Читать книгу Siegfried - Willem Anker - Страница 5
I
ОглавлениеSy pa loop uit en val om.
*
Siegfried storm by die huis uit. Sy pa lê in die stof. Wind waai teen sy hande twee seile wat hom wegvat van sy pa se lyf af. Hy wil nie na sy pa kyk nie. Sy pa lê net daar. Hy kyk weg. Hy staan stil hy kyk diékant hy kyk daaikant sy oë gaan vinnig. Hy voel hulle. Alles is strepe lig en donker. Hy wil nie na sy pa kyk nie. Hy wil nie. Hy kyk na oom Smet se huis toe daar anderkant. Hy kyk na hulle huis agter hom. Sy pa se huis sy huis. Reguit strepe. Daar anderkant is die bome dis wilgerbome. Daaikant toe is niks nie net grond tot dit aan die lug vat. Die sonlyn maak blind. Anderkant toe is die klipheuwel sy pa sê dis sy Altaar. Bo is die lug daar is niks wolke in nie. Dis nie blou nie die son is te skerp. Dis wit. Hier onder hom is die rooi grond. En daar lê sy pa sy pa roer glad niks nie. Hy gaan sit by sy pa. Die honde is nêrens nie. Hy roep hulle hy roep. Sy stem kan nie uit nie. Sy pa het op sy gesig geval. Die oë kyk na die sand die neus is in die grond in. Hy vat sy pa aan albei skouers. Hy skud hulle hard. Dit help niks hy maak net stof. Hy sit al sy vingers bymekaar hy tik met sy vuis teen die kop Komaan Pa wat nou. Pa sê niks. Hy maak sy hande oop sy hande is spane hy vee oor sy pa se kop. Hy roei met sy hande oor sy pa se kop. Sy pa lê in die sand.
*
Hy is nog klein hy en sy pa sit op die stoep. Dis aand sy pa is moeg die stoep ruik na sweet. Sy pa sit met sy bier en sy pyp hy tel hom op sy skoot. Hoor hoe klop die hart Bulletjie dis hoe ’n man se hart moet klop na ’n harde dag se werk. Sy pa druk sy kop teen sy bors dis nat met hare op. Dit maak soos perde wat ver hardloop daarbinne.
*
Hy draai sy pa om hy knoop die hemp oop hy gaan sit op sy pa se lyf. Hy druk sy oor op die bors. Die perde het weggehardloop. Hy klim af hy gaan sit ’n ent weg hy bekyk die lyf. Die lyf maak niks. Die sonbesies skree dis ’n niksgeluid. Die lyf bly lê hy bly sit. ’n Henhoender kom skrop by die lyf. Sy pa kan nie so tussen die hoenders lê nie hy gaan bedonnerd wees as hy uitvind hy lê daar en sy seunskind doen niks nie. Hy tel die lyf op. Dit werk nie. Dit val dit maak ’n wolk vol stof sy arms is te swak. Hy kyk rond diékant en daaikant. Pa moet huis toe. Hy trek die lyf aan die voete op met die stoeptrap. Die kop knik oor die trappies sy pa sê vir hom Reg so maak nou net so. Hulle is binne dis skielik donker. Hy trek sy pa tot in sy kamer. Hy gaan haal ’n stuk plank op die werf. Hy jack die lyf op die enkelbed met sy arms en sy plank. Die kop val kant toe dis swaar hy stoot ’n kussing onder die kop in. Nou lê die kop reg. Hy dink. Hy vat versigtig die hande in sy hande. Dis harde hande dis net so groot soos syne. Sy hande is pienk en sag teen sy pa s’n. Hy maak soos aan die einde van stories hy sit die een hand op die ander hand op die bors van sy pa se lyf. Die oë lyk soos die oë lyk as sy pa op die stoep sit en doer kyk in die verte in hy vra Wat kyk Pa sy pa sê Niks. Hulle kyk net hulle knip nie. Hulle kyk by die deur uit in die gang af. Sy pa se gesig lyk altyd soos ’n gesig wat iets kort. Nou lyk sy gesig net niks. Niks kort nie. Hy wil nie die oë toemaak nie. Hy wil uitloop hy onthou wat eers hy kniel by die bed hy vou sy hande in ’n waaier. Hy maak die waaier toe. Hy bid. Seën Here wat ons eet. Laat ons nimmer U vergeet. Amen. Hy gaan sit op die werf op die plat rooi grond. Hy maak sy hande vol sand hy sit. Soos water laat hy dit van sy een hand na sy ander een toe afloop. Watervalle grondvalle toevalle omvalle. Hy wil aan niks anders dink as grond nie grond wat soos water is. Dit help nie. Hy weet hy moet na die kissie toe gaan. Die skaduwees het al gekom die liglyne trek skeef hy moet gaan. Hy sit al te lank hy staan op. Hy gaan trek sy groot stewels aan spesiaal vir hom gebou dat sy enkels kan reguit bly sy voete is groot sy voete is swaar. Massief is sy voete. Massief beteken donnersgroot sê sy pa. Daar is net een ding om te doen. Sy pa het hom al mos mooi vertel wat om te doen. Nou moet hy dit alles onthou en dit doen. Op sy eie soos sy pa gesê het dit sal wees. Hy moet na die kissie toe gaan in die studeerkamer in die linkerkantse boonste laai mos. Maar hy gaan nie nou al dit doen nie hy gaan eers alles anders inpak in sy groen rugsak en oom Smet gaan haal hy gaan vir hom sê Iets Het Gebeur. Sy pa sê altyd As Iets Gebeur.
*
Raait Bulletjie wat doen ons As Iets Gebeur vra sy pa na ete. Nie nou nie Pa. Kom Bulletjie wat doen ons. Komaan Pa. Sy pa sê niks hy kyk net. Pa moet eers omval. Net so donners dramatic soos jou ma sê sy pa en val van sy stoel af. Wat maak ons fluister hy. Hy spring op Ek gaan haal oom Smet. Goed ja maar moenie nou regtig nie. Wat volgende. Weet nie Pa. Wat dan Bulletjie. Gaan kry die klere en skoene en goeters. Reg. Mooi. En dan. Hy gaan sit op sy pa se maag hy sê Ek wil nie nou dit speel nie Pa. Wat volgende ou grote. Sy pa slaan hom kamma teen sy skouer. Die kissie sê sy pa. Hy sê Die kissie maar hy staan nie op nie. Gaan haal die kissie. Ja Pa. Hy bring die kissie kombuis toe. Pak uit Bulletjie. Sy pa lê nog al die tyd net so. Hy maak die kissie oop. Hy haal al die goeters uit dan moet hy sê waarvoor elke ding is. Tou. Vir as iets breek. Mes. Om goeters af te skil of reg te maak. Boek. Vir belangrike goeters wat hy moet onthou en weet. Geld om goed mee te koop wat nodig is maar net goed wat nodig is. As hulle so speel is daar altyd ’n Bar-One ook in die kissie. Sy pa dink Bar-One is sy favourite tjoklit. Die papiertjie is moeilik om te skeur met sy hande. Hy maak die papier oop met die mes hy begin eet op sy pa se maag. Sy pa begin lag. Hy begin huil. Pappa moenie weggaan nie.
