Читать книгу Die vertes in - Zirk van den Berg - Страница 5

II

Оглавление

Daardie nag lok die sterre Lisbeth na buite. Die offisiere het die hotelkamers gevat en sy en doktor Pitzer moes by die plaaslike sendeling tuisgaan vir die oornagverblyf in Karibib. Na aandete is daar te veel pyprokery en Bybel-lesery na haar sin, en sy gaan eerder kamer toe. Sy blaas die kers dood en loer tussen die gordyne deur, sien die naglug en dink miskien sal sy nou iets bekends in die hemele kan gewaar wat haar heeldag op aarde ontwyk. Gedurende die hele treinrit het sy niks verwelkomends opgemerk nie, niks wat haar aan haar tuiste herinner nie. Sy gooi ’n sjaal oor haar nagrok, ryg haar skoene vas en gaan buitentoe.

Die nag is vol onbekende geluide – krieke en voëls, ongesiene goeters wat skarrel en vlieg. Die gewone soldate bly in tente net ’n entjie af in die pad. Sy staan voor die huis en luister na hulle stemme op die wind, geniet die geluid van die bekende taal in hierdie vreemde omgewing. Dis ses weke vandat sy van haar ouers en broer afskeid geneem het, en sy verwag nie om hulle ooit weer te sien nie. Haar reis voer haar mee na mense en plekke wat niemand in haar gesin al teëgekom het nie – sy was op treine en skepe, sy het Berlyn en Hamburg gesien, die eindelose oseaan, en nou hierdie verre wêreld waar niks buiten die soldatestemme haar aan die huis herinner nie.

Karibib lê aan die voet van ’n berg, ’n klompie uitgespreide kliphuise tussen karige bome, ten beste ’n uitgedroogte weergawe van ’n Duitse dorpie. Miskien moet ’n mens net water byvoeg, dink sy, voeg water by en hierdie dorp begin bloei en word Grünewald, met ’n oempa-orkes, bierskinkende mädchens in dirndls … Dis natuurlik belaglik om te wens vir ’n manifestasie van die Duitse lewenswyse waarvan sy self nog net gehoor het. Haar jeugherinneringe is glad nie soos daardie jolige voorstelling nie – hulle is nie eens gelukkig nie. Dis nie ’n verlede waarna sy heelhartig kan verlang nie. In elk geval, sy weet nou al maande lank dat die wêreld van haar jeug nie die wêreld van haar toekoms gaan wees nie; sy het tyd gehad om aan die gedagte gewoond te raak dat haar lewe nou anders is. Op skaars twintig weet sy alreeds dat die lewe niks is om na uit te sien nie, dat hoe swaar dinge ook al is, sy nie die reg het om op iets beters te hoop nie. Sy hoop net dat die angstigheid en hartseer mettertyd sal afneem, want hierdie rou seer, hierdie versmorende vrees, is meer as wat sy kan verduur.

Sy loop in die nag in, weg van die huise af, die duisternis in. Wat is die ergste wat kan gebeur? Mans kan beskermers wees, maar ook folteraars, weet sy. Sy moet gaan waar daar niemand en niks is nie. Blykbaar is hier slange – daardie soldaat op die trein het een gesien, en die ervaring het hom blykbaar erg geskok. Sy sou gedink het ’n soldaat sal dapperder wees, maar miskien het die slang hom verras. Sy moet haar oë oophou. As sy op die pad bly en binne sigafstand van die dorp, sal sy seker veilig wees. Noudat sy die gloed van lampe en vure agtergelaat het en haar oë gewoond geraak het aan die donker, lyk die pad spookagtig wit in die sterlig. Die nag het koel geraak en sy trek die sjaal stywer om haar skouers. Dit was haar ma s’n, en nou voel dit vir Lisbeth soos ’n geliefde se omhelsing. Sy kyk op en sien die ononderbroke uitspansel vol sterre, helder soos verhoogligte, sonder ’n wolk wat hulle versluier. Sy kyk rond, hoop om ’n konstellasie te herken, maar selfs die sterre is vreemd, dit is nie die naglug wat sy haar lewe lank ken nie. ’n Ligte luggie roer teen haar kaal bene.

Voor in die pad sien sy iets, ’n donker vorm. ’n Slapende hond? wonder sy. Miskien iets wat van ’n wa afgeval het, of iets wat dood is? Sy tree nader, nou op haar tone, gereed om om te spring en te hardloop. Dis ’n man, ongetwyfeld ’n man, wat plat op sy rug lê met sy arms en bene wyd gestrek, in ’n militêre uniform. ’n Gewonde? Is hy geskiet?

