Читать книгу Tweegevreet - Zirk van den Berg - Страница 4

I

Оглавление

Stempsky was al ongedurig nog voordat hulle na die luiperdaanval uitgeroep is. Hy het vroeg opgestaan, sy beddegoed gladgetrek en die trommel reggepak waarin hy al sy aardse besittings hou, maar hy kon die ding wat uit plek is, nie kry of regstel nie.

Miskien is dit die gesig in die spieël, dink hy terwyl hy skeer, en draai om ’n driekwartaansig van sy seepgesmeerde wang te kry, en skraap dit met die skeermes skoon. ’n Sterk kakebeen, gebeitelde gelaatstrekke, hoewel die vlees kwesbaar is vir die lem, met ’n snytjie of twee om dit te bewys. Yl wenkbroue laat hom ietwat weerloos lyk, soos ’n bokser wat al te veel houe in die gesig gekry het. Donkerblonde hare met ’n natuurlike krul; oë so donker dat sy pupille onsigbaar is, behalwe wanneer die son hulle teen ’n sekere hoek tref en die irisse soos mahoniehout gloei; ’n koperkleurige bokbaard en bypassende snor met opgekrulde punte; lenige lyf, ’n aks groter as die gewone. Menige man sou wat wou gee om in sy skoene te staan, maar hy is nie seker hy kan dit met homself uithou nie.

Hy roer die skeerlem in ’n kom koue water om van die skuim en stoppels ontslae te raak, vee dit met ’n verslete handdoek droog en vou die lem terug in die hef. Sy onderlip is geswel en seer, en hy druk daaraan met sy tong. Dit het laas winter ook gebeur, oor die koue, droë lug. Dis soos om ’n bysteek te hê wat nie regkom nie. Hy droog sy gesig af en dra dan die kom buitentoe, oor die kaal, klipperige werf, met sy skaduwee agterna, dun soos ’n pendoring in die skuins oggendson. Hy skiet die water oor ’n bossie; ’n mens kan dit nie vermors nie. Hoenders kom kloek om sy stewels. Hy maak of hy hulle gaan skop en hulle spat uiteen. Hy is in sy onderhemp, bly oor die koue se byt op sy vel. Selfs al is dit Julie en die nagte bitterlik koud, sal die temperatuur oor ’n uur of wat, sodra die son van die kim losgeglip het, styg tot twintig grade of meer.

In die kampie langs die polisiekantoor staan ’n paar perde. Agter hulle is die landskap wyd en chaoties, die oppervlak ’n gefrommelde landkaart vol grys bossies soos kolle muf. Na die ander kant toe, weswaarts, rys Gamsberg blou en bonkig en dui die einde aan van die gebied wat die owerhede hier in Duits-Suidwes-Afrika as beskaaf beskou.

Stempsky hoor eers hulle stemme en dan sien hy die twee Nama-seuns wat met die paadjie van hulle nedersetting af kom met ’n bierbottel vol melk, waarskynlik nog warm van die koei. Hulle lyk opgewek, lag en stamp mekaar met die elmboog. Hy lig sy hand om te groet en ontlok breë glimlagte op die bruin gesigte met hul byna Oosterse gelaatstrekke. Om die twee seuns te huur, was feldwebel Dudeck se idee, sodat hulle polisiemanne minder tyd aan oorlewingstake hoef af te staan en beter op hulle eintlike taak kan konsentreer – om Duitse heerskappy oor die land te vestig. Daar word van hulle verwag om nie net polisiediens te doen nie, maar ’n bestaan te voer in hierdie ongenaakbare, ongetemde land – hulle moet self die geboue oprig waarin hulle werk en slaap, en ten minste ’n deel van hulle eie kos kweek. Blikkieskos en droë kruideniersware, hardeware, instruksies en betaling kom van die hoofkwartier in Windhoek af, en verslae gaan terug soontoe.

Omdat dit Sondag is, benut die twee kollegas met wie hy die barak deel die kans om laat te lê. Feldwebel Dudeck se agterent het die besondere vermoë om ’n halfuur voor sy baas wakker te word en die res van hulle met trompetgeskal te wek, terwyl hulle lywige bevelvoerder sy gesig in sy kussing gedruk hou. Reiter Bock is ook nog in die bed. Hy skryf al weer ’n brief vir daardie vrou in Berlyn op wie hy so versot is. Al skryf hy soveel briewe, het Stempsky nog selde gesien dat hy een gee om gepos te word.

Die jong man het duidelik nie die vereiste aantal jare se militêre ervaring om aan die landespolizei toegedeel te wees nie, en om selfs in die eerste plek as soldaat na Suidwes-Afrika gestuur te geword het nie; iemand moes toutjies getrek het. Toe Bock vier maande gelede vir die eerste keer hier op Hochnamib aankom, het Stempsky en Dudeck albei hulle bedenkinge gehad. Die kêrel was skaars meer as ’n geraamte en die manier waarop die vel oor sy benerige gesig span, het daardie indruk versterk. Nogtans doen hy wat van hom gevra word. Hy het selfs ’n bietjie lyf gekry.

Bock is ontwykend wanneer hulle hom pols oor die plaaslike opstand ’n paar maande gelede, toe hy dieper betrokke geraak het as sy twee meerderes. Al wat hulle vir seker weet, is dat Bock lewendig daarvan afgekom het, hoewel hy sedertdien taamlik terughoudend is, dat die rebelse dorpsmense teruggekom het Hochnamib toe, en daarmee saam die rustigheid wat die streek voorheen geken het. Die skoolmeester wat die opstand gelei het en ’n handjievol van sy volgelinge lê nou in grafte in die begraafplaas anderkant die nedersetting. ’n Tienerseun het uit die dorpie verdwyn, maar daarbenewens lyk dit asof almal eerder ná April se tragiese gebeure net vorentoe wil kyk.

In die rustige maande sedertdien het die drie polisiemanne hulle groentetuin uitgebrei en genoeg hoenders gekry om te sorg dat hulle eiers het vir ontbyt en een of twee maal per week van die pluimvee self vir aandete kan geniet. Hulle het ’n hokkie agteraan die vierkantige baksteengebou opgerig vir hulle gereedskap en rytuig en het die aanleunkombuis in ’n stoep omskep met halfhoogte mure en twee vierkantige pilare langs die deuropening.

Dit is waarheen die seuns mik, komieklik in die stukke weggooi-uniform wat om hulle klein gestaltes flap. By die hoek steek die twee vas en ’n oomblik later hoor Stempsky hulle gelyk roep: “Baas!” Die Boerewoord het die gewone manier geword waarop die plaaslike bevolking enige wit man aanspreek. “Kom kyk!”

Toe hy naby genoeg kom dat hy om die gebou se hoek kan kyk, sien hy wat hulle sien – ’n sebravul het in die heining rondom hulle groentetuin verstrengel geraak. Hy bokspring en ruk en probeer hardloop, maar sy kop en linkervoorpoot is in die drade vasgevang. Hy moes deurgetrap en toe vasgewoel geraak het hoe meer hy spook om los te kom. Sy ma staan ’n entjie daarvandaan, draf lugtig weg van die mense af, maar steek dan vas en kyk terug, gee vir Stempsky ’n perfekte sy-aansig van daardie byna hipnotiese swart strepe. Hy het nog nooit ’n sebra van so naby gesien nie.

“Skiet hom!” hits een van die seuns hom aan.

“Skiet die merrie eerste,” stel die ander een voor, “voordat sy wegkom. Dan kan ons die vul doodmaak.”

