Читать книгу Rooi malvas - Tryna du Toit - Страница 4
ОглавлениеHoofstuk 2
Tina en tannie Marie sit in die skaduwee van ’n groot jakaranda op die terras voor tannie Marie se grasdakhuisie aan die noordelike hang van die berg. Aan hulle voete lê die stad, in die verte is die Magaliesberge, wasig blou in die laat namiddagson. Die troue is verby en die familie is uitmekaar, elkeen in sy eie rigting. Die bruid en bruidegom is met Pierre se karretjie weg na ’n vakansieplaas in die berge naby Rustenburg. ’n Naweek is al wat hulle kon afknyp. Tannie Joan, oom Jim en Isabel is saam met tannie Lena en oom Pieter-hulle Johannesburg toe, waar hulle tot die volgende oggend sal kuier. Frances het ’n afspraak en Ellen was bekommerd oor Sonja en wou huis toe gaan.
Tina het tannie Marie huis toe gebring en haar uitnodiging aanvaar om ’n bietjie te kuier. Om ná die opwinding van die dag alleen in die woonstel te gaan sit, sou beslis ’n antiklimaks wees.
Tina het vir hulle elkeen ’n koeldrank ingeskink, vir haarself ’n sigaret opgesteek, en nou sit hulle lui en ontspanne, elkeen besig met haar eie gedagtes. Tannie Marie se Siamese kat, Picasso, lê op haar skoot; langs haar stoel lê ou Wagter; bokant hulle koppe in ’n blou koutjie tril twee geel kanaries ’n vrolike lied.
“’n Tipiese oujongnooi-menasie,” spot tannie Marie altyd met haarself. “Net die papegaai kom nog kort.”
Dit was ’n lekker troue, dink Tina. Dit is regtig jammer haar ma kon nie hier wees nie. Dit sal heerlik wees as tannie Marie haar kan oorreed om ’n bietjie te kom kuier. Sy verlang vandag na haar ma en na Arnold. Philip Serfontein het weer ou, halfvergete herinnerings wakker gemaak van sorgelose dae vol pret en plesier, toe die lewe nog ongekompliseerd was.
’n Gawe man, Philip Serfontein. Hy het haar darem baie jonk en verleë laat voel met sy praatjies oor die ou dae. Sy wonder of Isabel weet met wie hy getroud is.
“Dit was ’n lekker troue,” beaam tannie Marie haar gedagtes. “Maar ai, die kinders is darem nog baie jonk. Ek is bly Jim dring daarop aan dat Greta vanjaar nog klas loop en haar graad kry.”
“Ek dink oom Jim moes haar liewer laat begaan het. Greta is jonk, maar sy weet wat sy wil hê en sy is verstandiger as die meeste meisies van haar ouderdom. Ek het so ’n gevoel klein Greta gaan ons nog almal verras.”
“Ek hoop jy is reg – daar was al genoeg trane in die familie.” Ingedagte streel tannie Marie die kat op haar skoot, dan vra sy: “Wie is die vreemde man met wie jy vanmiddag daar by die troue gesels het?”
“Philip Serfontein. Hulle was ons bure op Nelspruit en hy en Arnold was destyds groot maats. Hy sê toe hy my laas gesien het, het ek nog sproete en vlegsels gehad.”
“Hy het ’n goeie geheue. Of het hy ’n spesiale rede om jou te onthou?”
“Geen rede nie. Hy was Arnold se vriend. Hulle was gedurig saam.” Sy vertel tannie Marie dat Philip pas teruggekeer het nadat hy drie jaar oorsee was.
“Hy lyk na ’n gawe man,” sê tannie Marie versigtig.
Tina glimlag. “Baie gaaf. En soos die meeste gawe mans van my ouderdom is hy reeds getroud.”
“Tog nie met ’n uitlander nie, hoop ek.”
“Ek weet nie. Ek weet net haar naam is Priscilla. Maar hy het gesê hy kom vir my kuier – hy wil hoor hoe dit met die familie gaan en seker ’n bietjie oor Arnold gesels.”
“En sal hy dan vir Priscilla saambring?”
“Ek sal hom vra om haar saam te bring as hy bel,” sê Tina glimlaggend.
Hulle is ’n rukkie stil, dan vra tannie Marie weer: “Sien jy Albert nog dikwels?”
“Nie so dikwels nie. Om die waarheid te sê, ek sien die laaste tyd baie min van hom.”
“Julle was altyd goeie vriende gewees. Wat het dan gebeur?”
“Daar het niks gebeur nie. Ek word seker oud, maar Albert se langhaarvriende is deesdae ’n bietjie te selfvoldaan en onvolwasse vir my. En sy vriendinne!”
“Wie is die een wat vanmiddag saam met hom by die troue was?”
“Haar naam is Monique. Sy is ’n kunstenaarsmodel – dis seker hoe Albert haar ontmoet het. Sy is ook ’n aktrise en ’n loopplank- en fotografiese model. Ek het soos ouma Mazawattee langs haar gevoel.”
“’n Skaamtelose klein flerrie. Ek het Albert nog altyd verdedig, maar as dit die soort meisie is met wie hy hom ophou, moet hy nie verwag om enige simpatie van die familie te kry nie.”
