Читать книгу Rooi malvas - Tryna du Toit - Страница 3
ОглавлениеHoofstuk 1
Die orrel speel reeds toe Tina Louw en haar tannie, Marie van Velden, by die kerk inkom en in een van die leë banke gaan sit.
Dis twaalfuur op ’n Vrydagoggend teen die einde van Januarie en daar is nie veel mense in die kerk nie, net die naaste familie en ’n hand vol studente- en ander vriende. So wou Greta dit van die begin af gehad het. Nadat haar ouers uiteindelik tot die huwelik ingestem het, wou tannie Joan vir haar jongste dogter net so ’n groot en deftige onthaal gee as vir Isabel toe sy getroud is, maar daarvan wou Greta nie hoor nie.
Op die ou end het Greta haar sin gekry. En in haar hart is tannie Joan seker verlig daaroor. Hoewel dokter Jim, haar man, heeltemal herstel het van sy hartaanval ’n paar maande gelede, sou ’n groot troue hom net onnodig vermoei het. ’n Klein, stil troue in die stad waar hulle min vriende het, is in die omstandighede seker die verstandigste ding.
Dis vandag ’n interessante familiebyeenkoms, dink Tina. Jammer dat haar ma nie ook hier kan wees nie. Die bruid word in die huwelik bevestig deur haar eie broer, Johan, wat spesiaal van Durban af gekom het. Sy sal Johan graag weer wil sien. Sy het altyd van hom gehou en belang gestel in sy loopbaan. Wie sou ooit in die goeie ou dae kon droom dat die stout klein seuntjie eendag ’n predikant sou word!
Met waardering kyk Tina na die blommerangskikking op die tafel voor die preekstoel. Dis tannie Lena Visser se werk. Dit laat ’n mens sommer aan ’n bruid dink: wit, rein en maagdelik. Of liewer, dink sy met ’n skielike opwelling van sinisme, die ou, populêre opvatting van ’n bruid. Jong meisies het vandag dikwels heeltemal ander idees.
Maar nie Greta nie. Greta is sommer nog ’n kind wat ’n rukkie gelede nog pop gespeel het – ’n liewe kind wat beslis nog nie gereed is vir die huwelik met sy verantwoordelikhede en frustrasies nie.
Toe Greta vroeër die jaar uit die bloute aankondig dat sy nie volgende jaar teruggaan universiteit toe nie en dat sy en Pierre le Roux wil trou, was tannie Joan en oom Jim so geskok en ontsteld dat hulle die saak nie eens wou bespreek nie. Hulle het Pierre nie geken nie en Greta was buitendien nog te jonk om aan trou te dink. Greta het egter volgehou en gesê hulle wil geen hulp van die familie hê nie. Piere is ’n argitekstudent in sy vierde jaar en werk deeltyds, en as sy ook gaan werk, sal hulle maklik regkom. Hulle kan ’n oulike woonstelletjie kry, goedkoop en gerieflik geleë.
Oom Jim en tannie Joan het gedreig en mooigepraat: Greta kan gaan werk as sy nie verder wil studeer nie, en as Pierre oor ’n jaar of so sy graad kry en hulle het nog nie van plan verander nie, kan hulle trou, maar nie ’n dag eerder nie. Toe kry oom Jim die hartaanval, en dit was asof sy siekte al tannie Joan se weerstand laat verkrummel het. Toe Tina weer hoor, was die troudatum vasgestel.
Sal Greta dit gelukkiger tref as haar suster of haar niggies – sy self of Frances of Ellen? Klein Grietjie, wat van jongs af almal se liefling was? Hoe kán sy? Sy is nog so jonk en onskuldig, glad nie opgewasse teen die harde werklikheid van die getroude lewe nie.
Maar wat is geluk nou eintlik? Hoe dikwels het Tina haarself die vraag die afgelope maande afgevra sonder om ’n bevredigende antwoord te kry. Is dit moeiliker om vandag geluk te vind as in die dae toe haar ma en haar susters en broers jonk was?
Die Van Veldens, haar ma se mense, was ’n groot gesin en geld was skaars: hulle moes veg vir alles wat hulle in die lewe wou hê. Maar hulle is vandag almal mense wat hulle plek in die lewe volgestaan het, of nog steeds doen. Oom Markus is ’n regter; oom Cecil het met sy dood ’n hoë pos in die staatsdiens beklee, en drie van die vier Van Velden-dogters is goed en gelukkig getroud. Tannie Marie, die vierde, die oujongnooi van die familie, is ’n skryfster van kinder- en radioverhale en een van die interessantste mense wat Tina ken.
Onder mekaar sal die neefs en niggies miskien soms goedig spot met hulle pa’s en ma’s wat so outyds kan wees, maar hulle respekteer hulle en is in die stilligheid so ’n bietjie trots op hulle.
In teenstelling met hulle ouers het hulle – sy, Frances, Ellen, Isabel, Albert en die ander neefs en niggies – soveel makliker grootgeword: sorgelose kinderjare, mooi klere, wonderlike vakansies, boeke, musiek, toneelopvoerings. Alle deure het vir hulle oopgestaan. Maar hulle is nie gelukkiger as wat hulle ouers was nie. Inteendeel!
