Читать книгу Goue gerf - Tryna du Toit - Страница 6

Оглавление

Hoofstuk 3

Leeufontein is ’n entjie van die grootpad af geleë, sowat vyftien myl noord van Oudendal. Die wit woonhuis met die groen luike lê bo teen ’n bult en op hierdie mooi herfsoggend lyk dit vriendelik en gesellig. Daar is skielik ’n knop in Elizabeth se keel toe sy dink aan die gelukkige jare wat sy hier op die ou plaas deurgebring het, en sy dink weer hoe anders haar lewe sou gewees het as Engela Bornman nie so onverwags te sterwe gekom het nie.

Die plaaspad is stowwerig en ongelyk en terwyl sy ’n bietjie stadiger aanry na die huis teen die bult, dink Elizabeth aan daardie jare toe sy en Engela en Jan Bornman alleen hier op Leeufontein gewoon het. Die Bornmans was lief en goed vir haar, hulle was gelukkig saam en Leeufontein was die wonderlikste plek op aarde. Engela kon natuurlik nie haar dood voorsien het nie, maar Elizabeth dink nou sy kon haar aangenome dogter beter vir die lewe en die harde, onvriendelike wêreld daar buite toegerus het as sy haar van die begin af die waarheid vertel het. Dan sou die skok en ontnugtering nie so groot gewees het nie. Want van al die seerkry is daardie wond die diepste en neem dit die langste om te genees: die wrede ontdekking dat die Bornmans nie haar eie ouers is nie en dat sy, soos Ria dit gestel het, maar net ’n optelkind is wat nie eens weet wie haar eie ma en pa is nie.

Sy blameer nie vir Engela nie. Wanneer sy aan Engela dink, is dit met liefde. Sy sal daardie vroeë jare op Leeufontein voordat die ongelukswolke om haar saamgepak het altyd met vreugde en dankbaarheid onthou. Dis net dat sy so totaal onvoorbereid was op wat later gevolg het.

Maar die verlede is verby, net soos Engela vir altyd weg is; dis aan die hede, aan die mense wat nou op Leeufontein woon en die rede vir haar besoek, dat sy moet dink.

Op die huis se breë stoep, in ’n diep, gemaklike stoel met ’n ligte reisdeken om sy bene, sit Jan Bornman. Hy het nog nie heeltemal herstel van sy onlangse siekte nie. Hy is nog bleek en lyk moeg en gespanne, maar hy voel beter en die dokter het uiteindelik toegestem dat hy elke dag ’n uur of twee lank regop in ’n stoel kan sit. Dit is warm en sonnig hier op die stoep en van hier af kan hy hom verlustig in die mooi herfslandskap wat voor sy oë uitgesprei lê. Ná sy siekte is Leeufontein vir hom dierbaarder as ooit vantevore, en hy dank opnuut die Goeie Vader dat hy ’n seun het wat in sy voetspore kan volg as hy die dag wegval. Dit sal nog baie jare wees voordat Kleinjan die boerdery self kan behartig, maar net die wete dat sy geliefde Leeufontein nie eendag ná sy dood na vreemdes hoef te gaan nie, is al ’n groot troos en gerusstelling.

Hy dink weer aan Engela, sy eerste vrou. Sy was die afgelope weke, vandat hy siek geword het, nogal dikwels in sy gedagtes. Hoe vreemd en onpeilbaar is die weë van die Here nie, dink hy. Engela was vir hom ’n wonderlike vrou en as dit so bestem was, sou hy tot die einde van sy dae gelukkig saam met haar gelewe het. Dan sou Elizabeth eendag Leeufontein geërf het. Maar Engela se dood het alles verander. Hy is weer getroud en hy het vandag ’n eie seun wat grootword in die wete dat hy eendag hier op Leeufontein baas sal wees. Hy sal natuurlik sorg dat Maybelle en klein Lena ook hulle deel kry, maar dit is Kleinjan, sy seun, wat eendag Leeufontein sal erf.

