Читать книгу Landskap met diere - Welma Odendaal - Страница 5
Mister Universe
ОглавлениеBarrie en ek lê in sy kamer op die bed. Hy het ’n kers aan en sê die lig is sagter só. Maak met sy vingers patrone teen die muur: krom duim, stywe voorvinger, kneukels oop en toe. Ons lag. Barrie se toks hang teen die oorkantste muur onder ’n driehoekige Springbokvlaggie en ’n Huisgenootfoto van Frik du Preez. Frik grinnik skeef, oopbek. Die wind waai en die poinsettia teen die venster maak ratse patrone teen die plafon. Barrie se geweer is in die kas, die deur staan halfoop en ek kan die kolf in die flou lig sien blink.
Dis Barrie en ek langs mekaar; ek drink ’n Coke, hy rol ’n skyf. Hy praat weer van die ou afgebreekte fort wat hy bo-op die koppie ontdek het, sê hy wil my gaan wys, sê daar lê patroondoppies rond, maar alles is oorgroei met aalwyne en bos. ’n Mens sal mooi moet soek. Ek is opgewonde oor die doppies. Barrie sê daar is koeëls ook, sommige nog lewendig. Dalk kan ons vroeg Saterdagoggend vir brekfis gaan en ons rugsakke vat en ’n pan. Ons kan by die fort vuur maak soos die verkenners. En wag vir die son om op te kom. Miskien is die maroelas nou al ryp.
Barrie sê hy sal sy geweer saamvat.
Hy steek sy skyf aan. Die brandende vuurhoutjie maak sy oë lank en nou. Hy blaas die soet rook by die halfoop venster uit. Die wind ruk. Barrie het sulke knop-gebarste vingers, altyd swart van sy bike se ghries.
“Wanneer het jy laas met Lenie gepraat?” vra Barrie.
“Nee, ons praat nie meer nie, jy weet mos. Laas het ons nog baklei oor Anke se rolskaatse, ek het jou vertel, man.”
Barrie is stil. Hy suig aan die skyf. Ek trek my bene op en stamp aan hom. Hy lê sy arm op my knie; sjoefftt, suig hy. Die kers skiet. Die sinkplate van die waenhuis kletter in die wind.
“Ek het vir Lenie die fort gewys,” sê hy.
“Ag nee, Barrie, dis nie reg nie … Jy’t belowe.”
“Moenie my grief gee nie, ek sal jou ook wys.”
Stil. Dis net die wind.
“Jy sê jy’t haar nog nie weer gesien nie?” sê Barrie en skiet sy stompie deur die venster. Vonke spat en ek weet hy’t die poinsettia buite getref. Barrie skiet selde mis. Ook met die geweer.
“Nee, ek sê mos.”
Barrie leun terug teen die kussing, strek sy arms agter sy kop, gaap lank en hard. Skop sy bene styf teen die voetenent. Ek ruik hom onder sy arms. Sy bene druk, bobeen maak ’n knop en die bos wit beenhare staan weg. Ek sit regop en vou my hande om my knieë.
“So, wil jy nie weet wat ek vir Lenie gewys het nie?”
“Die fort.”
“Ja, maar ook iets anders by die fort.”
“Wat?”
“Moet ek wys?”
“Sê eers wat.”
“Ek kan nie sê nie, ek moet wys.”
“Moet ons dan op fort toe? Dis amper donker.”
“Nee, ek kan jou sommer hier wys, dis niks te doen met die fort nie.”
“Aag, Barrie …”
Hy lê stil en kyk vir my. Ek kyk af en vroetel met my tone. Die wind vee die poinsettia teen die ruit. “Ek gaan gou pie,” sê hy. Hy spring op en raak met sy vingerpunte aan die plafon. Loop na die deur. Sy hare staan op agter van die lê. Daar’s ’n sweetkol teen sy rug.
Barrie laat staan die deur oop. Hy pie hard en lank.
Ek loop sag na die kas. Die geweer. Ek vat aan die korrel by die punt van die loop, laat gly my vinger saggies af met die staal. Ek voel lig aan die sneller.
