Читать книгу Laat somer - Tryna du Toit - Страница 4
Hoofstuk 2
ОглавлениеDie reën het die volgende middag begin opklaar en toe Herman Fourie laat die middag van die hospitaal af kom, sien hy dat daar ligte in die nuwe bure se huis brand. Hy dink weer aan die toneeltjie wat hom die vorige aand begroet het: die moeë jong mense daar op die vloer wat met kerslig en musiek en ’n bottel sjerrie die triestigheid van die reënaand en die ongerief van hul verblyf in ’n leë, lekkende, verwaarloosde ou huis probeer vergeet het.
Hy is jammer dat hulle sy natuurlike besorgdheid as inmenging beskou het, maar so hoef die vrou haar ook nie te gewip het nie. En toe vererg hy hom natuurlik ook.
Onwillig glimlag hy. Die situasie het beslis sy komiese sy ook – en ten spyte van Maryna se bedenkinge sien hy uit daarna om sy nuwe bure te leer ken.
Waar sou meneer Meyer wees? wonder hy.
“Het jy iets verder van ons bure gehoor?” vra hy later vir Maryna.
“Die meubelwa het gekom – dit was nog hier toe ek van die kantoor af kom. Van die mense self het ek niks gewaar nie.”
Haar stem klink stroef, sonder belangstelling, en hy vra nie verder uit nie. Herman is besig om vir hulle ’n drankie te skink toe daar ’n klop aan die deur is. Vlugtig kyk hy en Maryna na mekaar.
“Kan ek maar inkom?” roep ’n vrolike stem.
Dis June, Charles en Eugenie de la Rey se dogter. Die De la Reys woon in die gewelhuis aan die ander kant van die nuwe intrekkers.
“Kom in, June,” groet Herman vriendelik. Maryna se “Naand, June” is koel. “Jy is net betyds om ’n drankie saam met ons te drink,” sê Herman.
“Nee dankie, ek het net ’n boodskap van Mamma gebring. Ag, ja … gee my maar so ’n klein sjerrietjie.”
“En wat is die belangrike boodskap?” vra Herman toe hy vir haar ’n glasie sjerrie gee.
“Ek het nie gesê dis belangrik nie,” glimlag sy. June de la Rey is ’n aantreklike jong meisie van omtrent vyf-en-twintig met mooi, sagte bruin oë en ’n oop, vriendelike gesig. “Mamma vra of julle nie kaartjies vir die première van La Traviata sal neem nie. Die kaartjies is duur maar die geld gaan alles vir liefdadigheid.”
“Ek sal twee kaartjies neem,” sê Herman. “Ek was in elk geval van plan om te gaan. Ek wil baie graag daardie Italiaanse operasangeres hoor.”
“Jy sal nie teleurgesteld wees nie. Hulle sê Bobette sing soos ’n engel. Ná die opvoering kom julle by ons eet; Mamma hoop Bobette sal ook daar wees.”
“Dit klink interessant,” sê Herman.
“Ek sien uit daarna,” sê June opgewonde. Sy is lief vir musiek en self ’n begaafde pianis. “Maar het julle gesien? Ons het nuwe bure gekry.”
“Ons het gesien, ja,” sê Herman. “Ek was gisteraand gou daar. Ek het gesien daar’s lig in die huis en het gedink dis miskien inbrekers.”
“Hoe lyk die mense?”
“Ek was net ’n paar oomblikke daar, June. Hulle is jong mense en was besig om op die vloer piekniek te hou … by kerslig. Hulle meubelwa het glo met die reënweer vasgeval.”
“Jong mense?” vra June gretig.
“Ek kan nie help om te wonder watter soort mense hulle is nie,” sê Maryna. “Ons het soveel sonde en ergernis met die vorige bure gehad, én die mense voor hulle …”
Maryna se koel, afkeurende stem demp June se geesdrif. Sy knik.
“Ek weet. En die huis en tuin is so verwaarloos – Mamma sê dis ’n skande vir die hele buurt. Mamma is nie van plan om te gaan kennis maak nie; sy sê jy het skaars gegroet, dan trek die mense weer. Vandag hier, môre daar … opdrifsels … mense sonder ankers.”