Tina is ’n rukkie stil, dan sê sy: “Wie is ons om te oordeel? Wat jy is, word bepaal deur jou agtergrond – jou ouerhuis, jou omgewing, jou vriende. Ek, Isabel, Frances, Ellen, Albert, Johan – ons het almal in bevoorregte huise grootgeword. Maar die wêreld het so geweldig verander en dit verander nog steeds. As ons om ons kyk en ons sien soveel wat verkeerd is – soveel onreg en ellende en haat, soveel materialisme – is dit dan vreemd dat ons ontnugter en verward voel? Is dit vreemd dat ons, elkeen op sy eie manier, van voor af besig is om te soek na nuwe waardes wat ons in die plek van die oues kan stel?”
Tannie Marie antwoord nie. Sy kyk peinsend voor haar uit terwyl sy die kat op haar skoot saggies streel, en half verskonend sê Tina: “Wat ek eintlik wou sê, is – ek is jammer vir Monique. Ek is seker sy het nooit die voorregte en kanse gekry wat ons gehad het nie. Maar op haar manier veg sy ook vir ’n plekkie in die son. Wie sê ek sou anders gewees het as ek in haar skoene was?”
“Jy is reg,” sê tannie Marie. “Wie is ons om te oordeel? Ek was maar net ’n bietjie teleurgesteld.” Sy kyk na Tina en vra: “Wat presies bedoel Albert as hy praat van sy meisie?”
Tina glimlag effens. “Dit kan enigiets beteken: vriendin, geliefde, verloofde, minnares . . .”
“Hmmmmm,” sê tannie Marie droogweg. “Wel, hy het seker die reg om sy lewe te leef soos hy goed dink.”
“Ja. Maar nou wil hy vir my voorskryf hoe ek moet lewe. ’n Preutse oujongnooi wat sentimentele gediggies skryf – hy dink ek sal gelukkiger in ’n klooster wees.”
Sy probeer liggies praat, maar daar is tog ’n sweem van hartseer in haar stem.
’n Rukkie is tannie Marie stil, dan sê sy: “Jy ken vir Albert; hy spot met alles. Jy het self gesê ’n mens moet hom nie te ernstig opneem nie. Maar miskien voel hy ook aan dat jy nie gelukkig is nie en probeer hy op sy manier om jou te help.”
“Waarom dink tannie ek is ongelukkig?” vra Tina.
“Ek weet nie. Jy is die laaste tyd stiller, meer in jou dop gekruip. Ek het gewonder of daar iets is wat jou hinder. As ek kan help . . .”
“Ek staan voor ’n kruispad,” wil sy sê. “Ek weet nie wat ek moet doen nie.” Maar sy het nie die moed om die saak met tannie Marie te bespreek nie. Omdat sy in haar hart weet dat daar maar net een antwoord op haar vraag is?
“Ek slaap deesdae sleg. Dis seker maar die hitte, of miskien verlang ek huis toe. Ek wens regtig my ma wil ’n bietjie kom kuier.”
Tannie Marie antwoord nie. As die kind nie wil praat nie, kan sy haar nie dwing nie. En sy weet, uit haar eie lewe, dat daar dinge is wat jy self moet besluit.
“Tannie woon heerlik hier teen die berg.” Tina kyk na die stad wat aan hulle voete lê, na die blou berge daar ver, dan sê sy met ’n vreemde klein glimlaggie: “Ek wil tannie iets vra: waarom is tannie nooit getroud nie? Daar was tog seker genoeg bewonderaars . . .”
Tannie Marie lag. “Die antwoord is seker maar omdat die regte man my nooit gevra het nie. Ek het skoolhou geniet, ek was lief vir die kinders, ek het my ma gehad vir geselskap, my lewe was vol en interessant – veel interessanter as die paar mans wat deur die jare in my belang gestel het. Miskien is ek maar net ’n gebore oujongnooi – daar is sulke mense ook, weet jy?”
Sy is ’n rukkie stil, dan sê sy weer: “Om te trou is nie noodwendig die antwoord op al ’n mens se probleme nie. Dit beteken nie noodwendig jy sal gelukkig wees, of nooit weer eensaam of alleen wees nie.”
Tina dink aan Frances, en aan Isabel en Ellen, en sê sag: “Ek weet. Ek weet ook dat tannie ’n vol en interessante lewe lei en seker minder eensaam is as baie getroude mense wat ek ken. Ek wens ek het die geheim geken.”
“Dis geen geheim nie. Jy kry maar net uit die lewe wat jy daarin sit. Aanvaar elke nuwe dag met geesdrif en dankbaarheid, vul dit boordensvol met die goeie dinge in die lewe – jou werk, jou vriende, mooi musiek, blomme, boeke, ’n kuiertjie by ’n siek vriendin – en jy sal uitvind elke dag is te kort vir al die dinge wat jy wil doen. Dit wil nie sê dat jy nooit eensaam of ongelukkig sal wees nie. In elkeen se lewe kom daar tye wat jy alleen staan, wat selfs die mense wat jou die liefste het, jou nie kan help nie. Tye wanneer jy opnuut moet leer om te aanvaar en aan te pas. Maar dit is alles deel van die patroon van ons lewe hier op aarde.”
Tina is stil terwyl sy tannie Marie se woorde oordink. Om te aanvaar en aan te pas – is dit die kern van ’n gelukkige lewe? Om nie te hunker na die dinge wat buite jou bereik is nie, om te leer om nie “waarom” en “hoekom” te vra nie?
Binne lui die telefoon. Tina kyk na tannie Marie. “Sal ek antwoord?”
