Читать книгу Die erfgename van La Provence - Tryna du Toit - Страница 3

Hoofstuk 1

Оглавление

Op ’n wasige blou oggend teen die middel van Februarie is die kuslyn van suidelike Afrika gewaar.

’n Volle eeu het verloop sedert Jan van Riebeeck met sy vloot van drie seilskepe, die Drommedaris, die Reiger en ’n kleiner skip, De Goede Hoop, Tafelbaai binnegeseil het. Sedertdien het die klein verversingspos tot ’n sterk nedersetting met ’n eie karakter, taal en lewenswyse ontwikkel; sy enigste kontak met die wêreld daarbuite die seilskepe wat gereeld van Europa op pad na die Ooste en weer op die terugreis Tafelbaai aandoen.

So was De Witte Seemeeu dié sonnige oggend onderweg van Holland na die Kaap de Goede Hoop om later, wanneer die bemanning uitgerus het, die reis na die Verre Ooste voort te sit. Aan boord was ’n handvol emigrante-koopmanne en ’n paar hooggeplaaste amptenare van die Nederlands-Oos-Indiese Kompanjie, en ’n vrag grondstowwe, ammunisie, gewere en ander benodigdhede vir die koloniste aan die Kaap.

Die Seemeeu was ’n ou skip, maar goed en stewig gebou, met drie maste en twee dosyn kanonne om hom teen vyandelike skepe te beskerm. Die skip was een van ’n vloot van sewe wat teen die middel van Oktober saam uit Zeeland na die Kaap gevaar het, maar ’n swaar storm het die skepe uitmekaar gejaag en dae lank uit hulle koers gedryf. Toe die storm uiteindelik bedaar, het die Seemeeu hom alleen op die wye oseaan bevind. Weke lank het hy so op eie houtjie suidwaarts gevaar totdat die wag een maanligaand twee skepe teen die horison gewaar het. Tot groot vreugde van almal aan boord het hulle vasgestel dat dit twee van hulle eie verlore skepe was, en met verligte harte kon hulle die reis verder saam voortsit. Wat van die res van die vloot geword het – of hulle alreeds anker in Tafelbaai gegooi het of nog in aantog is – sou hulle eers later ontdek.

Ná teenwinde en hoë deinings wat almal lank onderdek gevange gehou het, gevolg deur ’n lastige windstilte wat dae lank geduur het en die geduld van die moeë reisigers nog verder beproef het, het ’n fris noordewind skielik die seile laat bol en die afgelope twee dae al ploeg die Seemeeu lustig suidwaarts deur die golwe.

Die eerste seevoëls – seemeeue, duikers en malgasse – het reeds ’n paar dae vantevore hulle verskyning om die skip gemaak om die nabyheid van die Kaap aan te kondig en met verlangende oë het die reisigers daagliks die horison dopgehou vir die eerste teken van daardie beloofde land.

En toe, skielik, het die blye tyding gekom.

Vanuit die hoë maskorf tussen die netwerk van toue en seile het die wag luidkeels deur die vroeë oggendlug geroep: “Tafelberg voor aan bakboord!”

Soos ’n haastige wind deur ’n koringland het die nuus onder die passasiers en lede van die bemanning versprei en met uitroepe van vreugde en dankbaarheid het almal wat kon hulle na die dek gehaas om die wonderwerk met hulle eie oë te aanskou.

Een van die eerstes wat die dek haal is die jongvrou Mathilde Jourdan. Sy klou aan die bolwerk vas om haar teen die rol van die skip te stut en effens uitasem, met ’n onstuimig kloppende hart, tuur sy gretig na die horison vir die eerste teken van die land waarvan sy soveel gehoor het.

Maar daar is net die dynserige horison en die wye oneindigheid van die see.

“Ek sien geen berg of land nie,” sê Pierre, haar sestienjarige broer, langs haar. Ook hy klink effens uitasem ná die haastige stormloop.

Passasiers en offisiere drom saam in die boeg in afwagting van die oomblik dat die land ook vir hulle soekende oë sigbaar word. Hoe lank het hulle nie vir hierdie oomblik gewag nie!

En dan, skielik, word die skip deur ’n hoë golf gelig en sien hulle deur die oggenddynserigheid die vae buitelyne van die bonkige berg wat wag staan oor die nuwe vaderland wat op hulle wag.

’n Spontane gejuig weerklink deur die oggendlug. Ook in Mathilde Jourdan se hart wel ’n gevoel van dankbaarheid op. Dit was ’n lang, vermoeiende en dikwels gevaarlike reis van meer as drie en ’n half maande. Meer as een keer in die afgelope weke en maande, as hulle skip deur storms en teenwinde geteister word en veral in die tyd toe Pierre so siek aan die koors was, het sy gewonder wat haar ooit besiel het om haar veilige en ordelike lewe vir so ’n onsekere bestaan te verruil.

En nog is dit die einde nie! Wie weet watter verdere ontberings en beproewings nog vir hulle wag in die wilde, barbaarse land wat nou voor hulle oë uit die see verrys?

Langs haar sê Pierre: “Die Kaap van Goeie Hoop! Land van my drome! Uiteindelik! Uiteindelik! Tilde, ek kan sowaar my eie oë nie glo nie!”

Mathilde Jourdan kyk na haar jonger broer en haar gesig versag. Die maer figuur, die waswit vel, die diep kringe onder die lewendige donker oë wek opnuut ’n gevoel van deernis maar ook van angs en onrus in haar. Pierre was nooit ’n sterk kind nie en daar was ’n tyd toe hulle gevrees het dat hy ook die slagoffer sou word van die wrede siekte waarteen hulle moeder jare lank so moedig gestry het en waaraan sy uiteindelik gesterf het. Gelukkig het hy die swakheid ontgroei, maar die koors wat hy op die reis opgedoen het, het hom opnuut ’n knou gegee. Heimlik het sy haarself al bitterlik verwyt dat sy ooit die waagstuk aangepak het. Besef Pierre hoe anders die lewe hier aan die Kaap sal wees? ’n Man moet taai en hard wees om hier staande te bly.

