Читать книгу Die vertes in - Zirk van den Berg - Страница 4

I

Оглавление

Hy is vier-en-twintig jaar oud en het elke winter van sy lewe by die dood omgedraai. Dit onderskei hom van mense wat nie hulle eie weerloosheid erken nie. Sy tuniek is een of twee nommers te groot om die bors, maar die hunkering in sy hart is selfs groter. Hy gaan Afrika toe.

Langs hom word ’n perd uit die skeepsruim gehys; hy hang in ’n draagband met sy hoewe wat in die lug trap. In die digte mis kan jy nie die hyskraan se bopunt sien nie, dit is asof die dier uit die hemel hang. ’n Stoomenjin dreun en ratte krap toe die vreesbevange perd oor die skip se rand geswaai en laat sak word in ’n ligterskip wat op die donker deining wankel.

Iemand por hom in die ribbes; dis sy beurt. Hy klou aan die reling, swaai een been oor die skip se rand en trap op die touleer. Terwyl hy afklim na die roeiboot toe, rem sy rugsak se gewig hom agteroor, en sy arms en bene begin bewe.

Hy is die laaste man wat onder kom. Hy gaan sit in die boeg en kyk agtertoe na die res van die peloton. Party van die soldate en die matrose kibbel oor wie die gekanselleerde sokkereindstryd tussen Berlyn en Leipzig sou gewen het. Dis al diep in die volgende seisoen, met nog net twee maande voor die 1905-eindstryd in Mei, maar die ondersteuners praat steeds oor laas jaar se grootste antiklimaks. Die matrose gebruik die spane om hulle weg te druk van die Jeanette Woermann se staalromp af, en begin roei. Wit spatsels verskyn waar die spane die water slaan, twee ewematige lyne skuimkringe wat stadig verslaan. Oorheen verskyn meeue, klap hulle sekelvormige vlerke. Die spaanhingsels kraak en klik, die voëls krys en die lug pols met die veraf slae van branders teen ’n onsigbare kus. Die digte, souterige oggendmis versluier die omgewing. Hy hoor stemme wat klink asof dit van die oop see af kom, maar hy weet dit moet van die ander skepe in die baai wees. Daar is omtrent tien ander, hy het hulle gisteraand gesien toe die Jeanette Woermann anker gooi. Nou kyk hy na die manne in die skuit, die matrose wat roei en die res wat skouer aan skouer sit, hulle rugsakke tussen hulle knieë. Hulle dra donker kakie-uniforms met grys breërandhoede, die regterkante opgeslaan en teen die bol gespeld met die imperiale kokarde in rooi, wit en swart. Die stoomskip wat hulle tuiste was sedert hulle byna ’n maand gelede uit Hamburg vertrek het, het reeds in die mis verdwyn. Hy kan nog geen teken sien van die land waarheen hulle op pad is nie. Hy tuur in die mis, en word uiteindelik beloon met ’n ligflits wat met elke herhaling duideliker word. Is dit ’n vuurtoring se regaf lyn wat hy daar sien? Dan, toe hy oor sy skouer kyk, word donker vorms in die newel sigbaar – houtpilare met balke kruis en dwars. Detail raak duidelik: ’n kors skulpe op die hout en swaar toue wat in bonkige knope gevleg is om skepe te buffer. Van wat hy gehoor het, het skepe voorheen hier geland, maar die hawe het versand, sodat roeibote en ligterskepe die enigste manier geraak het om die mense, diere en vrag wat by Duits Suidwes-Afrika instroom aan land te kry.

Die matrose hou op roei en laat die boot na die hawehoof toe gly. ’n Gestalte doem bokant hulle op, en skree dat hulle ’n tou moet gooi. Een van die matrose kom wydsbeen orent en gooi ’n tou met ’n haak boontoe. Dit klater op die hout. Iemand moes dit opgetel het, want die tou trek styf, sleep die skuit tot teen die vierkantig afgewerkte houtpaal, waarteen die deining dit op en af laat skraap. ’n Touleer tuimel van bo af. “Komaan!” Die manne tel hulle rugsakke en gewere op, te midde van uitroepe om nie die boot te veel te skommel nie.

Hy is eerste op, gryp die leer, sit sy voet op die sport en hys hom uit die boot uit. Dis die eerste keer sedert hulle by Las Palmas oorgelê het dat sy gewig nie deur water gedra word nie.

Sodra sy kop bo die hawehoof se rand verskyn, reik ’n swart man sy hand na hom toe uit. Hy huiwer. Natuurlik het hy geweet hier sal swart mense wees, maar hy het nie verwag om so gou al een te sien nie, so naby.

’n Sersant wat met ’n potlood en oop boek op die hawehoof staan, skree op hom: “Roer jou, jy’s nie ’n toeris nie!”

Hy vat die aangebode hand en word op die hawehoof getrek. Hy weet nie hoe om op sy helper se menslikheid te reageer nie, kyk nie die man in die gesig nie en rig hom liewer tot die sersant.

Die sersant kyk hom op sy beurt van kop tot tone deur. “Is dit die hele jy?”

Hy is maar net ’n paar sentimeter korter as gemiddeld, maar is tengerig gebou en die losserige uniform vererger die effek. Toe hulle uniforms uitgereik is, het die kwartiermeester nie sy grootte gehad nie, en het verskonend gesê dat soldate vinnig lyf aansit, hy het dit al honderd maal gesien, manne wat vir nuwes kom vra omdat hulle andersins nog bruikbare uniforms se nate gebars het.

“Dis soveel van my as wat die wêreld kan hanteer,” sê hy, maar met te min energie om die opmerking gevat eerder as nukkerig te laat klink.

Die sersant trek ’n wrang gesig. “Die leër is in sy kanon … Naam en rang?”

“Siegfried Bock, reiter.”

Die sersant maak ’n merk in sy boek. “Land is diékant toe,” wys hy.

Siegfried vat die pad, ywerig om die eerste van sy groep te wees wat sy voete op die nuwe vasteland sit. Ander skuite het teen die hawehoof aangekom, gelaai met kratte vrag. Hy kan ’n meganiese hyskraan sien, hoor ’n stoomenjin in die mis hyg. Sodra die hyskraan goedere op die hawehoof neersit, tel swart mans in te groot klere dit op en dra dit land se kant toe met kort treetjies wat dof op die hout roffel. Siegfried se stewels se hakke maak skerper geluide. Die hawehoof is lank, ’n indrukwekkende stuk ingenieursvernuf, ’n houtkonstruksie wat ver in die koue Atlantiese Oseaan steek. ’n Kajuit eenkant is gemerk Zollbüro. Die doeanebeampte leun teen die deurkosyn, besig om aan sy pyp te suie. Hy wys vir Siegfried om verby te hou, en blaas rookkringe wat in die mis onsigbaar is.