Herman kyk na die drankie in sy hand terwyl hy dink aan sy ontmoeting met die bure. “Opdrifsels, mense sonder ankers?” sê hy saggies, mymerend. “Nee, dis nie die indruk wat ek van die Louws gekry het nie.” Daar is die sweem van ’n glimlag op sy gesig. “Maar ek het tog ’n gevoel dat ons, vroeër of later, sonde met die bure gaan hê!”
Die telefoon lui in sy studeerkamer en hy staan op om te gaan antwoord.
“Het julle die nuus gehoor – van Dawn?” fluister June vir Maryna.
“Dawn?” vra Maryna skerp.
“Dawn Morgan – Herman se verloofde.”
“Jy bedoel Herman se gewese verloofde,” sê Maryna koud. “Wat van haar?”
“Mamma sê Dawn kom een van die dae Suid-Afrika toe om aan Truk se feesprogram deel te neem. Ek is jammer, Maryna,” sê sy berouvol toe sy sien die nuus ontstel die ouer vrou. “Ek het gedink julle weet.”
“Dat Dawn terugkom? Nee, ek het nie geweet nie. Ek dink ook nie Herman weet nie.”
“Dawn is vandag ’n beroemde sangeres,” sê June. “Hulle sê haar stem het ongelooflik verbeter en …”
Sy bly stil toe sy Herman se voetstappe in die gang hoor.
“Dit was jou ma,” sê hy vir June. “Sy is bekommerd omdat jy nog nie tuis is nie.”
“Ag nee,” sê June. “Ek het nie besef dis al donker buite nie.”
“Toe maar, ek het gesê ek sal saam met jou huis toe stap.”
“Die kos is klaar, Herman,” sê Maryna koel. “Dina is besig om op te skep.”
“Skep maar op, ek is nou terug,” sê hy bruusk.
Hulle is ná ete besig om koffie te drink toe Maryna versigtig vra: “Het jy geweet Dawn kom Suid-Afrika toe?”
Herman kyk vlugtig na haar. “Dawn? Waar hoor jy dit?”
“June het my vertel. Sy kom om aan Truk se feesprogram deel te neem.”
“Dis nou drie jaar sedert sy weg is. Dit sal interessant wees om te hoor hoe haar stem ontwikkel het.”
Sy stem is kalm. As die nuus hom ontstel het, verraai sy gesig dit nie.
Presies wat het drie jaar gelede tussen Dawn en Herman gebeur? wonder Maryna nadat hy na sy studeerkamer toe is. Hulle was skaars ’n maand verloof toe die verlowing skielik beëindig is, en Dawn is dadelik Duitsland toe om haar sangstudie voort te sit.
Daar is algemeen aanvaar dat sy die verlowing beëindig het omdat sy ’n loopbaan in die opera bo die huwelik verkies het en Herman het nooit dié gerugte weerspreek nie.
Is hy nog lief vir Dawn? wonder Maryna nou met nuwe onrus. Sal sy liefde vir musiek, wat hom en die mooi Dawn Morgan bymekaargebring het, dit ná drie jaar weer doen?
Daar is één groot vrees in die lewe: dat Herman weer sal trou en dat sy vir ’n ander vrou in sy huis en lewe sal moet plek maak.
’n Groot liefdesteleurstelling tien jaar gelede het haar hele lewe uit verband geruk. Sy het haar teruggetrek van haar vriende, van alles in die lewe waarin sy vroeër belanggestel het, en ná Herman se vrou se dood twee jaar later het sy haar intrek in sy huis geneem.
Maar die vrees dat Herman weer sal trou was altyd daar. Hy is nou drie-en-veertig, ’n aantreklike man in die fleur van sy lewe, ’n begaafde chirurg met ’n steeds groeiende reputasie.
Maryna se Siamese kat, Picasso, kom by die sitkamer in en spring met die stil grasie van ’n kat op haar skoot. Sy streel hom, en kielie hom onder sy ken.
“Waar het jy rondgeloop, jou stouterd?” sê sy sag, liefkosend. “Dis nog nat buite – netnou word jy weer siek.” Die kat rek homself behaaglik teen haar uit en sy glimlag effens. Dan versomber haar gesig weer.
