Читать книгу Bloedbande - Wilhelm Verwoerd - Страница 8

Hoofstuk 2

Оглавление

Wakker geskud in voorvaderland

Salig is die wat rein van hart is – Matt. 5:8

EK VOEL STEEDS daardie twee groot, swaar koffers in my hande, die tot barstens toe gepakte rugsak oor my skouers, al was dit meer as 30 jaar gelede, aan die begin van Julie 1986. In my pakkasie, buiten oorgenoeg klere vir onbekende weersomstandighede is heelwat Suid-Afrikaanse kos – Game-koeldrankpoeier, Pro Nutro, tuisgebakte beskuit en natuurlik biltong. Ook medisyne vir moontlike ongevalle. En ’n hele paar Afrikaanse boeke – veilige, NGK-teologieboeke. Êrens was daar ook ’n dagsakkie vir padkos en my Bybel. Alles deel van my toerusting vir ’n eerste reis na die buiteland.

Met dié dat die internasionale anti-apartheidsbeweging in volle gang was, was dit vir sommige in Afrikaner- en familiekringe die “berugte buiteland”. In die vroeë 1980’s, toe ek ’n voorgraadse student in teologie, sielkunde en filosofie aan die lelieblanke Universiteit Stellenbosch (US) was, was dit wel in die mode om “verlig” te wees. Die meeste studente en dosente het die hervormings van Verwoerdiaanse apartheid onder leiding van die Nasionale Party (NP) gesteun – maar nie my ouers en die meeste van my familie nie. Hulle is dus uit die NP na die nuwe Verwoerdgesinde Konserwatiewe Party (KP), maar ek het saam met die winde van (oppervlakkige) politieke veranderinge in Afrikanerkringe gewaai. Ek het saamgestem dat die beleid van afsonderlike ontwikkeling nie in die praktyk werk nie.

Maar die swaar bagasie waarmee ek daardie somer in Utrecht aangeland het, was ’n veelseggende metafoor vir hoeveel van my binnewêreld steeds deur my kinder- en jeugjare as spierwit, Christelik-nasionale, Stellenbosse Verwoerd gevorm was.

Die volgende binneboekinskrywing – vanuit Blaas ’n Bietjie se sit-eetkamer, in ouma Betsie se geselskap – getuig van dié onsigbare bagasie:

Blaas ’n Bietjie

28 Desember 1984, 22:15

Nou ja, uiteindelik het ek sover gekom om weer ná baie gewik en weeg my gevoelens, gedagtes en herinneringe neer te pen. Die omstandighede is baie gunstig daarvoor: Dvořák se Nuwe Wêreld Simfonie in die agtergrond, vermeng met die bekende rustige gesuis van die gaslampe, met Ouma Betsie wat langs my sit en lees by die tafel. In my hart is daar ’n lekker warm gevoel omdat ek en sy vanaand so ’n sinvolle gesprek gehad het. Ek wou al lankal met haar gesels het oor al die woelinge in ons hedendaagse politiek en hoe sy die toekoms sien. Veral wil ek meer weet van haar verlede saam met Oupa en die ontstaan van die beleid van afsonderlike ontwikkeling – vanuit ’n persoonlike gesigspunt gesien.

Dit was veral verblydend om te sien dat sy probeer om begrip te hê vir my situasie en ook vir die ingewikkeldheid van die huidige situasie in ons land. Dit is opvallend dat sy praat vanuit ’n vrees vir die swart getalleoorwig wat ons klein groepie blankes se selfbeskikkingsreg bedreig. Sy glo vas die enigste oplossing is om aan elke volk – swart, blank, Kleurling en Indiër – ’n gebied te gee waar hy oor homself kan regeer. Dit is die enigste manier vir ’n volk om sy volkseie (kultuur) in stand te hou en vir die nageslag te bewaar. Sy lê ook groot klem daarop dat sake vandag anders sou gelyk het as Oupa nie aan die begin van die implementering van sy beleid van ons weggeneem is nie.

Oor baie van die dinge waaroor ons gesels het, kan ek van haar verskil, maar wat ek baie van haar waardeer, is die liefde vir ons eie dinge, ons volk, ons selfstandigheid. (Soos toe ons saam met oom Hendrik-hulle vanoggend – as Voortrekkers of Oranjewerkers – die grondpad na die kafee gaan skoonmaak het van al die rondgestrooide papiere en blikkies, of toe ons die hakeas en ander indringerplante rondom die huise uitgetrek het.)

Ek weet nie so mooi om dit wat ek bedoel in woorde om te sit nie. Dit is miskien net ’n gevoel van selfrespek, respek vir jou eie mense en vir jou land, wat by haar uitstraal. ’n Gevoel van trots en verankerdheid, wat ek so min op Stellenbosch aanvoel – inteendeel! Gewoonlik word ’n mens oorlaai met klagte teen jou blanke Afrikaner-, Christen- en Verwoerdskap. Ek erken dat hierdie trots te ver gevoer kan word, maar veral by die jong mense van vandag word juis die gebrek aan trots meer dikwels te ver gevoer. Dan kry ’n mens so die gevoel van ruggraatloosheid, ankerloosheid, rigtingloosheid.

Miskien is daar nie altyd plek vir ’n gevoel van geborgenheid en sekerheid binne ’n filosofiese lewensingesteldheid nie. Tog is dit lekker om ’n slag sulke patriotiese dinge te sê, te skryf, te voel en selfs te glo. Om nie die oomblik dat daar van die Oranjewerkers, die Konserwatiewe Party of die Afrikanervolkswag gepraat word, dit af te maak nie. (Soos wat meestal in Stellenbosch gebeur.) ’n Mens moet tog selfrespek hê, jouself aanvaar! ’n Mens moet tog ’n verwysingsraamwerk hê van waaruit jy begrip en respek vir ander mense en volke kan hê.

’n Jaar en ’n half later arriveer ek met al my bagasie in Utrecht. Die plan was om daar ’n paar maande aan my MA-verhandeling in filosofie te werk. As Rhodes-beurshouer was ek op pad na Oxford vir drie jaar se teologie- en filosofiestudie. Daarna sou ek na Stellenbosch terugkeer, my opleiding as predikant voltooi en my roeping binne die NGK begin uitleef.

By my aankoms in Holland was ek reeds in ’n ernstige verhouding met een van die min vroulike teologie- en filosofiestudente aan die US, Melanie van Niekerk. Hoewel dié verhouding heelwat later ongelukkig sou verbrokkel, was sy destyds die een mens met wie ek regtig openhartig kon kommunikeer. Dit was ’n tyd wat ’n mens nog met die hand brief geskryf het en as ’n verwarde Verwoerd het ek sommer baie geskryf, vanuit my beknopte kamertjie in ’n studentehuis aan die noordekant van Utrecht.

Hoewel die eng piëtisme en etniese politiek wat uit hierdie uittreksels uit my linkerhandse gekrabbel straal my nou dikwels die kop laat sak, is ek tog dankbaar vir hierdie naakte rekord, byna soos ’n binneboek. Die versoeking bly groot om nou van die taalgebruik en uitsprake in dié briewe te sensor, maar onveranderd bied juis die dikwels laatnagtelike, haastige privaat skryfsels ’n redelik betroubare terugblik op dié jong Verwoerd se wilde wakkerskrik, digby Wilhelminapark.

Mauritsstraat 76

Donderdag 3 Julie 1986, 21:10

Liewe Melanie

Ek is nou sommer lus om met jou te gesels. My kamer is op die eerste verdieping van drie, aan die agterkant van die huis, net bo die kombuis, en kyk uit op ’n klein binnehoffie – lyk na ’n lekker deurmekaar studentehuis. Gelukkig is daar ’n stoof, yskas, eetgerei, ens.

Ek het die ander mense van die huis ontmoet: Johan (besig met sy doktorsgraad in teologie), sy vrou, Amor, en hul tweejarige seuntjie. Hulle is baie vriendelik, maar ek mis iets van veral ’n geestlike diepte en warmte by hulle – klein dingetjies soos bv. die manier wat hulle teenoor die kleintjie optree, Amor wat bietjie sterk taal vir ’n dame gebruik. (Tien teen een oordeel ek alweer te gou – ek sal my in elk geval positief moet instel om lekker saam met hulle te bly.)

Dan is daar Rudolf – ’n baie verfynde, maer kêrel wat klavierpedagogiek swot. (Haai, daar lui die klok vir tienuur – dis nog helder lig – dis lekker dat daar ’n kerk so naby is.) Hy het eienaardige maniertjies, maar ek hou van hom. Die ander persoon is Steward. Hy is ’n Kleurling van Swellendam. Hy het my vanoggend baie gehelp en is daarna vir die dag Amsterdam toe.

Vanaand toe ons nuus kyk was dit weer so ’n vreemde gevoel om nuus oor Suid-Afrika in die buiteland te kyk. Die nuus lyk nie te veel verdraai nie. Die probleem is meer dit wat hulle weglaat, nie soseer dit wat uitgesaai word nie. Vanaand was daar ’n stukkie oor die twaalfde bom sedert die noodtoestand en die feit dat t.s.v. die noodtoestand daar steeds mense in geweld sterf.

’n Paar honderd meter van hier is daar ’n pragtige park (genaamd Koningin Wilhelmina!) met pragtige groot bome, damme met spuitfonteine, mooi stap- en fietspaaie en ’n klomp ganse, makoue, swane, ens. Daar is selfs klein gansies – te pragtig, sommer nog so donsig. ’n Mens wil sommer net aan hulle vat.

Wilhelm

Slegs ’n dag later is dié romantiese prentjie van ene Wilhelmina se park vertroebel en die verhoudings met hierdie Wilhelm se huisgenote aansienlik gekompliseer. Oor die volgende paar maande dwing veral Amor en Rudolf my om die “rein”, strydlustige geloof van my jeugjare grondig te begin bevraagteken.

Om te verstaan hoekom hulle kritiek as wit Afrikaanssprekende Suid-Afrikaners, voormalige lidmate van die NGK, vir my so ingrypend was, moet ek eers ’n breë draai in my grootwordjare gooi. Ek moet ’n beskamende prentjie skilder van my Stellenbosse skoling as “Stryder vir Jesus” om teen “bose” swart “terroriste” en “kommuniste” te veg.

As laerskoolkind in Stellenbosch het ek elke Sondagoggend netjies uitgevat saam met my pa, ma en drie broers my plek gelate op die harde houtbanke van die groot NG Studentekerk ingeneem, langs ander wit Afrikaansprekende lidmate. Later het die Uniepark Gemeentesentrum die fokus van my meer entoesiastiese kerklike aktiwiteite geword: twee kerkdienste elke Sondag, met Sondagskool (katkisasieklasse) vir kinders tydens die oggenddienste; vir hoëskoolkinders Sondagaande die byeenkomste van die Kerkjeug Aksie (KJA); week lange Pinksterdienste ná Hemelvaartdag.

Dié kerkgebou, letterlik om die draai van my ouerhuis aan die voet van Botmaskop, was ook die plek waar my eerste “wedergeboorte” plaasgevind het. Ek het my eerste grootmensbybel op my agste verjaardag present gekry – “Vir Wilhelm, van Pappa en Mamma, 21 Februarie 1972”. In potlood, op bladsy 273, staan hierdie kantlyninskrywing: “Ds. Ockie preek wonderlik.” En langsaan: “12 Junie 1977 21:00 Ek, Dreyer, Hattie en Faffas stig S.v.J.”

My 13-jarige gekrabbel staan langs hierdie dramatiese teksverse: “Ek ken jou werke, dat jy nie koud is en ook nie warm nie. Was jy tog maar koud of warm! Maar nou, omdat jy lou is en nie koud of warm nie, sal Ek jou uit my mond spuug … Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek ingaan na hom toe en saam met hom maaltyd hou, en hy met My.” (Openbaring 3:16-17, 20).

Die ingrypende oopmaak van ’n binnedeur daardie wintersaand word bevestig deur ’n inskrywing dieselfde aand in my standerd 6A1 “English Diary”. (My uitstekende Engels-onderwyser by Paul Roos Gimnasium, mnr. David Taylor, het ons Boerseuns van die begin af aangemoedig om ’n dagboek te hou. Die kwaliteit van my Engelse taalgebruik bevestig hoekom dié skryfoefening broodnodig was. Om nie van politieke bekering te praat nie.)

