Читать книгу Laat somer - Tryna du Toit - Страница 3
Hoofstuk 1
ОглавлениеElizabeth Meyer is in die sitkamer besig om boeke te sorteer toe Katy vir dominee Greef inbring.
“Hallo, dominee,” groet Elizabeth vriendelik. “Dis ’n aangename verrassing.”
“Môre, Betta. Ek het hier verbygery en gedink ek kom kyk net hoe vorder dit met die pakkery.”
“Kom sit, dominee – hier is ’n leë stoel. Jammer alles is so deurmekaar … ’n Koppie tee?”
“Nee dankie, Betta. Ek het nie kom kuier nie. Ek wou eintlik net hoor wanneer julle vertrek.”
“Die trek is vir Dinsdag gereël. As ons klaar gepak kry.” Sy skud haar kop. “Die rommel wat ’n mens deur die jare vergader!”
“Dis nogal goed om so af en toe huis skoon te maak,” sê dominee Greef met ’n glimlaggie, “en sowel figuurlik as letterlik van al die ou goed ontslae te raak.”
“Dit is vir seker. Ek hoop maar net dit sal goed gaan daar in die stad – met my familie en met myself, en dat die aanpassing nie te moeilik sal wees nie.”
“Wat jou en die kinders betref, het ek geen bedenkinge nie. Maar ek weet nie hoe dit met Ouma en Katy sal gaan nie.”
“Ouma weier om agter te bly. Sy wil nie by oom Izak bly nie – sy hou vol sy wil dan liewer na ’n ouetehuis toe gaan – en Katy sê sy het Ma belowe sy sal na ons kyk as Ma die dag nie meer daar is nie. As ons stad toe trek, trek sy saam!”
Dominee Greef lag, dan sê hy sober: “Ek wil nog vir jou sê, Betta: ons almal bewonder die manier waarop jy die verantwoordelikheid vir jou familie aanvaar het en jou plek in die huis volgestaan het met jou stiefma se siekte en dood … en dat jy nou vir Ouma en Elsa én Katy saam met jou Pretoria toe neem.”
“Dis my familie – daar is nie sprake van iets anders nie. Ek hoop maar net ek doen die regte ding.”
“Daar is ’n tyd van kom en daar is ’n tyd van gaan. Ek is bly jy gaan terug stad toe. Ons sal jou mis, maar ek voel lankal jou talente is verlore hier op ons dorpie. En hoewel ons dorp … en hierdie huis … eens op ’n tyd vir jou en Buksie ’n heenkome was, dink ek dis hoog tyd dat jy teruggaan stad toe, na die uitdagings van die lewe daar.”
“Ek is bly dominee dink so,” sê Elizabeth. “Ek het beslis nie gedink, toe ek ná my egskeiding teruggekom het Louwsville toe – gevlug het, sou seker ’n beter woord wees – dat dit agt jaar sou wees voor ek weer terug stad toe sou gaan nie.”
Ná dominee Greef weg is, pak en sorteer Elizabeth verder, terwyl sy dink aan hulle gesprek.
Om ná agt jaar op Louwsville, haar geboortedorp, genoem na haar oupagrootjie wat die eerste predikant op Louwsville was, terug te gaan Pretoria toe, was inderdaad nie ’n maklike besluit nie. Hier op Louwsville was sy en Buks veilig en geborge. Almal het hulle geken en liefgehad. In die stad sal dit so anders wees. Maar soos dominee gesê het: daar is ’n tyd van kom en daar is ’n tyd van gaan, en ná haar stiefma se dood het sy self gevoel haar tyd hier op Louwsville is uitgedien. Leon en Esme se pleidooie dat hulle haar nodig het in Pretoria, dat dit goed sal wees vir die familie om weer saam te wees, het die deurslag gegee.
Sy het aansoek gedoen om ’n pos as senior lektrise by die universiteit en tot haar vreugde en verbasing het sy dit gekry. Leon het vir hulle ’n ruim ou huis in ’n stil deel van die stad gehuur, naby die bus en skole, en daarna was daar geen omdraai meer nie. Ouma en Katy – haar grootste bekommernisse – was dadelik gereed en gretig om saam te trek.