Die klank van branders wat breek, wys dat land naby is, hoewel Siegfried dit nog nie kan sien nie. Daar is nou meer skuim op die dofgroen water, dan branders wat in ’n bruising wit spatsels breek en teen ’n steil strand opstoot. Die geluid van sy voetstappe op die hout raak dof; die planke is nou plat teen die sand. En dan trap hy op droë grond.

Hy is in Afrika.

Hy is in Afrika, en Traudl is in sy kop, sy en al die ander wat op hom neersien, met minagting, bejammering of ander vorms van disrespek. Hy sal hulle wys. Dit was nie sy idee om hierheen te kom nie, maar hy het dit reggekry om homself wys te maak dat dit hierdie een keer inderdaad vir hom goed sal wees om aan iemand anders se wil gehoor te gee. Dit is die land waar hy die man gaan word wat hy hom nog altyd verbeel hy is, en hulle sal hom as sodanig moet erken – Traudl, sy pa, hare vir wie hy geen liefde koester nie, selfs al het die man sy koms hierheen bewerkstellig, die dokter wat hom gevloek het omdat hy gedwing is om so ’n petieterige mannetjie in die weermag toe te laat, en die offisiere wat gebrom het toe hulle opdrag kry om hierdie swak rekruut, in weerwil van die reëls, Suidwes-Afrika toe te stuur.

’n Gevoel stu in sy bors op, ’n gekrap wat erger raak. Ondanks sy lewenslange ervaring daarvan, probeer hy dit wegsluk, maar vergeefs. Sy longe begin ruk. Sy oë skiet vol trane en sy ore raas. Hy buk vorentoe, hoes en stik, kan nie asem kry nie. Sy geweer glip van sy skouer af, die loop tref sy voorarm en die kolf kap hom op die voet. Sy bors trek nog stywer toe, selfs toe daar niks meer lug is om uit te druk nie. Swartheid klad sy sig en dit voel asof hy tuimel … en dan kom ’n asemteug deur, en nog een. Hy hyg, met die smaak van bloed in sy keel. Hy kry sy asem terug, spoeg op die grond, tel sy geweer op, kom orent en skop sand oor die smeersel bloed en slym.

“Jissis, Bock, moenie vrek nog voordat ons eens die vyand gesien het nie.”

Siegfried kyk hoedat die soldaat wat die aanmerking gemaak het, in die mis verdwyn. Hierdie bliksem ook, besluit hy, hy sal hulle almal wys – al hierdie gewone manne vol selfvertroue, manne wat dink hulle ken ander mense terwyl hulle nie eens hulself ken nie, manne wat nie twyfel en vrees as permanente metgeselle het nie, wat nie om elke hoek en draai met siniese innerlike teenstanders te kampe het nie.

Die swoel wit mis verdof alle lig, maar geluide dring daardeur. Hy hoor ’n nuwe geroffel aan sy linkerkant, nie die branders nie, iets skerper, harde oppervlakke wat teen mekaar knars. Die gekraak van toue onder stremming. Die gesteun van diere. Sy kop sê vir hom om osse te verwag, maar sy oë onthul iets anders. Uit die vaagheid verskyn ’n swart vrou in ’n ongebleikte seiljurk, vooroor geleun, met ’n dik tou oor haar skouer. Agter haar is nog ’n vrou wat ook die tou vashou, dan nog een, ’n hele ry van hulle, besig om iets te sleep. Hulle kyk nie na sy kant toe nie. Iets roer anderkant hulle, ’n tweede streep vroue eggo die eerste. En dan verskyn die swaargelaaide wa wat hulle trek. Siegfried staan botstil terwyl die wa verbyrol en gruis onder sy ysterbande verbrysel. ’n Man in uniform sit op die drywer se bankie, en laat ’n sweep in die wind kwispel.

Die onverwagsheid van wat hy gesien het, die onsinnigheid en wreedheid daarvan, hou Siegfried vasgenael. Hy staar totdat die wa verdwyn, en dan die geluide ook, sodat net die see se gesis oorbly, en die twyfel in sy hart. Het dit regtig gebeur, of was dit ’n hersenskim, veroorsaak deur ’n ooraktiewe verbeelding en ’n lyf wat nie aan sulke inspanning gewoond is nie, deur die disoriënterende mis en die stuwing van oorweldigende emosies?

Uiteindelik dring ’n ander geluid tot hom deur, een wat al ’n hele ruk voortduur voordat hy besef dat die koor van stemme na hom roep: “Bock! Bock! Bock!” Soos ’n trop blaffende honde.

Toe hy daar aankom, het die res van die peloton al in drieë aangetree, van die langste na die kortste man. Terwyl hulle hom allerhande goed toesnou, neem Siegfried sy plek op die punt in.

“Op my bevel!” bulder die sersant wat hulle op die hawehoof ingewag het. “Aaaandag!” Hy loop verby die ry manne, kyk elkeen van hulle priemend aan, terwyl hulle by hom verbykyk na ’n kamtige ding daar voor iewers, ’n onsigbare teiken in die warrelende mis. Die hele tyd spreek hy hulle toe: “Die protektoraat se mense is op hete kole. Setlaars is vermoor, honderd-ses-en-twintig van ons landsgenote net in die eerste paar dae van die Herero-opstand, onskuldige mense wat in hulle beddens en huise en werksplekke vermoor is, vroue en kinders ook, goeie mense soos julle ma’s en susters en pa’s en broers. Die setlaars het nuusberigte gesien van veldslae en gevalle soldate. Soos julle weet, het ons die Herero’s se hoofmag verlede jaar by Waterberg gebreek, maar party van hulle baklei nog. In die suide is Witbooi en Marengo se Nama-bendes nog aan’t moor en steel. Ons mense wil sien dat die Vaderland die opstandelinge vasvat.” Hy praat in kort sarsies woorde, benadruk telkens die laaste woord, en skep diep asem tussenin. “Ons moet sorg dat Swakopmund se mense sien dat nuwe schutztruppe hier aangekom het om hulle veiligheid te verseker. Julle gaan van hier af reguit na die stasie toe, daarvandaan per trein Windhoek toe, en dan die vertes in. Op pad van hier af stasie toe gaan mense julle deurkyk, probeer peil wat daar in julle steek. Hulle soek bevestiging dat hulle snags rustiger kan slaap, dat hulle toekoms in Duits Suidwes-Afrika veilig is. Julle sal skerp lyk. Julle sal vol vertroue lyk, en sterk. Julle is soldate van die Kaiserreich. Om hemelsnaam, gedra julle so.”