Die seuns se reaksie is verstaanbaar – die sebras is kos, en die velle gesog, maar Stempsky het al genoeg doodslag in hierdie land ervaar. Hy loop nader om te sien of hy die vul kan loskry, maar toe hy nader kom, maak dit die dier so bang dat hy selfs nog woester begin bokspring. Een van die drade sny in sy skeen.

“Hanou,” fluister hy, maar dit het geen uitwerking nie en hy tree stadig terug.

Hy twyfel of hy die dier sal kan beetkry en sy ledemate beweeg om hulle los te wikkel. Die vul is nog bloedjonk, maar Stempsky vermoed hy sal te sterk wees om onder beheer te bring, veral in so ’n paniek. Hy wil nie geskop of gebyt word nie, en kies dus koers na die gereedskapshokkie toe – net kophoogte mure met ’n skuins sinkplaatdak en ’n plankdeur. Die bietjie gereedskap wat hulle het, word hier gehou – twee grawe, ’n byl, ’n saag, twee tange, ’n hamer, perdeskoene, spykers en ’n paar ander ditjies en datjies, sowel as hulle rytuig. Hy lig die draadknipper van die spyker aan die muur af en keer terug na die sebravul toe. Hy loop stadig, met sy arms langs sy sye, en probeer so onbedreigend moontlik lyk. Die vul word nie daardeur geflous nie; hy het skuim om die bek en sy asem roggel. Hy skop sand en klippers op. Daar anderkant draai die merrie weer asof sy wil weghardloop, maar sy beweeg nie ver nie – sy hou aan omdraai sodat sy weer na haar vul en die man kan kyk, een voorpoot in die lug wat nou en dan aarselend afsak asof sy wil voel of die grond nog daar is.

Stempsky loop met die heining langs, maak lae geluidjies in sy keel wat hy hoop kalmerend sal wees, hoewel hy geen idee het hoe dit vir ’n sebra sal klink nie. Die vulletjie probeer wegkom van hom af, maar vergeefs. Die ganse heining skud, die drade soos kitaarsnare wat gespeel word. Hulle het die draad hoofsaaklik gespan om weidiere uit die groentetuin te hou. Hierdie tyd van die jaar is daar skaars enige groenigheid in die veld, en die sagte groen spinasie- en blomkoolblare is onweerstaanbaar vir vee en wild.

Stempsky bereik die naaste heiningpaal, skaars anderhalfmeter van die verwilderde dier af. Hy sien die wit van sy oë en die snot wat in sy neusgate borrel, die nog wollerige pels, nie so glad en hard soos ’n volwasse sebra s’n nie. Hy lyk meer donkie as perd, en so wild soos enige dier wat Stempsky al ooit gesien het. Hy vat die swaar draadknipper in albei hande, sit die kake om die boonste draad en druk die handvatsels na mekaar toe. Die draad breek met ’n piengklank. Stempsky versit die knipper haastig na die volgende draad toe en dan die een daarna, en sien die sebravul se bewegings word vryer namate die draad losser raak.

Die dier trappel en ruk en spring dan los, draai om en hol na sy ma toe, wat ondanks die mense se dreigende teenwoordigheid nader gekom het. Sy lig haar neus en gee sulke sebrablaffies. Die kleintjie antwoord, en dan is hulle herenig. Hulle raak aan mekaar met hulle neuse, vryf vel teen vel en draf saam weg, klaarblyklik tevrede dat die natuurlike orde herstel is.

Stempsky kyk hulle agterna, bly om hulle onthalwe, hartseer vir sy eie ma, en vir ander ma’s wie se kinders nie teruggekom het na hulle toe nie.

Dit lyk asof die sebratjie vryelik beweeg. Die diere draf in ’n holte af en toe kan hy hulle nie meer sien nie. Die geluid van hulle twee se hoewe klink op in die stil oggendlug, ’n ritmiese murmeling, en dan verslaan ook dít.

Die seuns staan by die kombuis. Die voor-op-die-wa ene, die een wat Dudeck besluit het om Dawid te noem, praat eerste: “Daar gaan ’n hoop goeie kos.”

“Ek hou nie van sebra nie,” sê die ander een, Jonatan – ook nie sy regte naam nie.

Dawid is nog op die oorlogspad, en beduie na die stukkende heining toe. “Wie gaan dit nou regmaak?” Die seun het ’n sekere eiegeregtigheid wat van hom ’n natuurlike leier maak.

Stempsky is nie seker of hy Dawid sou kon uitstaan as die noodlot hom nie vanweë sy ras en ouderdom bo die seun gestel het nie. “Moet jou maar nie daaroor verknies nie, ek sal dit doen – nadat ek ontbyt gehad het.”

Die seuns vang die skimp en loop druipstert kombuis toe.

Stempsky vat die draadknipper terug na die gereedskapshokkie en stap dan oor na die perde toe. Dat hy die sebra kon verlos, het hom opgebeur. Nogtans kan hy nie wag om weer uit te ry nie. Hy hou daarvan om aktief te wees, dit hou sy kop besig. Hy en Bock gaan die meeste dae op patrollie, hulle hou ’n ogie oor dinge en maak seker dat hulle raakgesien word. Hulle is die enigste sigbare blyke van Duitse gesag. Daar is natuurlik setlaars, maar hulle het hulle hande vol om net te oorleef, en dan is daar die paaie, dof en leeg vir dae aaneen. Daar is ’n telegraafkantoor op Haris, maar dis omtrent twee derdes van die pad terug Windhoek toe.

Hy hou van die moontlikhede wat hierdie land bied. As hy hier ’n vrou kan vind, sal dit vir hom gans onnodig wees om ooit terug te gaan Duitsland toe. Hy het al klaar iemand in gedagte, maar sy het nog maar onlangs haar man verloor en is boonop baie beter daaraan toe as hy. Dit kwel hom dat sy dalk enige toenadering van sy kant af sal beskou as onvanpas, ’n fortuinsoekery, of albei.

Hy het nie meer bande met sy vaderland nie, net die ou vrou vir wie hy briewe skryf en wat dalk nie meer lank gaan lewe nie. Haar briewe bevat al hoe meer verwysings na dokters en dae in die bed. Hy verwag om binnekort verlos te wees van daardie verpligting. As hy soos daardie sebravul eers die drade afskud wat hom vashou, as sy laaste bande met die Hans Stempsky van ouds wegval, lê die lewe vir hom oop.

* * *

Siegfried Bock sukkel om die geesdrif bymekaar te skraap om selfs net voor te gee dat hy ’n brief aan Traudl Dehlinger skryf; nog een om te voeg by die ongeposte stapel in sy trommel wat dien as dagboek van sy lewe en gedagtes hier in Suidwes-Afrika. Hy gee die stryd gewonne en staan op. Daar is niks dringends om op ’n Sondagoggend te doen nie, maar hy het genoeg daarvan gehad om in Dudeck se walms te sit.

Hy trek sy uniform aan, die donker kakie wat hom identifiseer as ’n militêre man, en die rooi band, skuins van skouer tot heup, wat wys hy is in die polisie. Hy is gesekondeer uit die leër, waar hy nie goed reggekom het nie. Die polisiemag is nog nie behoorlik op sy voete nie en bestaan hoofsaaklik uit soldate wat aan polisiediens toegedeel is. Siegfried is ook nie seker of hy vir die polisie uitgeknip is nie, maar ten minste is hier minder mense met wie hy oor die weg hoef te kom.