“Tonight I heard a wonderful preach by ds. Ockie Raubenheimer. Four of my friends and I decided to form a Christian group which give Bibles and parts of Bibles to coloured people, Bantoes and whites.” Kort ná hierdie “wonderful preach” het ek ’n helder droom gehad: Die skoolhoof ontbied my en ’n paar van my beste skoolmaats oor die interkom: “Sal die volgende Stryders vir Jesus asseblief dadelik na my kantoor toe kom.”

Die res van die droom het ek vergeet. Miskien omdat my vorige werklike besoek aan die skoolhoof se kantoor met twee harde rottanghoue afgesluit is. Een oggend voor skool, terwyl ek met ’n paar vriende sit en gesels, begaan ek die sonde om ’n onderwyser te groet sonder om op te staan. Al was ek andersins ’n voorbeeldige skolier – sover ek kan onthou – word ek summier deur mnr. Bom Booysen na die skoolhoof gemarsjeer en deur laasgenoemde met twee harde rottanghoue op my sitvlak gestraf.

Hoewel die interpretasie van drome nie deel van my grootwordmilieu was nie, het ons vyftal standerd 6-kêrels wel dié droom beskou as ’n bevestiging van ons keuse en die voorlopige benaming van ons Christelike groepie. ’n Paar dae later het ons Stryders vir Jesus nie net ’n naam gehad nie, maar ook ’n wapen met ’n leuse: “Laat jou nie deur die kwaad oorwin nie, maar oorwin die kwaad deur die goeie.” (Rom. 12:21)

Die volgende paar jaar het ons jeugdige Stryders seker probeer maak dat ons nie op die oordeelsdag uitgespoeg sal word nie. Op die solder het die duiwel se oorkussing op Sondagmiddae lê en stof vergader. As ons nie Bybelstudie gehou en saam gebid het nie, het ons vir die kinders van die “coloured people” op die omringende plase gaan Sondagskool hou en húlle “leer bid”. Om ledigheid en louheid verder te voorkom was daar ook honderde Bybelgedeeltes en traktaatjies waarop “Stryders vir Jesus” saam met een van ons groeplede se telefoonnommers een vir een met die hand geskryf is. Deur die week is die Bybelgedeeltes aan (wit) kinders by die skool uitgedeel, of in die dorp aan “coloured people” en selfs ’n “Bantoe” of drie – in daardie stadium het die sogenaamde instromingsbeheer na die Wes-Kaap as Kleurlingvoorkeurgebied die getalle swart mense nog redelik effektief beperk.

Al hierdie witwarm pogings om die goeie te laat seëvier het nie beteken dat ek mnr. Booysen ooit op skool vergewe het nie. My gekoesterde gevoel van verontwaardiging en hardkoppigheid – volgens Ma tipies Verwoerd – het die historiese Jesus se voorbeeld in dié verband getroef. My ywerige NGK-geïnspireerde Christenskap het ook nie by my vrae laat ontstaan oor die teologiese en politieke grense rondom volke nie, of oor “rasseverskille” tussen blankes en sogenaamde nieblankes, tussen “whites”, “coloureds” en “Bantoes” in ons-vir-jou Suid-Afrika nie. Die noue koppeling tussen blank, soos toe na wit mense verwys is, en Afrikaner was ook glad nie ter sprake in my jeugdige stryd tussen goed en kwaad nie.

Dit was deels omdat my begrip van goed en kwaad ook sterk beïnvloed is deur die puriteinse kultuur wat van die NGK uitgekring het. Ek het die lang lys sondes binne dié kultuur huidjie en muidjie gesluk. As toegewyde Stryder vir Jesus het ek daarom nie gerook nie. Alkohol was verbode. Dwelmmiddels was glad nie ’n opsie nie. Ek het hard probeer om nie te vloek of God se naam ydellik te gebruik nie. Ek het nie gedans nie. Ook nie soos my ouer broers in ’n eie rockband gespeel nie. Ek het nie eens na dié onheilige musiek geluister nie. My sentimente teen dans en rockmusiek was so suiwer dat ek die voorbok was om ’n alternatief vir die matriekdans te reël: ’n bus na Kaapstad, vir “High Tea” by die Mount Nelson Hotel.

Op ’n treuriger noot: ek het my bowenal nougeset weerhou van “ontoepaslike seksuele gedrag”. “Vuil gedagtes” was hoog op my bieglys tydens my daaglikse Bybelstudie en gebed. Goeie Christene strewe tog daarna om “rein van hart” (Matt. 5) te wees? Gevolglik was “Jy mag nie seks hê voordat jy getroud is nie!” vir my ’n veel belangriker gebod as om, soos Jesus, my vyande lief te hê.

My oogklappe as rein stryder vir (wit) Jesus was verstrengel met my groepsbewussyn, met my volksverwantskap. ’n Tipiese inskrywing in my Engelse dagboek tydens my Paul Roos-jare spreek boekdele: “What actually happened today was that after school our Voortrekker team, the Renosters, went for the final test for our ‘Burgerpligte-kenteken’. After that I went to the Church’s bazaar and then to the Voortrekkers. (10 March 1978).”

Stellenbosch se Voortrekkerlaer is net om die draai van my ouerhuis. Draai regs by dié huis, af met die bult, kortpad verby die NGK Gemeentesentrum, oor ’n effense oopte, en daar tussen denne- en bloekombome is die Voortrekkers se byeenkomplek.14 Dié Afrikanerkultuurorganisasie se wapen is ’n wawiel en ’n brandende fakkel, met die leuse Hou Koers. Die Stellenbosch-laer se ronde administrasiekantoor is toepaslik gebou as die naaf, van waar ’n paar rye spankamers as die speke uitstrek. Hier het ons spannetjie Renosters elke Vrydagmiddag om vyfuur bymekaargekom, in ons spesiale Voortrekkeruniforms.


Nadat al die Verkenners – die benaming van Voortrekkers op hoërskoolvlak – op die paradegrond op aandag gestaan het vir vlaghysing en gebed, het ons onder leiding van ’n volwasse offisier (aangespreek as Neef) in ons spankamers vergader. As Renosters en Styders vir Jesus het ons dan toegewyd gewerk aan die een of ander kenteken. My uniform se regtermou was ná ’n paar jaar vol kentekens. Naas die een vir burgerpligte was daar onder meer kentekens vir Bybelkennis, kookkuns, oorlewing, dril en kuswag. Heelwat van hierdie kentekens het buitelugaktiwiteite vereis. Van my gelukkigste herinneringe uit dié tyd is die vele Voortrekkerkampe oor naweke en skoolvakansies, veral die kere dat ons Renosters onder toesig van neef Gys vir ’n week op ’n slag in Oupa se lyfwagte se huis, Arikreukel, in Bettiesbaai gaan bly het om aan die kuswagkenteken te werk. En vet pret te hê.

In die proses is hegte vriendskapsbande gesmee. My vasberadenheid om koers te hou te midde van al daardie onrein, sondige slagysters is versterk. Terselfdertyd het my groepsbewussyn – as Christelik-nasionale Afrikaner – ekstra woema gekry.

My (wit) Afrikaanse familie, my (wit) Afrikaanse woonbuurt, my (wit) Afrikaanse skool, my (wit) Afrikaanse kerk, my (wit) Afrikaanse vriende en my (wit) Voortrekkerskap was die waens rondom die laer van my groepsidentiteit. Dié laer het my verhoudings met ander Suid-Afrikaners radikaal gekleur. Ek keer later terug na my oorgeërfde konflik met Engelssprekende wit Suid-Afrikaners. In my grootwordkringe is die (aanvanklik minder prominente) konflik met “anderskleuriges” basies geïnterpreteer as ’n wen-of-verloorstryd tussen wit Afrikanernasionalisme en binnelandse swart nasionalisme. Met verloop van tyd, en met behulp van die Koue Oorlog, is die anti-apartheidstryd toenemend gedemoniseer as “geïnspireer deur ateïstiese kommuniste uit die buiteland”.

My Engelse dagboeke op hoërskool herinner my hoekom die propaganda oor die Totale Aanslag, die antikommunistiese ideologie van die PW Botha-era15, so effektief was:

11-18 August 1978

Friday – and at one o’ clock a few of us left in Bedford trucks from the school to Radio East Cape where our Cadettes would spend the weekend under the Army’s leadership. We drilled until about five o’ clock and afterwards had to get our places ready in the tents. In the evening we got two lectures on Communism and radios. The one on Communism was full of very interesting facts, but the Captain who talked had a very boring voice so I almost fell asleep.

Buiten hierdie tipe militarisering oor naweke was daar die weeklikse kadetperiodes op hoërskool. Aan die begin van die skooljaar het ek heel gewillig in die tou ingeval om my kadetuniform te ontvang. Elke Woensdag was hierdie militêre uniform ons skoolklere. Vir byna ’n uur het ons meer as 600 seuns op die skool se paradegrond gemarsjeer. Daar was ook gereelde lesings deur senior weermagoffisiere in die skoolsaal. Daar was weekliks sogenaamde jeugweerbaarheidsklasse om ons verder paraat te maak om die kommuniste hand en tand, met verstand en hart en siel te beveg. Vanaf standerd 8 (vandag se graad 10) het elke skoolkind sy weermagoproep ontvang – dokumentasie waarin jou weermagnommer toegeken en jy ingelig is by watter eenheid jy ná skool met jou tweejaardiensplig moes begin.

Soos uit die volgende dagboekinskrywing blyk, was ek nie heeltemal onbewus van die “verskriklike gevolge van oorlog” nie, maar die burgerpligkenteken was nie verniet op my Voortrekkeruniform se regtermou nie. As Stryder vir Jesus was ek ook oortuig van my heilige plig, soos dit gereeld in die NGK en in die Afrikaanse koerante bevestig is: “Ons móét mos ons grense teen die terroriste beskerm.”

Friday 29 June 1979

We were asked today in class to write down our opinions about war. I don’t think there are very much to say in favour of wars because it mostly destroy people’s lives and their belongings …

One day we will all have to defend our border against the numerous attacks from the terrorists, who are getting better and better trained, especially in the last few months, by the East Germans. So far we’ve lived safe and secure, far from any war and its fearful results. Few of us ever saw a body mutilated or bullet-ridden, but I think we ought to start realizing that war is a reality and that we must prepare ourselves physically and much more important, spiritually, because that’s where the only answer lies.

Ek was veral trots op my een broer se fisieke prestasies tydens sy weermagjare. Hy het daarin geslaag om ’n “parabat” te word, ’n lid van die eksklusiewe valskermbataljon. Ek was van plan om sy voorbeeld te volg, maar weens ’n onwelkome sportbesering in matriek moes ek om uitstel van my diensplig vra. Ek het gehoop dat ek ná universiteit fiks genoeg sou wees om ook ’n behoorlike soldaat te kan wees, soos my broer. In ’n hangkas in my ouerhuis kom ek onlangs op ’n ou skoolhemp af. ’n Mens kan skaars sien dat dit wit was, want dit is bekrap met klasmaats se handtekeninge en ander versierings – ’n tradisie in Paul Roos vir matrieks se laaste skooldag. Buiten al die handtekeninge is daar ’n groot, ingekleurde afbeelding van ’n atleet op die rugkant, onder dié hoofletteropskrif: “May I run the race before me, strong and brave … Looking only onto Jesus as I onward go” en in vet, gekleurde skrif, op die kraag, my “army no.”: 80467780 BJ.

Daar is geen teken op hierdie hemp van die groot meerderheid Suid-Afrikaners wat nie soos ek gelyk of gepraat het nie. Ek het slegs vae geheuebeelde uit daardie jare, sonder spesifieke gesigte en volle name. My kontak met “coloured people” en “Bantoes” was hoofsaaklik beperk tot enkele pogings om as ’n jong Stryder vir Jesus Christelike traktaatjies uit te deel. Uit my laerskooljare onthou ek ook vaagweg ’n familiebesoek aan my oom Hendrik (Verwoerd) op sy plattelandse sendingstasie in Lebowa. ’n Sterk gevoel dat “ons” anders is as “hulle” het soos ’n wolk oor dié besoek gehang. Terloops, wyle oom Carel Boshoff – getroud met tannie Anna, my pa se jonger suster en latere Broederbondvoorsitter en uiteindelik ’n medestigter van Orania – was ook ’n toegewyde NGK-sendeling.