Tannie Joan, die oudste van die vier Van Velden-susters, kom die kerk binne, gevolg deur Isabel en Johan se vrou, Tessa. Frances het tannie Joan se uitrusting gemaak, ’n blou kant-ensemble met ’n vleiende fuchsiapienk hoed. Sy lyk baie mooi en elegant, en Tina verlang opnuut na haar eie ma wat nie vandag hier kan wees nie.
Tannie Marie knik goedkeurend hier langs haar. “Baie mooi,” fluister sy. “Ek hoop Jim het vir haar ’n kalmeerpil gegee. Jy weet hoe emosioneel Joan kan word.” En dan, asof sy Tina se gedagtes aanvoel: “Jammer jou ma kan nie ook vandag hier wees nie, nè?”
Tina knik. Die neefs en niggies geniet die familiereünies altyd net soveel soos die broers en susters, maar sonder haar ma sal dit nie dieselfde wees nie.
Kort op tannie Joan-hulle se hakke volg Ellen se ouers, tannie Lena en haar man, oom Pieter Visser. Flink en regop, met ’n organisasievermoë wat die jong klomp vroeg al leer ken en respekteer het, is tannie Lena ’n bekende persoonlikheid in Johannesburg waar haar man ’n professor aan die universiteit is. Sy is voorsitster van ’n bekende vroueklub, dien in talle besture en beywer haar veral om verdienstelike jong kunstenaars te help. Met haar mooi regop houding is sy altyd ’n opvallende figuur.
Tannie Marie is nie so mooi of so elegant soos haar getroude susters nie, maar sy is ’n wonderlike mens met ’n wye belangstelling in die lewe. Tina kan nie verstaan waarom sy nooit getrou het nie. Die niggies en neefs is almal baie lief vir haar en as een van hulle raad of hulp nodig het, gaan hulle gewoonlik na tannie Marie toe. Miskien omdat sy so ’n bietjie apart staan, is dit asof sy die jong mense en hulle probleme dikwels beter begryp as hulle eie ouers.
Frances, oom Markus en tannie Issie se enigste dogter en die oudste van die niggies, kom die kerk binne, opvallend mooi in ’n spierwit uitrusting. Een van haar eie skeppings natuurlik, dink Tina met bewondering. Frances het die bruid se rok ook ontwerp en gemaak. Ook die turkoois pakkie wat Tina dra, is afkomstig uit haar winkel.
Hoe mooi is Frances, dink Tina. En nie net mooi nie, maar ook begaafd. Sy was ’n briljante student: sy het haar graad met lof gekry en ’n jaar aan die Sorbonne in Parys gestudeer. Haar huwelik met die enigste seun van ’n vooraanstaande Johannesburgse familie was een van die sosiale gebeurtenisse van die jaar. Haar egskeiding vier jaar later en die publisiteit wat daarmee gepaard gegaan het, was vir die familie ’n bittere skok en ontnugtering. Dis dinge wat met ander mense gebeur, nie met die Van Veldens nie!
Dit was maar net die begin. Oorlede oom Cecil se seun, Albert, met sy vrysinnige idees en boheemse leefwyse, sy rusies met sy pa, het die familie hulle koppe besorg laat skud. Wat word van die jong mense? Toe kom die gefluister oor Ellen en Tim . . .
Wat sou die liewe ooms en die tannies sê as hulle moet weet wat in haar eie hart omgaan?
Dan is daar ’n roering in die voorportaal en ’n gevoel van afwagting trek soos ’n ligte windjie deur die gehoor. Die bruid is hier. Die kerkklok lui en die troumars se akkoorde vul die kerk. Soos een man staan die aanwesiges op.
Stadig stap die bruid aan die arm van haar pa die paadjie af. Oom Jim het oud geword, dink Tina. Maar die bruid is pragtig: jonk en stralend. Daar is skielik ’n knop in Tina se keel. Greta kyk nie links of regs nie, sy het net oë vir die jong man wat met merkbare spanning aan die einde van die paadjie op haar wag.
Ondersoekend kyk Tina na Pierre le Roux, wat nou sy bruid tegemoetkom. Hy is bleek en senuweeagtig. Hy is ’n jaar of twee ouer as Greta, ’n pynlik skraal jong man met ’n gevoelige gesig en dromerige blou oë. Jonk, ongevorm. Hy lyk of hy nie vir homself kan sorg nie, wat nog te sê vir ’n vrou.
Wat sien Greta in Pierre wat hulle ander nie kan sien nie? wonder Tina. Sy wat kon kus en keur tussen soveel jong mans. Waarom het sy vir Pierre gekies? Klein Grietjie met die jammer hartjie – Grietjie met haar mank eendjies wat sy met soveel liefde vertroetel en versorg het, of ’n duifie met ’n gebreekte vlerk, ’n verdwaalde katjie, ’n gehawende skoenlapper, ou Wagter met sy kruppel poot . . .
Is Pierre ook ’n mank eendjie? Het sy hom gekies omdat hy, van al die jong mans wat sy ken, haar die nodigste het?