En Elizabeth? Sy gewete kwel hom dikwels oor Elizabeth en dis met ’n swaar hart dat hy aan haar dink. Hy sou graag aan haar ook ’n klein erfporsie wou nagelaat het, maar Cora wil nie daarvan hoor nie. Elizabeth het goed van haar eie mense geërf, sê Cora, en ná die manier waarop sy hulle behandel het, het hulle geen verdere verpligting teenoor haar nie. Hy is nog altyd hartseer oor die vervreemding wat daar tussen hom en sy aangenome dogter gekom het, maar Cora het hom oor en oor verseker dat dit alles Elizabeth se skuld is. Hulle het geen aandeel daarin nie. Elizabeth is ’n harde, moeilike, trotse kind wat geen raad of leiding wou hê nie – nie van hom nie en ook nie van Cora nie. Sy was gedurig in opstand teen hulle en het hardnekkig geweier om Cora in Engela se plek te aanvaar.

Dit is heeltemal waar. Elizabeth is ’n moeilike, onverstaanbare dogter; sy het herhaaldelik sy en ook Cora se pogings tot toenadering verwerp. Tog is hy nog altyd bewus van ’n skuldgevoel teenoor die kind, ’n gevoel dat hy haar gefaal het juis toe sy hom die nodigste gehad het.

’n Oomblik is die beeld van sy oorlede vrou helder voor sy oë. Engela was ’n mooi vrou, kalm en statig, met rustige blou oë en gladde geel hare wat sy in ’n vlegsel om haar kop gekam het.

“Elizabeth lyk nes Engela,” het die mense altyd gesê en dan het Engela net geglimlag en haar hand ’n oomblik liefkosend op Elizabeth se goue krulle gelê. Wat Engela betref, was Elizabeth haar eie kind. Geen eie ma kon haar beter en met meer liefde versorg en vertroetel het as Engela nie. Wat ’n stukkie sonskyn was die klein Elizabeth met haar laggende blou oë, goue krulle en bloesende wange nie. Leergierig, nuuskierig, altyd aan die gang – ’n regte klein ribbok vir wie geen boom te hoog en geen rantjie te steil was nie. Op skool het sy pragtig presteer en hy kan nog onthou hoe trots hy en Engela op haar rapporte was. Engela veral het die kind aanbid en hulle het haar natuurlik ’n bietjie bederf, en daardeur, soos Cora sê, vir hulle almal later ’n hele boel moeilikheid op die hals gehaal. Is dit omdat hulle te sag en toegeeflik was dat Elizabeth later so verander het? Hard en koppig, vol bitterheid – hy kan nie glo dis dieselfde klein mensie wat met haar koms soveel vreugde in hulle huis en hulle harte gebring het nie.

Engela se dood was natuurlik vir die kind ’n kwaai skok en sy huwelik met Cora het die eerste wig tussen hulle geslaan. Daarna kon hulle mekaar nooit weer vind nie, hoe hard hy ook al probeer het.

Cora sê hulle moes Elizabeth van die begin af die waarheid vertel het. Moontlik is sy reg, maar aangesien hulle tog die waarheid verswyg het, moes hy seker die geheim ’n rukkie langer bewaar het, al was dit net totdat Elizabeth ’n bietjie ouer en ryper was. Maar die wete dat Cora ’n kind verwag, dat hy miskien ná al die jare ’n seun sal kry, het nuwe betekenis aan sy lewe gegee, en in sy geluk en opwinding het hy eendag toe hulle oor die toekoms gesels het die geheim vir Cora vertel. Hy het nooit bedoel dat sy vir Ria moes vertel nie, of dat Ria dit so aan Elizabeth moes uitblaker nie, maar die koeël was deur die kerk en Elizabeth se vertroue in hom en in die lewe het ’n verdere knou gekry. Met die jare het daar steeds groter verwydering tussen hulle gekom en met haar laaste besoek voorverlede Kersfees het hy besef dat hulle vreemdelinge vir mekaar geword het.

En toe kom Elizabeth se briefie om te sê dat sy jammer is om van sy siekte te hoor en dat sy vir hom wil kom kuier. Dis ’n mooi gebaar en hy waardeer dit baie. Hy het vir Cora gesê dat hulle van hulle kant af alles moes doen om haar kuier so aangenaam as moontlik te laat verloop.

Hy kyk op toe Cora langs hom praat. “Tyd vir jou medisyne, ou man.”

Hy neem die pilletjie by haar en sluk dit met ’n bietjie water af. Sy vou die kombers ’n bietjie stywer om hom.

“Hoe voel jy?”

“Goed, dankie. Dis lekker om hier buite te sit en te sien wat aangaan. As Jonas netnou terugkom, stuur hom tog na my toe. Ek wil ’n bietjie met hom gesels.”

