Читать книгу Dis mooiweer en liefde - Wilmari Jooste - Страница 4

~ 1 ~

Оглавление

Sarie Cloete kyk met ’n duidelike skuldgevoel na haar jong assistent. “Is jy seker ek moenie vir jou wag nie, Menantheau?”

“Nee, dankie, mevrou Cloete. Gaan gerus. Ek weet mos u het vanaand ’n afspraak.”

Sarie bloos bekoorlik, haar oë skitterend by die vooruitsig om vanaand saam met die man in haar lewe uit te gaan. Sy was lank ’n weduwee, en die geluk wat nou na haar kant toe kom, gryp sy met albei hande vas.

“Gaan nou. U gaan laat wees,” jaag Menantheau die ouer vrou, wat ook haar hoof is, met ’n glimlag aan. Daar is egter niks van die gevoel van hunkering wat sy diep binne-in haar voel op haar gesig te bespeur nie. “Ek belowe ek sal sluit, en môre betyds hier wees om weer oop te sluit.”

“Soos gewoonlik,” glimlag Sarie.

Daar is geen ander dame op die personeel wat sy eerder met die sleutel van die biblioteek sal vertrou as juis Menantheau nie: die fyn meisietjie met haar spierwit, sysagte hare wat laag in haar nek in ’n sagte rol vasgevang word, en perfekte ovaalvormige gesig waarin donkerblou oë treffend uitstaan.

Maar Menantheau glo sy is niks anders as ’n kleurlose, feitlik onsigbare mens nie. Sarie wens sy kon iets doen om die jong meisie van haar eie wanindruk te genees, maar danksy Menantheau se oorlede moeder sal dit geen maklike taak wees nie. Teen haar beterwete probeer sy tog.

“Menantheau?”

Die groot viooltjieblou oë kyk vraend na haar. “Ja, mevrou?”

“Kyk, ek weet dit het niks met my te doen nie, maar daardie vriend van jou ... dokter Kruger –”

Sy word kortgeknip. “Gewese vriend, en as u nie omgee nie, wil ek nie graag daaroor praat nie. Wat tussen my en Kobus was, is lankal verby.”

Sarie hou haar dikvellig. “Jou ma se siekte het tussen julle gestaan, maar sy is nou dood. Hoekom bel jy hom nie?”

Menantheau kyk vinnig weg, maar nie vinnig genoeg om die absolute pyn op die fynbesnede gesiggie te verberg nie. “Ek het probeer, maar ek kon hom nie in die hande kry nie,” antwoord sy skor. “Hy het sy vennootskap verkoop, en hy bly nou in ’n huis wat hy laat bou het.”

“By wie het jy dit gehoor?” vra Sarie.

“Ek het na sy spreekkamer toe gebel om by die ontvangsdame te hoor waar hy bly. Sy het mos in die woonstel langs Kobus gebly. Maar die nuwe ontvangsdame het gesê dat Anet de Beer inderhaas getroud is met ’n dokter en nie meer daar werk nie.”

“En jy neem aan sy is met Kobus getroud?”

“Ek wéét dit. Sy kon nooit haar gevoel vir hom wegsteek nie.”

“Ai, kindjie, ek wens ek kon iets doen om jou beter te laat voel.”

Menantheau kyk op, haar seerkry baie deeglik versluier. Sy glimlag selfs. “Dis nie nodig om my jammer te kry nie, mevrou. As hy nie bereid was om selfs net een jaar vir my te wag nie, dan was my ma tog reg. Sy het hom nooit vertrou nie.”

Sarie lewer liewer nie kommentaar nie. Sy het Menantheau se ma ’n paar maal besoek, en sy weet Salomie le Clerque was ’n bitter mens met ’n smorende besitlikheid jeens haar enigste kind. Natuurlik sou sy Kobus nie vertrou nie ... sy sou géén man vertrou nie, want ’n man sou Menantheau van haar wegneem.

“Jy sal weer iemand ontmoet, Menantheau.”

Menantheau glimlag, maar dis ’n glimlaggie wat sê sy weet van beter.

Toe Sarie uitgaan, bly sy alleen agter in die groot, stil gebou. Sy maak ’n paar laaste administratiewe takies klaar, en drentel dan rustig en op haar tyd deur die rakke om vir haar ’n paar boeke vir die aand uit te soek.

Dan stel sy die alarm, stap uit en sluit eers die binnedeur, daarna die buitedeur en dan die veiligheidshek met die grootste omsigtigheid. Dis egter moeilik met haar arms vol boeke en dan nog met haar handsak ook êrens onder haar arm vasgeknyp.