Hy verlaat die barak en struikel byna oor die groot geel brak wat hom ’n ruk gelede by die polisiekantoor kom tuismaak het. Die hond dink die hele werf is sy slaapplek en hulle moet keer om hom van hulle beddens af te hou. Nou lê hy vlak voor die deur. Siegfried trap oor hom en loop ’n ent die veld in. Die omgewing inspireer hom steeds, dit is so anders as enigiets wat hy voorheen geken het. Hy doen deesdae moeite om die verskillende diere, voëls, bome, insekte en akkedisse te herken, en om hulle name te leer. Toe hy om die gebou se hoek kom, kyk hy af na die Hochnamib-nedersetting net meer as ’n kilometer ver in ’n droë rivierloop se kronkeling, en besluit om eerder na die ander kant toe te mik, waar hy minder tekens van menslike teenwoordigheid sal sien.

Die heining om die groentetuin is stukkend, maar hy sien niemand wat vir hom sal kan sê waarom dit so is nie. Die perde in hulle kamp wei rustig – Dudeck en Stempsky het albei vosperde, syne is appelblou. Hy loop by hulle verby. Noorde toe is daar net ongereptheid, soos dit moes gelyk het voordat die eerste mense hier aangekom het. Van ver af lyk die landskap leeg, maar van naderby is dit vol gediertes wat hop, vlieg en kruip. Insekte zoem verby sy ore. Iets skarrel in die droë gras, ’n bloukopkoggelmander lê en hyg op ’n klip, vaal versamelvoëls sing, vlerk-teen-vlerk op ’n tak ingepak. Teen die volgende helling knibbel ’n steenbokkie aan ’n latjiesbos. Hy skrik momenteel vir ’n moontlike bedreiging, kyk rond en wend hom dan weer tot die blaartjies.

Voordat hy hierheen gekom het, het Siegfried hom voorgestel hoe Afrika moet wees, maar in sy drome het Afrika slegs bestaan uit verre berge, groot diere en wilde stamlede, nie dit wat nou om hom is nie. Hy het alles gesien soos wat ’n mens na ’n prentjie kyk – hy was nie deel daarvan, omring deur wildernis waaruit hy nie kan wegkom nie. Van waar hy nou staan, kan hy honderde kilometer in enige rigting gaan en steeds in Afrika wees.

Wat ’n plek vir ’n boekwurm uit Berlyn om hom in te bevind!

Tog kan hy nie dink dat hy ooit sal terugkeer na die lewe wat in sy herinneringe draal nie. Dis nou ’n vreemdeling se lewe daardie. Hy was altyd die skepper en hoofkarakter van ’n verhaal in sy kop, maar iets het gebeur vandat hy Suidwes-Afrika toe gekom het. Sy ou aannames moes wyk voor die harde werklikhede van hierdie land; nie net oor die natuur nie, maar ook die aard van Duitse heerskappy. Min van die plaaslike mense verwelkom hulle – party verdra hulle en ander kom in opstand. Oorlog woed nog in die suide, tussen die Duitse schutztruppen en Nama-kommando’s wat hulle soos wildehonde in die lieste hap en op vlug slaan sodra hulle draai om terug te veg. Die manier waarop sy mense hierdie deel van Afrika in Duitse grondgebied verander, ontwrig almal wat hier woon se lewens. Party van sy landgenote doen laakbare dinge; hy het dit met sy eie oë gesien en wonder of hy gedoem is om hulle skuld te deel.

Hy voel gestroop van vrede en voorneme, geteister deur sy eie tekortkominge. Die Siegfried Bock wat in Maart in Suidwes-Afrika aangekom het, het stuk vir stuk doodgegaan, van die eerste keer dat hy swart vroue gesien het wat as trekdiere gebruik word, tot daardie verskrikking wat hy agter ’n duin in die Kalahari aanskou het. Beelde van daardie rooi sand, die stowwerige swart vel, glinsterende bloed en die gapende vlees teister hom steeds wanneer hy sy oë toemaak. En dan voel hy die skudding in sy hand toe die mes van ’n ribbebeen af glip tot in die hart van ’n man wat boos was, maar nogtans ’n mens, een wie se bloed die sagte vel in die V tussen Siegfried se wysvinger en duim gevlek het. Hy staan self nie onskuldig nie. Hy is ’n vyand van hierdie land se mense en ’n verraaier van sy eie.

Sy dae het ’n sussende eenselwigheid gekry, met roetines wat hy uit noodsaak volg – om te eet en kos te kweek, om sy toerusting en lyf te versorg, en te doen wat hier rond van ’n polisieman verwag word, wat meestal daaruit bestaan om na ver plekke te ry en dan terug. Hy sien uit na iets wat die patroon kan breek, maar is terselfdertyd bang om in ’n situasie te beland waar hy daadwerklik sal moet optree. Vir ’n wit man in Afrika is dit ’n komplekse saak vol slaggate. Die dinge wat hy elke dag doen, is sy lewe, soos vir almal. Dit behoort genoeg te wees, sê hy vir homself, maar hy is jonk en geneig tot drome. Hy vind dat hy wens vir iets groters, ’n roeping of doel – rigting vir sy lewe. Hy het geen idee watter vorm dit kan aanneem nie, en kan hom nie eens voorstel waar die nodige impuls vandaan kan kom nie. Hierdie leegheid kan nie so aanhou nie. In hierdie dop wat hy tans is, moet ’n nuwe identiteit vorm aanneem.

Hy hurk en druk sy palm plat op ’n stukkie kaal sand, voel die grond se koue na die nag. Hy sien die sonlig op sy arms, maar voel dit nog nie. Dit sal nog kom, eers die gloed en dan die brand daarvan. Die bries is koel om sy ore, dit roffel met ’n ritmiese klank … nie die geluid van goggas nie, besef hy, iets anders. ’n Perd op galop. Hy kom orent, kyk in die rigting waar die klank vandaan kom en sien dan beweging op die rant in die ooste. ’n Skommelende swart vorm verskyn, word groter en skerper, ’n man wat sy perd hard ry.

Siegfried klap sy hande skrams teenmekaar om die stof af te kry en loop terug polisiekantoor toe, waarheen die ruiter op pad is, ongetwyfeld met belangrike nuus.

* * *

Die boodskapper, ’n tienderjarige plaaswerker genaamd Zacharias, kom van Zweibrunnen af. Hy deel hulle ontbyt, hoewel hulle by die tafel sit en hy, synde swart, staan, met sy bord op die heuphoogte muur wat ’n uitsig op die oop veld bied. Die twee Nama-seuns bedien hom soos wat hulle hul base bedien; hulle eet hulle ontbyt agterna. Zacharias eet met algehele toewyding. Sy lippe krul om elke mondvol, sy kieste pols soos hy kou. Selfs die vel op sy smal, hoë voorkop beweeg terwyl hy eet.

Zacharias het hulle min vertel, net dat frau Jürgens gister bekommerd geraak het toe haar man se perd alleen van die veld af terugkom. Hulle het gaan soek en die boer se lyk vroegaand gekry, blykbaar deur ’n luiperd aangeval. ’n Paar van hulle het agtergebly om die liggaam te bewaak. Met eerste lig is Zacharias daar weg om die polisie te kom roep. Niemand hier rond is heeltemal seker wat die polisie se rol is nie, maar raai dat ongewone sterftes wel in hulle kraal pas.

Dudeck besluit, heel tipies, om sy twee ondergeskiktes saam met die boodskapper na die lyk toe te stuur terwyl hy agterbly om die fort te hou – laasgenoemde beswaarlik ’n gepaste beskrywing vir die afgewitte tweekamergeboutjie wat die Kaiserliche Landespolizei Hochnamib huisves.

