Читать книгу Tweegevreet - Zirk van den Berg - Страница 5

II

Оглавление

Siegfried verlaat Zweibrunnen kort nadat hy die brief ontvang het, maar hy kies koers Windhoek toe, eerder as na die polisiestasie soos hy aanvanklik bedoel het. Hy het vinnig ’n nota geskryf vir Klawerjas om vir feldwebel Dudeck te gee, waarin hy sê hy moet na ’n dringende persoonlike saak omsien, sal ’n paar dae weg wees en sal die nodige verlofvorms met sy terugkeer voltooi. Hy stoot aan, kyk hoe die skaduwees voor hom strek, en hoop om Kupferberg voor donker te bereik, of ten minste Haris. As hy dít regkry, is hy vol vertroue dat hy die laaste ent in die donker sal kan aflê.

Toe die son agter hom sak, kyk hy op en sien die maan groot en geel in die ooste opkom, en weet hy gaan dit maak. Die maanlig maak van die pad ’n helder, wit streep. Hy konsentreer daarop en probeer om die skaduwees te ignoreer wat aan weerskante opdoem.

Hy vorder goed en kry die eienaar van die losieshuis op Sperlingssteig, op die hoogte oos van die hoofstraat, nog voordat sy bed toe gaan. Hy reël gou-gou ’n kamer vir die nag en gaan versorg dan sy perd.

Blind in die een oog ofte nie, is die rydier wat die leër aan hom toegewys het ’n uithaler. Die perd is gewillig en gehard, nie vinnig nie, maar geseën met ’n besondere uithouvermoë. Die afgelope vier maande het Siegfried minstens tweeduisend kilometer op die dier se rug afgelê, dalk nog heelwat meer. Hy klop Zyklop op die wang en die dier druk sy neus teen sy skouer. Partykeer voel die perd na ’n uitvloeisel van hom, ’n bondel spiere tot sy beskikking om te vergoed vir sy eie skraalheid. Hy het Dudeck om na te luister, Stempsky om mee te praat, soms gesprekke met Lisbeth Kamke, en herinneringe aan ’n vrou vir wie hy briewe komponeer, maar in der waarheid is die perd sy beste vriend in hierdie land. Hulle het ’n fisieke band en op tye soos dié stort hy selfs sy hart teenoor die dier uit.

“Sy het gekom,” fluister hy in die opgeprikte oor. “Sy is hier.”

Dis net na tienuur toe Siegfried uiteindelik terug is in die kamer, met sy uniform uitgetrek en gereed om die kers dood te blaas. Hy strek sy tam ledemate op die sagte matras uit en sien uit na ’n salige nagrus. Dit is ’n ongewone luukse om alleen in ’n kamer te slaap, boonop op so ’n goeie matras. Hy is met vakansie, hoewel dit nog nie amptelik goedgekeur is nie. Môre sal hy gewone klere dra, van dié wat hy hier stoor. Sy pa het ’n trommel vol van sy besittings hierheen laat verskeep, moontlik in die hoop dat dit dan vir sy onderpresteerder van ’n seun makliker sal wees om liewer in Afrika aan te bly en nooit weer huis toe te kom nie.

Siegfried is nogal verbaas dat sy pa besluit het om hom te laat weet van Traudl Dehlinger se reis na Suidwes-Afrika. ’n Mens sou dink hy sou die hele gedoente met haar eerder in die doofpot wou stop. Die brief bevat nie slegs die nuus nie, maar selfs die datum wanneer sy en haar pa verwag om in Windhoek te wees. Die brief het omtrent so lank soos die reisigers gevat om die oseaan oor te steek, en teen die tyd dat Siegfried dit ontvang het, was dit al na hulle verwagte aankoms. Is die feit dat Traudl so ver gekom het om die herinneringe aan haar geliefde Manfred ter ruste te lê, veronderstel om vir hom ’n teken te wees, die finale bewys dat hy geen aanspraak op haar hart het nie?

Hy raak in Windhoek aan die slaap, maar die nag is pure Berlyn, vol drome van Traudl. Hy het al begin dink hy is nie meer daardie man nie, die een wat sy lewe daaraan gewy het om te smag na ’n meisie wat nie vir hom omgee nie. Destyds was sy gedagtes aan haar soos die blaaie van ’n geïllumineerde manuskrip, met hom as skriba. Hy kon eindeloos bladgoud en versierings bylas. Al die krulletjies en draaitjies het nie die blok teks in die middel van die bladsy, die feite van haar lewe, verander nie. Sy het hom gebruik soos wat ’n mens ’n sakdoek gebruik, iets om aan vas te hou terwyl jy huil. Hier in Suidwes-Afrika het hy ander redes gevind om te lewe, en ’n ander bestaanswyse. Hy het die punt bereik waar hy aan haar kan dink en haar naam kan sê sonder die ou onstuimigheid in sy bors.

Die briewe wat hy skryf en wat haar naam dra, het minder met haar te make as met homself, weet hy. Dit is maar net dat hy, by gebrek aan ’n nuwe doel in sy lewe, nog steeds vashou aan die idee van Traudl Dehlinger, wat soveel jare lank die paal was waarom die tent van sy bestaan gespan was. Wanneer hy die briewe skryf met haar naam boaan, wanneer hy neerpen wat gebeur het en wat hy dink, kry sy alledaagse bestaan ’n gewigtigheid wat hy nie andersins voel nie.

Wat sy pa ook al in gedagte gehad het, die nuus van Traudl se koms ontstig hom. Dit is asof die jong man wat hy in Berlyn was, weer in sy bors verrys, homself inwurm in sy kop en ledemate, en hy maak van reiter Bock, die Siegfried van Afrika, bloot ’n belangstellende toeskouer. Beteken die feit dat hy so maklik in sy ou manier van dink kan terugglip – dat alles wat sedert sy aankoms in Afrika gebeur het hom nie op ’n wesenlike manier verander het nie – dat ’n mens vir altyd opgesaal is met wie jy is, ondanks al jou pogings of enige ingrypende wedervaringe wat jy dink jou lewe verander het?

Hy wonder daaroor en slaap tussenin so rus-rus, totdat hy in die vroeë oggendure uit die bed van ongemaklike drome opstaan, vasbeslote om nooit weer daardie patetiese jongeling te wees nie. Dit is nog nie dagbreek nie, maar hy het genoeg daarvan gehad om te worstel met gedagtes wat soos vlieë aanhou om na dieselfde plek terug te keer.

Hy trek sy baadjie aan, maar dit sit so styf dat hy skaars die knope kan toekry; sy voorheen tingerige lyf het uitgesit vandat hy Afrika toe gekom het en nie meer aanhoudend siek is nie. Hy het darem sekerlik verander, dink hy – namate hy uiterlik uitgedy het, moes hy tog ook innerlik gegroei het. Waarom sou die vooruitsig om Traudl te sien hom dan so ontsenu? Is hy bang vir haar of vir hoe sy hom onthou?

Anderkant Klein Windhoek raak die lug ligter as die land en kan hy die gekartelde rand sien waar die een eindig en die ander begin. Hy staan met sy hande op die vensterbank, sy asem maak wolkies teen die glas wat byna dadelik verdamp. Dagbreek op die horison, naglug oorheen. Voëls word wakker. In daardie kort tussenspel waar die sterre verdof maar die son nog nie opgekom het nie, gaan hy buitentoe. Hy kan nie meer stilsit nie. ’n Hond kom snuif aan hom met ’n stert wat so woes swaai dat Siegfried bang is hy gaan omfoeter. Hy druk sy palm teen die dier se nat snoet en stoot hom weg. Hy loop onder bome deur met klein blaartjies en groot dorings. Hy weet die tuinhekkie kraak en druk dus sy hand op die pilaar en spring oor die heining. Hy verlekker hom nog steeds in die soepel krag van sy voorheen swak lyf. ’n Paar stowwerige treë, ’n spoelsloot wat die een of ander optimis gegrawe het – hy het nog nie reën in hierdie land gesien nie – en dan is hy in die straat. Gruis knars onder sy stewels.