Hulle maak ’n regsomkeer en begin marsjeer, die lang manne voor. Siegfried rek sy treë, probeer om ’n armlengte van die rugsak voor hom af te bly. Moenie struikel nie, maan hy homself, moenie val nie. Onder sy voete voel hy die grond soos die see dein.

* * *

Mordegai Guruseb is vasbeslote om hierdie einste dag op vlug te sterf, of eers veel, veel later. Nie ’n paar weke of maande van nou af nie, nie van hongersnood nie. Hy is seker dat as hy in die konsentrasiekamp bly, hy nie die winter gaan deurstaan nie. Hy is nog maar ses weke in die kamp, maar het reeds te veel sterftes gesien om enigiets anders te verwag. Die Duitsers gee hulle te min kos en skuiling, en te veel werk.

Die laaste keer toe hy só gevoel het, was terwyl hy saam met die Herero’s in die Omaheke-woestyn rondgedwaal het na hulle nederlaag by Waterberg, op soek na kos en water. Die Duitsers het die kleiner watergate vergiftig en die grotes bewaak. Hy het besluit dat enigiets beter sal wees as om in die woestyn van dors te beswyk, en het hom aan hulle oorgegee. Hy het só sy lewe gered, maar watter soort lewe is dit hierdie?

Hy hoort glad nie eens hier nie. Die kamp is vir Herero’s bedoel, maar die soldate kan nie tussen die stamme onderskei nie. As ’n Damara was hy al jare lank aan die Herero’s onderworpe, as bokwagter. Dis ’n skrale troos dat sy meesters ook nou agterkom hoe dit voel om onderdruk te word. Die feit is hulle word almal uitgewis; hy moet wegkom. As hy in die proses doodgemaak word, verloor hy ten minste net ’n paar weke van sy lewe – weke van lyding. En as hy wel wegkom … Hy het geen idee wat dan op hom wag nie, maar hy sal lewe en vry wees, dit is genoeg.

Die kamp word deur twee rye doringdraad omhein en daar is wagte. Sy beste kans om te ontsnap is nou, terwyl hulle buitekant werk. Hy het pas ’n krat van die kaai af na die trein toe gedra, en word teruggejaag om nog ’n vrag te gaan haal. In die digte mis kan hy dalk ongesiens wegglip. Die grootste probleem is waarheen om te gaan. Aan die een kant is daar die yskoue see, aan die ander kant dorre woestyn waar nie eens die gehardste plant oorleef nie. Die enigste manier om die Namib te voet oor te steek, sal wees om die Swakoprivier se droë loop te volg, maar daar sal hy hom in Duitsers vasloop. Hy besluit op ’n vinniger en meer gewaagde manier – hy gaan die trein haal. Nog soldate het per skip aangekom, en met die trein wat voorberei word, is dit duidelik dat hulle binnekort gaan vertrek. Mordegai sal op daardie trein wees.

Nadat hy sy krat neergesit het, draal hy en maak seker dat hy die laaste man is, met net twee wagte agter hom. Hy haal die metaalkenteken af wat hy aan ’n riempie om sy nek moet dra. Toe hy langs die trein verbyloop, gooi hy die skyf so hard as wat hy kan teen ’n ossewa wat daar naby staan. Sonder om seker te maak of die geluid wel die wagte se aandag getrek het, duik hy tussen die treinwiele in, lê met wydgesperde oë op die dwarslêers, hou die wagte deur die newels dop en hoop hulle sien hom nie op die treinspoor lê nie. As hulle hom oplet, sal hy opspring en hardloop, en aanhou hardloop totdat hulle hom platskiet, en dan sal hy kruip as hy kan, bly voortbeur totdat die lewe hom verlaat.

Hy seil onder die treinwa langs. By die koppeling lig hy sy kop en kyk rond. Dit lyk asof niemand hom sien nie, en hy klouter op die balkon tussen die waens en van daar op die reling. Dan hys hy hom aan sy arms tot op die dak. Hy het niks by hom nie, net die ruwe seilhemp en -broek wat aan hom uitgereik is, ’n halfleë maag na die kampontbyt van ’n paar lepels rys, en ’n greintjie hoop. Hy kry ’n plek op die dak wat hom ’n bietjie vashouplek bied en lê dan stil, bid dat die trein sal vertrek voordat die mis lig, voordat hy oop en bloot lê vir enigiemand om hom van die stasiegebou se tweede verdieping te sien.

* * *

Teen negeuur wag die volle kompanie by die trein. Hulle sit op hulle rugsakke of leun daarteen. Party van die manne het rug aan rug gaan sit, leun teen mekaar. Hulle wys hulle opgewondenheid en ongeduld, steek hulle vrees en onsekerheid weg. Siegfried sit kiertsregop op sy rugsak en bekyk die wêreld. Hy soek selde die troos van ander se geselskap, vind dit nooit. Soos soveel dinge in sy lewe, is sy hunkering om as man onder manne erken te word grootliks abstrak. In werklikheid word dit gedurig beduiwel deur ’n rebelse gees, ’n inherente wantroue in algemene aannames. Om dinge te vererger, is sy skeptisisme nie net uitwaarts gerig nie, maar het hy die gewoonte om homself te folter. Het hy, byvoorbeeld, regtig nou net daardie vroue gesien wat die wa trek, of was dit ’n hersenskim wat deur sy onderbewuste opgedis is, ’n stukkie halfvergete Dante dalk, ’n veruiterliking van ’n diepgewortelde vrees dat hierdie land dalk nie aan sy verhewe verwagtinge gaan voldoen nie?

Die mis begin wegbrand en die wêreld om hulle kry gestalte. Die stasie is ’n groot gebou wat iewers in Duitsland sou kon staan, gepunte toring in die middel, en kleiner torinkies aan die ente waarop die imperiale vlag pryk. Die dorp bestaan uit ’n dertigstuks geboue wat op kaal sand staan. Party van die ander ouens is teleurgesteld dat hier nie oerwoud en apies is nie, met bobbejaantoue en kreupelhout, maar Siegfried het sy huiswerk gedoen. ’n Wye soom sandduine loop langs die kus af, van Portugees Wes-Afrika tot by die Kaapkolonie. Die Namibwoestyn het Europeërs dermate afgeskrik dat hulle vir twee- of driehonderd jaar nadat hulle die gebied ten noorde en suide beset het, bloot hier verbygehou het. Die enigste rede dat hierdie nedersetting hoegenaamd bestaan, is die kuslyn se vorm, met die meestal droë Swakoprivier se monding wat ’n redelike hawe bied. Walvisbaai, vyf-en-dertig kilometer suid, bied beter beskutting, maar die Britte het dit reeds beset en Swakopmund het noodgedwonge die nuwe kolonie se lewensaar geword.