Die dag ná die meubelwa gekom het, het Ouma Louw en Elsa, Elizabeth se jonger stiefsuster, onverwags opgedaag. Elizabeth-hulle was besig om een van die kiste uit te pak toe Esme ’n taxi sien opry met die motorpad.
“Ons kry kuiermense, Betta,” waarsku sy. “Hier het nou net ’n taxi ingery.”
“’n Taxi? Wie op aarde sal nou vir ons kom kuier?”
Esme loer deur die venster. Dan begin sy giggel.
“Kom kyk self – herken jy nie daardie hoedjie met die blom agter in die motor nie?”
“Ouma?” sê Betta verslae. “Dit kan nie wees nie. Oom Izak het belowe!” Sy begin lag. “Dit is Ouma en Elsa. Kom ons gaan haal hulle.”
Hulle bring Ouma en Elsa in huis toe.
“Maar Ouma,” sê Elizabeth tussen huil en lag, “Ouma sou dan by oom Izak gebly het tot ons alles ’n bietjie agtermekaar het.”
“Ek het lank genoeg gebly,” sê Ouma bondig. “As ek ’n dag langer na Corrie se gesanik oor haar kwale en ipekonders moes luister, het ek self ’n toeval gekry.”
Terwyl hulle koffie drink, kyk Elizabeth na haar ouma. Ouma Louw is fyn en broos, met spierwit hare, maar nog fier en regop ten spyte van haar byna tagtig jaar. Op die stoel langs haar lê die hoed met die blom. Hoe sal Ouma hier in die stad aard? Maar dit help nie om te praat nie. Wat ook al vir hulle almal wag – Ouma Louw het gekom om te bly.
’n Dag of twee later kom hulle buurvrou van oorkant die straat, Maggie Bruwer, kennis maak. Elizabeth is dadelik bewus van die nuuskierige belangstelling waarmee sy alles en almal om haar betrag.
“Ek het nie kom kuier nie, kind,” sê sy dadelik. “Ek weet julle is nog besig om uit te pak en reg te maak. Ek het net vir julle kom sê welkom hier in ons buurt en vir julle ’n paar tamaties en boontjies uit Pa se groentetuin gebring.”
Elizabeth bedank haar opreg – dis die enigste welwillende gebaar wat daar nog van die bure gekom het – en nooi haar om ’n koppie tee saam met die familie te drink. Maggie Bruwer aanvaar die uitnodiging gretig en terwyl hulle tee drink, vra sy uit oor die familie.
Elizabeth vertel haar kortliks en sy luister belangstellend.
“En jou man, my kind? Wat doen hy?”
“Ek is geskei van my man, mevrou,” sê Elizabeth kalm.
“Ag, ek is jammer,” sê Maggie Bruwer sag. “Ek het nie bedoel …”
“Natuurlik nie,” sê Elizabeth. “Maar vertel ons van ons bure. Ons besef natuurlik ons was gelukkig om ’n huis in so ’n goeie buurt te kry – net jammer die huis en tuin is so gruwelik verwaarloos.”
“Ja, dis ’n skande. Die vorige huurders het net mooi niks gedoen nie – alles so voor hulle oë laat verdroog en vergaan. Die seun het van die môre tot die aand met sy motorfiets deur die strate gejaag tot ons die polisie op hom gesit het.”
“Die polisie …” sê Elizabeth peinsend, en ’n oomblik vang sy Esme se blik. Met moeite onderdruk Esme ’n giggel. “Ons buurman, dokter Fourie, wou ook die eerste aand die polisie bel: hy het gedink ons is inbrekers. Gelukkig het hy eers kom ondersoek instel.”
“Dan ken julle die Fouries?”
“Ons het dokter Fourie daardie aand net vinnig gesien,” sê Elizabeth koel. “Dit was half donker, en ek sal hom nie ken as ek hom weer sien nie. My broer het vir my gesê hy is ’n chirurg.”
“Dis reg. Sy suster, Maryna, woon by hom. Sy seun, Martin, is op skool, maar in die koshuis.”
“En sy vrou?” wil Ouma Louw weet.
