Читать книгу Die wit ringmuur - Tryna du Toit - Страница 4
ОглавлениеHoofstuk 2
Ouma Joubert woon die afgelope sestien jaar, vandat haar man dood is, alleen in die leidakhuis in die oudorp. Die huis, wat oorspronklik nog aan haar ouers behoort het, is vas teen die straat gebou en die een hoek van die stoep is met glas toegemaak en vol varings en potplante. Hier sit sy graag wanneer sy moeg gewerk is, met ou Wagter, wat in hondejare byna net so oud soos sy is, aan haar voete.
Hoewel Ouma Joubert reeds digby tagtig is, is sy nog besonder aktief. Met die hulp van twee getroue werkers, Mieta en Tom, behartig sy self die huishouding en tuin, en sy stel nog intens belang in die politiek en wêreldsake. Sy is ’n bekende en gerespekteerde persoon op die dorp en hoewel baie van haar tydgenote reeds van die toneel verdwyn het, het sy ’n wye vriendekring. Elke Woensdagoggend is sy “tuis” om besoek te ontvang. Die vorige dag reeds word daar vars blomme in die woonkamer gesit, die ou silwer en koper word gepoets, die luike word wyd oopgestoot, en besoekers kan altyd reken op lekker melktert en ander versnaperinge.
Toe Cathy en haar pa die middag daar kom, sit sy oudergewoonte op die stoep met ’n stukkie hekelwerk op haar skoot. In die oggend werk sy, maar smiddae trek sy ’n mooi rok aan en gaan sit met Wagter op die stoep in die hoop dat van haar kinders, kleinkinders of vriende sal verbykom en ’n bietjie sal kom kuier en gesels.
Alie Joubert is klein en skraal gebou, ’n opvallende figuur met haar regop houding, donker oë en spierwit hare. Sy was ’n nooi De Waal en stam uit die ou Kaapse aristokrasie. In haar jong jare was sy bekend as een van die mooi De Waal-susters, en die kleinkinders luister graag wanneer sy oor die ou dae gesels. Sy het haar man en kinders met ’n sterk hand regeer en hoewel die kinders vandag almal getroud en uit die huis is, koester hulle steeds ’n diepe ontsag vir haar en word sy gereeld oor belangrike familiesake geraadpleeg. Sy is baie lief vir haar kleinkinders en trots op hulle prestasies, maar wee hulle as hulle die dag verbrou. So seker as wat die son opkom, sal hulle by Ouma moet deurloop.
Cathy se verlowing aan Wynand Louw se gawe stiefseun het Ouma se heelhartige goedkeuring weggedra en sy het dadelik begin hekel aan ’n tafeldoek vir Cathy se uitset. Die tafeldoek is onlangs voltooi en plegtig aan Cathy oorhandig. Sy het ’n lewendige belangstelling in die troureëlings gehad, en Cathy wonder onrustig wat Ouma se reaksie op haar nuus sal wees. Sal sy baie kwaad wees? Sy is dankbaar vir haar pa se onderskraging.
Ouma Joubert se gesig verhelder toe sy haar seun en kleindogter sien.
“Dis ’n aangename verrassing,” sê sy. Sy verneem na haar skoondogter, gesels hiervan en daarvan en beveel hulle om te sit. Dan kyk sy na Cathy en sê: “Het jy toe gister jou trourok gaan aanpas? Ek het gedink jy sal vir my kom sê hoe dit lyk.”
Cathy kyk vinnig na haar pa. Hulle het ooreengekom dat dit beter sal wees as Cathy self die nuus aan haar ouma oordra. Haar pa se blik is bemoedigend en Cathy skraap al haar moed bymekaar en draai na haar ouma. Nog voor sy egter kan praat, sê haar ouma: “Wat makeer, my kind? Is die rok nie na jou sin nie?”
Ouma se intuïsie is soos gewoonlik onfeilbaar!
“Die trourok is pragtig, Ouma, maar ek gaan dit nie meer dra nie. Altans nie nou nie. Andries en ek trou nie meer volgende maand nie. Ek . . . ek het gisteraand ons verlowing verbreek.”
Alie Joubert kyk haar kleindogter stilswyend aan, die donker oë skerp en ondersoekend.
“Wat het jou besiel om so iets te doen, Catherina?” vra sy uiteindelik koud.
Catherina! Dit beteken Ouma is baie omgekrap. Vreemd genoeg gee dit Cathy die moed om kalm te sê: “Ek het Andries nie lief nie, Ouma. Ek sal ons albei net ongelukkig maak as ek met hom trou.”
“En jy ontdek dit nou eers? Watter onsin! Geluk is nie iets wat sommer vanself kom nie. ’n Mens werk daaraan. Waaroor het julle rusie gemaak?”
“Ons het nie rusie gemaak nie. Ons is nog goeie vriende. Ons gaan net nie meer trou nie.”
“Besef jy wat jy doen, kind? Andries de Wet is in alle opsigte ’n eersteklas jong man. Jy sal ver moet soek om weer sy gelyke te kry.”
“Al is hy hoe gaaf, kan ek nie met hom trou as ek hom nie liefhet nie.”