Toe Duitsland hom hierdie gebied vyftien jaar gelede toegeëien het, het hier minder as honderd-en-vyftig wit mense gebly in ’n gebied twee keer so groot soos Duitsland. Selfs toe al, voordat daar nog enige sprake was dat hy ooit hierheen sou kom, het Siegfried die gedagte aan soveel ongetemde grondgebied aanloklik gevind. Hy was nie die enigste nie – byna vyfduisend setlaars het reeds hierheen getrek.

Tog produseer die land niks noemenswaardig nie. Die nimmereindigende aanvraag na mense en materiaal is vir Berlyn ’n bron van kommer. Siegfried het telkemale gehoor hoedat mense dit bespreek. Die realiste probeer van die protektoraat ontslae raak; die romantici wil dit ten alle koste behou. Traudl se pa is ten gunste daarvan om Duits Suidwes-Afrika op te bou, terwyl Siegfried se pa gekant is teen so ’n ydele vermorsing. Oor een ding stem hulle saam: Dit sal vir almal die beste wees as Siegfried ver weg van Traudl Dehlinger en die vooruitsig van ’n skandaal is.

Dit voel asof hy nog altyd verlief was op haar. Hy was sewentien toe dit die eerste keer vir hom duidelik geraak het, en blykbaar vir almal anders ook. Enigiemand wat die jongeling met die benerige gesig en koorsagtige oë in daardie tyd gesien het, het opgemerk dat hy die skoot hoog deur het. Enigiemand wat naby Traudl was, kon duidelik sien op wie hy verlief is. Wanneer hy ver genoeg van haar af was, oorkant die vertrek of op ’n ander parkbankie, het hy hom verstout om openlik na haar te staar. Om die waarheid te sê, ondanks die koperkleurige hare en deurskynende vel, is haar individuele gelaatstrekke dalk te prominent om ’n mooi geheel te vorm, maar hy is versot op daardie hoë wangbene, die diepversonke oë, die vol mond en daardie nogal lang voortande waaroor sy kort-kort lek. As hy in haar geselskap was, altyd ’n halwe treetjie agtertoe, het hy dit nie gewaag om direk na haar te kyk nie, maar sy was altyd op die rand van sy visie, met daardie slanke, bloubeaarde gewrigte wat uit haar moue glip. Hy het net geluister wanneer sy praat, en het die woorde in sy gemoed laat eggo totdat sy weer iets sê. Natuurlik was sy bewus van sy gevoelens, soos almal anders in hulle sosiale kring en selfs ’n klompie vreemdelinge.

Toe Manfred Eberhardt, haar hartsgeliefde, vertrek het om sy kaiser en land in die oorlog in Duits Suidwes-Afrika te dien, het sy haar tot Siegfried gewend, ’n geduldige oor vir haar hartseer versugtinge. Hy moes eindelose loftuitinge oor sy teenstander aanhoor wat, nadat die nuus van Manfred se afsterwe hulle bereik het, in elegieë verander het wat selfs nog swaarder was om te verduur. Hy het haar oë vermy uit vrees dat sy dalk tot reg in sy siel sou kyk, maar mettertyd het hy sy blik van haar gewrigte af laat dwaal na haar ewe slanke nek en druppelvormige neusgate. Hy het haar parfuum ingeasem. Hy het geluister as sy sug, hartseer Kupido’tjies wat hom tart. Aangevuur deur haar afgetrokkenheid, het hy sy vingerpunte toegelaat om aan haar mou te raak, terwyl hy bemoedigende woorde mompel wat ewe onvanpas vir sy gevoelens as die situasie was. Gefrustreer deur sy onvermoë om sy liefde behoorlik te betoon en haar onvermoë om te besef dat hy in alle opsigte wat tel Manfred Eberhardt se meerdere is – hoofsaaklik in hoe hy haar liefhet – het hy selfs begin kuier wanneer sy hom nie genooi het nie. Dit het met verloop van tyd vir hom duidelik geraak dat Traudl sy attensies irriterend vind, sy intensies belaglik, maar hoop het nooit gewyk nie, en hy het nooit ophou kuier nie. Die mees kwetsende ding was dat sy gedink het hy is simpel.

Toe kom die dag van die ongeluk, toe sy verbeelding die oorhand kry terwyl hy sy hand op hare het, en haar pa kom in, en hy en sy dogter sien albei die knop in die jong man se broek, die skandalige nat kol van sy begeerte. Herr Dehlinger het hom by die deur uitgejaag en gedreig om sy knaters af te sny as hy ooit weer sy gesig daar durf wys.

Siegfried is seker die enigste een wat uitsien na sy terugkeer uit Afrika. Herr Dehlinger, neem hy aan, bid dat hy doodgaan, verkieslik op veragtelike wyse, dalk van dors nadat hy in die woestyn verdwaal het. Hy moet sy eie pa die voordeel van die twyfel gee. Na alle waarskynlikheid wil herr Bock maar net hê dat sy tweede seun ’n middelmatige loopbaan op ’n ver plek moet volg; enigiets beskeie sal deug, solank hy nie opslae maak nie. Siegfried is nie voornemens om aan enige van hulle verwagtinge te voldoen nie. Hy gaan homself bewys as ’n man om mee rekening te hou, en dan sal hy teruggaan, aandring op respek, en hoop op liefde.

Hy verskuif sy voete en skop iets blinks in die sand oop. Dis ’n bronsplaatjie, ovaalvormig, groter en dunner as ’n muntstuk, met ’n nommer en adelaar op een kant gestempel. Hy tel dit op, blaas die sand af en vryf daaroor. Dit is nie goed genoeg afgewerk vir juweliersware nie, tog is dit aan ’n riempie vas, lank genoeg om om ’n mens se nek te pas. Hy druk aan die man langs hom. “Is dit joune?” Die man haal sy skouers op en kyk weg. Siegfried draai die dun metaalskyf heen en weer. Dalk is dit ’n soort medalje wat hier te lande gemunt word. Hy sit dit in sy sak, sy eerste aandenking van sy avontuur in Afrika.

Die sersant van vroeër verskyn langs die trein en roep: “Die vakansie is verby, manne. Klim aan boord. Maak gou!”

Siegfried kom eerste op die been. Rondom hom staan manne steunend op, strek en gaap. Die trein is kleiner as wat hulle by die huis het, getrek deur twee eienaardige lokomotiefies wat rug aan rug gekoppel is, sodat een masjinis en stoker albei kan dryf. Siegfried maak een van die treinwa se smal deurtjies oop en klim in.