“Sy vrou is sewe, agt jaar gelede dood. Dis toe dat Maryna by hom kom bly het. Sy is nooit getroud nie – het jare gelede ’n liefdesteleurstelling gehad … Ag, ’n mens wil nou nie skinder nie, maar sy is ’n regte ou suurknol en groet ’n mens skaars party dae.”
“En ons ander bure?” vra Ouma.
“Die De la Reys woon in die gewelhuis langs julle.” Hulle kyk na mekaar. Dis dan die mevrou wat gaan brug speel het. “Charles de la Rey is ’n bekende advokaat in die stad. Hulle is vooraanstaande mense, onthaal baie en eet saam met die ministers. Eugenie is ’n goeie mens – sy doen baie vir liefdadigheid en is heeldag besig om een of ander funksie te reël.”
“Het hulle kinders?” vra Ouma.
“Een dogter, June. Sy is ’n onderwyseres, ’n gawe meisie; dit verbaas my dat sy nog nie verloof of getroud is nie. Maar natuurlik, Eugenie sal nie sommer enigiemand as skoonseun aanvaar nie. Sy het eintlik in die stilligheid haar oog op die dokter – maar tot dusver lyk dit nie of ons buurman wil saamspeel nie.”
“Vertel ons van die Bruwers?” vra Elizabeth met ’n glimlaggie. “Die gawe bure wat vir ons die lekker tamaties en boontjies gebring het?”
Maggie glimlag verleë.
“Dis net ek en Pa. My man is jare gelede dood. Pa, dis nou my skoonpa, het vroeër daar in Prieska se wêreld geboer, maar met al die droogtes en teëspoed het hy uitgeboer en by ons in die stad kom bly. Nou spook hy maar met sy groentetuin. Dit hou hom besig, en hy maak so ’n ietsie ekstra met die groente wat hy verkoop.”
Kort daarna staan Maggie op en vertrek.
Toe Leon die middag van die hospitaal kom, kry hy vir Buks in die tuin waar hy verveeld ronddwaal.
“Wat doen jy, Buks?” vra hy.
“Ek kyk na die voëls, oom Leon. Hier is ’n houtkapper in die bome – ek dink hy wil nes maak.”
“Dit sal gaaf wees,” sê Leon.
“Het oom gesien hoe baie bosduiwe is hier? Mag ’n mens bosduiwe skiet?” vra hy.
“Ek weet nie. Ek dink nie ’n mens mag enige voëls in ’n beheerde gebied skiet nie.”
“Wat is ’n beheerde gebied?”
“Die stad – die voorstede – enige plek waar daar huise is. Maar jy het mos nie ’n geweer nie, het jy?”
“Ek het ’n kettie. Ek kan enige ding met die kettie raakskiet. Sal ek oom wys? Daardie bosduif wat daar op die tak sit …”
“Nee, nee, wag liewer,” keer Leon haastig. “Netnou maak jy moeilikheid. Die huise is hier so opmekaar, netnou skiet jy ’n venster stukkend of ’n man se oog uit.”
“Ek skiet goed,” sê Buks trots. “Ek sal nie moeilikheid maak nie.”
“Los die bosduiwe, man,” sê Leon. “Ek het ’n baie beter plan. Ek het ’n vriend wat met posduiwe boer. Hy het al ’n hele paar kampioene geteel en baie wedvlugte gewen. Ons gaan vanmiddag vir hom kuier en hoor of hy nie ’n paar posduiwe aan jou sal verkoop nie.”
Buks se oë is blink en opgewonde.
“Is die duiwe baie duur, oom Leon?”
“Hulle is nogal duur, maar die eerste twee gee ek vir jou present.”
“Waar sal ons hulle sit?”
“Ons gaan vir hulle ’n hok bou. Maar jy sal mooi na hulle moet kyk, Buks. Die hokke moet altyd skoon wees en die duiwe moet gereeld kos en water kry.”
“Ek sal na hulle kyk,” belowe Buks plegtig. “Ek sal mooi na hulle kyk.”
“Ek sal help wanneer ek tyd het,” sê Leon. “Nou toe, gaan bêre jou kettie en sê vir jou ma ons gaan duiwe kyk. En bring jou swembroek saam. Ons kan daarna gaan swem.”
