Читать книгу Landskap met diere - Welma Odendaal - Страница 7
Slagoffer
ОглавлениеSy lê buite onder die peperboom met die dogtertjie langs haar. Sy klem styf aan die handjie wat nou reeds koud geword het. Kil in die snikwarm dag hier buite. ’n Bloukopkoggelmander skuif nuuskierig nader en hou haar met sy spits ogies dop, doodstil, net die flikker van sy dartelende tong wat wys dat hy nie deel is van die warm, blouswart klip waarop hy lê nie.
Toe haar man van die veld terugkom, het hy haar en die kind onder die boom gevind. Hy het gesukkel om die kind se hand uit hare los te maak, maar uiteindelik het sy laat gaan, moeisaam opgestaan en agter haar man, wat die lyfie in sy arms gedra het, teruggestap huis toe.
Die koggelmander het lank reeds die hasepad gekies.
Die volgende namiddag het Ragel haar kind in ’n sagte sybokhaartjalie toegedraai en neergelê in ’n kissie van kareehout wat haar man aanmekaargetimmer het. Die hitte was te fel dié tyd van die jaar in die Boesmanland, en hulle kon nie wag vir ’n behoorlike begrafnis nie. Hy het met pik en graaf ’n graf in die klein familiekerkhof aan die voet van die berg uitgekap. Hy moes tot ounag werk om die gat diep genoeg te kry sodat die jakkalse die kind nie later uitgrawe nie. En daar, onder die sterre en die lig van die halfmaan, op die werf waar die klippe soos profete die hitte vir die volgende dag uitstraal, het Ragel haar kind begrawe.
Die bus tussen Pofadder en Springbok was Ragel se enigste kontak met die buitewêreld. Gereeld een keer ’n week wanneer die bus met die pos verbykom, het hulle by haar stilgehou om ’n koppie tee te drink en die geriewe te gebruik. Dit was al buitemense wat sy soms in weke gesien het, die busdrywer en sy handlanger. Vir die res was dit net sy en die siek kind in die versengende hitte van die Boesmanland. Haar man is soggens vroeg al uit na die boerdery en wanneer hy laataand teruggekom het, was hy feitlik te moeg om sy aandete klaar te eet, sodat hy soms net daar by die etenstafel aan die slaap geraak het. Buitendien was hy nie ’n spraaksame man nie.
Ragel is nie oorspronklik van hierdie wêreld nie. Sy is ’n geleerde vrou en haar mense gegoede vrugteboere in die Overberg. Sy was al ’n paar jaar in die onderwys toe sy die man van die Boesmanland getrou het. Haar familie het probeer waarsku dat die wêreld waar hy vandaan kom anders is as waaraan sy gewoond is, maar niks kon werklik vir Ragel voorberei op die ongenaakbaarheid van haar nuwe tuiste nie. Die bossieveld wat eindeloos strek, die opstal vasgedruk teen die swartklipkoppies met net enkele Javapeperbome op die werf om skuiling te bied teen die dorheid en hitte. Die somer is die hel vanself, het sy huis toe geskryf, en wanneer die winter uiteindelik kom, slaan hy sy kloue só diep in dat die krippe en waterpype ys, en jy in jouself wil inklim vir ’n bietjie warmte. Maar sy het uitgehou en uiteindelik tog ’n soort bestaan in dié harde wêreld gevoer.
Ná ’n jaar is hulle eerste kind gebore. Stil-stil het die klein stukkie mens haar dorre wêreld binnegekom en Ragel se lewe verhelder.
Die dogtertjie was maar van die begin af ’n siek kind, maar Ragel het haar deurgetrek tot by haar sesde jaar. Die laaste paar maande het sy gesien hoe die kind van dag tot dag agteruitgaan, hoe sy maer word, die tenger lyf soms aan die bewe gaan en haar oë groot en starend raak. Toe dit uiteindelik moontlik word dat hulle ’n geleentheid kon kry om die siek kind Kaap toe te vervoer, was dit duidelik dat sy nie die moeilike rit sou oorleef nie.
