Читать книгу Bloedbande - Wilhelm Verwoerd - Страница 6

Hoofstuk 1

Оглавление

Bloedbad

Die reis om jou voormalige vyand as ’n volledige mens te leer ken … was moeiliker en pynliker, want dit het my ’n donkerte in myself laat ontdek wat nie maklik is om in die oë te kyk nie. Alles in my wil van hierdie dieper reis weghardloop.

– Alistair Little, Noord-Ierland

’N HOOGS BEJAARDE OUMA Betsie Verwoerd se laaste uitspanplek was in die Groot Karoo, haar geliefde geboortewêreld. Op ’n afgeleë deel van die Oranjerivier se suidelike oewer staan haar eenvoudige huis: ’n kleinerige sitkamer, ’n kombuis, ’n eetkamer, ’n badkamer en ’n paar slaapkamers. Tans is dit die tuiste vir die Dr. HF Verwoerd Gedenkversameling in Orania. Een vertrek is heeltemal gevul met geskenke van tradisionele leiers aan oupa Hendrik Verwoerd tydens sy termyn as minister van wat destyds naturellesake genoem is, 1950-1958. Nog geskenke is in ’n hangkas of twee, en vertoonkaste vol memorabilia staan in die gang.

Dis Julie 2013 en deur gange en vertrekke waar die mure met foto’s en skilderye behang is, stap ek saam met kollega Pumla Gobodo-Madikizela – professor in sielkunde en spesialis in historiese politieke trauma wat ek in die 1990’s in die dae van die Waarheid-en-versoeningskommissie (WVK) leer ken het. Behalwe om af en toe ’n persoonlike herinnering, opgeroep deur ’n foto, met haar te deel, praat ons nie veel nie.

Opeens bevind ons ons voor die vertoonkas met die klere wat Oupa dáárdie dag gedra het.

Die outydse, formele uitrusting waarin hy daardie noodlottige middag werk toe – parlement toe – is, is omring deur bekende foto’s en sketse van hom as eerste minister. In die linkerhoek van die vertoonkas staan ’n paar stapkieries en op die bodem is sy sakhorlosie, beursie, ’n paar penne, sy leesbril en ’n eksemplaar van die amptelike program van sy staatsbegrafnis. Sy skoene staan langs die netjies opgevoude broek en op die pak se baadjie is rooi pyltjies aangebring om die plekke van die dolksteke aan te dui. Die wit hemp wat onder sy kruisbande lê, het eintlik geen aanwysers nodig nie. Die bloedvlekke is dalk dof, maar steeds sigbaar.


In die regterhoek van die kas hang die Geloftedag-aanhaling uit sy eerste jaar in die hoogste politieke amp: “Ons veg nie vir geld of goed nie, ons veg vir die lewe van ’n volk” (16/12/1958). My oë sak af na ’n koerantuitknipsel oor die amptelike nadoodse ondersoek.

“Op 6 September 1966 om 14:14 het die dolksteke van die sluipmoordenaar, Demitrio Tsafendas, dr. Verwoerd in sy parlementêre bank getref. Die lem was nege sentimeter lank. Die eerste steek was in die bors net links van die middellyn en ’n bietjie laer as die kuil. Die steek was na die hart en dit het getref.”


Die naakte, koue feite betrap my onkant. ’n Foto van die dolk en van Tsafendas se gesig illustreer die berig, maar ek kan nie my oupa se moordenaar in die oë kyk nie. My oë dwaal na daardie bevlekte hemp en ek ril onwillekeurig.

Ek was van kleins af baie bewus van die feit dat my beroemde oupa voortydig ’n gewelddadige dood gesterf het. Wildvreemde Afrikanerooms en -tannies sal my tot vandag toe nog vertel presies waar hulle was en hoe groot hul skok en hartseer was toe hulle die radionuus vroegmiddag op 6 September 1966 hoor. Maar ek kan nie onthou dat daar ooit binne ons familie gepraat is oor wat presies daardie middag in die parlement gebeur het nie. En ek sou dit nooit gewaag het om te vra nie. In elk geval nie so direk soos kleinneef Wilhelm nou die dag in oupa Hendrik-hulle se vakansiehuis in Bettiesbaai, Blaas ’n Bietjie, nie.