Na ontbyt neem Zacharias vir Stempsky en Bock na sy baas se plaas toe, teen ’n gemaklike galop in plaas van die dolle gejaag waarmee hy na die polisiestasie gekom het.

Siegfried is bly om weer in die saal te wees – hy is wel klein en lig in sy stewels, maar op ’n perd se rug is hy enige man se gelyke. Net die rede vir die rit demp sy gees. Hy het herr Jürgens geken en onthou dat die man juis eenkeer met hom gepraat het oor ’n luiperd wat hy wou jag. Die boer moes omtrent sestig gewees het en daar was ’n permanente kankerseer op sy lip, maar hy het in die geheel gesond gelyk en het seker verwag om nog baie jare te lewe. Die bedreiging van oorlog in hierdie geweste het verbygegaan. Tog bly dit ’n ongenaakbare land waar niks maklik kom nie, buiten ontsag vir die natuur. Dit kan jou te eniger tyd oorval – jy kyk na berge in die verte, ongelooflik skerp in die helder lug, en jou hart ruk in jou borskas. Toe Siegfried aanvanklik as soldaat hierheen gekom het, het hulle gehoor dat berge in die vertes baiemaal sewe keer verder is as wat dit vir Europese oë lyk, vanweë die skoon lug. Die landskap het mense soos Jürgens se verbeelding gaande gemaak. Hy het ook as soldaat hiernatoe gekom, een van die eerstes, onder Von Francois doer in die vroeë 1890’s, en aangebly as setlaar, met sy vrou wat haar by hom kom aansluit het. Ondanks die veelvuldige gevare het die boer met die natuur kragte gemeet. En nou het een van Afrika se groot roofdiere hom doodgemaak. Al is dit ook hoe tragies, voel dit vir Siegfried na ’n goeie manier om die lewe te laat.

Die drie ruiters ry ’n ver ent van die plaashuis af verby, hou reguit aan na waar die lyk lê. Siegfried wonder of die Jürgense kinders het. Hulle steek ’n rant oor en daar is dit: drie mans wat onder ’n kameeldoringboom in ’n wolk tabakrook sit, en so twintig meter daarvandaan, in die geel gras, ’n gestalte met ’n bloedbevlekte blou hemp. Die mans wat wag is almal donker van gelaat, Damaras, nie die Namas waaraan hy in die nedersetting by Hochnamib gewoond geraak het nie. Hulle kom op die been en die ruiters klim van hulle perde af. Daar is ’n groetery en dan vra Stempsky: “Is hy nog soos julle hom hier kom kry het?”

Die oudste man knik. Sy baardpluisies is vol grys en sweetkolle maak patrone op sy hoed. “Ons het klippe gegooi om die aasvoëls te verwilder, en ’n jakkals wat kom snuffel het.”

“Nou kom ons gaan kyk.” As die senior loop Stempsky voor, en gaan staan omtrent drie meter van die lyk af.

Die koue naglug het die ontbinding vertraag, maar tog neem Siegfried iets daarvan waar, nog nie walglik nie, net ’n sweempie. Hulle loop om die toneel en bemerk buiten die dooie man self niks ongewoons nie. As polisiemanne moet hulle lyk asof hulle iets weet, maar feit bly staan dat die mense wat hulle hulp ingeroep het, veel bekwamer is om sin te maak van die spore rondom die lyk.

“Dus … luiperd?” vra Stempsky.

Die oudste man hurk en wys in die stof. “Sien jy daai spoor?”

“En hierso.” Zacharias wink hulle nader.

Die spoor is so duidelik dat selfs Siegfried dit kan uitken, ’n afdruk in bloed op ’n gladde klip, met ’n vlieg wat daaroor loop.

Toe hy weer na die lyk kyk, merk Siegfried nog heelwat vlieë. Vir hulle is dit ’n fees. Hy bind ’n sakdoek oor sy neus en mond en Stempsky doen dieselfde. Hulle twee lyk soos die rowers in daardie cowboy-boeke van Karl May wat hy as kind gelees het. Hulle loop versigtig nader, al is daar niks wat Jürgens ooit weer wakker sal maak nie.

Die boer lê op sy rug met een hand oor sy opgeblase maag gevou, en die ander uitgestrek na waar sy geweer lê. Een voet is agter die ander knie ingevou. Sy gesig is na die kant toe gedraai, weg van hulle af. Siegfried loop om, gewalg deur wat hy sien – ’n flap van die dooie man se kopvel hang los en die vel op sy gesig is geskeur, met een oogbal wat uithang, half verdroog. Dit kon tydens die aanval gebeur het, of later. Iets het beslis aan hom gevreet. Sy keel is uitgeruk.

Siegfried tel die geweer op. Daar is ’n leë patroondop in die kamer. As Jürgens dit nie vir veiligheid daar gehou het nie, het hy ’n skoot afgevuur. Siegfried ruik aan die loop en neem spore van kordiet waar. Hy kan nie seker wees nie, maar dit lyk asof die geweer afgevuur is sedert dit laas skoongemaak is. Hy tel die patrone in die magasyn en sien daar is dalk ’n tweede skoot ook gevuur. Jürgens het nul, een of twee skote geskiet, waarskynlik laasgenoemde. As Siegfried reg is, moet die doppies hier iewers wees.

Op daardie oomblik ontsnap gas uit die lyk; dit maak ’n borrelgeluid. Dit laat hulle almal skrik, maar hulle beperk hulle reaksies tot ’n vinnige ruk van die kop. Maar nie die jongste van die plaaswerkers nie. Hy jil en dit lyk asof hy swaartekrag heeltemal te bowe kom toe hy spring en in die lug bly hang vir wat na ’n onmoontlike lang tyd voel, sy bene opgetrek en arms uitgestrek, sy oop hemp soos ’n vlermuisvlerk. Toe hy land, al vloekend, bars almal uit van die lag ondanks die dood se teenwoordigheid.

Dan fynkam Siegfried weer die grond. Hy is redelik seker hy sien spore van ’n beslaande perd, die merke van ’n man se skoen, en ’n paar spore wat hy nou weet ’n luiperd s’n is. Hy kry twee patroondoppies wat sy vroeëre vermoede bevestig.

“Dankie, julle het die regte ding gedoen om ons te roep,” sê Stempsky toe hulle na alles gekyk het waaraan hulle kon dink. “Ek dink julle kan hom nou maar huis toe vat.”

Die plaaswerkers kyk na mekaar en dis duidelik dat hulle allesbehalwe gretig is om dit te doen. Siegfried onthou dat die plaaslike mense kulturele taboes het rondom die hantering van lyke; hy het dit al vantevore teëgekom. “Miskien moet ons hom op my perd sit,” stel hy voor.

Hulle vra die jongste werker, die een wat so geskrik het, om die perd nader te bring. Toe vat Siegfried die dooie man aan sy enkels, en Stempsky aan sy hempskouers. Sy lyf is so styf soos ’n plank. Siegfried het nog nooit met rigor mortis te doene gehad nie en kan skaars glo hoe onbuigbaar Jürgens is. Daar is bloed van die wonde en ander vloeistof het uit die natuurlike openinge gesypel. Dis vuil werk.

“Kom ons rol hom in ’n kombers,” stel Stempsky voor.

Hulle maak so en dan bondel hulle die ongemaklike vorm op die perd, laat hom lengtegewys op die dier se rug lê, met sy bene wat verby die perd se stert steek. Die twee polisiemanne loop weerskante van die perd om die vrag te stut.