Greta soen haar pa. Dan, met ’n liefdevolle glimlag, gee sy Pierre haar hand. Die liefde en bewondering in sy blik laat Tina ontroerd wegkyk.
Johan is reeds op die preekstoel. Kalm en bedaard wag hy dat Isabel die bruid se sluier regtrek. Nuuskierig kyk Tina na hom. Hy het ouer geword, dink sy. Ouer, ernstiger en meer volwasse. Hy lyk baie na sy pa. Hardwerkend en pligsgetrou, iemand wat vertroue inboesem, wat soos sy pa sy lewe in diens van sy medemens stel.
Johan het net begin toe Ellen en Tim die kerk haastig binnekom. Ellen het ’n ou blou rokkie aan, met voorverlede jaar se hoed wat sy met ’n swart blom nuwe lewe probeer gee het. Sy lyk moeg en gespanne. Daar is ’n nukkerige uitdrukking op Tim se aantreklike gesig, en Tina wonder of hy en Ellen op pad na die kerk weer rusie gemaak het.
Arme Ellen. Sy het dit seker nie so maklik nie. As sy geweet het wat voorlê, sou sy destyds anders opgetree het?
En dan vergeet sy van Ellen en Tim en almal, en luister met aandag na die mooi woorde van die huweliksformulier: “Belowe jy om hom lief te hê, hom getrou by te staan . . .”
Sal sy ooit die voorreg hê om saam met die man wat sy liefhet voor die kansel te staan en ewige trou aan hom te sweer? Die kanse is maar skraal. Solank sy vrou hom nodig het, sal Hein nooit van haar af weggaan nie. En dit kan nog baie jare duur.
Arme Hein, dink Tina met deernis en verlange. Hoe wreed kan die lewe wees. Hoe onverbiddelik. As sy net weet wat om te doen! As sy net met tannie Marie of iemand kon gesels! Maar sy durf dit nie doen nie. Dis iets waaroor sy self moet besluit, niemand anders kan vir haar besluit nie. Sy moet in haar eie hart en gemoed sekerheid hê. Want as sy eers haar voete op daardie pad gesit het, is daar geen omdraaikans nie.
Die plegtigheid is verby, die jong bruid en bruidegom kniel saam, en asof dit ’n gebed is wat uit hulle harte kom, sing die gehoor hulle toe: “Laat, Heer, u seën op hul daal . . .”
Buite die kerk heers daar heeltemal ’n ander atmosfeer. Konfetti vlieg deur die lug, daar word foto’s geneem en almal lag en skerts. Greta is stralend en die jong bruidegom lyk minder gespanne.
Tina en tannie Marie groet vir Johan en Tessa en die ander familie, en hulle gesels opgewonde. Dis heerlik om almal weer te sien.
Toe hulle in die motor sit, sê tannie Marie: “Wel, dis gedaan. Wat ’n pragtige diens, nè, so innig en opreg. Ek word oud, Tina. Verbeel jou, klein Greta ook al ’n getroude vrou.”
“Wat dan van my?” sê Tina liggies. “Maar dis die verloop van die wêreld. Die kinders word groot en raak verlief en trou. Of hulle is verstandig en kies vir hulle ’n interessante loopbaan en geniet die lewe soos tannie en ek. Of hoe?”
Marie van Velden kyk tersluiks na Tina. “Dis ’n interessante onderwerp wat ek graag later met jou sal bespreek. Om die waarheid te sê, ek wil lankal ’n bietjie met jou gesels.”
“Dit klink soos ’n dreigement,” sê Tina liggies. Sou tannie Marie iets gehoor het? wonder sy onrustig.
“Dit is nie so bedoel nie. Tensy jy natuurlik ’n skuldige gewete het.” Voor Tina kan antwoord, sê sy: “Ek mis jou ma.”
“Ek mis Mamma ook. Maar dokter sê sy is nog nie sterk genoeg om die reis aan te pak nie.”
“Ek wil hê sy moet vir my kom kuier sodra sy sterk genoeg is.”
“Dit sal wonderlik wees as tannie haar kan ompraat, maar ek twyfel of sy sonder Pappa sal kom.” Sy aarsel, dan sê sy sag: “Boet se dood was vir haar ’n groot skok.”
’n Oomblik is hulle stil terwyl hulle albei dink aan Tina se broer, Arnold, wat agttien maande gelede op ’n koue, nat winternag in ’n motorongeluk dood is.
Dan sê tannie Marie: “Greta se rok is pragtig. Ek het nie geweet wat om te verwag nie. Frances het sulke moderne idees.”
’n Glimlag verjaag die erns van Tina se gesig. “Frances is ’n genie. Het tannie geweet dat sy een van die dae ’n boetiek in een van die nuwe deurlope in die stad open? Fran’s Boutique.”
“Ek het nie geweet nie,” sê tannie Marie verras. “Fran’s Boutique? Ek hou van die naam. Jammer ouma Christina kon dit nie beleef nie. Het jy geweet dat sy op haar dag self ’n voorslag met ’n naald was?”