Soos by vele wit Suid-Afrikaanse families was daar donkerkleurige mense wat oor die jare in die tuin of in die kombuis gewerk het. My ma was voltyds by die huis, dus is ons nie soos baie ander Afrikanerkinders deur ’n swart vrou gehelp grootmaak nie. Ek het dit glad nie vreemd gevind dat kos in ’n afsonderlike blikbeker en blikbord aan die gekleurde werkers uitgedeel is nie – gewoonlik sulke dik snye brood met baie konfyt en koffie met melk en hope suiker.

Tog is niemand wat kom kos soek het met leë hande weggestuur nie. In persoonlike verhoudings, in een-tot-een-kontak, het my ma-hulle, soos ek onthou, heel menslik opgetree. Deel van die sendingbewuste, paternalistiese Christelike kultuur waarin hulle en ek opgevoed is, het die waardes van barmhartigheid, vriendelikheid en mededeelsaamheid teenoor minderbevoorregtes en armes beklemtoon. Ma het ons ook van kleins af geleer dat ons nie volwasse swart mense op hul name mag noem nie – sy het ons vertel hoe sy as kind ’n pak slae gekry het toe sy outa Jan as Jan aangespreek het. Ons het wel almal onbeskroomd van ons tuinjong gepraat.

So is daar aan die een kant by my ’n sterk bewussyn gekweek van hoe verskillend “ons blankes” van “die swartes” is. En dat “ons Afrikaners, as ’n minderheidsvolk, slegs vry sal wees en selfstandig sal bly as afsonderlike ontwikkeling van die ander swart volkere plaasvind”. Terselfdertyd het my ouers dikwels gesê: “Slegs as jy respek het vir ander volkere kan jy verwag dat hulle vir jou respek sal hê.” En min of meer in dieselfde asem: “Dit is die probleem met die Kleurlinge: hulle is nie ’n volk nie; daarom het hulle nóg selfrespek nóg respek vir ander.”

Tot vandag toe hou my ouers (en die meeste van hul oorlewende broers en susters) voet by stuk dat daar ’n groot verskil is tussen apartheid en afsonderlike ontwikkeling. Vir hulle beteken apartheid ’n stelsel van onderdrukking en oorheersing (wit baasskap). Afsonderlike ontwikkeling is Oupa Hendrik se “volkerebeleid van afsonderlike vryhede – gebou op wedersydse respek en die Christelike verantwoordelikheid om swart volkere op te hef, terwyl hul unieke kulture beskerm word”. Van kleins af hoor ek dié refrein: “Ons is rasbewus, maar ons is nie rassiste nie. Ons as Afrikaners wou nog nooit oor ander geregeer het nie. Apartheid in sy lelike vorm kom direk van die Britse imperialisme af. Die Britte het ’n baie groter gemors as ons in hul kolonies gemaak.”

Onverdunde anti-Britse sentiment, vermeng met Christelike paternalisme, versterk deur omvattende antikommunisme was dus die vormende kennis in my bloed waarvan Jonathan Jansen – opvoedkundige, skrywer en oudrektor van die Universiteit van die Vrystaat – praat.16 Dit is basies die wêreldbeskouing van wit teenoor swart waarmee ek as Stellenbosse Boertjie grootgeword het; die swart-en-wit lewensvisie wat ek soos puriteinse moedersmelk van my bloedfamilie en my kerk- en volksgenote ingekry het.

Teen die einde van my hoërskooljare en op universiteit het ek versigtig kritiese vrae begin vra. By my aankoms in my Verwoerdvoorouers se land was ek egter steeds tuis in die hoofstroom van die Stellenbosse Afrikanerdom. Ek was basies ’n NP-ondersteuner. Ek het, byvoorbeeld, in die (wit) referendum van 1983 ten gunste van ’n driekamerparlement gestem, met afsonderlike kamers vir wit, bruin en Indiër-verteenwoordigers. As Stellenbosse student kon ek nie verstaan hoekom die pas gestigte United Democratic Front (UDF) so woes in opstand gekom het teen hierdie “stap in die regte rigting” (wat swart mense uitgesluit het) nie. Ek het ook geen ooghare vir die “kommunistiese ANC” gehad nie. So laat soos 1985, terwyl ’n stuk of 150 wit Wilgenhofkoshuismanne in die eetsaal middagete geniet, kom die radionuus oor die luidsprekers van nog ’n “hoogs suksesvolle” lugaanval op “ANC-terroristebasisse”, dié keer in Botswana. Ek het saam hande geklap. Ek het steeds soos op hoërskool geglo: “We will all háve to defend our border against the numerous attacks from the terrorists.” (English Diary, 29 June 1979)

G’n wonder die mense van Mauritsstraat in Utrecht moes so hard skud om my behoorlik wakker te kry nie, om my werklik te laat besef dat my familiemelk allesbehalwe rein is.

Mauritsstraat 76

Vrydag 4 Julie 1986, 20:25

Liewe Melanie

Ek sit nou hier in my kamer met ’n koppie koffie en besluit toe om ’n bietjie met jou te gesels. Ek het netnou vir die eerste keer op oorsese bodem gaan draf en dit baie geniet. Deur gewoonte sal ek seker ’n gevoel van tuiswees kry. Ek moet egter sê, ná ’n paar van die goed wat Johan my vertel het wat die naweek in Wilhelminapark gebeur het, sal dit maar moeilik gaan om orals tuis te voel.

Blykbaar was daar ’n saamtrek van homoseksuele mense van oor die hele Europa en ook Engeland – meer as 6 000 (!) in totaal. Blykbaar het die mense hul liefde vir mekaar openlik en skaamteloos gewys, ’n klomp van die meisies was bostukloos. Aai! Dis vreemd hoe hierdie dinge my die pragtige plek anders laat ervaar het.

Miskien gaan ek en Amor nog ’n bietjie vassit (sy doen haar doktorsgraad in sosiologie), want sy is baie links – sy steun die ANC, ekonomiese boikotte, ens. Sy is redelik ekspressief oor die mense in Suid-Afrika wat nie werklik weet wat aangaan nie. Nou ja, sy weet seker (definitief) meer as ek. Waarvan ek eintlik nie hou nie, is die wyse waarop sy vanoggend opgemerk het dat sy ook staan vir die gelykheid van die man en vrou.

Hier is (baie) interessante en skokkende publikasies oor Suid-Afrika wat natuurlik daar verbied is. Ek sal dit probeer lees.

23:55

Ek sal nou eerder met jou gesels as wat ek verder moet sit en luister hoe Amor en Johan hier onder my venster in die agterplasie sit en stry oor of Johan ’n apartheidsteoloog is of nie, of hy werklik sy keuses teen apartheid in die praktyk uitleef – “ek moes jou gat lek om jou lidmaatskap van die blanke NG Kerk op te sê!”

Die argument het eintlik begin toe Johan en Rudolf hulle uitspreek teen Satanisme. Toe sê Amor dat Johan en sy kerk se teoloë (wat apartheid as ’n ideologie teologies begrond het) net so verkeerd en met duisternis gevul is, dat Christene arrogant is en dat Johan eintlik net skuldig voel oor wat sy kerk verkeerd doen.

9 Julie 1986, 20:00.

Ek was vanmiddag by die Universiteitsbiblioteek, maar het toe die meeste van die tyd met Johan gesit en gesels. Hy het my vertel in watter krisis die Skrifberoep vandag in Europa is, hoe daar byna geen konstantes meer is nie, dat ons interpretasie van die Skrif so relatief en konteksbepaald is. Toe wonder ek wat het van kinderlike geloof geword? Ook die hele kwessie van die “anonieme Christendom”, dat ons nie die arrogansie mag hê om God se eindoordeel te verkondig nie.

’n Ander onderwerp was die hele kwessie van homoseksualiteit en hoe dit vanuit die Skrif geregverdig word. Christus wat bv. gesê het dat “sommige geskape is dat hulle nie kan trou nie”. Wat my eintlik ontstel het, is die feit dat Rudolf ook ’n homoseksueel is. Dít is nie eintlik die probleem nie – ek hou baie van hom – maar dat hy nie in ’n God kan glo wat sy seksuele disposisie afkeur nie. (Hier praat hulle nie van normale en homoseksuele mense nie, maar van hetero’s en homo’s.) Hoe keur ’n mens homoseksualiteit in beginsel af, maar laat dié mense tog welkom voel in die kerk?

’n Ander issue (hoeveel nog?) was natuurlik voorhuwelikse seks, wat ook onder Christene hier nie ’n taboe is nie.

Lyk my vandag is ’n dag vir uitputtende gesels. Terwyl ek besig was om kos te maak, het ek en Amor aan die gesels geraak oor politiek. Aan die begin het dit vir my gevoel of sy my nie kans gee om my sê te sê nie. Dit het gevoel of sy my op alles aanval en dat ek nie werklik solidariteit met die onderdrukte swart mense betoon nie.

Nou ja, ná baie “gesels”, ongeveer een uur later, het dit darem afgekoel. Ek het beter begin besef vanuit watter ervaringswêreld en verlede sy dink en dat sy eintlik ’n baie eerlike, (te?) ekspressiewe mens is, wat nie rustig, kalm oor sake dink en redeneer nie (soos ek?).

Ek moet sê, sy het darem teen die einde ook heelwat rustiger gesels. Sy het al heelwat kontak gehad met ANC-lede, met mense van die Belydende Kring en Kairos (ek weet baie min van hulle af) en met swart mense (bv. lede van die UDF) wat baie bitter en onderdruk voel binne die Suid-Afrikaanse konteks deur die Afrikanerregering. Hierdeur het sy ’n geweldige weersin in die Afrikaner en die NGK ontwikkel. Sy is nie meer lus om genuanseerd te dink nie, maar gee tog toe dat alles nie so eenvoudig is nie.

Dit is vir haar ontsettend belangrik dat ons as blankes werklik krities moet wees teen die verontregting vanuit die apartheidsbewind en die teologiese regverdiging van dié ideologie. Ons moenie in ons grand huise met groot salarisse sit en paternalisties kritiek (teoreties) lewer nie, maar ons moet ons solidariteit bewys. Dit is wat van die swart mense ook vra. Byvoorbeeld, bedank uit die NGK, neem deel aan die verbruikersboikot. Dit is die tipe dinge waarmee sy my gekonfronteer het.

Ek het toe verduidelik dat ek bínne die struktuur (dis vir haar onaanvaarbaar, maar sy gee toe dat ons op hierdie punt wesenlik van mekaar verskil) op ’n niepolitieke wyse, binne die kerk, op ’n praktiese, intermenslike vlak probeer om apartheid en die gevolge daarvan teë te werk – bv. via gespreksgeleenthede, die ANC-studietoer verlede jaar deur die land, KJA-werkerskampe, my daaglikse optrede. Ek het ook verwys na apartheid wat in huwelike en gesinsverhoudings bestaan.)

Sy lê net baie meer klem daarop dat ’n mens ook by die struggle teen onregverdige strukture betrokke moet raak.

Op die ou end het ek besef dat ek my heeltyd probeer verontskuldig het. Ek het besef/gewonder of ek werklik bereid is om van my bevoorregte, gemaklike lewe op te offer om mense in onderdrukking en lyding by te staan. Of ons nie met argumente, geldelike bydraes, klere uitdeel onsself probeer sus nie en nie besef dat dit vir baie swart mense nie genoeg is nie.

Dit is net so ’n ontsettend gekompliseerde situasie. Daar is so baie faksies binne swart geledere. Met wie moet ek solidariteit bewys? Hoe verhoed solidariteit met die onderdruktes ’n vervreemding van my eie mense? Of beteken dit in hierdie geval dat Christus en die waaragtige navolging van hom skeiding tussen mans en vrouens, ouers en kinders moet bring?

’n Dag later word ek gekonfronteer met my verstommende goedgelowigheid oor die Suid-Afrikaanse regering en veral ook die veiligheidspolisie. Die meeste van die betrokke mense was immers Afrikaners, my mense.

Donderdag 10 Julie 1986, 00:15

Liewe Melanie

Wat ’n ontstellende klimaks vir ’n ontstellende dag!

Amor en Johan het my begin vertel van die inligting wat hulle hier in verbode publikasies, tydskrifte en in gesprekke met uitgewekenes, ANC-ondersteuners, gekry het. In een woord: dit is SKOKKEND! Dit gaan veral oor die duiwelse rol van die veiligheidspolisie, eintlik van al die veiligheidsorganisasies soos die KGB, CIA, ens.

Ek weet nie wat om te glo van alles wat hulle vertel nie, maar dit lyk redelik betroubaar dat die telefoon hier getap word. Volgens haar oom wat in die veiligheidspolisie is, is daar blykbaar lêers oor almal wat buiteland toe gaan (veral na Nederland).