En tog was dit hoofsaaklik om Pierre se ontwil dat sy die reis aangedurf het. Sy tenger liggaam het ’n wakker, avontuurlike gees gehuisves en oom Jacques se briewe van die lewe aan die Kaap en al sy avonture het Pierre se lewendige verbeelding aangegryp en sy seunshart met ’n wilde verset teen die eentonigheid en kleurloosheid van sy eie bestaan vervul. Ademloos het hy geluister na die vertellings van seemanne en reisigers wat hulle vader soms saam met hom huis toe gebring het en in die stilligheid het hy drome begin droom en planne begin beraam wat hy vasbeslote was om eendag – al sou dit ook in die verre toekoms wees – te verwesenlik.

Die Jourdans stam uit die Hugenote. Van Protestantse afkoms, was hulle ook verplig om ná die herroeping van die Edik van Nantes in 1685 hulle vaderland te verlaat, en hulle het na die goedgesinde, welvarende Nederland gevlug om veiligheid te soek. Die een Jourdan-broer – haar oorgrootvader – het van die land gehou en hom daar met sy familie gevestig, maar die jonger broer, meer avontuurlik en besiel met meer ondernemingsgees, het saam met ’n aantal van sy landgenote in die verre suide – die land van Van Riebeeck – ’n nuwe heenkome gaan soek.

Oom Jacques was haar vader se ouer broer. Hulle is albei in Holland gebore en het daar grootgeword. Haar vader het aan die Universiteit van Leiden gestudeer, maar oom Jacques was ’n gebore avonturier en hy het eers as manskap en later as offisier by die Kompanjie diens gedoen en verskeie kere na die Ooste gevaar. Later het hy en Pierre op dieselfde meisie, die beeldskone Isabel du Val, verlief geraak en toe Isabel besluit om liewer haar lot saam met die bestendige Pierre in te werp, het Jacques die stof van sy geboorteland vir goed van sy voete geskud en op die spoor van sy voorvaders na die Kaap van Goeie Hoop verhuis om daar sy geluk en sy fortuin te gaan soek. Hy het ’n wynplaas in die vrugbare Bergriviervallei aangelê, jagtogte na die binneland onderneem en bekendheid verwerf as ’n onverskrokke grootwildjagter. In hulle familie het oom Jacques ’n romantiese, byna legendariese figuur geword en die geskenke wat hy af en toe vir Isabel gestuur het – ’n pragtige luiperdvel, ’n olifantjie uit ivoor gesny – het ’n ereplek in hulle voorkamer gehad.

Oom Jacques het lank ’n vrygesel gebly, maar is uiteindelik met ’n welgestelde weduwee met ’n paar kinders getroud. Hy het egter nooit die nooientjie van sy jeugjare vergeet nie en selfs na hul vader se dood het hy nog gereeld aan hulle geskryf. Sy briewe, so vol interessante vertellings van sy lewe aan die Kaap – ’n lewe so totaal verskillend van die afgesonderde lewe wat hulle as gevolg van hulle moeder se siekte verplig was om te lei – was dan ook altyd ’n belangrike gebeurtenis in hulle huis.

So het die oom Jacques wat hy nog nooit gesien het nie, die held van Pierre se drome geword. As dit van hom afgehang het, sou die familie lankal gehoor gegee het aan oom Jacques se herhaalde versoeke om sy voorbeeld te volg en na die Kaap te emigreer. Oom Jacques was vol lof vir sy nuwe vaderland en kon nie genoeg vertel van die wonderlike geleenthede wat daar wag vir iedereen met ’n bietjie ondernemingsgees nie. Vir ’n jong man was dit ’n paradys.

Haar vader het egter geen trek vir die vreemde en onbekende gehad nie. Hy het ’n goeie, vaste betrekking beklee en hoewel hulle nie ryk was nie, het hulle goed geleef. Hulle moeder en klein Pierre was nie een sterk nie en Pierre Jourdan sou nie daarvan droom om hulle aan die gevare en ontberings van so ’n lang seereis bloot te stel nie. Nee, die pionierslewe was goed vir ’n avonturier soos oom Jacques, maar vir ’n man met gevestigde belange en die verantwoordelikheid van ’n vrou en kinders sou so iets die opperste dwaasheid wees.

Vreemd genoeg was dit nie hulle tenger moeder nie maar hulle sterk, gesonde vader wat hulle eerste ontval het. Na sy dood was die lewe nooit weer dieselfde nie. Hulle inkomste was klein, hulle moeder se gesondheid het steeds agteruitgegaan en al hoe meer verantwoordelikheid het op die jong Mathilde se skouers gerus. Danksy haar vader het sy ’n goeie opvoeding gehad, beter as die meeste meisies van haar stand, en met ekstra klasse in musiek en Frans, wat sy vlot gepraat het, kon sy help om hulle inkomste aan te vul.

Toe oom Jacques van hulle vader se dood hoor, het hy hulle dadelik hartlik genooi om by hom aan die Kaap te kom kuier en, indien die lewe en die mense hulle geval, hulle daar te vestig. In die sonnige land met sy heerlike klimaat, volop vrugte en groente sou hulle moeder weer haar gesondheid herwin. Pierre kan hom met die boerdery help en hy het reeds ’n paar gawe kêrels vir Mathilde in die oog. Hy het selfs die nodige geld vir hulle passaat gestuur, maar teen daardie tyd was Isabel Jourdan heeltemal te swak om die reis te onderneem.

