ook ’n uitnodiging moet stuur.” Cathy wil praat, maar haastig vervolg haar ma: “Ja, ek weet ons het besluit om hulle nie te nooi nie, maar mevrou Van Blerk en ek dien saam in baie komitees. Sy is altyd so belangstellend en ’n mens wil nie onnodig aanstoot gee nie. Ons stuur maar vir hulle ook ’n uitnodiging. Ek het ook so byna-byna van nig Ragie Verster vergeet. Ek hoop maar die ou siel kan nie kom nie, maar sy vergewe ons nooit as ons haar oorslaan nie. Sy skimp reeds heeldag oor die hoogmoedige Jouberts wat nie meer elke dag hulle eie familie ken nie.”

Cathy kyk ’n oomblik onseker na haar ma, onwillig om die rustigheid van die vreedsame lenteoggend te verbreek. Maar haar ma het haar ’n uitstekende aanknopingspunt gegee en sy kan nie langer wag nie. Sy haal ’n slag diep asem en sê dan: “Dis nie nodig om Mamma langer oor die Van Blerks of nig Ragie te bekommer nie!” Sy probeer liggies praat, maar haar stem dreig om in haar keel vas te steek. “Ek en Andries het besluit om die troue af te stel.”

Die professor laat sy koerant vinnig sak. Elsabé Joubert kyk na haar dogter en sien nou eers hoe bleek en gespanne Cathy lyk. In die skielike stilte klink die gekoer van die duiwe helder op.

“Afstel of uitstel?” vra professor Joubert.

“Afstel. Ek . . . ek is jammer, Mamma,” verbreek Cathy stamelend die gespanne stilte. “Ek . . . dis seker ’n groot skok en teleurstelling, maar ek kan net nie daarmee aangaan nie.”

Elsabé kyk haar dogter sprakeloos aan. Alles is reeds gereël. Maande lank al beplan sy die tuin sodat dit op die dag ’n weelde van kleure en geure moet wees. Die kaartjies is gedruk en lê gereed om uitgestuur te word. Die kerk en die orrelis is bespreek, die spyseniers bevestig. Cathy se trourok is klaar – sy het dit die vorige dag finaal aangepas – en die wittebrood is gereël. Elsabé Joubert is ’n goeie organiseerder en geen moeite is gespaar om Cathy se troue ’n heuglike geleentheid te maak nie.

Cathy self wou oorspronklik ’n klein, stil troue gehad het, maar dit was natuurlik buite die kwessie. Vandat Cathy gebore is, droom Elsabé Joubert al van die bruilof wat hulle eendag teen die skilderagtige agtergrond van Mon Désir sal hou. Kort nadat Cathy en Andries de Wet verloof geraak het, het sy haar planne agtermekaar begin sit. Dit sal ’n troue wees wat die mense nog lank sal onthou. Hulle is dit verskuldig teenoor Andries se familie sowel as hulle eie familie en vriende. En aangesien sy en Pieter ’n paar dae later lank oorsee gaan, sal dit sommer ook vir hulle ’n kans gee om vir hulle vriende tot siens te sê.

Cathy het ná ’n bietjie teëstribbeling ingestem, en nou dit! Maar die kind bedoel dit natuurlik nie ernstig nie. Sy en Andries het seker rusie gemaak, en in haar gespanne toestand het sy haarself allerhande dinge wysgemaak. Cathy is ’n fynbesnaarde kind – daar aard sy so reg na haar pa – en al die voorbereidings vir die troue saam met haar finale eksamen was seker te veel. Sy sal al haar takt en wysheid moet gebruik om haar dogter te kalmeer.

“Kom sit, Cathy,” sê sy stil. “Eet jou ontbyt, dan bespreek ons die saak kalm. Ek is seker dis maar net ’n klein misverstand wat maklik uit die weg geruim kan word.”

Maar Cathy skud heftig haar kop.

“Ek is doodernstig, Mamma. En niemand gaan my dwing om met Andries of enigiemand anders te trou nie!”

Daar is ’n effens histeriese klank in haar stem en professor Joubert sê gerusstellend: “Niemand sal jou dwing nie, Cathy. Kom sit en vertel ons wat gebeur het. Het jy en Andries rusie gemaak?”

“Nee.” Cathy is bewus van haar ma se ontsteltenis en is baie na aan trane. Sy gaan sit in die stoel wat haar pa vir haar uitgetrek het en vervolg: “Ons het nie rusie gemaak nie. Ek het Andries nie lief nie – daarom wil ek nie met hom trou nie.”

“Jy het Andries nie lief nie?” Haar ma staar haar onbegrypend aan. “Onsin, Cathy! Jy is verlief op Andries vandat jy sestien jaar oud is.”