Hy loop terwyl die lug al hoe ligter word. Hane kraai. Deur vensters sien hy hoe kerse en lampe opgesteek word. Ruik vuur. ’n Deur gaan oop en ’n stroom water skiet uit, ’n kom wat leeggemaak word. In een huis sing ’n vrou. Hy steek vas en luister, probeer die woorde uitmaak, maar besef dan dis nie Duits nie. Seker ’n huisbediende wat ontbyt maak. Dis asof sy kopvel saamtrek, sy hare rys, en dit is nie oor die byt in die oggendlug nie. Dit is een van die dinge omtrent hom wat vir seker verander het: Afrika, die skoonheid en verskrikking daarvan, het in sy hart gekruip. Met hierdie versekering dat sy twyfel oornag ongegrond was, hervat hy sy wandeling, nou seker dat Siegfried Bock nooit weer die jong man gaan wees wat hulle ’n paar maande gelede weggestuur het na ’n oorlog in ’n verafgeleë land nie. Op ’n manier het Traudl se pa gekry wat hy wou hê. Herr Dehlinger wou van sy dogter se onvanpaste vryer ontslae raak, het dalk gehoop dat Siegfried in die verte sou sterf. Toe hy hier aankom, het Siegfried verwag dat hy as ’n veranderde man huis toe sou gaan, maar sy idees was naïef, oor heldhaftigheid en verering. Die werklikheid is nie so eenvoudig nie. As hy ’n held geword het, is dit op klein skaal, ’n blote voortsetting van wat hy al sy lewe lank weet: dat as die omstandighede teen jou is, dit ’n heldedaad is net om deur elke dag te kom. Hy vind dat hy kan lewe sonder voortdurende verleentheid of die fantasieë wat hy voorheen nodig gehad het om dit draaglik te maak.

Daar is ’n man wat langs hom loop, besef hy, dit is nie die eggo’s van sy eie voetstappe wat hy hoor nie. ’n Reus aan sy linkerkant, effe uit pas met hom. Die man het ’n groot leersilinder aan ’n band oor sy skouer. Dit hang teen sy rug af soos ’n koker vir reusepyle. Hy dra ’n olyfgroen Tiroolse hoedjie en dun mosterdkleurige ferweelbaadjie. Sy manjifieke moestas is swart en dig, met ’n swierige krul. Sy ken lyk soos iets wat ’n skoenmaker kan gebruik, hoekig en hard.

“Lieflike oggend,” roffel sy metgesel. “Jy sou dit raakgesien het as jy nie so diep ingedagte was nie.” Die man lig sy hand na die horison toe – palm boontoe, sy vingers effe gesprei, asof hy in sy verbeelding ’n vrug wil pluk – en skud dit op die maat van sy woorde. “Ek kan nie glo hoe mooi dit alles is nie. Die lig …”

Siegfried kyk na wat die man sien, en stem saam, hoewel dit hom nie verbaas nie. Hy het dit immers al telkemale beleef.

“Nuut hier?”

“Net op besoek. Ek kan net nie hieroor kom nie, die skoonheid.”

“Dis nie almal wat dit so sien nie.”

“Ek het vanoggend uitgekom, ek wou die vroeë lig benut, myself iewers opstel, dit probeer vasvang.”

“Fotograaf?”

Die man gee Siegfried ’n vieserige kyk. “Skilder. Foto’s is vir amateurs, hulle wys net vir jou die oppervlak. Ek wil die siel vasvang.” Hy lanseer die woorde in die oggendlug en laat hulle daar hang so lank as wat hulle kan, voordat hy weer praat. “En jy, wat maak jy so vroeg?”

“Die dag het te lank gevat om aan te breek,” sê Siegfried.

“Ek weet! Ek weet!”

Sy metgesel se drif is aansteeklik en Siegfried hoor homself sê: “Ek weet nie hoeveel lig jy soek nie, maar dit kan nog ’n rukkie duur … Daar is ’n plekkie onder in Gartenstrasse waar ons ontbyt sal kan kry.”

“Ek sê nooit nee vir ’n stukkie spek nie,” sê die man en steek sy hand uit. “August Niedermeyer.”

* * *

Wanneer jy met waterverf werk en jy het so pas ’n waterpoel of iets blous geverf en jy steek jou kwas in ’n glas water en jy kry daardie wolkerige blou strepe wat soos rook wiebel, dis waaraan die oggendlug hom herinner.

August Niedermeyer wens hy kon skilder wat hy sien en sê wat hy voel. Sy oë, groen tussen die swart wimpers, lyk asof hulle dwarsdeur dinge kan kyk, maar inderwaarheid is hy maar net baie goed daarmee om te sien hoe kleur van oppervlakke af kaats en hoe dit deur die dynsigheid filter. Hy kan ’n meslem se rand skilder, ’n wolk, ’n skoenlapper se vlug oor ’n bedding angeliere, die gewig van ’n elmboog op ’n tafel. Hy maak sy bestaan deur portrette te verkoop wat mense uitbeeld hoe hulle hulself aan ander wil voorhou. Hy het die kuns bemeester om sy onderwerpe sowel oombliklik herkenbaar én aantrekliker te maak, om vir sy gehoor ’n leuen aan te bied wat hulle maar te graag as die waarheid wil aanvaar. Waarna hy egter hunker, is om dinge te wys soos wat dit werklik is, en dit kan hy met landskappe doen. Die natuur kla nooit dat die kunstenaar sy kieste te dik maak of sy neus te skeef nie, dit is soos dit is, of iemand nou kyk of nie, en word nie gepla deur sy pogings om dit weer te gee nie.

Hy kyk na die bleek voordaglug bokant die heuwels en rante wat Windhoek omring en wonder of daar sin in sal wees om ’n skildery soos ’n tent te maak wat reg in die rondte gaan en mense moet onderdeur buk om in te gaan en dan is die landskap reg rondom hulle, soos dit hier is. Jy moet ’n oomblik soos hierdie kan deel.

Ritmiese knarsgeluide aan sy regterkant onthul dat hy nie die enigste een is wat so vroeg aan die gang is nie. Dit is ’n jong man, nog maar in sy twintigs, klein en lig op sy voete, met ’n donkergrys pak en ’n swart rondebolkeil wat lyk asof hy gefrommel was. August val in by dié mede-oggendmens en knoop ’n geselsie aan. Die man stel ontbyt voor en August besluit terstond dis ’n goeie plan. Hy is daaraan gewoond om alleen te wees, maar om in ’n vreemde land te wees maak die eensaamheid nog erger. In elk geval het sy luim verbeter, seker oor hoe mooi die oggendlig is.

Die kafee lyk na ’n gewone huis, met ’n bord buite wat sê Kaffeehaus Elbe en ’n dubbele ry klippe wat die paadjie van die tuinhekkie af voordeur toe afbaken. Binnekant is daar sewe tafels, waarvan een groot genoeg is vir ses stoele, en al die ander vir twee of vier. Hulle word bedek deur gedrukte tafeldoeke met twee effens verskillende patrone – die meeste mense sal nie die verskil agterkom nie. Dit is koel binnekant, met dralende stof wat nie te lank gelede nie deur ’n besem opgeskop is. August kies ’n plek teen die voorste muur waarvandaan hy die son sal kan sien opkom. ’n Fyn meisie met ’n gelerige gelaatskleur kom van agter af met ’n skinkbord vol sout- en peperpotjies, en blompotjies waarin mooi takkies gerangskik is. Toe sy die klante sien, roep sy na iemand in die agterkamer en gaan aan met haar werk, om een van elke item op elke tafel te pak.

’n Skraal middeljarige man verskyn, liploos en glimlaggend. Hy haal ’n notaboek uit sy voorskoot se voorste sakkie. “Menere, wat sal dit wees? Ek het nou net ’n pot koffie gemaak wat ek graag met julle deel, met my komplimente.” Toe hy sien dat August sy pyp en tabaksak opdiep, leun die man oor en maak die venster oop. “Elke dag ’n nuwe vreugde,” sê hy, met geen teken van blydskap of ironie nie.

In die kort gesprek wat volg, kom August te wete dat die kafee-eienaar van Maagdenburg af kom en al drie jaar lank in Windhoek woon. Sy metgesel is al sedert vroeg die jaar in Duits-Suidwes-Afrika, eers as soldaat, maar nou op afgedeelde diens as polisieman, tans met twee dae vakansie. Toe hy sy ietwat verfoeste hoed afhaal, blyk dit die kêrel het ’n besondere voorkop, asof die vel papierdun oor sy skedel span. Dit en sy intense manier van kyk skep die indruk dat hy uit ’n toringkamer op die een of ander universiteitsdorp ontsnap het, ’n uitgeteerde denker, onvanpaste sonbruin op sy skoongeskeerde gesig.