Teen die einde van April het Isabel Jourdan die ongelyke stryd gewonne gegee en op ’n stil, sonnige dag, byna drie jaar na die dood van haar geliefde man, het hulle haar langs hulle vader ter ruste gelê.

Nou het sy en Pierre alleen agtergebly.

Tot tyd en wyl hulle besluit wat hulle te doen staan, het hulle hul intrek by ’n tante in Leiden, ’n niggie van hulle vader, geneem. Pierre se kop het suidwaarts na sy oom Jacques gestaan en hoewel sy geweet het dat dit ook hulle moeder se wens was dat hulle na haar dood na haar oom toe moet gaan, het Mathilde aanvanklik teëgestribbel. Hulle was te jonk en onervare om alleen so ’n lang, gevaarlike reis te onderneem. Oom Jacques was wel hulle vader se broer, maar hulle ken hom slegs deur sy briewe en hoe weet hulle dat hulle van hom sal hou, of hy van hulle? Maar Pierre was doof vir al haar besware en uiteindelik het sy haar laat oorreed. Daar was niks of niemand om hulle in Nederland te hou nie en al het sy dit nie erken nie, het daar diep in haar hart ook ’n vonkie gebrand van daardie avontuurlus wat haar oom Jacques die onbekende ingestuur het.

As die lewe daar haar nie geval nie, kan sy immers altyd weer terugkom!

En dan het die Kaap nog ’n ander aantrekkingskrag vir haar. Behalwe oom Jacques en die ander Jourdan-familie met wie hulle lankal reeds kontak verloor het, ken sy nog iemand aan die Kaap: ’n jong man, Eugène Leendert, ’n amptenaar in diens van die Here Sewentien.

Sy het met hom kennis gemaak toe hy twee jaar gelede met verlof in Holland was. Van die begin af was hulle aangetrokke tot mekaar en toe hy later weer terug moes gaan, het Eugène haar gevra om met hom te trou. Sy het die aanbod afgewys. Sy het baie van die sjarmante jong man gehou, maar of die gevoel wat sy vir hom gehad het liefde of blote toegeneentheid was, het sy nie geweet nie. En al het sy hom liefgehad, kon sy nie in daardie stadium daaraan dink om haar moeder en Pierre alleen in Nederland agter te laat nie.

Eugène het ’n paar keer aan haar geskryf en sy het sy briewe getrou beantwoord, maar na ’n ruk het die briewe nie meer gekom nie en dis nou meer as vyftien maande dat sy laas van hom gehoor het. Hy het haar teen hierdie tyd seker lankal vergeet – moontlik is hy reeds getroud of verloof – maar net die gedagte dat hy ook in die Kaap is, gee haar tog ’n warm gevoel om die hart.

Langs haar sê ’n diep, vriendelike stem: “Wel, mejuffrou, daar is dit eindelik: die Tafelberg waarvan ek u vertel het. Ek hoop nie u is teleurgesteld nie.”

Mathilde Jourdan kyk op in die bruin, verweerde gelaat van kaptein Jan Alkema. Met sy deurdringende grysblou oë en ruie wit hare is die kaptein ten spyte van sy skraal liggaamsbou en middelmatige lengte ’n opvallende figuur. Aan boord van die skip handhaaf hy ’n streng dissipline en wee die man wat verbrou. Aan die begin het Mathilde gedink hy is onnodig hardvogtig met die bemanning, maar later, soos die weke in maande vervloei en sy meer vertroud geraak het met die lewe aan boord, het sy besef dat dit nie anders kan nie. Die matrose is ’n ruwe klomp, die skuim en opdrifsels van baie lande, en die veiligheid van die skip en die lewe van die passasiers hang dikwels van die ysere dissipline van die kaptein af. Onder sy arendsoog is die skip altyd onberispelik skoon en ten spyte van die swaar strawwe wat oortreders moes verduur, is daar ’n tevrede, gelukkige atmosfeer aan boord.

Van die eerste dag af het die kaptein in haar en Pierre belanggestel en hulle onder sy vlerk geneem. Mathilde was hom diep dankbaar vir sy vaderlike houding teenoor hulle. As protegée van die kaptein is sy altyd met respek behandel: matrose sowel as offisiere sou twee maal dink voor hulle iets waag wat hulle die kaptein se toorn op die hals kon haal. Veral die tyd toe Pierre so siek was aan die koors het sy simpatieke belangstelling en daadwerklike bystand baie vir haar beteken.

Jan Alkema is ’n opgevoede, belese man. Hy ken die sterrehemel soos die binnekant van sy hand en sy en Pierre het dikwels gespanne geluister na sy vertellings van die vreemde lande wat hy besoek en die wonderlike ervarings wat hy beleef het. Hy het Mathilde baie meer aan ’n professor as aan ’n skeepskaptein laat dink en sy het dikwels gewonder waarom so ’n opgevoede man die ruwe lewe van ’n seilskip as loopbaan gekies het. Toe sy dit eendag vir een van die offisiere noem, het hy haar vertel dat Jan Alkema blykbaar in sy jeug sy eie broer in ’n swaardgeveg gedood het. Verban uit sy ouerhuis en sy vaderland, het hy toe ’n eensame swerwer van die Sewe Seë geword. Maar wat kaptein Alkema se geskiedenis en agtergrond ook al was, hy het Mathilde en Pierre se verbeelding aangegryp en veral Mathilde was baie bly dat hulle die lang reis na die Kaap onder sy beskerming kon aflê.

Met ’n glimlaggie kyk die jong meisie nou op na hom en sê: “Dis ’n wonderlike gesig, kaptein. Ek kan dit nou maar beken: daar was ’n tyd toe ek begin twyfel het of daar werklik so ’n berg bestaan en of ons ooit weer land sal sien.”