Watter reg het ek om vir die jong mense van vandag raad te gee, dink Marie van Velden toe sy alleen is. Wat weet ek van hulle kwellings, hulle probleme, hulle versoekings? Hulle woon in ’n ander wêreld.
Tina kom liggies oor die gras aangestap. “Die oproep was toe vir my.”
Tannie Marie kyk ondersoekend na haar, getref deur iets in haar stem. Tina glimlag effens en daar is ’n mooi sagte uitdrukking op haar gesig.
“En wie van jou bewonderaars het geraai dat jy hier sal wees? Of is dit een van die familie?”
“Dit was Hein Venter van ons kantoor. Hy het vir my werk gebring wat ek oor die naweek moet doen. Toe ek nie tuis was nie, het hy maar gebel – almal ken mos my beroemde tannie. Hy wou net sê dat hy die werk by die opsigter gelos het.”
“Dié Hein Venter – ken ek hom?” vra tannie Marie na ’n rukkie.
“Ek glo nie,” antwoord Tina versigtig.
“Wat doen hy?”
“Hy is ook ’n vertaler – nes ek.”
“Een van jou bewonderaars?”
“Hein Venter is ’n getroude man,” sê Tina stil. Sy aarsel ’n oomblik, dan sê sy: “Sy vrou is ’n invalide. Sy het ’n jaar gelede haar rug in ’n motorongeluk beseer.”
“Hoe verskriklik. Wat het gebeur?”
Weer aarsel Tina. Dan sê sy sag: “Dit is ’n treurige verhaal. Hein se vrou, Lalie, het hom verlaat omdat sy op ’n ander man verlief was. Hein het lank geweier om van haar te skei, maar later – toe hy sien daar is geen hoop om sy huwelik te red nie – het hy ingewillig. Sy is van hom af weg, maar voor die egskeiding finaal was, was Lalie en die ander man in ’n motorongeluk betrokke. Die man is dood en Lalie is so ernstig beseer dat sy die res van haar lewe in ’n rystoel sal deurbring. Sy was lank in die hospitaal en toe hulle haar ontslaan, het Hein haar gaan haal en terug na sy huis toe gebring.”
Tina se stem is sag en gelykmatig, maar dis vir Marie van Velden of daar van êrens af ’n koue windjie oor haar waai. Sy hoor weer die intonasie in Tina se stem, sy sien weer die sagte uitdrukking op haar gesig.
“Het hulle kinders?” vra sy.
“Hulle het een kind – ’n seuntjie van omtrent agt.”
“Ken jy die mense lankal? Ek bedoel, het jy die vrou geken voor sy die ongeluk gehad het?”
“Ek ken haar glad nie. Terwyl sy in die hospitaal was, wou sy geen besoekers hê nie – net die familie is toegelaat. Haar gesig is glo lelik geskend. Vir Hein ken ek lankal. Hy was in die kantoor toe ek daar gekom het en ons werk die afgelope agttien maande in dieselfde afdeling.”
“Hoe tragies – vir haar én vir hom.”
Tina antwoord nie. ’n Rukkie is hulle stil, dan stoot Tina die hartseer gedagtes van haar af weg en begin oor ander dinge gesels. Sy vra uit oor die radiodrama waaraan haar tannie werk en sê dan: “Ek het ook nuus: tannie kry kompetisie. ’n Bundel van my gedigte word uitgegee.”
“Maar hoe wonderlik, Tina,” sê Marie van Velden verras. “Baie geluk, hoor! Het jy toe eindelik sover gekom om jou gedigte na ’n uitgewer toe te neem?”
“Dit was eintlik Hein Venter. Hy het van my gedigte gelees en hulle na ’n uitgewersvriend toe gestuur. Die vriend het toe besluit om dit uit te gee.”
“Dis wonderlike nuus. Ek hoop dis die begin van groot dinge vir jou.”
Tina haal haar skouers op. “’n Oujongnooi wat sentimentele gediggies skryf? Albert is nie ver verkeerd met sy diagnose nie.”
“Dis heeltemal duidelik dat Albert nog nie een van jou gedigte gelees het nie,” sê tannie Marie droogweg. “En as hy die huwelik so vurig bepleit, waarom trou hy nie self nie?”
Weer val daar stilte tussen hulle. Die son sak en daar is iets weemoedigs in die skemeruur. Dis die moeilikste tyd van die dag, dink Marie, wanneer dit aand word en die mans en kinders huis toe kom. Wanneer opgewekte stemme oral opklink, en die stilte en die eensaamheid saam met die donkerte om jou toesak.
Asof sy haar gedagtes lees, sê Tina: “Ek dink ’n bietjie afleiding sal ons albei goed doen. Ek hoor daar is ’n oulike fliek by die Fonteine-inry. Kom ons gaan kyk of ons kan plek kry.”
Vyf minute later is hulle op pad. Die rolprent – ’n lekker klug – was uitstekend, en in opgewekte stemming kom hulle terug by die huis. Tina maak vir hulle toebroodjies en tee. Die heimwee van die skemeruur is vergete, en laggend bespreek hulle die rolprent.
“Dit herinner my aan my eie kinderjare,” sê tannie Marie. “Aan Moeder – aan alles wat sy vir ons gedoen het.”
Tina kyk na die portret van ouma Christina wat op die kaggel staan – jonk, mooi, glimlaggend, maar ’n sterk gesig vol karakter.