Cathy bloos verleë.

“Ek was verlief, maar dit was meer heldeverering as liefde. Omdat ons ouers goeie vriende is, is ons gedurig saamgegooi in mekaar se geselskap en almal het maar aanvaar ons is verlief en gaan eendag trou. Dis al ’n hele ruk dat ek twyfel of . . . of ek regtig lief is vir Andries. En gister toe . . . toe ek my trourok aanpas, het ek geweet ek maak ’n fout en dat ek ons albei net diep ongelukkig sal maak as ek met hom trou.”

Elsabé Joubert kyk na haar dogter, haar blik skerp en ondersoekend. Sy sien die glinstering van trane op Cathy se lang, donker wimpers, die trilling van haar lippe, en haar gesig versag. Saggies, paaiend sê sy: “Dis net senuwees, niks meer nie. Glo my, hartjie, alle bruide ondervind dit maar. Jy is moeg en gespanne, nou verbeel jy jou allerhande dinge. Ek is heeltemal oortuig jy sal nie ’n fout maak as jy met Andries trou nie. Hy is gaaf en intelligent en pligsgetrou – hy het al die eienskappe wat van hom ’n goeie man en pa sowel as ’n goeie dokter sal maak.”

“Hy is gaaf en betroubaar en ál die dinge wat Mamma sê. Ek bewonder hom en is lief vir hom – soos ’n mens lief is vir ’n broer of ’n baie goeie vriend. Maar dis nie genoeg nie.”

Voor die stille vasberadenheid in hulle dogter se stem is die professor en sy vrou albei stil. Cathy kan egter hulle teleurstelling aanvoel. Andries se stiefpa, Wynand Louw, se landgoed grens aan Mon Désir. Die Louws was al die jare goeie bure en huisvriende, en Andries was altyd welkom in haar ouers se huis. Natuurlik was hulle verheug toe haar en Andries se vriendskap op trouplanne uitloop. By Andries is haar toekoms veilig, het hulle gedink. En eindelik is hulle vry van hulle verpligtinge, vry om hulle eie lewe te lei. ’n Professor se salaris is nie baie groot nie, en dit het heelwat opofferings geverg om in al hulle kinders se behoeftes te voorsien.

Elsabé Joubert skud net haar kop.

“En dit in die middel van die eksamen! Hoe kan julle met al dié dinge nog op julle eksamens konsentreer? En Andries het so hard gewerk.”

“Andries is feitlik klaar, hy moet nog net een of twee mondelings doen. Ek dink ook nie hy is baie ontsteld nie – dit het nie so gelyk nie. Soos Ma weet, kom Andries se werk eerste by hom. En ek self sal baie beter op my eksamen kan konsentreer noudat ek met Mamma-hulle gesels het.”

Elsabé Joubert kyk na die lyste wat voor haar lê, sy dink aan die nagte wat sy wakker gelê het, aan die maande wat sy beplan en gewerk het om haar dogter se troue ’n sukses te maak. En die hele tyd was sy onder die indruk dat Cathy doodgelukkig is!

“Wat het dan gebeur?” vra sy saggies, pleitend. “Julle was so gelukkig saam. Ons het almal gedink jy en Andries pas so ideaal bymekaar.”

“Daar het niks gebeur nie, Mamma. Ons het mekaar nie lief nie, dis al. Wees bly ons het dit betyds uitgevind. Andries is vanoggend besig, maar hy sal later self ook met Ma en Pa kom praat. Probeer net besef – dis finaal! Ek sal nie van plan verander nie. En moet asseblief nie ’n bohaai maak as Andries kom nie, Mamma.”

“Ek het nie die minste plan om ’n bohaai te maak nie,” sê haar ma verontwaardig. “Maar ek moet erken, ek is diep teleurgesteld. Om te wag tot al ons reëlings getref is . . . Wat gaan die mense sê?”

Professor Joubert gooi sy koerant opsy.

“As Cathy en Andries besluit hulle wil nie trou nie, is dit die einde van die saak. En wat die mense sê, is van minder belang.”

Sy vrou haal haar skouers op.

“Ek hoop jy sal self die nuus vir jou ma vertel! Ek gaan dit beslis nie doen nie. En wat gebeur nou? Al ons reisplanne is agtermekaar, die huis is verhuur . . .”

“Ek verwag hoegenaamd nie dat julle julle planne moet verander nie, Mamma. Inteendeel, dit sal my baie skuldig laat voel. Julle vertrek soos beplan aan die begin van Desember na Europa en Amerika.”

“En jy?”