Op sewe het dié agterkleinkind – die derde geslag Wilhelm Verwoerds wat in Suid-Afrika gebore is – nog nooit gehoor hoe sy oupagrootjie dood is nie. Toe sy twee ouer sussies ’n album met koerantuitknipsels in ’n kas ontdek, het Wilhelmpie oor hul skouers geloer, kinderlik geboei deur die foto’s van die staatsbegrafnis en die verwysings na die sluipmoord.

“Wat het gebeur?” wou hy nuuskierig by sy pa weet.

“Oupagrootjie is deur ’n man met ’n mes doodgesteek.”

“Maar hoekom?”

“Ek’s nie seker nie.”

“Hoekom het Oupagrootjie die man nie gekeer nie?”

“Die man was ’n bode van die parlement; Oupagrootjie het gedink hy bring vir hom ’n boodskap.”

Die familiekonsensus was nog altyd dat “die man” Tsafendas (ek twyfel of daar ooit met sy naam na hom verwys is) waansinnig was; dat, soos die amptelike staatsondersoek bevind het, ’n verbeelde lintwurm hom op daardie noodlottige dag gemotiveer het. Die familie, ouma Betsie inkluis, het sonder trane aanvaar dat wat gebeur het “God se wil” was.

Een middag – waarskynlik hier teen die einde van my laerskooljare of vroeg in die hoërskool – het my oog op ’n spesifieke boek geval in Pa se groot versameling van alles wat oor sy pa geskryf is: Die moord op Dr. Verwoerd.1 My hart het skielik vinniger begin klop en ek het ongeduldig na die hoofstuk oor die aanval geblaai. So het die herinneringe van sy toegewyde ondersteuners en selfs ’n ooggetuie se verslag deel geword van my gedagtewêreld rondom oupa Hendrik se bloedige lewenseinde.

Ek bring my gedagtes terug na die berig in die vertoonkas voor my en Pumla:

“Nadat Tsafendas ’n stewige vastrapplek gekry het, het hy die Eerste Minister nog drie steke toegedien – een op die linkerskouer, een op die regterboarm en nog een in die linkerborskas, waar hy dr. Verwoerd die eerste steekwond toegedien het. Een het tot in die linkerventrikel van die hart deurgedring, ander tot in die longe. Aan die dikderm was ook ’n snywond. Die steke het so vinnig op mekaar gevolg dat die een skaars van die ander te onderskei was.”

Ek het nooit geweet dat die donker pak en wit hemp wat Oupa daardie dag gedra het baie jare lank in my ouers se besit was nie. Hoekom het dié inligting my so instinktief ongemaklik laat voel? Heel menslik ’n diepgewortelde afkeer van verspilde bloed? My ma se fobie vir bloed wat ek geërf het?

Terwyl ons voor die vertoonkas staan, vertel ek Pumla van my onlangse gesprek met my ma:

“Ma, wat het presies daai tyd met Oupa se laaste klere gebeur?”

Van waar my ma by hul ronde etenstafel sit, het sy ’n onbelemmerde uitsig op haar geliefde Stellenboschberg – die uitsig wat 45 jaar gelede die deurslag gegee het in hul soektog na ’n nuwe huis.

“Kyk, Oupa is die 10de September, op ’n Saterdag, begrawe. Daai volgende Dinsdag daag twee polisiemanne met ’n koffer by ons huis op. Hulle sê hulle het iets vir Pa gebring wat waarskynlik vir hom belangrik sou wees. Hy maak die koffer oop en hier lê die gekreukelde pak vol bloedvlekke. Ek het dadelik weggedraai, ek kon nie daarna kyk nie.”

Ek waardeer toenemend my ma se anekdotiese helder, maar boweal openhartige geheue. Dié boeremeisie uit die destydse Wes-Transvaal deins nie terug vir sterk emosies nie.