“En tog was die reis betreklik voorspoedig gewees.”

Mathilde antwoord nie. Sy dink aan die hewige storms in die Baai van Biskaje toe hulle skip soos ’n prop op die onstuimige water rondgeslinger is; sy dink aan die teenwinde wat hulle myle uit hulle koers gedryf het, aan die windstiltes en die afmattende hitte in die Keerkringe; sy dink aan die angsvolle ure wat sy langs Pierre se bed gewaak het, aan die manne wat toegewerk in ’n seildoek en met ’n gewig aan die voete ’n eensame graf in die see gevind het, en in die helder sonlig ril sy soos iemand wat koud kry.

En tog is daar gelukkige herinneringe ook. Sy dink aan die spontane blydskap van die bemanning wanneer so ’n storm weer verby is of ’n ander gevaar afgeweer is en hulle met dubbele rantsoene en ’n bekertjie Spaanse wyn die vrees van so pas vergeet, aan kalm blou dae wanneer die Seemeeu liggies oor die golwe gewals het en hulle met speletjies en ander joligheid die ure verwyl het; sy dink aan die skoonheid van ’n seilboot afgeteken teen die vlammende kleureprag van ’n sonsondergang op see, aan die helderheid van die sterre op ’n stil, donker nag teenoor die wye oneindigheid van die see, aan vriendskapsbande wat gesluit is, aan haar en kaptein Alkema se gesprekke, en sy dink sy wil die ervaring vir geen geld op aarde verruil nie.

Sy kyk weer na kaptein Alkema en sê met ’n glimlaggie: “Dit was ’n onvergeetlike reis. En ek is u innig dankbaar vir u goedheid teenoor my en Pierre. Sonder u beskerming kon die reis seker baie minder aangenaam gewees het.”

“Dit was ’n voorreg om u aan boord te hê, mejuffrou! Ek hoop en vertrou net u sal dit in u nuwe vaderland ook gelukkig tref.”

Mathilde se mooi bruin oë versober effens. Die onsekerheid van die toekoms rus selfs op hierdie mooi oggend swaar op haar hart.

“U sê u ken my oom, mynheer Jacques Jourdan?”

“Ek het hom ontmoet en met hom gesels. Hy het ’n mooi plaas in die Bergriviervallei en is ’n bekende grootwildjagter. Ek het hom ’n sjarmante en onderhoudende persoon gevind.”

Mathilde Jourdan slaak ’n suggie van verligting. Kaptein Alkema se woorde laat haar hart heelwat ligter voel.

“U sê u oom weet u is op pad, mejuffrou?”

“Ek het aan hom geskryf toe my moeder oorlede is. Later, toe ons planne agtermekaar was, het ek hom laat weet dat ons op die Seemeeu passaat gekry het.”

Dis of die gedagte aan die vreemde nuwe land wat op haar wag haar keel laat toetrek, en effens uitdagend vervolg sy: “Oom Jacques hou natuurlik al jare aan dat ons na hom toe moet kom – hy was oortuig dat my moeder aan die Kaap weer gesond sou word – maar sy was te swak om die reis te onderneem. Ek hoop maar net ek en Pierre sal vir hom ’n hulp kan wees en nie net ’n las nie.”

Die ou kaptein glimlag effens.

“Dis ’n interessante land, met wonderlike geleenthede vir jonk en oud. Ruim, vriendelik en gasvry, met ’n heerlike, gesonde klimaat. Anders as waaraan u gewoond is, maar nietemin interessant. Ek is seker u sal baie van die mense en die dorp aan die voet van Tafelberg hou. En ek is seker hulle sal net so baie van u hou. Daar is ’n groot skaarste aan hubare jong dames aan die Kaap en ’n aantreklike, intelligente jong dame soos u sal groot opwinding onder die jong koloniste veroorsaak!”

“Ek het nie na die Kaap gekom om ’n man te soek nie, kaptein Alkema,” sê sy styf, maar die gedagte aan Eugène Leendert laat haar tog bloos.

“U sal uself nie kan help nie, mejuffrou,” sê hy. “Sorg maar net dat u ’n goeie keuse maak!”

“Ek het geen plan om te trou nie, in elk geval nie met een van die koloniste van wie u praat nie. Volgens wat ek hoor, is hulle meestal maar ’n onbeskaafde, barbaarse klomp.”

Weer verskyn ’n vlugtige glimlaggie op die harde, verweerde gesig van kaptein Alkema.

“’n Interessante land, het ek gesê, mejuffrou Mathilde, en ek dink daar wag ’n paar verrassings op u! Ek gaan ’n voorspelling waag: ek voorspel dat wanneer ons vloot oor ses maande van Batavia terugkeer, u reeds die vrou van een van die onbeskaafde jong mans sal wees!”

“Asseblief, kaptein,” sê sy onthuts. “As ek dink dat daar werklik so ’n gevaar bestaan, reis ek verder saam met u na Batavia.”

Later die oggend, terwyl sy droomverlore tuur na die mistige horison, kom iemand langs haar staan. Dit is Francina van Aarde, ’n jong meisie van sowat agtien jaar wat in die geselskap van ’n ouerige dame, die vrou van ’n amptenaar in Batavia, saam tot by die Kaap reis om daar met ’n jong boer te trou. Francina is ’n weeskind wat by familie grootgeword het en die huwelik is deur bemiddeling van familielede van die aanstaande bruidegom gereël. Vir die arme weeskind wat ’n harde, ondankbare bestaan in haar oom se huis gehad het, was dit sekerlik ’n uitkoms, maar haar kalm aanvaarding van die situasie, haar sekerheid dat alles sal regkom – terwyl haar aanstaande bruidegom ’n volslae vreemdeling vir haar is – het Mathilde heimlik ’n bietjie geskok.