’n Klip kraak onder haar skoensool, en skok die figuur tot lewe. Hy kom orent, en kyk vervaard rond.

“Moenie skrik nie,” sê Lisbeth, vir haarself en vir hom.

Voordat hy kan antwoord, oorval ’n hoesbui die man. Sy herken die soldaat wat oorkant haar op die trein gesit het, die een wat die slang gesien het – sy smal kop, daardie donker, onthutsende oë. Hy het op die trein ook so gehoes, roggelend en hygend na asem. Toe die aanval uiteindelik bedaar, kom hy op die been, en vee sy mond met ’n sakdoek af. Sy kan uitmaak dat dit gevlek is. Sy is langer as hy, besef sy. Sy weet egter uit ondervinding dat selfs klein mannetjies haar kan oorweldig; dis nie hulle grootte nie, mans het ’n kapasiteit vir brutaliteit wat haar telkens verbaas.

“Ons het ’n entjie kom stap, ek en my metgeselle. Die ander het ’n bietjie agter geraak,” sê sy in die hoop dat dit onvanpaste gedrag sal ontmoedig.

“Doktor Pitzer?”

“Ja, en die sendeling.”

“Dan beter ek loop.”

“Hoekom?”

“Ek kry nie baie kans om alleen te wees nie.”

“Om te wat?”

Hy trek sy skouers op. “Om oor goed te dink, die dag se gebeure.”

Lisbeth begin ontspan. Sy verstaan die behoefte om alleen te wees na weke saam met ander ingebondel op see, en vandag op die trein. Bowendien lyk hy skadeloos.

“Wat was jy besig om te doen, deur so in die pad te lê?”

Hy stof sy broek af. “My neus het maar net gebloei. Ek moes my kop agteroor hou en toe dog ek ek kan netsowel gaan lê en ’n slag goed na die sterre kyk.”

“Het die bloeding opgehou?”

“Dis als reg. Ek is gewoond daaraan.”

Ondanks die Berlynse aksent, is daar iets omtrent sy stemtoon – belydend en gelate – wat vir haar bekend voel. Hy herinner haar aan seuns wat sy geken het, maar wie se name sy nie kan onthou nie. Sy kyk oor sy kop, haar oë gelok deur die agtergrond van flikkerende spikkels.

Hy besef waarna sy kyk, want hy sê: “Ek het nog nooit sulke sterre gesien nie, so helder. Dit moet die droë lug wees. Dis asof jy tussen hulle is.”

“Dit laat my so klein voel,” bely sy.

“Party van ons hoef nou nie juis daaraan herinner te word nie.”

Sy besef hy verwys na sy liggaamsbou, sê iets ten koste van homself, om die ooglopende verskil in hulle status te help oorbrug. Sy dra wel nuwe klere, maar haar spraak verraai haar agtergrond. “Ek bedoel in die groter opset,” verduidelik sy.

“Ek weet.” Hy vryf sy hare agteroor en sit sy pet op. “Ons is nie behoorlik voorgestel nie. Ek is Siegfried Bock.”

“Lisbeth Löwenstein.” Sy kon dit daar gelaat het, maar aangesien sy nog nie die kans gehad het om oor die ding te praat wat aan haar gemoed knaag nie, las sy by: “Vir eers.”

Hy kyk skuinsweg na haar. “Hoe bedoel jy?”

“Oor twee dae gaan my naam verander. Ek trou.”

“Geluk.”

Dit is verbasend gemaklik om so in die donker met hierdie vreemdeling te praat, iets verwyderd van die gewone lewe. Hulle kan nie mekaar se gesigte goed sien nie. “Ek is bevrees ek het dalk my siel verkoop.”

“Vir party mense is dit al wat hulle het om te verhandel.”

“Wat ek daarvoor kry, is nie iets wat ek wil hê nie.”

Die soldaat bring sy sakhorlosie te voorskyn, hou dit op om die lig te vang. “My wagdiens begin om middernag … Jou metgeselle?”

Sy draai om. Die pad agter haar is stil en leeg. “Miskien het hulle omgedraai.”

“Dan het ons seker genoeg tyd dat jy my kan vertel hoekom jy jou siel verkoop het vir iets wat jy nie wil hê nie.”

“Ek dog jy wil alleen wees.”

“’n Beter moontlikheid het hom voorgedoen. Kom ons kry sitplek iewers.” Hy wys na twee groot klippe langs die pad, so twee tree uitmekaar.

“Is jy seker jy wil dit hoor?”