Een middag, met die son wat hulle vasbak in die huis teen die swartklipkoppe, het sy in ’n poging om hulle af te koel buite onder die koelte van die peperboom gaan sit. Die kind op haar skoot, terwyl sy met ’n nat doek oor haar koorsige gesiggie vee. Sy het geweet dat die einde naby is, en toe die flou lyfie ’n laaste asem uitsug, het Ragel daar in die koelte van die peperboom met haar gaan lê. Sy sou graag die kind teen haar bors wou hou, maar dit was te warm, en sy het bloot die handjie in hare vasgeklem en daar het hulle sy aan sy gelê totdat dit laat en donker geword het en haar man hulle daar gekry het.
Met die eerste tekens van die winter, wanneer berigte van ’n kouefront uit die suidweste hulle bereik, het die boere van die Boesmanland opgepak en met die vee na hulle winterstanings in die Hantam getrek.
Die meeste van die boervrouens het in die winter op die tuisplaas agtergebly, maar sedert die dogtertjie se geboorte, het Ragel en die kind saamgetrek en die wintermaande op hulle Hantamgrond, Bitterheuning, deurgebring. Soggens het hulle leeswerk en somme gedoen, maar die res van die tyd het hulle die les van die veld en van die voëls en die landskap rondom hulle geleer. Dit was hard om só te trek. Soos op die tuisgrond was hulle die meeste van die tyd alleen, maar die wêreld hier was minder ongenaakbaar as die gestroopte landskap van die Boesmanland, en vir Ragel was dit ondanks die harde lewe sonder geriewe, ’n uitkomkans. ’n Tyd waarna sy uitgesien het.
Ragel se hoenders het ná die afsterwe van haar kind vir haar ’n nuwe betekenis gekry. Die rondvet, rooibruin hennetjies het begin om die rol van die kind te vervul en het haar geselskap op die plaas geword. Hulle gekiep en gekloek was ’n skerm teen die eensaamheid; hulle het los rondgeloop op die werf waar sy hulle versorg en vertroetel het, en die hoenders het soos metgeselle agter haar aan geskrop wanneer sy op die werf besig was.
Later het hulle ook die kombuis binnegekom. Sy het hulle op die heup rondgedra, pootjies verbind as daar fout gekom het, en die wel en wee van haar daaglikse bestaan met haar hoenders gedeel. En klokslag smôrens, wanneer die ou haan reeds die eerste daglig aangekondig het en die hitte nog nie met mening toegesak het nie, het Ragel met dankbaarheid ’n aantal eiers onder die soutbossies gaan uithaal – vlak by die agterdeur, asof die hennetjies haar die minste moeite wou spaar.
Ná die begrafnis van haar kind het Ragel die res van daardie versengende somer in swart rou deurgebring, en met die eerste kouefront het sy haar gereedgemaak om die eerste keer die veetrek sonder haar kind aan te pak. Sy het dié keer besluit om haar hoenders saam te neem. Dit sou tog beteken dat daar gereeld vars eiers by die staning sou wees, het sy verduidelik.
Mettertyd het dit vanselfsprekend geword dat die henne deel is van hulle voorbereiding vir die wintertrek. Saam met die kampeertoerusting – tente en penne, toue, lampe, al die gereedskap wat hulle kon nodig kry, hulle klere, droë beskuit, meel, rys, suiker – is ’n sak mieliepitte op die wa gelaai en ’n hopie strooi is diep agter in die hoek van die wa gelê sodat Ragel se henne nie die rit in té veel ongemak sou meemaak nie.
By die winterstaning, net soos op die tuiswerf, het die hoenders agter Ragel aan gedraf, geskrop en gekloek, terwyl sy in die winterveld gaan stap, hier een roep wanneer sy afdwaal, daar ’n ander oor ’n plas water help, en haar gedagtes met hulle deel. Die jaarlikse uittog na Bitterheuning het weer ’n soort vertroosting en aanvaarding in haar lewe gebring. Selfs nadat twee seuns kort na mekaar gebore is.