“Ek dink nie frau Jürgens moet hom so sien nie,” sê Siegfried.

“My ma kan die lyk was.” Dis weer die ou man. Siegfried is verbaas dat iemand van sy ouderdom nog ’n ma het. Van jou wieg tot jou graf, dink hy, is daar altyd ’n vrou wat jou gat afvee. Iewers tussenin probeer mans helde wees.

* * *

Die son kaats verblindend vanaf die sinkplaatdak en ontneem die hoë hardekoolbome se swart vorms van vastigheid; hulle teenwoordigheid is soos ’n wolk op die agtergrond. Siegfried skerm die weerkaatsing met sy los hand af en probeer uitmaak waar frau Jürgens is, maar die enigste mens wat hy sien, is ’n klein dogtertjie wat ’n bok probeer weghou van die vierkante wit klippers wat die voortuin soos stukke grasperk versier. Hy het so half verwag dat frau Jürgens sal uitkom, dalk haastig om hulle tegemoet te loop waar hulle haar man se lyk uit die veld bring. Dan merk hy ’n beweging by die venster, iemand wat agter die spleet in die gordyne staan. Hy kan hom nie indink watter indruk die toneel op haar moet maak nie – die eienaardig geposeerde figuur wat in ’n kombers toegewikkel en op die perd se rug vasgemaak is.

Siegfried lei sy perd, loop aan die regterkant, die dier se blinde kant, sodat hy nie sy goeie oog se sig versper nie. Al hulle reise saam het ’n noue band tussen hom en die dier laat ontstaan. Die perd se wang stamp nou en dan teen sy skouer, en hoewel Zyklop hom nie kan sien nie, is daar geen vrees by hom nie. Siegfried hou die teuels kort, loop vlak langs die massiewe kop, voel die dier se asem op sy hand. Stempsky loop ’n tree of wat agtertoe aan die perd se ander kant om die lyk in posisie te hou. Die plaaswerkers kom te voet agterna. Selfs Zacharias lei sy perd, moeg nadat hy die oggend heelpad polisiestasie toe en toe weer terug gery het.

Siegfried sou verkies het om die lyk na een van die werkers se hutte toe te vat, om dit te laat skoonmaak voordat frau Jürgens dit sien, maar die Damaras skop vas dat g’n lyk by g’n niemand se hut ingevat gaan word nie, want dan sal niemand weer daar wil bly nie. Hulle kom voor die opstal tot stilstand, hy gee die teuels vir een van die ander mans en loop voor om die perd na Stempsky toe.

“Ek ken haar beter, ek sal dit doen,” antwoord hy die onuitgesproke vraag.

Hy loop teen die trappies op na die breë stoep met sy ingesakte leerstoele en kyk na die muur vol gemonteerde bokskedels met hulle leë oogkasse, verwonder hom aan die makabere skoonheid wat hulle in die dood bereik. Teen die wit muur staan die riffelrige swart horings soos runes – hulle spel ’n oeroue boodskap uit wat niemand ooit sal ontsyfer nie. Die deur staan oop, in plek gehou deur ’n klip wat in lap toegedraai is. Hy klop. ’n Brakkie kom snuffel aan sy enkels. ’n Maer huisbediende met ’n voorskoot kom in die gang af en neem hom deur na die sitkamer toe, ’n nogal leë vertrek waarin ’n paar stukke ryklik versierde Duitse meubels blykbaar wag vir ander om by hulle aan te sluit. Frau Jürgens sit met haar breiwerk op haar skoot, grysblond en degerig soos hy haar onthou, al is hy seker dit was kort tevore sy by die venster. Siegfried twyfel of daar sedert gisteraand ’n steek in daardie huis gebrei is.

“Frau Jürgens …”

Sy kyk nie eens op nie. “Wat was dit?”

Hy dink aan die antwoorde wat sy seker verwag – hartaanval, slangbyt, van die perd af val, aangeval deur iemand …

“’n Luiperd, op die oog af.”

Haar lyf ruk, rillings wat deur haar rimpel en haar elmboë en kop laat bewe, uit pas met mekaar. Haar asemhaling raak swaar, hygend. Sy kyk nie van haar skoot af op nie, waar sy die breinaalde soos messe hou. Haar hare, merk Siegfried, is nie gekam nie.

Die huisbediende wat eenkant bly staan het, ’n entjie agter hom, druk nou verby met ’n geruis van haar rok, en vou die saggies snikkende vrou in haar arms toe. Siegfried is vasgenael deur die bult van vrouevlees, die bondel meelewing. Hy sien iets vreemds en wonderliks wat buite sy ervaring lê, die stil en die sidderende lyf inmekaargeknoop, die oerliefde van vroue.

Hy het nooit sy ma geken nie.

* * *

Stempsky help om die lyk na die waskamer agter die huis te vat, waar hy dit oorhandig aan ’n stokou vroutjie wat volgens haar seun op voornaamterme met die dood is. Sy hou haar oë stip op die verskeurde lyk, praat onophoudelik in die taal wat die Namas en Damaras deel, hoewel die twee stamme baie verskil wat voorkoms en kultuur betref. Al wat Stempsky kan doen, is om hom te verwonder aan die klapgeluide, die musiek in haar stem soos dié van voëltjies wat nes maak.

“Wat sê sy?”

Haar seun, self oud en afgeleef, skud sy kop. Óf hy weet nie, óf hy wil nie sê nie.

Stempsky kies koers terug huis toe, maar bedink hom. Hy sal eerder in ’n skietgeveg injaag as om daardie hartseer in die gesig te staar. Dit is seker betreurenswaardig as jy eerder sal baklei as om meegevoel te betoon, besef hy, maar … laat elkeen doen waarvoor hy toegerus is. Hierdie situasie verg ’n ander soort moed.

Net toe verskyn Bock by die oop voordeur. Hy kom stadig uit, asof dit sy vertrek meer eerbaar maak. Hy het sy grys Südwester-hoed in sy hande en lyk of hy voornemens is om dit te verwoes; sy rustelose vingers knie en rol die viltrand.

“Sleg?” vra Stempsky onderlangs sodra sy kollega naby genoeg is om te hoor.

Bock knik, sy mond styf toegetrek terwyl sy oë, nat en bruin, selfs meer koorsagtig lyk as gewoonlik. “Ons moet vir Lisbeth Kamke gaan haal.”

Stempsky kyk op om te sien waar die son al sit. “Ek sal gaan.” As gefreiter het hy ’n hoër rang as Bock, wat maar net ’n gewone reiter is, en die besluit kan dus nie bevraagteken word nie.

Dalk loop die dag nog op iets goeds uit, dink Stempsky. Die afgelope paar maande probeer hy Lisbeth Kamke te siene kry wanneer hy ook al ’n verskoning kan vind, en dis nie net omdat daar so min wit vroue in die omtrek is, en nog minder wat hubaar is nie. Sy het sy verbeelding gaande gemaak die eerste keer toe hy haar sien, enkele dae na haar man se dood. Lank en imposant, met haar olyfkleurige vel, digte bos donker hare en heldergrys oë … Sy is onteenseglik beeldskoon. Maar wat hom eintlik oorrompel het, was haar houding – ’n vrou wat weet wat dit is om te ly, maar haar nie daardeur laat onderkry nie. Nie kwaad oor haar lot nie, maar ook nie ’n gewillige slagoffer nie. Sover hy kon agterkom, is sy gereed om enigiets die hoof te bied wat die lewe na haar kant toe gooi, vasberade om uit te hou, en dit boonop met grasie.