“Is dit nie wonderlik nie!” sê die meisie langs haar sag. “Ek moet myself kort-kort knyp om seker te maak dat ek nie droom nie.”

“Dit is wonderlik! Ek is te bang om weg te kyk ingeval Tafelberg dalk weer in die see verdwyn.”

’n Rukkie is dit stil tussen hulle, dan vra Mathilde: “Sal jou verloofde daar wees om jou te ontmoet?”

“Ek dink so – ek hoop so.”

Mathilde kyk na die jong meisie, getref deur iets in haar stem. Sy sien die opgewondenheid in die blou oë, die ongewone kleur op die maer wange en impulsief sê sy: “Francina, jy is so kalm, so seker van jouself. Twyfel jy nie ook soms nie? Is jy nie bang nie? Om na ’n wilde, vreemde land te kom, om te trou met ’n man wat jy glad nie ken nie? Ek moet erken, jy het meer moed as wat ek het.”

“Dit het nie soveel moed geverg nie. Ek sou enigiets doen om weg te kom uit daardie haatlike huis waar ek net vernedering geken het. Hierdie aanbod was soos ’n antwoord op my gebede.”

Mathilde lê haar hand vlugtig op die jonger meisie se arm.

“Ek dink jy is baie dapper en ek hoop jy sal in die nuwe land die geluk vind wat jy in jou eie land nie geken het nie.”

Francina knik dankbaar.

“Dit is ’n wonderlike geleentheid vir my. Ek weet ek is nie mooi nie, het nie veel geleerdheid nie en bring nie ’n bruidskat saam met my nie, maar ek kom uit ’n goeie familie, is jonk en sterk en nie bang vir harde werk nie. Ek sal my bes doen om vir Hans ’n goeie vrou te wees.”

“Ek dink Hans is gelukkig om so ’n vrou te kry,” sê Mathilde in alle opregtheid.

“Dink jy so?” vra Francina en daar is verlange in haar stem. “Dis al wat my hinder. Ek is so bang Hans sal teleurgesteld wees. Hy verwag dalk iemand heeltemal anders …”

“Hy sal nie teleurgesteld wees nie,” sê Mathilde beslis, terwyl sy met nuwe begrip na die meisie kyk. Dis die eerste keer dat Francina so openlik met haar praat en sy besef nou dat daar meer in die meisie skuil as wat sy oorspronklik gedink het. Gedurende die reis het hulle, vreemd genoeg, nie veel met mekaar te doen gekry nie. Francina het die meeste van haar tyd saam met mevrou Van Ryswyck – die dame onder wie se beskerming sy gereis het – en haar jong dogtertjie deurgebring. Sy het hulle verpleeg toe hulle albei siek was en selfs nadat mevrou Van Ryswyck beter was, het Francina nog vir die kind, wat maar baie lastig was, gesorg. Dis waar, sy is nie mooi nie. Sy is te maer en kleurloos en lyk ouer as haar agtien jaar, maar daar is tog iets soets in haar gesig. Die jare van swaarkry het haar nie verbitter nie, maar haar ’n innerlike krag gegee wat haar in haar nuwe lewe goed te staan sal kom. As Hans maar net die verstand het om te besef wat ’n juweel hy in werklikheid kry!

Mathilde se glimlag is onverwags warm. “Ek sal graag jou en Hans se troue wil bywoon indien dit enigsins moontlik is. En jy moet gou vir my kom kuier. Ek sal baie graag wil hoor hoe jy van die nuwe lewe hou.”

“Dankie. Ek weet natuurlik glad nie waar ek gaan woon en wat die omstandighede is nie, maar ons sal mekaar seker weer raakloop. En ek hoop jy sal ook gelukkig wees in hierdie nuwe jong land.”

“Dankie,” sê Mathilde op haar beurt, geraak deur die hartlikheid in die meisie se stem. “Ek weet nog nie presies wat my planne is nie. Dis … dis nog glad nie ’n uitgemaakte saak dat ek aan die Kaap gaan bly nie.”

“Jou broer is vasbeslote om hom daar te vestig.”

“Pierre is nog ’n kind. Hy stel hom dit alles so romanties voor; as hy besef hoe anders die lewe in werklikheid is, sal hy miskien nie so gretig wees om te bly nie.”

“Ek stel my dit ook as ’n wonderlike land voor,” sê Francina skamerig. “En ek dink die mense wat die land mak maak, is net so wonderlik.” Sy kyk na Mathilde en daar is openlike bewondering in haar blik. “Ek het al baie van die jong manne aan die Kaap gehoor: hulle moed, hulle onverskrokkenheid, hulle galantheid – maar as daar onder hulle nie een is wat jou kan oorreed om hier in die Kaap te bly nie, sal hulle in my oë maar ’n treurige klomp wees.”

Mathilde het die gesprek in ’n ander rigting gestuur en maar gehoop dat Francina nie die skielike blos op haar wange raaksien nie.

Langsamerhand, soos die son hoër en hoër die blou lug ingeklim het, het die berg groter en helderder geword, maar later het die lug bewolk geraak en het Tafelberg in die grys mistigheid verdwyn. Die res van die middag het die reën hulle onderdek gevange gehou, maar toe Mathilde en Pierre die aand weer op dek gaan om ’n bietjie asem te skep voor hulle gaan slaap, het die wolke verdwyn en die sterre helder bokant hulle koppe geflonker. Reg voor in hulle pad hang die Suiderkruis, blink en skitterend, en teen die kim is die donker skaduwee van die berg.