Die seuns het gou in hulle pa se voetspore getrap, en is ook op vroeë ouderdom skool toe op Pofadder. Toe was dit weer maar net Ragel en die hoenders wat die tog in die wa aangepak het. Aan die einde van die lente, wanneer die veld by die staning begin kwyn en dit warm raak, het hulle opgepak en weer koers gekies om betyds te wees vir die snikhete somer op die plaaswerf teen die swartklipkoppe van die Boesmanland. Ragel het afgepak, die henne gevoer en die siklus van haar lewe voortgesit.
Benewens die posbus het daar nie dikwels besoekers gekom nie. Die afgesonderdheid van die plaas en gestrooptheid van die landskap het veroorsaak dat familie selde kom kuier het. Die buurplase was ook ver.
In Maart een jaar, nie lank voordat hulle weer die veetrek na Bitterheuning sou aanpak nie, het die posbus ’n verlangse kleinnefie by hulle afgelaai. Soos altyd was daar groot vreugde oor neef Kotie se koms, al was dit nie heeltemal geleë nie, só kort voor hulle jaarlikse trek agter die winterweiding aan. Die seuns veral het vol opgewondenheid by Ragel in die kombuis ingehardloop met die nuus dat hulle Kotie by die plaashek gekry het.
Kotie was ’n grapjas en vol pret en almal se gunsteling. Laas toe hulle hom gesien het, was hy ’n jakkalsvanger iewers in die Groot-Karoo. Hy het een keer met jakkalsvelle by hulle aangekom en wou hê sy moes vir hom ’n kombers maak. Voorheen het hy as handlanger in ’n rondreisende sirkus gewerk. Heretog, sal sy vergeet van die dag toe hy in die voorkamer ingekom het met haar onderklere aan wat hy van die wasgoeddraad af gegaps het? Die seuns het bly lê soos hulle lag vir dié verspottigheid, selfs haar man kon nie ’n glimlag keer nie.
Vader ja, Kotie was ’n platjie, g’n twyfel nie, en almal was bly om hom te sien. Selfs sy.
“Kotie bly oor vanaand,” het haar man by die agterdeur gesê. “Daar is nie tyd vir ’n slagding nie, jy sal maar een van jou hoenders moet slag vir aandete. Vra vir een van die seuns om jou te help,” het hy in die omdraai gesê.
“Nee, nee,” het sy teen haar man se rug vas gesê, “ek sal dit self doen.”
Buite die agterdeur het die hennetjies onverpoosd geskrop. Die twee jonges het nog jare se lê in hulle oor, die ouer henne sal té taai wees vir Kotie se maal, en die jongste, ’n hoenderhaan met ’n beneukte rooi kuif wat een van die seuns onlangs vir haar van die dorp af gebring het, is buite die kwessie. Dit sal Hannie moet wees, haar middelste, vetste hennetjie met die een skeel ogie en die wit op haar pens, die beste hen onder hulle.
Ragel neem die skerp byltjie en vleismes uit die spens, stap na die agterplaas waar die henne skrop en wei en soos altyd aangeskarrel kom wanneer sy roep. Sy tel Hannie op haar heup, gesels saggies met haar en loop op die werf uit, ver na die swart klippe, daar waar haar kind begrawe lê.
Vroegaand is dit warm in die kombuis waar die geur van naeltjies en braaihoender die leemtes vul. Die mans en seuns is in die voorkamer, die dowwe dreuning van hulle stemme word kort-kort onderbreek deur ’n harde gelag vir die kuiergas se manewales. Ragel is besig om die bykosse te stowe toe neef Kotie by die deur kom staan.
“Wat is dit wat ek ruik, tan’ Ragel?”
Sy haal die praggebraaide hen, gestop met opgeknapte lewertjies en wildesalieblare uit die oond, en bedruip haar met haar eie warm vet dat dit in die braaipan stoom en spat. Hy staan daar in die deur met ’n frons tussen sy oë en ’n hanglip, sy stem nors.
“Is dit hoender wat Tante maak? Maar, Tante, jy moet mos weet ek sit nie my mond aan hoendervleis nie!”
In die voorkamer lag haar seuns en haar man hartlik, asof hulle nou net een van die grapjas se kostelikste staaltjies onthou.