Leon se vriend het vir Buks twee posduiwe belowe, en die volgende dag gaan koop Leon die materiaal om die hokke te bou.
Die dokter se sestienjarige seun, Martin, het onverwags ook daar aangekom toe hy die getimmer hoor, en ingespring om te help.
“Baie dankie, Leon,” sê Elizabeth die aand toe hulle ná ete in die sitkamer sit. “Buks is so eensaam en verlore; die belangstelling sal hom goed doen.”
“Dis ’n plesier, Betta,” sê Leon. “Ek het self nog altyd belanggestel in posduiwe. Buks en ek gaan nog lekker saam boer.”
“Haai, luister hier,” sê Esme, wat besig is om die koerant deur te blaai. “Hier is ’n artikel oor Dawn Morgan – dis mos die operasangeres aan wie ons buurman verloof was.”
“Waar kom jy aan sulke onsin?” vra Leon afkeurend.
“Tannie Maggie het so gesê. Hulle was verloof, en toe ewe skielik is die verlowing verbreek en is Dawn oorsee om verder in sang te studeer. En nou kom sy ná drie jaar terug om aan Truk se feesprogram deel te neem.”
“Hmmm,” sê Elizabeth, “ek wonder hoe die dokter daaroor voel.”
“En wat van Mamma De la Rey se plannetjies,” spot Esme.
“Julle het twee regte kletskouse geword,” sê Leon afkeurend.
“Dis van pure frustrasie, broer,” sê Elizabeth liggies. “Op die oomblik is dit al manier waarop ons deel kan wees van die gemeenskap. Een van die dae sal ons te besig wees met ons eie dinge om ons met die bure se sake te bemoei. Dit herinner my, ek wil nog vir ou oom Ignatius Meyer gaan kuier. Ek dink ek moet sommer môre gaan, dan kan ek vir Buks saamneem.”
“Ignatius Meyer – Gerrie se oom?” vra Esme. “Jy het hom jare laas gesien, Betta. Jy het tog geen verpligting teenoor hom nie.”
“Ek het nog altyd kontak met hulle behou,” sê Elizabeth. “Ek het gereeld vir hulle met Kersfees en verjaarsdae geskryf. Ek was jammer vir hulle – Gerrie het hulle so sleg behandel. Verlede jaar is die ou tannie dood en ek het gehoor oom Ignatius is ook nie gesond nie. Ek is seker hy sal bly wees om ons te sien.”
Die volgende middag gaan kuier Elizabeth alleen vir oom Ignatius. Buks was besig by die duiwehok en sy kon hom nie daar wegkry nie. Sy was lief vir Gerrie se oom wat hom ná sy ouers se dood soos ’n eie kind grootgemaak het. Hy was baie bly om Elizabeth te sien, maar sy was geskok en hartseer toe sy sien hoe hy agteruitgegaan het.
Tuis wag Esme op haar met die nuus dat haar vriend uit Hermanus teruggekeer het en dat sy die aand saam met hom gaan eet.
“Dié vriend – is dit iemand spesiaal?” vra Elizabeth.
Esme haal haar skouers op.
“Ek hou van hom. Sy naam is Phil Roux – hy is ’n kunstenaar, ’n skilder.”
“Is hy bekend?” vra Elizabeth.
“Nee, hy is nog heeltemal onbekend. Baie modern: dis alles net strepe en kolle en vierkante – ek glo nie jy sal van sy werk hou nie. Kuns van die ruimte-eeu – kinetiese kuns – het jy al daarvan gehoor? ’n Mens moet ’n spesiale aanvoeling hê om die jong kunstenaars se werk te waardeer,” spot sy liggies.
“En het jy so ’n aanvoeling?” vra Elizabeth.
“Ek dink Phil se skilderye is baie opwindend,” sê Esme dramaties. “Vurig en bruisend.” Sy lag ondeund. “Nee, ek verstaan ook niks daarvan nie, maar ’n mens kan nie jou onkunde so openbaar nie. As jy jou ore oophou, leer jy gou om saam te praat. Fassinerend … visuele dinamiek … makabere skoonheid … dis maklik as jy die woorde ken.”