“Ek het nie geweet nie. Ouma Christina was ’n vrou van baie talente!”
Tina was omtrent twaalf toe sy dood is, maar sy onthou haar ouma met haar silwerwit hare en mooi regop houding nog goed. Sy kon die interessantste stories vertel en was nooit te besig om met hulle te gesels of te speel nie.
Daar is al heelwat motors by die saal waar die onthaal gehou word, en Tina trek haar motortjie in die koelte van ’n boom so ’n entjie weg. Daar is nie ’n wolkie in die lug nie, en die warm somerson brand op hulle neer. Die jong klomp drom voor die saal se deur saam, maar Tina en haar tannie groet net, wissel ’n paar woorde en stap dan in.
Die saal is pragtig versier met blomme en struike en die tafels keurig gedek. Op die bruidstafel, op tannie Lena se kosbare kanttafeldoek wat al by soveel familiegeleenthede diens gedoen het, pryk tannie Issie van oom Markus se silwerkandelare. Oral op die tafels is klein frangipani-ruikers wat die saal met hulle soet geur vul. Dit is dalk ’n klein, intieme troue, maar as tannie Lena betrokke is by die reëlings sal alles tot in die fynste besonderhede beplan wees.
Hulle stap na die tafel net langs die hooftafel waar van die familie reeds sit. Sy sien oom Markus met sy silwerwit hare en rysige gestalte, ’n gedistingeerde figuur. Langs hom sit sy vrou, tannie Issie. Sy het ’n brons verehoed op wat heen en weer beweeg soos sy die mense nuuskierig betrag, en sy lyk vir Tina soos ’n kwaai ou leeuwyfie. Die neefs en niggies hou nie baie van tannie Issie nie. Haar blou oë is te krities en sy het altyd vir iedereen ’n sedeprekie. Dis moeilik om te glo dat die stywe, preutse tannie Issie die ma is van ’n briljante, gesofistikeerde dogter soos Frances.
Maar Frances is natuurlik oom Markus se dogter. Frances se broer, Ben, is net so begaafd soos sy. Hy is ’n ingenieur wat by een van die groot mynmaatskappye werk en is op die oomblik met ’n beurs in Amerika. Die jongste seun, Jack, is sy ma se liefling: ’n vaal, ernstige jong man wat hoop om eendag in sy pa se voetspore in die regte te volg. Hy het egter nóg sy pa se helder verstand nóg sy persoonlikheid, en Tina dink dat dit by drome sal bly.
Die familie groet opgewek en almal lag en praat tegelyk. Dan sien Tina dat haar neef Albert besig is om nader te kom. Hy het ’n pak aangetrek vir die geleentheid, maar die broek is gekreukel en daar is ’n vetkol op die baadjie. Hy het ’n groen hemp met ’n opvallende das aan en sy hare is lank. Sy donker baard laat hom nog groter lyk as wat hy is.
“A! Hier is ons kunstenaar ook,” sê tannie Issie terwyl sy met swak bedekte misnoeë na Albert kyk. “Ek het jou nie in die kerk gesien nie, Albert.”
“Ek was nie daar nie, tannie Issie. Dis soveel jare dat ek laas in die kerk was, ek is bang ek sal nie weet hoe om my te gedra nie.”
In die effens geskokte stilte wat op sy woorde volg, draai hy na Tina.
“Wel, Tina,” sê hy nadat hy haar gegroet het en na haar ma verneem het, “jy moet darem nou opskud, hartjie. Die familie raak bekommerd oor jou.” Hy kyk na tannie Marie en grinnik: “Een oujongnooi in die familie – hoe sjarmant ook al – is genoeg.”
Tina glimlag. “As dit in die sterre geskryf staan dat dit my lot is om ’n oujongnooi te wees, is daar niks wat ek aan die saak kan doen nie.”
Hy lag. “Hoe beskeie is my mooi niggie weer vandag. Sê maar as ek kan help. Ek ken ’n paar ouens wat nogal moontlikhede het. Jy weet, as ’n meisie hier na dertig se kant toe staan, kan sy nie meer bekostig om te uitsoekerig te wees nie.”
“Dis gaaf van jou, Albert,” sê Tina liefies. “En jy dink jy sal iemand kan kry wat . . . e . . . gewillig sal wees?”
“Alte seker!” Albert se donker oë is blink, geamuseerd. “’n Kunstenaar moet ook eet en slaap. Hy kry ook soms lus vir ’n lekker stukkie kreef en ’n bottel goeie wyn. Om ’n dak oor sy kop te kry en ’n vrou met ’n vaste inkomste – my liewe meisie, ek kan dadelik vir jou ’n halfdosyn kandidate bring as jy belang stel. Maar wag, ek het net kom groet. My meisie wag daar anderkant vir my.”
“‘My meisie’!” sê tannie Issie bitsig. “Ek is bly hy waag dit nie om haar aan die familie voor te stel nie! Wat ’n onaangename vent! ’n Mens skaam jou werklik as jy dink dat hy ook ’n Van Velden is.”