Elizabeth is in haar kamer besig om haar klere na te gaan toe Esme van die dorp af kom. ’n Oomblik kyk Elizabeth na haar stiefsussie waar sy in die deur geraam staan: twintig jaar oud, beeldskoon, met goudblonde hare en ’n verleidelike liggaam. Koppig, rebels, beterweterig en seker wat sy van die lewe wil hê. Sy is ’n tweedejaar-universiteitstudent en bly in die koshuis, maar Elizabeth is bewus van haar groeiende opstandigheid en sy hoop hulle teenwoordigheid in die stad sal ’n stabiliserende invloed op haar hê.
“Ek is bly jy is terug,” sê sy vir Esme. “Ek het jou raad nodig. Hierdie swart pakkie …”
“Gee dit vir die sending of die Vrouefederasie – hoe gouer, hoe beter,” sê Esme beslis.
“Dis ’n duur, ingevoerde pakkie,” sê Betta verontwaardig.
“Dit is hopeloos outyds en laat jou ten minste tien jaar ouer lyk as wat jy is.”
“Dankie!”
“Dit help nie om kwaad te word nie. Jy het my gevra en dis tyd dat iemand jou die waarheid vertel. Ek het nou die dag deur jou klerekas gekyk – en as ek jou enige raad verskuldig is, gee die hele spul vir die armes. Jy kan nie met daardie klere stad toe kom nie.”
“En wat moet ek dra?”
“Ons gaan koop vir jou nuwe klere. Terrasrokke, mooi broekpakke …”
“Broekpakke? Wat dink jy sal Ouma sê as ek heeldag in broekpakke rondloop?”
“As Ouma saamgaan, sal Ouma moet leer om toegewings te maak …”
“Dit sal vir Ouma swaar genoeg wees om in die stad aan te pas; ons moet dit nie vir haar nog moeiliker maak nie.”
“Ouma se dae is verby, Betta. Dis tyd dat jy vir ’n verandering aan jouself dink. Jy het jouself die afgelope jare baie afgeskeep.” Elizabeth antwoord nie, en sagter vervolg Esme: “Ek weet, dit was omstandighede. Jy het skoolgehou, jy was besig met jou tesis, met Mamma se siekte. En omdat die mense jou ken, het hulle jou aanvaar soos jy is. Maar in die stad is dit anders.”
“Ek besef goed dis anders. Jy vergeet, ek het self ’n hele paar jaar in die stad gebly.”
“Ek het nie vergeet nie. Maar dinge het verander – jy sal sien. Jy is mooi en slim, maar dis nie genoeg nie. Die stad is vol slim, aantreklike, alleenlopende vroue – die kompetisie is kwaai!”
Elizabeth lag. “Ek gaan nie Pretoria toe om ’n man te soek nie. As ek ’n man wil hê, kan ek net hier op Louwsville bly en met Piet Venter trou.”
“Piet Venter? Oor my dooie liggaam.”
“Waarom nie? Piet het ’n mooi plaas en hy sal goed wees vir my en Buks.” Sy lag saggies vir Esme se verontwaardigde gesig. “Toe maar, ek terg jou maar net. Ek het nie die minste plan om weer te trou nie. Nie met Piet nie en ook nie met enigiemand anders nie.”
“Dis jou saak, Betta, maar jy mag jouself nie so verwaarloos nie. Jy is nog jonk en mooi – jy het die mooiste oë, en met die regte oogskadu sal hulle absoluut dramaties wees.”
Betta skud glimlaggend haar kop.
“Los my maar uit, sussie – één mooi suster in die familie is genoeg. Buitendien, met Ouma en Buks en Elsa sal ek seker nie baie tyd hê om rond te loop nie.”
“Onsin,” sê Esme. “Jy gaan ’n belangrike pos hê en jy sal interessante mense ontmoet – jy kan nie soos ’n kluisenaar lewe nie. Die lewe is buitendien baie interessanter as die droë feite wat in boeke staan.”
“Ek glo jou,” sê Elizabeth droogweg. “Maar van boeke gepraat – jy het nog ’n hereksamen wat voorlê. Het jy vergeet?”
“Nee, ek het nie vergeet nie. Maar ek wil met jou praat, Betta. Ek … ek is nie van plan om terug universiteit toe te gaan nie.”
Elizabeth kyk ondersoekend na haar jong stiefsuster.
“Hoe dan nou?” vra sy sag.
“Ek mors my tyd. Ek stel glad nie belang in my kursus of in enige ander kursus aan die universiteit nie.”
“Wat wil jy doen?”