“Dink hieraan as die eerste van ’n Duisend-en-een Afrika-nagte.”

Sy stryk haar rok plat oor haar boude, gaan sit op die klip en skuif totdat sy ’n redelik gemaklike posisie vind. Haar voete is op die grond, enkel teen enkel, en haar hande op haar knieë. “Die storie gaan só: In ’n dorpie in Sakse – Grossenhain, naby Dresden – het daar ’n arm skoenmaker en sy vrou en twee kinders gewoon. Lisbeth was die oudste. Eendag kom daar ’n brief aan van ’n verre land af … Ek dink nie ek kan volhou om voor te gee dat my lewe ’n feëverhaal is nie.”

“Gaan aan. Van wie af was die brief?”

“Die brief was van Fritze Kamke af, ’n man wat voorheen die hoefsmid in hulle dorpie was. Hy is jare tevore daar weg, om as soldaat Duitswes toe te gaan. Nadat hy sy diens in die schutztruppe voltooi het, het hy ’n plaas bekom en hom daar gevestig. Hy het my onthou … Hy het vir Lisbeth onthou, en het haar pa om haar hand gevra. Nadat nog drie briewe uitgeruil is, het hy die geld vir haar passaat aangestuur, plus iets ekstra om die gesin vir die verlies te vergoed … En dis waar ons nou sit.”

Sy het herr Kamke se briewe gelees en herlees, ’n prentjie probeer opbou van die man wat hare sal wees totdat die dood hulle skei. Sy onthou hom sleg, net dat hy na perd geruik en ’n leervoorskoot gedra het. Sy was seker omtrent vyftien jaar oud toe hy weg is uit die dorpie. Sy het in die jare tussenin glad nie aan hom gedink nie. Maar blykbaar het hy háár onthou.

“Hoekom het jy daartoe ingestem?”

“Dit help my ouers.”

“Om dít te doen, is ten minste iets wat jy wil hê. As jy by daardie man is, onthou jou ouers, dat jy hulle help,” sê die soldaat. “Jy is baie edel.”

Sy het nog nooit aan haarself gedink as edel of enigiets so verhewe nie. Iets anders het ook ’n rol gespeel in haar besluit om herr Kamke se aanbod te aanvaar, maar dit verswyg sy liewer. Sedert haar vroeë tienerjare het gesiene en vermoënde mans soms van haar gehou, maar dit was nie die soort belangstelling wat verby sonop geduur het nie. In teenstelling daarmee bied herr Kamke haar fatsoenlikheid – sy sal ’n getroude vrou wees. Dit is beter as wat sy voorheen geken het.

“Dis glad nie soos ek my my troue voorgestel het nie. My ma-hulle sal nie daar wees nie,” sê sy. “Ek weet nie eens wie my in die kerk gaan inbring nie. Seker een van sy vriende, neem ek aan. Ons is nog nie eens getroud nie, en ek is al klaar heeltemal aan hom uitgelewer.” Sy versit die sjaal oor haar skouers, probeer ’n ligter toon inslaan. “Dis maar hoe dit is.”

Haar stem sweef in die wind, en raak verlore in die donkerte.

Gruis skraap toe die soldaat sy voete beweeg. “Ek sou dit doen as ek kon, om jou in te bring… Dan is dit darem iemand wat jy van tevore ken, al is dit net vir ’n kort tydjie.”

Sy kyk na die mannetjie wat hier sit in sy te groot uniform, met sy bloedbevlekte sakdoek soos ’n ruiker in sy hand, en wat aanbied om haar te ondersteun. “Ek sal dit waardeer,” sê sy.

Dis te donker vir hulle om mekaar te sien glimlag.

* * *

Hulle stoom Windhoek uit die noorde binne, van Okahandja se kant af, met die son wat reeds laag aan hulle regterkant sit. Die trein kom om ’n draai en daar is dit – nie ’n dorp soos dié wat Lisbeth geken het nie, dis net ’n klompie verspreide geboue in ’n uitgestrekte, ongelyke kom tussen heuwels. Teen die naaste helling staan ’n klompie van die plaaslike mense se vaalbruin ronderug-hutte. Verder weg is die geboue in Europese styl, afgewit en hoekig. Die masjinis laat die lokomotief ’n paar keer fluit. Tegnologie het dit makliker gemaak, maar om die Namib oor te steek is nog steeds iets om te vier.