Alles was blykbaar daar, het sy vertel. Selfs die onderklere en skoene wat my oupa aangehad het. Maar wat om met dié klomp bloedbevlekte klere te maak? Kotie Roodt, die destydse hoof van die Nasionale Kultuurhistoriese Museum in Pretoria, se raad aan hulle was om die bloed onmiddellik met koue water uit te kry – sonder enige seep – om te keer dat die vismotte daarop toesak.

“Koue water, koue water, koue water, totdat jy seker is daar is niks meer bloed in die pak se vesels nie. Pa vra toe of ek kans sien, want hý sien nie kans nie. Ek het nie ’n keuse gehad nie. Ek het julle daardie aand gebad en in die bed gesit. Toe het ek die bad vol water getap, die ding daarin gedruk en dit oornag laat lê. Die volgende oggend, nadat almal werk en skool toe is – alhoewel, in daardie stadium was dit nog net Hendrik wat in die skool was … ”

“So, ons kinders was daar in die huis?”

“Wel, jy was maar twee jaar oud, so, jy ’t natuurlik niks geweet nie. Dirk ook nie. Toe het ek maar begin. My hande daar ingesteek, die prop uitgetrek, die volgende bad water ingetap, gedruk en gedruk en gedruk en gedruk … jy mag nie vrywe nie, alles moet net gedruk word. Dan dink ek, nou ja goed, nóú is daar darem seker niks meer nie.”

Maar steeds het bloed die water bly kleur. Eers ’n paar dae en ’n klomp baddens water later was sy tevrede.

“Toe laat ek jou pa ook kyk of dit regtig skoon is. Toe hy die middag van die werk af kom, toe sê hy, nee, dit lyk of alles nou uit is.”

Die klere moes sopnat opgehang word en my pa moes help om die skottel – swaar met die baie water – buitentoe te dra. Daar het hulle dit onder ’n koelteboom opgehang (“die vrou het gesê geen son nie”) en elke kledingstuk met die hand gladgestryk. Toe alles droog was, het hulle dit netjies opgevou en saam met vismotbolletjies in ’n koffer bo in ’n kas in hul slaapkamer gebêre. Elke paar jaar het hulle die koffer versigtig oopgemaak, seker gemaak dat alles in orde is en die vismotgif vervang.

“Dit was ’n groot werk vir Ma!”

“Oe! Dit was verskriklik! Daai reuk van bloed … Oeee! Ek sal dit nóóit vergeet nie.”

Terwyl ek na Ma luister, kon ek Oupa se bloed amper ruik. Sy het vertel hoe sy gesukkel het om die reuk van haar hande af te kry: “Seep en seep en seep en seep en nog ’n maal seep en dan bly dit steeds. Kyk, dit trek in jou vel in.”

“En hoe het Ma dit reggekry om daai reuk te weerstaan?”

“Ek móés, my liefietjie! Wie anders sou dit doen? Pa se broers en susters het nie eens geweet daarvan nie. Pa het nooit vir iemand … ons het nooit vir enigeen daarvan gesê nie. Nie eens vir Ouma nie.”

“My hart gaan uit na jou ma,” sê Pumla toe ek my storie klaar vertel het; die deernis in haar stem is opreg. Op dié koue wintersmiddag in Orania, in die Verwoerd Gedenkhuis, raak Pumla se gelouterde ubuntu my diep. Die warm empatie van ’n swart vrou teenoor ’n familielid van dr. Verwoerd val soos groot druppels koel water op ’n dor stukkie verborge sielsgrond. Saam met my ma se roerende herinneringe steek Pumla se medelye oor grense heen ’n vlammetjie van vermensliking in my binneste aan, word hulle die vroedvroue van my grondige aanvaarding dat die Man van Graniet werklik ook mens was – ’n brose mens met deurdringbare vel, longe, dikderm en hart. ’n Blote mens van kwesbare vlees en baie bloed. Tot kort ná 14:14 op 6 September 1966.

“Hoe’t jy gevoel toe jy voor daardie vertoonkas staan?” wil ek van Pumla weet ’n paar jaar ná ons besoek aan Orania.

