Читать книгу Siegfried - Willem Anker - Страница 6

I I

Оглавление

Dis ’n dorpie omring deur niks. ’n Matriks van ’n paar strate, ’n kerktoring. Die platgeskraapte grondpaaie loop dood in die omliggende woestyn. Die mense stap stadig, versigtig om nie die stof te versteur nie.

Dit is helwarm. Dis al.

Hy en Siegfried sit in die plaaslike kroeg. ’n Platdakgehuggie met ’n stuk hardgeryde grond voor die deur, waarop twee bakkies met lang skaduwees staan. Smit sit en speel met ’n dooie kewer wat hy in die parkeerarea opgetel het en nie dadelik kon eien nie. Dit proe effe na kaneel. My nooi is in ’n nartjie, my ouma was ’n kewer.

Toe hulle vyf minute gelede oor die drumpel getrap het, was hulle in ’n klein kafeetjie wat die kroeg en restaurant skei. Die vrou agter die kasregister was ’n dowwedopluis, ’n duisend maal opgeblaas. ’n Groot wese met oë weerskante van die te klein kop.

Die restaurant bestaan uit ’n paar plastiektafels met tuinstoele. ’n Gesin was ter plaatse besig om in die een hoek die lunch special te verorber. Minute steaks, burgers, bier en milkshakes.

“Los jou suster. Wat maak jy? Wil jy in die kar gaan sit?”

Die klein mannetjie het sy lip uitgestoot. In die agtergrond was ’n middeljarige Afrikaanse duifie op maat van ’n disco beat aan die kerm oor haar gebreekte hart by die Vaaldam.

“Eet jou kos. Ek en jou ma wil net in rus en vrede eet.” Die leuse van die middelklasgesinshoof: ons sit hier in ons Sunday best om onsself een keer hierdie maand trommeldik te vreet sodat julle ma miskien vanaand vir my ja sê vir ’n slag, so God hoor my, eet en smile, maak nie saak wat nie.

“Eet jou blerrie kos! Ek het ten duurste betaal.”

“Dawie, asseblief. Kom ons geniet net die dag.”

“Jou kinders kan hulle nie gedra nie. As hulle . . . Los die blerrie soutpot, Mattheus!”

“Jou kinders? Wat bedoel jy, jou kinders?” ’n Dramatiese stilte. “Vat my huis toe. Ek skaam my dood.” Die vrou was in trane.

Dit was die geween wat hom genoop het om vir Siegfried te beduie na die kroegdeur links. Die storie in die restaurant kon lelik raak. Die kroeg was leeg, afgesien van die kroegman en twee dronk oliekuiwe wat pool speel. Toe hulle die vertrek betree, word die gesprek onderbreek. In stilte het hulle gaan sit in een van die afskortings wat aan treinkompartemente herinner.

Die kroeg is uitgelê met riete wat uiteraard bedoel was om ’n absurde soort eksotiese ambience aan die plek te gee. Teen die mure is verskeie bokkoppe wat met glasoë waak oor die pool-spel. Hy bestel ’n bier vir die sitplek. Smit voel heeltemal te sober so laat in die dag. Siegfried sit sy sak met die plantjie op die tafel. Hy is slim genoeg om sy hande onder die tafel te hou. Goed geleer.

Die kroegman sit ’n Afrikaanse CD op waarin die hees sanger ’n vrou gebied om “daai lyfie” te “rock”; die gesprek word hervat.

’n Ontstellende groot vrou met ’n pers serp en gepoeierde gesig vul meteens die ruimte. Sy het te veel gedrink. Die koei stel haarself voor as Liezel van Franschhoek en koop vir die hele kroeg ’n rondte Springbokkies. Liezel kom sit styf teen hom en begin uitvra. Hy antwoord so vaag moontlik, terwyl die drankasem uit die te rooi mondjie in sy gesig blaas. Sy was hier vir ’n troue, sê sy. En nou wil sy nog dans. Sy sê troues maak haar wild. Sy gryp hom om die lyf en trek hom met een arm op.