Toe die kafeebaas weg is met hulle bestellings, kry August sy pyp aan die gang, een van rooshout wat hy onlangs ingebreek het, en tussen dampe vra hy ’n vraag, sommer om die gesprek aan die gang te hou. “Wat is dit wat jou so gretig gemaak het dat die dag moet kom?”

Die polisieman, wie se van Bock is, lyk ongemaklik en rem aan sy baadjie se skouer. “Ek het hom lank laas gedra en nou sit hy styf,” verduidelik hy. “In elk geval, die ding is, ek het tyding gekry dat iemand wat ek ken van Berlyn af gekom het en … ek sou haar graag wou sien.”

“Ag so?” vra August toe hy die vroulike voornaamwoord hoor. “Liefde?”

Nou stoei die man met sy broek se band ook. “Ek was dolverlief op haar. Deesdae is ek sekerder van die dol as van die liefde.”

Terwyl August luister na die verhaal van hoe versot Bock was op hierdie vrou wat eintlik iemand anders liefhet, van hoe haar pa uiteindelik daartoe genoop is om die hardnekkige klein pes uit sy dogter se lewe te kry deur te reël dat hy by die leër aansluit en weggestuur word na die oorlog in Afrika, voel hy ’n sekere broederskap. Vroue is hoe mans seerkry, die hart is hulle Achilleshiel.

Oor ontbyt, terwyl hy met sy mes en vurk woeker, kou en sluk, vertel hy sy eie storie.

“Ons mans, ons is skepe wat deur die winde van liefde van koers gewaai word, wrakke op die rotse van vroue. Myne was Hildegard. Anders as jou Traudl het sy my terug liefgehad. Sy was een van my studente, potensieel ’n goeie skilder. Eendag het ek haar hand gelei en sy leun teen my aan …” Hy kou ’n korsie swart brood, kyk verby sy metgesel terwyl sy gedagtes met die herinnering spartel. Toe sluk hy. “Die koeël was deur die kerk, sy het nooit weer ’n enkele kwashaal geverf nie.”

Wat sy pleks daarvan begin doen het, was om vir hom te poseer – om die onderwerp te wees in plaas van die kunstenaar. August onthou haar wat daar sit sonder ’n draad klere, met niks anders as ’n glimlag wat hy nooit kon deurgrond nie. Hy het aangeneem dit is ’n masker om haar verleentheid te verberg, het gevrees dis omdat sy geweet het watter effek haar vroulike skoonheid op hom het. Het sy geweet hoe hy sukkel om na haar borste, middel, heupe en bene te kyk in terme van lyn, volume, kleur en tekstuur, sonder om hulle onder sy hande voor te stel?

“Ons het verloof geraak. My kunsklasse was vol en ek het ’n klompie skilderye verkoop. Die lewe was mooi en vol belofte. Ek het nie geweet ’n mens kan so gelukkig wees nie, dit het my selfs ’n bietjie verleë gemaak.”

Hy skep asem terwyl hy botter op nog ’n sny brood smeer en ’n hap vat wat sy tande se buitelyne daarop afets.

“Aangesien jy so pront was met jou storie, sal ek jou vertel wat volgende gebeur het. Hierdie polospeler het in haar sosiale kringe verskyn, wat, as ek nou eerlik moet wees, ’n entjie bo my vuurmaakplek was.”

“Polo?” Die mannetjie lyk ongelowig.

“Ja, kan jy dit glo? Die spel met perde waar jy ’n bal in ’n net in moet slaan, daai een. Nie te lank gelede nie is dit net in die Ooste gespeel, toe begin die Britte daarmee en nou speel die rykes dit in Berlyn. Daar is selfs sprake dat hulle ’n klub gaan begin. Die wêreld krimp by die dag, die mees eksotiese goed raak alledaags. Binnekort is daar niks oor waaraan ’n mens jou kan verwonder nie.” Hy waai sy hand asof om van die steurende gedagte ontslae te raak. “In elk geval, hierdie polospeler. Iets omtrent hom het haar skoon muisneste gegee. Ek stel hom altyd voor as ’n laventelhaan. Sy het hom by ’n Nuwejaarspartytjie ontmoet en teen Maart het sy teenoor my bely dat sy swanger is. Dit kon nie myne wees nie, ons het nooit … Hoe ook al, sy het my liefgehad en was jammer en kon nie mooi verstaan hoe sy toegelaat het dat dit gebeur nie, asof hy haar betower het. Dit was moeilik vir my om te aanvaar, maar ek het haar innig liefgehad en sy vir my. Ons het besluit ons sal dit wat gebeur het ongedaan maak, dat ons sal terugkeer na hoe dinge eens was en dat ons die gelukkige lewe sou lei wat voorheen ons voorland was. Toe vat ek haar na ’n vrou toe wat in hierdie soort ding spesialiseer. Iets het verkeerd gegaan en … Sy is op Paasmaandag begrawe, verlede jaar, en dit voel soos gister.”

August lig sy koffiekoppie en maak sy brandende oë toe. Die koffie is lou, bitter en swart.

“Weet jy wat die ergste is? Hierdie polospeler, hy weet nie eens daarvan nie. Hy het ons lewens verwoes en dit beteken vir hom niks meer as ’n bietjie bedgimnastiek nie, ’n paar minute se lekkerkry.”

“Het jy hom nooit ontmoet nie?”

“Ek ken sy naam, dis hier ingebrand.” Hy tik teen sy voorkop. “Eendag … eendag sal ek hom vertel wat hy gedoen het.”

Dit sal nie wees soos so pas nie, dink August. Hy sal die bliksem vertel van die druppels sweet op haar bewende bolip, van die lyding in haar oë, soos ’n vos in ’n slagyster, van elke spasma en gedempte kreet, die bloeding wat nie gestop kan word nie. Al die herinneringe wat hy nie kan verduur nie.

* * *

Volgens die brief wat Siegfried gekry het, vergesel Traudl haar pa op sy sakebesoek hierheen deels om na ’n foto te soek. In een van sy briewe aan haar het Manfred Eberhardt genoem dat hy een laat neem het, maar nie sy self of haar verloofde se familie het dit ooit gesien nie. Na alle waarskynlikheid sal haar soektog haar na Windhoek se enigste professionele fotograaf lei, en dit is dus die beste plek vir Siegfried om na haar te begin soek. As sy al daar was, sal Leimbach dalk weet waar om haar te kry. As sy nie daar was nie, kan Siegfried die foto kry en dit gebruik as ’n verskoning om na haar te soek. Daar is heelparty hotels in Windhoek waar sy en haar pa kan tuisgaan, en daar is altyd die moontlikheid dat hulle by vriende oorbly, en dit kan dalk ’n gejaag na wind wees. Maar as hy die foto in sy hand het, ’n doel bo en behalwe sentiment, sal hy minder verleë voel om rond te vra na haar.

Sekerlik sal niemand, nie eens haar pa, hom kan verkwalik dat hy haar so ’n guns doen nie, maak Siegfried homself wys toe hy op sy sending vertrek. Hy rek sy treë, maar voel nogtans dat hy stadig beweeg. Hy het daaraan gewoond geraak om te perd te reis. As jy loop, gaan soveel tyd verby en is jou vordering so gering. Dit gee hom egter tyd om meer aandag aan sy omgewing te gee. Die wit nedersetting in Windhoek is maar net vyftien jaar oud, en is nog skaars meer as ’n klompie verspreide geboue in ’n wye, golwende oopte tussen heuwels, maar in hierdie onherbergsame wêreld getuig die dorp se blote bestaan van ’n waagmoedige geloofsdaad. Siegfried wonder of dit ongeag die huidige optimisme nog oor ’n paar dekades sal bestaan. Die land se mense het glo baie jare gelede ’n nedersetting hier begin, maar dit het lank voor die Duitse besetting reeds ten gronde gegaan. Sal die geskiedenis hom herhaal?

Die fotograaf se ateljee is naby die stasie, in Bulowstrasse – ’n smal afgewitte gebou met ’n winkelvenster voor en woonkwartiere aan die agterkant. Die venster sê Otto Leimbach – Fotograf. Dit is ’n gereelde stopplek vir nuwe aankomelinge wat ’n foto van hulle wil kry om vir die familie by die huis te stuur.