“Ouma Christina. Almal wat haar geken het, sê sy was ’n wonderlike mens.”
“Sy was. Lewenslustig en baie begaafd. Niks kon ooit haar lewensvreugde demp nie, maar sy het nie ’n maklike lewe gehad nie. Inteendeel. Toe sy en Vader getrou het, het die oorlogswolke swaar oor die Transvaal gehang. Haar mense het alles verloor in die Anglo-Boereoorlog. Haar ma, haar suster en twee van haar kinders is in die konsentrasiekamp dood. Vader is Ceylon toe gestuur en toe hy terugkom, het hulle niks gehad nie en moes hulle weer van voor af begin. Later het hulle nog ’n kwaai terugslag gehad toe Vader se vennoot ’n klomp geld verduister het en homself om die lewe gebring het. Saam het hulle weer skouer aan die wiel gesit om die verlore skade in te haal. Moeder was orrelis in die kerk en het klere gemaak en sang- en klavierles gegee. Sy het self ook baie mooi gesing. Daarby het haar huis altyd geblink en was haar blomtuin een van die mooistes op die dorp. Haar musiekaande was instellings en daar het dikwels bekende kunstenaars by ons gekuier.
“Maar sy het nie alleen gewerk nie, hoor: ons moes almal help. Dit het harde werk en opoffering geverg, veral ná Vader se skielike dood, maar as ek terugdink aan daardie jare dink ek nooit aan die swaarkry nie. Ek onthou net hoe vol en interessant en lekker die lewe toe was. Deur die jare heen was Moeder ons beskermengel; sy het haar vleuels oor haar dierbares gesprei selfs nadat hulle uit die huis uit is. Dit was, vreemd genoeg, eers ná haar dood dat die een ongeluk ná die ander die familie getref het: Albert se rusie met sy pa; oom Cecil se beroerteaanval; Arnold se tragiese dood; Frances, Ellen, Isabel . . . Ek wonder so dikwels wat haar reaksie op al dié dinge sou gewees het.”
“As sy werklik so ’n wonderlike mens was, sou sy ons probleme vandag verstaan het,” sê Tina. Sy kyk weer na die portret en sê mymerend: “Ek is jammer ek het haar nie beter geken nie, maar ons het so baie rondgetrek en ek was maar twaalf, dertien toe sy dood is. Maar ek onthou hoe graag ons by ouma gekuier het – die pieknieks en konserte wat ons in die tuin gehou het, ouma se mosbeskuit en soetsuurdeegbrood. Ek sien nog die groot wit huis met die groen dak en die rooi malvas op die vensterbank.”
Marie van Velden se gesig versag. “Die rooi malvas op die vensterbank was deel van Moeder – van haar moed, haar lewensvreugde, haar liefde vir haar medemens. Vandat ek kan onthou, was hulle maar altyd daar. Ek is bly jy onthou die rooi malvas.”
Tina glimlag effens. “Dis goed om te weet dat daar goeie bloed in jou are is, dat jy ’n voorsaat soos ouma Christina het. Maar dis nie genoeg nie, nè?”
“Nee, dis nie genoeg nie. Wat tel, is wat jy self in die lewe bereik. Ek gee toe die lewe is vandag anders as toe ons jonk was, dat julle met groter probleme en meer versoekings te kampe het as wat ons ooit gehad het. Maar ten spyte van al die veranderings bly sekere wette onveranderd. ‘Onderhou my gebooie,’ sê die Here. Die Tien Gebooie bly vandag nog die hoeksteen waarop die gelowige mens sy lewe bou.”
Tina antwoord nie. Onderhou my gebooie . . . Lê die antwoord op al haar vrae in daardie paar eenvoudige woorde opgesluit?
Ellen en Tim ry direk van die huweliksonthaal af huis toe.
Op pad is hulle stil, elkeen besig met sy eie gedagtes.
Dit was ’n mooi troue, dink Ellen. Greta was ’n lieflike bruid. Die familie is verniet bang dat Greta nog te jonk en onervare is. Sy is meer volwasse as die meeste meisies van haar ouderdom. Sy self was nie veel ouer as Greta toe sy getroud is nie, maar natuurlik, alles was anders.
Ellen dink aan haar eie troudag, aan die trane, die bitterheid en berou. Sy dink aan die jare van swaarkry wat gevolg het, aan klein Carel en Sonja, aan die groeiende verwydering tussen haar en Tim. Wat hou die toekoms vir hulle in?
Versigtig loer sy na Tim. Waaraan sou hy dink? Haar hart sak toe sy die donker frons op sy gesig sien. Waarom is Tim kwaad? Blameer hy haar omdat die lewe so anders verloop het as wat hy gedroom het?
Toe hulle naby die huis kom, sê Tim: “Ek het gereël om vanmiddag muurbal te speel as ons betyds van die troue af terugkom. Gee jy om?”
Ellen voel die skielike brand van trane in haar keel. Natuurlik gee sy om. Tim is die laaste tyd so dikwels uithuisig dat sy en die kinders al minder van hom sien. As dit vir werk was, sou sy nie omgegee het nie, maar dis gewoonlik muurbal of gholf, of ’n potjie snoeker of brug saam met sy vriende. Sy het gehoop hy sal vanmiddag en vanaand saam met haar en die kinders deurbring.