“Ek was diep ontroer deur jou ma se verhaal. Om die waarheid te sê, ek moet selfs nou nog my trane terughou. Wat sy moes deurmaak! Wat my die meeste getref het, was die herhaling – die bebloede klere wat so weer en weer gewas moes word. Terselfdertyd moes sy dit vir jou en jou broers as jong kinders wegsteek.”

Ek het hierdie ruim hart van Pumla twintig jaar gelede leer ken toe ek in die WVK se navorsingspan en sy in hierdie kommissie se Komitee vir Menseregteskendings gedien het.2 Dis vir ons beide ’n geloofsaak om oorgelewerde kollektiewe trauma te help verwerk in stede daarvan om dit voort te sit.


Pumla

Ons gesprek oor daardie wintersdag in Orania laat haar gedagtes terugspring na haar eie herinnering aan Verwoerd se dood en ek kry weereens ’n onthutsende blik op hoe ver verwyderd ons grootwordjare van mekaar was:

“Dit was net ná die sluipmoord. As ek reg onthou, was ons tien, elf jaar oud; jong meisies met kort rokkies, al singend en dansend in die strate van Langa. Vandag onthou ek nog net die vreugdevolle, uittartende wyse waarop ons die refrein van ’n liedjie gesing het.

“Ndisuka tsafenda, nduke tsafende, ndisuka tsafende, nduke tsafende,” sing Pumla. “En jy maak ’n gebaar asof jy met ’n mes steek,” demonstreer sy. “Dit beteken ek sal jou soos Tsafendas steek.” Ek sal jou tsafendas.

“Sjoe, dit is ’n treffende prentjie, Pumla,” begin ek, maar opeens is Ma en Pa voor my en ek sukkel skielik om woorde te vind. “Dankie dat jy hierdie herinnering met my gedeel het. Dis nie maklik om daardie refrein te hoor nie, maar ek moet die werklikheid daaragter verstaan,” is uiteindelik al wat ek met eerlikheid kan sê.

Dit is die tweede keer dat ek hoor dat die naam van Tsafendas vir sommige Suid-Afrikaners ’n werkwoord geword het.

“In ons township was Verwoerd soos ’n vloeknaam”, het Dudley Adolph, met wie ek al lang gesprekke oor sy ervarings in die apartheidstyd gehad het, vertel. “Ons het na hom as ’n hond verwys – as gevolg van Verwoerd is ons in hierdie omstandighede, as gevolg van Verwoerd … Maar jy durf nie enigiets teen hom gesê het nie omdat jy bang was vir die veiligheidspolisie. Almal het die naam geken van die man wat hom doodgemaak het. Ek onthou toe hy gesteek is. Jô! Dit was soos ’n groot partytjie, ja! Van toe af het die woord ‘tsafenda’ ’n slengwoord geword vir om iemand te steek. Jy sou sê, ‘hei, ek sal djou tsafenda, djy!’”

Pumla het net buite Kaapstad grootgeword; Dudley in ’n gemengde township aan die Oos-Rand in vandag se Ekurhuleni. Dit was die waagmoedige proteskuns van ’n jong aspirantskilder van die Verwoerdiaanse era wat my gehelp het om beter te verstaan waarom 6 September 1966 vir so baie mede-Suid-Afrikaners van regoor die land ’n dag sou wees om te dans.

Ek het sy kuns ontdek terwyl ek in Kaapstad vir die WVK gewerk het. Omdat die Anglikaanse St. George’s-katedraal net om die draai van my kantoor was, en omdat ek reeds tien jaar tevore polities en geestelik deur die NG Kerk ontnugter is, het hierdie katedraal my plek van aanbidding geword. ’n Dag nadat ek ’n “votive mass for reconciliation and healing” daar bygewoon het, skryf ek in my geestelike joernaal, my binneboek:

17 November 1997

Glenda Wildschut [’n WVK-kommissaris] kom sit onverwags langs my, links van my sit twee “African Africans”, agter my ’n familie met Indiër-gelaatstrekke. Ons bid saam om waarheid en versoening en verantwoordbaarheid voor God: ’n God – ons Vader en Moeder – van geregtigheid en liefde. Die bruin kannunik vertel van ’n priester in Frankryk wat hom om vergifnis gevra het vir alles wat Europa aan Afrika gedoen het terwyl hy ’n teken van die kruis in die kannunik se hand maak. Die kannunik nooi ons almal uit om ook ’n soortgelyke kruis in mekaar se hande te maak, maar ek kry dit nie reg nie.