Die fotograaf is aan die sing. Selfs van buite af kan Siegfried genoeg hoor om die gesang “Ehre sei Gott in der Höhe” te herken.

Siegfried stoot die deur oop. Die voorste vertrek se een hoek dien as ’n ateljee, met ’n stoel, hoë tafel met ’n potplant, en ’n swaar gordyn daaragter. Teen die kantmuur is die opgestopte kop van ’n Afrikanerbul met sy wydgestrekte horings – ’n opsie vir diegene wat ’n bietjie plaaslike kleur aan die foto wil gee. ’n Reeks voorbeeldfoto’s is in ’n vertoonkas langs die toonbank uitgestal, en agter die toonbank staan Leimbach self, ’n spekkerige man met geel hare wat soos gras groei. Siegfried het hom al vantevore gesien en, soos die meeste Duitsers in Suidwes-Afrika, het hy al dat die man sy foto neem – nie ’n portret nie, maar een van Lisbeth Kamke se troufoto’s.

Die deur se beweging trek ’n tou wat ’n klokkie lui, en Leimbach se gesig kraak in ’n glimlag nog voordat hy opkyk.

“En hoe kan ek vandag tot diens wees?”

“Ek soek na ’n vrou.” Die oomblik dat hy dit sê, is Siegfried spyt oor hoe dit uitgekom het. Die fotograaf se geslepe gryns maak dat hy dadelik byvoeg: “Sy is ’n besoeker uit Berlyn, op soek na ’n foto van haar verloofde wat dood is, ’n soldaat.”

“O.”

“Ek het gewonder of sy dalk reeds hier was, of jy haar gesien het.”

Die fotograaf stoot sy onderlip uit en skud sy kop. “Nee, ek sou dit onthou het.”

“Sou ’n mens so ’n foto kon kry? Dis seker al minstens ’n jaar vandat dit geneem is. Hou jy die negatiewe?”

“Met ’n bietjie inligting sal ek dit kan opsoek. Ek behoort dit te kan kry. Ek het ook gedrukte foto’s wat mense nooit kom haal het nie. ’n Paar van hulle is hier.” Hy wys na die vertoonkas. “Maar daar is te veel. Party is agter.”

Siegfried kyk na die foto’s in die vertoonkas, maar herken nie een van die manne nie. “Kan ek dalk na die ander foto’s kyk? Ek weet hoe hy lyk.”

“As jy wil. Maar dit kan ’n ruk vat, daar is nogal baie.”

“Wys my maar net waar dit is.”

Die fotograaf kyk na Siegfried se pak klere wat lyk of dit aan iemand anders moet behoort. “Dit sal iets kos.”

“Natuurlik. Ek sal betaal.”

Leimbach knik half agterdogtig. “Kom deur agtertoe.”

Siegfried volg hom in die gang af. Die eerste deur is dié van nog ’n ateljee, met die donkerkamer oorkant en verder aan ’n smal pakkamer, skaars wyer as die gang.

“Dis maar stowwerig hier. Die kissie daarso het die onopgeëisde foto’s. Jy het geen idee hoeveel geld ek al so verloor het nie.”

“Dis ’n bietjie donker hier …”

“Jy kan die kissie na die ander ateljee toe vat, dit het ’n dakvenster.”

Die klokkie lui, en Leimbach haas hom terug na die voorste kamer toe.

Alleen in die pakkamer voel Siegfried soos ’n kind wat in ’n solder losgelaat is. Sê nou hy ontdek iets interessants? Die smal vertrek het rakke aan weerskante. Die houers naaste aan die deur is duidelik gemerk – film en flitspoeier en donkerkamer-chemikalieë. Ou negatiewe in koeverte wat volgens datum gerangskik is. Hy vat die kissie met die foto’s en dra dit oor na die ateljee toe, waar die enigste meubels ’n bed onder ’n wit deken is, en ’n nagemaakte antieke pilaar. Watter soort onheilige foto’s Leimbach daar neem, kan hy hom net voorstel. Foto’s van skamel geklede swart nimfe doen die ronde onder die soldate, en hierdie pilaar lyk bekend. Hy weerstaan die versoeking om te veel daaroor te dink, gaan sit op die bed, en sit die kissie foto’s tussen sy enkels neer. Tyd om te begin soek.

Omtrent al die foto’s is van soldate, jong mans wat waardig en trots na die lens kyk asof dit God se oog is – dit is hoe hulle beoordeel wil word. Partykeer poseer twee van hulle saam, met die een wat staan en sy hand op sy makker se skouer hou. Heelparty hou gewere vas om te wys hulle is nie hier vir kinderspeletjies nie.

Siegfried wonder wat het van hierdie mans geword. Is hulle dood of het die lewe in die pad gekom van hulle voorneme om dié foto’s van hulleself op te eis? Het iets gebeur wat gemaak het dat hulle die mense afsweer wat hulle was toe die foto’s geneem is? In baie gevalle het Leimbach die betrokkenes se name agterop geskryf. Moeg van die opeenvolging van gesigte – dieselfde houdings, dieselfde uniforms, meermale dieselfde snorre – kom Siegfried op die gedagte om liewer na die name te kyk. Hy dop die stapel foto’s onderstebo en blaai vinnig daardeur, kyk net na die gesig as die foto naamloos is.

Name is so belangrik, dit is die banier waaronder jy optree. Hy wonder hoe anders hy dalk sou gewees het as hy ’n ander naam gehad het. Om die naam Siegfried te dra, dié van ’n befaamde ridder, plaas ’n sekere verantwoordelikheid op hom. Aangesien hy kennelik nie die fisieke eienskappe van so ’n held het nie, moes hy ander sterk punte ontwikkel, minder opsigtelikes.

Die vervelige proses van deur die foto’s blaai, bring wel ’n verrassing mee, ’n foto met die naam Stempsky agterop. Hy kan dit koop en sy kollega daarmee verras, dink Siegfried ingenome. Volgens die datum is die foto agttien maande gelede geneem – Februarie 1904. Hy dop dit om en tref nie sy kollega se gesig aan nie, maar dié van ’n vreemdeling. Óf die foto is verkeerd geïdentifiseer, óf daar is meer as een soldaat genaamd Stempsky in Duits-Suidwes-Afrika. Dit is ’n teleurstelling, maar hy herinner homself daaraan dat hy ’n paar sekondes gelede glad nie gedink het aan die moontlikheid om ’n foto van Stempsky te ontdek nie, en hy is dus niks slegter daaraan toe nie. Hy sit sy soektog voort en blaai na die volgende foto.

’n Paar minute later kyk hy na Manfred Eberhardt se gesig, vasgevang in die rangskikking van mikroskopiese swart kristalle op papier. So jonk en vol selfvertroue, die gesig van ’n man wat geliefd is by ander en vergenoegd met homself. Hy het ’n aantreklike voorkoms, dis nie te betwyfel nie. Sy mondhoeke trek af eerder as op wanneer hy glimlag, maar hy skep ’n edele indruk, veral met sy breë voorkop. Sy Südwester-hoed rus op een knie, liggies vasgehou. Alles anders omtrent sy houding en gesig is perfek simmetries, met ’n gekamde middelpaadjie om die effek te beklemtoon. Dit is die man wat Traudl liefgehad het. Die foto, weet Siegfried, sal meer emosie by haar ontlok as sy teenwoordigheid in die vlees. As hy dit na haar toe vat, wie weet, miskien sal sy opkyk na hom toe, dankbaarheid betoon. Dit, ten minste, is ’n emosie.

Aangesien hy reeds in die omtrek is, begin Siegfried by hotels en losieshuise naby die stasie soek, en baan gaandeweg sy weg suidwaarts met Kaiserstrasse en die omliggende strate langs. Hy kom uiteindelik agter dat Traudl en haar pa gaste by die Hotel Stadt Windhoek is, aan die dorp se suidelike rand. By nabetragting kom dit ooglopend voor, aangesien dit die deftigste hotel in Windhoek is. Die troostelose gebulk van osse by die groot uitspanplek oorkant die pad koggel hom oor sy onnoselheid. Hy het sy tyd gemors en soos ’n stommerik gelyk om van deur tot deur te gaan met die geel koevert in die hand en dieselfde vrae oor en oor te vra, gevolg deur dieselfde verduidelikings, dieselfde antwoorde. Totdat hy hier gekom het.