Sy sit haar pakkaas op die lae muurtjie neer om haar motorsleutels uit te haal. ’n Papier val uit haar handsak en sy druk dit sommer in een van die boeke. Sy kyk bekommerd op toe sy donderweer hoor rammel, gevolg deur ’n verblindende weerligstraal. Dit gaan binne minute begin reën. Sy moet wikkel as sy in haar motor wil kom voordat die storm uitsak.

Maar binne sekondes begin die reën gietend uitsak. In haar haas trap sy skeef en sy gee ’n skerp uitroep van pyn. Sy sit die sleutels in haar handsak op die muurtjie en draai dan hurkend na die lig om na die skade te kyk.

’n Sug glip oor haar lippe toe sy sien dat haar sandaal se hak afgebreek het, en ’n skerp pyn skiet deur haar voet toe sy daarop probeer trap. Sy hoor ’n geluid agter haar en toe sy omkyk, sien sy net hoe ’n donker, skraal gestalte met al haar goed verdwyn.

“Haai! Wag! Kom terug, asseblief!”

Dis egter verniet, en die skelm verdwyn in die gietende reën sonder om hom in die minste aan haar geroep te steur. Menantheau besef dat sy seker dankbaar moet wees. Hier is nie juis mense hierdie tyd van die aand nie. As daardie man ander planne gehad het, sou sy totaal weerloos gewees het. Haar verswikte voet sou dit onmoontlik gemaak het om weg te hardloop.

Maar haar situasie lyk ellendig, besef sy bekommerd. Sy kan nie ry nie, want die skurk het alles gegryp, ook haar sleutels wat nog in haar handsak was. Sy durf in elk geval nie hier padgee nie, want ook die biblioteek se sleutels is weg. Dit sal háár skuld wees as iemand toegang tot die biblioteek kry met die sleutels wat in haar besit was toe dit gesteel is.

Die wind ruk met ’n skerp vlaag aan haar rok en sy bibber koulik terwyl sy aan haar baadjie dink wat in haar geel Kewertjie lê. Sy wip soos sy skrik toe die windvlaag onverwags reën onder die afdak indruk en die koue water die gloeilamp met ’n slag bokant haar kop laat ontplof.

Dit gaan ’n lang, koue nag word, besef sy gelate, en gaan sit in die verste hoekie met haar arms om haar bene gevou om van die koue en reën te probeer ontsnap. Haar voet klop pynlik, maar sy probeer dit ignoreer en laat haar gedagtes doelbewus dwaal na Sarie Cloete, wat seker nou al gereed staan en wag vir haar vriend.

Steve Bender voel soos ’n skurk toe hy uiteindelik tot stilstand kom onder ’n winkelafdak en die boeke neersit om die handsak oop te maak. Juffrou Le Clerque het hom al meer as een keer gehelp met ’n skoolprojek, ook om fotostate te maak as hy nie geld het nie. Maar, besluit hy verontskuldigend, hy moes die kans aangryp toe hy dit sien. Sy ma lyk maar weer sleg vandag, en hy kan hom net haar gesig voorstel as hy vir haar hierdie klomp boeke gee om te lees.

Hy haal die beursie uit en fluit saggies deur sy tande toe hy die geld daarin sien. Hiermee sal hy uiteindelik die geld vir Dennis kan gee wat hy skuld, en dan hoef hy nie meer bang te wees vir die groot seun en sy pelle wat hom al meer terroriseer nie. Maar daar sal genoeg oor wees om nou vir sy ma iets lekkers te koop en dalk môre ’n geskenk ... Iets wat haar weer ’n bietjie sal laat glimlag.

Hy steek alles sorgvuldig weg en stap dan met ’n tienrandnoot in sy hand na die kafee op die hoek. Hy koop vir sy ma ’n pakkie suiglekkers en ’n sjokoladestafie, en stap dan weer loer-loer uit om die goed te gaan haal wat hy weggesteek het.

Toe hy deur ’n oop stuk veld stap waar baie rommel en gemors lê, steek hy die sambreel, die handsak en die bos sleutels daar weg. Môre sal hy dit kom haal en vir juffrou Le Clerque gaan gee. Sy sal nooit vermoed dat dit hy was wat die goed gesteel het nie.

Anna Bender is nog wakker toe haar jongste seun by die huis aankom. Sy glimlag moeg vir hom toe hy in die kamerdeur verskyn.

“Jy is baie laat vanaand. Ek was bekommerd oor jou.”

“Ek is jammer, Ma, maar daar was ’n funksie by die skool en ek moes dit bywoon.”

Hy kyk haar nie in die oë nie en dit maak Anna nog meer bekommerd. “Wat het jy daar in jou hande?” wil sy weet.

Steve glimlag breed en staan nader. “Juffrou Le Clerque was ook daar by die skool. Sy is ’n bibliotekaresse. Ek het haar vertel Ma is siek, en sy het hierdie vir Ma gestuur,” jok hy seepglad.