*
Hy gaan haal ’n trui hy sit dit in sy rugsak wat in sy kas is daar bo by sy pa se tasse. Sy pa sê die Stad is donners koud en nat. Hy vat sy nuwe hemp ook saam. Net voor die voordeur is die voorportaal daar staan die klein boompie. Een van die klein palmboompies wat mense in Shoprite koop vir presente vir tannies in die hospitaal of tannies wat meer hou van plantjies as tjoklits. Dit is die boompie wat sy pa in die bedding voor die stoep wil plant vir Bietjie Donnerse Groenigheid. Die boompie se blaartjies is soos gaar spinasie dit hang af teen die stammetjie af. Hy en sy pa eet nooit Saartjie se spinasie nie. Sy pa sê frikkadelle is sy favourite groente. Sy pa sê die plantjie is die groenste ding op hulle plaas behalwe die John Deere-trekker want die skape eet alles en die Here vat die res. Al ander groenigheid wat die Here nie gemaak het nie is die Pierneefprent in die sitkamer. Sy pa hou van Pierneef want hy ken die land sê hy. Hy sit die boompie in sy rugsak dit wil nie in nie. Dit steek uit by die sak uit. Sy rugsak het blare. Hy stap in die son in. Hy knyp sy oë toe. Die son maak hom te dom om te sien wat aangaan. Dit is net hy en die son. Hy begin stap op die plat grond.
*
Willem Smit voel sat wanneer hy sy deur oopstoot en na buite gaan. Die ennui van saad wat droog word op ’n badkamervloer. Die lug is wit, ’n leeggeloopte bladsy. Die dooie wilger wag hom in. Sy terg hom met haar lyne skaduwee wat wegsink in die sand. Die grond is dodelik onder sy kaal voete, die vel smelt met elke tree. Rooi grond. Hy kyk oor die werf, die twee Alsatians wat op en af stap, die opstal met die breë stoep. O Boereplaas, geliefde sand. Die erwe van ons vadere. Tot in ewigheid. Amen. Die plaat rooi klip honderd meter na die weste. Die skerp klippe wat nooit vergeef nie, wat nie mens duld nie. Waarteen jy jouself maar kan loop breek, sonder enige antwoord. Die bloed in daardie klippe is lankal drooggetap. Hy haal ’n pakkie Camels uit. Vir ’n oomblik sien hy ’n spook van homself weerkaats in die silwer Zippo-aansteker. ’n Gelooide vel oor bene, wit hare in sy nek. Hy draai sy hande, palms oop na bo, blou are oor die voorarms. Dan die vlammetjie, die intrek van die rook in sy leë longe.
’n Valk kom sit op die telefoonpaal. Die sonbesies staak hulle histeriese gesanik.
Sonbesies.
“Orde: Hemiptera. Onderorde: Homoptera. Familie: Cicadidae.” Sy stem klink gaar. Asof in antwoord op sy inkantasie begin die gesanik weer. Hy vloek en draai te vinnig om voordeur toe. Verloor amper sy balans.
Hy kyk weer na die opstal ver aan sy regterkant. Hy gaan sy huisie binne. Bywonershuisie. Hy kry die deur beet en slaan dit hard toe. ’n Oomblik se duiseligheid. Hy haal die halwe bottel whisky uit. Hy gaan sit en wag vir woorde.
Sy tikmasjien onder die venster vang hierdie tyd van die dag die meeste son. Die gebleikte lint. Op die vensterbank staan ’n ry sonbesiedoppe. Twee lyk gekou. Langs die tikmasjien lê ’n koperraampie met ’n foto van Karel en die kleinkinders voor ’n vreemde huis. ’n Rooiwynvlek laat die gesigte vertrek. Die sleutels van die tikmasjien brand sy vingers. Hy sit terug in die stoel, kyk na die dowwe lynpatrone op sy vingerpunte, en wag. Daar is ’n dooie kriek voor hom op die grond. Orthoptera Gryllidae. Hy tel dit op en hou dit teen die son. Striduleerder! ’n Teug uit die bottel. Hy skeur die bene een vir een af. Dan begin hy met die vlerke.
*
Sy pa staan verlede jaar op die werf hy skop die grond stof spat hy sê Hierdie grond sal my nie vat nie los my vir die jakkalse laat my net lê. Hierdie aarde sal my bene uitspoeg as sy klaar gekou het.
*
’n Klop aan die deur. Hy skrik, stamp die leë whiskybottel van die lessenaar af. Daar is iets in sy mond. Hy spoeg ’n halfgekoude kriektorso uit, staan vinnig op. Dit is die seun. Die hand op die deurhandvatsel trek soos altyd sy oog. Hy kon nooit werklik gewoond raak daaraan nie. Die hande van Siegfried. Die voete en die hande, selfs die gedeelte tussen duim en wysvinger, is volledig geweb. Visman. Frats.
“Ek’s nie honger nie. Weg weg,” sê hy kortaf, te sat vir paddasang. Gesanik. Die sonbesies is stil. Hy spoeg op die grond. Die seun kom hom altyd roep vir aandete. Hoe laat is dit?
“Oom Smet. My pa is dood oom.” Siegfried stap verby hom die kamertjie binne en gaan lê, met sy gesig na die muur, op die staalbed. ’n Groteske fetus, knieë opgetrek, met ’n duim in sy mond, en enorme voete wat by die bed afhang. Hy staar ’n paar oomblikke na die liggaam voor hom: die man is soos ’n platipus, ’n masjien met eklektiese parte, onmoontlik om te klassifiseer.
Linnaeus sien sy gat. Of iets drekliks.
Ou kaklike Smet. Die vraag na benoeming. Name is ekskresie. Snotstrepe op ID-boekies. Hy word al jare aangespreek as “oom Smet” deur die idioot. Landman sou seker sy seun verbied het om die innoverende bynaam voor die slagoffer self te noem. Die kindman is nie te blameer nie; hy is te gatvol om die kind ooit reg te help. ’n Deel van hom hou van die naam. My pa is dood oom. Laat hy op onseker whiskyvoete uitgaan. Laat hy weer die deur met ’n oorkompensasie van momentum toeslaan en laat hy weer eens ’n sigaret opsteek. Die drommel moet maar slaap; hy kan later besluit wat om te doen, sodra hy meer nugter is.
*
Hy is op ’n bed. Watse bed dis nie sy bed nie. Sy bene is seer sy een hand slaap. Hy skud dit wakker. Komaan hand. Dis oom Smet se huis. Hy roep oom Smet. Die oom is nie daar nie. Hy moet huis toe. Hy moet nou studeerkamer toe. Hy is alleen. Hy sien die swart skip wat hom jaag sy bene stap swaar hy kan nie vinniger nie hy is amper daar die skip kom. Sy voet haak aan die trap. Nou is die huis nog donkerder. Die gang is lank en ver. Hy stap stadig na die studeerkamer daar om die draai. Die deur is toe hy sukkel met die handvatsel dis rond en glad Saartjie het dit te veel gebrassou. Hy sit die ganglig aan nou sien hy die handvatsel reg. Sy hand gly ’n paar kere. Hy maak al sy vingers oop. Dan het hy dit vas. Sy seile is pienk om die handvatsel. Die deur maak stadig oop dit skree. Sy pa het vergeet om olie te gee. Daar is die lessenaar daar is die linkerkantse boonste laai dis toe die lessenaar staan ver daar anderkant. Hy stap op sy heel stadigste hy val amper om hy stap nie regtig nie hy loop nie eintlik nie hy wieg vorentoe. Die mat is dik onder sy stewels sy voete voel dood. Die kamer ruik na stof. Hy gaan sit in die groot stoel voor die lessenaar. Hy ruik leer en olie. Hy maak die hortjies oop. Die lig kom in.