Die wa het houtbankies waarop mense rug aan rug en knie teen knie sit, pale hier en daar wat die dak op hou. Hy kies ’n plek langs die venster wat vorentoe kyk. Hy wil hierdie nuwe land waarneem waarin hulle hul begeef. Hy skuif sy rugsak onder die sitplek in, gaan sit en skop sy hakke teen sy bagasie. Sy geweerkolf is tussen sy voete, die voorgreep teen sy dy.

Ander manne verskyn by die deur, loer in en loop weg, soek na hulle vriende. Siegfried hou hulle dop, wonder wie eerste by hom gaan kom aansluit. Die trein raak rumoeriger, eers met die geklater van stewels en geweerkolwe, dan stemme. Teen die tyd dat almal aan boord is, is daar nog niemand op die bank langs of regoor hom nie. Te hel met hulle, besluit Siegfried vir die soveelste keer. Hy sal sy bene kan rek. Oor ’n paar uur, as die hitte en bekrompenheid hulle tol begin eis, sal dié wat nie by hom wou sit nie spyt wees.

Hy leun vorentoe om die deur toe te maak, net vir iemand om dit weer oop te ruk. Daar staan ’n langbeenman met ’n dik lyf, in ’n swart pak met ’n Homburg-hoed, knypbril en vierkantig geknipte baard. Siegfried het hom ’n paar keer op die Jeanette Woermann se agterdek gesien. Die burgerlikes het hulle nie veel aan die soldate gesteur nie, en hierdie een glad nie.

* * *

So kort na sy vorige teleurstellings, dié wat hom al sedert kindsbeen teister, is dit meer as wat Albert Pitzer kan verduur toe hy die soldaat op sy sitplek sien. “Het jy nie die kennisgewing gesien nie?”

Die bleek pikkie kyk hom met openlike belangstelling aan, die ene onskuld in daardie bruin oë. “Watter kennisgewing?”

“Die een op die deur wat sê Reserviert.” Pitzer swaai die deur aan sy skarniere om die woord te wys, net ingeval die idioot wil argumenteer.

“Ek het gedog dis bespreek vir … vir ons.”

“Wel, dit is nie. Uit is jy. Raus!”

“Ek sien nie wat die probleem is nie, hier’s genoeg plek.”

Die bank oorkant die soldaat is inderdaad leeg, en daar sal ook plek vir iemand wees om langs hom te sit as hy opskuif, maar Pitzer hou nie van mense naby hom nie. “Ek het al my toerusting.” Die portiere wat sy twee trommels en vier kleiner kissies nader gedra het, staan agter hom, elk met sy vrag by sy voete.

“Wat’s fout hier?” ’n Wit spoorwegbeampte kom aangestap met ’n stapel papiere teen sy bors gedruk. Sy middelpaadjie eggo die vorm van sy wasgesmeerde snor.

“Hierdie banke is vir burgerlikes bedoel,” herinner Pitzer die spoorwegman.

“Die trein is vol,” sê die beampte.

“Maar my toerusting …”

“Die goederewa is vol. Alles wat nie inpas nie, sal op môre se trein moet gaan. Ons moet hierdie soldate in die veld kry. As jy wil, kan jy wag.”

Die hawe is vol skepe, vol manne en goed wat by die protektoraat instroom, en hy gaan tien teen een maar weer dieselfde omstandighede teëkom. Boonop het hy nie so ver gekom net om in Swakopmund vas te haak nie. Hy het om een rede na hierdie land toe gekom: om sy navorsing te doen, om sy teorieë te bewys en sy lewe van obskuriteit en onbeduidendheid te red. Die krygsgevangenekamp het oorgenoeg studiemateriaal, maar in Swakopmund is hy te veel in die oog. Die laaste ding wat hy wil hê, is dat nuus oor sy aktiwiteite uitlek voordat hy gereed is om sy gevolgtrekkings aan te kondig. Hy moet sy navorsing op ’n verafgeleë plek gaan doen.

“Ek sal dié trein vat,” sê hy. “Sit my trommels op die banke, een langs my, een langs die soldaat.”

“Ons moet ’n plek oop los,” sê die spoorwegbeampte en tik op die papier. “Daar is nog ’n passasier. Jy kan nie albei trommels vat nie.”

Een trommel het sy persoonlike besittings, die ander sy toerusting. Hy kan immers nie kaal rondloop nie, en hy kies dus die klere. “Ek sal hierdie een vat. Sal jy sorg dat jy die ander een môre aanstuur?”

“Alte seker,” sê die spoorwegbeampte, en maak ’n aantekening. Hy wys vir die portiere om die tweede trommel na die stasiegebou toe te vat.

“Hierdie kissies kan onder die sitplek inpas,” sê Pitzer, en wys vir die portiere om hulle op die vloer neer te sit.

Dan probeer hy hom op die harde bank gemaklik maak, sonder sukses. Hy wonder of dit lateraan nog veel warmer gaan word.

* * *

Siegfried skuif die kleiner kiste onder sy bank in, langs sy rugsak. Hulle klink hol, maar is verbasend swaar.

Toe die man met die Homburg-hoed uiteindelik oorkant Siegfried plaasneem, mompel hy dat hy nie hierdie kolonialers verder sal vertrou as wat hy hulle kan gooi nie. Hy lyk nie na die soort man wat enigiemand kan rondgooi nie. Hy is groot maar lomp, en lyk na die akademiese tipe, omtrent veertig jaar oud. Hy herinner Siegfried aan die vriende wat by sy pa kom kuier het, geleerde mense. Na maande tussen soldate is hy lus vir ’n ander soort gesprek. “Is dit u eerste keer in Suidwes?”

Die man het reeds ’n boek oop op sy skoot, sy vingers streel oor die blykbaar blanko blaaie. Wie lees nou ’n leë boek? Dan sien Siegfried dat die blaaie vol is van potloodskrif, waarvan die meeste tot byna niks vervaag het.

“Ja, en hopelik die laaste.” Die man maak die boek toe, maar hou die plek met sy vinger. Dan verwissel hy van hande, sodat hy sy gunstelingvinger kan rondswaai. “Hierdie dorp,” sê hy, en wys vaagweg deur die venster, “is ’n Petri-bakkie.”

Siegfried wonder of hy reg gehoor het.

Die man moet sy weifeling verkeerd interpreteer, want hy verduidelik: “ ’n Petri-bakkie, ’n vlak glashouer wat wetenskaplikes gebruik om byvoorbeeld bakterieë te kweek. Hierdie dorp is só. ’n Hawe, hotel, bank, dokter, kerk, skool –”

“Moenie die stasie vergeet nie.”