“Ek wil ’n fotografiese model word.” Sy lag. “Moenie so geskok lyk nie – dis ’n eerbare werk.”
“Wil jy nie eers jou kursus voltooi nie? Dis nog net een jaar.”
“Nee. Ek het klaar besluit. En daar is nog iets. As ek nie teruggaan universiteit toe nie, kan ek ook nie teruggaan koshuis toe nie.”
“Dan kom jy by ons bly.”
“Nee, Betta, dit moet jy nie van my verwag nie. Ek en Ouma saam in die huis – jy weet die vonke sal spat. Nee, ek gaan saam met twee vriendinne in ’n woonstel bly.”
“Ek sien,” sê Elizabeth. “Alles is kant en klaar gereël. Dan is daar niks verder om te sê nie, is daar?”
Later, toe sy kans kry, vertel Elizabeth vir Leon, haar stiefbroer, van Esme se nuwe planne. Leon is drie-en-twintig en ’n mediese student in sy vyfde jaar. Hy is so blond soos Esme, maar is ernstiger en meer doelgerig as sy mooi jong suster.
“Ek weet, ja,” antwoord hy. “Sy het my vertel. Ek dink jy moet haar maar laat begaan, Betta. Om haar nou teë te gaan, sal jou niks baat nie.”
“Ek besef dit, ja – ek kan haar nie dwing om terug universiteit toe te gaan as sy nie wil nie. Maar dis nie al nie … sy wil saam met twee vriendinne in ’n woonstel gaan bly.”
“My liewe Betta, in die stad is daar honderde jong meisies wat op hulle eie of saam met vriendinne in ’n woonstel bly. Wees dankbaar dit is ’n vriendin en nie ’n vriend nie!”
“Ek dink nie dis snaaks nie, Leon.”
“Dis nie bedoel om snaaks te wees nie. Ek probeer jou net waarsku dat dinge verander het sedert jy op universiteit was.”
“Julle laat my soos ’n regte plaasjapie voel. In my dae was daar ook wolwe, het daar ook dinge gebeur …”
“Ek praat nie van wolwe nie. Ek praat van die hele lewenspatroon wat verander het. Ek praat van Esme en myself en ander jong mense soos ons wat grootgeword het met sekere vaste beginsels, en nou uitvind dat die dinge waarin ons geglo het nie meer saak maak nie. Ek probeer jou nie ontstel nie, ek sê maar net dinge het verander vandat jy op universiteit was. Daarom is ek bly jy kom stad toe, sus – ons het jou nodig. Alles sal sommer anders wees, net omdat julle daar is.”
Buks, Elizabeth se negejarige rooikopseun, was al een wat – openlik altans – bedenkinge oor die trekkery gehad het.
“Waarom moet ons weggaan, Mamma?” vra hy toe sy vir hom kom nagsê die aand voor hulle vertrek. “Ons het lekker hier op Louwsville gebly.”
“Omdat Mamma in die stad moet gaan werk en omdat dit vir ons almal beter is om daar te gaan bly, Buksie. Daar is goeie skole en universiteite, en Esme en Leon is ook daar …”
“Ek wil nie na ’n vreemde skool toe gaan nie. Ek sal niemand daar ken nie.”
Elizabeth gesels met hom en probeer hom paai. Sy vertel hom van Pretoria se groot swembaddens, die rugby, die jakarandas en die liggies wat die stad saans in ’n sprokieswêreld verander, maar Buks bly ontroosbaar.
“Ek wil liewer hier bly. Wie sal blomme op Oupa en Ouma se graf sit, en wat van ou Wagter wat daar onder die peerboom begrawe is?”
“Ons sal weer vir jou ’n hond koop – so gou soos ons ingetrek het,” belowe Elizabeth. “En later ’n fiets ook …”
“’n Resiesfiets?”
“Ons sal sien. Nou toe – maak jou oë toe en slaap. Ons moet môre almal baie vroeg opstaan.”
“Ek sal, Ma,” sê hy gedwee. “Ma, sal my pa ook daar in Pretoria wees?”
’n Oomblik is dit stil in Elizabeth, dan sê sy sag: “Nee, Buksie – Pappa woon daar ver in die Kaap, nie in Pretoria nie. Nou toe, slaap nou. Ek is moeg, ek wil ook gaan slaap.”
“Probleme met Buks?” vra Leon toe sy weer in die sitkamer kom.