’n Streep mense wag hulle in, skerm die son met hulle hande van hulle oë af, dit lyk na ’n saluut. Daar is spoorwegmanne in uniform voor die lang, lae stasiegebou, portiere in vodde geklee met hulle tweewieltrollies, ’n handjievol soldate en ’n paar burgerlikes. ’n Man met ’n swart onderbaadjie steek ’n vlag uit wat blykbaar sterk genoeg is om ’n trein te stop.

Sodra hulle tot stilstand gekom het, ruik Lisbeth die gebrande steenkool. Een van die soldate wat naby haar gesit het, maak die deur oop en spring uit. Dan hou hy sy hande vir haar om te volg, vat om haar heupe en sit haar neer. Sy bedank hom, en hy bedank haar terug, synde hy pas ’n held in sy makkers se oë geraak het. Sy het weer by reiter Bock probeer sit, maar hy was heel agter, omring deur bagasie, aan die slaap na die nag se wagdiens.

Die soldate word na die trein se voorkant toe geroep en tou by haar verby waar sy met haar handkoffer by haar voete staan. Sy weet nie waarheen om te gaan nie. Sy het gehoop hier sou iemand wag om haar te ontmoet. Aangesien sy die enigste vrou op die trein was, sal dit tog maklik wees om haar uit te ken. Moet sy hier wag of moet sy binnetoe gaan en ’n ruskamer soek? Sy wil nie vir herr Kamke of sy gesant misloop nie, as daar een is. Sy is op ’n vreemde vasteland, sonder vriende en met bitter min geld. As iemand haar nie kom ontmoet nie, wat gaan sy doen? ’n Nag in ’n hotel en dan wat? Die nag wat hulle in Karibib oorgebly het, het sy gesien dat al die kombuisbediendes swart is. Miskien kan sy ’n kinderoppaster vir ’n ryk gesin word, maar hoewel sy darem kan lees en skryf, het sy nie geleerdheid nie. Of sal sy mans moet laat betaal om haar tot sonop te bemin? Dié moontlikheid was nog altyd daar. ’n Mens kan geld by mans kry vir wat hulle soms in elk geval vat, maar sy is nie gereed vir daardie stap wat so onherroeplik lyk nie. Herr Kamke beter kom.

“Fraulein Löwenstein?” Hy staan langs haar, hoed in die hand, sy skraal, sonbruin gesig vol plooie, sy geel en bruin hare teen sy kop geplak, en hy glimlag met een kant van sy mond.

“Herr Kamke?”

Hy knik, en kyk na haar handkoffer. “Is dit al?”

“Daar is ’n trommel.” Sy wys na die goederewa toe.

Hy tel haar tas op. “Kom ons gaan haal dit.”

“Herr Kamke … as jy nie omgee nie, ek moet by ’n ruskamer kom. Die rit …”

Hy raak skoon verbouereerd. “Natuurlik. Net by daardie deur in, dames aan die linkerkant, dink ek.”

“My tas,” vra sy. Sy vat dit by hom en loop weg, bewus daarvan dat hy haar agternakyk. Hy is nie so lank as wat sy onthou het nie, en skraler. Hy lyk senuagtig en het kennelik probeer aantrek vir die okkasie, met ’n boordjie wat te nou is. Sy hoop hy is ’n goeie man wat haar goed sal behandel. Dit kom by haar op dat dit darem wonderlik sal wees as sy op haar eggenoot verlief raak … maar dis te veel om voor te hoop.

Die ruskamer is skoon en koel, en ruik na ontsmetmiddel. Nadat sy die emmer gebruik het, maak Lisbeth die deksel toe, knoop haar bloes by die wasbak oop, maak haar sakdoek nat en vee haar gesig, nek en bors daarmee af. Sy hou die sakdoek ’n rukkie teen haar oë gedruk. Dan kyk sy na haarself in die spieël. Haar oë lyk moeg en stof maak haar hare dof. Sy maak haar hare los en borsel dit, steek dit dan weer vas. ’n Bietjie lyfpoeier, knoop die bloes toe, en sy is gereed vir die tweede ontmoeting.

Hierdie keer glimlag hy vlugtig, en ontwyk haar blik. “Jou trommel is al klaar op die kar.” Hy wys vir haar om deur die gebou te loop en anderkant uit te gaan, waar twee waens en ’n kar staan. Hy praat met die man wat die karperde vashou, in ’n taal wat ’n bietjie soos Duits klink maar nie Duits is nie, die een of ander brabbeltaal. Hy sit haar handkoffer agter op die wa en bied sy arm aan om op te steun terwyl sy opklim.