“Sit ’n lekker ene op,” sê sy vir die kroegman en begin hom rondstuur om die pool-tafel. Die kroegman speel ’n nommer waarin ’n vrou opgewonde sing oor ’n fenomeen oënskynlik bekend as die “skarumba”, of iets drekliks. Hy voel duiselig van al die beweging. Sy druk al die wind uit hom uit. ’n Vent met ’n beetgevreet, wat ook die kroeg binneval, maak ’n einde aan die verleentheid.

“Liezeltjie, loop jy al weer rond? Kom hier, jou lekker ding, ek dog jy is in ’n ander man se bed.”

“Hoe ken jy my, Boetie,” lag sy. Sy soen Smit op die mond. Boetie gryp haar van agter om haar ekwator en maak haar los uit die doodsgreep wat sy op hom uitoefen. “Sorrie, oom, maar sy’s nou myne. Kom gee bietjie tong.”

Smit gee so gou moontlik pad en gaan sit weer by Siegfried.

“Ek en jy gaan vanaand hierdie plek rooi verf, sexy.” Hulle dans om die pool-tafel tot by die kroeg waar nog Springbokkies gekoop word. Smit kry twee. Dit is meer as welkom. Siegfried lyk nie of hy enigiets ongewoons opmerk nie. Die twee verliefde gedrogte verruil die kroeg vir ’n Ford backseat.

Hulle moet planne maak. “Reg. Wat maak ons nou?”

“My oom sal help oom.” Die paddakind lyk sekerder as ooit te vore. Hy voel naar; miskien is hy nie die een wat hierdie verdwaalde siel moet help nie. Siegfried sien die twyfel in sy oë: “Hy sal help. Oom Bert is familie.” Hy haal sy hande onder die tafel uit, sit hulle oopgesprei op die tafel. “Hy is Ma se broer.”

“Reg. Dan moet ons seker in die stad uitkom. Ek sal uitvind.”

Siegfried staar by die venster uit na dinge wat net hy sien. Hy kan die kind nie so los nie. Hy is nou eenmaal in hierdie ding en sal dit moet deursien tot die einde. Hy staan op en stap na die kroegman toe.

“Ek en my jong vriend is op pad Kaapstad toe. Weet u dalk van ’n geleentheid?”

“Jong vriend, sê jy?” Die kroegman is lus vir grappies maak. “Geleentheid waarvoor nogal?” Dreg dit.

“Meneer, uiteraard . . .”

“Luister, vriend.” ’n Pool-speler, Plato se Idee van die Boer, verskyn skielik langs hom. “My neef vat môre ’n lorrie Stellenbosch toe na ’n man daar wat die ding gekoop het. Julle is welkom om saam te ry. Ek’s seker hy sal nie omgee nie.”

Die neef is ene Dawie Lambrechts, die einste Dawie wat langsaan veg vir die genot van minute steaks.

“Dankie . . . uiteraard.”

“Reg, reg. En wat’s daai wat by jou mond uitsteek? ’n Poot of iets?”

“Dankie, meneer. Uiteraard, meneer. Poot?”

Hy haal die stekelrige voorwerp uit. Die agterpoot van die onbekende kewer. Hy is die een wat die eksoskelette moet fynmaal. Hy is die een wat insekte bestudeer en opvreet.

*

Die neef is nog in die restaurant. Die gesin het intussen stil geword; die geveg is ontlont. Die vrou lyk nog moerig, sy sit met ’n pruilmondjie haar man en aanstaar, die trane opgewel in haar oogkasse soos ’n verstopte drein. Lammie, soos die man homself bekendstel, lyk totaal onbewus van die tweestryd waarin hy betrokke is. Die stuk sening en laaste bleek aartappel op die bord verg al sy konsentrasie.

“Nee reg, reg, alles reg.” Hy wil duidelik die twee vreemdelinge so vinnig moontlik wegkry van die tafel. Die reëlings word getref vir tienuur die volgende oggend. Hy sou graag vroeër wou ry, maak hy verskoning, maar vanaand is die Wildfees en hy dink nie hy gaan vroeg slaap nie. Daar is ’n dans, sy vrou wil gaan langarm. Smit word genooi na die fees by die skougronde; ’n paar skuins kyke word rojaal aan Siegfried uitgedeel.