Dit is waaraan hy dink toe hy die pad vat na haar plaas toe. ’n Uur later kyk hy terug en kan Zweibrunnen nie meer sien nie. Hy wens hy kan vergeet wat daar gebeur het en sy aandag volledig bepaal by waarheen hy op pad is. Hy wil dink aan die moontlikheid dat twee mense bymekaarkom, nie aan twee wat so wreed geskei is nie. Frau Jürgens het vandag ’n belangrike deel van haar lewe verloor. Om die momentele vrees vir die dood en miskien pyn te ervaar terwyl jy sterf, is dalk niks in vergelyking met die oorlewende se stadige interne bloeding nie, daardie rou wond met min kans op heling. Frau Jürgens se pyn sê vir hom iets anders ook: wat daardie twee ou mense gehad het, was kosbaar. Dit is iets wat die moeite werd is om na te jaag, en hy wil nie doodgaan sonder om dit te ervaar nie.

Stempsky ry teen een helling op en aan die ander kant af, steek klipperige riwwe en droë rivierbeddings oor. Die pad is ver van glad af, maar deur padlangs te ry het hy ten minste nie met rotse en bome te kampe nie en kan die perd ’n gemaklike galop handhaaf. Hy het die son en die wind in sy gesig. Dit is ’n goeie lewe, beter as wat hy in sy kinderdae sou kon verwag. Is dit malligheid om vir selfs meer as dit te wens? Dit is ’n vreemde gedagte, maar hy wil iemand hê wat oor hom treur na sy dood. Soos sake nou staan, sal daar niemand wees nie. Miskien sal Bock en Dudeck met stroewe gesigte by sy graf staan, maar hulle sal omdraai en wegloop terug na hulle eie lewens toe en die naam op die grafsteen sal kort daarna geen besondere gevoelens meer opwek nie, geen gekoesterde herinneringe nie. Hy wil ’n vrou hê, besluit hy, en kinders – mense wat sy lewe kan vul en by wie sy dood ’n leemte sal laat. Hy geniet die soet hartseer hiervan vir nog ’n paar gatstampe in die saal, en dan, onafwendbaar, begin hy dink aan hoe om daardie kinders te verwek, en die blote vooruitsig veroorsaak ’n aangename beroering in sy broek.

Herhaalde hersienings van daardie verbeelde toneel vermaak hom vir die res van die pad, en dan sien hy Grossenhain se opstal voor na die regterkant toe. Dit verdwyn buite sig toe hy in ’n laagte afsak, soos hy geweet het dit sou, en dan loop die pad weer boontoe en draai hy na die tweelingkoppies toe, twee gepunte uitstulpings weerskante van Lisbeth se huis.

* * *

Hulle boor vir water op die plaas en Lisbeth sit met ’n dilemma. Sy probeer om nie daaroor te dink nie, maar dit is onmoontlik – die boormasjien se geluid dring deur alles, selfs die hardgepakte misvloer onder haar voete dreun. En nou, met die boorvoorman voor haar ruweg geboude huisie se voordeur – jy soek vergeefs na gladde muur of reghoekige hoek – moet sy vir hom die besluit oordra wat sy oor en oor oorweeg, uur na uur. Elke meter wat hulle boor, kos geld en hulle het nog nie op water afgekom nie. Moet sy nou vir hom sê om op te hou? Sê nou daar is sterk water net ’n entjie dieper? Daar is geen manier om te weet nie. Sy kan vir die boormanne vra om iewers anders te probeer, waar dieselfde ding weer kan gebeur. Hulle kan gate bly boor sonder om water te kry totdat die plaas soos ’n Switserse kaas lyk, of water kan oor vyf minute by die eerste boorgat begin uitborrel.

En dit, dink sy, is die storie van my lewe sedert ek in Afrika aangekom het – jy weet nooit wat jy gaan kry nie. Ek het hierheen gekom om met ’n man te trou wat ek nie geken het nie, het ’n weduwee geword, is ontvoer en ’n paar weke lank gevange gehou, en nou is ek ’n grondbesitter. Herr Kamke was nie ’n ryk man nie, maar in vergelyking met haar lewe in die shtetl waar sy grootgeword het, is dit wat sy nou het ’n rykdom wat sy haar nie in haar wildste drome kon voorstel nie, met verantwoordelikhede en selfstandigheid waarop niks haar voorberei het nie. Dis egter opwindend om sulke bekommernisse te kan hê. Dit is sy teen die natuur en vooroordeel, gewapen met slegs die vermoë om te leer en te hoop en aan te hou.

“Ons boor dieper,” sê sy vir die boorvoorman.

Sy kon nog nooit agterkom of Hermanus Coetzer ’n Boer of ’n Baster is nie, soos die plaaslike mense van gemengde afkoms na hulleself verwys. Moet sy hom innooi vir middagete? Dit sou verwag word as hy wit is, maar afgekeur word indien nie. Die gebruik maak nie vir haar sin nie, maar sy doen haar bes om by die plaaslike manier van doen in te pas. Een van die eerste dinge wat sy geleer het toe sy vier maande gelede in die protektoraat aankom, is dat daar ’n sosiale skeidslyn is wat ’n mens nie durf oorsteek nie, selfs al berei swart mense omtrent elke wit setlaar of amptenaar se etes voor, maak hulle steeds warm beddens vir hulle op, was hulle gevlekte lakens en onderklere. Die rasse lewe geweldig intiem saam, maar kry dit desondanks reg om ’n afstand te handhaaf – ’n onderskeid wat getref word deur afkeer aan die een kant en onderdanigheid aan die ander. Hermanus Coetzer is donker van vel, maar dit kan die gevolg wees van jare in die fel son. Sy oë is groen en sy gelaatstrekke gerond. Sy neus se punt is plat en sy ore vlesig. Die swart hare wat onder sy sweetbevlekte hoed uitsteek, is yl en fyn gekrul. Die manier waarop hy haar behandel, gee ook geen aanduiding van sy ras nie. Hy is nie kruiperig soos die meeste van die plaaslike mense geleer het om te wees nie, maar ook nie familiêr nie. Hy luister aandagtig wanneer sy praat, kyk haar nooit in die oë nie, en antwoord dan in ’n mengsel van Duits en Nederlands sonder om haar ooit by die naam te noem.

Sy kyk toe hy wegloop, met sy elmboë weg van sy lyf af gehou asof hy die sweetvlekke onder sy arms wil vermy. Minute later hoor sy hom lag saam met die twee Namas wat vir hom werk, pa en seun. Die klank van hulle gelag dra bo die dowwe, metaalagtige gehamer wat die konstante klankbaan van hulle lewe is, en deesdae van hare ook. Hulle gebruik ’n skerpgemaakte metaalsilinder om die gat te boor, lig dit met ’n kabel op en laat dit weer val in die skag wat dit geskep het, gebruik die aarde se swaartekrag teen die planeet self. Die gevoel van die kabel en die geluid, sê hulle, sal verander as hulle water tref. Al wat Lisbeth hoor, is dieselfde geklonk van metaal, dieselfde slag wat jy eweseer met jou voete voel as met jou ore hoor. Elke slag kerf ’n verdere stukkie uit haar bankbalans.