Die klerk by ontvangs, ’n maer man van sy ouderdom wie se moestas na ’n stuk kalligrafie lyk, sê hy sal ’n boodskapper stuur om vir die dame te sê sy het ’n besoeker. ’n Swart vrou is op haar knieë besig om die vloer met ’n lap te poleer. Die reuk van ou sweet en politoer vul die vertrek. Die muurklok tik. Die klerk se pen krap op die papier. Siegfried gaan sit en laat sy voete rus na die lang stap.

Hy onthou dat hy op haar troudag net so vir Lisbeth gewag het, in ’n ander hotel net ’n ent hoër op in die straat. Wat sou sy nou doen? Sou sy steeds saam met Stempsky wees, en wat gebeur alles tussen hulle? Hy voel die bloed na sy voete vloei, die seer sole. Dis lekker om te sit. Maar dan stel hy hom voor dat Traudl by die deur inkom en hoe hy vir haar sal lyk. Nee, dis beter om te staan. Hy kom op die been en maak seker sy klere is netjies. Hy hou die koevert liggies tussen twee vingers, sodat hy nie die foto buig nie. Hy moes liewer sy uniform gedra het. Nie dat hy die illusie koester dat hy imposant kan lyk nie, maar in uniform sal hy anders lyk as wat sy hom onthou, en enige verskil kan net goed wees.

Hy was altyd vir haar bykans onsigbaar – eers net ’n ongewenste bewonderaar, en toe iemand om mee te praat oor haar verlange na die man van haar drome, wat in Afrika vir sy land en Kaiser veg, vir beskaafde waardes. Siegfried het indertyd haar beweegredes verstaan, maar was dankbaar vir aandag van enige aard – om as vertroueling beskou te word, was beter as om skaars raakgesien te word. Traudl was omtrent die helfte van sy lewe lank die objek van sy begeerte. Nou gaan sy enige oomblik by daardie deur inkom. Hy kyk kort-kort soontoe, onthou met verleentheid hoeveel keer hy homself tot orgasme gebring het terwyl hy haar naam prewel. Miskien is dit waarom hy daardie dag die ongelukkie gehad het, toe hy haar hand vashou en na haar deinende boesem kyk, en hy daardie vlek in sy broek gemaak het wat haar pa so liederlik ontstel het. Dit was die laaste keer dat hy haar in die vlees gesien het. Deesdae is sy ook nie eens meer so baie in sy gedagtes nie. Maar ou gewoontes klou hardnekkig en sy palms voel sweterig. Hy vee hulle stilletjies teen sy broek af, agter sy dye. Dit verras hom nou nog om die bult van spier te voel wat daar ontwikkel het in die maande van gesondheid, van baie perdry.

En dan is sy daar.

Bleek en adellik met daardie troebel oë, die sagte, vol mond. Sy dra die Europese idee van safaridrag – ’n lang kakieromp wat om haar welgevormde heupe span, ’n wit bloes met skaapboudmoue, ’n ry knope op die voorarms en ’n hoë kantkraag. Haar hare is agter haar kop vasgesteek. Haar neusgate se rande, merk hy, is pienk en skilferig, seker oor die koue, droë klimaat. Sy dra blink stewels met vierkantige tone en lae hakke.

Hy hou sy rondebolkeil voor sy lende. As daar nou ’n nat kol sou wees, sou sy dit nie kon sien nie. Hy kan nie ’n woord uitkry nie.

“Siegfried,” sê sy, en kom op hom afgestap met een hand uitgestrek, die pols slap en vingers wat hang.

Hy vat haar vingerpunte liggies tussen syne en laat sy lippe vlugtig aan haar handrug raak. Sy ruik na rooswater.

“Ek het nie verwag om jou hier te sien nie,” sê sy.

“My pa het my laat weet dat julle kom. Ek het dit reggekry om verlof te vat.” Sy stem is ewematig. Sy het hom leer ken as iemand wat stotterend praat, in passievolle uitbarstings. Maar sy kom seker nie die verandering agter nie.

“Hoe het jy hier gekom?” vra sy. “Is daar dan gevegte hier naby?”

Natuurlik, sy dink hy is nog ’n soldaat. Sy weet nie wat deesdae in sy lewe aangaan nie, hy het immers nie regtig die briewe gepos wat hy aan haar geskryf het sedert hy Berlyn verlaat het nie.

“Ek is nie meer in die leër nie.”

Voordat ’n skyn van genoegdoening op haar gesig kan verskyn, voordat sy haar kan verlekker in die bevestiging dat sy heeltyd reg was, dat hierdie kêrel nie van dieselfde stoffasie as haar Manfred is nie, las Siegfried haastig by: “Ek is na die polisie gesekondeer. Ons is in beheer van ’n uitgestrekte distrik, suidwes van hier, reg op die rand van die Europese nedersetting.”

“Is dit gevaarlik?”

“Daar was ’n paar maande gelede ’n opstand. Mense is dood.” Vir Siegfried klink dit tegelyk meer en minder heroïes as die werklike gebeure. Daar was niks glorieryks daaromtrent nie, maar dit het op ’n persoonlike vlak heldhaftigheid geverg wat die algemene opvatting daarvan oorskry.

“Dit lyk asof jy goed daarvan afgekom het. Jy lyk anders.”

Jy lyk nog so mooi soos altyd, wil hy sê, maar dit is ’n sluis wat liefs nie oopgemaak moet word nie.

Die vrou wat op die vloer kniel, hou aan om dit blink te vryf, blykbaar onbewus van die wit mense se gedoentes. Die klerk by die toonbank maak asof hy niks ag op hulle slaan nie; sy pen krabbel naarstiglik.

“Verskoon tog,” vra Traudl vir die klerk, wat verlig lyk dat hy nie meer hoef voor te gee dat hy onbewus is van hulle nie. “Sal jy vir ons iets in die eetkamer kan bedien?”

Siegfried volg haar deur ’n sydeur tot in ’n verbasende groot saal waarin skuins skagte sonlig val. Bokant die ryklik versierde verhoog aan die een kant hou ’n heraldiese adelaar wag oor alles. Daar is muurpapier teen die mure en die plafon is beskilder. Gordyne is langs die vensters gedrapeer en die mure tussenin het lysies waarop potplante pryk. Dit is die deftigste plek wat hy nog in hierdie land gesien het. Hulle voetstappe eggo in die leë vertrek.

“Dis nie knus nie,” sê sy en neem haar plek by ’n tafel teen die muur in.

“Ek het nie geweet hier is sulke plekke nie.” Hy sit die fotograaf se koevert en sy hoed op die stoel langs hom neer, en gaan sit met sy voorarms op die tafel se rand en sy hande inmekaar geklem. As hy maar net vir haar party van die plekke kan wys wat hy hier aanskou het, vistas wat jou siel naak stroop. “Het jy al kans gehad om iets van die land te sien?”

“Op die trein.”

“Is dit nie wonderlik nie?”

Traudl vroetel met ’n sakdoekie wat soos ’n towenaar se duif in haar linkerhand verskyn het. “Elke ding wat ek hier sien, dan dink ek hoe dit vir hom moes gewees het om dit te sien.”

En daar neem die gees van Manfred Eberhardt sy plek saam met hulle by die tafel in, en dit is weer soos die ou dae. Op daardie oomblik besef Siegfried verlig dat hy nie wil terugkeer daarheen nie. “As jy jou die hele tyd iemand anders voorstel, dan raak jou eie lewe …” Sy hand probeer die sin voltooi, sy vingers krul in op hulleself. “Jy moet dit self sien, met jou oë en jou eie bewussyn.”

Die sakdoek gaan na haar neus toe, vryf dit totdat die rooiheid sprei. “Ek kan nie hier asem kry nie, die lug brand my.”

“Ons is hoog bo seespieël en daar is dus minder suurstof as waaraan jy gewoond is. Boonop is dit nog droog ook.”

“En stowwerig.”

Blink stippels stof dryf tussen hulle, immer teenwoordig, die gewoonlik ongesiene partikels nou deur ’n sonstraal belig.

“Ek het vir jou iets gebring,” sê hy en gee vir haar die koevert.