Hy stap tot voor die bed en hou die boeke vol waterspatsels en die lekkergoed na Anna uit.

“Boeke!” roep sy verbaas uit. “En lekkers! Maar hoekom sou ’n wildvreemde vrou haar oor my ontferm?”

“Juffrou Menantheau werk in die biblioteek. Sy het verlede week gesê sy sal vir Ma boeke stuur om te lees,” jok Steve weer. Die opgewondenheid op sy ma se gesig maak dit deur en deur die moeite werd.

“Ek gaan nou slaap. Ma moet lekker lees,” groet hy vinnig en stap na sy eie kamer toe.

Hy trek uit en klim in die bed. Net vir ’n oomblik dink hy aan juffrou Le Clerque, en hy wonder of sy toe darem reggekom het so in die gietende reën. Daar was nie ’n selfoon in haar handsak nie, dus het sy dit darem seker by haar gehad om iemand te bel.

Hy grinnik in die donker. Met die biblioteek se sleutels weg, gaan almal wat daar werk môre ’n dag af hê.

Nick Bender is verbaas toe hy skraps ná twee die oggend voor die huis stilhou en sy ma se kamerlig sien brand. Dis met ’n gevoel van kommer dat hy van die motorfiets afklim en in die huis instap.

Maar sy ma makeer niks. Inteendeel, sy lyk so goed soos wat hy haar lanklaas sien lyk het.

“En as Ma nou nog wakker is?” vra hy en stap nader. Hy kyk teer af na sy ma, wat baie ouer as haar vyf en vyftig jaar lyk. Sy het nie ’n maklike lewe nie. Nie een van hulle het nie, maar Nick het dit op sy skouers geneem om hulle situasie te verbeter.

“Hallo, my kind. Jy is baie laat vannag.”

“Daar was ’n groot klomp oorsese gaste wat tot laat in die restaurant gesit en kuier het. Nadat hulle weg is, moes ons eers opruim. Maar ek het darem nie rede om te kla nie. Daardie Amerikaners is glad nie suinig met hulle fooitjies nie.”

Hy gaan sit op die kant van die bed en buig nader om haar te soengroet. “En dié klomp boeke?”

“Een of ander vrou was by Steve se skool, ’n juffrou De Klerk. Sy het dit vir my gestuur. Sjokolade en lekkergoed ook. Steve sê sy is ’n bibliotekaresse. Maar Steve het die boeke ’n bietjie nat laat word.”

“Hoekom het sy dit nie in ’n sak gesit nie?” vra Nick met ’n diep frons.

“Ek weet nie.” Anna frons ook nou. “Om die waarheid te sê, ek voel nie heeltemal gemaklik hiermee nie. Steve kon my nie in die oë kyk terwyl hy die goed vir my gegee het nie.”

Nick sien ’n papier uit een van die boeke steek. Hy tel die boek op en maak dit oop om die papier uit te haal. Dis ’n munisipale rekening vir M. le Clerque, Boekenhoutstraat 8.

’n Bibliotekaresse wat boeke so oop vir ’n kind gee en dan nog ’n munisipale rekening daarin vergeet? dink hy.

“Ek dink Ma is reg. Iets klop nie heeltemal nie, maar ek sal wel agter die kap van die byl kom,” stel hy haar gerus.

Hy staan op en rek hom moeg uit, voordat hy oor haar buk om haar nag te soen. “Lekker slaap.”

“Jy ook, my kind,” antwoord sy met deernis.

Nick druk die munisipale rekening in sy sak en stap dan met ’n gedetermineerde trek om sy mond na Steve se kamer. Sonder enige genade skud hy die slapende seun wakker.

“Wat?” mompel Steve nors, maar hy sluk benoud toe hy Nick se gesig sien. “Wat is dit?”

“Vertel jý my, Steve, en onthou, ek is nie Ma wat enige soetsappige snertstorie gaan glo nie. Waar kom jy aan daardie boeke en die lekkergoed wat jy vir Ma gegee het?”

Steve se gesig verraai oombliklik sy vrees. Vir Nick kan ’n mens niks wegsteek nie.

Maar hy probeer nonchalant antwoord: “By juffrou Le Clerque. Sy werk by die biblioteek.”

“Ek is nie onder ’n kalkoen uitgebroei nie, Steve! Uit met die waarheid, of ek foeter dit vannag uit jou uit!”

Nick se harde gesig verklap dat hy nie grappies maak nie. Steve het al ’n paar maal onder hom deurgeloop, dus vertel hy stamelend die waarheid.