“Tannie Issie moenie vir Albert te ernstig opneem nie,” probeer Tina paai. “Hy sê baie dinge net om mense te skok. Ons sal dalk nog eendag trots wees op Albert. Hy werk hard, en sy werk verbeter steeds. Twee van sy beeldjies is onlangs aan ’n bekende versamelaar verkoop.”
“Daardie gedrogte! Ek wil die goed nie present hê nie! Ek kry sy arme ma jammer. Al die geld bestee om vir hom ’n goeie geleerdheid te gee en dit is wat hy van sy lewe maak.”
Tina kyk haar neef peinsend agterna. Albert is regtig onmoontlik. Hy hou nie van tannie Issie nie en skep groot behae daarin om dinge te sê wat haar sal skok en vererg. Hy steur hom maar min aan die familie, tog hou sy self van hom. Hy en haar broer, Arnold, was baie lief vir mekaar, en in die ou dae kon hulle drie lekker stry en argumenteer.
Sy glo dat Albert regtig talent het – in sy rigting seker net soveel talent soos Frances of Ben – en dat hy nog eendag naam vir homself sal maak. Die laaste tyd sien sy maar min van hom. Vroeër het sy gedink sy boheemse leefwyse – sy losbandigheid soos tannie Issie dit noem – is skilderagtig en interessant. Deesdae sien sy eerste die spinnerakke en vuil mure en ongewaste skottelgoed raak. Sy vind sy langhaarvriende met hulle verset teen alle wet en orde onvolwasse, en sy vriendinne laat haar ongemaklik voel. Dis seker meer as ’n jaar dat sy laas by Albert se ateljee was.
Tannie Marie begin taktvol oor iets anders praat, en na ’n rukkie gesels almal weer vrolik. Die kelner bring sjampanje en Tina gee vir tannie Issie ’n glas aan.
“Nee, dankie, julle weet dit maak my siek. Ek sal van die vrugtesap neem.”
Sonder ’n woord skink Tina vir haar ’n glasie vrugtesap in. Tannie Issie word ’n regte ou suurpruim. As sy in so ’n bui is, is dit maar die beste om haar uit te los. Sy is natuurlik omgekrap omdat vandag haar herinner aan haar eie dogter, Frances, se mislukte huwelik.
Frances kom net toe die saal binne en Tina wink haar om by hulle te kom sit. Glimlaggend en op haar gemak baan sy haar weg deur die mense, en Tina dink weer hoe mooi sy is met haar swart hare, blou oë en roomwit vel.
Frances groet en kom sit langs Tina.
“So ja, nou kan ek ook ontspan. Jy sê julle hou van Greta se rok? Jy lyk self baie mooi, Tina. Ek hou van jou hoed!”
Tina glimlag. Nadat sy die turkoois pakkie gekoop het, het Frances haar persoonlik na ’n eksklusiewe klein hoedwinkeltjie geneem en dié hoed vir haar uitgesoek. Sy het eers teëgestribbel: dis ’n sonde om so ’n prys te betaal vir ’n hand vol blomme, ’n paar repies strooi en ’n stukkie lint, maar Frances was reg. Die hoed pas haar goed en is net reg by die pakkie.
Die bruid en bruidegom kom ook in. Greta is stralend, maar Pierre lyk steeds gespanne. Oom Markus stel die heildronk in. Hy is ’n onderhoudende spreker en die staaltjies wat hy van die familie vertel, laat almal skaterlag. Selfs Pierre lyk minder senuweeagtig.
Ewe moedig staan hy later op om sy eie toesprakie te maak, en die genadelose gespot en geterg van sy vriende bring hom nie van stryk nie. Met ’n paar gepaste woorde sê hy sy sê en gaan sit.
Ná ete is Tina en Ellen besig om te gesels toe Frances bykom. Sy kyk na Ellen en sê: “En toe trek jy maar weer die ou blou rokkie aan!”
Ellen bloos effens. Met ’n glimlag sê sy: “Ek was van plan om vir my ’n nuwe rok te maak, maar toe kry Sonja weer mangelontsteking en ek het net nooit sover gekom nie.”
“As jy my gebel het, kon ek vir jou ’n paar rokke op sig gestuur het.”
Ellen skud haar kop. “Jy weet baie goed ek kan nie een van jou rokke bekostig nie. Buitendien, wat makeer die rok wat ek aanhet? Op sy dag het dit nogal baie geld gekos.”
“Op sy dag, ja. Maar sy dag is verby. En rokke word deesdae op of bokant die knie gedra, nie ’n paar duim onderkant die knie nie.”
Ellen lag ’n bietjie verleë. “Ek het nie besef my rok is so lank nie. Ek het seker ’n bietjie maerder geword.”
Frances kyk krities na haar. “Jy het nog nie ’n ons gewig verloor nie. Jy weeg nog ten minste tien pond te swaar.”
“Los vir Ellen, Frances,” sê Tina. “Sy het op die oomblik belangriker dinge as klere om aan te dink. En met haar mooi vel en hare maak dit nie saak as sy so ’n paar pond te veel weeg nie.”