“Liefde! Jy praat soos ’n romantiese skooldogter, Catherina. Verbeel jou, om so ’n gawe jong man soos Andries de Wet in die pad te steek. En dit ’n paar weke voordat julle sou trou. Jou pa behoort jou oor sy skoot te trek en ’n deftige pak slae te gee!”
Cathy se gesig is wit, maar trots sê sy: “Hy kan my ’n pak slae gee, maar hy kan my nie dwing om teen my sin met Andries te trou nie.”
“As jy my dogter was, sou jy nie so gepraat het nie. Ek sou seker gemaak het dat jy jou beloftes nakom.”
“Daardie dae is verby, Moeder,” sê Pieter saggies, paaiend. “Vandag se kinders laat nie vir hulle voorskryf nie.”
“Die fout lê nie by vandag se kinders nie, dit lê by hulle ouers. Hulle het mos geglo aan sielkunde, nie aan dissipline nie. En dis die vrugte wat julle vandag pluk. Dink jy een van my dogters sou gewaag het om so iets te doen?”
“Nee, Moeder, ek is seker nie Lettie of Blanche sou dit gewaag het nie. Maar tye het verander en ons kinders het vandag die vrymoedigheid om met hulle probleme na ons toe te kom. Trou is ’n ernstige saak en bring baie verantwoordelikhede mee. As Cathy voel sy is nog nie reg daarvoor nie, sal ons haar nie dwing nie. ’n Mens is maar net eenmaal jonk. Laat haar gerus die lewe ’n rukkie langer geniet.”
Dis of Ouma se gesig effens versag. Pieter is die een wat die meeste na haar oorlede man aard en hoewel sy dit nooit sal erken nie, is hy ook die een wat die naaste aan haar hart is. Hy kan haar gewoonlik rede laat verstaan. Sy kyk nou na haar kleindogter wat wit en ontsteld eenkant sit, en skud net haar kop.
“Jou pa is seker reg, Catherina. As jy nie met die man wil trou nie, is dit jou saak. Maar om te wag tot al die reëlings getref is, die kaartjies gedruk, jou trourok gemaak – nee, my kind, ons Jouberts maak nie so nie.”
Die ergste storm is egter verby, en teen die tyd dat Mieta vir hulle tee en beskuit bring, is die atmosfeer heelwat ligter. Ouma Joubert het die situasie aanvaar – wat kon sy anders doen? Maar sy was teleurgesteld en dit sou seker geruime tyd duur voor Cathy ten volle vergewe en in haar guns herstel is.
“Terloops,” sê Ouma onverwags terwyl sy die tee by Cathy neem. “Wie is die man saam met wie jy nou die aand by die simfoniekonsert was?”
“Was Ouma ook daar?” skerm Cathy vinnig.
“Nee, ek het ingeluister, maar ek het verneem dat jy saam met ’n vreemde jong man daar was.”
“Jos de Lange is nie ’n vreemde jong man nie, Ouma. Ek ken hom al ’n hele ruk en ek het al vantevore saam met hom uitgegaan. Andries was besig en kon my nie neem nie, en hy het nie omgegee dat ek saam met Jos gaan nie.”
“Hmm,” is al wat Ouma sê. “As hy so ’n ou bekende is, waarom het ek hom nog nie ontmoet nie? Wat doen sy pa?”
Cathy verduidelik dat Jos se ouers dood is en dat hy by ’n oom grootgeword het. Meer weet sy nie. Sy is bewus van haar ouma se donker oë wat skerp op haar rus en weet sommer sy sal dit nie daar laat nie. Ongelukkig ken Ouma die hele wêreld en sy sal nie skroom om alles oor Jos uit te vis nie. Nie dat sy omgee nie – sy is nie skaam oor haar vriendskap met Jos de Lange nie – maar dis net so verkleinerend om nog altyd soos ’n kind behandel te word.
Toe sy en haar pa opstaan om te gaan, sê sy bedeesd: “Ek is jammer as Ouma ontsteld en teleurgesteld is. Maar liewer nou as later.” Sy aarsel, dan vra sy onseker: “Wat van die tafeldoek? Sal ek dit terugbring?”
“Bring dit maar terug,” sê haar ouma. “Miskien gee ek dit weer eendag vir jou, of miskien gee ek dit vir June of Sophie – ek sal nog sien.”
June en Sophie is Cathy se twee niggies, tannie Blanche se dogters. Cathy dink sy sal dit haat om die kosbare tafeldoek vir een van hulle te gee, maar as dit die prys is wat sy vir haar vryheid moet betaal, is dit seker nie te hoog nie. Dit was egter nie al nie.
“Sê vir Andries hy moet my kom sien, Catherina. Ek wil ’n bietjie met hom gesels.”
“Andries?” Cathy is ’n bietjie uit die veld geslaan. “Dit help nie om met hom rusie te maak nie, Ouma. Dis nie sy skuld nie.”
“Ek het gesê ek wil met hom praat, Catherina! Doen jy maar wat ek vir jou sê.”
Cathy het nie verder teëgepraat nie en sy en haar pa is daar weg, albei verlig dat die onderhoud agter die rug is. Cathy se kop was seer en sy was moeg en uitgeput, die gevolg van haar slapelose nag en die veelvuldige emosies van die dag wat verby is. En die besoek aan die Louws lê nog voor!