“Ek is oud genoeg om na myself te kyk. Ek dink dit sal my goed doen om vir ’n verandering op my eie voete te staan en my eie potjie te krap. Ek het gelukkig reeds die deeltydse werk by die tegniese kollege gekry. Ek wil ook ’n bietjie radiowerk doen en probeer skryf, en as dit nodig is, kan ek privaat les in Frans en Engels gee.”

“Ek sien,” sê Elsabé Joubert. In die stilligheid het Cathy blykbaar reeds haar planne agtermekaar gesit. “Ek wens net jy het ons eerder hiervan vertel. Dit kon ons almal baie moeite en ergernis gespaar het.”

“Ek het tot gister nog gedink ek sal trou. Soos ek reeds gesê het, het ek al vantevore getwyfel, maar ek het dit self ook maar aan senuwees en spanning toegeskryf. As ons eers getroud is, het ek gedink, sal alles regkom. Maar ’n mens kan nie trou as daar enige twyfel of onsekerheid in jou hart is nie. Dit het ek gister finaal besef.”

’n Rukkie is haar ouers stil, dan sê haar ma swaar: “Wel, dis jou lewe; jy moet maak soos jy goed dink. Jy sal ver soek om weer ’n man soos Andries te kry, maar as jy hom nie liefhet nie, sal ons jou natuurlik nie probeer dwing om met hom te trou nie. Weet sy ouers al?”

“Ek glo nie. Hy moes vroeg vanoggend hospitaal toe gaan, en hy het gesê hy wil eers met Ma-hulle kom praat.” Sy sien die skielike flikkering van hoop in haar ma se blou oë en sê beslis: “Daar is nie ’n kans dat ons weer sal opmaak of so iets nie. Ek het gesê dis finaal. Dis net goeie maniere – niks anders nie.”

Haar ma haal haar skouers op.

“Ek sal seker aan die gedagte gewoond raak. Maar dit bring allerhande onverwagte komplikasies mee. Ons sal dadelik vir jou losies moet begin soek.”

“Ek het gehoor Wilna soek iemand om ’n woonstel met haar te deel.”

“’n Woonstel! Ek droom nie daarvan om jou op jou eie agter te laat nie,” sê haar ma beslis. “Ek dink nou net daaraan – jy kan dalk by tannie Mona gaan bly. June is reeds daar en dit kan lekker wees met julle albei daar.”

Maar Cathy is net so vasberade soos sy.

“Ek wil nie by tannie Mona gaan bly nie. Enige plek, maar nie by tannie Mona nie. Asseblief, Mamma, los my. Ek is een-en-twintig en wil graag my eie lewe begin.”

Professor Joubert kom sy dogter onverwags te hulp.

“As Cathy oud genoeg was om te trou en die verantwoordelikheid van ’n man en huis te aanvaar, is sy oud genoeg om na haarself te kyk. Laat haar begaan.”

Cathy werp haar pa ’n dankbare blik toe. Mevrou Joubert kyk haar dogter fronsend aan, dan sê sy onverwags: “Het Jos de Lange iets te doen met jou besluit om nie met Andries te trou nie?”

Cathy bloos liggies.

“Ek is nie op Jos verlief nie, as dit is wat Mamma bedoel. Maar hy het my laat besef dat daar ’n hele ander lewe daar buite is waarvan ek baie min weet. Ek word nog my hele lewe lank deur julle beskerm, en hoewel ek baie dankbaar is vir alles wat julle vir my gedoen het, voel ek dis tyd dat ek op my eie voete staan.”

Sy staan op, gaan na haar ma toe en soen haar op die wang. “Ek is jammer. Ek weet Mamma het baie hard gewerk om alles te reël en is seker baie teleurgesteld, maar liewer nou as later. En moenie oor my bekommerd wees nie. Ek is seker ek doen die regte ding. As Mamma wil, sal ek later saam na die Louws toe gaan. Ek hoop net nie hulle is kwaad vir my nie.”

Met ’n ligte tred en heelwat ligter hart stap Cathy ’n paar minute later by die eetkamer uit. Sy was verniet so bang. Die gevreesde gesprek met haar ouers het makliker verloop as wat sy verwag het. Dis die gaafste van ’n mens se ouers, dink sy. Hulle kan soms so moeilik en onbegrypend wees, maar in tye van nood kan jy altyd op hulle staatmaak.

In die eetkamer, waar haar ouers alleen agterbly, heers daar ’n swaar stilte. Daar is ’n bekommerde, ongelukkige uitdrukking op Elsabé Joubert se mooi gesig.

“Wel!” sê sy en daar is ’n wêreld se gevoel in die enkele woordjie. “Dis hoe min ’n mens weet van wat werklik in jou kinders se harte omgaan. Ek het opgemerk Cathy is die afgelope tyd ’n bietjie stiller en meer afgetrokke, maar ek het gedink dis maar net bekommernis oor die eksamen en al die voorbereidings vir die troue. Wat haar verhouding met Andries betref, was ek houtgerus! Ek het gedink – soos almal wat hulle ken – dat hulle doodverlief en doodgelukkig is.”