Hulle het ook gepraat van ’n besoek aan ’n vrou hier in Nederland. Sy is ’n ANC-lid, maar ook ’n toegewyde Katoliek en sy staan geweld teë. Dié vrou het hulle vertel en gewys hoe die veiligheidspolisie haar gemartel het – hulle het drade onder haar naels, in haar ore (sy kan nie meer goed hoor nie) en in haar vagina opgedruk en haar geskok om inligting in die hande te kry.

Ek het ’n boek hier, geskryf deur een van Steve Biko se vriende – ’n blanke persoon, Donald Woods, wat uit Suid-Afrika gevlug het. Woods vertel wie Biko was – lyk my hy was ’n fantastiese leier en mens – en hoe hy vermoor is. Daar is foto’s van hoe sy liggaam gelyk het en waar hy geslaan is. Volgens die polisie is hy aan ’n hongerstaking dood. Daar is ook ’n lang lys van mense wat in aanhouding gesterf het. Volgens die veiligheidspolisie het die meeste hulleself opgehang of verongeluk – bv. op koekies seep gegly! Woods se boek is natuurlik verbode in Suid-Afrika, hy het die manuskrip uitgesmokkel. Eintlik weet ek glad nie wat om te dink nie, ek weet nie wat ek gaan voel nadat ek die boek klaar gelees het nie.

Amor en Johan vertel hoe hulle later nie meer geweet het wie en wat om te glo nie – op die ou end net vir God. En dat hulle al hul naïwiteit verloor het m.b.t. die NP-regering en aansprake dat alles eintlik met goeie bedoelings gedoen word. Volgens redelik betroubare inligting het die veiligheidspolisie selfs ’n eie “moordsquad” (oud-Recces) wat betaal word om teenstanders van die “Nasionaliste” uit te wis. Hulle het ’n paar voorbeelde genoem van moordsake wat nooit opgelos is nie of nie aan gewerk word nie. Ek weet nie hoe waar dit is nie.

Nou ja, wat sal ’n mens van al hierdie dinge sê? Soos Johan sê, “Cry, the beloved country!” As ’n mens al die dinge ernstig opvat en deurdink, sal jy mal en/of paranoïes word. Dis so ’n vreemde gevoel, so of alles nie waar kan wees nie. Tog is dele daarvan in elk geval waar: Dokters wat Biko ondersoek het, is tog skuldig bevind, daar is ooggetuieverslae, ens. Ek weet nie of ek die geleenthede moet gebruik om al hierdie tipe kennis in te win nie. Miskien moet ek aan prof. Willie Esterhuyse [filosofieprofessor by die US] skryf en raad vra. Blykbaar is die regering ook besig met ’n klomp geheime projekte waarvan die algemene kieserspubliek niks weet nie.

Hoe behou ’n mens tussen al hierdie dinge deur jou nugterheid? Hoe verwerk ’n mens dié tipe inligting – is dit hoegenaamd verwerkbaar? Hoe bly ’n mens eerlik met jouself en ondersoek alle dinge op soek na die waarheid? Een ding (nee twee) wil ek aan vashou: al dié gemors gaan nie tussen my en jou kom staan nie. Dis net so ’n ander Suid-Afrika wat ek nou leer ken.

In die tweede plek (gelykstaande aan die eerste) mag dit nie tussen my en die Here en ’n naïewe, kinderlike geloof in sy oorwinning oor die Bose kom nie. Laat ek dit so stel: die geweld, ook van die regering se kant, laat my Amor se radikalisme (en die ANC s’n) ’n bietjie beter verstaan. Johan bewonder die ANC se geduld, dat hulle so lank gewag het voordat hulle tot geweld oorgegaan het. Ek (ons) moenie so word nie, hoor! Maar hoe maak ’n mens dan erns met alles, hoe behou ’n mens spel, vreugde, hoop, humor?

Donderdag, 01:30

Toe ek nou so in die bed lê en probeer bid, kom daar sommer weer ’n klomp goed in my kop op. Toe wonder ek of ek nie simpel is/was om al die goed vir jou te skryf nie en of ek nie heeltemal oorreageer nie. Miskien is dit net die skok van ’n ontmoeting met ’n ander wêreld in Suid-Afrika.

Toe dink ek ook weer aan wat Gerrit Viljoen [voormalige voorsitter van die Broederbond, in daardie stadium minister van onderwys] later gesê het: Dat daar nie hervorming sonder orde kan wees nie, hervorming gaan gepaard met onstabiliteit. Verder: nóg die ANC nóg die veiligheidspolisie is almal engeltjies. Die tragedie van apartheid is dat mooi bedoelings op ’n hoë vlak deur staatsamptenare op ’n lae vlak gekelder word. Hoe moet ’n staat sy veiligheid waarborg – waar word die streep getrek? Is al die regering se hervormings dan niksseggend/irrelevant/kosmeties? Is daar soveel boosheid in alles wat die regering en die Christene in die regering doen? Is ek baie naïef? Wat van swart mense soos Fano [Sibisi] van die Kwasisa Bantu-sendingstasie [in die destydse Natal] wat ons verlede jaar besoek het en wat nie so krities oor die regering is nie?

Tog bly die tragedie van onskuldige mense wat op gruwelike wyses deur die veiligheidspolisie gemartel word. Weet die mense daar bo in die regering daarvan, bv. Gerrit Viljoen, Dawie de Villiers [oudpredikant, oud-Springbokkaptein en in daardie stadium minister van handel en nywerheid en, soos Gerrit Viljoen, as “verlig” beskou]?

Aan die ander kant: miskien is Amor en kie. ook nie so onskuldig nie. Wat is die dilemma/verantwoordelikheid van ’n staat om sy veiligheid teen bv. ondermynende lektuur te beskerm? Wie bepaal wat is ondermynend of nie?

Maar wat gee die regering die reg om burgerskap aan swart mense terug te gee wat hulle nooit eens mag weggevat het nie? En hoekom het die NGK nie vroeër geluister na die kritiek op apartheid nie?

Wat weer van die baie mense met konserwatiewe politieke standpunte, wat terselfdertyd toegewyde Christene is, soos oom Carel Boshoff, my ma, ouma Smit? Het my oupa nie van al dié dinge geweet nie – volgens Pa-hulle was hy dan ’n geliefde minister van naturellesake? Is dié beeld wat hulle en ek van hom het dalk die produk van eensydige indoktrinasie? Het ons elkeen (al die blankes) kollektiewe skuld aan wat, bv., die veiligheidspolisie doen/gedoen het? Dan is ons mos skuldig aan alles wat almal verkeerd doen?

Is ek nie besig om te rasionaliseer nie? Hoe versoen ’n mens die verskillende wêrelde in Suid-Afrika? Veral as die regering meestal vanuit een wêreld optree/dink/doen – ’n konflik tussen die Eerstewêreld en die Derdewêreld? Ag, alles raak weer so teoreties …

12 Julie 1986, 15:20

Ek wou ook nog graag gereageer het op wat jy geskryf het, Melanie, oor al die bomme en Nelson Mandela en die honger kindertjies. Dis so ontsettend moeilik om te weet wat om prakties te doen aan al die gebrokenheid …

Ek is bly dat ek gekonfronteer word met die “verbode” inligting. Ek is wel ’n bietjie bang om die boek oor Biko te lees. As ’n mens dié tipe goed lees en hoor dan voel jy later: Nou wat is dan nog mooi, kan ’n mens dan ooit lag en vrolik wees en die lewe geniet terwyl al die mense so swaarkry en ly? Ek vertel nou die dag vir Amor hoe mooi die sneeu in Jonkershoek lê, toe wonder sy of dit ook mooi is vir die mense in sinkpondokkies in Kruispad. Ek weet sy is nie reg nie, maar ek weet ook nie wat die regte antwoord is nie. Dan is dit of dit makliker is om maar nie van al die gemors in die wêreld te hoor nie.

Dan dink ek weer dat Christus juis met die sondaars en hoere gemeng het, dat hulle graag na Hom gekom het, dat Christus sy Blye Boodskap geleef het in ’n tyd toe daar ook armoede, politieke ongeregtigheid, godsdienstige skynheiligheid, sedelike verval was. Maar dan weet ek nie hoe om Hom altyd te volg nie. Hy is soms so geweldig radikaal. Wat is die implikasies van alles wat Hy sê: “verkoop alles … wie nie broer of familie of vrou haat (tweede stel) nie … ” ens. Dan wonder ek of ons ooit in Stellenbosch ons verantwoordelikheid en betrokkenheid (nie net geld nie) ernstig genoeg opgeneem het. Wat kan ons meer doen, hé? Waar trek ’n mens die streep?

Dit is seker die goed wat my (al is dit ook onbewustelik) die meeste ontstel. Miskien omdat dit op so ’n vreemde/harde/konfronterende manier d.m.v. Amor tot my gekom het. (Ek is nou al selfs lief vir haar, ons kom nou goed oor die weg.)

Die ander ding wat my ook baie ontstel, is Rudolf en sy homoseksualiteit wat hy so vrymoedig uitleef (soos baie ander hier). Wat ek wonder is of dié mense nie ook tot Christus aangetrokke sou gevoel het nie (soos die hoere). Eintlik is ek seker daarvan. Maar wat dan van ons kerk se liefdelose oordeelshouding? Kan ek hom met vrymoedigheid uitnooi om ’n Christen te word? Wat dan van die oordeel? Wat as hy so gebore is – soos dit vir my lyk/klink?

Wilhelm

My groeiende vriendskap met Amor het nie beteken dat sy my met rus gelaat het nie. Inteendeel. Toevallig het sy ook filosofie by die US gestudeer, by dieselfde dosente as ek. Soos ’n Sokrates van ouds – die steekvlieg van die Grieke – kon sy daarom ’n paar gate in nog ’n paar dyke rondom hierdie Stellenbosse Stryder en student steek. Dié keer was dit nie gesagsfigure in die NGK of die regering waaroor ’n paar vraagtekens geplaas is nie, maar mentors op wie se politieke oordeel ek baie vertrou het.

16 Julie 1986, 01:00

Liewe Melanie

Lyk my dis weer tyd vir een van ons laatnag-vroegoggendgeselsies. Hierdie keer is die probleem dienspligweiering of nie. Miskien moet ek eers verduidelik hoe ons daarby uitgekom het. Ek stem nie saam met alles wat Amor sê nie, maar ek het tog ’n paar goeie argumente gehoor.

Ek wil nie logies/klinies klink of dink oor al dié dinge nie, maar miskien is dit dan ’n bietjie makliker om ’n mens se emosies uit te sorteer. Dis eintlik nou nogal ’n snaakse gevoel: ek het nie antwoorde op wat hulle sê nie en die inligting/perspektiewe is eintlik baie ontstellend en ek kan dink dat ek maklik met haar sou kon saamstem. Maar dit is so asof ek weet – met my hart – dat dit nie die enigste interpretasie is nie, dat ek nie met alles kan saamgaan nie. Ek wens ek het meer feite/kennis tot my beskikking gehad. Ek sal miskien, nee ek dink ek moet vir Gawie [de la Bat, ’n universiteitsvriend] of prof. Willie [Esterhuyse] of Fano (of almal) skryf.

Amor-hulle is glad nie beïndruk met hom [Willie Esterhuyse] nie – sê hy is ’n tweegatjakkals: Hy behoort aan die Broederbond en dan maak hy al die verligte uitsprake. Sy hou ook niks van prof. Hennie [Rossouw, filosofieprofessor aan die US] nie a.g.v. “sy aandeel om die blanke Afrikaneridentiteit van die US te handhaaf”.

Dit is eintlik waar die gesprek begin het. Sy het gesê sy het nie meer respek vir prof. Hennie as mens nie a.g.v. bg. tipe dinge. Sy het wel respek vir sy filosofiese vermoëns. Toe probeer ek verduidelik dat al stem ek nie saam met alles wat hy sê/doen nie, ek steeds my respek vir hom as mens behou en dat dié respek ’n verskil gaan maak aan die wyse waarop ek van hom gaan verskil. Sy wil toe weet hoe ver ek bereid sal wees om teen sy gesag in te gaan. Waaroor dit toe eintlik gegaan het, is hoe ver ek bereid is om op te staan vir die waardes waarin ek glo.

Ek het eintlik net weer besef dat ek nie rêrig die konsekwensies van veral my politieke oortuigings al deurdink het nie. Ek het soveel meer op Christelike waardes en oortuigings gekonsentreer.