“Onthou, die dokter het gesê jy mag jou nie bekommer of ooreis nie. Dan is jy netnou-netnou weer terug in die hospitaal.”

“Ek sal oppas.”

Cora kyk na die pad wat langs die lusernlande verbykom.

“Nog geen teken van Elizabeth nie?”

“Ek het nog niks gewaar nie. Ek hoop nie sy het teëspoed gekry nie.”

“Miskien het sy besluit om nie meer te kom nie. Jy weet hoe onbedagsaam vandag se kinders is. In ieder geval, moet jou nie bekommer nie. Ek sal baie ontevrede wees as haar kuier jou omkrap of ontstel. En onthou wat ek jou gesê het: Jy het geen morele verpligting teenoor Elizabeth nie. As sy miskien kom gesels oor jou testament . . .”

“Ek is heeltemal seker dis nie die rede vir haar kuier nie,” sê hy stil. “Het sy nie die afgelope jare geweier om ’n enkele pennie van my te neem nie?”

Cora haal haar skouers op. “Dit was maar net koppigheid. Noudat jy so siek was, voel sy miskien anders oor die saak. In ieder geval, onthou maar wat ek gesê het.”

Peinsend kyk Jan Bornman sy vrou agterna. Cora het nie veel verander in die byna agt jaar sedert sy Leeufontein toe gekom het nie en hy twyfel of sy ooit sal verander. Sy is ’n bietjie ronder en meer geset, ’n bietjie sekerder van haarself, maar nog net so bekrompe in haar uitkyk op die lewe, altyd besig om te kritiseer en fout te vind met haar medemens. Op haar manier het sy hom seker lief, maar dis ’n klein, beperkte liefde wat nie veel vra nie en wat ook nie veel het om te gee nie. Net so ruim van hart en gees soos Engela was, net so klein en eng is Cora. En tog is sy ’n goeie vrou: netjies, pligsgetrou, hardwerkend en spaarsamig. Net jammer dat die jare nie ’n verruiming van gees gebring het nie.

Miskien is dit omdat hy soveel ouer is as sy – daar lê byna sewentien jaar tussen hulle – dat hulle mekaar nooit kon vind nie, dat hulle nooit werklik vriende was soos hy en Engela nie, maar hy vermoed dat dit nooit anders met Cora sou gewees het nie. Maar hy het geen klagtes nie. Cora het vir hom die seun gegee waarna hy sy hele lewe verlang het en daarvoor sal hy haar altyd dankbaar bly.

Hy hoor meteens ’n sagte dreuning en toe hy opkyk, gewaar hy die stofwolkie wat agter die eerste bult uitslaan. Dit sal seker Elizabeth wees. ’n Rukkie later herken hy die klein swart Fiat en nog ’n rukkie later hou Elizabeth voor die hekkie stil.

Elizabeth klim uit die motor en sy hart sak effens toe hy haar sien. Waarom moet die kind nou met ’n langbroek hier aankom? Sy weet tog goed wat Cora se gevoelens oor die saak is. Of doen sy dit opsetlik, net om Cora te ontstig? As dit die gees is waarin sy Leeufontein toe gekom het, moes sy liewer daar in die stad gebly het.

Die kinders, gevolg deur Cora, kom uitgehardloop om die besoeker te verwelkom. Kleinjan, ’n sterk, stewige knapie van sewe jaar, is voor, terwyl Lena op haar vet beentjies agternagedraf kom. Jan Bornman merk hoe Cora skielik vassteek toe sy vir Elizabeth sien, merk die misnoeë op haar ronde, blas gesig en hy sug saggies.

“Gaan haal Elizabeth se koffer, Kleinjan,” beveel hy en sy stem is skerper as gewoonlik. Kleinjan draf om te gehoorsaam, en in stilte kyk hy hoe Kleinjan Elizabeth ewe plegtig met die hand groet.

Hoe mooi is die kind, dink hy toe sy nader kom. Haar houding is trots en grasieus en die son blink in die blonde hare en op die mooi vel. Selfs die onooglike langbroek kan nie die mooi rondings van haar slanke jong figuur verberg nie. Voorwaar ’n dogter om op trots te wees.