“Hei, kom weg daar,” sê Barrie. Hy trek nog sy gulp op, gryp die geweer uit my hand en laat rus dit teen die bed.
Ek loop vinnig na sy gewigte in die hoek. Steek tong uit vir Frik wat vir my lag. “Barrie, hoeveel gewigte kan jy deesdae optel?”
“So sestig, sewentig kilo’s.” Hy fluit skerp. “Kom hier.” Hy trek sy hemp op en maak sy maagspiere styf. “Slaat my, kom, try my …”
“Oukei.” Ek tree nader, gee hom ’n hou teen die maag.
“Nee, wat vir ’n poes-houtjie is dit! Komaan, slaat … ek is Mister Universe!”
Ek slaat.
“Harder, komaan …”
Ek slaan weer en weer, harder en harder. “Vat só, Mister Universe!”
Hy gryp my hand vas, ons stoei ’n bietjie, maar hy is te sterk en swaar.
“Los my, Barrie … wys my hoeveel jy kan optel.”
Hy spring op, raak weer aan die plafon soos sy gewoonte is. Loop oor na die gewigte, skuif hulle reg, draai ’n paar swares vas aan die stang. Barrie is sterk. Ek hou my asem op wanneer sy arms beur en trek, hulle bó hard word en die senings by sy gewrigte soos toue uitstaan.
“Hup!” Sy maag trek hol, sy kop ruk agteroor, sy mond byt vas en hy maak sy oë toe. Stang tot by sy knieë.
Ek klem my vuiste. “Dis hy, Mister Universe, stoot!”
Sy lip bewe, my hande word nat, my mond droog. “U-ug,” hy’t die gewigte tot by sy skouers. Nou gaan dit vinnig.
“Kom, Barrie, kom.”
Hy trap rond, wikkel en proes, sy gesig blink en rooi, vinnig met ’n kortaf kreun stoot hy die gewigte bokant sy kop uit. Die are langs sy kop wil deurbreek. Hy hyg. “Kom hier …” snak hy.
Ek staan vinnig op.
“Kom help … goed neersit … Jissis.” Sy bolyf bewe.
Ek’s by. Kan nie bo bykom nie. “Oppas, Barrie!”
Af tot by sy skouer, hand bysit, saam vat ons die stang, vas is ek teen hom, ’n pluk, sy asem skree, en met ’n dowwe klap val ek en hy en die stang met gewigte op mekaar. Sy lyf is nat, en die stang en gewigte rol stadig oor die vloer.
Ons lê stil. Barrie en ek, oor mekaar op die vloer.
Barrie kom op sy hurke. Ek kyk op. Sien die knop soos die sterkste spier voor by sy kortbroek uitbult. Hy ruk my aan my hemp vas teen hom. Ek ruik sy sweet. Vinnig sit hy sy hand tussen my bene.
“Ek wil jou nou wys,” sê hy en ruk my styf tussen sy bene in. Sy asem in my nek.
“Nee, Barrie.”
“Wag …” Dis die geweer, hy hou die geweer vir my. “Kyk, voel hom. Kom, voel.” Die swart loop, die blink kolf. Blink in Barrie se hand. “Voel hom, jy kan met hom skiet.” Die wind maal by die venster, die kers skiet. “Trek sy knip af, kom ek wys jou. Hoor hoe maak hy, klik.”
Sy hand gaan oop, in die palm lê drie lang brons patrone. “Dis joune, vat.”
Ek steek my hand uit. Sien die glinstering van die olie op die loop. Vou my hand om die smal stuk metaal, dis koud, trek my vinger lig af, oor die koel visier, af tot by die handbreë knop van die magasyn, liggies, liggies, pinkie om die sneller, handpalm vol om die kolf. Stywer en stywer klem ek die kolf, strek my ander hand uit, palm na bo. Die patrone klink teen mekaar, lê drie in gelid, swaar in my hand. Ek vou my vuis toe, en maak hulle myne.