“Frances is reg,” sug Ellen. “Ek weet ek is hopeloos te vet. Maar dis van pure frustrasie dat ek te veel eet.” Sy draai na Isabel wat by hulle aangesluit het en sê warm: “Hallo, ek is so bly jy het gekom. Ek hoop jy is nie van plan om sommer dadelik weer terug te gaan nie.”
Isabel is ’n paar jaar ouer as Tina, skraal en goudbruin gebrand.
“Ek gaan ’n paar dae saam met Mammie-hulle huis toe. Ek dink sy sal ’n bietjie opbeuring nodig hê. Hoe gaan dit met jou kleinspan, Ellen? Jy kon hulle gerus maar vandag saamgebring het. Hulle het seker grootgeword, nè?”
Tina sien hoe Ellen se gesig versag terwyl sy van klein Sonja en Careltjie vertel. Isabel luister belangstellend, haar gesig ’n mooi, glimlaggende masker.
Ook vir Isabel het die huwelik nie die geluk en vervulling gebring waarop sy gehoop het nie. Na nege jaar is sy en Jan nog steeds kinderloos en hoewel hulle al verskeie spesialiste geraadpleeg het, lyk dit nie asof daar iets is wat aan die saak gedoen kan word nie. Isabel speel goed tennis en die familie kritiseer haar dikwels omdat sy so baie tyd op die tennisbaan deurbring. Hulle besef nie sy vlug maar net weg van haar stil, leë huis en haar eie ongelukkige gedagtes nie. Isabel is ’n trotse mens en sy sal dit seker nie erken nie, maar Tina weet haar prestasies op die tennisbaan kan nooit vergoed vir die groot gemis in haar en Jan se lewe nie.
’n Rukkie later raak iemand aan Tina se arm.
“Tina Louw? Ek wonder of jy my nog onthou?”
Nuuskierig kyk Tina na die vreemde man wat langs haar staan. Hy is sowat dertig jaar oud, lank, skraal en valerig, met diepblou oë wat glimlaggend na haar afkyk. Daar is iets vaagweg bekend aan hom, maar sy kan nie dink wie hy is nie.
“Toe ek jou laas gesien het, het jy twee vlegsels gehad en was daar sproete op jou neus,” probeer hy help.
Sy skud haar kop. “Vlegsels en sproete? Dit moes in ’n vorige inkarnasie gewees het.”
“Nee,” sê hy. “Dit was lank gelede, maar darem nie so lank gelede nie. Ek sien ek sal jou moet help. Dit was op Nelspruit – jou pa was die landdros daar. Ons het in die huis net langs julle gewoon.”
Tina se gesig verhelder. “Philip Serfontein – nou onthou ek! Maar dit wás darem lank gelede.”
“Vyftien jaar.”
Tina knik.
Haar pa se werk in die staatsdiens het hom na baie dele van die land geneem. Sy het gewoonlik net tuis begin voel op ’n plek, dan moes hulle weer oppak en weggaan. Hulle was vier jaar op Nelspruit, die langste wat hulle ooit op een plek gebly het, en dié jare was van die gelukkigste in Tina se lewe. Oom Jim en tannie Joan het daar gewoon, en buiten Isabel, Johan en Greta het hulle baie maats gehad. Die Serfonteins was lekker bure en Philip en Arnold was boesemvriende. Hulle was in dieselfde klas; hulle het saam geleer, saam rugby gespeel, saam in die berge gekamp en saam die meisies se siele versondig. Philip was net so tuis in hulle huis as in sy eie. Sou hy van Arnold se dood weet?
Hy sien die skaduwee op haar gesig en sê sag: “Ek was drie jaar in Engeland en Amerika – ek het maar ’n paar weke gelede eers teruggekom. Ek was baie geskok om van Arnold se dood te hoor. My innige simpatie. Ek sal graag aan jou ouers wil skryf as jy vir my hulle adres gee.”
“Dankie. Hulle sal dit baie waardeer.”
“Kan ek eendag ’n bietjie kom kuier? Ek was so lank weg, ek voel amper soos ’n vreemdeling in my eie land. Ek wil graag meer van Arnold hoor en hoe dit met jou ouers gaan.”
“Kom gerus. Bel net sodat ek kan sorg dat ek by die huis is. Jy sal my naam en adres in die telefoonboek kry.”
Hy kyk glimlaggend af na haar, sy gedagtes blykbaar nog in die verlede toe hulle saam kinders was.
“Daar is konfetti in jou hare,” sê hy. “Ek hou van jou hoed. Arnold se langbeensussie het ’n baie elegante dame geword.”
“Dis ’n groot geleentheid – ons het almal ons kisklere aan,” sê sy liggies. “Het jy al vir Isabel gegroet?”
“Ek het – sy het my gelukkig nog onthou.”
“Dit verbaas my dat ék vergeet het! As ek dink hoe jy en Arnold ons siele versondig het . . .”
“Dit was lekker dae. Onthou jy nog dat jy gesê het jy gaan met my trou as jy eendag groot is?”
Tina bloos. “Het ek so gesê?”
“Vir jou ma, nie vir my nie. Arnold het my maar van jou planne vertel.”