Elizabeth groet Cora met ’n koel soentjie op die wang, blykbaar nie eens bewus van haar misnoeë nie. “Haai, vetsakkie,” sê sy vir Lena en lê haar hand ’n oomblik liggies teen die dogtertjie se wang. Dan stap sy na hom toe. ’n Oomblik rus die blou oë ondersoekend op hom, dan buk sy en soen hom liggies op die wang.

“Hallo, Vader. Ek is bly om te sien dat dit beter gaan.”

“Dit gaan sommer baie beter, dankie. My hande jeuk al om weer aan die werk te spring.”

“Jy sal maar jou ongeduld moet bedwing, Jan,” sê Cora ferm. “Jy weet jy was baie siek en dokter het gesê dat jy jou in geen omstandighede mag kwel of ooreis nie. Ek dink juis jy was lank genoeg op. Dis tyd dat jy weer in die bed kom.”

“Ek wil eers saam met julle hier op die stoep tee drink,” antwoord Jan Bornman kalm. “Daarna sal ek gaan rus.”

Hulle drink saam tee, dan neem Cora Elizabeth na die spaarkamer, ’n stywe, ongesellige kamer wat Elizabeth nog meer na ’n vreemdeling en ’n indringer laat voel.

“Is Maybelle die naweek by die huis?” vra sy vir Cora. Maar natuurlik, al is Maybelle nie by die huis nie, het sy geen aanspraak op die kamer wat so lank hare was nie.

“Maybelle speel vanoggend ’n korfbalwedstryd; sy kom vanmiddag saam met vriende uit. Maak jou maar tuis, Elizabeth. En as ek iets mag vra, sal jy nie liewer ’n rok aantrek nie? Ek weet daar in die stad trek julle so aan, maar hier op Leeufontein kleef ons nog aan die ou gewoontes en tradisies. Maybelle kom ook vanmiddag huis toe en jy weet hoe maklik die jong mense beïnvloed word. Maybelle is nog baie kinderlik en onskuldig en ek wil haar graag so lank moontlik so hou. En daar is nog iets, Elizabeth. Vader was werklik baie siek gewees en dokter sê dat enige ontsteltenis, selfs onnodige opwinding, hom weer ’n kwaai terugslag kan gee.”

Sonder om op ’n antwoord te wag, draai sy om en stap weg. Met onsiende oë staar Elizabeth deur die spaarkamervenster. Haar hande is styf inmekaargeklem en daar is ’n naar, hol gevoel op haar maag. Cora met haar vroom gesig en sagte maniertjies . . . wat ’n haatlike, bemoeisieke persoon is sy in werklikheid! Hoe kon Jan Bornman ooit met haar getrou het, al die jare saam met haar gelewe het? Watter reg het Cora om vir haar te sê hoe om aan te trek? En dan kom die herinnering aan Jan Bornman se bleek, vervalle gesig, en haar verset verdwyn net so vinnig as wat dit gekom het. Sy was geskok om te sien hoe oud haar pa die afgelope sestien maande geword het. Hy is grys en moeg en lyk baie ouer as sy sewe-en-vyftig jaar. Die minste wat sy kan doen, is om te sorg dat haar besoek hom nie onnodig ontstel of vermoei nie.

Terwyl sy ’n wye, bont romp en ’n skoon bloesie aantrek, wonder sy wanneer sy ’n geleentheid sal kry om alleen met haar pa te gesels. Nou, terwyl Cora in die kombuis besig is? Maar toe sy die gang afstap, is haar pa se kamerdeur toe en sy waag dit nie om in te gaan nie.

Buite op die stoep wag Kleinjan en Lena vir haar. Hulle stap saam met haar in die tuin rond en terwyl sy al die ou, bekende plekkies opsoek, luister sy na alles wat hulle te vertel het. Kleinjan is nie baie geesdriftig oor die koshuis op die dorp nie en hy is baie verbaas om te hoor dat Elizabeth sy koshuis goed ken. Kleinjan is nie ’n onaardige seuntjie nie, dink Elizabeth. Hy lyk na Jan Bornman en hy het ook sy sagte geaardheid. Lena laat haar aan haar aartsvyand, Ria, dink – sy het dieselfde ronde poedinggesig wat Ria gehad het – maar sy is ’n oulike, amusante kleinding en Elizabeth wonder waarom Jan en Engela Bornman destyds nie sommer ’n halfdosyn kinders aangeneem het nie.