“Daai oom se hande is soos Donald Duck se voete, Pa.”

“Eet jou blerrie kos.”

*

Hy staan in die hotdog-ry en steek die laaste Camel in die pakkie op. Hy kyk na die chaos rondom hom. Die Wildfees is ’n groot affêre, ’n uitgelate opelyf. Die skougronde is gepak met alles wat asem het in die omgewing. Die skoolkomitee verkoop drank in ’n markiestent. In die danssaal staan seuns en hul vaders en bekyk hul ma’s, susters en dogters. Die ou mans sit geplak teen die mure op opslaanstoele en drink en rook en spoeg. Die plek ruik bok.

Hy wag in die ry waar twee studente die pasgetroude laerskooljuffrouens wat hotdogs verkoop, probeer oorreed om hulle foonnommers weg te gee. Hy veronderstel hulle leuse is “ ’n Ring maak nie ’n gat toe nie”. Die pasgetroude laerskooljuffrouens besef dat die studente nie sal ophou hotdogs koop voor die nommers nie gewissel word of voor hulle eggenote opdaag nie. Hulle het ’n akute sin vir besigheid en wys nie klandisie weg nie. Hy merk bo die juffrouens se koppe ’n pienk plakkaat met baie belofte: Kom hier vir Tonnelworsies. Party goed moet liewer onvertaal bly.

Toe hy sien dat hy nie vinnig gehelp gaan word nie, gaan koop hy calamari by die stalletjie langsaan. Hy gaan sit buite saam met Siegfried. Die kind lyk beangs en opgewonde, sy kop ruk heen en weer. Soos ’n seuntjie by sy eerste sirkus. Hulle deel die calamari. Siegfried is mal daaroor en wil nog hê. Hy sê Siegfried moet self gaan koop. Hy voel oud vanaand. Siegfried druk die plant in sy hande. “Hierso oom praat bietjie met Plant. Hy weet.” Hy sit die plant langs hom neer op die trappie. Hy vat ’n paar slukkies whisky. Sy gewebde vriend het deur die middag vir hom gesê dat hy nie so baie moet drink nie, “anders gaan oom omval en versuip”.

Dit is moeilik om te sien of Siegfried werklik besef dat sy pa dood is. Miskien is dit beter as daardie besef hom nooit binneskiet nie; dit sal hom breek. Nie een van die twee sal werklik sonder die ander kan oorleef nie. Pa en seun het ’n vreemde simbiose gehad. Landman het hom laat begaan in sy wêreldjie van bote en paddas en selfs saamgespeel deur saans, as hy nie te moeg en bedonnerd was nie, vir Siegfried stories te vertel. Hy was een aand in die huis tydens die storievertellery. Siegfried was sewe of ag en twintig en het in sy blou pajamas geluister na sy pa se storie, een oor die ou Grieke.

As hy self geselskap gesoek het, het hy baie maal saans saam met Landman op die stoep sit en praat oor mitologie en letterkunde. Daar op die stoep het dit nie na ontoereikende wêrelde of ’n klomp esoteriese stront geklink nie. Landman kon ook interessante aanvullings maak tot sy kennis van die sespotiges. Hy was nooit op universiteit nie, maar het, soos sy seun, op daardie plaas grootgeword. Die ouer broer, Dirk, was al uit die huis uit toe Jan Landman sy verstand gekry het. Landman het vroeg leer lees en vroeg verleer om met mense te praat.

O om ’n boer te wees wat werk met sy hande in die son die hele ongoddelike dag.

Dreg WEG Louw.

Net ’n bedonnerde belese boer sou ’n naam soos Siegfried aan sy vertraagde nasaat toevertrou. Die paddaman moes vroeg in sy lewe reeds besef het dat sy naam by hom gepas het. Hy was trots daarop. Landman het eendag op die groot koue stoep stilgeraak en ’n minuut of so voor hom sit en uitstaar. Hy het na hom gedraai met ’n glimlag: “Siegfried het gelag met sy geboorte, weet jy? Hy het nie gehuil soos ander babas nie. Hy’s gebore sonder ’n doodsbesef.”