Hoekom nie? Die uitnodiging het my onverwags gevang, my algemene skugterheid, die nadraai van ’n anderse NGK-spiritualiteit, ens. Maar ek was ook bang om die vergifnis wat ek soek te goedkoop, te maklik te maak – daar is te veel waarvoor ek om vergifnis moet vra. Of is ek te trots? Dalk vertrou ek nie ’n medemens om my te vergewe nie – soos PW Botha in gister se Rapport sê: “Ek bieg net teenoor God, ek vra verskoning vir my naaste”?

Dan stap ek terug van die trappies voor in die kerk waar ek nagmaal ontvang het en my oog val op die groot Swart Christus-skildery – met oupa Hendrik wat ’n spies in Albert Luthuli3 se sy steek.


Opeens voel ek sterk dat daar vir my regtig te veel is om voor vergifnis te vra – die gesiglose apartheidstelsel is skielik baie naby.

Op pad terug huis toe sien ek Rapport se onderhoud met PW Botha onder die opskrif: “Vat my hof toe!” Hy beskryf die WVK as die “Wraak en Vergelding Kommissie”, wat “Afrikaners uitmekaar dryf”. Volgens hom moet “ons Afrikaners” ophou om “aanmekaar verskoning te vra” … “ons moet ons selfrespek herwin” … “ons moet ons gelofte voor God by Bloedrivier nakom” as ’n “geroepe volk”.

Wat ’n verbluffende kontras.

Dis byna 20 jaar later en steeds slaan dié kontras my dronk. Tot vandag bly dit vir my buitengewoon om ’n swart mens in plaas van die tipies Westerse voorstelling van ’n “whitey in a nightie”4 aan die kruis te sien. En ek sukkel steeds om daardie Romeinse soldaat met sy skerp spies en alte bekende gesig in die oë te kyk.

Dis ’n ontstellende skildery – ’n venster op die werklikheid van destyds én vandag; ’n werklikheid wat deur veral Verwoerd en Luthuli gesimboliseer word.

Ronald Harrison, die skilder, het geweet sy artistieke bydrae tot die bevrydingsbeweging sou ’n reaksie by die regering ontlok, maar hy het waarskynlik die intensiteit van die veroordeling uit Christelik-nasionale Afrikanerkringe onderskat. Die Kerkbode, spreekbuis van die (wit) NG Kerk, het die Swart Christus dadelik as godslasterlik gebrandmerk. Die Burger het onmiddellik gevra dat dit verbied word en daar was geen tekort aan verontwaardigde maghebbers wat aan hierdie oproep gehoor gegee het nie. Die veiligheidspolisie kon egter nie verhoed dat die skildery landuit gesmokkel word nie5 en het die 22-jarige Harrison herhaaldelik ondervra en gemartel. Sy gesondheid het permanente skade gely.6

Harrison was bewus van die slaggat van godslastering, maar vir hom het dit nie om ’n vergoddelikende gelykstelling van Luthuli met Jesus gegaan nie. Sy skildery wou die onmiskenbare verband tussen die lyding van swart mense en dié van Christus voorstel. Die jong anti-apartheidskilder was in opstand teen die Afrikaanse Kinderbybel se prentjie van die “liewe Jesus” met sy ligte vel waarmee ek grootgeword het.

As ons Jesus in werklikheid as “een van ons” beskou, is dit inderdaad uiters moeilik om dié profetiese kritiek te hoor. Ook as mense soos Verwoerd en sy opvolger, JohnVorster, nie net geliefde, gerespekteerde politieke leiers was nie, maar ook lidmate van “ons kerk”, die NG volkskerk.