“Moet jy gaan?” vra sy sag. “Daar is ’n mooi fliek by die inry wat ek graag wil sien. Ek het gedink ek maak vir ons toebroodjies – die kinders sal die uitstappie so geniet.”
Tim se gesig verhard effens. “Ek het nie vanaand lus vir die inry nie. Buitendien het ek Jimmy belowe ek sal speel.”
Dit help nie om Tim teen sy sin te probeer dwing om tuis te bly nie. Dit sal maar net weer op ’n rusie tussen hulle uitloop.
Die kinders speel ewe gelukkig buite op die gras. Ellen slaak ’n suggie van verligting. Sy is altyd onrustig as sy die kinders alleen by die huishulp moet laat. Carel is besig om soldaat te speel met ’n paar kamaste en Tim se vlootpet. Links regs, links regs, beveel hy terwyl Sonja rooi in die gesig voor hom uitmarsjeer.
Toe Carel hulle groen motortjie sien, hardloop hy om die hek vir hulle oop te maak. Terwyl hulle deurry, salueer hy flink.
Tim grinnik, sy ontevredenheid vir die oomblik vergete. “Dankie, kaptein. Alles stil op die front?”
“Geen teken van die vyand nie, generaal!”
Met uitgestrekte arms kom Sonja na hulle aangehardloop. Sy struikel oor ’n graspol, maar voor sy kan val, vang Tim haar en gooi haar hoog in die lug op. Sonja kraai van plesier.
“Nog, Pappa, nog!” gil sy toe Tim haar neersit, maar hy ontwyk haar handjies en hardloop glimlaggend die trappies op en die huis binne.
Toe Ellen by die huis inkom, is hy besig om met Jimmy Roux oor die telefoon te praat. “Ek sal reg wees,” sê hy, en hy klink opgewek en bly.
Toe sy haar hoed in die kas bêre, kom Tim by die kamer in. Hy trek haastig uit. Die klere word ongeërg op ’n hoop op die bed gegooi. In sy wit kortbroek en hemp, bruingebrand deur die son en die wind, lyk hy jonk en baie aantreklik. Hy kom na haar toe en soen haar liggies op die wang.
“Jy kan die kar kry as jy êrens heen wil gaan, Ellen. Jimmy kom my oplaai.”
Sy kyk hom vreemd aan. “Bedoel jy dat ek en die kinders alleen inry toe moet gaan?”
Dadelik vervies hy hom. “Maak soos jy wil,” sê hy nukkerig. “Jy kla heeldag dat jy nie by jou vriende kan kom nie omdat jy nooit die kar het nie. Ek het maar net gedink dis nou ’n goeie kans om ’n bietjie uit te gaan.”
Hulle hoor hoe Jimmy se motor buite op die gruispad stilhou, en met ’n haastige groet is Tim by die kamer uit. Deur die venster sien Ellen hoe die kinders die rooi sportmotor agternastaar, en daar is trane van hartseer en teleurstelling in haar oë. Tim kon gerus maar vanmiddag by hulle gebly het. Sy sien reeds so min van hom. Die kinders verlang ook na sy geselskap, maar daar is nooit meer tyd om te speel en te baljaar nie.
Met ’n sug draai sy weg van die venster af en ’n oomblik bekyk sy haarself in die spieël. Frances is reg, dink sy misnoegd: haar rok is te lank en sy is te vet. In vergelyking met haar mooi, elegante niggies lyk sy soos ’n regte plaasjapie. Haar ma het geglimlag toe sy sien sy het weer die blou rok aan, maar sy was ook teleurgesteld. Sy weet maar te goed hoe ver sy tekort skiet aan die hoë eise wat haar ma stel.
“Wat het jy gedoen met die geld wat ek jou vir Kersfees gegee het?” wou haar ma weet. “Ek het dan gesê jy moet vir jou ’n nuwe rok koop.”
Wat het sy met die geld gedoen? Die vleisrekening betaal, vir Carel nuwe skoene en skoolklere gekoop, en die res is uitgegee toe sy en Tim die aand saam met sy vriende gaan eet en dans het.
Dit was seker nie die verstandigste manier om die geld te spandeer nie, maar Tim wou graag gaan en sy wil nie altyd ’n remskoen wees nie.
Sy trek ’n koel, moulose rok aan, hang Tim se klere op en gaan na die kinders toe. Carel, op sy fiets, nog met die pet op en kamaste aan, is nou ’n vlieënier wat hoog bokant die wolke vlieg. Die kind het ’n wonderlike verbeelding: vandag is hy ’n soldaat, môre ’n renjaer of ’n ruimteman op pad na die maan. Eendag, tot groot ontsteltenis van die ouer buurkinders, was hy Liewe Jesus wat met ’n wolk opvaar na die hemel. Sonja, vier jaar oud, met haar blink, ondeunde gesiggie, is sy getroue handlanger, altyd gereed om te volg waar hy lei.
Hulle is twee oulike kinders, dink sy. Tim kan trots wees op hulle. Sy wil so graag hê Tim moet deel in die vreugde wat sy uit die kinders put, deel in hulle vorming en grootmaak. Dis sy kinders ook, deel van hom, net soos hulle deel van haar is. Hy het ’n verantwoordelikheid teenoor hulle. Maar Tim is net nie geïnteresseerd nie. Of liewer, hy het so baie ander belangstellings dat daar min tyd oorbly vir sy vrou en kinders.
