Читать книгу Goue gerf - Tryna du Toit - Страница 5
ОглавлениеHoofstuk 2
Elizabeth is besig om ’n paar stukkies klere in ’n tassie te pak toe Ethel Fourie ná ’n ligte kloppie die kamer binnekom. Dit is agtuur in die oggend en Ethel het ’n kort, geblomde katoenkamerjas en pantoffels aan. Haar sagte bruin hare is netjies geborsel en met ’n rooi lint van haar gesig af weggebind, en sonder grimering lyk sy in die helder oggendlig ’n bietjie valer en ouer as gewoonlik.
“Ek kom net kyk of ek kan help. Wanneer ry jy?”
“Alles is onder beheer, dankie. Ek is feitlik klaar.”
Ethel kyk hoe sy klaar pak en die tassie toemaak. Elizabeth het vanoggend ’n swart langbroek en ’n blou bloesie aan. Sy weet tannie Cora sal nie daarvan hou nie – tannie Cora dink dis vulgêr en onfatsoenlik vir ’n dame om in ’n langbroek op straat te verskyn – maar sy is haar eie baas en hoef haar nie aan Cora Bornman se eng, bekrompe idees te steur nie.
“Het jy al geëet?” vra Ethel. “Kan ek nie gou vir jou ’n bietjie tee maak nie?”
“Nee, dankie. Ek het ’n paar appels in die motor en ek kan altyd op pad iets drink as ek dors word.”
“Is jy nie bang om alleen so ver te ry nie? Ek kan nou nog ’n plan maak om saam met jou te gaan.”
“Jy is die derde persoon wat aanbied om saam met my te ry,” sê Elizabeth geamuseerd. “Ek het nie besef ek het soveel goeie vriende nie.”
Ethel kyk onseker na haar. Dan sê sy liggies: “Ek weet nie van die ander nie, maar ek is beslis jou vriendin. En ek hou niks van die idee dat jy alleen so ver ry nie.”
Elizabeth tel haar trui van die bed af op en trek dit aan. “Jy het nie die minste rede om onrustig te wees nie. Die son skyn, dis ’n heerlike teerpad, en as ek nie teëspoed kry nie, is ek netnou by die huis.”
“En as jy teëspoed kry?”
“Jy moet die lewe positief benader, nooit negatief nie.” Sy skud haar kop en sê met ’n spottende glimlaggie: “En jy is ’n onderwyseres wat moet help om die karakter van ’n nasie te bou.”
Met ’n glimlaggie gee Ethel die saak gewonne. Elizabeth tel haar tassie en handsak op.
“Tot siens, Ethel. Geniet die lewe. Vanaand is gelukkig Saterdagaand, nè, dan kom die professor weer kuier.”
Die “professor” is Ethel se vriend, ’n jong lektor wat tans vir sy doktorsgraad studeer. Hy is ’n sober, hardwerkende man wat die lewe ernstig opneem en kuiertjies word streng tot die naweek beperk.
Ethel stap saam met Elizabeth tot by die trap, waar sy vir haar tot siens sê. ’n Paar minute later ry die klein Fiat vinnig daar weg en dit word gou deel van die stroom verkeer wat stadwaarts vloei. ’n Halfuur later lê die stad agter haar, en sy trap die versneller dieper in. Die motortjie loop lekker, die pad is betreklik stil en sy kan dit waag om so ’n bietjie te ontspan en haar gedagtes vrye teuels te gee.
Sy het haar pa meer as ’n jaar laas gesien, sestien maande gelede om presies te wees, en sy wonder nou of sy siekte hom verander het. Hy was altyd ’n sterk, gesonde man en die nuus van sy siekte het haar diep geskok. Haar pa ’n hulpelose invalide – dit bly vir haar ’n vreemde gedagte. ’n Hartaanval is nie speletjies nie, en sy word nou nog koud as sy dink hy kon gesterf het sonder dat sy hom ooit weer gesien het.
Haar pa se siekte – haar aangenome pa om presies te wees, hoewel min mense, hier in die stad altans, dit weet – is die eintlike rede vir haar besoek aan Oudendal. Sy is baie verskuldig aan Jan Bornman en ten spyte van alles wat gebeur het, ten spyte van die bitterheid en steeds groeiende verwydering wat die jare tussen hulle gebring het, sal daar in haar hart tog altyd ’n gevoel van dankbaarheid en erkentlikheid teenoor hom wees. Sy dink met verlange aan daardie gelukkige jare toe Jan Bornman en sy mooi blonde vrou haar met hulle liefde en sorg omring het. En as Engela Bornman nie gesterf het nie, sou sy miskien vandag nog geglo het dat hulle haar eie ouers is en sou al die hartseer en bitterheid wat sy later deurgemaak het, haar gespaar gewees het.
Sy was dertien jaar oud toe Engela Bornman skielik oorlede is ’n paar dae nadat sy ’n ernstige operasie ondergaan het. Daarna was dit nooit weer dieselfde nie. Engela was weg en haar verlies is op talle maniere by die verslae jong dogter tuisgebring. Sy was destyds in die koshuis op die dorp en kon slegs met langnaweke en vakansies Leeufontein toe gaan, waar Jan Bornman sonder die hulp en inspirasie van sy geliefde vrou alleen probeer aansukkel het. Ook vir hom was sy vrou se dood ’n verpletterende slag. Die jong Elizabeth het haar bes gedoen om die leemte te vul wat haar ma se heengaan in hulle huis en lewens gebring het, maar sy was die meeste van die tyd op die dorp. Die huishouding is verwaarloos en niemand was juis baie verbaas of het Jan Bornman dit kwalik geneem dat hy net nege maande ná sy vrou se dood weer getrou het nie. ’n Man kan nie so alleen lewe nie en veral op ’n plaas het hy ’n vrou se hulp en sorg nodig.