Die vergelyking van die onderdrukking van swart mense met die kruisiging van Jesus verleen ’n skerpte aan Harrison se kritiek, ’n diepte wat politieke en morele veroordeling te bowe gaan. Dit is ’n radikale bevraagtekening van mense soos ek se Christelike nasionalisme, se Christenskap. Want indien die Soldaat met die Spies in die skildery inderdaad mense soos ek verteenwoordig, en indien die swart leier aan die kruis in werklikheid ’n toepaslike plaasvervanger is, dan is wat deur Verwoerd en sy volgelinge aan Luthuli en sy mense gedoen is, ook aan Christus gedoen (Matt. 25:38-40). Selfs al was ek opreg in my Nederduits-Gereformeerde, Christelik-nasionale navolging van ’n (wit) Jesus is ook ek aandadig aan die herkruisiging van die Christus vir wie ek lief is.

Ek is toenemend oortuig dat die ontstellende profetiese uitroep van Harrison se skilderkwas rotsvaste bybelse begronding het. Maar hoekom voel dit vandag al weer soos verraad wanneer ek aan dié wekroep probeer gehoor gee? Iets in my skop teë. Ek kan nie van harte aanvaar dat Oupa ook daardie Soldaat met die Spies is nie. Dalk omdat die melk uit Oupa se hand en Pa se liefde vir sý pa dieper deur murg en been gedring het as wat ek wil toegee?

Ek kon oupa Hendrik nooit in my ouerhuis miskyk nie. Op ’n ereplek in die sit-eetkamer pryk steeds ’n byna lewensgroot skildery van dr. HF Verwoerd. Om die draai daarvan hang daar deesdae ook die Verwoerd-familiewapen wat my pa ontwerp het. As leuse het hy sy pa se bekende politieke slagspreuk gekies: “Skep u toekoms self.” Elke beskikbare boek oor Hendrik Frensch Verwoerd staan in Pa se groot studeerkamer, op die rakke naby die groot erfstuklessenaar waarby dr. Verwoerd as eerste minister tot laatnag gewerk het.

My pa, ’n geologieprofessor, is ’n man van min woorde. As ’n tipiese Afrikanerman van sy tyd wys hy ook nie maklik emosie nie. Maar sy diepe bewondering vir sy pa was van kleins af vir my duidelik. Hy bly vasberade daartoe verbind om hom teen kritici te verdedig. Soos sy pa het pa Wilhelm nog al sy hare, deesdae net so gryswit. Die laaste ruk het ’n paar ouer mense teenoor my laat val: “Jou pa lyk darem baie soos dr. Verwoerd.”

Behalwe vir die mylpaalverjaardae van ouma Betsie het ons nie dikwels as Verwoerdfamilie bymekaar gekom nie. Ek onthou vaagweg ’n familiesaamtrek op Stokkiesdraai vir Ouma se 75ste verjaardagviering. Ek was 12 jaar oud. Ons het as uitgebreide familie na ’n paar swart-en-wit films van Oupa se politieke loopbaan gekyk. Die derduisende mense wat op die Jan Smuts-lughawe gewag het om hom en ouma Betsie terug te verwelkom nadat hy Suid-Afrika aan die Britse Statebond onttrek het, het veral ’n groot indruk op my gemaak. Ouma en sy kinders het ook vertel van sy toewyding en beginselvastheid as staatsman, sy warmte teenoor sy familie, sy besorgdheid oor die wel en wee van mense wat vir hom gewerk het.

Ons kleinkinders het gewoonlik Afrikaanse storieboeke as verjaardagpresente van Ouma Betsie gekry. Met die publikasie van GD Scholtz se uiters positiewe biografie in twee dele, Dr. Hendrik Frensch Verwoerd 1901-1966, het sy vir elke kleinkind ’n eksemplaar gegee. Voor in volume 1 het Ouma geskrywe: “Aanskou die rots waaruit julle gekap is.” (Jes. 51:1)

Ek is ook uit dié rots gekap, onwrikbaar diep daarin veranker. ’n Gevoel van familieverraad is dus onvermydelik wanneer ek die Man van Graniet fundamenteel kritiseer. Maar ek vermoed al meer dat my voortdurende innerlike ongemak met sy uitbeelding as die Soldaat met ’n Spies veral gewortel is in Oupa se bloedige einde. Hy het immers sy lewe “opgeoffer in diens van sy volk”. Ek is taamlik seker dit is juis hierdie oorgelewerde binnekringbetekenis wat aan Oupa se vergote lewensbloed verleen is wat my steeds sleg laat voel om na die politieke bloed aan sy hande te wys.