En dan kom ’n nuwe gedagte by haar op. Was sy haar ouers se enigste kind of is daar miskien êrens nog ’n broer of ’n suster wat dieselfde eensaamheid en vernedering as sy deurgemaak het? Sy brand van haastigheid om met Jan Bornman te gesels. As daar nie gou ’n geleentheid kom nie, sal sy verplig wees om een te maak.

Cora het later buite op die stoep by hulle kom sit. Elizabeth verneem na ou bekendes en vra uiteindelik hoe dit met Ria gaan.

“Tannie, Ria het ’n baba,” sê Lena dadelik. “Net so groot,” sê sy en maak haar vet handjies bak.

“Is Ria getroud?” vra Elizabeth verbaas.

“Ja, verlede jaar,” antwoord Cora styf.

“En sy het reeds ’n gesin! Arme Ria,” sê sy liggies, spottend. “Maar dit was altyd haar groot ideaal in die lewe om ’n man en ’n eie huis te hê. Die kinders volg natuurlik vanselfsprekend.”

Cora se gesig is rooi – van ergernis of verleentheid?

“Dis die ideaal van iedere regdenkende vrou wat die naam van vrou en moeder werd is. Ek weet nie wat van die huidige geslag jong mense gaan word nie. Hulle het geen beginsels, geen ankers nie. Hulle is losbandig en oppervlakkig en dink net aan plesier en vermaak.’n Mens sidder as jy aan die toekoms dink.”

Elizabeth kyk ’n oomblik stilswyend na Cora. Wat het dié tirade veroorsaak? Dan sê sy spottend: “Dit is vandag die mode om so te praat. Ons hoor gedurig hoe sleg ons is; ons lees dit in die koerante en tydskrifte en ons hoor dit selfs van die kansel af. As julle lank genoeg daarmee aanhou, sal ons dit later self begin glo. In elk geval, ek is bly Ria het darem aan tannie Cora se hoë verwagtings voldoen!”

Cora het haar handwerk neergesit, opgestaan en sonder ’n woord verder kombuis toe gegaan. Verbaas kyk Elizabeth haar agterna. Sy is nie gewoond dat Cora die stryd so maklik gewonne gee nie.

Sy behoort van beter te weet as om met Cora te argumenteer, dink sy skielik bedruk. Sy sal oppas om nie weer in ’n argument betrokke te raak nie.

Aan tafel het sy belangstellend verneem na al Cora se bedrywighede, sy het gesels oor die kinders en gesimpatiseer met Cora omdat klein Lena ook al volgende jaar koshuis toe moet gaan, en gesien hoe Cora geleidelik ontdooi. Die maaltyd het heeltemal gesellig verloop sonder dat sy en Cora een keer gestry het.

’n Rukkie ná middagete het Maybelle saam met van die bure daar aangekom. Maybelle is amper sewentien jaar oud en het in die afgelope jaar of twee ongelooflik verander. Haar bruin hare het ’n rooierige skynsel, die groot bruin oë is sag en vriendelik en die skraal lyfie het nou mooi uitgevul. Sy het ongelukkig ’n lelike vel, grof en vol puisies, maar dis ’n kwaal waaraan tieners dikwels ly en wat moontlik nog met die tyd genees kan word.

Maybelle het met onverbloemde bewondering na Elizabeth gekyk. “Ek het al vergeet hoe mooi jy is,” sê sy skamerig. “Ek dink jy is die mooiste meisie wat ek ken.”

Elizabeth glimlag, maar sy is nietemin geraak deur die spontane opmerking.

“Jy het self ’n baie aantreklike meisie geword,” sê sy liggies.

“Met dié bont puisiegevreet?”

“Wat gebruik jy daarvoor?”

Maybelle haal haar skouers op. “My ma sê ek moet minder sjokolade eet, dis al wat sal help.”

“Dit sal sekerlik help,” sê Elizabeth. “Maar daar is ’n uitstekende salf. Van my maats het daarvan gebruik en dit het regtig gehelp. Ek sal vir jou ’n buisie stuur, dan kan jy dit probeer. Maar dan moet jy ook nie so baie soetigheid eet nie.”

“As ek weet dit sal regtig help, sal ek my mond nooit weer aan ’n lekker sit nie. O, ek is bly jy het weer vir ons kom kuier, Elizabeth. Ek het begin dink jy kom nooit weer nie. Maar dis natuurlik omdat Vader siek is . . .”

Elizabeth glimlag spottend. “Jy wil tog nie sê julle het my gemis nie.”