Wat sê mens dan daarop? Die imperator van die plaas het opgestaan en hom daar gelos met idees van reine ontvangenis en laggende geboorte.

*

Hy verkies om ’n statiese punt in die chaos te handhaaf en bly sit met die plant tussen sy bene op die trappie. Die bekende effek van whisky: alle konteks verdwyn; hy begin die wêreld as helder, as totaal sinloos, ervaar. Siegfried kom sit langs hom. Hy staar voor hom uit en begin dan stadig wieg, vorentoe en agtertoe. Toe Smit homself weer kry, is hy besig om saam te wieg. Siegfried glimlag vir hom, al wiegende. Hy probeer sy gesig trek in wat gelees sou kon word as ’n glimlag, maar binne hom skree dit: hier sit twee volgroeide mans in die middel van die Karoo en wieg hulleself, net voor hulle finaal ten gronde gaan.

*

Dieper die nag in kom Siegfried aangehardloop met die lang arms en waaierhande al flappende. Hy neuk ’n vullisdrom om en slaan ’n sigaret uit ’n bepermde vrou se hand. Hy stop, hygend: “Oom oom daar’s ’n heks!”

*

Die karavaan van die heks is geverf met patrone en krulle dis rooi en geel daar is liggies wat rondom skyn. Daar is ’n houttrappie in die karavaan in. Sy voete is te groot vir die trappie. Hy klim op met sy tone. Die heks is oud sy is lelik. Sy is nes die heks wat sy pa van vertel wat in die karavaan met die hoenderpote bly. Sy het kort beentjies en kort armpies. Haar naam is Madam Sosostris sê oom Smet die heks sê sy’t net verkoue haar naam is Cathy. Sy het kaarte waarmee sy speel daar is nie dieselfde nommers en Kings en Queens soos wat sy pa se kaarte lyk nie. Daar is darem ’n Joker. Dit lyk of die Joker van die berg wil afstap. Die oom is eerste hy sê dis eintlik ta-rou nie tar-rôt soos die heks sê nie. Die heks sê Tien rand. Sy lees die oom se hand want hy weet nie die kaarte se naam nie. Sy sê sy lyntjie is kort. Oom Smet sê saggies Fok hy moet buite gaan wag. Oom Smet sluk uit die sakkie in sy baadjie toe hy by die deur is. Die heks sê Sit. Sy kan nie sy hande lees nie sy kan nie die lyne van die webbe verstaan nie. Dit maak draaie wat sy nie van weet nie. Sy lees sy kaarte. Hy moet die kaarte pak in patrone op die tafel dan kan sy begin heks. Sy sê hy is die Joker hy gaan êrens afdonner. Die heks sê die Karoo is nie so plat dat mens nie êrens kan afdonner nie.

*

Toe die kroeg toemaak, kry hy ’n halwe bottel sjerrie by een van die studente wat saam met die pasgetroude laerskooljuffrouens begin dans het. Een van die juffrouens wen die gesogte kroon van Mejuffrou Agterkwart. Hy probeer die student bedank met ’n kort vers van Totius maar vergeet die eerste reël. Die tweede reël is “het eindelik skuimend uitgewoed . . .”

Die student sê: “Like whatever, oom,” en tol die onderwyseres in die rondte.

Hy gaan sit saam met Siegfried langs ’n ry bome aan die rand van die parkeerarea. Daar staan ’n paar jongmense rond wat ’n vuur tussen die motors gemaak het en nou begin wonder waar hulle volgende gaan drink. Een van die meisies staan teen die motor, sy weier om op die grond te sit.

“Die plek is vol oorkruipers.”

Hy neem sy kans waar: “Die benaming ‘oorkruiper’ vir die bekende insek van die orde Dermaptera, spruit uit ’n bygeloof. Die insekte is in der waarheid heeltemal onskadelik, uiteraard.”

“Kak,” voer die meisie se kêrel aan.