“Ons het die laaste maande maar min van Andries gesien,” merk haar man op.

“Ek weet,” sê sy vrou en daar is ’n fronsie tussen haar gladde wenkbroue. “Dit was ’n moeilike jaar vir hom en daar was nie baie tyd vir Cathy nie.”

“Dink jy dit is die moeilikheid? Dat sy afgeskeep en verwaarloos gevoel het, en elders troos gesoek en gekry het?”

“Ek hoop nie so nie. Ek hoop sy is meer volwasse as dit. Maar ek voel baie ongelukkig. Ek sou ons dogter met ’n geruste hart by Andries agtergelaat het, maar ek sou nie graag wou sien dat sy met ’n man soos Jos de Lange trou nie.”

“Jos de Lange? Jy dink tog nie regtig daar is so ’n moontlikheid nie?”

“Sy het die afgelope tyd taamlik baie van hom gesien. Hulle stel albei belang in drama en musiek en het die afgelope jaar in dieselfde komitees gedien. Hulle is ook albei in die redaksie van die jaarblad. Ek het nie baie van die vriendskap gehou nie, maar ek het nie regtig enige gevaar daarin gesien nie. Andries was al die jare haar held en die troudatum was vasgestel, haar trourok in wording. Hoe kon ek droom dat daar sulke dinge aan die broei is?”

“Dit help nie om jouself nou te blameer nie. Cathy is mondig en seker oud genoeg om haar eie vriende te kies.”

“Cathy is nog ’n kind en as haar ma is dit my plig om haar te waarsku. Ek kan mos nie toekyk hoe sy dinge doen wat ek weet haar diep ongelukkig sal maak nie.”

“Dink jy sy sal na jou luister? Nee, Elsabé, ek is bevrees ons kan niks aan die situasie doen nie. As jy nou haar vriendskap met Jos de Lange teenstaan, dryf jy haar miskien net in sy arms. Laat haar begaan. Sy is ’n verstandige kind, ten spyte van haar dromerigheid, en ek is seker sy kan na haarself kyk.”

Hy staan op, soen sy vrou en lê sy hand ’n oomblik vertroostend op haar skouer. Dan verdwyn hy in sy studeerkamer waar hy die res van die oggend met eksamenvraestelle besig sal wees. Ek moet ook opstaan, dink Elsabé, daar is werk om te doen. Maar sy is lamgeslaan, dit voel of haar hande afgekap is. Wat ’n skok en bittere teleurstelling. Al haar mooi planne en drome is in ’n oogwink vernietig. Wat kon gebeur het? Sy onthou nog so goed hoe gelukkig Cathy aan die begin van die jaar was toe sy en Andries verloof geraak het.

Oorspronklik was hulle nie van plan om te trou voor Andries met sy hospitaaljaar klaar was nie. Maar toe haar en Pieter se oorsese planne kom, het hulle almal gedink dis beter dat die twee aan die einde van die jaar trou. Hulle kon ’n klein woonstelletjie huur naby die Volkshospitaal waar Andries ’n aanstelling gekry het, en Cathy sou natuurlik ook gaan werk. Sy en Pieter kon gerus weggaan in die wete dat hulle dogter in goeie hande is.

Wat sal die Louws sê? Wynand Louw, Andries se stiefpa, is ’n vooraanstaande boer wat sy vrou ’n aantal jare gelede in ’n motorongeluk verloor het. Hulle was almal baie lief vir Wynand en bly toe hy met Magda de Wet, ’n weduwee, getrou het. Sy was ’n knap, hardwerkende vrou wat hom in alles ondersteun het en sy was lief en goed vir haar drie stiefkinders. Van sy kant af het Wynand ook vir Andries as sy eie seun aanvaar.

Hulle was goeie vriende sowel as bure. Hulle het oor en weer gekuier en dikwels saam op Hermanus vakansie gehou. Andries was byna vyf jaar ouer as Cathy en hy het aanvanklik nie veel notisie van haar geneem nie, maar hy was van die begin af haar held. Met vakansies het Cathy en sy twee stiefsussies hom soos ’n skaduwee agtervolg, dikwels tot groot ergernis van Andries en sy maats, wie se planne nie altyd drie lastige langbeendogters ingesluit het nie. Later het hy en Cathy egter goeie maats geraak en Cathy se ouers het die groeiende vriendskap tussen die twee goedkeurend gadegeslaan. Andries was Cathy se eerste en enigste kêrel. Vir Cathy was daar nooit iemand anders as Andries nie en die twee het perfek by mekaar gepas.