*
’n Duif donner teen die ruit Gotta skrik hy die duif fladder op die grond buite die een vlerk hang pap die duif hop die duif gaan nêrens nie. As die duif net gekoerkoer het bietjie hoër net een Siegfried hoër was sy oor die dak en by die plaas verby al amper by die hoofpad. Net so een mens te laag net nie reg saam met die wind nie en die vlerk is moertoe die duif moet vrek. So loop hy sê sy pa so loop hy.
*
Hy kyk na die Pierneefprent teen die muur. Dis nie ’n regte ene nie maar dis die mooiste een sê sy pa. Hy kyk na die groot boekrak al die stories al die boeke. Hy kyk na al die plate op die rak al die hartseer harde musieke van sy pa. Hy kyk rond in die kamer hy kyk na die dak en die lig wat daar hang hy luister na die duif se gevlerkklapklap op die sement buite dan moet hy kyk na die laai. Hy vat aan die laai se handvatsel. Dis oop. Hy kan dit maklik oopmaak. As hy wil. Sommer nou as hy wil. Sy pa sê As Iets Gebeur dan kyk jy in die laai in my lessenaar die boonste een aan die linkerkant. Sy pa sê hy moet alles vat daarin hy moet dadelik na sy oom toe gaan. Reguit na jou oom Bert toe hoor jy my. Hy sit sy hande op sy gesig hy vee op en af al die sweet weg en die trane hy vee deur sy hare hy hou sy hande albei saam vas hy druk hulle teen mekaar hulle word blou hy wil nie sy hand gebruik vir daardie laai nie. Hy sit. Hy wag. Hy sien oom Smet stap oor die werf hy gaan by die kombuis in. Die oom is in sy pa se kamer hy wil kyk na die kop van die lyf sy pa kyk in die gang af weg. Hy knyp sy oë toe hy trek al sy lug in hy trek die laai oop. Dit val op die vloer. Daar is die grys kissie met ’n slot die slot is nie gesluit nie. Hy sit die kissie op sy skoot. Hy maak oop. Daar is geld in hy tel drie blou buffelnote. Daar is ’n knipmes. Daardie rooie van sy pa wat soos MacGyver s’n lyk. Daar is ’n rol dun tou. Genoeg tou kan alles regmaak sê sy pa. Daar is die boekie. Hy maak dit oop. Daar staan klomp goed in so los geskryf dat hy dit ook kan lees. Daar is te veel goed in die hele ding is volgeskryf met klein lettertjies. Hy gaan dit nie nou al lees nie. Hy gaan nog wag. Sy pa het dan nou-nou nog regtig gepraat. Sy pa het gesê Hierdie donnerse mooiweer. Hierdie keer is daar nie ’n Bar-One in nie. Sy pa het nie geweet hy gaan omval nie. Al die goeters in die kissie sit hy in die sak by die plant in hy maak die sak reg toe. Hy sit die sak op sy rug sy hande is deurmekaar met die bande. Sy arms is vas agter sy rug die bande van die sak hou hulle vas. Hy wikkel hy skud die sak reg. Hy ken die gespe hy druk dit in nou sit dit reg op sy rug. Ready steady go sê sy pa. Volgende is die badkamer sy pa sê Mens loop eers jou draaie voor jy weggaan. Die plant kry ook water dis ver Stad toe waar oom Bert is. Hy haal die sak weer af hy gooi die plant se bakkie vol water en sit hom weer in die sak terug by die ander goeters sy rug raak nat die sak is nat. Hy haal die rugsak af hy pak al die goeters weer uit alles is reg net die boek is nat die bladsye is vas aan mekaar. Hy sit alles weer in dit sal weer droog word. Mens kan altyd wed op droogte sê sy pa. Hy dink aan die Stad. Hy het al paar keer die Stad gesien op televisie die klomp liggies sy pa sê Dis die stad in die nag maar dit lyk nie regtig so as jy daarin is nie. Sy pa sê Liggies is net mooi van ver af.
*
Hy staan dronk oor die boer se lyk. Hy voel naar. Hy spoeg gal. Die paddafiguur se voetstappe stop agter hom. Die boer se oë is sonder opdrag.
“Ek moet nou gaan oom.” ’n Gewebde hand klou aan sy hemp. Dit trek meer as sy aandag. Dit trek hom iets binne. En hy is te dronk om te weet waarin.
Bagger, dreghaak, vat weg, sleep weg, na nimmerplek.
Wilhelm Smit kyk op. “Waarheen?” vra hy. Hy voel hoe sy stem ver agter sy gedagtes aantrek.
“My oom. Hy’s familie. Hy’s die enigste. Oom Dirk is by die Here hy is my pa se broer. My pa sê oom Bert is die enigste familiemens van ons wat nog bo die kluite kruip.” Die manskind kyk grond toe. “Wat maar na my sal moet kyk. Hy sê altyd as. Iets. Met. Hom. Gebeur. Moet ek net my oom kry en hy sal help.”
“Kom. Hier moet jy uit.” Hy werk die mannetjie by die deur uit, val amper self, en kyk weer terug in die boer se dor oë. Hy sluit die oë en trek die deur toe. Buite is dit besig om skemer te word.
Die dag het room geword, o, wit heuning om ’n hoeremond.
“Waar bly hierdie oom van jou?”
“In die Seestad. Sy naam is oom Bert. Oom Bert Fischer. Dis my ma se van voor sy Pa se van moes vat.”
“Reg.” Hy sien blare by die sak uit oor die skouer peul. “En die plant?”
“Ek wil nie hê hy moet ook dood nie oom. Ek sal sorg.”
“Wie gaan saam met jou? Jy kan seker nie alleen nie.” Buite die plaasgrense staan hierdie gevinde skepsel geen kans nie. ’n Sweetstreep op ’n teerpad. Alleen sal hy nie ver kom nie.
“Ek moet na oom Bert toe.”
“Uiteraard. Is jy seker van die naam?” ’n Lem in sy kop elke keer as hy probeer fokus, dan nog die son in sy oë. Sy lyf ruk; hy gooi op, ’n plas gal wat in die sand verdwyn.
Siegfried kyk heen en weer tussen hom en sy gal: “Jig.”
Terwyl die erfgenaam staar na die braaksel, dreun hy voort: “My pa het my van hom al vertel in stories van waar hulle almal is in Atlantis.”
Smit kyk hom stip aan. Die ander paar oë kyk net so ernstig terug. Hy is nie so seker of die uiters wit Engelse skoonfamilie in Atlantis bly nie – seker dan maar êrens in Kaapstad. Dreg, dreg weg.