“Natuurlik het ek jou gemis,” antwoord Maybelle verwytend. Met ’n grinnik vervolg sy: “Jy weet nie hoe spog ek met my mooi, slim suster nie. Die onderwysers onthou jou nog goed en vra dikwels hoe dit met jou gaan.”

Nog voordat Elizabeth oor haar verbasing gekom het, sê sy sagter: “Het jy gehoor van Ria?”

“Van die baba? Lena het my vertel.”

“Dis nie al nie,” fluister sy. “Was dit vir jou ’n storie! Ria móés trou en die baba is ’n paar maande nadat hulle getroud is, gebore. Die familie wou hê sy moes die kind weggee – alles was glo gereël – maar toe weier Ria. Sy sê dis háár kind en sy sal hom self grootmaak. Die res van die familie is so kwaad vir haar, hulle wil niks met haar te doen hê nie. Maar ek dink dis baie dapper van haar. Ek dink sommer baie meer van haar.”

’n Oomblik staar Elizabeth die jong meisie aan. Nou begryp sy Cora se ontsteltenis. Sag sê sy: “Ek . . . dink dis wonderlik dapper van haar. Ek het nie gedink Ria het soveel moed nie.”

“Moenie vir Ma sê ek het vir jou gesê nie,” fluister Maybelle. “Dis natuurlik ’n groot klad op die familienaam.”

Ek het baie lus om na Ria toe te gaan, dink Elizabeth. Maar sy sal dink ek kom uit leedvermaak, om my in haar vernedering te verlekker. Maar sy sal vir haar skryf sodra sy weer terug is in Pretoria en haar gelukwens met haar dapper houding.

’n Rukkie ná koffietyd het die kans gekom waarvoor Elizabeth al die hele dag wag. Daar het onverwags kuiermense gekom en nadat hulle ’n rukkie met die pasiënt gesels het, het Cora hulle stoep toe geneem waar sy vir hulle koffie gegee het. Ongemerk het Elizabeth weggeglip na die studeerkamer waar haar pa op die rusbank gelê het.

’n Rukkie gesels hulle oor sy siekte en die behandeling wat die dokter voorgeskryf het, dan kyk Elizabeth na hom en sê reguit: “Ek het spesiaal vandag hierheen gekom om Vader iets te vra. Ek sal miskien nie weer ’n kans kry om alleen met Vader te gesels nie.”

Jan Bornman kyk ’n lang oomblik na haar. “Ek het gewonder of jy die hele ent pad gery het net om die pasiënt te besoek,” sê hy. Hy glimlag effens, maar daar is iets weemoedigs in sy blik en Elizabeth bloos effens.

“Wat is dit wat jy my wil vra, kind?”

“Ek het Vader reeds vantevore gevra, maar toe was ek nog ’n kind en miskien nie volwasse genoeg om die antwoord te hoor nie. Maar ek was verlede jaar een-en-twintig en ek dink ek het alle reg om die vraag te vra en ’n eerlike antwoord te kry. Vader, weet Vader wie my regte ouers is?” Jan Bornman kyk na die jong meisie wat op die rusbank by hom sit. Hy sien die trilling van haar lippe, die onbewuste smeking in haar mooi oë, en ’n oomblik kan hy nie praat nie. Dan skud hy sy kop.

“Ek het jou reeds vantevore gesê, Elizabeth, ek weet nie,” sê hy aangedaan. “En dit is die heilige waarheid, my kind.”

“Weet Vader absoluut niks van my . . . my verlede nie?”

“Ek weet absoluut niks nie. Die dokter wat ons van jou vertel het, het al die reëlings getref en hy het jou self na ons toe gebring.”

“En die geld wat vir my nagelaat is?”

“Ek het nie die minste idee waar dit vandaan kom nie. Dit was vir my net so ’n verrassing soos vir jou.”

“Wie was die dokter wat die reëlings getref het?”

Weer skud Jan Bornman sy kop.

“Dokter Hugo is lankal dood, tien, elf jaar gelede al.”