“Het julle nie lus om parkie toe te stap nie?” stel sy voor. Dadelik los hulle alles en kom na haar toe aangehardloop. Met ’n kind aan elke hand stap Ellen die paar blokke na die parkie met sy koel skadubome en groen grasperke waar die kinders so lekker baljaar. Hulle ry op die skoppelmaaie, gly by die glyplank af, slaan bollemakiesie op die gras en kniel saam by die dammetjie om na die weerkaatsings van die lug en die wolke te kyk.
Tim is nog nie tuis toe hulle terugkom nie. Die son sak en sy bad die kinders en gee hulle kos. Waar bly Tim? Besef hy nie sy is ook eensaam, dat sy na sy geselskap verlang nie?
“Waar is Pappa? Hoekom kom hy nie huis toe nie?” wil Carel weet.
“Hy en oom Jimmy speel muurbal; hy sal netnou hier wees.” Sy stap na die klavier wat in die hoek van die woonkamer staan en maak dit oop. “Wat sal ek vanaand vir julle sing?”
Dadelik verhelder die twee gesiggies. “Van die ou tjankbalie-krokodil,” roep hulle bly.
Glimlaggend begin sy speel en lustig sing die twee kinders saam:
“Ek is ’n eensame krokodil,
mense kyk na my en gril,
ek soek maters, hoog en laag,
maar almal sê ek vreet te graag.”
En dan, met glinsterende oë:
“Kom nou laat ons kennis maak,
ons vriendskap sal so lekker smaak.”
Die een liedjie ná die ander sing Ellen, en haar suiwer altstem vul die vertrek. ’n Pragtige timbre, het haar ou sangmeester altyd gesê, vol en warm en ryk. As sy hard werk, sal hy haar help om ’n beurs te kry sodat sy oorsee verder kan studeer. Hoe hartseer en ontsteld was hy toe sy die dag vir hom gaan sê daar sal nie nog sanglesse wees nie.
As sy maar na hom geluister het! Maar sy was jonk en verlief, daar was ander dinge wat belangriker was as haar sang. Sy en Tim was verloof, en as sy terugdink aan daardie maande besef sy dat dit seker die gelukkigste tyd van haar lewe was. As kind en jong meisie was sy skaam en ingetoë. Sy het nie op skool uitgeblink soos haar neefs en niggies nie, en die wete dat haar ma teleurgesteld in haar was, het haar nog meer in haar dop laat kruip. Dis nie maklik om groot te word in die skaduwee van so ’n bekwame vrou soos Lena Visser, gebore Van Velden, nie!
Op universiteit het dit beter gegaan. Daar kon sy haarself wees, haar eie vriende kies, en haar sang het gehelp om haar meer vertroue te gee. Die feit dat Tim haar gekies het bo al die ander meisies wat hy ken, was vir haar ’n bron van nimmereindigende verwondering en geluk. Soms het sy die gevoel gehad dat dit alles te wonderlik is om waar te wees, dat dit maar net ’n droom is waaruit sy sou ontwaak.
Hoe ru is sy en Tim albei uit daardie droom geruk. Hoe hard en bitter die werklikheid wat gevolg het. Die skok en vernedering; hulle ouers se hartseer en verwyt. Waarom? het haar ma hartseer gevra. Waarom kon julle nie wag nie?
Waarom? Omdat sy Tim liefgehad het, omdat sy bang was sy sou hom verloor as sy nie toegee aan sy eise nie. Wat sou die lewe sonder Tim vir haar wees? As sy ouer en verstandiger was – of geluister het na die stem hier binne-in haar – sou sy geweet het dit is nie die manier om ’n man soos Tim se liefde te behou nie.
Die kinders is uiteindelik in die bed. Dis warm en bedompig in die huis en Ellen stap buite na die stoepie om daar vir Tim te wag. En terwyl sy wag, dink sy aan hom, aan hulle huwelik, aan die groeiende verwydering tussen hulle. Waarheen sal dit lei?
Sy en Tim is nou byna sewe jaar getroud. Dit was nie maklike jare nie, nie vir haar nie en ook nie vir Tim nie. Hulle het swaargekry en dit het opoffering gekos, maar hulle was saam en hulle het vir Carel en Sonja gehad. Sy het geglo dat hulle, ten spyte van die ongelukkige begin, nog ’n sukses van hulle huwelik sou maak.
Blykbaar voel Tim anders oor die saak.
Toe sy destyds agterkom sy verwag ’n baba, het Tim, doodgeskrik, voorgestel dat hulle dadelik trou. Wat anders kon hy doen? Hy het gehoop dat hy met hulle ouers se hulp sy kursus sou kon voltooi, maar Tim se pa het sy voet dwars gesit. Tim het sy kans gehad en verbrou. Hy het reeds van kursus verander nadat hy nie met sy mediese studies die paal kon haal nie. As hy dan nou moes trou, moet hy maar uitspring en sy eie potjie krap. Miskien sou dit help om ’n man van hom te maak.
Hy het Tim gehelp om werk te kry by ’n bougenootskap waar hy met harde werk en privaat studie dit ver kon bring. Maar Tim se hart was nie in die werk nie – hy het nog maar steeds gedroom van die loopbaan wat hy moes prysgee, en in die ses jaar daarna het hy reeds twee keer van werk verander. Van sy studie het daar ook maar min gekom.