“Hy is omgekrap oor die trekkery. Hy vra wie blomme op Oupa en Ouma se grafte sal sit as ons weg is, en wat van ou Wagter wat onder die peerboom begrawe is.”
“Daar is genoeg afleidings in die stad … hy sal gou aanpas. Wat pla hom nog?”
“Hy wil weet of sy pa ook in Pretoria sal wees.”
“Sy pa? Buks kan mos nie sy pa onthou nie.”
“Nee, maar hy weet hy het ’n pa. En wanneer hy my uitvra, vertel ek hom van sy pa.”
“Wat vertel jy hom?”
“Ag, die mooi dinge,” sê Elizabeth sag. “Jy weet – ’n seun moet trots wees op sy pa.”
“Wanneer het jy laas van Gerrie gehoor, Betta?”
“Ek het baie jare laas van Gerrie self gehoor. Maar af en toe hoor ek iets van vriende of kennisse wat hom raakgeloop het.”
“Gaan dit goed met hom?”
“Ek dink so. Margie, sy vrou, was ’n ruk lank weg van hom, maar toe ek laas gehoor het, was hulle weer bymekaar.”
“En jy? Hoe voel jy ná agt jaar oor Buks se pa?”
Elizabeth is ’n rukkie stil, dan sê sy sag: “Ek wens ek kon sê daardie episode in my lewe is oor en verby. Maar solank Buksie daar is, kan ek nooit heeltemal van die verlede wegkom nie.”
Die nag het dit begin reën en toe Elizabeth die volgende oggend wakker word, was die wêreld grys en nat.
Gelukkig dat Ouma en Elsa by oom Izak op die plaas is, dink Elizabeth dankbaar. Soos dit is, sal die trekkery in die reën genoeg probleme oplewer.
Die meubelwa het ’n uur laat opgedaag, en kort daarna is Elizabeth-hulle in die grys misreën weg. Sy, Esme, Katy en Buks sou vooruit ry om solank die huis oop te maak en skoon te maak voor die trek kom. Leon sou agterbly om ’n ogie oor die pakkery te hou en dan later kom.
Is die reën vir hulle ’n goeie voorteken? wonder Elizabeth toe sy vir oulaas deur die vaal reëngordyn na Louwsville terugkyk. Sy hoop so. Die Louws het die afgelope jare genoeg hartseer geken.
Dit het die hele pad Pretoria toe gereën. Buks het hoofpyn gehad van al die opwinding en het die meeste van die tyd geslaap. Katy, die huishulp, was stil, haar gesig somber, asof die volle implikasies van die trek nou eers tot haar deurdring. Esme was al een wie se gees nie deur die reënweer óf die trekkery gedemp kon word nie, en Elizabeth was dankbaar vir haar lighartige optimisme.
In stortreën het hulle net ná eenuur Pretoria binnegery. Sonder moeite kry hulle die straat, en ook die rooidakhuis met die doringbome, net langs die ou Kaapse gewelhuis, volgens Leon se instruksies.
Dit is ’n gevestigde en aangename buurt, soos hy belowe het. Die huise is ruim, die tuine mooi en goed versorg. Hulle huis is egter die uitsondering. Dit lyk verwaarloos, en van ’n tuin is daar geen sprake nie.
“Wel, hier is ons,” sê Elizabeth flou.
“Mmmm,” spot Esme. “Ek sien. Geen teken van die bure nie – geen wapperende vlae, geen rooi tapyt nie. Stil, sonder vertoon neem die Louws van Louwsville hulle intrek in die stad … Jy kan maar inry, Betta. Die hek is oop.”
Elizabeth ry met die nat motorpad tot langs die huis. In stilte bekyk die familie hulle nuwe tuiste.
“Hoe lyk dit vir jou, Esme?” vra Elizabeth eindelik.
“Net soos vir jou, Betta,” sê Esme. “Oud en vaal en verwaarloos.”
“Dit sal seker beter lyk as die son skyn.”
“Ek hoop so. Toe, klim uit en sluit oop die deur dat ons kan sien hoe lyk dit binne.”
Dis ’n lekker ou huis, dink Elizabeth terwyl hulle van kamer tot kamer stap. Ruim en lugtig met besliste moontlikhede. Maar vuil en verwaarloos, en in ’n paar van die kamers staan poele water soos die dak lek. Maar seep en water en ’n paar lae verf sal ’n groot verskil maak.