Gelukkig het haar ouers nie aangedring dat sy saamgaan nie.
“As jy nie wil nie, hoef jy seker nie te gaan nie, Cathy,” het haar ma gesê toe sy vra. “Maar hoe langer jy dit uitstel, hoe swaarder sal dit wees.”
Haar ma was seker reg, maar sy het nie vandag vir Andries se ouers ook kans gesien nie, en ’n rukkie later is haar ouers alleen daar weg. Hulle was gou weer terug, baie gouer as wat Cathy verwag het. ’n Bietjie verontrus kyk sy na hulle en sy sien dat haar ma ontsteld lyk.
“Wat sê tannie Magda-hulle? Is hulle baie kwaad?” vra sy onseker vir haar ma.
“Wat help dit om kwaad te wees? As jy nie met Andries wil trou nie, is dit die einde van die saak. Maar hulle voel natuurlik ’n bietjie afgehaal en die atmosfeer was beslis ’n bietjie koel. Ek het lanklaas so ongemaklik gevoel.”
Cathy het niks gesê nie, maar sy het miserabel gevoel. Sy sal jammer wees as haar ouers en die Louws vervreemd raak omdat sy haar verlowing met Andries verbreek het. Maar as sy en Andries nog vriende kan wees ten spyte van wat gebeur het, waarom moet daar ’n gevoel tussen hulle ouers wees?
Net na ete het die telefoon begin lui. Die nuus het gou versprei! Tannie Blanche het uit die Paarl gebel om met haar ma te simpatiseer, van die bure het gebel, en June het uit die Kaap gebel om vir Cathy self te vra of dit waar is dat sy en Andries nie meer gaan trou nie. Cathy het haar verseker dat dit heeltemal waar is.
“Wel,” sê June, “jy het ’n groot fladdering in die familieduiwehok veroorsaak. So iets het blykbaar laas gebeur toe ons groottante Kitty – ook ’n Catherina! – met oorgrootoupa se koetsier weggeloop het. Maar alle grappies op ’n stokkie – jy het ons almal verras. Wat sê Ouma?”
Cathy vertel haar kortliks en June klik simpatiek met haar tong toe sy hoor dat Ouma Joubert die tafeldoek wil terughê. “Nou ja, daar het jy dit,” sê sy. “Wie sê die lewe is nie interessant nie? Maar ek dink nie ons moet ’n ou soos Andries de Wet uit die familie laat gaan nie. As jy hom nie wil hê nie, moet Sophie of ek maar kyk wat ons kan doen. ’n Mens kan seker slegter doen, veral as jy nog die tafeldoek op die koop toe kry!”
Cathy het ’n bietjie kortaf tot siens gesê en afgelui.
June kan haar opwinding skaars verberg, dink Cathy bitter. Hulle is seker in hulle skik met die verloop van sake. Tannie Blanche het glad nie gehou van die gedagte dat Cathy gaan trou terwyl June, wat ’n hele paar jaar ouer as sy is, nog op die rak sit nie. En hulle het almal baie te sê gehad oor die tafeldoek wat Ouma vir haar gemaak het. Dit kom June as oudste kleindogter toe, het tannie Blanche volgehou, of sy nou eerste trou of nie.
Die opmerking oor Andries was ook nie alles grappies nie. Toe sy op universiteit was, het June ’n tyd lank met hom uitgegaan en Cathy weet dat sy nog van hom hou. Gelukkig het Andries ander vriendinne gehad tussen June en Cathy, anders het tannie Blanche nog gesê dat sy hom by June afgevat het!
Dit herinner haar: sy moet nog vir Andries laat weet dat Ouma hom wil sien. Sy sal dit môreoggend doen. Vanaand het sy genoeg gehad.
Sy het Andries die volgende oggend net na ontbyt gebel. Tannie Magda het geantwoord en Cathy kon hoor hoe haar stem verander toe sy hoor wie dit is. Die naar, hol kol op haar maag waarmee sy gister die hele dag rondgeloop het, was skielik weer terug.
“Sal tannie asseblief vir Andries sê Ouma wil hom sien? Nee, ek weet nie wat sy wil hê nie, Ouma het net gesê sy wil hom sien. Ek is jammer oor wat gebeur het, tannie Magda,” voeg sy saggies, berouvol by. “Ek dink nog Andries is die gaafste man wat ek ken, maar ek twyfel al lankal of ons mekaar regtig liefhet. Ek het net gevoel – as ’n mens so onseker is, is dit beter om liewer te wag.”
“Dit is seker,” sê Magda Louw, maar daar is geen versagting in haar stem nie. “As jy Andries nie liefhet nie, kan jy dit seker nie help nie. Dit is net jammer dat jy dit nie ’n bietjie vroeër besef het nie.”
Haar poging om die vrede te herstel was nie juis suksesvol nie, dink Cathy toe sy die telefoon neersit. ’n Mens sou sê sy het die hele gesin beledig toe sy geweier het om met Andries te trou.
’n Rukkie later het Andries self gebel.