Neem my op vlerke, gooi my oor ’n krans.
“Nou kom. Ek gaan saam. Uiteraard.”
Die mense sien daar niks nie van, en fokweet wat ek ly.
Hy skud sy kop weg van ’n lastige laatmiddagvlieg, orde wat ook al. Sy hart klop in sy voorkop. “Het jy sy adres, sy foonnommer?”
“Pa sê dis in die boekie.” Siegfried krap in sy rugsak en bring ’n klein swart Croxley-boekie met rooi rugkant te voorskyn. Hy neem die pappery in sy hande. Die bladsye is aan mekaar vas, byna ’n pulp. Hy probeer die fyn tekens ontsyfer op ’n bladsy wat lyk of dit nommers bevat. Hy is te dronk vir lees. Sy oë swem. Die boek swem.
“Ons sal iets uitwerk.” Hy gee die boekie terug. Die kind klap hom deur die gesig.
“Nou wat die fok . . .”
“Die vlieg het so by oom se neus ingeloop.”
“Reg. Maar ek sal myself klap in die vervolg.” Hy skud weer sy kop. Nou effens meer nugter. Hy klap homself. Hierdie keer is dit seer. Siegfried lag. God se skilfers tog.
Hy gaan terug na sy huis van die afgelope nege jaar. Pak ’n sak met twee stelle ekstra klere, ’n leë dagboek en skryfgoed, ses pakkies sigarette en ’n liter whisky. Hy kyk na die vier boeke op die lessenaar. Ons eie insekte, Holm en De Villiers. Gewone insekname, saamgestel deur die Navorsingsinstituut vir Plantbeskerming, Departement van Landbou-tegniese Dienste met die medewerking van die Landboutaalkomitee van die Taaldiensburo, 1963. Insects and their World, Oldroyd, 1960. Fundamentals of Insect Life, Metcalf en Flint, 1932. Hulle sal moet saam. Die verbleikte rooi Groot Verseboek, wat as boekstut vir die insekboeke gedien het, smyt hy in die drom. Hy pak die boeke versigtig rondom die whisky om as buffers te dien. Buffers teen die grondpad, die reis, die heengaan.
Hulle gaan staan op die afdraaipad na die plaas en duimgooi. Hoe lank dan nou al op die plaas? Banneling, verraaier, droster. Hy let op dat die verbypad intussen geteer is. Die bordjie waarop die plaas se naam staan, swaai met ’n skreegeluid heen en weer aan die paal in die ligte wind. Hier in die oopte voel hy soveel kleiner. Twee miere, orde Hymenoptera, familie Formicidae. Vismanfrats en Smetsmid gaan stad toe. Daar is nie ’n wolk in sig nie. Net die rooi son wat stadig deel word van die rooi grond.
*
Hy het net meer as nege jaar vantevore op die plaas aangekom. Hy het ’n plek gesoek wat stil was. Sonder enige invloed van buite. Om soos die ander grotes nagte te wag en waak op magiese deursuiwering. Die gevolglike wegsyfering was beter as niks. Hy was sat van mense rondom hom. Tussen mense was hy altyd onder druk om iets te produseer. Standvastigheid, ’n posbus op ’n tuinhek, ’n vrou, tot die dood ons skei; ’n boek. Dit was asof sy lewe hom na die Karoo gedwing het. Toe hy besluit het om die huis in die Sederberge te verlaat, het hy sonder om te dink die N1 gevolg, die binneland in, weg van enige groen, weg van enige valleie of berge. Weg van enige landskap met diepte. Die werkloosheidsversekering en die klein toelagie wat hy elke maand van sy seun Karel kry, het hom nie toegelaat om te gaan middelklasnesskop in ’n Toskaanse gastehuis nie. Toe hy verby die plaas ’n paar kilometer buite ’n klein Karoodorpie ry en die plaasnaam Doerkyk sien, het hy onmiddellik ingedraai. Hier kon jy tot in môre sien. Die lewe sou nie hierdie mense onkant betrap nie. Die lewe het verbygejaag op die N1, op soek na kop-aan-kopbotsings.
Die boer, wat homself voorgestel het as Jan Landman, het hom die voorman se huisie aangebied om te huur. Hy moes die voorman laat gaan toe hy nie meer die salaris kon betaal nie. Die huisie was ’n sinkdak, slaapkamer, klein sitkamer en toilet. Hy sou drie etes ’n week by die opstal kry, ’n aanbod waarvan hy selde gebruik gemaak het. Die bediende, Saartjie, kom drie maal ’n week in om te kook; sy maak lekker kos, maar teen aandete se kant het die whisky hom nie toegelaat om die kamertjie te verlaat nie. Dan het hy die bord koue kos wat voor sy deur op die trappie gestaan het, toegemaak met ’n ander bord, binnegehaal en gepik aan wat die miere oorgelos het.
Hier sou hy sy boek uiteindelik kon skryf, hier in die kaal oopte. Hier waar alles duidelik was en die oog se keuse beperk tot blou en rooibruin. Dit was nege jaar gelede. Die lug en die grond se kleure was nog dieselfde. Sy boek het ’n siklus gevolg deur verskeie metamorfoses van plot en karakter, tot weer terug waar dit begin het, met net ’n vae vermoede waarvan niks ooit neergeskryf is nie. ’n Klomp aaneengerygde sinlose toneeltjies wat later so bekend was dat hulle net woorde op papier was in ’n vreemde taal. Hy het agtergekom dat as jy lank genoeg na ’n sin staar dit alle betekenis verloor.
Hy onthou die dag voor die tikmasjien, jare gelede, die Februarieson besig om hom biltong te maak. Hy onthou hoe hy sit en wag het, sit en staar het na die obsene kaal papier in die tikmasjien ingerol. Papier gereed vir besmetting. Dit was daardie middag dat hy die boeke onder die bed loop uithaal het, die vier insekboeke van die vorige inwoner, waarskynlik ’n amateur-entomoloog in sy vrye tyd. Hy het die name van die insekte oor sy tong gerol. Die eerste lys wat hy kon opsê, was die B-insekte: Balblommaaier, Balbyter, Bamboesboorder, Bamboesdopluis, Barbertonmadeliefievlieg, Baskewer, Beesbrommer, Beesluisvlieg. Altyd een of twee oorgeslaan, uiteraard, maar dit was van geen belang. ’n Paar maande later kon hy gedeeltes uit die boeke aanhaal, steeds sonder enige storie. Dreg weg, weg. Die insekboeke was gerusstellend. Die lyste, die name, mantras teen die angs.
*
Daar is geen verkeer nie. Hy kyk op en af in die verlate pad. Siegfried staar reg in die son. Atlantis. ’n Stad onder die see. Die boer het die mugu se kop saans so vol stories geprop dat hy sekerlik oortuig was dat daar ’n paar drake en ’n wulpse godin of sewe net anderkant die plaasgrense bly. As die mannetjie êrens sou hoor dat daar ’n plek met die naam Atlantis naby Kaapstad is, sou dit nie lank wees voor Kaapstad onder die water verdwyn nie.