Sy moet water vind. Die fontein wat Grossenhain voed sedert haar man die plaas vyf jaar gelede op die been gebring het, raak elke week swakker. Eers was dit net ’n indruk, ’n knaende kommer dat die krip nie so vinnig vol word soos voorheen nie. Sy het dit vir lekplekke ondersoek, gehoop dit was die probleem. Maar die krip is doodreg. Die fontein is nie.

Met die somer sal die reën weer kom, maar dis nog net Julie en die reën is in elk geval onbetroubaar. En selfs al kom hulle vanjaar deur, hoe gaan hulle die volgende droë seisoen oorleef? Sy is nog net enkele maande op die plaas, maar reeds vind sy die vooruitsig om dit te verloor totaal ondenkbaar.

Sy loop die veld in, verby die skoongemaakte deel om die huis, na waar die grasse selde versteur word en dit net sy is, sy en die klein gediertetjies wat aan grasse klou of onder klippe kruip. Sy luister na die gezoem van vlerke, die geknars van klippers onder haar voete, die geklap van klip op klip elke nou en dan wanneer sy een lostrap wat effentjies gebalanseer was. Na al die eeue is daar nog steeds klippe wat nie hulle finale rusplek gevind het nie. Groeiende plante en verbygaande diere versteur hulle, en so ook die wind en – slegs af en toe – water. Sy verwonder haar aan die feit dat dit in hierdie droë land blykbaar onmoontlik is om eens ’n uur lank nie aan water te dink nie. Die landskap lyk asof dit gevorm is om water te dra, met droë rivierlope oral. Daar is ’n krans op die plaas wat die werkers ’n waterval noem, al is dit baie jare sedert water laas daar geval het. Die behoefte aan water staan oral geskryf – in die papierdroë gras wat verkrummel as jy daaraan vat, in die songebakte klippe en die geharde sade wat jare lank dormant kan lê, gereed om te ontkiem sodra die grond nat word.

As sy so aan dinge in die grond dink, herinner dit haar aan haar oorlede man. Sy het hom nog steeds nie herbegrawe nie. Sy oorskot lê nog in die rivierbedding waar die polisie dit ontdek en met klippe toegepak het. Sy moet plan maak daarmee, maar om na die dooies om te sien, moet desnoods tweede viool speel teen die lewendes se behoeftes.

Aan die helling westekant toe sien sy die perd wat sy begeer. Dis ’n ou soldateperd wat wild geraak het. Die sebras waarmee hy gewoonlik saamloop, moet daar naby iewers wees. Dan gewaar sy hulle, met hulle strepe wat saamvloei met die strepe lig en skadu agter bosse.

“Eendag gaan ek jou nog hê,” sê sy hardop.

Dit het ’n gewoonte geraak om met haarself te praat, met dié dat daar geen ander moedertaalsprekers van Duits byderhand is nie. Aanvanklik het sy selfbewus gevoel, maar mettertyd het dit haar minder begin pla. As sy seker is dat daar niemand in die omgewing is nie, sê sy selfs dinge wat haar bang en verleë maak, druk sy allerhande onbetaamlike gedagtes en gevoelens uit. In die veld leer sy haar eie ongetemde sy ken. Partykeer, op ’n afgeleë plek, steek sy selfs haar hand onder haar rok in en raak aan haarself met ’n ritmiese volharding wat niemand anders nog eens probeer het nie. Sy het nog nooit so vry, so vreugdevol gevoel nie. En soms fantaseer sy oor iemand by haar, regte en verbeelde mans, en is verras dat die gesig wat al hoe meer gereeld voor haar geestesoog verskyn daardie blonde polisieman s’n is, Stempsky.

Hoewel daar geen manier is waarop hy van haar fantasieë kan weet nie, voel sy ’n stuwing van verleentheid toe sy die ruiter herken wat padlangs aankom, na haar huis toe. Sy vat haar rok se los voue in haar een hand saam, lig dit ’n ent en loop doelgerig na die huis se kant toe om hom te ontvang. ’n Maer rooi hond kom van die werf af en sluit by haar aan, volg op haar hakke, en dan kom ’n paar ander ook by. Hulle jaag mekaar soos ’n maalkolk om haar voete totdat sy gaan stilstaan omdat sy bang is sy gaan oor hulle struikel.

Die honde maak die perd ook senuagtig, en Stempsky het skynbaar sy hande vol om die dier te beheer. Hy ry die groot geswete dier in ’n kring om haar voordat hy afklim.

Sy kuiers raak al hoe meer gereeld. Die eerste keer was dit kamtig om seker te maak dat haar besittings nog goed en reg is, die goed wat hy vir haar in veilige bewaring gehou het in die weke wat sy aangehou is. Toe kom hy saam met Siegfried Bock op patrollie hier aan. Die keer daarna was hy alleen en het hy gesê hy is bekommerd oor haar. Haar plaas is aan die rand van die wit nedersetting, net voor die wildernis wat duskant Gamsberg begin. Dit is toe dat hy vir haar ’n rewolwer gegee het met ’n ryklik versierde, byna vroulike handgreep, en haar gewys het hoe om dit te gebruik. Die Mauser Zig-Zag is eenvoudig en betroubaar, het hy gesê, sy moet dit net skoon hou, insluitend die groewe buite op die silinder wat die wapen sy naam gee. Indien nodig, kan sy albei hande gebruik om dit vas te hou en die sneller met twee vingers trek. Hy wil hê sy moet dit deurentyd by haar hou, maar selfs al is dit glo die kleinste rewolwer in die reeks, vind sy dit onhandig en dra dit nie wanneer sy binne sig van die huis is nie. Sy het dit ook nie nou by haar nie, en wonder of hy dit sal oplet.

“Frau Kamke,” sê hy, met ’n glimlag wat die groet van sy formaliteit stroop.

Sy weet sy naam is Hans, maar sy voel nog nie gemaklik om hom so te noem nie. Hy het ’n militêre rang, maar sy kan nie onthou wat dit is nie. “Herr Stempsky. Wat bring jou vandag na ons toe?”

Hy antwoord nie daarop nie, maar dit pla haar nie. Sulke vrae is maar deel van die rituele geluide wat goedbedoelende mense maak wanneer hulle mekaar teëkom – en hy is bowendien die stil tipe.

“Hoe gaan dit hier?” is wat hy op sy beurt vra. Sy gesig is opgeskroef teen die lig.

“Ons boor vir water.”

Hy kyk na die boormasjien se kant toe, ’n kontrepsie van staal, ’n toring met gekruisde balke, en ’n stoomenjin op die wa daaragter. Die kabel se op-en-af-bewegings is nie van so ver af waarneembaar nie, maar die klank laat geen twyfel dat iets besig is om te gebeur nie.

“Die vordering is maar stadig en onseker,” voeg Lisbeth by. “Jy weet nie of jy dit gelukkig gaan tref nie.” Sy roep een van die plaaswerkers se seuns om na die besoeker se perd om te sien. “Ry jy weer binnekort?”

“Gretig om van my ontslae te raak?”

“Ek wil net weet of ons die saal op moet los.”

Stempsky mik na die son toe. “Hy kan maar afsaal.”

Hulle loop by die oop voordeur in – sy met ’n onderdrukte glimlag, hy met sy hoed in sy hand. Lisbeth vra Eva om tee te maak, en is verbaas dat die vrou ’n kniebuiging na haar kant toe maak, iets wat sy lankal nie meer doen as hulle alleen is nie. Oor die weke en maande het die baas-bediende-verhouding in vriendskap ontwikkel. Dit is nie iets wat hulle durf laat blyk nie, selfs al vermoed Lisbeth dieselfde geld in baie ander setlaar-huishoudings. Die gemeenskap het sy reëls en sy het gesien wat gebeur met mense wat dit breek. Een van haar bure, herr Feinauer, het met ’n Hererovrou getrou en word skaars deur die ander setlaars geduld. Haar man was Feinauer se beste vriend, maar selfs hy het nooit vir Feinauer ingenooi nie.