Aan die tuin sal sy later dink. Op die oomblik is dit genoeg dat hulle ’n dak oor hulle kop het, al lek die dak ook.
Daar is egter geen elektrisiteit nie. Leon het natuurlik vergeet om die deposito vir die ligte te betaal.
Elizabeth kyk na die stroewe gesigte om haar, dan glimlag sy. “Ons gaan nou eers eet. Bring vir ons die kosmandjie, Katy, dat ons sien watter lekker kos tannie Kitty vir ons ingepak het. Ons sal almal beter voel as ons eers geëet het.”
“Sal ek nie ’n primus by van die bure gaan leen nie, Miss Betta?” vra Katy. “Dis so nat, ’n bietjie warm tee sal lekker smaak. Ek kry dan sommer ook ’n paar ou skottels of emmers, dan word die vloer darem nie so nat nie.”
“Nee, Katy,” sê Elizabeth ferm. “Ons moet eers ons bure leer ken. Hier in die stad leen ’n mens nie sommer by enigiemand nie. Kom ons eet gou, dan begin ons werk. Die trek is netnou hier.”
Ná ’n lekker maaltyd van koue vleis en vrugte en brood voel almal beter en hulle spring met mening aan die werk en begin vee en stof en kaste uitskrop. Toe die reën later so ’n bietjie bedaar, raak Katy ongemerk weg en kom ’n rukkie later hoogs ontsteld by Elizabeth aan.
“Wat is dit nou?” vra Elizabeth.
“Nee, Miss Betta is reg,” sê Katy boos. “Dis anderste soort mense wat hier bly.”
“Wat makeer? Wat het gebeur?” vra Elizabeth besorg.
“Ek was hier langsaan by die bure; ek wou ’n primus leen om vir Miss Betta-hulle tee te maak. Maar daardie meisie hier langsaan – sy sê sy is die ‘inside’ – baie grênd met so ’n klein kantvoorskootjie en keppie – sy sê die mevrou is uit na ’n ‘bridge luncheon’ – Miss Betta sal weet watse ding dit is – en sy kan nie hulle goed sonder haar mevrou se konsent aan enige Tom en Herrie leen nie. Hulle het genoeg sonde met die vorige bure gehad.”
Die hele middag het hulle gewas en geskrop en skoongemaak so goed hulle kon. Die reën het sonder ophou geval, en van die meubelwa of van Leon was daar geen teken nie. Wat sou gebeur het? wonder Elizabeth met groeiende bekommernis. Sy en Esme is later na ’n winkelsentrum daar naby om ’n primus, kerse en blakers, kos en ander noodsaaklikhede te koop.
Dit was al sterk skemer toe Leon uiteindelik, moeg en nat, daar aankom. Hy kyk na die kerse wat oral brand, op die vloer, op die koffers in die sitkamer waar dit die minste lek, en begin lag.
“Die elektrisiteit! Ek het nooit daaraan gedink nie.”
“Waar is die meubelwa?” wil almal weet.
“Vasgeval. Hulle sal nie voor môre kom nie. Ons sal vanaand na ’n hotel toe moet gaan.”
Niemand het egter baie lus om nou na ’n hotel toe te gaan nie.
“Kan ons nie maar hier bly nie?” vra Elizabeth. “Ons het ’n primus en kerse en hier is genoeg kos – ons hou sommer vanaand piekniek.”
“En waar slaap ons?” vra Leon prakties.
“Ons het twee slaapsakke en genoeg komberse om kermisbeddens te maak. Ons het geskrop en skoongemaak; niemand sal tog omgee om een nag op die vloer te slaap nie.”
“Ek het geen beswaar nie,” sê Leon. “En die huis? Wat dink julle daarvan, Betta?” vra hy versigtig.
Elizabeth aarsel.
“Die eerste indrukke was nie so gunstig nie,” erken sy met ’n dapper glimlag. “Alles is so vuil en verwaarloos en daar is nie iets soos ’n tuin nie. Maar dis ’n lekker ruim ou huis, met genoeg lig en lug, en dis ’n mooi buurt. Ek is seker ons sal lekker hier bly as alles agtermekaar is.”
Leon lyk verlig.
“Jy is ’n doring, Betta. Jy sê daar is kos – ek is dood van die honger; ek het die hele dag nog niks geëet nie.”