“Land van die Suiderkruis,” sê Mathilde saggies en ’n skielike rilling, deels huiwering, deels verwagting, gaan deur haar. Sy trek haar mantel digter om haar en ’n lang ruk staan sy en Pierre nog daar met die koel, klam seebries in hulle gesigte, hulle oë op die donker skaduwee van die berg.

“Die laaste aand,” sê Pierre en Mathilde knik. Dis ’n wonderlike gedagte dat hulle môreaand, na drie en ’n half maande op see, weer in ’n skoon, gemaklike bed sal slaap met die vaste grond onder hulle voete. ’n Oomblik laat sy haar kop in ootmoed en diepe dankbaarheid op haar arms rus. Dan, met ’n laaste blik na die vriendelike aandhemel en die donker vlek wat Tafelberg is, sê hulle goeienag en gaan onwillig na hulle kajuite.

Die volgende oggend seil die Seemeeu, aangedryf deur ’n ligte windjie, Tafelbaai binne. Die baai is vol vreemde skepe en die vlae van baie lande wapper aan die hoë maste. Die bemanning staan gereed om die skip voor anker te bring en die seile te stryk terwyl die passasiers opgewonde op die dek saamdrom. Dit is ’n perfekte somersdag en met bewondering kyk Mathilde en Pierre na die granietblou berg wat bo hulle uittroon. Die klowe en die rotsagtige kranse, die hele wye woeste wêreld, vul hulle met ontsag. En in teenstelling met die grootsheid van die berg en see en land, lyk die dorpie wat aan die voet van die berg nestel, klein en weerloos.

Die Seemeeu nader stadig die ankerplek en die skip se kanonne begin die eresaluut van sewentien skote uitbulder. Onmiddellik daarna word die saluut deur die kasteel beantwoord en die eggo’s weerklink in die klowe en berge. Die anker word neergelaat, die seile gestryk, en met ’n ligte ruk kom die Seemeeu ná sy lang reis tot stilstand.

Cabo de los Termentos! Kaap van Storms! Waarom moet dié onheilspellende naam haar op hierdie mooi oggend te binne skiet? wonder Mathilde effens verontrus. Sy hoop dit is nie ’n voorbode van wat in hierdie nuwe land vir haar en Pierre wag nie.

Langs Mathilde sê kaptein Alkema: “Die einde van ons reis. Daar links lê die Kasteel. En die straat hier voor ons is die Heerengracht. Die Kompanjie se tuin is aan die bopunt geleë en daar sal julle ook die kerk, die hospitaal en die slawehuis vind.”

Klein roeibootjies het intussen die Seemeeu omsingel en belangstellend kyk Mathilde en Pierre na die bemannings met hulle snaakse kleurvolle hoedjies wat luidrugtig vrugte en ander ware te koop aanbied. Pierre koop vir hulle ’n mandjie vrugte en na die lang, barre maande op see smaak die geurige perskes en pere soos nektar van die gode.

Eers nadat die hawekaptein en die dokter aan boord gekom het en alle formaliteite afgehandel is, kan hulle gereed maak om aan wal te stap. Wat ’n vreemde gevoel om weer vaste aarde onder jou voete te voel!

Op die strand is dit ’n bonte mengelmoes mense van alle kleure en nasies, maar tot hulle groeiende ontsteltenis is daar niemand om hulle te ontmoet nie. Kaptein Alkema, op pad na die Kasteel om ’n hoflikheidsbesoek by die goewerneur af te lê en briewe en instruksies wat in sy bewaring geplaas is, te oorhandig, vertoef ’n oomblikkie by hulle.

“Ontstel julle nie, my liewe kinders,” sê hy vriendelik. “Die nuus dat die Seemeeu in Tafelbaai is sal gou genoeg versprei en mynheer Jourdan sal julle sekerlik kom haal.”

Hy draai weg, maar iets in Mathilde se gesig laat hom weer terugdraai. ’n Oomblik kyk hy besluiteloos na die twee jong mense wat so verslae daar staan, dan sê hy op ’n skielike ingewing: “Mynheer Jourdan het tog seker ’n dorpshuis, nie waar nie? As julle die adres ken, waarom gaan julle nie direk daarheen en verras hom nie?”

Mathilde se gesig verhelder.

“Ek ken die adres. Oom Jacques het ’n huis in die Keizergracht.”

Kaptein Alkema beduie vir hulle waar die Keizergracht is en stadig, want die dag is buitengewoon warm, begin hulle aanstap. Belangstellend kyk hulle om hulle na die mooi, rustige dorpie, na die wye straat met die grag, na die slawe wat met drastoele langs die strate stap, na ’n wa, hoog gelaai met hout en getrek deur agt perde, wat flink by hulle verbydraf. Die geklap van die drywer se sweep sny deur die oggendlug. Daar is soveel dinge wat hulle aandag trek en baie gouer as wat hulle verwag het, staan hulle voor die wit gewelhuis waar oom Jacques en sy familie tuisgaan wanneer hulle in die Kaap is. Die swaar voordeur is gesluit, maar die vensters is halfoop en binne is daar beweging.

’n Slaaf in wit klere maak die voordeur vir hulle oop.

“Is dit mynheer Jacques Jourdan se woning?” vra Mathilde terwyl sy benoud wonder of hy hulle taal verstaan.

Die slaaf knik bevestigend.

“Is mynheer Jourdan tuis?”

Die slaaf kyk hulle ’n oomblik aan, dan skud hy sy kop.

Mathilde en Pierre kyk onseker na mekaar, dan verduidelik sy met ’n glimlaggie: “Ek is mejuffrou Mathilde Jourdan en dit is my broer, die jongeheer Pierre Jourdan. Ons het vanoggend met die Seemeeu van Holland af gekom. Oom Jacques weet dat ons kom – hy het tog seker gesê dat hy ons te wagte is. Weet jy wanneer hy terug sal wees?”