Sy kan maar nie glo dat dit nie net ’n klein misverstand is wat maklik uit die weg geruim kan word nie. As Cathy net nie so beslis oor die saak was nie! By haar is daar blykbaar geen twyfel nie. Maar voor sy iets doen, sal sy wag totdat sy met Andries gepraat en sy kant van die saak gehoor het.

Dit is omtrent twaalfuur toe Andries se swart motortjie by Mon Désir se hek indraai en vinnig met die eikelaning na die huis aangery kom. Cathy sit en studeer in die somerhuisie en sy wonder of Andries direk na haar ouers toe sal gaan of eers met haar sal kom praat.

Hoe voel hy vanoggend? wonder sy effens onrustig. Hy het gisteraand nie veel gesê nie, maar stilswyend geluister terwyl sy vertel van haar groeiende vertwyfeling en onsekerheid.

“As jy onseker voel, wag ons liewer ’n rukkie,” het hy dadelik gerusstellend gesê. Ook hy het blykbaar gedink dis net senuwees en spanning. Hy was so gaaf dat sy byna nie die moed gehad het om vir hom te sê dat dit nie net ’n kwessie van uitstel was nie, maar dat sy ’n einde aan hulle verlowing wou maak. Selfs toe het hy nie veel gesê nie en slegs voorgestel dat hy die volgende dag met haar en haar ouers kom gesels.

“Dit sal nie help om verder te gesels nie, ek sal nie van plan verander nie,” het sy gewaarsku.

“Ek gaan jou nie dwing nie, Cathy,” het hy kalm gesê. “As jy nie met my wil trou nie, is dit die einde van die saak. As jy heeltemal seker is jy het my nie lief nie, sal ek jou help sover ek kan.”

Ten spyte van sy gerusstelling het sy die nag maar min geslaap. Wat sal haar ma se reaksie wees? En haar pa s’n? Sal hulle haar nie probeer ompraat om maar met die troue voort te gaan nie?

Andries parkeer sy motortjie langs die huis en kom dan na die somerhuisie toe waar hulle in die verlede so dikwels gekuier, gesels, geargumenteer en later planne vir die toekoms gemaak het. Hy het sy goeie pak aan, natuurlik ter ere van die onderhoud met die professor.

Hy is ’n aantreklike jong man, skraal en tog sterk gebou, met donker hare en helderbruin oë. Eers toe hy nader kom, sien sy effens skuldig dat hy moeg en bleek lyk – asof hy die nag ook maar min geslaap het. Dit was seker nie baie bedagsaam van haar om hom op die vooraand van ’n belangrike eksamen met sulke dinge te konfronteer nie. Maar toe sy eers besluit het, moes sy dadelik met Andries praat.

“Goed gegaan?” vra sy dadelik toe hy by haar kom.

“Ek hoop so, dankie.” Meer sal sy nie uit hom kry nie, dit weet sy al. Hy kom sit langs haar en sy is bewus van sy ondersoekende blik.

Sy glimlag effens verleë. “Wel?”

“Ek het maar net kom môre sê. Of is dit ook verbode?”

“Natuurlik nie. Ek het jou gesê ek hoop ons sal goeie vriende bly.”

“Dan het ek nie gedroom nie – jy het my regtig gisteraand afgesê?”

Sy bloos skuldig.

“Jy het nie gedroom nie, Andries.”

Hy is ’n rukkie stil, dan sê hy: “Wat sê jou ouers?”

“My ma is baie omgekrap en teleurgesteld. Sy het volgehou dis maar net senuwees – sy sê alle bruide voel so – maar ek het haar darem later oortuig dat ek al lankal onseker is en gister finaal besef het ek kan nie met jou trou nie.”

“Waarom het jy nie lankal vir my gesê jy is ongelukkig en begin twyfel nie?”

“Ek het aan die begin ook gedink alle bruide voel maar so. En jy was so besig – jy weet self hoe min ek die laaste maande van jou gesien het.”

“Verwyt jy my?”

“Nee, ek verwyt jou nie. Ek weet hoe geïnteresseerd jy in jou werk is.”

“Dis nie die belangrikste ding in my lewe nie. Ja, ek weet ek het jou die laaste ruk ’n bietjie afgeskeep, maar ek het gehoop jy sal verstaan dat ek so hard werk om jou ontwil sowel as myne.”

“Ek wonder, Andries. Ek dink jou werk sal altyd eerste kom. As ek jou regtig liefgehad het, sou ek seker nie omgegee het om aand ná aand en naweek ná naweek alleen by die huis te sit nie. Maar ek het later die gevoel gekry dat dit net ’n voorsmakie is van wat kom, dat ek maar altyd tevrede sal moet wees om tweede viool te speel. Ek het begin voel jy het my nie regtig nodig nie, en begin wonder of ons mekaar werklik liefhet – of ons nie maar net gewoond geraak het aan mekaar nie.”