“Gelukkig was jy toe gewaarsku, nè?” spot sy terug, maar die laggende blou oë laat haar vreemd verleë voel.
Hy kyk op sy horlosie. “Is jy al op pad?” vra sy.
“Ja. Ek moet gaan. Ek het verpligtinge tuis. Priscilla wag vir my – sy verwag en ons gaan gewoonlik in die middae ’n ent stap. Tot siens, Tina. Dit was lekker om jou weer te sien, al het jy vergeet. Ek bel jou later.”
Natuurlik is hy getroud, dink Tina terwyl sy Philip agternakyk. Oud en getroud – soos die meeste van haar tydgenote – met ’n vrou en kinders en blykbaar nog een op pad. Wel, sy het genoeg kanse gehad. As sy op die rak bly sit, is dit net haar eie skuld. ’n Oomblik dink sy weer aan Hein en sy voel hoe pyn en verlange haar hart laat krimp.
Dan stap sy na oom Jim en tannie Joan wat so ’n bietjie eenkant met Johan staan en gesels. Weer merk sy op hoe maer en vervalle oom Jim se gesig geword het, en die kommer in tannie Joan se oë as sy na hom kyk.
“Dit is ’n heerlike troue,” sê sy opgewek om hulle ’n bietjie op te beur. “En Greta is die mooiste bruid . . .”
“Sy is nog so jonk,” sê tannie Joan bewoë. “Ek kan maar net nie glo dis my baba nie.”
Tina druk haar arm vertroostend. “Sy is die verstandigste van ons klomp,” sê sy. “Ouma Christina se eie, eie kind. Onthou maar my woorde.”
Tannie Joan glimlag deur die trane. “Dis waar. Sy is ’n verstandige kind. Maar tog . . .”
Sy en oom Jim word weggeroep en peinsend kyk Johan hulle agterna.
“My pa het oud geword,” sê hy stil.
“Hulle word almal oud,” sê Tina saggies. “Ons moet dit te wagte wees. Die tyd staan vir niemand stil nie.”
“Ek wil hê hy moet aftree, die lewe so ’n bietjie rustiger vat. Maar hy wil nie. Hy sê hy sal doodgaan as hy nie kan werk nie.”
Sy glimlag begrypend. “Ons kan nie vir hulle besluit nie, Johan. Hy moet self besluit wat hy wil doen. Ons dink jou pa moet aftree, hulle dink Greta is te jonk om te trou – en elkeen maak soos sy eie hart vir hom sê.”
Hy glimlag effens, en sy sê: “Dit was ’n mooi diens – innig en persoonlik.”
“Dankie, Tina.” ’n Oomblik kyk hy af na haar, dan vra hy: “En jy? Wat van jou? As jy ooit my dienste nodig het – sê maar net, ek kom graag.”
“Dis ’n belofte, hoor!” sê sy liggies.
Sy wens sy kan met Johan praat, hom vertel van haar eensaamheid en haar vertwyfeling. Sy weet hy sal verstaan. Maar sy weet ook wat sy reaksie sal wees.
Johan word ook weggeroep, en sy stap na Albert, wat ’n entjie daarvandaan met sy vriendin staan en gesels.
“Dis Monique,” sê hy en die donker oë is blink en spottend. “En dis my niggie, Tina Louw. Ek dink ek het jou al van haar vertel.”
Agter sy hand fluister hy hard vir Monique: “Dis die een wat gedigte skryf. Maar dis ’n familiegeheim, hoor! Ons praat nie daarvan nie.”
Monique is omtrent twintig jaar oud en prikkelpopmooi soos al Albert se vriendinne. Sy het ’n perfekte figuur, strooigeel hare en donker kunswimpers. Die blou oë waarmee sy Tina betrag, is effens hard en agterdogtig en baie ouer as twintig. Sy hou ’n lang swart sigarethouer vas en elke keer as sy haar arm beweeg, klingel die armbande aan haar arm. Haar rooi rok is te kort, te laag gesny en te nou.
Geen wonder dat Albert dit liewer nie gewaag het om haar aan die familie voor te stel nie.
“Skryf jy regtig gedigte?” vra sy nuuskierig vir Tina.
Tina is bewus van Albert se spottende blik en sê liggies: “Albert terg sommer. Ken jy hom nog nie? Poseer jy vir Albert?”
“Nou reken. Hoe het jy dit geraai?” vra Albert lui.
Tina glimlag soet. “Ek weet wat jou vereistes vir ’n goeie model is. En Monique se liggaam is onverbeterlik.”
Albert kyk ’n lang oomblik na haar. “Jy het reg geraai – Monique is een van my modelle. Jy kan gerus weer eendag kom kyk hoe ek werk.”
“Ek sal graag wil kom,” sê sy. “Voordat jy te beroemd raak.”
Monique haal haar sigaretkoker uit en bied vir Tina ’n sigaret aan. “Rook jy nie?” vra sy toe Tina haar kop skud.
“Nie hier nie, kind!” sê Albert geskok. “Wat sal die tannies sê?”
“Die tannies weet almal ek rook,” sê Tina geamuseerd.