Nick se gesig is vertrek van woede toe Steve stilbly. ’n Deel van hom wil vermurwe omdat hy weet dat sy boetie hierdie diefstal ten minste gedeeltelik gepleeg het ter wille van hulle ma, maar hy weet ook dat hierdie kleinboet van hom met heeltemal die verkeerde maats deurmekaar is. Vanaand se daad getuig daarvan dat Steve definitief op die verkeerde pad is.

“Jy laat doelbewus ’n vroumens in die aand in hierdie weer onder ’n afdak gestrand sit?” vra Nick woedend.

“Sy het haar selfoon by haar gehad.”

“Ek hoop vir jou part so, anders kan jy vannag reken op baie meer probleme as wat jy verwag het,” belowe Nick dreigend.

“Wat gaan jy doen?” wil Steve benoud weet.

“Vasstel of sy by die huis uitgekom het. En as jy weet wat goed is vir jou, sit jy nie ’n voet uit hierdie huis uit nie. Ons praat weer as ek terug is.”

Nick stoot sy motorfiets by die erf uit en ’n ent straataf om nie sy ma te laat weet dat hy weer uitgaan nie. Hy wil nie hê sy moet haar onnodig bekommer nie. Toe hy seker is dis ver genoeg, klim hy op die motorfiets en ry na die naaste telefoonhokkie.

Daar soek hy M. le Clerque van Boekenhoutstraat 8 se nommer op, maar al wat hy kry, is ’n S. le Clerque van dieselfde adres. Hy skakel die nommer en laat dit lank lui. Niemand antwoord nie.

Die vroumens is óf ’n vaste slaper óf sy sit nog steeds by die biblioteek. Met ’n grimmige trek op sy gesig klim hy weer op die motorfiets en ry na die biblioteek in ’n deel van Johannesburg waar vroumense dit nie sommer alleen snags op straat sal waag nie.

Menantheau sit gespanne orent toe sy die motorfiets hoor naderkom. Dit stop skuins voor die afdak en sy krimp in die skadu’s weg toe die persoon die lig oor die stoepie draai.

“Juffrou Le Clerque? Is jy hier?”

Sy is te bang om te antwoord, want sy weet dat dit dalk die skelm is wat haar handsak gesteel het en sodoende haar van uitgevind het. Laat hy dan maar liewer dink sy is weg. Die man gee egter nie so gou moed op nie, en sy druk haarself nog kleiner in die hoekie toe hy van die motorfiets afklim en naderkom.

Het hy haar gesien? wonder sy beangs.

Haar antwoord kry sy toe die voetstappe reg in die hoekie waar sy probeer skuil tot stilstand kom. In die dowwe straatlig sien sy die skoene wat ’n entjie uit mekaar reg voor haar geplant is. Stadig kyk sy op. Sy gesig is ’n donker kol waarvan sy geen gelaatstrekke kan uitmaak nie.

Hy steek ’n hand na haar uit en sy stem is sag en kalmerend. “Kom, u hoef nie bang te wees nie. My naam is Nick Bender. Ek is hier om u te help. Ek het uitgevind wat gebeur het.”

Menantheau weet dat sy nie langer daar kan bly sit nie. Sy gaan hierdie vreemdeling se hulp moet aanvaar, of sy gaan in elk geval beswyk van die koue. Daar het ’n snerpende wind opgesteek wat die reënvlae oor die hele stoepie versprei, ook tot hier waar sy sit. Haar hand bewe toe sy dit uitsteek en haar tande klap hoorbaar opmekaar toe hy haar orent trek.

Nick het verwag om ’n ouerige vrou aan te tref, nie hierdie rukkende, verkluimde bondeltjie mens wat skaars ’n dag ouer as Steve se veertien lyk nie.

“Is jy juffrou Le Clerque?” wil hy versigtig weet.

“J-ja,” klappertand sy deur geklemde kake.

“Hoekom het jy nie iemand gebel om jou te kom help nie?”

“E-ek h-het nie ’n s-selfoon nie.”

“Wat is jou naam?”

“M-Menantheau.”

Nick sien dat sy ruk so groot as wat sy is ... of liewer so klein as wat sy is, want sy kom skaars tot by sy skouer. Hy trek sy leerbaadjie uit en help haar om dit aan te trek.

“Kyk, ek is baie jammer oor wat vanaand met jou gebeur het. My kleinboet is verantwoordelik vir hierdie gemors, en ek gaan sy velle daaroor aftrek, maar eers moet ons jou versorg kry. Het jy sleutels vir jou huis, of was dit ook in jou handsak?”

“D-dit was in my handsak.”

Dis waarvoor Nick bang was. “Spaarsleutels?”

Sy skud haar kop. “I-in die h-huis toegesluit.”

“Dan neem ek jou saam met my huis toe,” besluit Nick. Veel langer kan sy nie hier bly nie. Sy sal verkluim. “Kom.”