Die meisie se selfoon lui, sy lag en sê: “Sure.” Die jonges gooi die vuur dood en jaag weg na die volgende bron van bedwelming.

Agter die ry dennebome is die ronde skoubaan; in die middel van die baan pronk die grootste stuk groen gras in die dorp. Hy en Siegfried besluit om daar te gaan sit. Die gras is nat, die skielike koudheid onder sy gat laat hom ril. Sy kop draai. Hy sien twee Siegfrieds. Die gras wieg.

“Siegfried.”

“Oom?”

“Ons is God se trane.”

“Reg oom.”

“Siegfried.”

“Oom?”

“Jy . . . jou naam . . . jy was ’n held.”

“Oom?”

“Ag, fok Germania. Fok Wagner . . .”

“Oom?”

“Heil jou webbe . . .!”

*

Siegfried skud hom wakker. Die son brand in sy oë.

“Hierso oom. Hierso eet.” Siegfried is besig om iets teen sy lippe te druk. Hy maak sy mond oop en proe dadelik die frank smaak van toktokkie.

“Brekfis oom.” Die webman is die ene tande, heel in sy noppies.

“Dankie, Siegfried. Dankie . . . uiteraard.” Hy druk die kind vas, los dan onmiddellik.

“Oom ons moet ry na oom Bert toe oom.”

“Hoe laat’s dit?”

“Weet nie oom. Maar daardie boer met die perde sê ons moet trap.”

Hy dwing sy oë oop. Die son sit hoog. Hulle is in die graskringetjie in die middel van die skoubaan. En hulle is nie alleen nie. Bakkies, perde, mans, honde.

“Het die modderfokkers jou kom wakker maak?”

“Ek het maar wakker gebly want oom wou slaap dit was bang hier.”

*

Hulle kry die Lammie-oom by die plek van die bokkoppe. Lammie sit in die lorrie die enjin raas hy skree Gee julle boys om om agterop te sit. Die vrou het nou besluit om te saam sê hy. Sy’s gek oor Stellenbosch se coffee shops en wil gaan antieks ook koop. Oom Smet sê Dis uiteraard nie ’n probleem nie meneer en nogmaals dankie. Lammie maak soos ’n vark. Hulle klim agterop die lorrie. Die vloer brand. Oom Smet vra vir bokse om op te sit. Hulle vou die bokse plat en sit. Die Dawie-Lammie-tannie gee ’n bottel water aan van voor af oom Smet klap op die dak die lorrie begin jaag hy gly. Hy sien al die dinge wat vinnig verbygaan die vaal strepe hy was nog nooit verder as die dorp nie hy is bang dis die swart skip by hom hy is koud sy webbe is pap.

*

Wanneer hy aan die slaap raak net voor hy begin met die drome onthou hy. Hy onthou hoe hy in die bad sit. Die warm water is om hom. Sy ma sit by die bad op haar knieë. Sy was hom. Sy laat hom speel met sy eende en bote. Hy kyk vir sy ma sy lyk bly. Sy sit en kyk hoe hy met sy webbe deur die water vee dat dit strome maak. Hy is nie bang in die bad as sy ma daar is nie. Sy swem soos ’n meermin sê sy pa. Die swart skip is ver weg. Hy hou sy asem lank op hy luister na die onderwater se snaakse geluide hy hoor sy eie perde. Onder die water is alles ver weg. As hy met sy waaiervingers deur die water speel noem sy hom My Vissie party kere My Paddatjie. Sy pa vertel hom van paddas wat in die woestyn woon.

*

Siegfried lê en slaap, uitgestrek op die kartonne in die son. Sy kop skud liggies rond soos die vragmotor die slegte pad verder deurtrap. Hy sit sy een voet teen die kop om dit te stut. Hy hou sy oë op skrefies, hierdie son brand nog vandag sy siel droog. Hy vat ’n sluk water uit die bottel. Spoeg dit dadelik uit. Sy kop klop. Hy wonder vir die eerste keer oor die boer se lyk. Bloch sal sy buurmanlike plig pleeg deur die polisie te bel. So nie, sal die lyf begin ruik voor Saartjie, die skim wat net een keer ’n week verder as die kombuis toegelaat is, voorbarig genoeg sal wees om liggies aan die deur te klop.