Sy lig weifelend die flap en voel na die inhoud. Die foto gly stadig uit, onthul die middelpaadjie, die edele voorkop, dan die oë en dan die res van Manfred Eberhardt. Sy lyk gans verlore en Siegfried onthou hoe hy daarvan gedroom het om haar van haar hartseer te red. Nie meer nie, besef hy.

“Ek het dit by ’n fotografiese ateljee gekry, Manfred het dit nooit gaan afhaal nie.”

Haar hande bewe en sy sit die foto op die tafel neer, staar lank daarna, asof dit kan begin beweeg, lewe kry, met haar praat. Manfred Eberhardt se glimlag is gevries in tyd.

“Ek kan nie ophou om aan hom te dink nie. Ek hou aan dink oor sy laaste oomblikke, wat hy gedoen en gedink het toe …”

Siegfried kon nog nooit die beheptheid met mense se laaste woorde of oomblikke verstaan nie, asof menselewens gekomponeer word soos musiek of stories. Die laaste oomblikke van ’n lewe is soos die laaste woorde op ’n lukraak gekose bladsy in ’n boek, dit kan op enige banaliteit eindig, of selfs halfpad deur ’n sin. Maar hier sit sy, Traudl, besig om haar allerhande dinge in te prent, aan ’t wonder, op soek na betekenis en troos. Trane wel op in haar oë, kan enige oomblik losbreek en strepe op haar gepoeierde wange maak. Haar hande met die blou are is in haar sakdoek gestrengel.

“Ek het gehoor hoe dit gebeur het,” hoor Siegfried homself sê in ’n hees, opregte stemtoon. “Toe ek hierheen gekom het, is ek aan dieselfde eenheid toegedeel, en ek het die manne uitgevra.”

Hy voel Traudl se oë op hom. Tydens al daardie ure wat hy in Berlyn in haar geselskap deurgebring het, was sy die hele tyd gefokus op iemand wat nie daar was nie. Hier kyk sy nou uiteindelik na hom en hy voel niks van die emosionele stuimeling wat so ’n oomblik belowe het in die jare wat hy hom dit voorgestel het nie. Pleks daarvan voel hy hartseer en bejammering. Woede ook, omdat hy soveel omgegee het en sy so min. Sy verwag ’n storie, en hy het nie regtig iets te vertelle nie.

“Dit was daar bo naby Waterberg,” sê hy, sy verbeelding net ’n kortkop voor sy woorde. “Hulle was in ’n verdedigende stelling vasgepen. Elke keer as hulle probeer het om uit die skans te kom, het hulle vuur getrek. Daar was geen uitkomkans nie, en hulle water het lankal opgeraak.” Siegfried skep asem. Hy sal kan sê dat Manfred van dors omgekom het. Dit sal seker meer realisties wees as die storie wat hy uit sy duim suig. Maar dit is natuurlik nie wat sy sal wil hoor of eens sal kan aanvaar nie.

’n Bibbering pluk aan haar lippe. Dis asof haar hele wese na hom smag, gereed om te verorber wat hy onthul.

Hy trek ’n diep asemteug in en laat dit stadig uitkom, vorm dit in woorde. “Daar was geen manier waarop hulle almal kon oorleef nie. Jou Manfred moes dit besef het, want hy het opgespring en die vyandelike stelling bestorm, selfs al was dit duidelik dat dit futiel sal wees. Hy het so vinnig geskiet as wat hy kon, van rots tot rots gehardloop, herlaai, opgespring en dit weer gedoen. Hy is gewond, maar het aangehou om doelbewus die vyandelike vuur te trek. Dit het sy makkers kans gegee om weg te kom. En hulle het, almal van hulle – sy dapperheid het hulle lewens gered. Die laaste wat hulle hom gesien het, was hy op sy knieë, deurtrek van koeëls, maar nog steeds aan die skiet … Hulle sê hy het triomfantelik gelyk.”

Traudl hou haar oë toe en die trane wat tussen haar ooglede uit pers, raak melkerig soos dit met die poeier op haar wange meng. Sy snuif en gebruik haar deurweekte sakdoekie, maar dit help niks en Siegfried pluk sy groot mansakdoek vir haar uit.

“Dankie,” prewel sy in ’n stem wat wankel onder die gewig van emosie.

Hy sien haar skouers skud, onthou daardie verloklike holtes voor haar sleutelbene. Sy is ’n beeldskone vrou, maar nie meer ’n dwingende teenwoordigheid in sy lewe nie, besef hy. Hy kan haar nie van haar hartseer red nie. Miskien kan niemand nie, selfs Manfred Eberhardt sou dit nie kon regkry nie. Traudl het nog altyd na ’n weduwee in wording gelyk, besef hy, met die aura van iemand wat net wag voordat sy haar gesig agter ’n swart mantilla kan verberg, om kerse by ’n altaar aan te steek en haar eie lewe in olierige rooknewels op te offer. Deur vir haar hierdie leuens oor Manfred op te dis, is dit asof hy homself bevry het, asof hy sy pad uit ’n kerker oopgelieg het.

“Ek moet nou gaan,” sê hy.

“Wie het jou hiervan vertel? Waar kan ek nog uitvind?”

Siegfried staan op. “My bron is … nie meer met ons nie.” Sy lyk meteens so ontsettend kwesbaar dat hy byvoeg: “Jy sal ongetwyfeld nog amptelike bevestiging ontvang. Die dinge wat gebeur, gaan nie verlore nie.”

* * *

Toe hy die Hotel Stadt Windhoek verlaat, dink Siegfried oor die leuen wat hy vir Traudl vertel het. Dit het haar blykbaar vertroosting gebied. Miskien kan hy met oberst Adendorff se klerk met die een arm gaan praat, die een wat briewe vir die gesneuweldes se families skryf, en vir hom vra om een te skryf waarin hy dié storie bevestig. Die klerk sal straks onwillig wees en daar is die kans dat hy hom in oberst Adendorff sal vasloop, wat ongemaklik sal wees, maar as dit werk, onthef dit hom van enige verdere verpligting teenoor Traudl, voel hy. ’n Verhouding wat grotendeels fiksie in sy kop was, kan tot ’n einde gebring word deur ’n stukkie geskrewe fiksie. Miskien.

Maar dis iets vir later. Eers moet hy aandag gee aan ’n idee wat soos ’n borrel moerasgas uit sy onderbewuste opgekom het. In stede van regs draai met Hugelweg op na die fort toe, draai hy links in Gartenstrasse, dan regs in Talstrasse, na Bulowstrasse en die fotograaf se ateljee toe. Hy kan nie ophou dink aan die foto van die ander Stempsky wat hy gesien het nie. Leimbach het dalk die verkeerde naam agterop geskryf en daar kan ’n foto van Hans Stempsky in daardie kissie wees. Dit sal tog seker die moeite werd wees om uit te snuffel, sodat hy dit vir sy kollega kan gee.

Die winkel is verlate, maar die klokkie bring weldra vir Leimbach in die gang af, nog besig om sy mond met ’n gestreepte doek af te vee wat hy in die verbygaan agter die toonbank indruk. Hy kou nog toe hy vir Siegfried groet.

“Was die dame toe tevrede?”

“Dit is ’n mooi portret.”

“Ek kan jou ook so laat lyk.”

Anders as vanoggend, is Leimbach se moue nou opgerol. Dit tref Siegfried hoe deurskynend sy vel is. As jy hom op enige ander plek raakgeloop het, sou jy geraai het hy is ’n slagter – sy bonkigheid, die dik vingers en opgekrulde snor. Die fotograaf grou iets onder sy vingernael uit.

“Eintlik is ek hier oor iets anders. Vanoggend, daar agter, het ek ’n foto gesien.”

Leimbach se vingers vries op die plek, hou hulle posisie, en hy kyk op, sy oë blink krale tussen die voue vel.

Dalk dink hy ek soek een van sy swart nimfe, dink Siegfried, en haas hom om te verduidelik. “Daar was ’n man … Ek is nie seker nie, ek sal graag weer daarna wil kyk.”

“Jy gaan dit darem seker koop?” vra Leimbach.