Haar bene is seer en kramp van die koue en haar voet klop pynlik. Sy struikel toe Nick haar agter hom probeer aan trek. Hy vang haar net betyds.

“Het jy seergekry?” vra hy toe hy die pyntrek op haar gesig sien. “Is dit iets wat my broer gedoen het?” wil hy bekommerd weet.

Sy skud haar kop. Haar hare het losgekom uit die rol en hang in nat slierte oor haar gesig. Met ’n rukkende hand probeer sy dit uit haar oë vee. “E-ek dink ek het m-my voet verstuit.”

Sonder om twee maal te dink, skuif Nick sy een arm onder die waai van haar bene in en die ander oor haar blaaie. Hy tel haar op asof sy skaars ’n veertjie is en stap met lang treë en ’n donker frons op sy gesig terug na die motorfiets toe. Hy sit haar op die saal neer en nadat hy sy valhelm op haar kop gesit het, rits hy die leerbaadjie toe sodat geen koue by haar nat bolyf kan uitkom nie.

Hy klim voor haar op die motorfiets en kyk oor sy skouer terug na haar. “Ek is jammer dat dit al vervoermiddel is wat ek tot my beskikking het. Jy moet net styf vashou, en ek bring jou so gou as moontlik uit hierdie reën uit. Druk maar jou lyf teen my rug vas. Dit sal help teen die koue.”

Hy gee Menantheau nie veel van ’n keuse nie, en sy wonder hoe hy kan sien deur hierdie gietende reën sonder sy valhelm op. Ag, genade, as sy maar net vannag ongedeerd uit hierdie situasie kan kom!

Sy voel eers selfbewus om aan hom vas te hou, maar sy weet baie gou dat sy nie ’n keuse het nie. Sy druk haar koue bolyf styf teen sy rug vas. Onder haar wang voel sy die spiere in sy rug beweeg.

Die leerbaadjie en haar vreemde weldoener het haar bolyf taamlik warm en beskut gehou, maar haar rok klou soos ’n tweede vel om haar bene vas toe die motorfiets uiteindelik tot stilstand kom.

“Bly net so sit,” waarsku die man sag. “Ek gaan die motorfiets die laaste ent tot by die huis stoot. Ek wil nie my ma onnodig laat bekommer nie.”

Menantheau probeer knik, maar sy moet konsentreer om nie van die motorfiets af te val toe hy afklim nie. Haar hande klem spierwit weerskante van die saal en dit voel vir haar asof die motorfiets enige oomblik met haar gaan kantel. Nick bring haar egter veilig tot in ’n motorhuis. Nadat hy die staander afgeslaan het, haal hy die valhelm van haar kop af en tel haar dan van die motorfiets af.

Hy kyk af in haar gesig, wat dof verlig word deur die straatlig.

“Kyk, ek weet jy het rede om woedend te wees oor wat my broer aangevang het, maar mag ek vra dat jy asseblief ter wille van my ma net kalm sal bly? Sy is sieklik, en sy weet nie wat my broer gedoen het nie.”

Menantheau knik. Sy sal nou enigiets belowe om net uit hierdie koue te kom wat deur murg en been vreet.

“Baie dankie. Ek waardeer dit, en ek sal dit op die een af ander manier aan jou vergoed. Kom ons kry jou in die huis.”

Hy dra haar tot by die agterdeur en sit haar neer. “Ek moet net die huis se sleutel kry. Dis in die baadjie se sak,” waarsku hy voordat hy sy hand in die sak steek om na die sleutel te soek. Sy ruk só van die koue dat hy sukkel om die sleutel in die hande te kry.

Hy sluit die deur oop en tel haar dan weer op. Versigtig stap hy met sy bibberende bondeltjie deur die donker vertrekke tot by die badkamer. Daar sit hy haar neer en maak eers seker dat sy stewig staan, voordat hy omdraai om die lig aan te skakel. Vir die eerste maal kyk hulle na mekaar in helder lig.

Nick sien voor hom skaars ’n asempie van ’n meisie. Haar skouerlengte spierwit hare klou nat aan haar gesig vas, en haar donkerblou oë lyk groot en verskrik. Hy wens hy kan iets meer doen om haar gerus te stel, maar hy kan hom indink hoe sy moet voel.

Menantheau kyk op na haar weldoener, wie se naam sy om die dood nie kan onthou nie. Sy weet teen hierdie tyd dat hy geen kwaad met haar bedoel nie, en sy weet ook hulle is nie alleen in hierdie huis nie. Uit wat sy aflei, moet hier ten minste nog sy ma en sy jonger broer ook wees. Die man lyk egter op hierdie oomblik nie baie vriendelik nie, en sy kan hom seker nie kwalik neem nie.