Elizabeth kyk hom verslae aan. Was dit dokter Hugo? Sy onthou die ou dokter nog goed. Hy was distriksgeneesheer en het dikwels wanneer hy in die buurt was hier op Leeufontein aangery en ’n koppie koffie saam met hulle kom drink; die paar keer dat sy siek was, het hy haar weer gesond gedokter. Sy skielike dood – hy is aan ’n hartaanval oorlede – was ’n groot skok vir die gemeenskap en sy begrafnis was die grootste een wat Oudendal se mense kan onthou. Dan was dit dokter Hugo. Maar wat ’n wrede, bittere teleurstelling.

Jan Bornman se oë is sag en vol deernis.

“Moenie jou ontstel nie, my kind, miskien is dit beter so. Toe dokter Hugo jou die dag vir ons gegee het, het hy gesê: ‘Sy kom uit ’n goeie familie, maar omstandighede het haar ma gedwing om afstand van haar te doen. Wees lief en goed vir haar; ek is seker sy sal eendag julle liefde in tienvoud terugbetaal.’ Dokter het altyd baie in jou belang gestel en gereeld verneem hoe dit met jou gaan.”

Elizabeth laat haar kop sak. Sy sal eendag julle liefde in tienvoud terugbetaal . . .

Sagter vervolg Jan Bornman: “Die lewe verloop dikwels anders as wat ’n mens beplan. So het my en Engela se planne ook anders verloop en het jy te vroeg kennis gemaak met hartseer en teleurstelling. Daar is dinge in ’n mens se lewe wat jy nie kan beheer nie, en dis een van hulle. Bekommer jou nie verder oor jou eie ouers nie, my kind. ’n Mens kan maar net na jou kyk – so mooi, so slim en begaafd – om te weet dat jy uit ’n eersteklas familie kom. Aanvaar dat jou ouers dood is en moenie toelaat dat bitterheid ’n skaduwee werp oor jou mooi en veelbelowende toekoms nie.”

Elizabeth antwoord nie. Buite op die stoep gesels die mense en die kinders baljaar uitgelate op die gras, maar hier in die kamer is dit stil en rustig.

Eindelik sê Elizabeth: “Weet Vader wat van mevrou Hugo geword het? Sy het later hier weggetrek, nie waar nie?”

“Sy het kort ná haar man se dood die huis verkoop en Johannesburg toe getrek; haar seun is ’n geneesheer daar. Maar of sy nog daar woon, sal ek nie kan sê nie.” Hy aarsel ’n oomblik, dan sê hy: “As jy graag met haar in aanraking wil kom, sal ek maklik genoeg haar adres in die hande kan kry. Hier is nog baie mense wat goed met haar bevriend was en wat moontlik nog in verbinding met haar is. Maar ek twyfel of sy jou sal kan help. ’n Dokter bespreek nie altyd sulke vertroulike sake met sy vrou nie, en dit het so lank gelede gebeur, byna twee-en-twintig jaar al.”

Sy stem sterf weg en weer is dit stil in die kamer. Elkeen is besig met sy eie gedagtes.

“Gaan jy môre al weer terug?” verbreek Jan Bornman uiteindelik die stilte.

“Ek moet, Vader. Ons skryf een van die dae eksamen en ek kan nie nou klasse misloop nie.”

“Geniet jy dit, Elizabeth? Is dit nie te moeilik nie?”

“Ek geniet elke oomblik van die kursus. En ek is nie die enigste meisie nie, hoor! Vader sal verbaas wees om te sien hoeveel meisies dokter wil word.”

Sy vertel hom die een en ander en hy luister belangstellend. Uiteindelik is daar ’n roering buite op die stoep en haastig staan sy ook op.

“Dit was heerlik om met Vader te gesels, maar ek moet liewer nou loop voordat tannie Cora hier inkom. Sy het my gewaarsku om Vader nie te vermoei nie.”

“Dit was lekker om weer met jou te gesels. Jy kan gerus meer dikwels kom kuier. Ek . . . ek dink dikwels aan jou en wonder hoe dit met jou gaan,” vervolg hy effens ongemaklik. “En onthou, as jy iets nodig het, my kind, geld of hulp van enige aard, ek is nog jou pa en ek sal jou graag help.”

“Dankie, Vader,” antwoord sy stil. “Maar moenie Vader oor my bekommer nie. Ek kan na myself kyk.”