“Dit lyk asof jy haastig gery het. Is daar ’n spesifieke rede?” vra sy toe sy eers sit, en Stempsky op die stoel oorkant haar, hulle voete aan teenoorstaande kante van die beesvel op die vloer. Die koketterige toon wat haar woorde gekry het, irriteer haar. Bloot om bewus te wees van sy skynbare belangstelling en haar eie skaamtelike fantasieë, ontsenu haar. Sy is in seks en ’n huwelik in gedwing, maar niemand het haar al ooit die hof gemaak nie en sy weet nie hoe om te reageer nie.

“Ek wonder of jy saam met my na Zweibrunnen toe sal kan kom.”

“Hoekom?”

Hy pluk aan een van sy snor se wasgesmeerde punte. “Ek is bevrees ek het slegte nuus. Herr Jürgens … hy is deur ’n luiperd aangeval. Hy het nie oorleef nie.”

Haar eerste impuls is om te vra of hy seker is, maar natuurlik is hy. Herr Jürgens was ’n getuie by haar troue en ’n gewaardeerde raadgewer sedert haar man se dood. Om te weet hy is daar, net ’n paar ure ver, was gerusstellend. Nou sal hulle nooit weer gesels nie … Die gedagtes oor haar eie verlies duur net ’n paar sekondes, voordat sy oor die dooie man dink. Hoe sou sy laaste oomblikke gevoel het, van aangesig tot aangesig met die grynsende gevreet van ’n roofdier op die punt om sy prooi dood te maak? Dan verskuif haar gedagtes weer, teensinnig, dié keer na frau Jürgens toe. Dis nie iets waaroor sy eens wil dink nie. Ondanks haar gevorderde jare het frau Jürgens ’n jeugdige weerloosheid wat ’n mens beskermend teenoor haar laat voel, selfs wanneer dit skynbaar voor die wind gaan met haar. In watter toestand moet sy nie wees nie!

“Ek moet na frau Jürgens toe gaan.”

Stempsky kyk haar stip aan en knik byna onmerkbaar. “As ons nou vertrek, sal ons in die donker moet ry. Miskien moet ons liewer môreoggend die pad vat.”

“Ons?”

* * *

Kort nadat Stempsky vort is om Lisbeth Kamke te gaan haal, maak Siegfried self gereed om Zweibrunnen te verlaat. Hy gaan die rytuig na voordat hy die pad vat Hochnamib toe. Vanaand sal hy Dudeck vir geselskap hê, en Stempsky sal seker by Lisbeth wees. Om redes wat hy nie wil erken nie, pla dit hom. Dit behoort nie, sê hy vir homself. Hy het eerste vir Lisbeth ontmoet en daar was van vroeg af ’n klompie spesiale oomblikke van vriendskap, dis al. Hy het geen aanspraak op haar nie. Hy is nie eens seker hy wil dit hê nie, gegewe die keuse. Sy is mooi, ja, en hy hou van haar, maar hy het hom nooit as ’n ernstige kandidaat vir spesiale gevoelens van haar kant af beskou nie. Sy is arm en Joods; in Duitsland sou hulle nie in dieselfde kringe beweeg het nie. Om nou heeltemal eerlik te wees: hy het nog nooit tevore veel met iemand van haar stand gepraat nie. Hy het selde op die platteland gekom, en in die stad was haar eweknieë die mense wat jy op straat vermy. Die brutale seuns kan jou bang maak en die dogters, in die kort blomtyd tussen fisieke volwassenheid en die verval wat volg, kan basiese begeertes by ’n man opwek. In die wêreld waarin hy grootgeword het, was Lisbeth se soort veronderstel om minderwaardig te wees, om verdra te word, miskien gebruik te word deur diegene wat so ingestel is, maar nooit om lief te hê nie. Hy herinner hom aan al hierdie dinge, maar kan dit nie glo nie, nie meer nie. Die idee dat sekere mense uiteraard minderwaardig is, het vir hom problematies geword; in hierdie land het hy al te veel slegte gedrag by die sogenaamde meerderes gesien. Beelde van Lisbeth en Stempsky flits voor sy geestesoog – hulle twee saam in lamplig, stippels lig in haar grys oë, blink strepe in haar swart hare … Sulke gedagtes is onvanpas.

Die kwêvoëls wat oorheen vlieg, terg hom met hulle geroep. Die pragtige voëls klink soos die bullebakke uit sy skooljare.

Wat ’n oggend. Hy het ’n man wat hy ken se lyk gesien, sowel as die vrou wat daardie man liefgehad het se hartseer. Hy het lewe en dood in al sy verskrikking en skoonheid aanskou. En hier is hy, besig om kleinlik te wees.

Hy trek sy asem diep in, hou dit daar, iets kosbaars vir iemand wat sy lewe lank al probleme het met asemhaal. Toe sy longe klaar die suurstof uit die lug opgeneem het, asem hy lank en hard uit, asof hy ontslae wil raak van alles omtrent homself wat hom nie aanstaan nie. As Stempsky geluk kan vind – stil, ingetoë, sterk Stempsky met die verborge kamers in sy hart – dan sal dit ’n wonderlike ding wees, soos vir enigiemand. Lisbeth verdien seer sekerlik geluk, ongeag saam met wie sy dit vind.

Siegfried het al een voet in die stiebeuel toe hy die donkiekar oor die naaste hoogte sien kom van Windhoek se kant af, met die drywer, Klawerjas, wat op die sitplek sit en wip. Die jong Nama maak sy bestaan deur mense, goedere en boodskappe met sy karretjie van plek tot plek te neem. Siegfried het al saam met hom gery en weet dat Zweibrunnen ’n gereelde stopplek is. Hy besluit om te wag ingeval daar iets vir hom is. Hy lei die perd na die naaste reling toe en bind die teuels lossies daaraan vas. Dan staan hy rond en luister na die voëls bo sy kop en kyk na die dringende, maar klaarblyklik sinnelose bedrywighede van twee kewers tussen ’n kamferbos se wortels.

Klawerjas waai van die hek af vir hom en kom ingery met ’n mengelmoes van plaaskinders en honde wat om die kar saamdrom. Hulle help die jong man aflaai – twee kiste bier, twee kiste kruideniersware, koekies seep, ’n kis ammunisie, ’n nuwe toom, politoer en pyptabak. Frau Jürgens sal geen nut hê vir die helfte daarvan nie.

“Enige briewe?” vra Siegfried toe die kinders weg is met hulle vrag.

Klawerjas gee vir hom ’n blikkie aan wat hy altyd onder die drywersitplek hou. Hy kan nie lees nie en maak dus op sy klante staat om self hulle briewe uit te ken. Daar is een vir hom, sien Siegfried, in sy pa se handskrif. Hy skryf elke maand getrou vir die ou man, en stuur nou en dan ’n variasie van dieselfde brief vir sy broer of suster. Hulle antwoord selde self, hulle vra net hulle pa om hulle beste wense oor te dra. Die brief van sy pa sal ongetwyfeld slegte nuus bevat oor mense wat Siegfried nouliks ken, en geykte goeie wense vir sy seun. Met daardie skrapse verwagtinge skeur hy die koevert oop.

Tweegevreet

Подняться наверх