Aan die ander kant is daar tog baie probleme wat nie polities is nie en wat gespesialiseerde aandag benodig en waarvoor ek my moet bekwaam. Baie swart mense en “radikale” blankes in Suid-Afrika en in die buiteland lyk my lê te veel klem op politieke probleme en die mensonterende gevolge van ’n verdrukkende stelsel, bv. gesinne uitmekaar, marteling van vroue en selfs kinders. (Terloops daar word blykbaar ook talle kinders onder 11 jaar in Suid-Afrika aangehou. Verlede jaar is ’n tweejarige en ’n drie-en-’n-halfjarige kind in aanhouding dood. Mev. Mabata se dogtertjie, twee jaar oud, is saam met haar uitgehonger. “Sy is mos ook ’n kommunis,” was blykbaar die polisieman se woorde. Volgens Amor kan ’n mens inligting hieroor by die British Council in Londen kry.) Die probleem in Suid-Afrika (soos in die buiteland) is wie/wat om te glo. Soms, nee dikwels, lyk dit egter of die buiteland nie so verkeerd is nie? Op die ou end het ons saamgestem dat jy wel ’n hartchirurg kan/moet wees, maar dat jy steeds jou politieke oortuigings moet uitleef. Ons probeer dit tog doen? Ons het net nog baie om te leer. Of moet ons maar eerder heeltemal buite die struggle staan? Wat sou Christus gedoen het? Sy dissipels was dan o.a. ’n seloot en ’n tollenaar?

Toe kom ons by diensplig uit en by die hele vraag teen wie veg jy. Is die kommunistiese bedreiging rêrig so erg? Is dit nie net baie propaganda nie? Die Suid-Afrikaanse regering se invalle in buurlande, selfs tot in Tanzanië, veroorsaak destabilisering. Ons het ook gesels oor die hele kwessie dat die ANC volgens hulle nie ’n alternatief behalwe geweld het nie. My vraag is of geweld noodwendig bomme op sagte teikens moet insluit.

Nou wat sê ’n mens van al hierdie dinge? Ek is so bang dat ’n mens kan sê, ag, hulle weet nie wat is die realiteite nie, hulle oorreageer, hulle is eensydig, en dan is dit dalk nié so nie.

Op die ou end voel ek net: goed! goed! goed! Kom ons hou op praat en raak betrokke by die nood rondom ons, kom ons soek die Here met ons hele hart. Is dit nie Fano-hulle se geheim nie? Of is hulle nou weer nie polities genoeg/werklik betrokke nie?

Wel, dis amper halfdrie. So, miskien moet ek maar eerder gaan slaap. Ek is nou net so helder wakker.

Wilhelm

Al dié min slaap het natuurlik beteken dat my MA-verhandeling nie veel gevorder het nie. Ek was egter nooit spyt daaroor nie, want ek het baie meer by die mense van Mauritsstraat 76 geleer. Die volgende paar briewe lyk miskien op die oog af soos ’n syspoor. Terugskouend besef ek egter al hoe meer hoe belangrik dit was om nie net deur Amor se politiek geskok te word nie, maar om terselfdertyd op ’n persoonlike vlak, vanuit my verhouding met Rudolf, radikaal te begin twyfel oor wat dit beteken om “vir Jesus te stry”.

Gegewe my destydse ideaal om eendag ’n predikant te word, het dit my tot in my fondamente geskud om te besef hierdie Stryder vir Jesus se selfversekerde en rigiede NGK-verset teen die “vuilheid” van homoseksualiteit is in stryd met die hart van die Christelike evangelie. Dit was asof mure rondom my bereidheid tot onvoorwaardelike naasteliefde afgebreek moes word. Dié traumatiese ervaring het baie bygedra tot die trefkrag van Amor en kie. se kritiek dat ook my politieke huis op sand gebou was. Dit sou egter nog heelwat sloopwerk en rekonstruksie verg voordat ek saam sou begin bou aan Albert Luthuli-hulle se ideaal van ’n tuiste vir almal in Suid-Afrika.

17 Julie 1986, 15:00

Liewe Melanie

Ná nou die aand se politieke gesprek – waarna ek tot so laat gesit en brief skryf en daarna sleg geslaap het – het ek deur ’n snaakse depressiewe tyd gegaan, ek was na binne gekeer, ek wou niks met hulle te doen hê nie. Hulle het my baie geïrriteer. Dan weet ek: Ek is besig om te oorreageer, ek is onbillik in my kritiek op hulle, ek mag nie veroordeel nie. Maar dan vóél ek nie so nie.

Eintlik wil ek jou vertel van die dinge waaroor ons gesels het: Rudolf het iets gesê oor dat hy ’n homofiel is. Ek wou weet wat die verskil tussen ’n homofiel en ’n homoseksueel is. Toe begin ons sommer bietjie oor die tipe dinge gesels en veral ook oor die invloed wat Aids op dié beweging gehad het.

31 Julie 1986, 21:30

Ek het só baie dinge en ervarings hier in my binnekant waaroor ek met jou wil gesels. Ek weet nie eintlik waar om te begin nie.

Vanaand is ek so 19:30 af dorp toe, want dit was mos weer “koopavond”. Nou ja, toe gaan ek na ’n boekwinkel om na ’n paar teologiese en filosofiese boeke te gaan kyk. Daar was ook ’n hele afdeling oor “sexologie”. Ek het veral na boeke oor homoseksualiteit gesoek. Ek het o.a. ’n boek gesien van ± 50 Rooms-Katolieke nonne se ontboeseminge en stryd as lesbiërs, wat nogal ontstellend was. Toe dink ek sommer weer aan Rudolf en Pieter (sy vriend) wat vannag drieuur wou gaan bad het. Toe besef ek net weer hoe min ek van dié wêreld verstaan.

Nou ja, wat die politiek betref, dink ek, moet ek eers vir jou van die artikels stuur wat ek gelees het. Ek weet die saak is nie so eenvoudig nie, maar ek het nie altyd antwoorde nie. Dan wonder ek of Fano, en positiewe swart mense soos hy, rêrig weet wat aangaan, bv. in Soweto en ander stede waar die eintlike en relevante politieke onrus is?

23:55

Ek voel sommer nou báie beter. Ek het netnou Rudolf by die trap sien opkom toe ek ’n bietjie tee gaan haal het en kry toe skielik die ingewing om vir hom te gaan vra of hy nie lektuur het wat hy vir my sou aanbeveel om te lees nie, want ek wil graag meer uitvind van homofilie. Toe gee hy my ’n paar tydskrifte wat oor homoseksuele onderwerpe handel.

Dit is so asof ek bevry voel nadat ek met hom gesels het. Ons het toe sommer oor politiek ook gesels en veral daaroor saamgestem dat dit maklik is om Suid-Afrika te kritiseer, maar dat min mense rêrig bereid is om betrokke te raak. Veral Nederland en Engeland het by uitstek ’n baie lelike koloniale verlede en sit nou met skuldkomplekse.

Die lekkerste was net dat ek uiteindelik met hom gepraat en uitgevra het oor homoseksualiteit. Dat ek opgehou het om te wonder en bang te wees. Ek glo dat ’n mens op ’n manier tog die evangelie aan dié mense moet kan verkondig sonder om te sê dat hulle moet verander, sonder om hulle vir hul sondes te veroordeel.

Dit is ’n bietjie anders as wat ek nou dink, want dan word dit nie meer normaal om heteroseksueel en abnormaal om homoseksueel te wees nie. Ek weet nie hoe ’n mens verby party Skrifgedeeltes gaan kom nie, maar daar is soveel derduisende mense wat dié seksuele oriëntasie het en nie anders kan/wil wees nie. Gaan dit nie op die ou end oor die kwaliteit van die liefde wat ter sprake is nie, bv. binne ’n homoseksuele huwelik? 1 Kor. 13 sê tog niks van net heteroseksuele seks nie. Is die gedeeltes in die Skrif wat hulle uitspreek teen sodomie nie juis binne die konteks van sondige wellus, sedeloosheid nie en dus nie noodwendig van toepassing op ’n heilige, toegewyde homoseksuele verhouding nie? Wat van ’n mooi, rein homoseksuele verhouding vs. ’n trouelose heteroseksuele verhouding? Is die maatstaf nie meer as blote seksuele oriëntasie nie?

Dink net hoe moeilik is dit vir homoseksuele mense in ’n samelewing (kerk) wat bevooroordeeld en liefdeloos en onbegrypend is.

6 Augustus 1986, 22:30

Amor wou weer vanaand politiek praat. Ek het ongelukkig vir haar vertel dat ek vanmiddag lekker gesels het met ’n Amerikaner uit Chicago wat betrokke is by ’n Katolieke universiteit en verantwoordelik is vir buitelandse beleggings ($400 miljoen!). Toe gaan sy gal af oor al die groot maatskappye wat hul werkers so min betaal en uitbuit. Toe voel ek nie baie lekker nie.

… Hier word met groot erns oor sanksies gepraat en dit is nie so maklik om die argument teen te gaan nie, veral omdat daar baie blankes is wat rustig in hul weelde voortleef en nie veel “worry” oor die hulpkrete van swart mense nie. Miskien hoor ’n mens hier ook net sekere groepe duidelik.

Ek wonder hoe dit sou gewees het as ek nie saam met Amor-hulle in die huis was en nie ernstig gekonfronteer is met hul standpunte nie? Radikalisme is net so uitputtend, veral as dit van iemand soos sy met ’n sterk persoonlikheid kom. Dit is net baie moeiliker as wat ek gedink het om met radikale mense te werk. En sy is nie eens swart nie!

14 Augustus 1986, 17:30

Terwyl ons netnou buite gesit en eet het, begin Rudolf en Johan weer uitvaar teen die Afrikaner met sy laermentaliteit, sy onvermoë om van ander kulture te leer, sy immoraliteit m.b.t. politiek. Toe raak ek sommer vies en probeer om die ander kant van die saak te stel. Maar dit was so asof ek myself nie lekker in woorde kon uitdruk nie.

Blykbaar is daar ’n klomp van ons soldate in Angola dood? Wat het op die NP-kongres gebeur? Alles klink maar bra duister. Johan vertel ook van studies wat aangetoon het dat die geskiedenis wat ons op skool geleer het – die swart mense wat uit die noorde gekom het en die wit mense vanuit die suide – nie heeltemal korrek is nie. Wil jy dit nie ’n bietjie “opcheck” nie?

’n Interessante, ontstellende gedagte is dat die Boere tydens die Vrydheidsoorloë ook terroriste was. Dat genl. De Wet guerrilla-oorlogvoering ontwikkel/ontdek het en dat ons nou die swart mense veroordeel terwyl ons presies dieselfde gedoen het. En dit terwyl hulle eers vanaf 1960 (ná 50 jaar van vreedsame protes) hul toevlug tot geweld geneem het.

Ek weet dit is nie só eenvoudig nie, maar al die gepratery is net elke keer ontstellend. Met ’n stemmetjie wat vir my sê: “Sê nou net hy (hulle) is reg en ek is verkeerd.” (Miskien is ons albei verkeerd.) Ons kan seker net vir ons land bid.

Partykeer kry ek so ’n beklemmende gevoel as ek aan die toekoms dink en daar geen oplossing in sig is nie. Partykeer voel dit of my kop wil bars terwyl ek alles probeer verstaan. Dalk dink ek te veel. Wat sê prof. Willie?

Wilhelm

Kort voor my vertrek na Nederland het ek ’n voormalige Britse ambassadeur, Archie Mackenzie, en sy vrou, Ruth, in Stellenbosch ontmoet. Ek was baie beïndruk deur hul kombinasie van politieke betrokkenheid en toegewyde Christenskap. Toe hulle my na ’n konferensie van Morele Herbewapening – Moral Re-Armament (MRA) – in Switserland nooi, het ek dit dus aanvaar.

Ná twee uitputtende maande in Mauritsstraat was dit trouens ’n lafenis om vyf dae lank in ’n pragtig gerestoureerde hotel, duisend meter bo die Geneefse meer, deel te neem aan die A Dialogue Between the Continents-konferensie. In dié proses is nog ’n paar vooroordele afgebreek, onder andere teen “Mohammedane”. Dit was ook my eerste ontmoeting met ’n swart Suid-Afrikaanse professor. My briewe aan Melanie vertel egter ook die ontstellende storie van Kaapse besoekers wat my wit Afrikaner- politieke vooroordele bevestig het.