Almal was blykbaar so iets te wagte, almal behalwe Elizabeth. Vir haar was dit ’n hewige skok en teleurstelling. Sy kon of wou eenvoudig nie aanvaar dat haar pa so gou haar geliefde ma kon vergeet en so gou en so maklik met ’n ander vrou kon trou nie. Later het sy beter besef hoe verlore Jan Bornman sonder sy geliefde Engela was. Sy was die sterk een, die spil waarom alles gedraai het, en toe sy wegval, was dit vir Jan Bornman asof die vaste grond onder sy voete padgegee het. Later kon sy sy eensaamheid beter begryp, die hulpeloosheid van ’n man vir wie daar met algehele oorgawe gesorg is, wat gesteun en onderskraag is in alles wat hy doen . . . en wat dan een oggend opstaan en ontdek dat hy nou alleen verder moet gaan. Dit alles kon sy later verstaan en vergewe. Maar dat hy met Cora van Breda van alle mense moes trou, vir haar in Engela se plek moes stel, dit kon sy nooit begryp of vergewe nie.
Cora van Breda was een van Elizabeth se onderwyseresse. Haar man is ’n paar jaar ná die geboorte van hulle dogtertjie in ’n skietongeluk dood en sy was verplig om weer onderwys te gee. Elizabeth het nooit veel van die temerige, vrome juffrou gehou nie en hulle het dikwels gebots. Haar jonger suster, Ria, was in dieselfde klas as Elizabeth en Elizabeth en haar maats het haar altyd die witbroodjie genoem omdat hulle gedink het sy word voorgetrek. Elizabeth was van jongs af ’n klein waaghals wat vir niks of niemand gestuit het nie en omdat sy gewoonlik die voorbok in alles was, het Cora van Breda haar blameer vir haar suster se ongewildheid en die res van die klas se gevoel teenoor Ria. Cora het later sover gegaan om die saak persoonlik met Jan Bornman te bespreek, en dit was die begin van die einde. Cora het dadelik die moontlikhede wat die situasie inhou, besef. Sy het haar kaarte goed gespeel en Jan Bornman, nog verslae en verpletter deur sy vrou se skielike dood, was nie bestand teen die aanslae van die troulustige jong weduwee met haar vroom gesiggie en soetsappige maniertjies nie.
Elizabeth het van die hele moord niks geweet nie en teen die tyd dat sy agtergekom het wat aangaan, was die troudatum reeds vasgestel en was daar niks meer aan die saak te doen nie.
“Ek hoor jou pa gaan weer trou,” het ’n maat een Maandagoggend met pouse vir haar gesê. Sy het die meisie ’n oomblik aangestaar en toe koel en trots gesê: “Dis nie waar nie!”
“My tannie sê so. My tannie sê hy kuier gereeld by juffrou Van Breda en juffrou Van Breda het vir haar gesê hulle trou sodra die skole sluit.”
“Juffrou Van Breda!” Daar was spot en minagting in haar stem. “Juffrou Van Breda sal haar wat verbeel! My pa sal nooit na háár kyk nie. Dis sommer net praatjies.”
Sy het eenvoudig geweier om te glo dat so iets moontlik is, maar sy was die res van die week bedruk en ongelukkig en toe haar pa haar die naweek onverwags kom haal om saam plaas toe te gaan, het sy sommer geweet daar is onraad. Maar sy het niks gesê nie en eers die volgende dag het haar pa genoeg moed bymekaargeskraap om haar van sy planne te vertel.
Hy het probeer om die nuus mooi en taktvol aan haar oor te dra. Hy is baie eensaam so alleen op die plaas, het hy gesê, en hy het ’n vrou se hulp en sorg bitter nodig. Hy is bekommerd oor sy dogter wat so sonder ’n ma se leiding grootword en hy het besluit dat dit vir hulle albei die beste sal wees as hy weer trou.
“Net nie juffrou Van Breda nie,” het sy ontsteld uitgeroep. “Enigeen, maar nie juffrou Van Breda nie!”
Maar dit wás Cora van Breda. Elizabeth het gesoebat en gehuil en mooigepraat, maar haar pa was onversetlik.
“Ek weet jy hou nie van Cora nie. Cora het my alles vertel, ook hoe onvriendelik jy en jou maats teenoor Ria is. Maar sy verkwalik jou dit nie – kinders is dikwels wreed en onbedagsaam omdat hulle nie besef hoe maklik hulle iemand kan seermaak nie – en sy sê van haar kant af sal sy probeer om in alle opsigte jou ma se plek in te neem. En nou kry jy sommer ’n sussie ook by. Onthou jy nog hoe graag jy altyd ’n sussie wou gehad het?”
“Pa kan met haar trou as Pa wil,” het sy koud gesê, “maar sy sal nooit my ma wees nie. Nooit! Nooit! Nooit nie! Net so min as wat haar kind my suster sal wees.”