“Maar jy het te veel respek om dit voor hulle te doen,” spot hy moedswillig. “Is sy nie ’n mooi voorbeeldige dogter nie, Monique?”
“Ek is so grootgemaak,” sê Tina kalm. “Is dit verkeerd?”
“Waarom stry julle nou eintlik?” vra Monique ’n bietjie verveeld. Sy draai na Tina toe. “Het jy die fliek Die Vreemde Ruiter gesien? Dit het oral in die land gewys.”
“Ek het dit nie gesien nie,” erken Tina.
“Nie heeltemal haar smaak nie, liefie,” spot Albert.
Tina ignoreer hom. “Waarom vra jy? Is dit ’n goeie fliek?”
Monique haal haar skouers op. “Ek het daarin gespeel.”
“Monique het die rol van kroegmeisie gespeel. ’n Uitstekende vertolking.”
“Dit was seker ’n opwindende ervaring – om ’n filmster te wees,” sê Tina haastig.
Monique bestudeer haar lang rooipers naels. “Baie interessant, maar dit was harde werk ook.”
“Jy moet haar in ’n bikini sien,” sê Albert. “Sy was verlede jaar die skoonheidskoningin op Margate.”
“Ek is nie verbaas nie,” sê Tina stil. Sy sal nie toelaat dat Albert haar omkrap nie. “Ek het reeds gesê Monique het ’n volmaakte liggaam. Is jy weer besig met ’n rolprent?” vra sy vir die meisie.
“Sy is nog nie weer genader nie,” spot Albert. “Kroegmeisies is nie baie volop in Afrikaanse films nie.”
“Ek hou van afwisseling,” sê Monique. “Ek is ook ’n loopplank- en fotografiese model.”
“Dit klink soos ’n besige en interessante lewe,” sê Tina.
“En jy? Wat doen jy?” vra Monique nuuskierig.
“Ek werk in ’n kantoor – vertaalwerk,” sê Tina half onwillig.
Monique knik en Tina sien die jammerte in haar oë. “Sies tog,” sê Monique. “Dis seker nie baie interessant nie, is dit?”
Albert lag. “Die geleerdheid het ook sy nadele, nè Tina?”
Twee klein dogtertjies bring stukkies troukoek op ’n silwerskinkbord.
“Neem gerus ’n stukkie,” sê Albert vir Tina. “Hulle sê as ’n mens dit onder jou kopkussing sit, droom jy van die man met wie jy gaan trou.”
“Ek sal dit graag wil probeer,” sê Tina terwyl sy ’n stukkie koek neem en in haar handsak sit. “Albert is so bang ek sal op die rak bly sit,” sê sy vir Monique. “Hy beskou dit as ’n soort klad op die familienaam. Amper so erg soos gedigte skryf.”
“Jy misgis jou, Tina. My belangstelling is bloot wetenskaplik. Ek wil graag sien dat jy loskom uit daardie kokon waarin jy jouself toegespin het. ’n Preutse oujongnooi wat sentimentele gediggies skryf – as dit al is wat jy in die lewe wil hê, waarom gaan jy nie maar na ’n klooster toe nie?”
Tina is stil. Besef Albert hoe seer sy woorde haar maak?
Met ’n ligte skouerophaling sê sy: “Ons lewe elkeen volgens ons eie oortuigings – jy volgens joune, en ek volgens myne. Sal ons dit voorlopig daar laat?”
“Nou is sy op haar perdjie,” glimlag Albert. “Soos alle vroumense hou jy nie daarvan om die waarheid te hoor nie, nè?”
“Jy is in ’n besonder slegte bui vandag,” sê Tina. “Ek loop liewer voor ons regtig rusie maak.”
“Dis miskien verstandig,” spot hy saggies. “So ’n familietwis is ’n nare besigheid.”
Tina glimlag onwillig, sê tot siens en stap weg.
Monique kyk Tina nuuskierig agterna. “Sy lyk nie so sleg nie. Waarom hou jy nie van haar nie?”
“My liewe Monique, van al my niggies hou ek die meeste van Tina. Daarom probeer ek haar help. Kom ons loop. Ek is nou moeg vir die spulletjie.”
“Wat ’n simpel tyd om te trou,” kla Monique toe hulle uitstap. “Wat gaan ’n mens nou by die huis doen?”
“Jy kan by jou vriende gaan kuier. Ek gaan werk.”
“Het jy nie lus om te kuier nie? Toe, ons kan na Jos-hulle toe gaan.”
“Ek gaan werk. En ek wil stilte en vrede hê. As jy vanmiddag mooi soet is, kan ons miskien vanaand gaan fliek.”
“En by Giovanni gaan eet?” vra sy gretig.
“Ná vanmiddag se ete? Beslis nie. Jy weet wat word van meisietjies wat te veel eet?”
“Wat?” vra sy nukkerig.
“Hulle word vet, en die wolf vang hulle en vreet hulle op.”
“Dit was Rooikappie.”
“Hoe weet jy jou naam is nie Rooikappie nie?”
Monique haal haar skouers op. Sy sal maar na Jos-hulle toe gaan. As Albert in dié bui is, is dit die beste om hom alleen te los.