“Wat is dit van jou ouma?” wil hy weet. “Waarom moet ek na haar toe gaan?”
Sy gee hom die boodskap, maar sy is teen dié tyd so siek en sat van die hele besigheid dat sy voel of sy enige oomblik in trane kan uitbars.
“Ek is jammer, Andries – jammer oor alles. Dit sou blykbaar veel eenvoudiger gewees het om maar deur te druk met die troue en later te skei. Dit sou beslis nie soveel oproer veroorsaak het nie.”
“Wat ’n blink gedagte! Jy moes net eerder daaraan gedink het.” En dan sag, gebiedend. “Wat makeer? Vir wie is jy kwaad?”
“Sommer vir almal,” sê Cathy, en hy kan hoor sy is baie na aan trane. “’n Mens sou sweer ek het ’n misdaad begaan soos die familie te kere gaan. Sal jy Ouma gaan sien?”
“Ek sal. En as ek kan help – of as jy miskien besluit dit sal eenvoudiger wees om met my te trou – moet jy maar net laat weet. Maar dan sal jy gou moet praat. Ek maak Vrydag klaar en voor ek by die hospitaal begin, gaan Gawie en ek vir twee weke êrens langs die see kamp en visvang.”
“So! Jy hardloop weg en gooi my alleen vir die wolwe.”
“My liewe meisie, die keuse was joune, nie myne nie,” sê hy koel en ongevoelig. “As jy van plan wil verander – jy het tot Vrydag kans. Daarna sal ek nie meer beskikbaar wees nie.”
“Wees gerus, ek sal nie van plan verander nie,” sê sy koud. “En geniet jou vakansie. Dit sal seker heelwat interessanter wees as om saam met my Drakensberge toe te gaan.”
“Ek begin self so dink,” sê hy en sit die telefoon neer.
Vererg stap Cathy weg. Ongevoelige, vermetele vent! Maar sy is ontsteld en ongelukkig. Sy wil nie met Andries rusie maak nie.
Wat makeer haar? wonder sy in ’n skielike vlaag van onsekerheid. Is dit verkeerd van haar om meer te wil hê as die sekuriteit wat Andries haar bied? Op sy manier is hy lief vir haar; sy weet hy sal alles in sy vermoë doen om haar gelukkig te maak. Wat meer wil sy hê? Aan die begin was sy so gelukkig en so opgewonde oor hulle toekoms saam. Wat het gebeur om alles te verander? Wat sal sy daar buite die ringmuur vind? Die vervulling waarvan sy droom, of teleurstelling en ontnugtering? Sal sy as dit te laat is, ontdek dat sy besig is om ’n illusie na te jaag – dat sy haar kans op geluk deur haar vingers laat glip het?
Sy weet nie, maar een ding weet sy vas: as sy die dag trou, sal dit wees omdat sy die man van haar keuse met haar hele hart en siel liefhet. So nie sal sy liewer ’n oujongnooi bly.
Die volgende middag bel Jos de Lange en vra of sy by die huis is. Sy vriend het gouer klaargekry as wat hy verwag het en hulle vertrek nou die volgende oggend vroeg. Hy wil graag kom groet en sommer haar getekende eksemplaar van die jaarblad bring.
“Ek is hier,” sê sy, bewus van die skielike opwinding wat in haar roer. “Wil jy nie sommer saam met ons kom eet nie? Dis net my ma en pa en ek.”
Na ’n oomblik se aarseling neem hy die uitnodiging aan, mits hulle hom net na ete sal verskoon. Hy moet nog ’n paar dinge doen en het nog nie begin pak nie.
Sy het haar ma vertel dat Jos die aand saam met hulle eet. Haar ma het niks gesê nie, maar daar was ’n peinsende blik in haar oë. Cathy het geweet haar ouers sal vanaand met nuwe belangstelling na Jos de Lange kyk.
Sy tel die Franse boek op wat sy gelees het toe Jos gebel het, maar dit is nie so maklik om weer haar aandag by haar studies te bepaal nie.
Sy ken Jos de Lange nou byna twee jaar. Hy is ’n jaar of twee ouer as Andries en het ’n paar jaar in Johannesburg as joernalis gewerk. Sy het hom leer ken toe hy aan die begin van verlede jaar teruggekom het vir sy M.A.-graad. Omdat hulle albei in musiek en drama belang stel, het hulle mekaar dikwels by konserte en opvoerings raakgeloop. Maar hy was destyds geïnteresseerd in Annette Malherbe, ’n vierdejaarstudent in dieetkunde, terwyl sy vir niemand anders as Andries de Wet oë gehad het nie. Hulle vriendskap het taamlik oppervlakkig gebly.
Annette en Jos was ’n interessante paartjie. Annette was mooi sowel as slim en het die onderskeiding gehad dat sy twee jaar ná mekaar as joolkoningin gekies is. Albei was uitstekende studente en gewild in die studentegemeenskap, en almal het verwag dat die verhouding in ’n verlowing sal eindig. Annette is egter aan die einde van die jaar weg sonder dat iets gebeur het en dit was blykbaar ook die einde van hulle verhouding.