Hulle herhaal die oggend se stappe. Sodra hy weer alleen is met die kissie onopgeëisde foto’s, is dit vir Siegfried maklik om dié waarna hy vroeër gekyk het eenkant te sit, en vind hy weer die een wat Stempsky gemerk is. Hy sit dit eenkant en begin dan deur die foto’s sif wat hy nog nie gesien het nie. Hy begin by die foto’s waarop niks geskryf is nie. Daar is geen waarborg dat hy iets nuttigs gaan aantref nie, en hoe langer hy soek, hoe belagliker voel dit om na vreemdelinge se portrette te kyk in die hoop om iets te sien, maar wat? Terwyl hy die een gesig na die ander bekyk, jong mans op die vooraand van volwassenheid, begin dit hom affekteer, al hierdie persoonlikhede, hierdie lewens, elk met ’n onbekende verlede en, met die uitsondering van dié wat gesneuwel het, ’n toekoms wat dag vir dag ontvou. Vir elke portret voor hom is daar iemand vir wie daardie gesig die een is wat hulle in die spieël sien. Dit is die hare wat onder ’n hoedband jeuk, dit is die ore wat in die snerpende oggendlug pyn, dit is die wange waaraan vrouehande vat, ’n ma of ’n minnares, dit is die lippe wat sag aan ander raak, wat aan vrugte suig. Elke foto verteenwoordig ’n ganse mens, geheel en kompleks, jong mans soos hy. Elkeen van hulle het seker sy Traudl – miskien nie ’n meisie nie, maar iets wat hulle roer of ontwrig en die pad van hulle jong lewens rig.

En dan hou hy dit tussen sy vingers, ’n foto van sy kollega Stempsky wat jonk en hoopvol en trots lyk. Hy sit dit langs die ander Stempsky se foto neer. Die ooreenkomste wat hulle deel, deel hulle ook met al die ander portrette – die agtergrond, die manier van poseer, die uniform en die jeugdigheid. Daar is niks in hulle gelaatstrekke wat suggereer dat hulle verwant is nie. Miskien het die fotograaf ’n fout gemaak en die verkeerde naam op die verkeerde foto geskryf. Dit is die eenvoudige verduideliking. Maar daar was nog altyd iets aan Siegfried wat maak dat hy huiwer om voor die hand liggende antwoorde sonder meer te aanvaar. Dit laat hom partykeer in die moeilikheid beland, maar nogtans … Sê nou daar steek iets hieragter, die een of ander interessante geheim? Hoekom is hierdie portrette nooit afgehaal nie? Die wêreld waarin hy hom bevind, het dalk verrassende dimensies, wil hy graag glo. Indien wel, sal dit kortsigtig van hom wees om dit nie te verken nie.

Hy hou die twee foto’s aan die hoeke vas en gaan daarmee terug na Leimbach toe. “Ek stel belang in hierdie twee,” sê hy. “Wat kan jy my nog van hulle vertel?”

“Jy het die foto’s. Wat is daar nog om te weet?”

“Wanneer is hulle geneem? Was hierdie twee saam?”

Leimbach rol sy oë. “Dit gaan soek kos.”

“Hoe weet jy die regte naam kom op die regte foto?”

“Mense gee vir my hulle name wanneer hulle kom poseer.”

Siegfried hou die foto van die Stempsky wat hy ken omhoog. “Hierdie een het nie ’n naam nie. Hoe so?”

“Partykeer kom mense in groepe hier aan, en dan is ek agterna nie seker wie is wie nie. Ek sien soveel mense dat ek vergeet. Jy kan my nie verkwalik nie. Dis hulle verantwoordelikheid om hulle foto’s te kom haal. Hulle weet immers wie hulle self is.”

Siegfried voel teleurgesteld oor die waarskynlikheid dat dinge in hierdie geval seker presies is soos wat dit lyk, niks meer nie, die voorkoms en feite is identies. Stempsky sal seker graag sy foto wil hê, en óf die ander man is ’n neef of iets van hom, óf dit is ’n kameraad of bekende wat saam met hom na die fotograaf toe gekom het. In albei gevalle sal Stempsky die foto aan die eienaar kan besorg. Siegfried betaal en vat die koevert met albei foto’s.

Dit is al na middagete en die honger trek sy maag op ’n knop, maar hy het daaraan gewoond geraak om ongereeld te eet en besluit om nie dadelik na kos te gaan soek nie. Miskien kan hy ’n ruk lank in die Gedenktuin aan Kaiserstrasse sit en ’n bietjie groenigheid geniet, waarvan daar in die winter bittermin te siene is.

By die tuin word sy aandag getrek deur ’n handjievol mense wat op die grond sit en almal na dieselfde ding kyk. Wat hulle aandag boei, sien Siegfried, is die groot man saam met wie hy vanoggend ontbyt geëet het. August Niedermeyer het ’n esel opgestel en is besig met ’n vinnige waterverfskildery van ’n Damaraman in tweedehandse klere en ’n Duitse soldaat sy aan sy, die soldaat met sy een hand op sy sabel se hef en die ander op sy metgesel se skouer. Siegfried besluit om saam te kyk en gaan staan agter die klompie sittendes. Hulle het ’n goeie blik op die skildery, verby Niedermeyer se linkerarm. Op sy voorarm het hy ’n houtbord met vyf gate met ’n waterglasie in elkeen – wat blou, geel, rooi en groen getint is oor die kwaste wat hy daarin afspoel – met die pigmentblokkies in ’n kissie op die plat gedeelte. Hy het sy twee modelle se houdings met vernuftige hale vasgevang, met ’n wasige agtergrond, en voeg nou donkerder skaduwees by wat op wonderbaarlike wyse ’n derde dimensie skep, dit is asof die figure na vore tree uit die papier. Die kykers maak goedkeurende geluide.

Die soldaat draai sy kop en Niedermeyer maan hom om stil te bly staan. “Amper klaar.” Nog ’n paar kwashale, nog ’n minuut of wat, en dan roep die skilder sy modelle nader om te kom kyk.

Siegfried staan ook nader. Die portret is in ’n losse styl, met net die gesigte wat in enige detail gedoen is.

“Wat dink jy?” vra die soldaat vir sy metgesel. “Lyk dit soos ons?” Hy haal sy beursie uit om te betaal.

Toe die transaksie afgehandel is en die soldaat met sy portret wegloop, kyk die kunstenaar na Siegfried. “Daar is aandete nou betaal. Ek het gedink jy kan saamkom, miskien kan ek jou portret skilder … maar ek sien jy ondersteun die opposisie.” Hy wys na die koevert wat Siegfried vashou, met die fotograaf se stempel daarop.

“O nee, dis nie ek nie. Ek het maar net ’n foto gekoop.”

“Van wat?” vra Niedermeyer. Hy skud die gekleurde water op die grond uit. Sodra dit met die stof meng, lyk al die kleure eenders, net donkerbruin spatsels.

“Dis net ’n portret van hierdie man wat saam met my werk. Stempsky het dit laat neem en nooit gaan afhaal nie.”

Niedermeyer vee sy hande skoon, lyk vies oor die verfvlekke, en staan nader. “Kan ek sien?”

Siegfried haal Stempsky se foto uit die koevert uit.

“Wat is sy naam nou weer?”

“Hans Stempsky.”

Niedermeyer vat die foto en hou dit om die lig goed te vang, staar lank daarna.

Wat sien sy kennersoog daar? wonder Siegfried. Kyk hy na die lyne en die lig, na die minder beweeglike dele van die gesig se argitektuur, na die uitdrukking in die soepel mond en dele rondom die oë? As kunstenaar, sien hy die persoon se geskiedenis en geaardheid waar ons ander maar net die gelaatstrekke sien wat ons onthou?

“Wat dink jy daarvan?” vra hy toe Niedermeyer niks sê nie.

“Dis heel vaardig gedoen, maar, jy weet, ’n foto … Jy kan nie juis sien watter soort man hy is deur bloot daarna te kyk nie.”

“En jou skildery nou net, het dit meer gesê?”

Niedermeyer gee die foto terug. “Wel, jy sou daarna kon kyk en sien dat die soldaat ’n te hoë dunk van homself het. Hy’s ’n gawe kêrel, maar hy behandel sy metgesel soos ’n troeteldier. Hy het opgetree asof hy daardie man besit. Dit is in my skildery. En die swart man, hy dink hy behoort trots te wees dat hy uitgesoek is, maar is heimlik verleë daaroor, eintlik ontsteld oor die posisie waarin hy hom bevind.”

Siegfried is beïndruk deur die verduideliking, selfs al het hy na die kunswerk gekyk sonder om enigiets daarvan te sien.