Haar pa het moeg en ongelukkig gelyk. “Ek is jammer jy neem so ’n houding in, my kind. Maar Cora het my gewaarsku dat jy aan die begin opstandig sal wees, dat jy eers aan die gedagte gewoond moet raak. Onthou net, ek doen dit vir ons albei, Elizabeth. ’n Dogter kan nie so vir wind en weer grootword nie. Sy het ’n ma se hulp en leiding nodig en ek kan aan niemand dink wat meer geskik is om jou ma se plek in te neem as Cora nie. Sy is ’n goeie vrou en ’n regte dame en het self ook ’n dogter. Ek hoop jy sal jou bes doen om hulle albei gelukkig en welkom hier op Leeufontein te laat voel.”
Verslae en ongelukkig is sy terug skool toe en die selfvoldane, triomfantlike glimlaggie op Ria se ronde poedinggesig was vir haar soos gal. Maar sy het haar kop hoog gehou en selfs haar beste maat het nie geweet wat in haar hart omgaan nie. Daardie Julievakansie is haar pa en Cora van Breda getroud en ná ’n kort vakansie in Durban het hy haar en haar tienjarige dogter, Maybelle, Leeufontein toe gebring.
Daarna was Leeufontein nooit weer dieselfde nie. Cora het die huis laat verbreek en talle ander veranderinge aangebring. Alles wat aan Engela kon herinner, is stelselmatig verwyder en uitgewis. Ria het dikwels daar gekuier en Elizabeth was verplig om haar kamer met haar te deel – dit sou die twee dogters die kans gee om mekaar beter te leer ken! – en Elizabeth, wat so lank die huis en die harte van haar ouers regeer het, het skielik geen seggenskap meer gehad nie. Is dit ’n wonder dat sy soos ’n vreemdeling en ’n indringer in haar eie huis begin voel het?
Al Cora se pogings om die, volgens haar, trotse, parmantige, bedorwe en moedswillige jong meisie tot inkeer te bring, het misluk; van toenadering tussen hulle was daar nie sprake nie.
Op skool het sy nog goed gepresteer; daar het sy altyd vir Ria ver in die skadu gestel. Sy was altyd eerste in die klas terwyl Ria moes swoeg om haar plek hier in die middel te behou. Aan die begin van die jaar is Elizabeth weer as klaskaptein gekies, sy het in die eerste tennis- en korfbalspan gespeel en in hulle groepie was sy die erkende leier in alles. Sy was gelukkig op skool, die enigste vlieg in die salf was Ria. Ria het gedurig stories oor haar aangedra en was die oorsaak van die groeiende spanning en verwydering tussen Elizabeth en haar pa.
En toe kom nog die bitterste slag van almal.
Dit was net ná die langnaweek in Mei, die jaar ná haar pa en Cora se huwelik. Elizabeth was saam met ’n vriendin Laeveld toe terwyl Ria die naweek op Leeufontein gekuier het. Elizabeth het die oggend al ’n paar keer opgemerk dat Ria so snaaks na haar kyk – met dieselfde ingenome uitdrukking op haar gesig wat ou Trix die kat het as sy onverwags ’n pierinkie room gekry het – en sy het gewonder wat aangaan. Ria het egter niks gesê nie, tot die dag dat hulle weer haaks geraak het.
“’n Dame maak nie so nie,” het Ria haar vroom berispe oor die een of ander sonde wat Elizabeth weer begaan het. “Ek sal vir Cora sê wat jy gedoen het.”
“Sê gerus, ou klikbek,” het Elizabeth minagtend geantwoord. “My pa steur hom gelukkig nie aan jou stories nie. Hy weet jy is net jaloers.”
Ria het so rooi soos beet geword. “Ek het geen rede om op jou jaloers te wees nie,” het Ria venynig geantwoord. “Ek is minstens nie ’n optelkind wat nie eens weet wie haar eie ma of pa is nie!”
’n Optelkind? Onbegrypend het sy na Ria gekyk. Sy het nie die vaagste benul gehad waarvan Ria praat nie.
“Wil jy vir my sê jy weet nie dat oom Jan nie jou eie pa is nie?” het Ria leedvermakerig gesê. “Dat jy maar net sy aangenome dogter is nie?”
“Sy aangenome dogter! Dis ’n leuen, en jy weet dit net so goed soos ek. Jy probeer maar net weer soos gewoonlik om kwaad te steek.”
“Vra hom as jy my nie glo nie,” het Ria uitdagend gesê en daar was iets in haar gesig, in die klein blinkbruin ogies, wat Elizabeth met ’n aaklige gevoel van onheil vervul het.
“Dis ’n leuen,” het sy herhaal en omgedraai en weggestap, maar ’n ontsettende onsekerheid is in haar hart gebore, ’n gevoel wat haar in die jare wat gevolg het, nooit weer heeltemal verlaat het nie.
Jan Bornman het later, toe sy hom gevra het, die storie bevestig. Elizabeth is nie sy en Engela se eie dogter nie, maar ’n aangenome kind.
“Waarom het julle my nooit gesê nie?” het sy ontsteld gevra. “Waarom het julle dit al die jare geheim gehou en my nou só laat uitvind?”