Maar sy stem is steeds sag en kalmerend toe hy sê: “Ek gaan vir jou die stort se krane stel, dan probeer jy so ’n bietjie hitte in jou liggaam kry. Moenie die deur sluit nie. Ek gaan vir jou ’n sweetpak van Steve haal, dit behoort jou te pas. Die stortgordyn is dig. Jy hoef nie bang te wees dat ek jou sal afloer nie.”

Menantheau weet dis ’n baie riskante situasie, maar om een of ander rede vertrou sy die man voor haar. Sy knik baie effens en waag dit nie om te praat nie. Haar tande klap nou éérs opmekaar.

“Sal jy regkom met jou seer voet?”

Sy knik weer, al voel sy nie baie oortuig nie.

Toe hy die deur agter hom toetrek, probeer sy die leerbaadjie se rits ooptrek, maar haar vingers bewe só dat sy niks regkry nie. Toe daar ’n ligte klop aan die deur is, staan sy nog steeds ten volle gekleed.

“Kan ek inkom?” vra Nick sag, en die gesmoorde antwoord laat hom skerp frons. Hy stoot die deur versigtig oop. Dis met die eerste oogopslag duidelik dat die nag se gebeure vir hierdie meisie te veel was.

Hy swets sag toe hy die trane sien wat in haar oë opdam en oor haar wange stroom toe sy na hom kyk. Steve kan dankbaar wees hy slaap al, anders het hy hom sommer nóú gaan bykom.

“Ek k-kry nie die b-baadjie los nie,” sê sy byna verslae, en sy lyk op dié oomblik so verwese dat Nick voel of hy haar net kan toevou in ’n warm kombers en in ’n bed stop. Hy weet egter dat hy haar eers uit daardie nat klere en in die stort moet kry. Hy stap stadig nader, asof hy haar só gerus wil stel.

“Ek weet jy is baie bang en verskrik oor wat vannag alles met jou gebeur het, maar jy weet dat jy uit daardie nat klere sal moet kom om te verhoed dat jy dodelik siek word?”

Haar oë is soos pierings, maar sy beweeg nie weg toe hy naderkom nie. “Sal jy my vertrou om jou te help?” vra hy sag.

Sy antwoord nie, maar toe hy sy vingers uitsteek en die baadjie versigtig losmaak, doen sy niks om hom te keer nie. Hy druk die baadjie oop en dit val van haar skouers af. Met die baadjie wat myle te groot is uit die pad, kan Nick presies sien hoe klein en petite sy is.

Die rok klou nat teen haar vas en beklemtoon elke lyn van haar skraal liggaam. Hy leun oor haar en maak die rok se ritssluiter los. Oomblikke later stroop hy die nat materiaal van haar af. Sy staan rukkend van die koue voor hom in net haar onderklere, maar in hierdie stadium voel sy te ellendig om om te gee ... Hy tel haar weer op en sit haar versigtig onder die warm water in.

Sy rem kermend weg toe die warm water oor haar vel spoel en Nick besef die water brand haar omdat haar vel so koud is. Hy skop sy skoene uit en sonder om aan sy eie klere te dink, stap hy ook onder die stort in en hou haar daar vas.

“Ek weet dit brand, Menantheau, maar dit sal gou beter wees. Jou vel moet net eers warmer word. Oukei?”

“Nee!” kerm sy en probeer wegrem, maar sy verloor haar balans en val teen hom aan. Sy arms vou dadelik om haar. Dan lyk dit asof sy boedel oorgee, want sy bly sommer so teen hom staan en huil.

Nick paai aanmekaar, sy kop laag gebuig en sy mond teen haar hare. Hy voel ná ’n ruk hoe sy teen hom begin ontspan. Haar liggaam ruk minder en sy raak al hoe stiller, totdat sy heeltemal ophou huil.

Beter?” vra hy toe sy uiteindelik roerloos teen hom staan. Sy knik skaars merkbaar met haar kop teen sy bors, en Nick raak bewus van ’n vreemde gewaarwording ... een wat hy nog nooit voorheen in sy ses en twintig jaar ervaar het of voor tyd gehad het nie.

Sy hand vat die bottel sjampoe op die rakkie agter haar raak en hy druk die opwipdeksel oop. Dis goedkoop sjampoe, maar dit het meteens ’n besonder sensuele geur toe hy daarvan op haar hare gooi. Hy sit die bottel neer en met al twee sy hande begin hy die dik vloeistof in haar hare inwerk totdat dit skuim. Haar kop val terug onder die strelende massering van sy vingers, haar oë toe en haar mond effens oop.