Caux

20 Augustus 1986, 11:30

Liewe Melanie

Weet jy, dit is eintlik ’n wonderlike ervaring om so baie mense uit soveel verskillende lande te ontmoet. Verlede naweek was hier mense uit ongeveer 53 lande. Ek het vanoggend ’n swart predikant uit Tanzanië ontmoet, ’n besigheidsman uit Pakistan, iemand uit Fidji. By vanoggend se byeenkoms het mense uit Uruguay, Porto Rico, Ciprus en Kenia hul ervarings gedeel i.v.m. “From Fear to Victory”. Vanaand eet ek saam met ’n man uit die Filippyne. Hy is betrokke by die hervestiging van Indo-Chinese vlugtelinge – ’n pragtige Christen wat al deur moeilike tye gegaan het en wat aktief betrokke was by die weerstandsbeweging teen pres. Marcos. Ek sien baie uit daarna.

Toe dink ek net weer hoe ontsettend klein en nietig ons elkeen is. Hoedat ’n mens se eie wêreld en die omgewing rondom jou so maklik dié wêreld kan word – so asof ons God partykeer vir onsself toeëien, ’n God-se-witbroodjiegevoel kry.

21 Augustus 1986, 14:40

Soos jy kan agterkom, gaan dit baie goed met my. Ek is rêrig verbaas dat ek so tuis voel en vrymoedigheid het om met so baie mense te gesels. Toe ek vanmiddag weer so met die Mackenzies oor Suid-Afrika en die toekoms gesels, besef ek net weer hoe donker ’n mens alles kan laat lyk. Hoe donker dit ís. Hoe ongelooflik kompleks alles is, veral op die politieke terrein.

Toe sê mev. Mackenzie iets wat Frank Buchman [die stigter van MRA en toegewyde Lutherse predikant] gesê het, nl. dat as ’n mens in die middel van ’n krisis is (veral ’n politieke een), is dit die tyd om die mense rondom jou te verander/nader aan Christus te bring, al is dit dan een vir een. Dit is hoe Christus gewerk het: die vrou by die put, Saggeus. Dan was Hy voorwaar rewolusionêr. Dan het Hy verwag dat daardie mens sy hart moet verander, dat hy homself moet verloën, met sy hele lewe God en sy naaste moet dien.

Ek sal nie nou kan vertel wat MRA is en wat ek alles daarvan dink nie. Ek het nog nie heeltemal duidelikheid hoe alles werk nie, veral ook omdat Mohammedane, ens., ook getuig oor hoe dit in hul lewe werk. Maar as jy luister wat veral Christene getuig, laat dit my rêrig daaroor dink. Ek verbaas my oor hoe krities en suspisieus ek (ons kerk?) is en wonder of ’n mens nie moet sê “wie nie teen My is nie, is vir My”?

22 Augustus 1986, 22:55

Ek voel nou so opgewonde en kan nie wag om met jou te gesels nie. Ek het vanaand rêrig ’n wonderlike aand gehad saam met mnr. en mev. Garth Lean en hul dogter Mary van Oxford, al drie voltyds by MRA en pragtige Christene.

Mary sê toe basies dieselfde as wat prof. Cornelius Marevati (Afrikatale, Unisa) gister by ’n byeenkoms van al die verteenwoordigers uit Afrika en Asië gesê het. Die drie basiese probleme in Suid-Afrika is selfsug, vrees by die blankes en bitterheid by die swart mense. En dat al sou apartheid struktureel afgeskaf word, die mense se harte nog verander moet word voordat daar rêrig vrede sal kan kom.

Vanaand het ons ’n film gekyk oor die lewe van Frank Buchman en sy groot liefde ook vir die mense van Asië en Japan – sy respek en begrip vir hul godsdiens, alhoewel hy eerlik en openlik sy Christenskap uitgeleef het. In ’n stadium het ek met ’n skok besef dat ek nie rêrig lief is vir ander gelowe se mense nie, dat hul geloof my óf bang maak óf juis ’n afstand tussen ons skep: Hulle glo dan nie in Christus nie. Toe wonder ek of God nie oneindig groter is as ons denke en teologie nie. Ek werk nog aan dié probleem maar dit is net of ek meer lig sien. Ek besef dat ons dalk baie het om by hulle te leer, dat ons as Christene nie so trots moet wees nie? Hoe dink jy?

Die ander wonderlike ervaring vanaand was dat ek ’n mnr. Bezuidenhout uit Suid-Afrika ontmoet het, die Wes-Kaapse streekdirekteur van die departement van staatkundige ontwikkeling. Nou ja, hy ken toe my broer Hendrik via die SAUK en hy is ook ’n vriendelike, oop Christenmens. Hy is hier vir volgende week se industriegedeelte van die kongres om Suid-Afrika se kant van die saak te stel, teen disinvestering te praat en om geld vir ’n goedkoop behuisingskema te probeer kry – R500 miljoen!

Dit was soos ’n geskenk uit die hemel om te hoor – uit die perd se bek – dat die noodtoestand heel effektief is. Dat swart leiers (dit was die belangrikste nuus vir my) hom kom vra het om te help teen die geweld/intimidasie van die ANC. Eintlik was dit reeds genoeg om te sien dat hy hoop het, dat hy erken dat ons (regering, kerk, ens.) foute gemaak het en dit moet regmaak.

25 Augustus 1986, 09:17

Ek sit nogal op ’n snaakse plek, op ’n groen bank op die stasie van Montreux, en wag vir die trein na Lausanne, Basel, Utrecht. Om te dink môre is ek weer in my kamertjie in Utrecht met al die mense in die huis. Ek weet dit gaan moeilik wees om terug te gaan en aan hulle te verduidelik wat dié week alles vir my beteken het.

Ek het opnuut besef en gesien dat “it is more revolutionary to change people than to liquidate them”. William Nkomo, ’n stigterslid van die ANC Youth League het dit gesê nadat hy met MRA in aanraking gekom het. Vier blanke jong mense het nadat hulle by Caux was, hom om verskoning gaan vra dat hulle hom – swart mense – so dikwels as minderwaardig, ens., behandel het. Dit het hom laat besluit om ’n uitnodiging na Caux te aanvaar – waar hy radikaal verander het. Hy is uiteindelik ook uit die ANC geskop.

Verder het ek ingesien dat waaraan die wêreld en veral Suid-Afrika behoefte het, is mense wat in nederige afhanklikheid van God en met vergewensgesindheid hul lewe gee om die bitterheid, haat, wantroue tussen mense en volke onderling te beveg, om die plan wat God vir mý lewe het, te soek en dit in die geloof uit te leef.

Ek het so ’n gevoel dat ek in hierdie week ’n paar dinge geleer het wat ’n groot verskil aan die res van my lewe gaan maak. Dis so ’n opgewonde gevoel, maar dit maak my ook ’n bietjie bang.

Wilhelm

Die belangrikste groot verskil was uiteindelik die besluit om my studierigting aan Oxford te probeer verander. Hierdie ingrypende skuif van filosofie en teologie na politiek, ekonomie en sosiologie was nie net die gevolg van bogenoemde begeestering by Caux nie. Teen September 1986, ná ’n blaaskans in die Switserse berge, het meer grondliggende kritiek op apartheid ryp geword in my gemoed.

Maar skamerigheid en al die onsekerhede wat met die laaste tyd se veranderinge gepaard gegaan het, was ’n voorspel tot ’n baie lang, donker winter van nege termyne in Oxford. My destydse gewik en weeg help my om nou te verstaan hoekom dit my so lank geneem het om daadwerklik by die Suid-Afrikaanse politiek betrokke te raak.

Mauritsstraat 76

4 September 1986

Liewe Melanie

Hoekom is ek so bang om iets te doen wat groter is as wat ek voorheen gedoen het? Miskien is ek net bang dat mense my verkeerd sal verstaan? Of is ek bang om in die openbaar ’n spesifieke standpunt te verdedig? Ek het rêrig al baie gewonder wat om te doen. Die een oomblik is ek so seker, die volgende oomblik kom al die vraagtekens, onsekerhede weer by my op. Miskien moet ek maar my bes doen en die res aan die Here oorlaat?

8 September 1986, 19:40

Ek het nou net klaar gedraf, vinnig gebad, ’n bietjie heerlike soet druiwe uit Griekeland geëet, die musiek-tape aangesit (Fiddler on the Roof) en nou gesels ek ’n bietjie met jou. Vandag was weer ’n wisselende dag met wisselende gemoedstoestande: die een oomblik vol lewenslus en positief, die volgende oomblik net lus om te lê en doodgaan, met die gevoel dat ons dit nooit gaan maak nie.

Vanmiddag het ek toe begin lees aan die stapel ANC-tydskrifte, boeke, gedigte, ens., wat Amor-hulle hier gelos het. Soos jy kan dink, was dit baie ontstellend om te lees van die nuwe wêreld van Soweto en vryheidsvegters wat ons so maklik terroriste noem – voordat ons rêrig geluister het.

Terwyl ek draf, het ek eers so half bang gevoel dat al dié dinge wat ek sien en hoor ons wêreldjies uitmekaar sal laat dryf en dat jy my nie meer sal verstaan nie. Toe onthou ek wat ek weer tydens vanmiddag se moeilike leeswerk gedink het. As ek rêrig glo dat die Here in beheer van my lewe is, dan moet ek glo dat dit sy wil is dat Hy my in aanraking gebring het met Amor en Rudolf, maar ook met Fano en prof. Marevati. Dan moet ek aanvaar dat my van nou eenmaal Verwoerd is en dat dit in Suid-Afrika, veral in sekere kringe, so ’n negatiewe konnotasie het (wat positief kan word, soos prof. Marevati my aangemoedig het).

Ek kry net so ’n gevoel dat my lewe dalk ’n ander koers gaan neem as wat ek beplan het. Nadat ek gehoor het (dit lyk of dit maar die punt van die ysberg is) wat alles die afgelope jare met veral swart mense gebeur het – veral a.g.v. die politieke stelsel waaraan my eie oupa so ’n groot deel gehad het, asook my kerk – kan ek nie maar net soos gewoonlik aangaan en vergeet daarvan, dit wegredeneer nie, maar [ek weet] dat ek onder leiding van die Here alles moet gee om die wonde gesond te maak.

Gister het hier nog ’n nuwe ou ingetrek – Attie, ’n sosiologiedosent by Unisa. Hy vertel my dat dit so goed met WP se rugby gegaan het. Die rugbymal Suid-Afrika voel hier so ver weg!

Vanuit sy vakgebied, industriële en ontwikkelingsosiologie (wat hom praktiese kennis in die woonbuurte/townships gegee het), het Attie vanaand ’n paar belangrike perspektiewe gegee toe ons oor die politiek aan die gesels geraak het.

Die belangrikste punt vir my is dat hy radikaal teen apartheid is en dat hy glo dit moet verander, maar dat daar so baie aandag net aan politieke verandering gegee word en naïef gedink word dat ’n ander regering al die probleme gaan oplos. Die punt is, ons sit in ons land, ongeag die politieke probleme, met ’n magdom sosiologiese en ekonomiese probleme wat ook en veral aandag moet kry.

Verder moet ons volgens hom ophou om skaam te wees vir ons Afrikanerskap. Ons is dit nou eenmaal en ons moet eerder begin werk aan die oplossing, red wat daar te redde is.

Dit is lekker om van iemand te hoor wat so praat: “Hou op om die Afrikaner sleg te sê, help eerder werk aan die oplossing!”

15 September 1986, 01:05

Jong, ek kan maar net lag oor die huis waarin ek bly. Dit het rêrig vanaand my humorspiere geprikkel: hierdie onskuldige, beskermde Afrikaner, hierdie NGK-teologiestudentjie skielik te midde van ’n hoogs uiteenlopende leeukuil van mense. Miskien kan ek lag omdat ek – veral met Rudolf – dit al meer ervaar dat, alhoewel ek nie saamstem met wat hulle doen nie, ek hulle nie emosioneel veroordeel nie. Ek kon dit selfs vanaand vir Rudolf sê en hy sê toe dat hy my nie as veroordelend ervaar nie.

Dit is so ’n wonderlike gevoel: al het ek niks met my MA-verhandeling gevorder in hierdie drie maande nie, het die Here my so ontsettend baie geleer i.v.m. mensekennis, asook my eie blindheid en vooroordele en emosionele onvermoë, my gebrek aan werklike naasteliefde ten spyte van wat/wie my naaste is.