“Dit was jou ma se wens. Sy het gedink dis beter so. Jy was net so blond soos sy en almal het aanvaar dat jy ons eie kind is. Maar tannie Cora dink ons het verkeerd gedoen om nie vir jou te vertel nie. Sy dink dit is my Christelike plig om jou die waarheid te vertel.” Hy het die ongelukkigheid in haar oë gesien en lomp sy hand op haar skouer geplaas. “Ek wou jou self vertel, Elizabeth. Ek . . . ek is baie jammer dat Ria dit so uitgelap het.”
Sy het na Jan Bornman opgekyk en stil die groot vraag gevra: “As julle nie my pa en ma is nie, wie is dan my regte pa en ma?”
“Ek weet nie.”
“Was ek . . . is ek ’n buite-egtelike kind?”
“Ek weet nie, Elizabeth, op my woord van eer. Ek weet nie wie jou ouers is nie. Jy was maar net ’n paar dae oud toe die dokter jou vir ons gebring het. Ons was so bly om jou te kry dat ons nooit vrae gevra het nie. Ek . . . sover ek weet, is albei jou ouers dood, maar ek kan nie met sekerheid sê nie. Maar jy moet jou nou nie die besigheid aantrek of jou onnodig ongelukkig maak nie, Elizabeth. Die verlede is verby, dis net die toekoms wat tel. Jy is ’n mooi, slim dogter en as jy so aanhou, sal jy dit nog ver in die lewe bring. Niks het verander nie. Jy is nog altyd my dogter en jy sal dit bly tot ek die dag doodgaan.” Niks het verander nie, het hy gesê, maar sy het van beter geweet.
Later die middag het sy kerkhof toe gegaan en daar by Engela Bornman se graf het sy haar verdriet en verslaentheid uitgesnik. Maar dit was die laaste keer. Sy het nooit daarna weer ’n enkele traan gestort nie.
Die verhaal het natuurlik soos ’n veldbrand deur die skool gegaan. Daarvoor het Ria gesorg. Elizabeth was bewus van die agteraf fluisterings, maar sy het haar kop hoog gehou en gemaak of sy nie weet wat aangaan nie. Sy het nooit die saak met iemand bespreek nie, nie eens met haar beste vriendin nie. In daardie stadium was sy so rou en seer dat sy eenvoudig nie daaroor kon praat nie en later het sy nie die moed gehad om weer die onderwerp aan te roer nie. Maar die gebeure het haar nie onaangeraak gelaat nie. Die gelukkige, sorgelose skooldogter het verdwyn. Die ervaring het haar verbitter; dit het haar ouer, harder en meer onverdraagsaam teenoor haar medemens gemaak. Vroeg reeds het sy van haar mooiste ideale omtrent die liefde en die lewe prysgegee. Sy het ’n alleenloper geword, geleer om haar ongelukkigheid en vertwyfeling vir haarself te hou. Alleen het sy met die groot vraag geworstel: As Engela en Jan Bornman nie haar ouers is nie, wie en waar is haar eie ouers? Waarom het hulle haar weggegee? Omdat sy onwelkom was en vir hulle net ’n las en, wie weet, ’n skande kon wees? By tye het sy haar onbekende ouers gehaat en verag, by tye het sy smagtend na hulle verlang. In daardie eerste maande van ontnugtering was hulle nooit baie ver uit haar gedagtes nie.
As daar iemand was met wie sy die saak kon bespreek, sou dit haar seker baie gehelp het. Maar daar was niemand nie. Die gebeure het ’n diep kloof tussen haar en haar pa veroorsaak, wat hy tevergeefs probeer oorbrug het. Daar was niemand by wie sy hulp of troos kon soek nie, en self moes sy maar weer rigting vind uit die doolhof van onsekerheid waarin sy beland het.
Aan die einde van Junie het Cora geboorte gegee aan ’n seun. Jan Bornman se droom van ’n eie seun en erfgenaam vir Leeufontein is ná baie jare uiteindelik vervul. Daar het groot blydskap op Leeufontein geheers, maar Elizabeth het geen deel daarin gehad nie; sy het buite die warm kring van opwinding en geluk gestaan. Haar eie ouers wou haar nie gehad het nie en die enigste pa wat sy ooit geken het, het sy met die geboorte van sy seun ook finaal verloor.
Miskien was baie van haar ongelukkigheid haar eie skuld. Haar pa het dikwels probeer om weer haar vertroue terug te wen en haar deel van die gesin te maak. Op haar manier het Cora ook toenadering gesoek, maar Elizabeth was te trots en eergevoelig om in te dring waar sy nie welkom was nie.
Ek het hulle nie nodig nie, het sy vir haarself gesê, nie my eie ouers nie en ook nie my aangenome pa nie. Ek sal op my eie voete staan; ek sal self veg vir wat ek in die lewe wil hê. Dit was in daardie veelbewoë dae dat sy finaal besluit het om medies te studeer. Dit was van jongs af haar ideaal om eendag ’n dokter te word, maar haar pa het altyd glimlaggend gesê dat sy te jonk is om te weet wat sy wil doen. Later as sy ryper en verstandiger is, kan hulle weer gesels.