*

Smit skrik toe die lyf langs hom skielik ruk in die dromery. Daar is geen baard op sy wange nie, byna niks hare op sy arms nie. Selfs die vaalblonde hare op sy kop is yl. Hy sal binnekort bles begin word. Sy plooilose, haarlose vel maak hom enigiets tussen twintig en veertig. Siegfried begin stadig wakker word.

Laingsburg se padbord flits verby. Lammie kyk om en beduie hulle gaan stop. Siegfried sit regop en strek homself uit met sy hande bo sy kop. Die son skyn deur die webbe. Mens kan die aartjies onder die vel sien. Twee eksotiese skulpe soos die Shell-teken.

Hy vat ’n sluk van die bottel warm water, spoeg dit weer uit. Hy brand vir ’n whisky met baie ys.

“Waar’s oom se vrou?”

Hoekom nou eers die vraag? Saam met net sy pa op die plaas was dit nie vreemd dat Smit ook nie ’n vrou gehad het nie. Hier in die wêreld het die meeste mans langs die pad ’n vrou gevat.

“Net hoere, vriend Siegfried.”

“Watse moere oom?”

“Hoere. Regte vrouens is heeltemal te veel. Hoerlywe is bladsye waarop elke drek sy eie storie naai.” Hy bly ’n oomblik stil. “En as jy klaar is. Dan betaal jy.”

“Ek is dors oom,” sê Siegfried.

*

Hy vat die blaar tussen sy vingers hy vee oor die blaar hy voel die gladde lyf van die plant. Die plant maak hom rustig. Hy sien sy ma se gesig dis ver weg goue hare lank en krullerig die gesig is baie wit die lippe is baie rooi. Hy vryf die blare. Haar gesig is dof sy glimlag nie sy weet nie hy kyk nie. Haar oë is swart.

*

Aan tafel in Laingsburg se steakhouse vertel Lammie se vrou dat sy gehoor het Mejuffrou Agterkwart is verkrag deur twee vreemdelinge wat heelaand by haar worsbroodjies gekoop het. “En sy’s g’n mejúffrou nie, die flerrie is getroud met Kabous se oudste. Wat word van die wêreld?”

Smit bestel ’n burger. Siegfried kry ’n bordjie calamari.

“Hoe oud is jy, ou maat?” Lammie probeer geselskap maak.

“Twee en dertig oom. Siegfried oom.”

“My magtag, man. Nee kyk, die naam is Dawie, of Lammie, nes jy wil.”

“Goed oom.”

Die paartjie lag lekker vir die grappie. Siegfried vra nog ’n glas water. Toe die water kom, stap hy daarmee buitentoe. Die paartjie lyk verward. Smit trek sy skouers op. ’n Stilte sak neer, al drie maak of hulle na die R&B-musiek in die agtergrond luister. Hy weet nie wat om te sê nie. Tot nou toe was alle aandag op Siegfried gevestig.

“Weeluise moet nie met ware luise, orde Phthiraptera, verwar word nie, want hulle is eintlik net bloedsuigende, vlerklose stinkbesies wat van die bloed van mense, voëls en vlermuise leef.” Hulle gaap hom aan.

“Issit?” mompel Lammie.

Stilte. Drie dikkopvlieë eet tesame.

Siegfried is godsydank gou weer terug. Lambrechts kyk hom vraend aan.

“Ek het vir Plant gaan water gee oom.”

Lammie se uitdrukking verander nie. “Jy sal eendag ’n goeie tuinier maak,” sê die vrou met ’n flou glimlaggie.

“Mens moet net sorg dat almal genoeg water kry tannie.”

“Sê jy in Laingsburg.” Lambrechts lag alleen vir sy grap.