“Ja. Alles wat jy nodig het om kultuur te laat groei … maar geen kultuur nie.”

’n Portier verskyn weer by die deur met ’n breë glimlag en ’n klein houtkrat. Hy sit die krat neer om as trap te dien, en hou sy hand uit vir die jong wit vrou agter hom.

Sy lyk ietwat verleë, maar gebruik in elk geval die trappie. “A, herr doktor Pitzer! Kan ek hier kom sit?”

Hy was dus reg, dit is inderdaad ’n geleerde man, besef Siegfried met ’n mate van genoegdoening.

“Fraulein Löwenstein!” Doktor Pitzer forseer ’n glimlaggie en skuif op om vir die meisie plek te maak.

Sy glimlag vlugtig in Siegfried se rigting en neem haar plek in langs die man, wat sy knypbrilletjie begin poleer – om jou beter te kan sien, my kind. Die vrou neem die inisiatief en hulle twee ruil strammerig gemeenplase uit, oor die weer en reisplanne en wat hulle in die onmiddellike toekoms te wagte kan wees.

Met haar aandag elders, vat Siegfried sy kans om die vrou te bekyk. Sy het ’n treffende gesig, aan die skraal kant. Haar oë is helder, grys, en dik swart hare wys onder haar hoed. Die portier gee vir haar ’n klein handkoffer wat sy onder die sitbank inskuif, agter haar voete. Sy stof haar baadjielapelle af – grys met ’n pers skynsel – trek haar romp reg en sit met haar hande op haar skoot gevou, en kry dit reg om verbouereerd te lyk sonder om ’n spier te verroer.

Siegfried het daardie uitdrukking al vantevore gesien, eenkeer op die skip toe hy ’n deur vir haar oopgehou het. Dit was toe dat hy besef het sy is van die werkersklas, en ongewoond aan hoflike behandeling. Met ’n van soos Löwenstein kan sy dalk Joods wees. Sy kom uit die ooste van die ryk, Silesië of daar rond, raai Siegfried, en is waarskynlik hier om ’n prostituut te word. Hy sal wed dat daardie uitrusting die beste is wat sy nog ooit gedra het. Oor ’n paar maande loop hy haar dalk in Windhoek raak, en sy sal maar te bly wees om hom sy sin te gee vir die prys van ’n maaltyd. Om dit omtrent haar te weet, maak hom ongemaklik, hoewel hy besef dat dit as gevolg van sy eie swakheid is en nie hare nie.

Toe sy medepassasiers uiteindelik na sy kant toe kyk, vra Siegfried: “Is u hier om ons troepe te dokter, of …”

“Ek is nie daardie soort dokter nie,” sê die welgeklede man, half geïrriteerd. “Ek is ’n wetenskaplike.”

Die spoorwegbeampte van vroeër draf oopmond langs die trein, klap in die verbygaan die deure toe. Mense roep, ’n fluitjie blaas, ’n vlag word geswaai en dan sidder die trein. Sal die twee lokomotiefies hierdie vrag aan die loop kan kry? Siegfried is vir ’n oomblik bekommerd dat sy avontuur gaan ophou nog voordat dit eens begin het. Die trein ruk vorentoe, steek vas, en begin dan weer stadig beweeg.

Hy merk dat doktor Pitzer na sy sakhorlosie gluur. Die trein vertrek byna twintig minute laat.

* * *

Waar hy op die dak lê, kyk Mordegai met toenemende angs hoedat meer en meer van die wêreld sigbaar raak. Hy wil steeds niks sien nie, want hy wil nie gesien word nie. Partykeer knyp hy sy oë toe, in ’n onsinnige poging om ander in die proses te verblind. Hy bid vir ’n god waarin hy nie glo nie: Asseblief, laat ons tog net ry …

Dan kom daar ’n geroep en ’n beroering onder die soldate. Die trein onder sy maag skud van baie voete se gestamp. Rook blaas uit in die tanende mis en die reuk van brandende steenkool waai oor Mordegai. Die trein ruk. Hy gryp na vashouplek wat dalk nie goed genoeg sal wees as die trein eers ry nie. Nog ’n siddering en dan kom die geluid van staalwiele wat op staalspore rol … Hulle beweeg.

Hy hou sy kop omlaag totdat hulle uit die dorp is. Hy is verlig om van die konsentrasiekamp af weg te kom, maar is bekommerd oor sy onmiddellike oorlewing. Hy kan enige oomblik van die dak af foeter. Hulle ry nie vinnig nie, omtrent soos ’n perd op galop, raai hy, maar dis ’n hele ent grond toe en die wêreld hier rond is van die klippe besaai. In elk geval, selfs al sou hy die val oorleef, is daar omtrent honderd gewapende Duitse soldate op die trein wat hom maar te graag sal wil skiet. Sy plan is om van die trein af te kom as hulle eers in die berge is. Om dit ongesiens te doen, sal moeilik wees. As hy dit regkry, sal hy kan wegkruip en iewers water kry. Hy het net ’n paar dae se loop verder suid grootgeword. Dis nie ’n slegte plek nie, as jy weet hoe om in die veld te oorleef.

Een keer kyk hy op en sien vier gemsbokke langs die trein galop, amper so vinnig soos die trein. Hulle vleis is donker en sterk. Hy sal dit weer proe, besluit hy, daardie dag sal kom.

* * *

Hulle ry ooswaarts deur die Namib, in hierdie wye, droë land in. Dit is ’n plek vir pioniers en krygers, dink Siegfried – onherbergsaam, ’n plek vir stories, waar manne hulle staal kan wys.

Daar is nou geen teken van mis meer nie. As hy so na die barre landskap kyk, groot en dor onder die siedende son, kan hy verstaan hoe moeilik dit moet wees om die woestyn met ’n ossewa oor te steek. Pogings om dit met ’n stoomtrekker te doen, het misluk. Die nuwe spoorlyn tussen Swakopmund en Windhoek het alles verander – ’n strook gebreekte klip, houtdwarslêers en twee strepe staal wat oor byna vierhonderd kilometer van die mees ongenaakbare landskap ter wêreld strek. Hulle sal môreaand in Windhoek wees, waarvandaan hulle gestuur sal word om die rebelle te beveg, waarskynlik in die suide. In die gewone omgang dink hy meestal aan homself as ’n individu, nie as ’n lid van enige groep nie, maar die manier waarop sy volk hierdie land tem, maak Siegfried trots om ’n Duitser te wees.