“Ons kan dadelik eet. Almal is moeg en honger.”
Elizabeth sprei ’n paar koerante op die vloer en pak die kos uit. Gebraaide hoender en aspersies van die kafee, koue skaapvleis en frikkadel wat oorgebly het, vars brood en botter en ’n bottel sjerrie om die geleentheid te vier. Die radio verskaf sagte musiek.
“Ek dink jy is wonderlik, Betta,” sê Leon waarderend terwyl hy smaaklik eet. Hy voeg berouvol by: “Ek is jammer oor alles wat vandag skeefgeloop het. Die reën kon ek nie verhelp nie, en dis ook nie my skuld dat die meubelwa vasgeval het of die dak lek nie, maar ek kon darem die deposito vir die ligte betaal het.”
“Ek dink dis baie geselliger so met kerslig en musiek. En baie lekkerder hier in ons eie huis as in die hotel.”
“Jammer ook oor die huis. Ek het dit net een maal gesien en toe was daar meubels in – ek het nie besef dit is so verrinneweer nie. Huurhuise is skaars en ek was te bly om ’n huis in hierdie buurt te kry, naby goeie skole en so gerieflik naby die bus.”
“Ek sê jou dis ’n lekker ou huis – ons gaan nog lekker hier bly. En dis wonderlik dat dit so naby die skole en universiteit is. Wag maar, jy sal die huis nie ken as ons daarmee klaar is nie.”
“Ek is bly jy sien dit so. Ek sal dadelik reël vir ’n telefoon – gelukkig het ek dit vir my werk nodig. Nou kom, ons drink op die gesondheid van die Louw-familie. Lank sal hulle lewe …”
Esme begin sing: “Lank sal hulle lewe,” en die ander val ook saam in. “Lank sal hulle lewe, lank sal hulle lewe, in hul gloria – in hul glor-ia.”
Uit die sitkamerdeur sê ’n diep stem, met kille verbasing: “Wat op aarde gaan hier aan?”
Verskrik breek hulle af terwyl hulle na die vreemdeling kyk wat in die deur staan. Hy het ’n reënjas aan, die kraag is opgeslaan en sy gesig is in skaduwee. Leon staan stadig op.
“Betta, ons het ’n kuiergas.”
Daar is ’n kort stilte, dan sê Elizabeth koud: “Ek het nie die deurklokkie hoor lui nie.”
“Die deurklokkie is stukkend. Ek het geklop, maar niemand het my blykbaar gehoor nie,” sê die vreemdeling saaklik.
“Ons was besig met aandete.” Elizabeth se stem is koel. “Wat kan ons vir jou doen, meneer?”
“Ek is Herman Fourie,” sê die vreemdeling. “Ek woon in die huis langsaan. Dié huis staan al geruime tyd leeg en toe ek die lig sien en die musiek hoor, het ek gedink dis miskien inbrekers. Ek wou die polisie bel, maar het gedink ek sal eers self kom kyk.”
“Dit was dapper van jou,” sê Elizabeth spottend en Esme giggel.
“Dit spyt my as ek julle lastig geval het.” Die man se stem is merkbaar killer. “Ek was blykbaar verniet bekommerd. Maar dis ’n stil, fatsoenlike buurt, en so ’n leë huis op ’n reënaand … Ek wou maar net seker maak dis nie ongeoorloofde besoekers nie.”
“Dit was gaaf van jou om te kom ondersoek instel,” sê Leon beleef. “Maar dis nie nodig om die polisie te bel nie. Ons is die nuwe intrekkers. My van is Louw – en dit is my twee susters, Esme Louw daar, en mevrou Meyer. Buks sit langs haar. Met die reënweer het die meubelwa vasgeval en ons het besluit om maar vanaand piekniek te hou en vannag hier te kampeer.”
“Jammer dat ek julle gesteur het,” sê Herman Fourie kortaf. “Ek wens julle dan ’n goeie nag toe. Ek hoop die res van julle verblyf hier sal voorspoediger wees as die begin.”
“Dankie,” sê Elizabeth, haar stem stroopsoet. “Die reën val nou harder. Kan ons nie vir jou ’n sambreel leen nie, meneer Fourie?”
’n Oomblik kyk hy in stilte na haar. “Nee dankie, mevrou,” sê hy dan hoflik. “Ek dink jou nood is groter as myne. Goeienag.”