Die woonstel met twee klein woelwaters daarin het heeltemal te klein vir hulle geword, en sy en Tim was albei prikkelbaar en gespanne. Hoe dankbaar was sy toe hulle met haar ouers se hulp dié huisie in een van die nuwe voorstede kon koop. Dit was ’n doodgewone huisie, maar sonnig en gerieflik. Daar was ’n tuintjie en haar ma het die klavier vir haar gegee. Carel en Sonja het ’n hondjie gekry, en dit was soos ’n ander wêreld wat vir haar en die kinders oopgegaan het. Hier sal Tim ook gelukkiger wees, het sy gedink. Hy sal nou minder rondloop, hulle sal saam die huis verf, saam in die tuin werk, saam aan hulle toekoms bou.
Maar Tim het nie belang gestel in die huisie wat so anders was as die huis van sy drome nie, of in hulle bure wat doodgewone, hardwerkende mense met jong kinders soos hulle was nie. Hy het die geselskap van sy jong, meestal ongetroude, vriende verkies. Saam met hulle het hy jonk en vry gevoel, kon hy ’n rukkie van die harde werklikheid vergeet.
Sy het altyd vir Tim in die bresse getree as die familie hom kritiseer. Tim was nog jonk; hy was nog nie gereed om die verantwoordelikhede van ’n huis en vrou en kinders te aanvaar nie.
Hy is soos ’n jong perd wat veg teen die toom en stang, want hy weet as hy toegee, is sy vryheid daarmee heen. Gee hom net tyd, hy sal wel bedaar, het sy gedink. Met liefde en geduld sal sy hom wen, hom laat besef dat sy geluk by haar en sy kinders en sy huis lê. Maar tot dusver is daar geen tekens van bedaring nie. Inteendeel, hy raak rusteloser en meer gespanne. Sy kry al meer die gevoel dat hy haar in sy hart blameer vir alles wat gebeur het, dat hy begin voel dat sy en die kinders in die pad van sy geluk en toekoms staan.
Die kinders is lankal in droomland toe Tim en Jimmy daar aankom. Hulle het ná die muurbal blykbaar geswem, en albei is vrolik en ontspanne. Jimmy is omtrent dertig, ’n blonde man met ’n ronde seunsgesig en ronde, ligblou oë. Hy is ’n junior vennoot in sy pa se prokureursfirma, het sy eie luukse woonstel en ry met ’n duur rooi sportmotor rond. Hy hou van sy meisies jonk en gesofistikeerd. Van al Tim se vriende hou Ellen die minste van Jimmy, dalk omdat die vriendskap Tim meer ontevrede met sy eie lewe gemaak het.
“Wat is daar om te eet, koeks?” vra Tim. “Jim en ek is albei dood van die honger.”
Koeks? Hy moet in ’n baie goeie bui wees! Wanneer laas het hy haar “koeks” genoem?
“Ek maak vir julle worsies en eiers – dis al wat daar is.”
Terwyl Tim twee blikkies bier uit die yskas haal, knoop Ellen ’n voorskoot om haar middel en begin kos maak. Teen die tyd dat die worsies en eiers op tafel kom, is Tim en Jimmy reeds met hulle tweede blikkie bier besig.
“Eet jy dan nie saam nie?” vra Jimmy toe hulle aansit en hy sien dat daar net vir twee tafel gedek is.
“Nee, dankie. Ons het vanmiddag troue gehou en ’n yslike middagete geëet.”
“Wie’t getrou?”
“My niggie, Greta Gloete. Jy ken haar mos.”
“Greta? Maar sy is nog sommer ’n piepkuiken. Met wie het sy getrou? Tog nie daardie watsenaam-argitek-ou nie? Wat sê haar ma daarvan?”
“Ek dink nie die ma’s het deesdae veel te sê nie, het hulle?” vra Ellen liggies. Tim is stil, sy gesig uitdrukkingloos.
“Wel, elkeen na sy smaak,” se Jimmy. “Ek het nog nie die meisie ontmoet vir wie ek my vryheid sal prysgee nie.” Hy trek die skottel nader, neem nog van die worsies, skep van die roereier en sê skalks: “Die huwelik het natuurlik sy voordele ook. As ek nou ’n vrou kon kry wat so lekker soos jy kan kook . . .”
“’n Kok is goedkoper en veel minder sonde en ergernis,” sê Tim spottend.
Jimmy lag asof dit ’n yslike grap is. Maar Ellen weet Tim het dit nie as ’n grap bedoel nie.
Jimmy is gelukkig kort na ete weg. Hy en Tim sou vroeg die volgende oggend gholf speel, en hy moes nog iets met sy pa gaan bespreek.
Tim kyk die rooi sportmotor agterna.
“Gelukkige man,” sê hy. “Hy is met ’n silwerlepel in die mond gebore.”
Ellen antwoord nie.
Saam stap hulle die huis binne. Dan sê Tim ongeërg: “Jimmy sê daar is moontlik ’n opening vir my in sy pa se firma. Ek moet die oubaas aanstaande week gaan spreek.”
“Tim! Nie al weer nie!” Die woorde is uit voor sy hulle kan keer. Sy sien hoe sy gesig verhard en sê sagter: “Waarom wil jy ’n verandering maak? Ek het gedink jy is gelukkig en hou van jou werk.”