Niemand het geweet wat gebeur het nie, en nóg Jos nóg Annette het ooit iets gesê. Maar dit was natuurlik onvermydelik dat daar allerhande skinderstories sou wees. Baie mense het onthou dat Jos as jong student ’n taamlik Boheemse vriendekring gehad het wat bekend was vir hulle wilde partytjies en dat hy self een keer in die hof was vir dronkbestuur. Volgens gerugte het Jos se ou kwaal weer kop uitgesteek en nadat hy een aand versuim het om ’n belangrike afspraak met Annette na te kom, het sy summier ’n einde aan die verhouding gemaak.
Of daar enige waarheid in die gerugte steek, weet Cathy nie, maar sy betwyfel dit ten sterkste. Miskien het Jos hom as jong student af en toe ’n bietjie te buite gegaan – hoeveel jong studente doen dit nie? – maar daardie dae is lankal verby. Vandat sy hom ken, het sy nog nooit so iets agtergekom nie. Die paar keer wat hulle saam uitgegaan het, was sy gedrag onberispelik en hy het nog nooit eens in haar teenwoordigheid ’n glas wyn gedrink nie. Gewoonlik verkies hy tee of koffie of vrugtesap. Eendag sal sy miskien nog die kans kry om met hom oor Annette te gesels, maar sy is seker dat hulle om heeltemal ander redes uitmekaar is. Dalk het hulle ook, soos sy en Andries, ontdek dat hulle net nie lief genoeg is vir mekaar nie.
In die jaar wat verby is, het sy Jos dikwels gesien. Aan die begin was die ontmoetings heeltemal toevallig, maar een nat, koue middag het hy haar genooi om saam met hom te gaan koffie drink. Hy het haar later huis toe geneem en hulle het buite in die motor gesit en gesels totdat die reën en donkerte haar uiteindelik binnegejaag het. In die dae daarna was hy dikwels in haar gedagtes.
Hulle het albei in die redaksie van die jaarblad en die dramavereniging se komitee gedien, en ná daardie middag het hulle dikwels ná vergaderings gaan koffie drink. Jos het geweet sy is verloof en hy was een van die eerste mense wat sy van hulle trouplanne vertel het. Hulle was bloot goeie vriende en selfs Andries het nie beswaar gemaak as Jos af en toe saam met haar na ’n simfoniekonsert toe gaan wanneer hy self te besig was nie.
Jos se houding teenoor haar was van die begin af heeltemal anders as Andries s’n. Andries was tegelyk grootbroer, beskermer, vriend en minnaar. As hy aan haar gedink het, was dit teen die agtergrond van Mon Désir met sy wit ringmuur en die ou Kaapse tradisies waarmee hulle albei grootgeword het. Vir Jos was sy ’n persoon in eie reg; hy het haar geoordeel volgens wat sy was en wat sy self bereik het, nie volgens haar pa en haar broers se prestasies, of Ouma Joubert se silwer en koper en kosbare stinkhoutmeubels nie.
“Arme, bevoorregte klein meisietjie,” het hy eendag half tergend, half spottend gesê. “Hoe min weet jy van die lewe anderkant die wit ringmuur! En hoe sal jy ooit leer om op jou eie voete te staan en vir jouself te dink as jy nou met Andries de Wet trou? Verstaan my goed, ek het niks teen Andries nie. Hy is ’n goeie ou, ’n steunpilaar van die samelewing, maar sonder ’n greintjie verbeelding. Hy sal sy vrou in watte toedraai, hy sal haar alles gee wat haar hart begeer en dan baie verbaas wees as sy nie doodgelukkig is nie. Dat sy ook ander behoeftes kan hê, sal nooit eens by hom opkom nie.”
“Nie Andries nie,” het sy gestry, maar sy het gedink aan die eensaamheid van die afgelope maande en skielik onthou dat Andries nie juis geesdriftig was oor haar toekomsplanne nie. Daardie dag is die eerste saadjie van twyfel in haar hart geplant.
“Glo jy nie aan die huwelik nie?” het sy uitdagend vir Jos gevra.
Hy het geglimlag. “Ek dink dis ’n uitstekende instelling – mits die een vennoot nie die ander oorheers nie. Ek erken daar is baie vroue wat niks meer van die lewe wil hê as om beskerm en op die hande gedra te word nie, maar daar is ander – onder wie ek jou tel – wat binne ’n paar jaar sal voel of hulle kan sterf van verveling en frustrasie.”
“Dankie,” het sy sarkasties geantwoord. “Dis seker bedoel as ’n kompliment.”
“Dit is,” het hy met ’n glimlag geantwoord. En toe weer sober: “Verstaan my goed, ek sê nie jy moenie trou nie. Ek sê ook nie jy moenie met Andries trou nie. Ek sê net jy moet heeltemal seker wees jy weet wat jy van die lewe wil hê voor jy so ’n belangrike stap neem. Waarom so haastig? Waarom nie eers ’n bietjie rondkyk en uitvind wat anderkant die ringmuur lê nie?”