Niedermeyer gaan voort: “Ek kyk na die foto wat jy vir my gewys het, en ek sien die vorm van die man se kaak en die krul van sy snor. Al wat ek van hom kan sê, is dat hy ’n aantreklike kêrel is wat blykbaar eens op ’n tyd ’n hou of twee op die oog gekry het, dalk welverdiend. Daar is geen aanduiding of hy ’n goeie of slegte mens is nie. Vir al wat ek weet, is hy die grootste uitvaagsel wat al ooit die aarde bewandel het.”

Siegfried grinnik. “Nee, dit is hy nié.”

Niedermeyer draai ’n paar skroewe los en slaan sy esel af in ’n netjiese pakket wat hy in die groot leersilinder laat inglip wat daarvoor bedoel is. “Nou watter klas man is jou herr Stempsky dan?”

* * *

Niedermeyer soek nie regtig ’n antwoord nie, hy hou maar net die gesprek aan die gang. Sy gedagtes is ’n miernes waarin ’n spinnekop gekruip het. Dit voel asof hy iemand anders geword het wat doer anderkant by die bome staan en van ver af hoor hoe hy praat.

Laas jaar, nadat die aanvanklike skok van Hildegard se dood afgeneem het, het hy begin soek na die man wat vir haar toestand verantwoordelik was, die swaaibal wat hulle geluk so goedsmoeds verwoes het. Hy het alles wat hy weet probeer bymekaarsit om ’n prentjie van die man op te bou, maar die enigste feite waarop hy peil kon trek was ’n naam, die speel van polo, en die manlike geslagsorgaan. Uit daardie drie dele het hy ’n demoon saamgeflans, wasig van voorkoms, ’n wolk van pure gif. En soos ’n wolk het die bliksem skynbaar van die aardbol af verdwyn. Hy kon skaars iets anders doen as om heeltyd oor die man te dink, dag en nag, tot so ’n mate dat die wandader vir hom soos ’n mitiese kreatuur geraak het, iets uit die benederyk, ’n verwoester van wêrelde.

Dit het weke van snuffel gekos voordat hy gehoor het die man is ’n soldaat en is vort na die kolonies toe. ’n Paar dae later het hy geweet die uitvaagsel is veronderstel om in Duits-Suidwes-Afrika te wees. Maande lank het hy geld bymekaargemaak, alles verkoop waarsonder hy kon klaarkom, op die broodlyn gelewe, totdat hy die passaat kon bekostig. Selfs op die skip hierheen kon hy hom kwalik voorstel dat hy die man ooit regtig sal vind. Suidwes-Afrika is groot, meer as twee keer so groot soos Duitsland; mense gaan dood, verdwaal of keer terug huis toe. Dit was hoop eerder as verwagting wat hom aangevuur het. Hy was bereid om militêre rekords te fynkam, om per trein, kar en perd te reis om sy prooi te vind. En nou, na slegs enkele dae hier, word Stempsky op ’n skinkbord vir hom aangebied, kompleet met ’n foto en waar hy hom bevind.

Die bevestiging dat Stempsky inderdaad ’n regte mens is, is soos ’n albaster wat in ’n vleuelklavier rondbons, note uit die snare pluk en geweldige wanklanke afgee. Dit is asof hy die duiwel met sy horings teëkom. Om hierdie skepsel in ’n prentjie te sien, waar hy soos ’n gewone man lyk … In sy hart skreeu hy, en is verbaas om die beskaafde woorde te hoor uit die mond van die pratende pop wat sy klere dra.

“O, Stempsky,” sê die niksvermoedende polisieman met ’n ongemaklike glimlag. “Ek sou sê hy is wat mense bedoel as hulle van die stil, sterk tipe praat. Goedhartiger as wat hy wil laat blyk.”

Niedermeyer gespe die leersilinder toe waarin sy esel is en kom orent. Hy moet net nie laat deurskemer hoe hy voel nie, en durf ook nie dat daardie foto wegraak nie. “Miskien kan ek iets probeer, om ’n skildery van die foto af te maak.”

Bock lyk onbegrypend.

“Gee my die foto, dan maak ek ’n skildery daarvan.”

“Ek moet vroemôre in die pad val.”

Die miere in Niedermeyer se kop werk nou meer doelmatig. “Ek sal ’n paar sketse maak en dan kan jy môreoggend die foto vat. Ek sal graag die finale portret in olie wil doen. Dit sal natuurlik nie môre al klaar wees nie. Ek sal dit later vir jou bring, ek beoog in elk geval om bietjie in die land rond te reis. Waar in die wêreld is julle gestasioneer?”

“Jy sou nie daarvan gehoor het nie, ’n plekkie genaamd Hochnamib. Ek twyfel of dit eens op enige kaart is. Net ’n Nama-nedersetting en ’n polisiestasietjie. Omtrent honderd kilometer suidwes van hier.” Bock beduie. “Oor die Kupferbergpas, volg die pad Gamsberg toe.”

“Is daar enigiets wat die moeite werd is om te skilder?”

Bock lyk verleë. “Alles.”

“Maar dan kom ek vir seker.”

* * *

Om burgerdrag te dra was waarskynlik ’n fout, besef Siegfried. In sy persoonlike hoedanigheid, sonder die militêre uitrusting, voel hy uit plek waar hy die fort se binneplein oorsteek na oberst Adendorff se kantoor toe.

Sy voorkoms verras die klerk in die voorste kantoor.

“Ek is met verlof,” verduidelik Siegfried.

“Wat maak jy hier? Die oberst is baie besig.”

“Eintlik is dit vir jou wat ek wil sien.”

Die klerk leun agteroor en sit sy hand agter sy kop. Dit is steurend om iemand met een arm dié alledaagse gebaar te sien uitvoer.

“’n Vorige keer wat ek hier was, het jy vir my gesê jy skryf briewe vir die gesneuweldes se families. Ek het gewonder of jy een vir my kan doen, om iemand te troos wat swaar getref is deur die verlies.”

“Dis swaar vir almal. Hoekom sal ek nou ’n uitsondering maak?”

“Sy het heelpad hierheen gekom om uit te vind wat gebeur het.”

“Wie’s die soldaat?”

“Hulle was verloof.” Siegfried kan dit sê, en dit voel nie meer na steke wat uit ’n wond getorring word nie. “Ek weet dis nie hoe dinge regtig gebeur het nie, maar ek het vir haar ’n heroïese storie vertel. Dis daardie storie wat ek graag wil hê jy op ’n amptelike briefhoof moet skryf.”

Die klerk lyk oorbluf deur die voortvarendheid van so ’n versoek. “Wag nou ’n bietjie, jy vertel dus ’n leuen en nou wil jy hê ek moet dit bevestig?”

“Ja.”

Die klerk se stoel kraak, maar jy kan hom nie sien roer nie. Die kamer is vol liasseerkabinette en rakke, die reuk van papier en ink. ’n Gespikkelde vlieëslaner lê op die tafel se een hoek. ’n Vlieg wat verdoemenis ontkom het, zoem naby Siegfried se oor.

“Ek het regte werk om te doen.” Die klerk kyk na die stapel papier aan sy regterkant. “Ek kan nie tyd mors deur liegstories te skryf nie.”

“Dit sal haar die res van haar lewe help, en net ’n paar minute van joune vat.” Siegfried wonder of hy die man ’n beloning moet aanbied – hy wil nie daaraan dink as omkopery nie – maar kan aan niks gepas dink nie. Sy pleitende gesig sal die knoop moet deurhak.

Op daardie oomblik gaan die deur na die agterste kantoor oop en oberst Adendorff kom uitgestap, lank en fier met sy kaal kop, bosserige wenkbroue, en sy swart wandelstok wat op die vloer tik. Hy knik en is halfpad verby Siegfried voordat hy vassteek. “Bock?”

“Ja, herr oberst.” Siegfried se arm ruk om te salueer, maar hy onthou hy is in burgerdrag en knip die beweging kort.

“Ek wil nog met jou praat oor daardie besigheid met … e … wat daardie rebelse skoolmeester se naam ook al was. Ek is op pad na ’n vergadering toe, maar wag hier totdat ek terugkom.”

“Ja, herr oberst.” Hy het nie ’n keuse nie.

Die offisier, skraal en stram, sit sy pet op voordat hy buitentoe gaan.

Tweegevreet

Подняться наверх