Die plekke waar hulle verbyry, het ’n mengsel van Duitse en plaaslike name: Nonidas, Richthofen, Rössing, Khan, Welwitsch … Partykeer is dit skaars meer as ’n hut en ’n watertoring, en ’n man of twee wat vir hulle wuif. Siegfried lees die stasies se name soos hulle verbyflits, herhaal hulle sag vir homself. Hy wil hulle insluit in die briewe wat hy vir Traudl skryf, al is dit ’n mors van tyd. Haar pa sal wel alle pos van hom af onderskep, en as een deurglip, sal sy dit eens lees?

In ’n stadium sien hy vier wildsbokke, pragtige sandbruin diere met wit-en-swart patrone op hulle gesigte, en lang, sabelagtige horings. Dit vervul hom met verwondering.

Namate die ure verbygaan, kom daar ’n einde aan die gesprekke wat die eerste deel van die reis opgekikker het. Party van die passasiers is aan die slaap gesus, en ander staar in die niet. Selfs doktor Pitzer het sy boek en sy oë toegemaak. Die vrou sit en vroetel met ’n brief op haar skoot, herlees dit elke nou en dan, met lippe wat die woorde stilweg vorm. Elke keer as sy by die einde kom, is daar ’n sagte sug, en sy byt haar onderlip. Dit is asof haar mond ’n lewe van sy eie het, die lippe probeer heeltyd ’n beter manier vind om op mekaar te pas, en verraai die onstuimigheid wat haar oë probeer wegsteek. Die arme mens, dink Siegfried. Maar nee, haar figuur pas by haar beroep en sy sal goed vaar. Sy is lank, met ’n goeie beenstruktuur, en kan dalk vir ’n dekade of meer ’n hoë prys vra, as sy gesond bly.

’n Stampgeluid op die dak laat ’n paar mense verbaas opkyk. “Dit klink kompleet of iemand daar bo is,” merk Siegfried op.

Die vrou lyk bekommerd. “Wat sou enigiemand op die dak doen?”

Siegfried is klaar op die been. “Ek kan uitklim, op die vensterraam staan en kyk.”

Pitzer het ontwaak. “Moenie belaglik wees nie. Dit is waarskynlik net strukturele geraas, weens die metaal wat in die hitte uitsit.”

Die gevaar om belaglik te lyk, stuit Siegfried in sy spore. “Ek meen u is dalk reg.”

“Daar is geen ‘dalk’ daaraan nie.” Noudat hy die saak voorhande afgehandel het, maak doktor Pitzer weer sy boek oop.

Siegfried gaan sit weer en kyk by die venster uit, sien Pforte, Jakkalswater, Sphinx, Dorstrivier …

* * *

Al is dit so ongemaklik, word Mordegai ’n paar keer met ’n skok wakker, bly om nog op die trein te wees, met geen idee hoe lank hy ingesluimer het nie. Die landskap verander stadig. Teen laatmiddag het hulle noordwaarts gedraai. Die berge daar voor is die Chuos, raai hy. Dit maak nie saak dat hy nie seker is nie, hy kan later uitwerk waar hy is. Die steilte maak dat die trein stadiger ry.

Hy trek sy hemp uit en draai die moue om sy hande. Dis al hoe hy kan rondbeweeg, anders sal die dak te warm wees nadat die metaal heeldag in die son gebak het. Hy kan nie veel langer wag nie. Die kampkos het hom verswak. Hy moet van die trein af kom terwyl hy nog die krag het om te beweeg. Hy kruip so stil moontlik na die agterkant toe. Hy kan nie van hier bo af spring nie, hy moet eers afklim na die balkon agter die wa. Die laaste wa is vol goedere – hy het dit help laai – en daar behoort niemand te wees wat hom kan sien nie.

Maar toe hy oor die rand loer, is daar twee spoorwegmanne op die smal balkon agter die trein. Een pie op die spore, ’n blink straal wat deur die wind gebreek word. Die ander sit op die vloer en rol ’n sigaret. Mordegai lê plat op die dak bokant hulle, beweeg sy arms en bene om die styfheid uit te kry. Hy moet gereed wees om vinnig te beweeg wanneer die tyd kom. Hulle ry nou met die berghang langs. Sal hy verby die manne kom? En wat sal hulle doen as hulle hom sien? Dis ’n slegte plan, besef hy. Dalk is daar later ’n beter kans. Maar dalk nie. En hy word al hoe swakker. Die dors maak sy kop deurmekaar. Tyd om te laat vat.

Hy loer oor die dak se rand. Hy werk sy bewegings uit, sê ’n vinnige gebed aan sy voorvaders en swaai sy bene ondertoe. Dit moet alles in een beweging gebeur. Hy laat los met sy hande en val op die man wat sit. Die kêrel kreun. Mordegai gee ’n tree, dan nog een, en spring van die trein af. Sy voete tref die grond en hy val agteroor van die momentum. Die val stamp sy wind uit, en die slag teen sy kop laat hom katswink.

Toe sy gedagtes weer vorm begin aanneem, sukkel hy om te onthou waar hy is. Daar het seker net ’n paar sekondes verbygegaan, want die trein is nog naby. Hy rol om, kom handeviervoet op en skarrel weg, op soek na skuiling.

* * *

Siegfried hoor ’n geroesemoes, ’n golf opmerkings wat van die trein se agterkant af aanspoel. Iets het die spoorwegwerkers daar op hol gejaag. Dit vat ’n rukkie om uit te werk wat dit is: Hulle het ’n man van die dak af sien spring, dalk is dit ’n krygsgevangene wat ontsnap het.

Teen die tyd dat die trein tot stilstand kom, is almal op die been, behalwe doktor Pitzer. “Vir wat stop ons in die middel van nêrens?”

“Om ’n gevangene aan te keer. Hy het blykbaar van die trein afgespring.”

“As hy gespring het, moet hy dood wees.”

Die trein stoot terug soos wat hy gekom het.

“En nou gaan ons agteruit,” sug Pitzer. “Dis wat jy kry as soldate die septer swaai.”

Sodra hulle by die plek stilhou waar die manne die voortvlugtige sien afspring het, spring die offisiere uit en swaai hulle pistole rond. “Almal uit! Almal uit!”

Siegfried is in die peloton wat aan die trein se regterkant byeenkom. Hulle bevelvoerder, oberleutnant freiherr Von Schlicht, gee haastig bevele. “Luister nou mooi! Ons vat die suide. Sprei uit, mik opdraand. Bly binne sigafstand van mekaar, sodat hy nie tussen ons deurglip nie. En hou julle gewere gereed. Die man is ’n vyand. Skiet op sig.”

“Hy’s myne, manne!” roep iemand. Siegfried kan nie sien wie dit was nie.

“Dalk kan jy hom die twééde skoot gee,” kap iemand terug.