Die tergende vraag is dus: hoe kan ek openhartig beweeg tussen die Soldaat met die Spies en die geëerde volksleier van my familiekring? Hoe kan ek terselfdertyd reg laat geskied aan oupa Hendrik se bloed in my are, aan dr. Verwoerd se “geheiligde” bloed vir sy volk én aan die apartheidsbloed aan Verwoerd se hande?

Dit het my ’n dekade van buitelandse vredeswerk gekos om ontvanklik te raak vir hierdie vrae uit die stekelrige wag-’n-bietjies. In hierdie tyd was die grootste invloed op my seker my onwaarskynlike vriendskap met ’n getatoeëerde werkersklasman, ’n oudgevangene en voormalige lid van die militante Ulster Volunteer Force (UVF)7. Ek en Alistair Little het mekaar in 2001 kort ná my aankoms in Ierland by Glencree8 se somerskool ontmoet. Ek was dadelik aangetrokke tot sy intens eerlike deelname aan dié byeenkoms.

Alistair het my met die intrapslag reeds anders laat kyk na die omringende natuurskoon van die Wicklow-heuwels – vir hom is dit steeds onveilige vyandelike gebied. Tydens ons eerste diep gesprek – natuurlik in ’n pub – het hy my vertel hoe hy as 12-jarige in die vroeë 1970’s by die stryd teen die IRA9 betrokke geraak het. Bomme het sy tuisdorp geruk, vriende het gesterf, die Britse weermag en die plaaslike polisie was ondoeltreffend. Hy het gevolglik as 14-jarige by die UVF aangesluit. Op 17-jarige ouderdom het hy ’n Rooms-Katolieke man in ’n weerwraakaanval doodgeskiet en is hy tot lewenslange gevangenisstraf gevonnis.

Ná ’n hele aantal jare in die tronk het hy homself moeilike vrae begin afvra, het hy sy vyande se gesigte begin raaksien en het hy hom uiteindelik gewy daaraan om die gevolge van sy en ander se geweld op ’n menslike vlak aan te spreek. Toe hy ongeveer 13 jaar ná hy sy straf begin uitdien het voorwaardelik vrygelaat is, het hy hom as ’n sielkundige berader bekwaam. Narratiewe terapie, oftewel “storytelling”, en eerlike dialoog oor diep konflikgrense sou toenemend die fokus van sy lewenstaak word.

Alistair se innerlike worsteling met sy bloedbevlekte hande en sy persoonlike ervaring van die positiewe potensiaal van die sensitiewe inklusiewe uitruil van lewenservarings en riskante dialoog het my lewe en vredeswerk sterk beïnvloed. Hy het ’n mentor geword vir my werk as ’n koördineerder van die Glencree Sentrum vir Versoening se Survivors and Former Combatants Programme. Later het ons as medefasiliteerders baie nou begin saamwerk en geleidelik ’n proses, Journey Through Conflict, ontwikkel.10

Ten spyte van groot verskille in ons lewenspaaie, deel ons die deurslaggewende invloed van ’n konserwatief-Christelike, Protestantse ouerhuis. Sonder om weg te skram van waarby hy betrokke was, is hy op ’n opregte geloofspad, verbind tot nederige pogings om die blywende gevolge van sy dade en die impak van gewelddadige konflik op mense te hanteer. “Ek het twee verskillende reise ervaar,” verwoord hy hierdie moeilike binnereis. “Een is die reis na ’n verhouding met jou vyand wat baie prakties en miskien polities is – dit gaan oor verandering en om dinge gedoen te kry. En dan is daar die reis wat nie beter nie, maar dieper is. Dit is die reis om jou voormalige vyand as ’n volledige mens te leer ken – om te weet waarop hulle hoop, waaroor hulle droom, wat hul aspirasies is. Hierdie tweede reis was moeiliker en pynliker, want dit het my ’n donkerte in myself laat ontdek wat nie maklik is om in die oë te kyk nie.