“Jy het nie so gevoel toe ons verloof geraak het nie, het jy?”

Sy aarsel. “Nee,” sê sy dan eerlik. “Toe ons verloof geraak het, het ek gedink ek is die gelukkigste mens op aarde.”

“Wat het dan gebeur om jou te ontnugter?”

“Dis nie ’n kwessie van ontnugtering nie. Ek dink ek het maar net grootgeword en geleer om vir myself te dink. Ek het begin besef daar is ’n verskil tussen liefde en verliefdheid. En ek het ook begin besef hoe eng en beskermd my lewe nog altyd was. Met hulle liefde het my ouers ’n ringmuur om my gebou – net soos daardie wit ringmuur wat Mon Désir omhein. Hulle het my vriende gekies, my vakansies gereël en besluit watter kursus ek op universiteit moet volg. En ek het dit maar alles gedwee aanvaar en selfs toegelaat dat hulle my toekomstige man vir my kies! Ja, Andries, jy weet goed dit is so. Ons het langs mekaar gewoon, daar is gedurig oor en weer gekuier, en later het almal dit as vanselfsprekend aanvaar dat ons eendag sal trou. En omdat ek so baie van jou gehou het, was dit maklik om saam met die stroom te gaan. Ek blameer nie my ouers nie. Ek weet hulle bedoeling was goed, maar ek het begin voel ek is vasgehok, ek moet wegkom, ver weg van die ringmuur wat my hele lewe omsluit. Ek wil sien hoe die wêreld daar buite lyk, ek wil op my eie voete staan, vir myself dink, my eie besluite neem.”

“Ek begryp. En jy het gevoel ek wil jou ook binne daardie ringmuur hou.”

“In ’n mate, ja,” erken sy weer. “En as ek jou liefgehad het, sou ek seker nie omgegee het nie, sou ek die res van my lewe gelukkig en tevrede agter daardie ringmuur gebly het. Maar ek besef nou dis nie genoeg nie. Ek wil meer van die lewe hê as net dit. En as ek die dag trou, wil ek nie net ’n gerieflike meubelstuk of ’n mooi ornament in my man se huis wees nie. Ek is my eie mens, en of my man nou ’n besige dokter of die president is, ek weier om net ’n ornament of ’n meubelstuk in sy huis te wees!”

Andries de Wet kyk na haar en daar is belangstelling sowel as verbasing in sy blik. So het hy haar nog nooit hoor praat nie. Hy ken Cathy nou byna sewe jaar: hy het haar geken as ’n skooldogter, ’n ontluikende bakvissie, ’n gretige student en ’n wonderlike meisie wat met die jare ’n onafskeidbare deel van sy lewe geword het. Hy het gedink hy ken elke gedagte, elke bui van haar. Maar Cathy het die afgelope tyd verander. Dié vasberade jong meisie wat vanoggend hier langs hom sit en al die vreemde dinge met soveel oortuiging sê, ken hy glad nie.

“Ek het nog nooit aan jou as ’n meubelstuk of ’n ornament gedink nie,” sê hy nou sag maar met oortuiging. “Jy is al so lank deel van my lewe dat ek nie kan onthou waar en wanneer ek jou begin liefkry het nie.”

“Jy het my nie regtig lief nie, jy het maar net met die jare aan my gewoond geraak. Dit was handig om altyd ’n meisie byderhand te hê as jy die slag lus voel om ’n bietjie te ontspan, maar dit kon enigiemand gewees het, nie noodwendig ek nie. Sy moes maar net daar wees as jy haar nodig het, en tevrede wees om geduldig op die agtergrond te wag as jy haar nie nodig het nie.”

“Ek dink jy is baie onbillik, Cathy. Toe ons verloof geraak het, het ek jou gewaarsku dat dit ’n baie moeilike jaar sal wees, dat ek baie hard sal moet werk. As ek daardie beurs kry, beteken dit dat ons volgende jaar Engeland toe sal kan gaan.”

“Ek hoop jy kry die beurs, maar ek sal nie saamgaan nie. Ek is nie meer geïnteresseerd nie.”

“Wat help die beurs my as ek jou verloor?”

“Jou hart is nie regtig gebreek nie, Andries,” sê sy sag, met ’n effense glimlag. “Jy is nou kwaad en gekrenk, maar jy sal gou besef dis beter so. Jy kan nou so lank en so laat by die hospitaal bly as wat jy wil sonder om jou te bekommer oor jou vrou wat alleen by die huis vir jou sit en wag. Naweke kan jy saam met jou vriende gaan visvang . . .”