“Jy moet vir my ook die woorde leer,” sê Elizabeth droogweg. “Ek sou graag ’n jong kunstenaar van die ruimte-eeu wou ontmoet. Bring hom eendag huis toe dat ek kan sien hoe hy lyk.”
“Ek sal – eendag as julle eers julle voete hier in die stad gevind het.”
“En jou woonstelmaats, is hulle ook kunstenaars?”
“Maxie is – ek dink sy het nogal talent. Frieda werk in ’n boekwinkel, die soort nugter, praktiese mens van wie jy sal hou,” vervolg sy tergend.
Elizabeth was die volgende middag laat in die huis besig toe sy motorremme in die straat hoor skree. Onrustig gaan sy buitentoe en kry vir Buks op die stoep, vaal van die stof; sy gesig en knieë vol bloed.
“Buks! Wat het gebeur?” roep sy ontsteld.
“Ek het geval, Ma.” Elizabeth kan sien hy is na aan trane en sê sagter: “Kom badkamer toe dat ek jou wonde kan skoonmaak. Waar het jy so geval?” vra sy terwyl sy met hom besig is.
“Ek het op Elsa se fiets gery, Ma.”
“Buks, het jy in die straat gery?”
“Eina, Ma … sjoe, dit brand!” roep hy verontwaardig.
“Ja, dit sal ’n bietjie brand, maar ek moet dit ontsmet. Buks, ek het gevra of jy in die straat gery het.”
“Ek het met die motorpad afgery, Ma, en toe gly die fiets en ek kon nie my draai kry nie. En toe kom daar ’n motor … Jislaaik, dit was amper! Het Ma nie die remme gehoor nie?”
Elizabeth se hart sit in haar keel.
“Ek het gehoor, ja, maar ek het nie gedroom jý is in die straat nie. Buksie, jy het dan belowe.”
“Ek het nie in die straat gery nie, Ma … Eina Ma … eina, dis seer …”
Die voordeurklokkie lui hard. Sy het gesê sy sal hom nie ken as sy hom weer sien nie, maar Elizabeth het dadelik geweet wie die man is wat daar buite staan. Die breë skouers, die donker kop, sy hele houding – daar is geen twyfel nie. Sy gesig is koud en iesegrimmig. Wat het nou gebeur?
“Goeiemiddag,” sê hy kortaf. “Mevrou Meyer?”
“Ek is mevrou Meyer,” sê sy koel, onthuts.
“Ek is Herman Fourie – ek was nou die aand hier …”
“Ek onthou, dokter Fourie,” sê sy koel.
“Die rooikopseun – is dit jou seun?”
Elizabeth voel hoe haar hart ruk.
“Buks … ja, dis my seun.”
“Mevrou Meyer, daar was nou net byna ’n ernstige ongeluk. Dis net ’n bestiering dat die seun nie met fiets en al voor my motor beland het nie.”
“Ek is jammer, d-dokter,” stamel sy effens. “Was hy in die straat?”
“Hy het in die motorpad afgekom asof die duiwel agter hom aan is. Toe hy my sien, het hy probeer draai, maar toe gly die fiets. As ek nie so stadig gery het nie …”
Elizabeth is koud geskrik.
“Ek is jammer. Buks weet hy mag nie met die fiets in die straat ry nie.”
“Roep asseblief die seun,” sê hy gebiedend. “Ek wil self kyk wat sy beserings is.”
“Kom in, dokter. Hier links. O, hier is jy, Buks. Kom hier. Dokter Fourie – dis sy motor wat jou amper raakgery het – wil met jou praat.”
Buks kom huiwerig nader. Die blou oë is onrustig en hy kyk die dokter onseker aan.
Herman Fourie bekyk hom ’n oomblik in stilte. Dan sê hy: “Wel, Buks, ek hoop jy besef hoe gelukkig jy was. Dit was amper ’n lelike ongeluk.”
Nadat hy Buks deeglik ondersoek het, sê hy bruusk: “Wees dankbaar dis nie erger nie. En asseblief, hou hom in die toekoms uit die straat uit.”
Hy groet en draai om en stap weg terwyl Elizabeth hom gekrenk agternakyk.