Aan die begin het sy met hom gestry, maar die saadjie van twyfel het posgevat en gegroei. Hoe meer sy daaraan gedink het, hoe meer het sy besef dat Jos reg was. Andries sal sy vrou alles gee wat materiële dinge betref, maar sal hy haar die ander dinge kan gee wat so belangrik is vir haar? As sy dink aan die jaar wat verby is, twyfel sy. Sy en Andries was verloof, maar sy het minder van hom gesien as ooit vantevore. En hy was so verdiep in sy werk en studies dat hy nie eens bewus was van haar gemis en verlange nie. Sal dit anders wees as hulle getroud is? Of sal hy sy werk en ander belangstellings altyd bo haar en die huis stel?
Dis toe dat sy begin wonder het of sy en Andries mekaar werklik liefhet, of hulle onmisbaar vir mekaar se geluk is. Hoe nader die troudag gekom het, hoe meer gespanne het sy geraak, maar sy het haar twyfel vir haarself gehou. Dis maar net senuwees, het sy vir haarself gesê. As ons eers getroud is, sal alles reg wees. Tot eergister, toe sy vir die eerste keer haar trourok gaan aanpas het. Sy het na haarself in die spieël gekyk, gedink aan haar hoë ideale en verwagtings, en geweet dat sy nog nie gereed was nie.
Toe sy eenmaal besluit het, kon niks haar terughou nie. Maar sy weet baie goed dat dit aan Jos te danke is dat sy die moed gehad het om haar man teen Andries en die familie te staan.
Jos was ’n rukkie voor sononder daar. Cathy het die klein rooi sportmotortjie van die stoep af sien kom en hom tegemoetgestap.
Jos de Lange is lank en maer met ’n bos ligte hare en ’n weerbarstige kuif wat gedurig oor sy voorkop val. Sy gesig is maer en effens bleek, met lewendige donkerblou oë en ’n hoë, intelligente voorkop. Hy het ’n bruin ferweelbroek en sportbaadjie aan, maar sy blou hemp is skoon en hy het ’n das aangesit ter ere van die geleentheid. Sy sien met ’n tikkie verligting dat sy hare gesny is. Gewoonlik stel hy nie juis belang in klere nie, en omdat hy ook nie omgee wat ander sê nie, weet ’n mens nie altyd wat om te verwag nie.
Aan die begin het sy traak-my-nie-agtigheid haar ’n bietjie gehinder, dalk omdat sy gewoond was aan Andries wat altyd so netjies aangetrek was. Maar soos sy Jos beter leer ken het, het sy kleredrag haar al hoe minder gepla. Sy interessante persoonlikheid, sy geesdrif vir die dinge waarin hy belang stel, het jou so meegevoer dat die res nie saak gemaak het nie. Klere, het sy ontdek, maak beslis nie altyd die man nie.
“Hallo!” groet hy nou opgewek. Sy nooi hom binne, maar die lenteaand is sag en warm en hy stel voor dat hulle nog ’n rukkie buite vertoef. Saam stap hulle na die somerhuisie en as hulle op die bankie sit, haal hy die boek onder sy arm uit en gee dit vir haar. “Jou eksemplaar van die jaarblad, geteken deur al die mederedakteurs behalwe Bennie. Hy is ongelukkig reeds weg.”
Sy het reeds die jaarblad gesien en kyk nou slegs na die handtekeninge op die skutblad. Saggies, liefkosend gaan haar hande oor die boek. Dit was ’n interessante ervaring om te help met die opstel daarvan, ’n ervaring wat sy vir geen geld ter wêreld sou verruil nie.
“Ek voel soos ’n trotse moeder,” glimlag sy. “Dis ’n puik blad, hoofsaaklik danksy jou.”
“Die rektor het my ook gelukgewens – hy sê die gehalte en standaard was lanklaas so hoog. Maar ek moenie al die eer kry nie. Sonder my redaksie se hulp sou ek dit eerlik nie kon gedoen het nie.”
Cathy weet dit is nie so nie. Jos was nie net ’n ervare koerantskrywer wat geweet het presies wat hy wil hê nie – sy geesdrif was aansteeklik en hy het hulle almal tot nuwe hoogtes aangespoor. Daarby was hy ’n harde leermeester wat met niks minder as die beste tevrede was nie.
“Maar ek het nie gekom om oor die jaarblad te gesels nie,” sê hy. ’n Oomblik kyk hy na haar, dan vra hy: “Wat hoor ek alles van jou in die dorp?”
“Wat hoor jy?”
“Allerhande gerugte, wat onmoontlik waar kan wees.”
“Waarom nie?”
“Troue uitgestel?”
“Afgestel. Ek het Andries se ring teruggegee.”
Hy kyk weer na haar, sy blik ondersoekend. Dan sê hy goedkeurend: “Bravo! Ek het nie gedink jy sal die moed hê nie. Maar is jy heeltemal seker dit is wat jy wil hê?”
“Heeltemal seker. Dit is asof daar ’n las van my hart af is. Ek besef nou eers hoe ongelukkig en onseker ek die afgelope tyd was.”
“Tog was jy van plan om daarmee aan te gaan! Wat sê die familie?”
“Die familie is ’n bietjie geskok en teleurgesteld, en Andries se ouers is ’n bietjie vies, maar ek lewe nog en ek is vol planne vir die toekoms.”