Dis nie dat ek dit al so wonderlik regkry nie, hoor. Dis net of ek baie duideliker sien waarna ons moet strewe – dis so bevrydend! Dis so of ek duidelik kan sien/voel hoe ek die laaste tyd gegroei het – veral ten opsigte van seksuele denke, maar ook politiek. Dat dit nie so sou gewees het as ek nie in die huis saam met dié Suid-Afrikaanse mense geleef het nie. Dit was so ontsettend moeilik aan die begin, en is steeds, maar dit is so asof daar sulke boeie van vooroordele afval. Ek weet dat dit veranderinge in my is wat vir die res van my lewe ’n ongelooflike groot verskil gaan maak. Ek weet dit gaan baie meer probleme en swaarkry en konflik veroorsaak (veral in Suid-Afrika). Maar dat dit net so ’n sekere gevoel is dat dit die regte rigting is. Ek hoop nie dit klink hoogmoedig nie. Verstaan jy?

Dit het rêrig vanaand gevoel of Rudolf ’n bietjie oopgemaak het en of ek amper die eerste keer/opnuut verstaan het hoe hy dink en voel. Hoe hy van kleins af die hel moes deurmaak van ’n pa wat hom nie verstaan/aanvaar het nie – ’n pa wat Rudolf, vandat hy kan onthou, aktief gehaat het. Hoe dié haat uitgebrei het na al die pa’s binne die familie, die volk – veral die kerk (my – ons – kerk!) omdat ook hulle hom verwerp het. Hoedat hy vandat hy in Nederland is ook moet leer om sy nuwe regte en vryhede te hanteer, ook sy nuwe, vreemde verhouding met Pieter. Hoedat hy nie eintlik weet waarheen hy op pad is nie en baie keer voel of hy geen sin in sy lewe het nie.

Dit is ontsettend moeilik om met hom oor Christus te praat omdat die kerk waarin hy dié Christus ontmoet het eintlik vir hom Christus vermoor het. Hy is emosioneel afgestomp vir enige Christelike term, boodskap, ens., as gevolg van die geweldig negatiewe assosiasies daarmee wat hy binne die Afrikaner-NGK gekry het.

Wilhelm

Twee dae later sit ek op die oewer van die Kromme Rhijn, een van die groot kanale van Utrecht. Eendjies soek kos tussen die tafels van Rhijnauwen Teehuis. Die son skyn pragtig tussen groot wit wolke deur. Ek kyk uit op sulke groen weivelde waar koeie en skape wei. En ek waag om rigtinggewende gevoelens gestalte te begin gee:

17 September 1986

Liewe Melanie

’n Paar gedagtes het die laaste tyd al duideliker by my begin vorm aanneem. Gisteraand kom Attie toe by my kamer in en vra wat ek in Oxford gaan swot. Hy wonder of ek nie die een of ander ontwikkelingstudie van Derdewêreldlande, verstedeliking, armoede, subekonomiese behuising moet doen nie. Hy glo dat daar, veral in Suid-Afrika, toenemend ’n geweldige nood op hierdie terreine is en gaan wees. Nou wel, toe hy dit sê lag ek eers daaroor, maar dit het my tog aan die dink gesit. Veral omdat dit aanklank gevind het by allerhande dinge wat binne-in my aangaan.

Die duidelikste hiervan is seker dat ek toenemend begin wonder of ek eendag in die blanke NG Kerk ’n predikant gaan wees. Dis net so ’n gevoel dat daar op ander terreine ’n groter nood is. Laat ek eerder sê, ’n nood waarvoor ek ’n groter verantwoordelikheid en roeping begin voel.

Dit hang saam met ’n klomp dinge: Die feit dat ek al duideliker begin besef dat apartheid verkeerd is en, meer nog, verkeerd was; dat ons mense (my oupa en kie.) blind /doof was vir dié mense (die meerderheid) wat nie met hulle ideologiese/teologiese raamwerk saamgestem het nie; dat ons mense nie in die verlede ten opsigte van bv. die swart mense reg gemaak het nie. Ek weet ons het wonderlike dinge gedoen, meer as wat die meeste ander blankes kan sê … Ag, wat ek eintlik probeer sê is dat ek graag sal wil help om die verskriklike gevolge van apartheid teë te werk – miskien ook omdat my van Verwoerd is (soos prof. Marevati by Caux gesê het).

Maak nie saak waar ek tereg kom nie, die punt is dat daar in ons eie land miljoene mense is wat onder die broodlyn leef, nie behuising, ens., het nie. Mense wat voordat hulle kan kerk toe gaan, eers kos, klere en ’n werk benodig. Natuurlik sluit lg. nie geestelike werk uit nie, maar ek dink net ons as kerk sal baie meer betrokke moet raak by armoede, wat heel moontlik a.g.v. (o.a.) onregverdige strukture daar is (bevrydingsteologie?).

Verstaan jy in watter lyn ek begin dink en voel? Die eintlike ding wat my nou besig hou, wat my vanoggend (gisteraand) so duidelik, so skielik getref het – amper soos die gevoel daardie aand op Bettiesbaai se strand, toe ek die gedagte gekry het om vir die Rhodes-beurs aansoek te doen – is nl. wat ek vir drie jaar aan Oxford moet gaan swot. Dis net of al die gefilosofeer en rasionele besinning of God dan wel bestaan of nie skielik vir my na ’n luukse begin lyk het, gegewe die nood in ons land.

Mauritsstraat 76

18 September 1986, 13:15

Dit is so ’n skokkende gevoel dat in die land waarvan ons nog altyd omtrent net die mooiste ervaar het, daar soveel mense is wat doelbewus of a.g.v. omstandighede – heel verklaarbaar en begryplik, maar nie daarom reg nie – ontneem is van die voorregte wat hulle net so graag soos ons wou gehad het. Wanneer hulle dan jare lank probeer het om verandering aan te bring, is hulle met geweld en onbegrip en blanke kapitalistiese selfsug/selfbeskerming gekonfronteer.

Dit is seker een van die ervarings wat my die meeste geskok en ontnugter het die laaste tyd, dat die wêreld waarin die meeste inwoners van ons land veral die afgelope eeu moes leef so anders is as ons wêreld, so vol pyn en woede en frustrasie. Ek is so dankbaar vir hierdie skokkende ontnugtering.

Ek het gisteraand (miskien nadat ek gistermiddag se besluit geneem het) uiteindelik die moed bymekaargeskraap om die boek oor die gebeure rondom die polisie se moord op Steve Biko klaar te lees. Woods oortuig my dat Biko ’n ongelooflike leier en pragtige mens was, iemand van wie ons nie eens weet nie, terwyl dit alles in ons eie land afgespeel het en in die harte van soveel mense leef. Vir die eerste keer maak die ANC se beleid en ook hul geweld vir my sin. Ek kan dit nie goedkeur nie, maar ek het met ’n skok besef dat as ek hulle was, sou ek tien teen een dieselfde gedoen het. Wat is die implikasies hiervan vir diensplig?

Ek gaan vir jou Mandela se toespraak voor die regters tydens sy verhoor stuur. (Hoop nie dit word onderskep nie!) Vanuit ons wêreldjie kan ’n mens kritiek inbring daarteen, maar ek probeer my in sy skoene plaas – soos Jörg Zink ’n Indiaanse gebed aanhaal: “Groot Gees, help my dat ek niemand oordeel voordat ek nie ’n maand lank in sy mokassins geloop het nie.” Dit is nogal ’n ontnugtering. En dit maak seer.

Daar lê so ongelooflik baie versoeningswerk en gesondmaakwerk voor. Maar dit is dan ook ’n wonderlike uitdaging – dit is seker een van die wonderlikste dinge wat ek die afgelope paar maande geleer het (deur baie worsteling en onsekerheid).

Gisteraand toe ek die gelykenis van die barmhartige Samaritaan lees, tref dit my soos ’n skok: Ek tree dikwels a.g.v. my morele skematjies op, vanuit my Christelike raamwerk van reg en verkeerd, net soos die Fariseër en die Leviet. Dit is nie maklik om dit aan myself te erken nie, maar in werklikheid is dit wat gebeur. Dit is hoe ander mense (hulle wat buite mý “reg” val) dit ervaar. Dit is nié wat Christus gedoen het nie. Hy het gesê ek mag nie oordeel nie. Natuurlik beteken dit nie ’n laat-maar-gaan houding en ’n goedkeuring van dit wat verkeerd is nie. Maar dit vra van my die vermoë om in die vrate en wynsuipers en hoere en homoseksuele en in die Fariseërs (admissante!)17 broeders en susters raak te sien.

Die misterie (hart) van die Christelike godsdiens lyk my is dat Christus Hom só met die sondige mensdom kom vereenselwig het (medelye) dat Hy kon sê: “Vir sover julle dit aan die geringste gedoen het, het julle dit aan mý gedoen.” Die kern is tog “so lief het God die wêreld gehad” en dít is wat ek moet uitdra. Nou, ek weet dat hierdie liefde gepaard gaan met heiligheid, straf vir sonde, ens., en dat God absolute eerlikheid, reinheid, liefde, ens., vra. Die probleem is dat ek so beginselvas is, dat ek dit so geniet om ’n uitverkorene en moreel superieur/opgevoed/beskaafd te wees, dat ek nie meer barmhartig is nie. Dít kom neer op skynheiligheid. Miskien sal Christus eendag sê: “Ek was ’n prostituut, Ek het saamgewoon, Ek was ’n homoseksueel en jý het My nie besoek nie.”

Sjoe!

Wilhelm

Hierdie ontnugterende, “wonderlike” gewaarwordinge het uit die aard van die saak donker wolke bo my en my bloedfamilie laat saamtrek. Die druk het opgebou tussen my Nederlandse blootstelling en ’n sekere voorvader vir wie Pa en Ma baie lief is. Teen die einde van Mauritsstraat se drukgang was dit hoog tyd vir ’n openhartige politieke brief aan my ouers, een waarin ’n Stellenbosse Verwoerd-Boertjie duidelik steeds aan die woord is, deels om die dreigende storm te probeer vermy.

Mauritsstraat 76

22 September 1986, 12:30

Hallo liewe Ouers!

Ek het vanoggend weer op ’n paar baie goeie politieke/kerklike gedagtes afgekom – vanuit my perspektief. Toe is ek sommer lus om die beloofde “politieke” brief te skryf.

Nou ja, politiek en die kerk is seker die terreine waarop ons al die meeste misverstande gehad het. Aan die een kant is ons wêrelde hier baie naby aan mekaar omdat ek myself ook as ’n Afrikaner beskou en trots is daarop – ek dink dit is ’n belangrike deel van die gebod om jou naaste lief te hê soos jouself.

My liefde vir myself as Afrikaner bring my egter ook by die ander kant van die saak. Hier dink ek ons wêrelde is baie ver uitmekaar, gegewe ons verskillende ervarings in Suid-Afrika, maar veral weens my ervarings die afgelope twee maande saam met Amor-hulle en ook in Switserland.

Caux het seker die grootste indruk gemaak a.g.v. die oop, liefdevolle manier waarop ek insig in veral die lewe van mede-Suid-Afrikaners gekry het. Swart mense en Kleurlinge wat ook mense net soos ek is. Mense wat ook lief vir hul taal, kultuur en hul land is. Mense wat ook verlief raak en gesinne het. Mense wat gevoelens soos ons blankes het, máár wat al die jare nog aan die ontvangkant van apartheid gestaan het: Apartheid met sy paswette, groepsgebiede, gedwonge hervestigings, beperkte geriewe, teaters, strande – al is jy ook ’n hoogs opgevoede, beskaafde swart man. Die tuislandbeleid met al die tuislande wat 13% van die land uitmaak, met geen eiendomsreg buite die tuislande nie – al woon jou familie al ’n paar geslagte daar en beskou jy bv. Soweto as jou eie land. Geen stemreg nie – geen sê in die politieke beleid wat jou lewe beheer nie.

Hierdie mense aan die ontvangkant van apartheid het ook ’n ander geskiedenisbeskouing, bv. blanke uitbuiting van goedkoop swart arbeid sedert die koloniale tydperk – en nog steeds in die myne. En dan is daar oral die bordjies vir blankes en nieblankes. Met nieblank wat impliseer ek is nie ’n swart mens in eie reg nie, maar ’n NIE-blanke – blank is die maatstaf van menswees.

Dit is net ’n paar van die gedagtes wat by die mense wat ek ontmoet het heers. Ek wens julle kan ook kontak, rêrige kontak op ’n vriendskaplike vlak, nie op ’n baas-en-kneg vlak nie, met ’n swart man of vrou hê!