Die slaaf se blik rus op die jong meisie in haar eenvoudige grys tabberd en baadjie en op die skraal jong seun langs haar. Pierre het gedurende die lang seereis heelwat gegroei, met die gevolg dat sy klere almal vir hom te klein is, en Mathilde is skielik bewus daarvan dat hulle seker maar ’n bra armoedige indruk skep.

Weer skud die slaaf sy kop en haastig sê Mathilde: “Ons is heeltemal vreemd en alleen. Kan ons hierbinne wag totdat my oom terugkeer?”

Die slaaf aarsel nog ’n oomblik, dan maak hy die deur wyer oop en lei hulle na ’n ruim, deftige ontvangskamer. Na ’n rukkie kom hy terug, vergesel deur ’n gesette slavin. Ook sy is netjies aangetrek en sy groet die vreemdelinge vriendelik: “Ons oumeneer het nog nie teruggekom nie,” verduidelik sy toe Mathilde haar vrae herhaal. “Maar die jongmeneer kom vanmiddag. As mejuffrou-hulle wil wag tot hy kom …”

“Ons sal graag wag,” sê Mathilde dankbaar.

Die huishulp neem haar na ’n slaapkamer, net so ruim en deftig soos die voorkamer, waar sy haar kan verfris, en ’n rukkie later geniet sy en Pierre ’n heerlike maaltyd van koue vleis, vars brood, botter en vrugte.

Mathilde het die huishulp verder probeer uitvra, maar al wat sy uit haar kon kry, was dat hulle oumeneer weg is, maar dat die jongmeneer later sal kom, en daarmee moes sy tevrede wees. Pierre was glad nie onrustig nie: hy was opgewonde oor alles en almal om hom en was oortuig dat sy oom binnekort sou opdaag om hulle te kom haal.

Die middagure het egter verbygegaan sonder dat die jongmeneer gekom het en toe Pierre, wat rusteloos begin word het, voorstel dat hulle ’n bietjie in die dorp gaan rondstap, het sy dadelik ingewillig.

Volgens die onafgebroke gebulder van die kanonne en die bedrywighede wat daar op die Heerengracht geheers het, het etlike bote ná hulle in die baai aangekom. Die matrose, op soek na afleiding ná die ontberings en gevare wat hulle op die lang seereise moes trotseer, het luidrugtig te kere gegaan en Mathilde het ’n hele paar gesien wat maar taamlik onvas op hulle voete was. Sy het gedink dit sal miskien verstandiger wees om terug Keizergracht toe te gaan, maar Pierre was gretig om die wêreld ’n bietjie te verken en wou nie omdraai nie. Met geboë hoof, om so min moontlik aandag van verbygangers te trek, het sy langs Pierre gestap en tot haar verligting het niemand enige notisie van haar geneem nie. Hulle het in die koelte van die Kompanjiestuin gewandel en gekyk na die blou berg; hulle het die kerk, hospitaal en slawehuis besigtig, maar Mathilde was haastig om huis toe te gaan ingeval die jongmeneer gekom het en wou nie langer vertoef nie.

En toe, op pad terug, gebeur wat sy heimlik gevrees het. ’n Dronk matroos gaan skielik voor haar in die pad staan en wil nie toelaat dat sy verbykom nie. En toe Pierre hom opsy probeer druk, laat die matroos hom met een veeg van sy groot hand in die stof beland.

Aangehits deur ’n paar van sy makkers wat glimlaggend toekyk, trek die matroos ’n handvol geld uit sy sak en maak ’n lompe buiging voor Mathilde.

“Kom saam met my, skone mejuffrou,” sê hy met ’n swaar tong. “Ek het baie geld. Ek sal vir jou ’n nuwe rok en nuwe skoentjies met silwer gespes koop.”

Uit die hoek van haar een oog sien Mathilde dat Pierre weer nader kom. Sy gesig is wit en woede straal uit sy donker oë.

“Pierre,” roep sy vermanend, maar soos ’n briesende jong bul storm hy op die matroos af. Maar selfs in sy halfbenewelde toestand is die matroos te slim vir hom en die volgende oomblik lê Pierre weer op die naat van sy rug langs die grag. Mathilde wil na hom toe gaan, maar die matroos kry haar aan haar arm beet.

“Lastige vent,” brom hy. “Kom, meisie, kom ons gaan. Dit word laat.”

Mathilde ruk haar arm los. Sy is wit van woede en ontsteltenis.

“Hoe durf jy aan my raak! Maak dat jy dadelik wegkom of ek rapporteer jou by die kaptein van jou skip.”

Die matroos lag net en kom weer nader. Die uitdrukking in sy klein, gemene ogies laat haar ril.

Langs hulle hou ’n koets skielik stil en ’n deftig geklede jong man spring uit en kom nader.

“Wat gaan hier aan?” vra hy koel, gebiedend. “Mejuffrou, het u hulp nodig?”

Vinnig swaai Mathilde om na die vreemdeling. Sy sien ’n man van omtrent dertig jaar, elegant geklee in ’n lang baadjie van blou brokaat. Die deftige, geborduurde onderbaadjie, die fyn kantmansjette, die skoene met die blink gespes – alles is onberispelik. Hy het ’n sterk, effens harde gesig en die blou oë is koel. Sy regterhand rus liggies op die swaard aan sy sy.

Dankbaar sê sy: “Asseblief, mynheer, die man is besig om ons te molesteer.”

Die matroos en sy vriende het die situasie in een blitsige sekonde opgesom en die hasepad gekies. Pierre wil hulle agternasit, maar staalsterke vingers vang hom aan die arm.

“Nie so haastig nie, my jong vriend,” sê die koel stem gebiedend. “Ek sou nie agter hulle aangaan as ek jy was nie. Jy sal miskien uitvind dat jou vriend selfs handiger met ’n mes as met die vuis is.”