Toe ek Gerry [Gerry Foster was ’n vyand, ’n baie aktiewe lid van die Irish National Liberation Army (INLA)11] die eerste maal ontmoet, was dit ’n baie oppervlakkige, praktiese ontmoeting. Op ’n manier ook heel maklik, want ek het nie nodig gehad om regtig baie van myself te gee nie. Maar soos die verhouding verdiep het – soos ek probeer verstaan het waarom Gerry die keuses gemaak het wat hy gemaak het; wat hy dink van mense soos ek en mense van die Lojalistegemeenskap [Protestants, Brits]; waarom hy oor hulle dink soos hy dink; wat hom kwaad maak; wat sy verhouding met sy dogter is – het dit moeiliker geraak.

Die persoonlike verhoudings wat ek met ’n paar Republikeinse oudvegters ontwikkel het, het my in staat gestel om meer verantwoordelikheid te neem en meer bewus te wees van wat my dade werklik aan ander mense gedoen het, waarmee dit families gelaat het. Alles in my wil daarvan weghardloop, want dis emosioneel en sielkundig baie pynliker om op hierdie dieper reis te gaan.”

Die groeiende vriendskap tussen Alistair en Gerry, oor meer as tien jaar en te midde van voortdurende diep politieke verskille, bly vir my ’n inspirasie. Ek vind sterk aanklank by Alistair se verwoording van ’n dieper binnereis. En by die onvermydelike donkerte wat deel is van ’n eerlike en sensitiewe erkenning van (voormalige) vyande se lyding en hul volle gelyke menswees; ’n erkenning wat gepaard gaan met die aanvaarding van persoonlike verantwoordelikheid.

Meestal wil ek ook van hierdie soort dieper, donker binnereis weghardloop. Hierdie boek oor oupa Verwoerd en sy nalatenskap is ’n poging om dié versoeking te weerstaan en om Alistair se voorbeeld in my Suid-Afrikaanse konteks te volg.


Saam met Alistair in die Skotse Hooglande.

Ek word geïnspireer deur baie mense wat by die konflik in Noord-Ierland of by ander konfliksituasies betrokke was en op soortgelyke maniere deurpaaie in plaas van uitkomkanse soek. ’n Baie besonderse ervaring was om lede van Combatants for Peace en The Parents’ Circle Family Forum te leer ken.12 Te midde van gemoedere wat steeds hoër loop in die konflik tussen Israel en die Palestyne werk hulle teen alle verwagtinge in saam om blywende regverdige vrede te bewerkstellig.

Tydens my laaste jare in Noord-Ierland kry ek en Alistair ’n wonderlike geleentheid om saam met mense soos dié saam oor die uitdagings van hierdie dieper donker reise te besin. Van 2012 tot 2014 koördineer en fasiliteer ons ’n Beyond Dehumanisation-navorsingsprojek wat uiteenlopende groepe ervare vredeswerkers bymekaarbring. Vir ’n aantal dae per sessie sit ’n dosyn van ons in ’n kring in Ierland, Noord-Ierland, Suid-Afrika en Israel/Palestina. Ons reflekteer saam oor ons persoonlike en professionele ervarings van die uitdagings van ware medelye, volhoubare vermensliking en kreatiewe verantwoordelikheid oor bloedige konflikgrense heen.13

Alistair en hierdie projek se insigte help my om op die huidige skof van my binnereis koers te hou. Maar om dié donker reis deur my wit Afrikanerskap, my Christen-Verwoerdwees te verstaan, is dit nodig om by daardie gebeure te begin wat vir my die waterskeiding was tussen Verwoerdwees en ’n halsstarrige “ontwoerding”.

Bloedbande

Подняться наверх