’n Mens kan natuurlik op baie van hierdie gedagtes met allerhande argumente antwoord: “Maar dit is nie wat ons bedoel het nie.” “Kyk hoe lyk dit in die res van Afrika.” “Kyk hoe baie het ons al deur die jare vir die swart mense gedoen (en dan brand hulle die skole weer af!”). “Die land is opgebou met blanke geld en vakkundigheid.” “Ons moet stry teen die onrusstokers en die kommunistiese agitators.”

Natuurlik is baie van die argumente waar, in elk geval vanuit ons ervaringswêreld. Daar is verstaanbare redes vir blankes – veral ons Afrikaners – se klem op selfhandhawing en behoud van selfregering, asook vir ons vrees vir swart oorheersing en die kommunistiese “totale aanslag”. Kritiek op apartheid raak nog meer problematies as dit kom by wat die alternatiewe vir afsonderlike ontwikkeling was of watter tipe politieke bestel ons unieke volkeresamestelling en ons ekonomie kan hanteer.

Nou ja, veral wat laasgenoemde kwessies betref, het ek nie ’n goeie antwoord nie. Wat egter vir my al duideliker word, is dat apartheid, of enige politieke bestel wat nét deur blanke politici uitgewerk word, nooit sal werk nie. Selfs al is afsonderlike ontwikkeling volgens hul mening en vanuit Christelike oorwegings en meerdere ervaring (paternalisme?) die beste oplossing. So ’n bestel is in elk geval ook verkeerd en mensonterend vir die meerderheid van mede-Suid-Afrikaners.

Dit word vir my al duideliker dat ons moet wegbeweeg van ’n politieke beleid (en denke) wat gebaseer is op mense se velkleur. Ek erken dat velkleur ongelukkig in Suid-Afrika in ’n groot – hoewel kleiner wordende – mate saamval met opvoedingspeil, en sosiale en ekonomiese standaarde. Dat blankes in dié wegbeweegproses miskien minder voordele en strande gaan hê. Maar ek glo dat ons terselfdertyd veel meer gaan wen: aan menseverhoudings, aan kulturele interaksie en bevrugting, aan Christelike naasteliefde (liefde, nie bloot nie haat nie), en in terme van ’n vreedsamer, regverdiger, mensliker toekoms vir die meerderheid mense in ons geliefde land. ’n Land waarvoor ons voorvaders – net soos die swart mense nou – teen die swartes en veral die Engelse geveg het. En geweld gebruik het teen die onderdrukkers.

Al hierdie dinge het my laat dink dat ek minder moet “filosofeer” en prakties betrokke moet raak, gegewe die nood in ons land. Dié nood is veral onder die swart mense, maar ook in die verhoudings tussen blank en swart. Die implikasies hiervan vir my studierigting in Oxford (en my toekoms) sal ek probeer uitsorteer as ek daar kom. Ek sal nie oorhaastig besluite neem nie, hoor! Moenie “worry” nie!

Wilhelm

Voor hierdie uitsortering in Oxford was daar nog ’n week of wat in Mauritsstraat 76. Net genoeg tyd vir ’n laaste paar briewe. En vir baie “worries” oor die vrugte van die vorige drie maande se wakkerskud.

Mauritsstraat 76

24 September 1986, 11:20

Liewe Melanie

Dankie dat jy vir my ma-hulle probeer verduidelik het dat hulle nie so bekommerd hoef te wees nie. Ek hoop my ouers verstaan nou ’n bietjie beter ná die baie uitputtende brief wat ek vir hulle geskryf het. Dit was die eerste keer dat ek rêrig eerlik oor al die dinge geskryf het. Dis asof daar ’n las van my skouers af is en of ek in die toekoms openhartiger sal wees. Ek dink hulle ook.

Ek hoop nie dit maak hulle seer of klink veroordelend nie. As ouers eers hul ouderdom bereik en so ’n duidelike verwysingsraamwerk opgebou het, moet dit baie moeilik wees om skielik sulke vreemde geluide te hoor – veral as dit van jou kind kom, en uit die berugte buiteland.

Ek het gistermiddag deur die regering se publikasie Talking with the ANC gewerk wat my ouers vir my gestuur het. Vir die eerste keer het ek gesien/besef hoe skreiend die propaganda en eensydigheid is.

29 September 1986, 23:50

Ek het vandag weer nie lekker gevoel nie. Selfs draf het nie eintlik gehelp nie. Behalwe so teen die einde, toe ek probeer het om al die nonsens en bekommernis oor Oxford en my toekoms uit te hardloop en uit te skree.

Ek het mos die laaste tyd begin twyfel of ek wel moet probeer om van rigting te verander. So asof ek bang is om eendag tussen/met die swart mense te gaan werk – al die gevaar, konflik, lyding, ens. Want hoe beskerm die Here ’n mens dan, hè? Hy keer tog nie die siekte, lyding of selfs die dood van my of jou of ons kinders en familie weg nie. Sug. Aanmekaar maal dié gedagtes en aaklige beelde deur my kop en kry ek hulle nie uit nie. Sug!

Maar ek is nie nou lus om politiek te gesels nie. Party dae wens ek dat ek geweet het hoe en waar ek (en jy!) ons rol in die ongelooflik komplekse situasie kan gaan speel. Ná ’n paar lekker gesprekke vir oulaas met Rudolf en Attie voel ek nou darem beter, al voel dit nog steeds of ek by hulle teen ’n muur van negatiewe ervarings met die kerk en met Christene stuit.

Nou ja, my volgende brief kom uit Engeland.

Wilhelm

Ek kan nie onthou of ek tydens die winderige Europese somermaande van 1986 die geboortehuis van oupa Hendrik in Amsterdam gaan opsoek het nie. Ek het wel een naweek op my outydse tweedehandse fiets geklim en na Woerden koers gekies. Ek was nuuskierig oor waar die laaste deel van my familienaam vandaan kom en dit was ’n goeie verskoning om vir ’n rukkie weg te kom van Mauritsstraat se mense.

Soos die naam Nederland suggereer, is dié land baie fietsvriendelik – ’n oorvloed van goeie fietspaaie, dikwels op die walle van donkerwaterkanale, geen opdraandes nie, duidelike aanwysings – met afstande aangedui – in elke rigting. Die ongeveer 30 km na Woerden was daarom kinderspeletjies. Die dorp self het nie ’n groot indruk op my gemaak nie. Tog het die naamwortels van die Verwoerdfamilie meer van ’n profiel begin kry. My destydse aanvoeling dat daar ’n moontlike verband tussen Verwoerd en Woerden is, was in die kol, soos dan ook onlangs in heelwat meer handgeskrewe detail deur my pa, die noukeurige familieargivaris, bevestig is.

As oudste seun en hooffamiliebewaker van sý pa se nalatenskap skryf hy met die hand en gee ’n voetnoot vir elke feit. Danksy my ma, sy tikster vir die meer as 60 jaar van hul getroude lewe, is dit maklik om hom aan te haal. Oor die oorsprong van die familienaam skryf hy:

“Verwoerd, Verwoert, Verwoerdt asook Van Woerde(n) en Van de(r) Woerd is óf afgelei van die naam van die streek Woerden (in die 13de eeu het dit die stede Woerden, Bodegraven en Oudewater ingesluit) óf direk van die ou term ‘woerd’, ‘waard’ (Middelnederlands ‘woert’, oud-Saksies ‘wurth’) vir ’n landbouhoewe met geboue op die wal van die benede-Ryn en ander groot riviere in Suid-Holland. ‘Lage woerd’ word onderskei van ‘hoge woerd’. Laasgenoemde is ’n natuurlike rivierterras of ’n ‘kunsmatig opgeworpen hoogte ter bescherming tegen watervloeden’. Die Oud-Ryn het ’n hoë en lae oewer wat vandag nog die Hogewoerd en Lagewoerd genoem word.”

Die hedendaagse simboliek van hierdie oorsprongsmoontlikhede tref my opeens tussen die oë. Met my binneboekbriewe opnuut vars in my gemoed, verwonder ek my eerstens oor dié “hoge woerd”-wortel. Ek het grootgeword op ’n natuurlike hoogte – die uitgestrekte voet van Botmaskop. Danksy Mauritsstraat en Caux se mense het ek met ’n hele paar skokke begin insien dat my kultuurontwikkeling as Stellenbosse Boertjie hoofsaaklik plaasgevind het op ’n “hoge woerd” – ’n “kunsmatig opgeworpen hoogte ter bescherming tegen watervloeden” – en ten koste van die meeste Suid-Afrikaners wat nie soos ek gelyk en gepraat het nie.

Ek is toenemend dankbaar dat ek in dié sin as Wilhelm Hogewoerd tot ’n val gekom het. Op toepaslike wyse in die land van die meeste Verwoerdvoorgeslagte.

In die moontlike konneksie met die Middeleeuse streek Woerden is daar vir my nog ’n treffende, hartseer-profetiese betekenis in my familienaam opgesluit: Woerden was in 1550 ’n ommuurde stad rondom die slot (fort, bastion, kasteel) van Woerden, in 1160 gestig deur Godfried van Reenen, biskop van Utrecht, as ’n grensvesting teen die graafskap Holland. ’n Deel van die middestad is vandag nog bekend as Hoge Woerd. Dit is die plek waar die Romeinse fort Castellum Laurium in die eerste drie eeue van ons jaartelling was, as deel van die noordelike verdedigingslinie van die Romeinse ryk langs die Ryn. Teen die agste eeu was dit bekend as Wyrdda, in die tiende as Uurdin of Wrdan en in die twaalfde Worthen of Wurthen.

Sluimer daar dalk diep begrawe in my familienaam die saadjies van ’n ommuurde stad, ’n fort gestig as grensvesting in ’n tyd van oorlog met die bure? En nóg baie dieper, die oeroue saad van ’n buitepos-verdedigingslinie teen “barbare”? Tot vandag toe, in die middel van dié toegegroeide moontlikhede, die naam “Hoge Woerd”?

Dié historiese nuanse van die (hoge) woerd in Verwoerd voel selfs meer toepaslik. My ouerhuis op die voet van Botmaskop, in die skadu van Simonsberg en Stellenboschberg, word so nie bloot ’n laag-op-laag “kunsmatig opgeworpen hoogte” nie. Die Voortrekkerlaer, die NGK Gemeentesentrum, Laerskool Eikestad, bure se eenderse huise en die Helshoogtepad was alles deel van die bou van mure om my vesting, op die grens tussen ’n “blanke” woonbuurt, Uniepark, en ’n “nie-blanke” groepsgebied, Idasvallei-Cloetesville. Ek is nou wakkerder vir hoe ek en my familie as ’t ware ook uit ons naamwortels in Stellenbosch voortgespruit het. Ek is inderdaad afkomstig van ’n woerd. ’n Blerrie hoë woerd. Ek ís ook ’n Van de(r) Woerd.

G’n wonder ek het ’n sterk somerwind nodig gehad om my van hiérdie diepgesetelde hoë woerd af te waai nie. ’n Somerwind in die gestalte van ’n wit vrou wie se voornaam liefde beteken, versterk deur ’n tengerige homofiel. Danksy dié harde landing kon ek in die Switserse Alpe ware kontak met land- en geloofsgenote hê, ’n ander soort kontak as op baas-en-kneg vlak. Met medemense wat oor geslagte aan (mensgemaakte) wind en weer en vloede blootgestel was. My wetenskaplike pa se noukeurige aantekeninge word só onverwags van groot hulp in my huidige terugskoue na daardie ingrypende reformasie digby Wilhelminapark.

Maar hoe belig ek vir eers dié diep, donker deel van my binnereis ’n bietjie meer? Richard Rohr, ’n Franciskaanse kontemplatiewe aktivis, verskaf kosbare lig. Geestelike mentors soos hy help my reeds sedert die 1990’s om koers te hou die onpeilbare dieptes in. Tydens my huidige poging om myself openhartig met Verwoerdwees te versoen, resoneer Rohr se daaglikse meditasies dikwels in my. Terwyl ek soek na woorde om hierdie afdeling mee af te rond, skryf hy op Vrydag 17 Januarie 2017: “I find much wisdom in what the contemporary, long-suffering poet Christian Wiman writes: ‘Faith itself sometimes needs to be stripped of its social and historical encrustations and returned to its first, churchless incarnation in the human heart.’”18

Bloedbande

Подняться наверх