“Jy het my nog nie vir daardie naweek vergewe nie, nè?”

Nee, ek het nog nie vergeet nie, dink Cathy. Andries het belowe om die langnaweek in Mei saam met haar Hermanus toe te gaan en sy het besonder uitgesien daarna. Wanneer Andries nie by die hospitaal was nie, moes hy klas loop of studeer en sy het omtrent niks van hom gesien nie. Sy sou hom die hele naweek net vir haarself hê! Op die ou end moes hy egter die naweek diens doen en sy is alleen Hermanus toe. Maar dit was nog nie die ergste nie. Net die volgende naweek het hy en ’n paar van sy medestudente by Steenbras gaan kamp – kamtig om ’n klompie gevalle wat hulle behandel het, te bespreek en verder voor te berei vir ’n belangrike eksamen. Dit was natuurlik heeltemal per toeval dat hulle twee mooi geelbekke en ’n halfdosyn galjoene gevang het!

Dit was miskien onredelik van haar, maar toe hy die aand ewe in sy noppies vir haar sy vis kom wys, het sy hom allerhande verwyte toegeslinger. Hulle het ’n hewige rusie gehad, een van die min tussen hulle. Hulle het gou weer opgemaak, maar die herinnering aan daardie mislukte naweek en die gebeure daarna het haar lank bygebly. Dit was miskien een van die dinge wat aanleiding gegee het tot haar onsekerheid.

Sy haal nou haar skouers op en sê: “Dis alles lankal verby, maar dit bewys tog wat ek gesê het: jy het vir alles en almal tyd gehad, behalwe vir my. Nee, ek verwyt jou nie, ek wil jou net laat verstaan dat daar ’n verskil is tussen opregte liefde en die gevoel – half gewoonte, half verliefdheid – wat ons vir mekaar gehad het. Eendag as jy ’n meisie ontmoet wat jy regtig liefkry, sal jy onthou wat ek vandag vir jou gesê het.”

Andries de Wet kyk ’n ruk lank fronsend voor hom uit. Dan sê hy: “Dié vriend van jou, Jos de Lange – het hy iets te doen met jou besluit om nie met my te trou nie?”

“Ek is nie verlief op hom nie, soos ek vanoggend vir my ma gesê het toe sy my dieselfde ding gevra het.”

“Jy het die afgelope tyd heelwat van hom gesien, nie waar nie?”

“Nogal. Ons was saam in die jaarblad se redaksie, ons stel belang in dieselfde dinge – musiek, drama, kuns – en ek was ’n paar keer saam met hom by uitstallings en konserte. Ek het jou daarvan gesê en jy het nie beswaar gemaak nie. Ek dink Jos de Lange is ’n baie interessante en stimulerende man en ons is goeie vriende, maar niks meer nie.”

“Ek sien,” sê hy. Nóg sy gesig nóg sy stem verraai sy gedagtes. “Wat is sy planne vir volgende jaar?”

“Hy het ’n deeltydse werk as uitsaaier gekry en wil hom verder op joernalistiek toelê. Maar voor hy begin, gaan hy saam met ’n vriend deur Afrika reis.”

“Dit klink interessant. En jy, wat gaan jy nou doen?”

“Wilna soek iemand om ’n woonstel met haar te deel.”

“Dan sal ons volgende jaar saam in Kaapstad wees.”

Sy glimlag effens. “Ek hoop jy sal vir my kom kuier – later, as jy nie meer so kwaad is nie.”

“Ek is nie kwaad vir jou nie. Hartseer en teleurgesteld, ja, maar nie kwaad nie.”

Hy staan op en sy sit haar boeke neer en staan ook op. Uit sy sak haal hy die ring met die een pêrel wat sy die vorige aand vir hom teruggegee het. Hy kyk daarna en sê: “Ek het jou destyds gewaarsku die mense sê pêrels beteken trane. Maar jy het volgehou jy wil ’n pêrelring hê en niks anders nie.”

Sy voel skielik ’n prikkeling van trane agter haar ooglede en in haar keel. Sy het die pêrel nie net gekies omdat dit goedkoper was nie, maar omdat sy dit bo ’n diamant verkies het. Hoe gelukkig was sy destyds, hoe seker dat niks of niemand hulle liefde kon aanraak nie.

“Dit help nie om nou die pêrel te blameer nie – die skuld lê by jou en my!”

Onverwags sê hy: “Wil jy my nie nog een kans gee om te wys dat ek jou liefhet nie, Cathy? Dat dit nie net gewoonte of verliefdheid is nie? Ek belowe jou, ek sal dié keer beter vaar.”