Bert Fischer se naam was nie in die ses jaar oue telefoonboek wat in die gang op die embuiastoel gelê het nie. Die informasiesentrale was van nog minder hulp. Daar was ’n paar Roberts, maar geen Berte.
“Wat? . . . Nee, net Bert. Ek sal uiteraard weet as dit Robert is . . . Kaasmaaier . . . Wat? Niks. Ek het hoegenaamd niks gesê nie.”
Hy het ’n oomblik gekyk na Siegfried, wat net sy kop staan en skud het en met een voet na ’n kluit geskop het.
Net Bert dan. Hy moes self sy kop ’n paar keer skud dat die oë beter kon fokus. Sy tande was nog wollerig van die kots. Daar was ’n hoofpyn wat nie wou saamwerk met die son nie. Naar. Sweterig. Daar was iets aangrensend aan spyt oor die liter en ’n half whisky van die vorige sestien uur. Dit sou help as een van hulle kon reguit dink.
Die foonlyn was dood. Die pad is gebore.
En nou staan hulle twee hier langs die stowwerige pad met die plaas se naambordjie wat soos ’n ou vrou skree aan die ketting. Op pad. Die dooie hemel weet waarnatoe.
*
’n Bakkie stop. Die man agter die snor draai die venster af. “Waarnatoe, manne?”
“Stad toe oom,” sê Siegfried. Dit is sy eerste woorde vandat hulle hier staan in die stof. Sy stem klink gerasper.
“Meneer, uiteraard eintlik slegs na die naaste dorp as dit moontlik is. Om ’n bus te haal of ’n trein of ’n dergelike . . .” Hy probeer normaal praat, maar die whisky is nog te dik in sy bloed en sy stem; hy is duiselig. Die man in die bakkie kyk na Siegfried se hande toe hy die sak van sy rug afhaal.
“Jy’s mos Landman se seun.” Dan effens bekommerd: “Waar’s jou pa?”
“Dood oom. Vanoggend.”
“O Here.” Die man trek sy snor, sy hele gesig verfrommel soos hy konsentreer. “Kyk, ek ry plaas toe. Ry saam. Julle eet daar dan praat ons verder.” Hierdie man maak net besluite op ’n vol maag.
Hy stel homself voor: “Wilhelm Smit. Skrywer en insekkenner. Aangenaam.” Die man se hand is gevoude staal.
“Hannes Bloch. Skaapboer.” Die man kug.
Die res van die rit sit al drie voor in die bakkie. Behalwe vir ’n af en toe se “O Here” en ’n gepaardgaande skud van die skaapboer se kop, sê nie een ’n woord nie. Smit kyk uit die hoek van sy oog na Siegfried. Die wees kyk voor hom. Dis iets om na te kyk. Die pad. Die laaste bietjie son.
Smit sien nie die pad nie. Hy sien die voorruit. Termiete, muggies en sonbesies vernietig hulleself teen die shockproof glas van die Hilux: ’n edele maar futiele verset.
*
Hy ken nie die oom wat hulle oplaai nie. Daar kom min mense by sy pa kuier sy pa gaan min kere uit. Net as hy dorp toe gaan. Hy gaan nie saam nie. Die dorp is te deurmekaar. Die snor-oom is vriendelik. Hy hou van teen die venster sit nou kan hy die pad sien en die grond en die skape en die bosse langs die pad. Hy hou daarvan om by ruite wat vinnig ry uit te kyk na al die dinge. Alles gaan vinnig verby alles is net strepe bruin en rooi en vaal. Hy wil slaap tussen die strepe hulle draai by ’n hek in. Die snor-oom sê hy moet die hek oopmaak. Die deur kan nie reg oop nie. Die handvatsel is dun hy kan nie sy vinger om die stuk plastiek wat die handvatsel is kry nie. Sy pa se bakkie se handvatsel het so draadding aangesoldeer dat hy dit kan oopmaak. Oom Smet maak die deur oop. Nou kan hy uit. Nou sukkel die hek ook. Hy sukkel om die kringdraadjie van die hakdraadjie af te lig om die hek oop te maak. Sy hande is dom met hekke. Die oom raas nie. Die oom sê Ag Here tog. Sy pa laat altyd vir OuBen of Alfie hekke oopmaak. Die huis van die oom is lelik. Die huis is groen die dak is plat. Daar kan nie ’n solder wees waar al die ou goeters kan staan onder lakens en komberse nie. Sy pa sit al die goeters wat hulle nie nodig het nie op die solder. Mens wil nie die hele donnerse tyd oor alles val nie sê hy. Hy speel partykeer met die fietse en panne en messegoed en foto’s. Al die nodelose stront sê sy pa. Die snor-oom se huis is groot maar daar is nie ’n stoep waar sy pa in die aand kan sit nie. Sy pa sê ’n boer moet ’n stoep hê sodat hy sy grond kan sit en bekyk. Sy pa sê as mens na al die fokkol kyk dink mens aan nuwe stories. Daar is ’n vuur dit ruik na braai. ’n Jong oom werk met die rooster. Siegfried mag nooit die rooster werk nie. Hy is bang vir vreemde mense hulle lag. Oom Smet sê hy moet uitklim. Sy pa sê oom Smet maak stories vir ’n werk en bad nie baie nie. Sy pa sê dis nie ’n regtige werk nie. Sy pa ken baie stories maar hy sê hy het hulle nie gemaak nie hulle is al baie oud.
*
By die plaashuis is ’n braaivuur besig om inmekaar te stort; ’n jong man is besig met ’n rooster. Die geforseerde rituele van groet en bladskud kom onder weg:
“Naand, Pa.” Die kind se gesig is ’n vulkaniese berglandskap met etterkeëls. Een van die korste is aan die oopbreek op sy linkerwang. ’n Dun straaltjie bloed. Smit besef Siegfried is ook aan die staar. Die paddaman krap aan sy eie wang, maar knip nie ’n oog nie.
“Naand, ja. Dis my seun. Hans, groet die mense.”
“Ja, Pa. Naand, oom. Naand, Siegmund.”
Smit mompel: “Naand-naand, maaiernaaiers.” Hulle hoor wat hulle wil.
“Siegfried,” sê Siegfried. Almal lag. Hy wonder hoe die jong Bloch sy kaak so ver kan oopforseer sonder dat een van die korste breek.
Siegfried word deur die ettergesig weggesluit in die TV-kamer. Die boer neem hom eenkant en vra of hy orraait is – “Ou Maat.” Ek is nie julle maatjie nie, wil hy sê. Weer ’n cliché-matige ondervraging na sy algemene fisieke en psigiese welstand. Hy sê hy voel soos ’n mier op ’n skoon bord, soos ’n droë carburettor wat stoom lek. Die boer grinnik en stop ’n bier in sy hand. “Wat gaan jy doen met daardie skepsel? Hy kan mos nie na homself kyk nie.”
Hy verduidelik kortweg, kortaf. Die boer steek ’n Chesterfield aan en gebied hulle om oor te slaap. Hy hou die pakkie uit na Smit. Hy bedank; hy’s te naar vir rook. Die rook van die boer se sigaret werk op sy kiewe. Hy sluk gal weg. Sy mond bly die bier ontwyk, sy hemp natter as sy lippe. Die boer bekyk hom met een oog toe. Hy voel geweeg, hy voel geoordeel.