“Dis wat jy dink! Omdat jy self geen ambisie het nie, kan jy nie verstaan dat ek anders is nie. Jy sal doodtevrede die res van jou lewe hier woon. Maar dis nie wat ek van die lewe wil hê nie. Daarom wil ek ’n verandering maak. Ek soek na iets beters. Ek wil wegkom uit hierdie plek met sy rye eenderse huisies, eenderse tuintjies en eenderse mense. Ek wil wegkom solank ek nog jonk genoeg is om weg te breek. As ek dink ek moet soos ou oom Herklaas dertig, veertig jaar lank jaarin en jaaruit hier woon . . . Vir jou is dit dalk goed genoeg, maar nie vir my nie.”
Ellen kyk na hom, haar gesig wit.
“Jy het dit heeltemal mis, Tim. Ek sou ook graag eendag, wanneer ons dit kan bekostig, na ’n beter woonbuurt en ’n groter huis trek. Maar terwyl ons hier woon, is ons deel van die gemeenskap. Ek wil dit graag vir ons almal so lekker moontlik maak. Daarom het ek die huis geverf en probeer ek om die tuin mooi te hou. Daarom maak ek vriende met die bure.”
Sagter, amper pleitend sê sy: “Hulle is gawe mense, Tim! Net soos ons, droom hulle ook en maak planne vir die toekoms, probeer hulle ook om iets in die lewe te bereik. Hulle wil ook graag vir hulle kinders die beste gee waartoe hulle in staat is. Neem nou die Geyers, en hulle het ons al dikwels genooi om te kom kuier . . .”
“Ek het jou al vantevore gesê ek stel nie belang in die Geyers nie. Hulle is nie ons soort mense nie, ons praat nie dieselfde taal nie. Waarom sal ek my tyd op hulle mors?”
Ellen is ’n oomblik stil, dan sê sy: “Toe ons getroud is, het ek besef dat ons ’n nuwe lewe begin, dat dit . . . verstandiger sal wees om heeltemal weg te breek van my vriendinne. Ek het hulle natuurlik gemis – vir Emmie en Jossie en die ander – maar vandag weet ek dit was die regte ding om te doen. Jy het geweier om jou vriende te los, en daardeur het jy dit vir jouself net dubbel so swaar gemaak. Besef jy nie dat ons nie vriende soos Jimmy en die Vosloos en die Rouxs kan bekostig nie?”
“Jy hou nie van my vriende nie, dis die hele moeilikheid. Jy het nog altyd jou neus vir hulle opgetrek. Jy verkies mense soos die Geyers . . .”
Die ou gevoel van frustrasie, die gevoel dat sy Tim nie meer kan bereik nie, wel in haar op. Maar kalm sê sy: “Dis nie waar nie. Daardie mense se inkomste is dubbel, driedubbel wat ons s’n is. Ons worstel reeds om kop bo water te hou en uit ons skuld te kom. Daardie mense woon in ’n ander wêreld. Ons kan net nie by hulle bybly nie.”
“Dis my wêreld, as dit dan nie joune is nie.”
Moedeloos haal sy haar skouers op. “Wat help dit dat ek praat, jy sal tog maak soos jy wil. Maar het jy al gedink waar jy vandag kon gewees het as jy by die bougenootskap aangebly het?”
“Dis al wat jy kan doen – verwyt, verwyt, verwyt . . .”
“Tim, ek verwyt jou nie. Verstaan jy nie? Ek is ook bekommerd oor ons toekoms. Belowe my dan net jy sal die saak met jou pa bespreek voor jy weer ’n verandering maak.”
“Ek is oud genoeg om vir myself te besluit. Ek het nie nodig om my pa se raad te vra nie. En dit help nie jy sanik verder nie: ek is vasbeslote. Ek is moeg vir ons sukkelbestaan.”
“En moeg vir jou kleinburgerlike vrou en haar kleinburgerlike idees.” Sy is jammer die oomblik toe die woorde uit is. Sy sien hoe strak en wit Tim se gesig is en gaan huiwerig na hom toe. “Ek is jammer,” sê sy sagter. “Ek wou nie met jou rusie maak nie. Ek weet jy is ongelukkig.”
“En jy, Ellen, is jy gelukkig?”
“Hoe kan ek gelukkig wees as ek sien hoe ongelukkig jy is? As ek weet jy voel vasgevang en begin voel ek en die kinders is net ’n remskoen . . .?”
Hy haal sy skouers op. “As ons albei ongelukkig is en besef ons huwelik is ’n mislukking – is dit nie beter om dit te erken en ’n einde daaraan te maak nie? Nou, solank ons albei jonk genoeg is om weer ’n begin te maak?”
Sy staan soos een versteen. Dan het dit gekom. “Jy bedoel . . . ’n egskeiding?”
“Ek sien geen ander oplossing nie. Om so aan te gaan . . .”
Ellen kyk na sy ongelukkige gesig en haar hart is vol deernis en ’n groot jammerte, nie net vir Tim nie, maar ook vir haarself en klein Carel en Sonja, wat saam met hom in hierdie strik vasgevang is. Sy skud haar kop en sê saggies: “Nee, Tim, ek dink nie daaraan nie. Dis nie die oplossing nie. Ons het mekaar liefgehad en ons het mekaar nog lief, ten spyte van die rusies en onenigheid. En buitendien, dis nie nou net jy en ek nie. Daar is ons kinders – het jy dit vergeet?”
Tim draai om en stap sonder ’n woord by die kamer uit.