Sy het hard gewerk op skool en haar rapporte was skitterend. Ria daarenteen het steeds swakker en swakker gevaar totdat sy aan die einde van standerd nege besluit het om die skool te verlaat om te gaan werk. Uiteindelik was Elizabeth van haar gehate teenwoordigheid op skool ontslae, maar die kwaad wat Ria gedoen het, deels seker ook maar om haar gevoel van minderwaardigheid weg te steek, kon nie weer ongedaan gemaak word nie. Die gebeure van die laaste vier jaar – haar ma se dood, haar pa se huwelik met Cora van Breda, die geboorte van sy seun en erfgenaam en, ’n jaar later, ’n dogter, die agterbakse Ria se kleinlikheid en gemeenheid en, die bitterste slag van almal, die wrede ontdekking dat sy ’n aangenome kind is met geen eie familie of agtergrond nie – het hulle merk gelaat op die trotse, fyngevoelige jong meisie. Sy het haar ongelukkigheid agter ’n hooghartige houding verberg, nie altyd die invloed wat sy weens haar intelligensie en sterk persoonlikheid op haar maats gehad het ten beste gebruik nie, en sy het nie, soos die algemene verwagting was, hoofmeisie geword nie. Sy het dit nooit laat blyk nie, maar dit was vir haar ’n groot teleurstelling waarvoor sy ook vir Ria met haar skinderpraatjies blameer het.
Ná daardie teleurstelling was sy meer vasbeslote as ooit vantevore om op haar eie voete te staan. Sy het weer met Jan Bornman gesels oor haar planne om dokter te word, maar hom nie baie simpatiek gevind nie. Hy het die saak met Cora bespreek – ná die geboorte van die seun en erfgenaam was Cora die ongekroonde koningin van Leeufontein, wat die septer met ’n ferm hand geswaai het – en toe gesê dat hy definitief nie kans sien vir so ’n lang en duur kursus nie. Met die droogte en ander teëspoed het hy ’n paar moeilike jare agter die rug en hy is nie meer jonk nie en het nog drie jong kinders aan wie se opvoeding en geleerdheid ook gedink moet word. Cora stel voor dat sy ’n verpleegster word, dis ’n baie beter beroep vir ’n meisie, of as sy baie graag verder wil studeer, kan sy ’n onderwyseres word. Sy kan maklik ’n beurs of ’n paar beurse kry en hy sal vir haar die geld voorskiet wat sy verder nodig het. Cora glo, en hy stem saam met haar, dat kinders hulle studiegeld met rente aan hulle ouers behoort terug te betaal. As sy dus medies gaan studeer, sal sy hom aan die einde van haar kursus ’n paar duisend pond skuld. Teen daardie tyd, indien nie eerder nie, het sy seker lankal trouplanne, en hy glo eerlik dat dit baie verstandiger sal wees as sy ’n ander, meer praktiese loopbaan kies.
Jan Bornman se besluit was vir Elizabeth ’n geweldige teleurstelling. Sy het haar trots laat vaar, sy het mooigepraat en gepleit en belowe dat sy eendag elke pennie met rente sou terugbetaal, maar haar pa kon of wou haar nie tegemoetkom nie. Dis alles Cora se skuld, het sy verbitterd gedink. Cora het van die begin af nie van haar gehou nie. Vir Cora is dit nie genoeg dat haar seun eendag Leeufontein sal erf nie, sy is vasbeslote dat Elizabeth niks sal kry nie. As aangenome dogter het sy immers geen aanspraak op Jan Bornman se hart of sy geld nie.
Ongelukkig en verbitterd, maar vasberade om nie haar drome en ideale te laat vaar nie, is sy ná die vakansie terug skool toe. Sy sal nog harder as in die verlede op skool werk en aan die einde van die jaar goed presteer, en as haar pa haar nie wil help nie, sal sy iemand anders kry wat die geld vir haar sal leen. Sy sal op haar eie voete staan; sy sal hulle wys sy het nie hulle hulp nodig nie. Maar daar was ’n seer gevoel in haar hart en ’n groeiende wrok, nie net teenoor Cora en Jan Bornman nie, maar ook teenoor haar eie onbekende ouers wat hulle plig teenoor hulle kind so skromelik verwaarloos het en haar deur hulle selfsugtigheid en onverantwoordelikheid in so ’n onbenydenswaardige posisie geplaas het.
En toe, by al die ongeluk en teleurstelling, het daar iets wonderliks gebeur. Elizabeth het eendag ’n week of twee voor haar sewentiende verjaardag ’n brief gekry van die bestuurder van ’n bekende bougenootskap in Pretoria. Hy het geskryf dat hy aan die einde van die volgende week vir sake Oudendal toe moet kom en dat hy haar graag namens ’n kliënt van hom wil spreek. Hy het voorgestel dat sy hom Saterdagoggend op ’n sekere tyd by die kantoor van die prokureur, Dirk van Dalsen, ontmoet.
Elizabeth was heeltemal uit die veld geslaan deur die onverwagte versoek; sy kon glad nie raai wat aangaan nie. Waarom wil die vreemde man haar kom spreek? Is dit dalk in verband met haar eie ouers? Sy wou eers die saak met haar pa bespreek, maar die herinnering aan sy onsimpatieke houding het haar daarteen laat besluit. Later, as dit nodig is, kan sy hom raadpleeg. Sy wil eers weet wat aangaan.