*

Sy pa vra om te help met die windpomp. Windpompe is mooi as dit aand is hulle is swart die son is rooi hulle draai stadig saam met die wind en steun. Hulle gee water vir die grond. As die windpomp begin te skree weet hy die water gaan kom as die vlerke in die rondte draai. Sy pa sê hy moet ’n ding vashou terwyl hy ’n ander ding sweis. Hy kan nie die ding vashou nie. Die ding is te groot om sy hande oor te kry sy hande vat nie reg nie. Die ding gly. Sy pa sê hy moet met sy bootjies gaan speel. Hy wil nie met die bootjies speel nie. Hy gaan lê in sy kamer. Sy kamer is blou geverf daar is prente van visse en bote teen die mure wat hy uit boeke geskeur het. As hy in sy kamer lê is hy rustig hy is nie hartseer nie. Nou is hy hartseer die prente is simpel. Mens moet ’n windpomp kan regmaak om ’n tuin te kan maak plante kort altyd water. Hy kan nie ’n windpomp regmaak nie. Hy sal nie ’n tuin kan hê nie. Maar hy sal sorg vir die plant sy pa se Bietjie Donnerse Groenigheid.

*

“Ons moet klaarmaak,” sê Lambrechts. Hy neem Smit eenkant, arm om die skouer: “Is jy seker die outjie sal orraait wees agterop? Dis nog ver.” Smit kyk na Siegfried waar hy sukkel om agterop die vragmotor te klim, hoe die hande aanhou gly sonder vatplek.

“Hy sal uithou.”

*

Die swart berg langs die lorrie is te naby. Hulle ry pas. Dis nag en koud die berg is die swart skip. Dis te naby. Alles is pap. Die swart skip is ’n seerowerskip met niks mense op nie skipmense is matrose niemand op die skip nie. Dis groot en swart en stil en kom altyd en maak hom bang. Die swart skip wil hom vang dit wil sy ma vang in die see al die meerminne is bang. Maar hulle kan ondertoe gaan daar’s niks daar onder nie net die onderwaterhuispaleis en mossels en kitare. Die skip is bo. Die swart skip vaar altyd. Die swart skip is altyd daar.

*

“Wat van my visse oom my paddavisse hulle lê en vrek almal hulle gaan nie kan uit nie. Gotta ek het vergeet toe vrek hulle.” Siegfried sit skielik penorent.

“Dis maar vir die beste. Dreg, dreg weg. Niks salf nou te smeer nie.”

“Nie salf nie oom. Water.”

Siegfried het met paddavisse geboer. Behalwe die bote wat hy op die dam laat vaar en sink het, het hy ook by die dam sy eie paddavisplaas gehad. In die vlakwater het hy klein dammetjies uit die klei gebou, nege langs mekaar. Die damwalle is versier met kalksteenklippe vol fossiele. Landman het sy versameling fossiele van skulpe en seediere wat hy op sy plaas raakgespit het, aan sy seun gegee. In die dammetjies het Siegfried paddavisse aangehou. Elke dammetjie se paddavisse was min of meer op dieselfde ontwikkelingstadium. Die laaste dam, die neënde, was hoër as die ander, net hoog genoeg vir ’n volwaardige padda om oor te spring. Siegfried het die paddavisse met ’n lepel verskuif van dam na dam soos hulle gegroei het; by die laaste dam was dit die padda se eie plig om te ontsnap. Dit was duidelik dat Siegfried meer begaan was oor die eerste drie of vier damme. Dié damme is met meer noukeurigheid gebou, en die vissies daarin is met groter aandag dopgehou en na elke millimeter se groei na ’n volgende verskuif. Smit het verstaan: daardie eerste voorwêreldse fases van ewolusie is aangrypend, maar die res, die res is voorspelbaar en teleurstellend.

“Wat gaan word van my paddas oom?”

“Hulle sal vir hulleself sorg. Hulle het mos webbe en vinne, soos jy, hulle sal regkom soos jy regkom.”

“Pa sê daar’s nog bietjie vis in ons almal.”

“Trap versigtig, o altyd so versigtig, vir die gly, vir die terugglip tot vis . . .” Siegfried begin skater. “Ken jy dit, Visman?”

“Dis wat Pa altyd sing in die bad.”