“Ek stap saam,” sê Leon.
Esme giggel geamuseerd nadat Leon en die besoeker uit is.
“Wat ’n grap! So amper het die polisie ons vanaand hier kom uitsmyt.”
“Ek dink glad nie dis snaaks nie,” sê Elizabeth, nog omgekrap deur die onverwagte ontmoeting. “Wat ’n koue, onaangename man. En dis ons nuwe buurman! Verbeel jou: dis ’n stil, fatsoenlike buurt …”
“O, ek dink dis baie snaaks,” lag Esme. “Ek wonder of hy die man is van die mevrou wat vanmiddag brug gespeel het.”
“Dit klink of hulle bymekaar pas.”
Leon kom terug en Elizabeth sien hy is ontsteld.
“En nou, Leon?” vra sy. “Het jy en die buurman nog woorde gehad?”
“Die ongeluk ry ons vandag behoorlik,” sê Leon. “Weet jy wie ons besoeker was, Betta?”
“Meneer Herman Fourie – ons buurman. Hy het mos so gesê.”
“Dokter Herman Fourie. My professor in chirurgie.”
Dis stil in die vertrek.
“Maar hoe …?” begin Esme.
“Ek het hom nooit herken nie,” sê Leon bedruk. “Hy het half in die donker gestaan en sy kraag was opgeslaan – dis eers toe ek saam met hom uitstap dat dit my soos ’n voorhamer tref: ek ken ons nuwe buurman.”
“Nou wat daarvan?” sê Esme uitdagend.
“Ons proffie is bekend as ’n streng, dikwels moeilike man. Ons loop maar lig vir hom. En aangesien ek die volgende twee jaar heelwat met hom te doen sal hê – jy kan maar sê my hele toekoms is in sy hande – wil ek die man nie uit die staanspoor onnodig antagoniseer nie.”
Dis stil in die vertrek.
“Ek verstaan,” sê Elizabeth. “Dis ’n ietwat moeilike situasie! Weet hy jy is een van sy studente?”
“Ek dink nie so nie. Maar dis seker net ’n kwessie van tyd.”
Professor Herman Fourie stap terug na sy huis, half ergerlik en tog geamuseer deur die onverwagte ontmoeting met die nuwe bure.
Sy suster wag hom in die sitkamer in. Maryna Fourie is ’n lang, skraal vrou met mooi, reëlmatige gelaatstrekke, donker hare en oë en ’n koel, hooghartige houding. Sy is omtrent veertig jaar oud en bly die laaste paar jaar, sedert die dood van haar broer se vrou, by hom.
“Wel?” vra sy toe hy die sitkamer binnekom. “Wat gaan daar aan? Is dit inbrekers?”
“Dis ons nuwe bure wat ingetrek het, of liewer besig is om in te trek,” sê hy lakoniek.
“Ons nuwe bure? Wie is hulle?”
“Louws – daar is ’n mevrou Meyer ook. Hulle was met aandete besig toe ek daar kom – plat op die vloer met kerslig en musiek. Met die reënweer het die meubelwa glo êrens op pad vasgeval.”
“Hoe lyk die mense?” vra sy agterdogtig.
“Dis moeilik om te sê ná so ’n kort kennismaking. En dit in die halfdonker. Hulle is jonk, heelwat jonger as ons …”
“Dan is vanaand se lawaai maar ’n voorsmakie van wat ons te wagte kan wees,” sê Maryna bitter.
“Hulle het nie baie lawaai nie, Maryna,” sê Herman stil. “Ek het gesien daar is lig en het oorgestap omdat ek bang was dis inbrekers. Ek het nie geweet die huis is verhuur nie.”
“Is daar kinders?”
“Daar was ’n rooikopseun van so nege, tien jaar.”
“Hmmmm. Dan weet ons wat ons te wagte kan wees,” sê sy misnoeg.
“Laat ons maar wag en kyk,” sê die dokter besadig. “En van kinders gepraat: het jy iets van Martin gehoor?”
“Nee. Hy kuier seker nog lekker.”
“Dis tyd dat hy huis toe kom. Begin die skool nie volgende week nie?”
“Hy geniet dit op die plaas. Waarom wil jy hê hy moet huis toe kom?”
“Ek verlang na my kind – dis tyd dat hy huis toe kom. Verskoon my, ek gaan nou dadelik bel.”