Hy vra uit oor haar planne en knik goedkeurend toe sy klaar is.
“Die tegniese kollege moet voorlopig bly – ’n mens moet ’n dak oor jou kop hê en af en toe eet ook – maar laat staan voorlopig die lesgee en doen soveel moontlik skryf- en radiowerk. Jy moet oorspronklike, skeppende werk doen.”
Daar is ’n warm gloed om haar hart, ’n gevoel van opwinding omdat Jos glo dat sy talent het en tot groter dinge in staat is as om bloot net ’n vrou te wees. Sy het Andries ook dikwels van haar planne en ideale vertel, en hoewel hy gewoonlik simpatiek en belangstellend geluister het, is sy seker dat hy haar nie baie ernstig opgeneem het nie. In sy hart het hy seker maar geglo haar planne sal ’n natuurlike dood sterf wanneer sy eers getroud is.
Andries de Wet sal eendag miskien nog verbaas opkyk as hy sien waartoe sy in staat is!
Die son het agter die berge verdwyn, die luggie was skielik koel, en saam stap sy en Jos huis toe.
Haar pa en ma sit in die ruim woonkamer, besig om ’n glas wyn te drink. Hulle groet Jos vriendelik en Cathy is bewus van hulle kritiese blikke. Sy is opnuut bly dat Jos sy hare laat sny het.
Haar pa vra wat hy wil drink. Jos aarsel ’n oomblik, dan vra hy of hy ’n koeldrank kan kry.
“Druiwesap?” vra Cathy. “Ek sal vir ons gaan haal.”
Toe sy terugkom, is Jos besig om haar pa uit te vra oor hulle reisplanne en hulle gesels gemaklik totdat die etensklok lui. Aan tafel verneem haar pa op sy beurt na Jos se toekomsplanne en die ete verloop ewe gesellig.
Cathy sug verlig. Jos de Lange is ’n man van vele buie, maar vanaand is hy op sy beste: aangenaam, amusant en onderhoudend. Sy is seker hy maak ’n goeie indruk.
“Jammer dat jy so vroeg moet gaan,” sê haar pa toe Jos ’n rukkie na ete opstaan om te gaan. “Ek sal graag eendag hierdie argument van ons verder wil voer.”
Cathy is verheug. Gewoonlik steur haar pa hom maar min aan haar vriende – behalwe Andries natuurlik, maar Andries het met die jare deel van die familie geword en hy gesels met hom soos met sy eie seuns. Maar blykbaar was die gesprek met Jos so interessant dat hy onwillig is om dit daar te laat. Inderdaad ’n kompliment vir Jos, al is hy miskien nie eens bewus daarvan nie.
Jos groet haar ouers en wens hulle voorspoed toe met hulle reis, dan stap sy saam met hom na buite. Die aandwindjie ruis in die hoë eike en raak met koel vingers aan haar warm wange.
“Ek hoop jy sal darem af en toe van jou laat hoor,” sê Cathy. “Net om te laat weet dat jy darem nog in die land van die lewendes is.”
“Ek belowe niks,” sê hy. “Miskien ’n poskaart vir Kersfees – vir verdere nuus sal jy moet wag tot ek terugkom.” Hy wens haar voorspoed toe met die eksamen, dan voeg hy sagter by: “En pas jouself op tot oom Jos weer terugkom.”
“Ek sal,” sê sy. Sy dink aan die reis wat hy saam met sy vriend aanpak – interessant en avontuurlik, maar seker nie sonder gevare nie – en kyk ’n oomblik stilswyend op na hom. “En pas jouself ook op. Mens weet nooit.”
Hy lag.
“Is jy bang hulle sal sop van my kook? Jy is verniet bang, so maklik raak julle nie van my ontslae nie. Ek het nog groot planne vir die toekoms.”
Hy sit sy hande op haar skouers en sy voel die harde, opgewonde geklop van haar hart. Hy buk en soen haar liggies op haar mond. “Jy is baie spesiaal en ek het nog groot verwagtings van jou. Volgende jaar begin ’n splinternuwe episode in die veelbewoë lewe van Cathy Joubert. Alle voorspoed – en onthou: moet geen kompromis met die lewe aangaan nie! Laat net die beste goed genoeg wees. Au revoir. Ek is een van die dae weer terug.”
Hy klim in die motor en ’n paar oomblikke later ry hy haastig daar weg. Stadig, ingedagte stap Cathy terug huis toe. Met alles wat voorlê – haar eksamen en haar ouers se weggaan – sal die twee maande wat hy weg is seker gou genoeg verbygaan. En volgende jaar begin sy nie net ’n nuwe episode nie, maar ’n hele nuwe lewe. Heerlik om te dink dat Jos de Lange ook deel van daardie lewe sal wees.
In die sitkamer wag haar ouers op haar. Cathy is bewus van haar ma se ondersoekende blik en die herinnering aan Jos se ligte soen laat haar skuldig bloos.
“’n Interessante jong man,” sê haar pa, “hoewel ek nie met al sy idees saamstem nie. Maar intelligent, belese en vol ondernemingsgees. ’n Man wat dit met ’n bietjie geluk nog ver in die lewe sal bring.”