Nick se vingers verstil. Haar oë gaan stadig oop en sy kyk vas in die byna swart oë hier reg bokant haar. Vir ’n paar oomblikke kyk hulle intens na mekaar, voordat Nick die stilte verbreek.

“Ek moet jou hare afspoel.” Sy stem is skor.

“Ek kan dit self doen. Ek voel nou baie beter, dankie.” Haar stem klink nie veel beter nie, en sy voel ’n blos teen haar wange uitslaan.

“Is jy seker?”

Dit moet haar verbeelding wees wat haar laat dink hy klink teleurgesteld. Sy word rooi van skaamte voor die intensiteit van sy oë wat so stip na haar kyk, en meteens is die hele situasie vir haar so ongelooflik dat ’n verdwaalde giggel oor haar lippe glip.

Nick frons. “Ek hoop jy ly nog aan skok, want ek kan aan niks snaaks op hierdie oomblik dink nie.”

Menantheau wil hom antwoord, maar sy lag net al hoe harder. Nick herken die tekens van histerie, en buiten om haar te klap, kan hy net aan een ander manier dink om haar reg te ruk.

Die oomblik toe sy mond oor hare sluit, sper Menantheau se oë wyd oop. Ná ’n sekonde kry sy genoeg lewe in haar ledemate om hom te probeer wegdruk, maar Nick se arms sluit soos staalbande om haar lyf. Haar aanvanklike gespartel word flouer en flouer, totdat sy uiteindelik willoos in sy omhelsing staan.

Nick se raad teen histerie boemerang sleg, veral toe sy sag en toegeeflik in sy arms word. Hy probeer homself dwing om haar te laat gaan, maar sy arms reageer net mooi op die teenoorgestelde manier. Hulle hou haar nog stywer teen hom gevange, terwyl sy lippe hare kneus met soene wat al hoe dringender word. Elke deeltjie van haar liggaam pas perfek teen hom aan, en hy voel hoe sy eie liggaam instinktief op haar nabyheid reageer.

Toe sy nog nader probeer wriemel, weet hy dat hy hierdie dwaasheid tot ’n einde moet bring. Baie gou ook.

Met brute selfbeheersing trek hy sy mond van hare af weg en laat val sy kop agteroor om verder van haar mond af weg te kom. Hulle albei is kortasem.

“Hoe oud is jy, Menantheau le Clerque?” wil hy skor weet.

“Vier en twintig.”

Nick is dankbaar om te hoor haar stem klink nie veel beter as syne nie. Haar reaksie was definitief nie sy verbeelding nie.

“Ek is ses en twintig, en dit maak ons albei oud genoeg om te besef dat ons met iets baie onverantwoordelik besig is.”

Menantheau wil huil van skaamte. Wat op dees aarde het haar besiel! Sy probeer uit sy arms wegdraai, maar hy weier om haar te laat gaan.

“Los my! Ek maak nie ’n gewoonte daarvan om net in my onderklere saam met ’n man wat ek van geen adamskant af ken onder ’n stort te staan en ...”

“Vry nie,” voltooi Nick en kyk haar vas aan. “En jy kan vir seker weet ek maak ook nie ’n gewoonte daarvan nie, alhoewel ek met eerlikheid kan sê dat dit glad nie ’n slegte gevoel is nie. Ek kan hiervan begin hou.”

Sy kop sak weer effe laer, maar Menantheau gee hom ’n gevoelige hou in die kortribbes. “Moenie simpel wees nie, man. Ek weet nie eens wat jou naam is nie. Al wat ek weet, is dat julle my vannag deur die grootste ellende denkbaar gesit het!”

Sy gesig verraai die impak van haar beskuldiging, en Menantheau wens sy kan haar woorde terugtrek toe sy arms langs sy sye terugval. Sy wend ’n lamlendige poging aan om die skade ongedaan te maak.

“Ek is jammer. Ná alles wat jy vannag vir my gedoen het, was ek nou uiters ondankbaar. Dit was nie die bedoeling nie.”

Dit lyk nie asof haar verskoning inslag vind nie.

“My naam is Nick Bender, en nieteenstaande die feit dat my broer vannag iets baie simpel aangevang het, is ons eintlik baie ordentlike mense. Ek is jammer dat ons die bron van jou totale ellende moet wees, maar ek sal jou môreoggend self polisiestasie toe neem sodat jy ’n klag van diefstal kan lê.”

Sy stem is koud, en Menantheau weet instinktief dat sy hierdie man nou baie verkeerd opgevryf het. Nick Bender is briesend. Hy draai om en klim uit die stort. Die gordyn word met ’n driftige beweging toegetrek.

“Hier lê ’n skoon handdoek en ’n sweetpak op die wasmasjien.”

Voordat Menantheau iets kan sê, word die deur ferm toegetrek en is sy alleen in die badkamer. Sy sug en begin die seepskuim uit haar hare was.