Jan Bornman kyk onseker na sy dogter wat so trots voor hom staan. Dis of hy iets vir haar wil sê, maar nie die regte woorde kan vind nie. Daar is weer daardie half weemoedige trek op sy gesig en Elizabeth wil haar hande na hom toe uitsteek en vir hom sê hoe dankbaar sy is vir alles wat hy reeds vir haar gedoen het, vir al die liefde wat sy ontvang het. Maar sy hoor Cora se stem en die herinnering aan al die ongelukkigheid en vernedering wat sy moes deurmaak vandat Cora in haar lewe gekom het, keer haar.

“Hier kom tannie Cora,” sê sy en vlug haastig by die kamer uit.

In die tuin pluk sy ’n paar asters om op Engela se graf te gaan sit. Die klein kerkhoffie is stil en rustig in die laatmiddag en ’n lang ruk het Elizabeth daar by haar aangenome ma se graf gesit. Die gesprek met haar pa het haar opnuut teleurgestel en bedruk. Sy dink die kanse om haar eie ouers op te spoor word by die dag kleiner. Miskien is haar pa reg, miskien is dit beter so, maar dit sal seker lank duur voordat sy sal leer om te berus en te aanvaar, voordat haar opstandige gees getem en die bitterheid uit haar hart gewis is. As Ria, Ria vir wie sy altyd net minagting gehad het, die moed gehad het om haar baba te behou in weerwil van die druk wat haar familie op haar uitgeoefen het, waarom kon haar ma nie dieselfde gedoen het nie?

Tensy haar ma met haar geboorte dood is. Slegs die wete dat sy dood is, dat sy geen seggenskap gehad het in wat gebeur het nie, sal hierdie pyn en bitterheid in haar hart uitwis. Hoe kan sy ooit rus kry, ooit regtig gelukkig wees, voordat sy weet presies wat die omstandighede van haar geboorte was?

Net ná ontbyt die volgende oggend is sy weer weg. Vredesonthalwe het sy nie weer die langbroek aangetrek nie, maar tannie Cora het wel iets gevind om te kritiseer.

“Dit betaam ’n jong dame nie om so alleen rond te ry nie,” het sy afkeurend gesê: “Waarom het jy nie ’n vriendin saamgebring nie? En dié gedurige Sabbatsontheiliging – is dit absoluut noodsaaklik dat jy vandag moet terugry?”

Elizabeth antwoord nie. Sy het haar voorgeneem om nie weer met Cora te argumenteer nie. Langs haar sê Maybelle: “Ek is so bly jy het weer vir ons kom kuier, Elizabeth. Jy moet gou weer kom, hoor!” Sagter vervolg sy: “Ma bedoel nie regtig om rusie te maak nie. Dis sommer maar net haar manier . . .”

Maybelle se mooi bruin oë is sag, effens smekend, en Elizabeth buk skielik en soen die meisie liggies op die wang.

“Dit was gaaf om julle almal weer te sien. Ek sal dadelik vir jou daardie salf stuur. Ek hoop dit sal help.”

Sy groet en waai weer vir haar pa wat buite op die stoep staan, ’n geboë, effens patetiese figuur, dan klim sy in die motor en ry weg.

Wel, dit is dan dit, dink sy toe Leeufontein se huis agter die bult wegraak. Haar soektog het net verdere teleurstelling opgelewer, maar tog is sy bly dat sy gekom het. Haar pa het oud geword; sy siekte het hom ’n kwaai knou gegee en hy sal nooit weer die man wees wat hy was nie. Hy was so bly om haar weer te sien en ten spyte van Cora het die besoekie heelwat aangenamer verloop as wat sy verwag het. Maybelle is ’n oulike meisie, en Kleinjan en Lena glad nie onaardige kinders nie. Cora bly natuurlik Cora en niks sal haar ooit verander nie. “Sy bedoel nie regtig om rusie te maak nie,” het Maybelle gesê, “dis maar net haar manier.” Miskien is Maybelle reg en bedoel haar ma dit nie so erg nie, maar sy hou nie van Cora nie en hulle sal nooit langs dieselfde vuur sit nie. Maar dit sou tog interessant gewees het om ’n suster en selfs ’n paar broers te hê, ’n gesellige huis waar jy altyd welkom is en waarheen jy jou vriende kan neem, ouers wat in jou belang stel en wat trots is op jou prestasies . . . Maar selfbejammering bring ’n mens nêrens nie, en sy trap die versneller skielik dieper in. En terwyl die klein motortjie oor die teerpad vlieg, dink sy doelbewus aan die weke wat voorlê en al die werk wat gedoen moet word.

Goue gerf

Подняться наверх