“Hoe goed ken jy hierdie mense, die Landman en sy kind?”
“Bly maar daar. Op die werf. In die huisie.”
“En die ma van die kind? Weet jy iets van daardie storie af ?”
“Niks. Nooit die vrou ontmoet nie.” Nog ’n sluk bier val op sy bors. Hy sit die blikkie op ’n kabinet wat byderhand is. Bloch kyk na die blikkie, ’n diep frons vorm.
“Ja-nee.” Bloch sê iets oor die aard van plaaslewe, van stories wat loop. Hy kyk na Smit vir ondersteuning.
“Ja. Nee. Het jy dalk ’n glas?”
“En die mannetjie se naam darem ook. Sigurd. Eienaardig vir hierdie deel van die wêreld.” Die boer lag oordadig, tel die blikkie van die kabinet af op en vee met sy mou oor die nat kring wat reeds gevlek het. Hy druk die blik terug in Smit se bewende hand.
“Voor die vrou weer kla,” maak hy verskoning.
Bloch wys hom ’n stoel om in te sit.
En jou kind se gesig darem ook. Eienaardig dat sy hele fokken kop nie oopbars van al die Calvinistiese etter wat julle daar instop nie. Die krake begin klaar wys, dreig hy om te sê terwyl hy bier van sy ken probeer oplek.
“Dit het darem gelyk of die twee heel goed oor die weg gekom het, so sonder vrou, jy weet.” Die boer lag senuweeagtig. “Dis hard.”
“Hm,” voel Smit homself sê.
“Die mannetjie was seker ook nooit van veel nut op die plaas nie.” Bloch kyk deur die venster na waar sy seun staan en braai. “Ten minste ’n verskoning gehad. Daardie een wil niks weet van die plaas nie. En die vrou het mos daardie operasie gehad, jy weet, waar hulle . . .”
“Ek het nooit mevrou Landman ontmoet nie. Darwin het ook vroeg in sy lewe sy moeder verloor.” Hy verander die onderwerp vinnig, voor hy nog moet hoor van die vrou se verwoeste voortplantingsisteem.
Die boer lyk ingedagte. “Ek moes meer as een maal dele van sy grond koop. As hy dan later weer die kapitaal gehad het, het hy hier en daar ’n stukkie teruggekoop. Dit was maar ’n agteruitboerdery daardie. Hulle sal nie veel vir die plaas kry nie. Met die wolpryse wat dit is.” Hy sug diep en neem ’n sluk brandewyn.
“Dit is tragies dat die mens nie soos die Britse embioptera-spesie onder klippe kan bly nie . . . My Maat.”
“Ja-nee.”
Smit kyk uit na die werf, ’n landskap van aknee.
“Ek hoop jy sorg goed vir die mannetjie. Ek voel half verantwoordelik. Ons mense staan saam.” Bloch dink ’n tydjie na. Dan lyk dit of hy iets onthou: “Laas jaar by die vendusie was Landman effens gesuip daar in die biertent die middag. Kallie en van die ander Malherbes het gesit en strontpraat oor die plaaslike moroon toe hy opspring. ‘Dis donnerswil my seun en julle los hom donnerswil uit!’ in daardie hees stem van hom. Die gespuis was gou stil.” Bloch glimlag effens. “Later kom sit hy daar by my en Visagie. ‘Verstaan die bulletjie nie aldag nie. Hy lewe maar soos die winde waai en die bossies staan. Maar dis donnerswil my seun,’ sê hy toe. Groot woorde daardie.” Die boer sug weer. Hierdie keer met nadruk. “Ons praat weer, Vriend. Ek gaan kyk net gou dat daardie mannetjie nie die vleis verkool nie.” Hy klop Smit op die skouer en verlaat die vertrek.
Teen die muur lê ’n duisendpoot opgekrul. Hy skraap die spiraal van die muur af en sluk dit weg met die laaste bier.
*
Hy sit by die televisie in die lelike huis opgekrul dis koud al die vensters is oop. Hy is klein hy is op sy pa se skoot. Hy hoor die perde hardloop in sy borskas. Hy ruik die sweet en die tabak. Sy pa sê perde galop. Sy pa se gesig is bruin dit het klomp swart hare bo-op die kop wat baie krul en groot ore en dun oë sy pa sê hulle kruip weg vir die son. Sy pa se arms is groot en bruin onder die hemp is hy wit dit lyk of hy ’n hemp dra as hy nie ’n hemp dra nie. Boere-tan sê sy pa. Sy kop is teen die bors hy hoor die perde galop al hoe harder en vinniger iets gryp sy skouer dis die jong oom met die afdopgesig Wat maak jy. Mind jy as ek sit. Hy kyk nie televisie nie hy probeer sy dink wegjaag wat heeltyd terugloop na die lyf wat daar op die werf lê. Hy tel hy sê die alfabet op hy noem name van die mense in sy pa se stories hy luister vir die perde die televisie raas. Die perde is nie meer daar nie hulle galop nie meer nie hy hoor net die televisie hy sien die lyf lê op die werf. Dan lê die lyf in die kamer. Die oë knip die kop kom regop die oë is oop hy skrik hy is wakker. Hy sien die groot swart skip wat hy sien as hy droom dit maak hom koud sy lyf is pap hy kan niks maak nie niks skree nie dis net die swart skip oor hom.
*
As hy tydens sy lang dae van woordsoekery oor die plaas gedwaal het, het hy gereeld vir Siegfried raakgeloop by die dam. Wanneer hy nie paddavisse gevang het nie, was hy gewoonlik besig om selfgemaakte bootjies op die bruin water te laat vaar. Blare, stokkies, bas. Hy wou altyd uitvind presies hoe hy met daardie hande wat skaars vuiste kon maak, dit kon regkry om die fyn bootjies te maak. As die wind waai, het hy hulle almal in die water gesit en gekyk hoe hulle vaar. Hy sou nie opstaan voor die laaste een gesink het nie. Ander kere het hy met sy knieë onder sy ken opgetrek gesit en staar hoe die modderwater klein branders maak as die wind waai. Nooit het hy hom sien swem nie. Dit was asof hy ’n soort respek vir soveel water gehad het, te veel om homself daarin te begeef. Dit was die laaste water wat nog nie deur die sand gevreet is nie.
Hy het een middag teen die damwal gelê en die idioot dopgehou. Die lang maer vingers. Die absurde geduld. Die webbe. Tyd het stilgestaan by die dam daardie dag. Net die son het beweeg.
Die bootjie breek middeldeur wanneer die hoofmasstokkie in die bas gedruk word. Hy staan op, gaan haal nog bas, begin weer die skuurproses teen die klip, totdat die bas soos ’n boot begin lyk. Dan is dit die skerpgemaakte stok se beurt om die boot uit te hol. ’n Sy van die boot breek waar hy te veel uitgehol het. Hy begin oor. Met dieselfde hipnotiese ritme. Hy sit sy skepping in die water en stap terug, versigtig, om nie die water te versteur nie. Met ingetrekte asem gaan sit hy op sy hurke en hou die vaart dop, hoe dit dobber, hoe dit die deinings vang, en dan meer as ’n halfuur later, hoe dit sink. Dan staan hy op en gaan trek nog ’n stuk bas van die boom langs die dam af. Altyd tyd vir nog een. Altyd tyd om van voor af te begin. Om iets te maak en dit te laat sink.