“Hy sal dit nog ver bring, ek is seker daarvan,” sê Cathy. “As hy ’n ding aanpak, is hy met niks minder as die beste tevrede nie. Hy het die talent, maar ook die geesdrif en ’n geweldige werkvermoë. Almal praat van die puik jaarblad – Jos sê die rektor het hom ook gelukgewens.”
“Ek het nog nie tyd gehad om daarna te kyk nie,” sê Pieter Joubert. “As ek joune kan leen, sal ek dit graag vanaand ’n bietjie deurblaai.”
Elsabé Joubert sê niks nie. Sy sien die sagte glans in haar dogter se oë en ’n vae gevoel van onrus roer in haar hart. Hy is ongetwyfeld ’n knap, selfs briljante jong man wat dit seker nog ver in sy rigting sal bring, maar sy sou honderd maal liewer wou sien dat Cathy ’n man soos Andries kies. Andries sal dit ook ver bring, maar dit sal deur toewyding en harde werk wees. Andries is die bekende, die veilige, die getroue, die man op wie jy altyd kan reken. Jos is ’n sensitiewe kunstenaar en stimulerende geselskap, maar of hy Andries se standvastigheid en balans het, betwyfel Elsabé ten seerste. Maar dit is miskien juis sy andersheid wat Jos so aantreklik maak vir iemand soos Cathy.
Om haar dogter teen Jos de Lange te waarsku sal op hierdie stadium egter meer kwaad as goed doen. Sy hoop maar die kind se gesonde verstand sal help om haar voete stewig op moeder aarde te hou – al is haar hart en haar kop in die wolke.
Die volgende dag het die kleremaakster Cathy se trourok afgelewer.
“Wat sal ons daarmee maak?” vra Cathy. “’n Advertensie in die koerant sit: splinternuwe trourok te koop?”
Sy probeer liggies praat, maar die uitdrukking in haar ma se oë laat haar stem skielik in haar keel vassteek. En sy is nie net om haar ma se ontwil hartseer nie, maar ook om haar eie. Net so mooi soos die wit trourok was haar drome van liefde en geluk, en dit maak seer om daarvan af te sien.
“Nee, ons sal dit nie verkoop nie,” sê haar ma. “Dis ’n droomrok en jy sal tog eendag trou. Daar is geen rede waarom jy dit nie later kan dra nie.”
Cathy sê niks nie. Sy help haar ma om die rok in ’n skoon wit laken toe te speld, maar in haar hart weet sy dat sy dit nooit sal dra nie. Sy sou die rok as Andries se bruid dra, dit is deurweef van herinnerings aan hom . . .
“Ek wil hê jy moet my net een ding belowe, Cathy,” onderbreek haar ma haar gedagtes. “Ek wil hê jy moet my belowe dat jy nie sal trou, of selfs verloof sal raak, in die jaar wat ons weg is nie. As jy sulke planne het, wag tot ons terugkom. Of vra ek die onmoontlike?”
Cathy is ’n rukkie stil, dan sê sy: “Ek dink nie daar is enige moontlikheid dat ek in die jaar wat kom sal trou of selfs verloof sal raak nie. Ek het baie planne vir die toekoms en voor ek my weer bind, wil ek heeltemal seker wees dat ek nie weer ’n fout maak nie. Maar ’n jaar is lank en ’n mens weet nooit wat kan gebeur nie. Sal dit nie genoeg wees as ek belowe om geen halsoorkop besluite te neem nie?”
Elsabé Joubert kyk na haar dogter se mooi jong gesig en kry weer daardie vae gevoel van onrus. Cathy is so onervare en onvoorbereid om die lewe alleen aan te durf.
“As jy nie meer wil belowe nie, sal dit seker genoeg moet wees.” Sy steek haar hand uit en raak liggies aan die donker hare. “Dis jou lewe, jy moet maak soos jy goed dink. Solank jy gelukkig is, vra ons niks meer nie. Jy moet seker maar vir Wilna bel en hoor of sy al iemand gekry het om die woonstel te deel. ’n Woonstel sal seker lekkerder as ’n losieshuis wees. Tensy jy tog besluit om by tannie Mona te gaan bly. Sy sal mooi na jou kyk en dit sal heelwat goedkoper as ’n woonstel wees.”
Cathy glimlag effens.
“Asseblief, net nie tannie Mona nie! Dan liewer ’n losieshuis.”
Elsabé Joubert het nie verder aangedring nie. Cathy is vasbeslote om op haar eie voete te staan en dit is seker die verstandigste om haar haar gang te laat gaan. Wat ook al gebeur, sy wil nie graag haar dogter se vertroue verloor nie.
Cathy het Wilna nog dieselfde middag gebel. Wilna was verheug om van haar te hoor en hulle het gereël om ná die eksamen ’n dag stad toe te gaan om ’n woonstel te soek. Aan die begin sal dit maar ’n klein plekkie moet wees en hulle sal die noodsaaklikste meubels en gordyne by familie moet leen of bedel, maar dit sal hulle eie koninkryk wees waar hulle kan maak soos hulle wil.
Dan sal die groot avontuur van die lewe begin!