Sy het dadelik die afspraak bevestig. Sy het vir niemand van die brief of die afspraak vertel nie. As dit slegte of teleurstellende nuus is, sou sy verkies om dit vir haarself te hou. Maar haar verbeelding het die wonderlikste moontlikhede opgetower en dit het moeilik gegaan om haar gedagtes by haar werk te bepaal. Nog nooit het die tyd so stadig verbygegaan soos daardie tien dae nie en teen Saterdag was sy half siek van opwinding.
Op die bestemde tyd is sy na die prokureur se kantoor. Hoe goed onthou sy nog daardie oggend. Dit was Septembermaand en oral was daar tekens dat die lente aangebreek het. Die bome het begin bot, die voëls het gesing en dit was al lekker warm. Maar in Elizabeth se hart was daar vrees en onsekerheid. Sy moes die afgelope jare so baie terugslae verduur dat sy bang was om te hoop dat die vreemdeling se besoek vir haar iets goeds kan inhou.
By die prokureur se kantoor was hulle haar blykbaar te wagte en die tikster het haar dadelik na een van die kantore geneem waar die besoeker, ’n meneer Barnard, ’n ouerige man met grys hare en ’n ietwat streng voorkoms, reeds vir haar gewag het.
“Die posisie is kortliks dit, Elizabeth,” het meneer Barnard gesê nadat hulle kennis gemaak en hy haar die een en ander oor haar skoolloopbaan gevra het, “ons kliënt, wie se naam in geen omstandighede bekend gemaak mag word nie, het tien jaar gelede ’n trustfonds vir vyftienhonderd pond in jou naam gestig. Die geld plus die saamgestelde rente, wat teen dié tyd by die sewehonderd pond beloop, kry jy wanneer jy die dag een-en-twintig jaar oud is, oor vier jaar. Maar volgens ’n bepaling van die trust kan voorskotte gemaak word mits jy dit vir studiedoeleindes gebruik.”
Elizabeth kon haar ore nie glo nie. Dit is die antwoord op al haar gebede. Gretig verduidelik sy vir hom wat die posisie is en hy luister belangstellend.
“Jou pa is heeltemal reg, die mediese kursus is lank, moeilik en duur. As ek ’n dogter gehad het, sou ek ook liewer gesien het dat sy ’n ander loopbaan kies.”
“Dit was altyd my ideaal om dokter te word, al moet ek die geld leen. Dit is ’n lang en seker ’n moeilike kursus, maar ek is nie bang om hard te werk nie. Ek . . . as u wil, kan ek u van my laaste rapporte stuur, dan kan u self oordeel.”
Meneer Barnard het effens geglimlag. “Dit sal nie nodig wees nie. Ek is heeltemal op hoogte van jou skoolprestasies. Volgens die jongste rapporte is jy ’n uiters begaafde en pligsgetroue student en as dit werklik jou hartsbegeerte is om dokter te word, sal ek jou nie teëgaan nie.”
Elizabeth staar hom aan. Dan sê sy: “Meneer Barnard, weet u dat ek ’n aangenome dogter is, dat . . . dat meneer Bornman nie my pa is nie?”
Meneer Barnard aarsel. “Ek was nie daarvan bewus nie, tot ’n maand of twee gelede toe ek ter voorbereiding van jou sewentiende verjaardag ’n paar navrae begin doen het.”
Weer staar sy hom aan, dan vra sy gespanne: “En u kliënt, die persoon wat die trustfonds geskep het, kan u my iets van hom vertel? Is dit . . . is dit moontlik dat dit miskien my regte pa kan wees?”
“Ek is jammer, Elizabeth, ek kan jou niks vertel nie. Die donateur se identiteit mag in geen omstandighede geopenbaar word nie.”
“Lewe hy of sy nog, meneer Barnard?”
Die man kyk na die gespanne gesiggie en sien die onbewuste smeking in die besonderse blou oë. Dan skud hy sy kop. “Nee, hy lewe nie meer nie. Hy is skielik oorlede binne ’n jaar nadat hy die fonds gestig het.”
Dan is dit ’n man, dink sy, moontlik ’n ouerige man. “En u kan my niks meer vertel nie?”
“Ek kan jou absoluut niks meer vertel nie. Ek het hom self nooit ontmoet nie. My vennoot, wat alles met hom gereël het, is op die oomblik in die buiteland. In ieder geval, die saak is streng vertroulik. Nóg ek nóg hy kan jou enige inligting hoegenaamd oor die donateur gee. As jy die trustgeld aanvaar, sal dit op daardie voorwaarde wees. En as jy besluit om die geld vir verdere studie te gebruik, sal dit onder my of my vennoot se voogdyskap moet geskied totdat jy mondig is.”
Terwyl Elizabeth nou na Oudendal en Leeufontein ry waar haar aangenome pa van sy hartaanval herstel, dink sy weer terug aan al hierdie dinge. Die gebeure daardie oggend, die besoek van die vreemdeling en die wonderlike nuus van die trustfonds, het ’n diep indruk op haar gemaak. Met gemengde gevoelens van dankbaarheid, nuuskierigheid, bitterheid en verlange het sy aan die geheimsinnige donateur gedink. Dan was sy darem nie heeltemal vergete nie. In die groot, onvriendelike wêreld was daar tog iemand wat aan haar gedink het, hom oor haar ontferm het. Hoe graag, hoe bitter graag sou sy nie met hom kennis wou gemaak het nie, van hom die geheim wou verneem het wat haar al soveel slapelose nagte en soveel ongelukkigheid besorg het. Maar hy is dood en die geheim is moontlik saam met hom begrawe.