Toe sy klaar is daarmee, draai sy die krane toe en tree dan baie versigtig uit die stort. Die handdoek en sweetpak lê binne vatafstand. Sy vryf haar vel en onderklere so droog as moontlik en trek dan die sweetpak aan, wat myle te groot is vir haar.

Sy probeer die badkamer netjies maak, maar sy sukkel om die vloer droog te kry. ’n Klop aan die deur laat haar verstyf. Sy hinkepink nader en maak die deur op ’n skrefie oop. Nick staan daar, sy gesig niksseggend.

“Ek het vir jou ’n bed gereed gemaak, en daar staan ’n koppie warm koffie vir jou en wag. Kan ek jou soontoe neem?”

“Ek sal self loop.”

“Dan kom ek nooit vannag in die bed nie. Dis alreeds byna halfvier, en ek moet nog ’n rukkie probeer swot.”

Menantheau waag dit nie om teë te praat toe hy haar weer soos vroeër optel nie. Hierdie keer is sy oorbewus van die man teen wie se borskas sy so knus lê. Sy haal eers weer asem toe hy haar in ’n kamer voor ’n bed neersit. Die linne is oopgevou en die bed lyk baie verwelkomend, so ook die koppie koffie wat op die bedkassie staan. Daar is ook ’n verband op die bedkassie.

“Sit op die bed sodat ek na jou voet kan kyk.”

Sy gesig is so streng dat sy dit nie waag om teë te praat nie. Sy vingers voel-voel versigtig aan haar voet, en toe sê hy: “Jou voet is ’n bietjie verstuit, maar nie erg nie. Jy behoort teen môre weer daarop te kan trap as ek dit nou goed insmeer met ’n anti-inflammatoriese salf en dit dan verbind.”

“Is jy seker?”

“Ja,” antwoord hy terwyl hy haar voet begin insmeer. “Ek het noodhulp tot op die gevorderde vlak. Met my ma wat nie wel is nie, het ek dit nodig.”

Hy draai die verband stewig vas en kom dan orent.

Menantheau kyk op na hom. “Meneer Bender ... Nick, ek is baie jammer oor wat ek vroeër daar in die badkamer gesê het. Ek het dit nie so bedoel nie. Jy het nie nodig gehad om my daar by die biblioteek te kom haal en hier na julle huis te bring nie. Ek weet ook nie wat die beweegrede vir jou broer se optrede was nie, maar asseblief, ek het geen begeerte om die polisie by hierdie saak te betrek nie.”

Hy kyk ’n oomblik stip na haar. “Moenie oorhaastig besluit nie. My broer het baie dwaas opgetree, en hy sal kortgevat moet word.”

“Weet jy dalk waar hy met my goed heen is? Ek is bekommerd oor die biblioteek se sleutels.”

“Is daar iemand wat ’n stel spaarsleutels het?”

“Ja, daar is spaarsleutels in die munisipale kantore.”

“Ek sal hulle vroeg môreoggend skakel en die situasie probeer verduidelik, en wanneer Steve jou handsak en sleutels opgespoor het, sal ek sorg dat jy ongedeerd by die huis kom. Ek vra ook verskoning vir my optrede in die stort. Ek dring my nie normaalweg so aan ’n meisie op nie. Goeienag.”

Hy draai om, maar steek in die deur vas. “Trek uit daardie nat onderklere. Hang dit daar oor die stoel.”

Die kamerdeur het lankal agter hom toegeknip, toe sit Menantheau nog steeds woordeloos op die bed. Nick Bender het so onverwags in haar lewe gekom dat dit voel of ’n orkaan haar getref het. Sy weet niks van hom af nie, behalwe dat hy baie sleg voel oor wat sy broer gedoen het en dat hy letterlik uit sy pad gegaan het om te vergoed daarvoor, dat hy baie besorg is oor sy ma, en dat hy soos ’n droom soen.

Sy lig haar hand en druk dit veersag teen haar lippe. Dis die eerste keer in ’n jaar dat iemand haar soen, en sy moet erken: dit was aangenaam genoeg om haar te laat dink dat Sarie Cloete tóg reg was. Sy hoef nie op haar herinneringe aan Kobus Kruger te teer nie.

Sy staan op en trek die nat onderklere uit soos Nick beveel het. Met die sweetpakmateriaal grof teen haar vel, kruip sy tussen die lakens in. Slaap bly haar ontwyk omdat haar vel seer en sensitief is.

Ná ’n ruk gee sy boedel oor. Sy staan op en eers toe sy die sweetpak uitgetrek het en net die linne knus om haar lyf vou, raak sy aan die slaap.

Dis mooiweer en liefde

Подняться наверх