Nou ja toe. Landman dan ook toonsetter? Smit het ook een nag woorde by musiek gesit, ’n banale versie wat hy nooit weer uit sy kop kon verban nie. Dit was ’n jaar of wat na sy intrek op Doerkyk. Dit was byna lig, een nag toe die sterre soos buckfever-kopligte uit die hemel geskyn het. Hy het wakker geskrik in ’n helse geraas en versigtig die gordyn gaan ooptrek. Dit was Wagner wat uit die huis gedonder het. Dit was die klimaks van Siegfried se begrafnismars uit Götterdämmerung. Twee groot luidsprekers is op die stoep uitgedra. Landman het dronk en kaal op die werf gestaan en dirigeer in die opstal se rigting. Lig het uit die huis gespoel; en uit die lig het Siegfried gehardloop gekom en sy pa omhels op die werf. Landman het hom weggestamp. Siegfried het langs sy pa plek ingeneem en ook begin dirigeer. Sy pa het in hom vasgesteier en iets geskree. Siegfried het begin huil en weer die lig ingehardloop. Landman het ’n paar minute op die werf bly staan en toe die huis ingegaan. Oomblikke later het Beethoven se Neënde uit die huis gebulder. Landman was terug op die werf, hierdie keer het hy nie gedirigeer nie, hy het deelgeneem. Die boer het uit volle bors en in ’n vloed trane die laaste beweging saamgesing. Smit het die gordyn toegetrek. Hy kon dit nie aanskou nie.

Die musiek het al hoe harder geword. Smit het probeer om sy bottel in so min slukke moontlik leeg te maak. Hy het opgekrul van die brand in sy maag. Die bottel moes leeg sodat hy kon vergeet. Vergeet van die poel wat hy voor hom gesien het, die poel wat hom laat trek het Karoo toe. Sy huis in die Sederberge. Die vakansiehut wat hy opgepas het vir die Citrusdal-prokureur. Die huis in die kloof. Die huis langs die nartjiebome en die groot poel. Die poel waar die plaaswerker se dogtertjie verdrink het. Die poel waar hy haar sien inspring het. Die poel wat oor haar toegemaak het. Die geskree van die ma langs die poel. Die eggo’s in die kloof. Die mans wat groot draadhake en ploegskare aan toue gebind het en die poel begin dreg het. Die hake en skare wat met blikke en slik, met vrot katte en kondome, sakke en visse en nog slik op die sand uitgedreg is. Die poel wat van hoek tot grot gedreg is. Die kloof wat alles opgee behalwe mens. Die poel wat dae lank alles uitkots wat menselewens volmaak, weke lank, alles wat daar onder in die slik sit. Alles wat die mens onderdompel en versuip en wegsmyt. Die kind wat met ’n ploegskaar uitgedreg word, die rokkie oor die kop, die plastieksak wat in haar oopgevrete binnegoed met ’n barber verstrengel geraak het. Hy wat die dreghaak en die toue om haar lyf stadig sit en lossny. Hy wat geweet het hy moes sy afstand hou. Hy wat gedink het hy het homself los genoeg gemaak van mense. Die vel wat saam met die toue loskom in sy hande. Beethoven se Neënde wat gespeel het daardie oggend terwyl hy ’n gedig oor fisante uitgekak het. Die houthuis in die Sederberge wat hom geleer het van menswees. Die huis wat hy skoongemaak en toegesluit het.

En Landman wat daar buite vir sy grond en vir sy seun en vir sy vrou staan en sing en tjank tot sy stem ingee. Die bottel wat nie wil leegloop nie. Smit wat op sy bed gaan lê en vir homself begin sing om die pa daar buite stil te sing, om homself slaap te maak. Op maat van Beethoven se euforie het hy sag begin:

“Bagger bagger boot wat slyk sleep

Dreg en dreg en verder weg

Dreg dreg wegvee plekmaak skoonmaak

Trek skoon die slyk van menswees

Ek wil nie geheime uitlê

Berge deur geloof versit

Ek wil vlug voor al die kennis

Bagger bagger maak my niks.”

Siegfried

Подняться наверх