Sy het sonder aarseling die trustlating aanvaar. Daaroor was daar van die begin af by haar geen twyfel nie. Dit is die antwoord op haar gebede. Sy hoef nie langer soos ’n bedelares in ander se oë te kyk nie; sy kan haar kursus voltooi sonder om haar oor geld te bekommer. In die toekoms is sy haar eie baas en kan sy doen wat sy wil.
Later, nadat sy self eers aan die gedagte gewoond geraak het, het sy haar pa die nuus vertel. Hy het nie veel gesê nie. Hy was blykbaar teleurgesteld omdat sy hom nie dadelik geraadpleeg het nie, maar hy het geen beswaar gemaak dat sy die geld gebruik om verder te studeer nie.
Soos gewoonlik het tannie Cora ook haar stuiwer in die armbeurs gegooi. “Ek sê nog ek dink dis onverstandig vir ’n meisie om so ver te leer. Netnou kry jy trouplanne en dan is al daardie geld in die water gegooi. Bêre dit liewer; so ’n neseier sal later as jy getroud is baie handig te pas kom.”
“Ek sal nie gou trouplanne kry nie,” het sy koeltjies geantwoord.
“Jy weet nie waarvan jy praat nie, Elizabeth,” het tannie Cora met ’n beterweterige glimlaggie gesê. “As ’n meisie die dag verlief raak, is dit klaarpraat met al haar mooi drome en planne.”
“Dankie, tannie Cora,” het sy uit die hoogte geantwoord, “maar as ek die dag trou, sal dit nie vir liefde wees nie. En al trou ek ook, is ek nie van plan om op te hou praktiseer nie.”
“En wie moet na jou huis en kinders kyk? Moet hulle maar vir wind en weer grootword?”
“Ek het nog nie besluit of ek kinders wil hê of nie,” het sy geantwoord. “En ’n mens kan altyd ’n huishoudster kry wat die huis en ander verantwoordelikhede net so goed, en nog beter, as baie huisvrouens kan behartig.”
Cora het geen antwoord daarop gehad nie. So ’n onnatuurlike lewensbeskouing het sy eenvoudig net nie begryp nie.
Aan die einde van die jaar het Elizabeth die matriekeksamen met ’n hele paar onderskeidings geslaag. Aan die begin van die eerste semester is sy Pretoria toe, waar sy haar mediese kursus begin het. Sy wou nie graag koshuis toe gaan nie – teen daardie tyd het sy al genoeg van koshuise en koshuisreëls gehad – maar meneer Barnard wou nie toelaat dat sy op haar eie bly nie. Maar eintlik was die lewe glad nie so onaangenaam nie en die wete dat sy uiteindelik op haar eie voete staan, het meer as vergoed vir die bietjie ongerief wat die koshuislewe meegebring het.
Sy en meneer Barnard het goed oor die weg gekom. Behalwe dat hy daarop aangedring het dat sy in die koshuis moet bly, het hy nie onnodig in haar lewe ingemeng nie. Haar universiteits- en koshuisgeld is stiptelik betaal en hy het haar ’n redelike bedrag vir klere en sakgeld toegelaat. Van haar aangenome pa wou sy niks neem nie, nie geld nie en ook nie klere nie. Sy is dankbaar vir alles wat hy reeds vir haar gedoen het, het sy gesê, maar, soos hy self gesê het, daar is nog drie jong kinders in die huis en hy het baie ander verpligtinge. Sy het lank genoeg op sy nek gelê. Haar houding het hom moontlik ’n bietjie gekrenk, maar ná al die ongelukkigheid en vernedering wat sy verduur het, was dit nogal aangenaam om hom so ’n bietjie in eie munt terug te betaal.
In die jare wat gevolg het, het sy al hoe minder van Leeufontein se mense gesien. Aan die einde van haar eerste jaar het sy in die lang Desembervakansie by ’n apteek in die stad gewerk en daarna het sy gereeld vakansietye gewerk en slegs af en toe vir ’n naweek of ’n kort vakansie huis toe gegaan. Haar briewe aan haar pa het minder en minder geword en mettertyd het hulle byna heeltemal voeling met mekaar verloor. Twee jaar gelede was sy Kersfees baie eensaam en het sy so heimwee gehad dat sy op ’n skielike ingewing besluit het om Leeufontein toe te gaan. Die kuiertjie was nie ’n sukses nie. Die huis was vol van tannie Cora se familie – Ria was ook daar – en haar kamer is intussen deur Maybelle betrek en na haar smaak verander. En hoewel haar pa probeer het om haar tuis te laat voel, was sy miserabel en kon sy nie gou genoeg van die plaas af wegkom nie.
Dit is nou byna sestien maande gelede en sy was daarna nog nooit weer daar nie.
Oor haar eie ouers het sy nog dikwels gedink, soms met verlange, dikwels met bitterheid en verwyt. Sy het hulle nie nodig nie, het sy herhaaldelik vir haarself gesê. Deur eie inisiatief, deur harde werk en volharding, sal sy ’n sukses van haar lewe maak. Maar soos die jare verbygegaan het, het daar ander probleme opgeduik. Sy het uitgevind dat daar een vraag is wat gedurig opgeduik het waar sy ook al gegaan het: Wie en wat is jou ouers? In haar studie oor genetika het sy geleer wat ’n belangrike rol oorerwing in die mens en dier se lewe speel en in haar sosiale lewe, in haar omgang met haar vriende, het sy dikwels agtergekom dat jy volgens jou familie getakseer word. As jou stamboek reg is, is die wêreld vir jou oop.