Pierre gluur die vreemdeling woedend aan en probeer losruk, maar die krag van die vingers om sy arm dwing hom uiteindelik om stil te staan.

“Ek is jammer,” mompel Pierre en druk sy sakdoek teen sy neus wat nou begin bloei, “maar die vent het my suster gemolesteer.”

Die vreemdeling stof sy mou liggies af, skud sy mansjet reg en wend hom weer tot Mathilde. ’n Lang oomblik rus die koel blou oë op haar en sy bloos verleë. Sy besef opnuut hoe ’n swak indruk sy en Pierre moet skep. Die man – soos ook die matroos – dink seker dat hulle maar net arm boere van die platteland is.

“Ek sou u aanraai om sonder versuim terug huis toe te gaan, mejuffrou,” sê die koel stem weer. “Wanneer daar soveel vreemde bote in die baai voor anker lê, verskyn ’n fatsoenlike jong dame nie alleen op straat nie. Tensy dit die soort avontuur is wat sy soek.”

Die mooi bruin oë flits verontwaardig, maar sy antwoord nie. Pierre mompel iets onhoorbaars, maar die man steur hom nie aan hom nie. Met ’n hoflike buiging vir die jong meisie wat so stil voor hom staan sê hy: “My koets is tot u diens, mejuffrou. As u my sê waar u woon, sal my koetsier u daar besorg.”

Mathilde aarsel. Sy wil nie graag ’n verdere guns van die hooghartige man aanvaar nie, maar Pierre se neus bloei en die huis is nog ’n hele entjie weg. Die man buig weer en sê hoflik: “Asseblief, mejuffrou, u sal my ’n guns bewys. Om ’n skone dame een keer uit die kloue van ’n dronk matroos te red kan dalk romanties wees. ’n Tweede keer sou ietwat vervelig wees.”

’n Diep blos sprei oor Mathilde se hals en wange, maar haar oë kyk fier in syne. In ’n vreemde, gespanne stilte kyk hulle mekaar so aan, dan sê sy onwillig: “Ek dank u, mynheer. My oom woon in die Keizergracht.”

Die man help haar in die koets en Pierre, nog met die sakdoek voor sy neus, klim agterna.

“Neem die dame en die jongeheer na die Keizergracht en kom dan weer terug,” beveel hy die koetsier wat in netjiese livrei voor op die koets sit. “Ek sal by die Blaauw Anker wees. Au revoir, mademoiselle. Miskien ontmoet ons mekaar weer!”

Die koetsier raak aan sy pet, die man buig weer en die koets rammel weg. Met ’n suggie van verligting sit Mathilde terug teen die kussings. Die voorval het haar hewig ontstel en haar hele liggaam bewe. Die herinnering aan die koel, selfversekerde vreemdeling met die spottende blou oë laat haar opnuut verleë en ergerlik voel en sy hoop van ganser harte dat sy hom nooit weer sien nie.

Tuis moes hulle tot hulle ontsteltenis verneem dat die jongmeneer nog nie gekom het nie. Die dalende son, die reuseberg bokant hulle koppe, die vreemdheid en onsekerheid van alles, vul Mathilde met ’n brandende onrus en ’n grenslose gevoel van verlatenheid. Dit voel asof haar keel wil toetrek.

In al die ellende en onsekerheid is daar net één ligpunt, ’n ster wat voor in die onbekende pad brand.

Eugène!

Die huishulp het vir hulle aandete voorberei, maar nóg Mathilde nóg Pierre was baie honger. Pierre het kwaai hoofpyn gehad en na die ete gaan lê, en Mathilde is na die voorkamer waar ’n paar kerse brand om daar op haar onbekende gasheer te wag.

Dit was ’n lang, vermoeiende dag gewees. Toe die trompetter se beuel met dagbreek oor die golwe geklink het, was sy reeds op dek vir die eerste blik van die dorpie aan die voet van die berg. Die opwinding, ongewone hitte en gebeure van die veelbewoë dag het haar moeg en uitgeput gelaat. Maar sy is te gespanne om aan slaap te dink. Moes hulle nie liewer na ’n herberg toe gegaan het nie? wonder sy bekommerd. Wat sal die vreemde man dink as hy – die Vader alleen weet wanneer – tuiskom en haar en Pierre hier aantref?

Die donkerte druk teen die ruite aan en die nag is vol vreemde geluide. Bokant hulle is die donker kolos van die berg en sy voel klein en nietig en baie jonk en onervare.

Sy dink aan Eugène en wonder of hy in die twee jaar verander het. Sal hy bly wees om haar weer te sien? Die beeld van ’n ander man verrys skielik voor haar oë: ’n elegante man met spottende blou oë, wat haar ten spyte van sy hoflikheid soos ’n onbeholpe skooldogter laat voel het.

Haatlike man! Verwaande modepop! Sy wil hom nooit weer sien nie.

Rusteloos stap sy in die vertrek rond. Sy bekyk die skilderye, die mooi koperornamente op die lang buffet, die glimmende houtmeubels en die ryk tapyte op die vloer, en sy dink dat haar oom ’n vermoënde man moet wees. Maar waar is hy en waarom kom hy nie? Is dit moontlik … kan dit moontlik wees dat hy haar laaste brief nie gekry het nie?

Warm trane wel in haar oë op, maar met ’n ongeduldige hand vee sy hulle weg. Dis nie nou die tyd vir trane nie. En waarom is sy onrustig? Die Goeie Vader wat hulle deur al die gevare tot hier gelei het, sal ook in hierdie eensame, donker nag sy beskermende hand oor hulle uitstrek.

Die erfgename van La Provence

Подняться наверх