Hy kon dit nie langer aanskou nie; hy het weggestap met nat oë; hy het alles in sy pad geskop en gevloek. Hy het die trane wat in sy mond ingeloop het uitgespoeg. Met sy hande in vuiste het hy sy tikmasjien gedonder. Hy het saam met die bottel op sy bed gaan lê.
*
Smetsmid en EtterHans staan buite by die vuur met glase whisky. Die vent krap aan sy ken waar ’n paar verlore baardhaartjies deur die vulkane beur. “Oom lyk bietjie gekuier,” sê hy smalend.
“Ek sukkel om te slaap.” Hy onthou hoe hy in sy dronkenskap die H, E en M van sy Hermes-tikmasjien se naamplaatjie afgekrap het. RES het oorgebly.
In medias res. In medias grond. In medias bugs. In medias stront.
Die arrogante erfgenaam van hektare aarde kom agter hy staar na die rotstuin op sy wange. “Het oom nie ’n kar of iets nie?”
“Verkoop.” Die mannetjie lyk verward.
“Het dit nie nodig nie. Ek wou nêrens heen rondfoeter nie.”
Die twintigjarige puber krap voort in stilte.
“Wat’s oom se regte naam? Pa sê almal noem oom Willie Smet.”
“Smetsmid.”
“Wat van Willem?”
“Wie?”
Nog ’n stilte. Hierdie een langer.
“Rook oom dagga?”
“Dit sal gaaf wees.”
*
Die bank is diep hy sak weg daarin. Hy wil in sy eie bed slaap met al sy kussings sy pa sê hy gaan sy nek nog aflê op al die kussings dis lekker om die kussings so al om in die rondte te pak dan kruip hy tussen hulle in. Sy bed is groter as sy pa se bed. Sy pa sê dit was eers sy en Jou Ma se bed maar Siegfried moet liewer daarop slaap. Dis ’n dubbelbed. Sy pa se bed is smal en hard. Die matras het ’n duik in die middel. As hy daarop sit dan voel hy die planke van die bed. Sy pa sê dis beter vir sy rug. Sy pa sê as ’n man se rug eers gebreek is dan is hy in sy moer in.
*
Die boer se seun stap na die skuur, hy agterna. Hans steek ’n daggasigaret aan. Hy sê hy het dit van die universiteit af gebring. Die dwelm laat hom ontspan. Die roach, soos die student die zol noem, sien sy gat. Hans besluit om in te gaan, want dis “cool om stoned TV te kyk”. Hy karring agterna.
Hou aan beweeg, aanhou geraas maak, aanhou grawe, al in die damwal in.
Toe hulle saam met Siegfried in die TV-kamer met ’n bottel wyn beland, vra hy vir Hans Huid wat hy nou eintlik doen.
“Studeer tale by UCT.” Die mannetjie is skielik nie meer so spraaksaam nie. Die boer en sy vrou is besig by die vuur en in die kombuis. Na nog twee biere en ’n groot sluk uit ’n glas witwyn, begin hy uit te vra: “Uiteraard ken jy ‘The Waste Land’ van Eliot?”
“Nog nie gesien nie. Is dit al op video?” EtterHans se kykers boor aan die TV. ’n Halfkaal, ligpienk vrou vul die skerm. Hans por Siegfried in die sy. “Check daai, Friedrich.”
“Siegfried,” sê Siegfried.
Hy sluk aan sy wyn en sit weer terug in die groot leerstoel. Die vrou op TV is besig om nog klere te laat waai. “It feels as if I know you from a previous life, Emmanuelle,” sê die kaal man.
“Yes, we were all slaves back then; I’ve kept the whips,” kom die antwoord.
Smit haal een van sy insekboeke uit sy rugsak. Hy lees daaruit voor. “Het julle geweet dat mierkewers ’n stof afskei in mierneste wat dieselfde uitwerking op miere het as heroïen op die mens? Die miere offer selfs hul kleintjies op om die kewer langer in die nes besig te hou sodat die miere nog van die sogenaamde mier-heroïen in die hande kan kry.”
Dit voel of die student vir hom lag.
EtterHans trek gesigte terwyl hy na die sekstoneel staar. Die televisie-akteurs se handelinge herinner aan miskruiers se paringsgedrag. Miskruiers is in Egipte as heilige diere gesien. Hulle is geskape om kak aan te jaag. Hy wonder wanneer laas iemand draadgetrek het oor die blaaie in ’n roman.
“Besef jy dat die sensuele . . . sensasies wat ’n vrou ervaar tydens voorspel en seks oorspronklik biologiese prikkelings was wat sy met geboorte of borsvoeding ervaar het? Om die oorlewing van babas te verseker. Die feit dat ’n man haar wel sou bevrug was uiteraard ’n feit. Ewolusionêr gesproke het dit geen nut gehad dat sy tydens omgang enige plesier sou ervaar nie. Moederskap was die gevaararea. Die mynveld.”
Die student skuif sy een been oor die ander om die bult in sy broek te verberg. Siegfried se lyf krul op.
Hoe lank sal die mensdom nog moet wag voor dit moontlik is om ’n plasmaskerm te penetreer? Hy wonder of daar nog wyn in die kombuis is.
*
Aan tafel, die boer aan die kop met sy gesin aan die regterkant en die gaste aan die linkerkant, word nie veel gesê nie. ’n Gesin wat nie voor gaste baklei nie en niks vir mekaar te sê het nie. Die vrou kyk aanhoudend na Siegfried. Sy het haar beste eetgerei uitgehaal vir die gaste. Lepels, vurke en messe, almal met die bekende apostelmotief gegraveer op die stele. Afrikaner-kitsch uit die boonste rakke.
Hy is bekend met hierdie optrede van huisvrouens: toe haar man haar vertel van die tragedie, het sy besluit dat die agtergeblewene vanaand net die beste sal kry. Dus: braaivleis en aartappels, kool met kaas bedrup, en wortels in daardie sieksoet sous. Op die een of ander manier glo sy, en miljoene soos sy, dat dit sal help om die pyn en wanhoop te verlig. Sy kan dit egter nie wegsteek dat sy ongemaklik voel in Siegfried se teenwoordigheid nie. Hy eet met sy hande: ’n groot seedier wat aan land gekruip het en met fyn bewegings van sy vinne die kos by sy mond inwerk. Hy maak sagte steungeluidjies terwyl hy eet.