Sy het aan die begin maklik genoeg verbygekom deur te sê dat haar pa ’n boer in die Oudendal-distrik is. Maar sy het geweet, eendag is eendag, dan sal die waarheid die leuen inhaal. Eendag sal sy iemand ontmoet wat Jan Bornman en die verhaal van sy aangenome dogter ken en sal sy met skaamte moet erken dat sy nie weet wie haar pa of haar ma is nie. Eendag sal sy ’n man ontmoet, ’n man soos Ryk of Oswald, wat haar dieselfde vraag sal vra en vir wie sy graag die waarheid sal wil vertel. Wat gaan sy dan sê?
Dis al hierdie gedagtes wat haar laat besluit het om weer met Jan Bornman te gaan praat. As hy dan niks meer vir haar kan sê nie, kan hy minstens vir haar sê wie die dokter is wat haar aan hulle besorg het. Die dokter – dit is haar eerste en belangrikste leidraad; van daar af kan sy verder gaan. Sy wou ’n plan maak om Juliemaand of miskien vroeër vir haar pa te gaan kuier en die saak met hom te bespreek. Hy is die enigste een wat haar kan help. En toe, nadat sy klaar besluit het, is sy weer oorval deur ’n vlaag van onsekerheid. Moet sy nie liewer sake laat soos hulle is nie? Wat ’n mens nie weet nie, kan jou nie kwaad doen nie. Wie weet wat alles te voorskyn kom as sy nou in dinge begin krap? ’n Optelkind, het Ria gesê, en met wie weet watter onsmaaklike agtergrond. As ’n man nie kans sien om haar te vat soos sy is nie, waarom sal sy haar pa daaroor lastig val?
Die nuus van haar pa se hartaanval het haar groot laat skrik en haar tot ’n onmiddellike besluit gedwing. Haar pa het dié hartaanval oorleef, maar miskien sal hy ’n tweede keer nie so gelukkig wees nie. As sy met hom wil praat, moet sy dadelik gaan. Sy moet uitvind wie die dokter is. Moontlik laat sy die saak net daar, maar voor haar pa sterf, moet sy daardie inligting by hom kry.
Sy het dadelik vir haar pa geskryf om te sê dat sy kom, en gister die telegram gekry om te sê dat hy terug op die plaas is en dat hulle haar verwag. ’n Oomblik het sy gedink dat die telegram slegte nuus bevat, dat die noodlot haar weer eens ’n wrede poets gebak het, maar hierdie keer het sy dit gelukkiger getref.
Sy het nog nie juis vantevore gedink hoe haar pa se siekte sy eie lewe en dié van sy gesin sal raak nie. Sal hy in staat wees om ná ’n rukkie weer sy plaaswerk te hervat, of sal hy die res van sy lewe ’n semi-invalide wees? En as hy nie kan nie, wie gaan die plaas bestuur? Maybelle is teen hierdie tyd al byna sewentien, maar Kleinjan is maar ses en Lena twee jaar jonger. Dit sal nie so ’n maklike taak wees om die twee alleen groot te maak nie. Maar dié keer sal dit nie weer vir Cora nodig wees om te gaan skoolhou nie. Dié keer sal Cora Leeufontein hê, en al kla hulle gedurig oor die droogtes, swak oeste en swaar belastings, is Leeufontein seker vandag ’n mooi sommetjie werd. En Cora sal sorg dat sy en haar kinders alles kry wat daar te kry is. Nie dat sy, Elizabeth, iets van hulle wil hê nie. Sy kan vir haarself sorg; aan die einde van volgende jaar behaal sy haar graad. Sodra sy haar hospitaaljaar voltooi het, wil sy Engeland of Amerika toe gaan om daar te werk en verder te studeer. Eendag sal sy ’n beroemde vrouedokter wees na wie almal sal opsien. Dan sal die vraag “wie is jou pa” haar nie meer kan raak nie.
Trou? Sy het vroeër gedink dat sy nooit sal trou nie. Die liefde is ’n bedrogspul en ’n illusie en die een wat sy huis op daardie fondament bou, sal bedroë daarvan afkom. Maar so stadigaan kom sy tot ander insigte. ’n Alleenlopende vrou is ’n eensame wese. In die sosiale lewe het sy geen status nie; ander vrouens kyk met jammerte of agterdog na haar. Geen mens, ook nie ’n beroemde vrouearts nie, kan vier-en-twintig uur van die dag met werk vul nie. Al presteer sy ook ver bo verwagting in haar beroep, bly sy nog ’n vrou, met die verlangens en behoeftes wat eie aan elke vrou is. Sy glo nie aan liefde nie, maar daar is ander, stewiger fondamente as liefde waarop ’n vrou haar lewe kan bou. Eendag sal sy ’n man ontmoet na wie sy in alle opsigte kan opsien en met wie sy graag die jare wat nog voorlê, sal wil deel. Dit is om haar vir daardie dag voor te berei dat sy vandag Leeufontein toe gaan.