Die vooruitsig om so gou al met die vyand slaags te raak, het almal op hol. Die man is ongewapen en op vlug; dit sal so maklik wees soos om ’n haas te skiet, maar met meer waarop jy jou daarna kan roem.

“Roer julle!” Von Schlicht se stem breek. Hy is seker omtrent neëntien.

Selfs edelmanne sukkel met die verleenthede van adolessensie, dink Siegfried. Dalk sal die offisier ook in sy broek kom as hy aan ’n mooi vrou raak.

“Waar de hel is hy heen?” fluister die man langs Siegfried, nie eintlik vir enigiemand se ore nie.

“Daar moet spore wees.”

“Dis net klippe oral.”

Dis al laatmiddag, en die son kaats op die treinspore westekant toe – die enigste geometriese vorm in sig. Siegfried draai weg en sien geen teken van die werk van mensehande nie, net skerp klippe, sand en skewe grasse wat dood lyk selfs terwyl hulle aan die groei is, die bros dorheid van die aarde, die hol hemel. Dit is nie net ’n ander land nie, dis ’n ander wêreld, een wat deur ’n lomp god gevorm en in woede gebreek is. Hy is ’n vreemdeling hier, nie omdat hy Duits is nie, maar omdat hy mens is. Die verlate barheid van die landskap doen iets aan hom, die grondliggende stilte eggo in sy siel. Hy kyk links en regs na sy medesoldate wat uitsprei – gewere in die hand, harte in die keel en moord in hulle oë. Siegfried wens hy kan ’n rukkie alleen wees, net hy en hierdie wildernis. Hulle kies koers bult-op. Dis onmoontlik om reguit te loop, almal moet om bosse, slote en rotse swenk. Hulle ontdek sommer binne die eerste paar treë dat elke bos vol dorings is. Die man aan Siegfried se regterkant vloek, en steek vas om hom van ’n besonder geniepsige bos te verlos.

Siegfried loop aan, sien ’n rotsstulping, ’n knoets vaalgrys klippe wat soos ’n reusevuis van ondergronds uitsteek, en loop daarom. Vir ’n oomblik kan niemand hom sien nie, dalk net God. Hy is nie gelowig nie, maar besluit dat as hier iemand is, dit God moet wees, en as God bestaan, Hy hier sal wees. Siegfried staan stil, voel die bries op sy vel, luister hoe die wind soos asem deur die graspolle sleur. Hy trek sy longe vol lug, gepeper met stof en die reuk van droë, suur gras.

Hy kan iemand se oë op hom voel en kyk vlugtig oor sy skouer. Van hier waar hy staan, is steeds nie een van sy makkers in sig nie. Hy berispe homself dat hy nie die gedagtes oor God kop toe moet vat nie. Dan sien hy dit: Vanuit die skeur tussen die rotse kyk ’n paar oë na hom, skaars vier tree weg. Siegfried se hand klem om sy geweer, maar hy lig nie die wapen nie, die loop wys nog grond toe. Die son is fel soos ’n kamera se flits, en vir Siegfried voel dit asof die tyd gaan stilstaan. So baie begin in sy kop gebeur dat sy lyf versteen.

Dit moet die voortvlugtige krygsgevangene wees, sy vyand. As hy doen wat hy veronderstel is om te doen, as hy eenvoudig die geweerloop se punt lig, dit op die vlugteling rig en die sneller trek … Op hierdie afstand kan hy kwalik mis skiet. Hy sal die eerste man in die eenheid wees wat ’n vyand plattrek. Hy kan op sy heel eerste dag in hierdie land ’n onuitwisbare indruk op sy kamerade en offisiere maak. Verspot maklik.

Die man, uitgeteer en swart van vel, dra soortgelyke klere as die vroue wat Siegfried vanoggend gesien het, maar daardie mense het gelyk asof hulle gestroop is van hulle wil om te lewe, verneder tot trae, stil-lydende trekdiere. Hierdie man is vol lewe, vry, en vreesbevange. Anders as met daardie vroue, op wie se lot hy ewe min invloed kon uitoefen as op ’n verbygaande wolk, kan Siegfried hierdie man se toekoms bepaal, dit moontlik maak of dit beëindig. Die vlugteling lig sy hand op, sy mou val weg van die skraal bruin arm. In sy hand hou hy ’n klip omtrent so groot soos ’n kanonbal.

Siegfried begin die geweerloop lig. Te laat.

Die man slinger die klip na hom toe. Siegfried koes, maar weet terwyl hy dit doen dat hy nie betyds uit die pad gaan kom nie. Hy druk sy gesig agter sy skouer in, maak gereed vir die slag … wat nie kom nie. Die klip tref die grond links van hom, omtrent ’n halwe tree te kort. Nou mik Siegfried na sy teenstander, sy vinger krul om die sneller. Hy wonder of hy sy vuis moet toemaak en die man met die leë hande en daardie wydgesperde oë vol koeëls moet pomp.

’n Beweging trek sy aandag, iets wriemel op die grond. Hy loer vlugtig en sien die kronkels van ’n gestreepte slang, sy lyf omtrent middeldeur waar die klip hom getref het. Die stert swiep rond, maar die blink swart kop lê stil, skaars ’n handbreedte van Siegfried se voet af.

Toe hy weer opkyk, staan die man nog daar, roerloos. Nie uitdagend nie, nie pleitend nie. Was die slang op die punt om te pik? Die asem steek in Siegfried se keel vas, sy tong voel droog. Sover het die meeste van sy gedagtes oor die oorlog daarom gewentel dat hy teruggaan Berlyn toe met medaljes en linte en trots. Nou en dan het hy gewonder hoe dit sal wees om te veg – hy en sy kamerade wat sy aan sy lê en op ’n vyand in die verte skiet, baie soos op die skietbaan. Maar hierdie toneel is nie iets wat hy hom ooit voorgestel het nie, om met brandende oë en verknotte gedagtes te staan, net ’n paar treë van ’n ongewapende, weerlose man wat dalk pas sy lewe gered het.

Die twee van hulle kyk mekaar in die gesig – man en man sonder plan of verwagting.

Iewers agter Siegfried klink ’n geluid op, klip wat teen klip kap. Iemand roep: “Wat gaan daar aan?”

Siegfried kyk na die voortvlugtige, maar die man doen niks wat hom kan help om na die een of ander kant toe te besluit nie. Hy moet dink oor wat pas gebeur het, oor wat hom te doen staan. Die swart-en-wit slang wring nog in die stof rond, en Siegfried se gedagtes het ewe min rigting.

“Niks!” roep hy. “Ek … ek het net ’n slang gesien.”

Die vertes in

Подняться наверх