Die boer en sy vrou laai hulle vurke met dooie skape en knolle en wortels en druk dit alles saam die mondgate in. Hulle vee met groot wit lapservette die kos af wat by hulle monde uitpeul. Die spoeg wat spat as hulle praat. Die fyn stukkies kos wat saam met die kos op die tafeldoek beland na die een of ander sinnelose stelling van meegevoel. Smit kan hoor hoe die boer se maag protesteer teen alles wat daar ingestop word saam met die Castle in sy regterhand. Die skubgesigkind sit en speel tromme met die vurk-en-mes-apostels. “Lekker,” laat die boer van hom hoor. Hy sien hoe ’n aartappel amper sy ontsnapping maak toe die mond oopgaan. Die vrou begin met alle mag te suig aan ’n murgbeentjie. Die slurpgeluid laat hom ril. Hy voel naar, maar dwing homself om te eet. Hy gaan dit nodig kry. Die vrou suig asof sy ’n punt wil maak. Dan gee die murg op en skiet haar mond in. Sy begin verstik.
Hy sluk sy wyn weg. Gooi nog. “Kry vir jou,” mompel die boer en hierdie keer glip ’n pappery wortel uit en beland op sy hemp. Hy vee met ’n dik vinger die oranjerooi sous op en druk dit terug in sy mond. Die vrou oorwin uiteindelik die murg en spoeg dit op haar kleinbordjie uit. Sy begin dadelik suig aan die volgende tjop terwyl sy blosend verskoninkies mompel.
Smit weet hoekom hy van insekte hou. Hoe sag hulle suig en tas en skeur, hulle gestileerde suiers en mandibels.
Die vrou breek die ondraaglike stilte: “My kind, wát het met jou hande gebeur?”
Siegfried antwoord onmiddellik: “My ma was ’n meermin tannie.” Bloch laat sak sy kop in sy hande en staar met alle aandag na sy stuk skaap. EtterHans laat val sy apostels.
“O,” sê die vrou. Haar gesig en nek word rooi. Dit lyk of sy ekseem het om haar keel. Sy herinner aan ’n reptiel met kleurvolle velle onder die ken om aanvallers af te skrik. Die natuur en sy pragtige verdedigingsmeganismes. Selfs by die vroue van grondeienaars.
“Ek het die hande van haar geërf. Sy het nie sulke hande gehad nie net ’n visstert as sy nat word. Nou het ek ook amper vinne. My voete is ook vinne. Sy kon nie lank op die droë grond bly nie. Ek kan want ek’s half pa en half ma. Maar ek hou van water. Sy kon nie lank op die plaas bly nie. Dis baie droog.”
“Shit. You said it, man!” Hans Puis gooi sy wynglas vol bier en drink dit leeg in een sluk. “My buddies sal jou dig. Go Gysbrecht Go.”
“Hans. Stil. Die man is in skok. Los hom in godsnaam uit.” Die baas van die plaas het hernude gesag om die situasie te hanteer.
“Nie Gysbrecht nie. Siegfried,” sê Siegfried.
Die vrou vergeet oënskynlik van die gebruiklike warm poeding wat sekerlik in die kombuis staan, en knip die ete kort. Sy neem die halfgeëte borde kombuis toe en mompel ’n “ag shame”. Die servette vol dierereste verdwyn na die waskamer. Hottentotsgotte los geen oorblyfsels nie.
*
Hy is wakker sy bed is nat iets proe in sy mond dis miskien mossels. Hy weet nie hoe mossels proe nie maar hy het nie ander goeters onder die water geëet nie. Hy het gedroom van sy ma. Sy was Venus. Sy kom uit die see uit met ’n vis-onderkant wat bene word sy hardloop na sy pa toe. Sy pa het haar by Hartenbos ontmoet toe hy jonk was sê hy. Sy pa het hom vertel van Venus hy sê sy ma was soos sy. Hy droom van haar onderwaterkasteel daar’s die seewier in die potte alles is stadig alles vloei alles is sonder geluide. Die kasteel is ’n huis onder die water dit het nie ’n dak nie daar’s net water. Die onderwaterhuis is sy pa se huis net sonder die dak. Daar’s nie meubels in die seehuis nie. Sy pa sê die mense daar onder eet net mossels en die kinders ry op seeperde. In sy droom sit sy ma met ’n visstert langs oom Bert sy speel op ’n kitaar. Hy droom oom Bert is koning onder die see. Oom Bert het ’n lang wit baard. Sy ma gee vir hom mossels in ’n bakkie sy vat aan sy arm sy sê Hierso Paddatjie. Alles raak nat en warm.
*
Die boervrou het die oggend haar hande vol gehad. Vol padkos en bepisde lakens. Bloch het in die huis rondgestap en gemor oor sy kind wat so laat slaap en so dronk was. “As hy so wil aangaan, kan hy dit by sy pelle loop doen. Hier handhaaf ons tog ’n sekere lewenstandaard, ’n gevestigde lewenswyse, nie waar nie?”
Smit het ’n brekfisbier gevra en na Siegfried gaan soek. Die mannetjie was besig om die plantjie, wat hy nou orals saamfoeter, water te gee onder die verwarde kyke van die vrou.
Daar was nie veel oor om vir mekaar te sê nie. Hy het ’n formidabele formele ontbyt geweier en net na die bier gewys. Die vrou het die pakkie padkos vir Siegfried gegee.
“Ons moet ry. Drink op, Vriend,” het Bloch gebrom. Onder die drie paar oë het hy die bier weggesluk.
“Dankie. Dit was baie gaaf. Baie gaaf. Mevrou, uiteraard dankie.”
Die boer het hulle op die dorp gaan aflaai. Die rit was weer eens in stilte. Bloch het hom met die hand gegroet en aarselend sy hand na die jong Landman uitgesteek. Siegfried het geglimlag en totsiens gewaai. Hy het die boer dopgehou toe hy wegry. Die groot kop het geskud met nadruk; die mond sonder twyfel prewelend aan die “O Here”-mantra.
*
Sodra die bakkie uit sig verdwyn, stap hy oor die straat na die drankwinkel, besef dan hy het nog nie geraak aan die liter whisky in die rugsak nie. Siegfried kyk rond. “Ek soek mossels. Ek’s lus vir mossels.” Hulle vind ’n kafee en Siegfried hardloop soos ’n besetene op en af tussen die rye rakke. Smit sien hoe die eienaar die foon optel, en verduidelik. Die eienaar, ’n skeel ou man, glimlag en roep vir Siegfried. “Kan ons help, meneer?” Siegfried vra hom hoe mossels “nou eintlik rêrig lyk”. Die ou man beduie na die verste rak en Siegfried skaf sy eerste blikkie ingelegde mossels aan. Hy vra vir Smit om dit oop te maak met sy pa se knipmes, gaan sit op die sypaadjie buite die kafee en eet die ingemaakte diertjies een vir een op.
“Dis die eerste keer dat ek mossels eet. Ek hou baie daarvan.” Siegfried staan op en sit die blikkie in sy rugsak.
“Nee brandblaas, man, jy kan dit nie hou nie. Dit gaan vrot,” probeer hy keer.
“Ek hou dit want ek wil die ruik weer ruik dis myne,” kom die antwoord voor die blikkie in die rugsak verdwyn. Hy loop woordeloos tevrede agter Smit aan. Hiervandaan moet hy as leier, of ten minste begeleier, optree.
Daar is ’n land so ver en woes geleë, ’n land wat my nog sal wegvee, of so iets. Hy neem ’n sluk uit die bruin papiersak.