’n Oomblik kyk sy diep in sy oë. Sy sien die ongelukkigheid wat daarin skuil, hoe moeg en bedruk hy lyk, en ’n oomblik weifel sy. Haar ma is reg. Sy sal ver moet soek om weer ’n man soos Andries de Wet te kry. Wat wil sy meer hê? Dan sien sy die wit ringmuur om Mon Désir, sy dink aan die eensaamheid en hartseer van die afgelope maande, en sy weet dat sy die regte ding doen.

Sag maar beslis sê sy: “Ek is jammer, Andries. Ek het jou nie lief nie en ek sal ons albei net ’n groot onreg aandoen as ek met jou trou.”

Sy gesig verhard effens. ’n Paar tellings kyk hy na haar, dan sit hy die ring terug in sy sak.

“Dan sal ek maar tot siens sê. Laat weet my wanneer jy Kaap toe kom. En as daar enigiets is waarmee ek kan help, moet jy sê. Ons is mos darem nog vriende, nie waar nie?”

“Ek hoop so. Solank jy net besef daar is nie sprake van iets meer as vriendskap nie.”

“Ek verstaan. En jy hoef nie bang te wees nie – ek sal jou nie lastig val nie. Is jou ouers hier? Ek wil hulle graag ’n oomblik sien.”

“Hulle is albei hier en my ma het belowe om haar te gedra!”

Hy neem haar hand in syne en kyk ’n oomblik na die vinger wat sy ring gedra het. Dan sê hy sober: “Ek hoop jy is gelukkig en dat die lewe buite die ringmuur alles is wat jy soek.” Hy glimlag effens. “Pas maar op vir die wolwe – daar buite die ringmuur is baie van hulle!”

Ook sy glimlag effens. “Ek sal.”

’n Oomblik druk hy haar hand styf in syne, dan draai hy om en stap weg in die rigting van die huis.

Elsabé Joubert het ook die swart motortjie by Mon Désir se hekke sien inry. Uit die voorkamervenster het sy gesien Andries stap na Cathy toe in die somerhuisie. Toe hy so lank wegbly, het sy begin hoop dit was alles maar net ’n misverstand. Gespanne wag sy, te ontsteld om met haar werk aan te gaan, maar toe Andries ’n rukkie later alleen na die huis aangestap kom en sy die uitdrukking op sy gesig sien, het sy geweet.

Die gesprek met Cathy se ouers het nie lank geduur nie. Die professor en sy vrou was albei teleurgesteld oor die verloop van sake, maar hulle was verstandige mense en het nie veel gesê nie. Andries het belowe om Cathy in die Kaap te gaan opsoek, die Jouberts het hom alle sukses met sy hospitaaljaar toegewens en daarmee is hy weg. Hy het in sy motor geklim en weggery sonder om weer in Cathy se rigting te kyk.

Vanuit die somerhuisie kyk Cathy die swart motortjie agterna. Die gewig wat die afgelope weke so swaar op haar hart gerus het, is weg; sy voel lig en vry. Maar sy voel tog hartseer. Sy sal Andries mis. Hy was haar eerste en tot dusver enigste liefde en sal altyd ’n spesiale plekkie in haar hart hê. Maar sy het haar kinderskoene ontgroei en daarmee ook haar aanbidding van Andries de Wet. En sy het hom mos darem nie heeltemal verloor nie. Andries het belowe hy sal in die Kaap vir haar kom kuier, en sy sien reeds daarna uit om hom weer te sien.

Dit is dan die einde van ’n hoofstuk, dink sy. Anderkant die ringmuur wag die wye wêreld daar buite, en dis met ’n gevoel van opwinding dat sy aan die toekoms dink. Want Jos de Lange is ook deel van daardie toekoms!

Sy is nie op Jos verlief nie, het sy vir haar ma en netnou ook vir Andries gesê, maar net die gedagte aan Jos gee haar ’n vreemde tinteling.

Wat weet jy van die lewe? het hy eendag vir haar gevra. Arme, bevoorregte ou meisietjie! Jou hele lewe lank het hulle jou gevange gehou daar agter die wit ringmuur, en as jy nou met Andries de Wet trou, sal jy nooit daar uitkom nie. Jy is ’n begaafde meisie, jy het baie moontlikhede, moenie toelaat dat hulle jou en jou talente versmoor met hulle liefde nie. Daar is so baie om te doen, so baie om te ervaar, waarom wil jy jou nou al bind?

Nee, sy is nie verlief nie. Daar is nog baie dinge in Jos de Lange wat vir haar vreemd is, wat sy nie verstaan nie. Maar hy is die interessantste en opwindendste man wat sy nog ooit geken het.

Die wit ringmuur

Подняться наверх