Van hierdie kant van die gebou af het sy ’n beter uitsig op die dorp – stowwerige strate tussen geboue wat meer as roepafstand van mekaar af is, verskrompelde doringboompies en polle droë gras in die ooptes tussenin. Die warm, droë lug roer skaars; dis asof alles en almal effens uitasem is. ’n Klipperige rant aan die ooste, berge laag op die suidelike horison, heuwels elders. ’n Paar forte op die hoogtes wys dat dit nog ’n ongetemde grensgebied is.

“Toe ek die eerste keer hier gekom het,” sê herr Kamke, “was dit alles leeg. Dis ongelooflik dat ons dit alles in so ’n kort tydjie gebou het. In hierdie land is alles nuut, dis wat so wonderlik daaraan is.”

Dit is nie die nuwe ontwikkelinge wat Lisbeth tref nie, dis hoe oeroud die res lyk, tegelyk oud en onvoltooid. Dis asof dit uit ’n ander epog kom. Sy is moeg en oorstuur, ontvanklik vir rare gedagtes. Ondanks haar onmiddellike vooruitsig, om met ’n man te trou wat sy skaars ken, om ’n lewe te lei wat sy haar skaars kan voorstel, is daar ’n fladdering van opwinding in haar buik. Dis asof die landskap vir haar iets fluister, iets wat sy nie kan verstaan of verontagsaam nie.

“Daar’s die hotel.”

Hy het vir haar ’n kamer vir die nag bespreek – haar eie, is sy verlig om te sien. Die kamer is koel en donker, met ’n netjies opgemaakte bed, regop klerekas en wastafel teen die mure. Voor die venster staan bome met lang wit dorings, en klein voëltjies wat soos rose op die takke sit. Hulle fladder aanhoudend van plek tot plek, kwetter uitbundig. Geluk is dus moontlik in hierdie land, dink Lisbeth, miskien sal dit haar ook beskore wees.

Iemand klop aan die deur en toe sy oopmaak, dra twee portiere haar trommel in en sit dit by die bed se voetenent neer. Sy bedank hulle, maar hulle lyk traag om te loop. Sy was al self in hulle posisie, en besef dat hulle op ’n aalmoes wag. Sy het geen idee wat in hierdie land ’n redelike hoeveelheid sal wees nie. Sy kry munte in haar beursie en laat val ’n paar in die bakgehoude hande. Dit verbaas haar dat hulle palms so wit is, terwyl die res van hulle velle so swart is. Hulle lyk werklik bly, en buig en glimlag toe hulle loop. Sy kan nie ontken dat sy die ervaring verblydend vind nie. Dit is dus hoe dit voel om ’n dame te wees.

Sy maak die trommel oop en haal die trourok uit wat haar ma spesiaal gemaak het, want selfs haar gewone Sondag-beste sal nie goed genoeg wees vir so ’n groot geleentheid nie. Sy lê die roomkleurige kledingstuk op die bed uit en stryk dit so goed moontlik met haar hande glad. Dan hang sy dit aan ’n hanger agter die deur. Sy druk met haar palm teen die muur, koud en solied en stil. Op ’n ingewing trek sy haar rok uit en druk haar kaal vel teen die muur, geniet die koelte daarvan.

* * *

Die Südwester Hotel is ’n beskeie tweeverdiepinggebou soos wat jy op enige plattelandse dorpie in Duitsland sal kry. Dis skoon ook. Albert Pitzer hou toesig oor die hotelportiere wat sy bagasie teen die trap uit dra na sy kamer toe. Hulle is ook merkbaar skoon – ruik na seep en hulle wollerige hare is kortgeskeer.

Hy vra dat hulle water bring, en sodra alles gedoen is en almal is weg, geniet hy ’n luilekker bad, sit tussen die skuimborrels in die sinkbad, in koel, grys water. Hy probeer sy gemoed ook skoonspoel, om die herinnering aan elke irritasie sedert sy aankoms in hierdie land af te was. Dit het begin met die besef dat die skip nie by die kaai gaan aanlê nie, maar dat hy in die gevaarlik skommelende roeiboot moes klim, en die jongste was enkele minute gelede toe die portier ’n beloning verwag het om bloot sy werk te doen. Pitzer kry dit nie reg om aan hierdie herinneringe te ontkom nie, dis asof sy gedagtes bly blaai in ’n liasseerkaslaai met die etiket Teleurstelling. Selfs die bad is nie so ontspannend soos wat hy gehoop het nie. Hy klim uit die balie en staan wit en druipnat daar, ’n dik lyf en dun ledemate, en droog hom met ’n verslete handdoek af. Die lig deur die gekleurde ruitglas maak rooi en blou vlekke op sy vel.

Hy is so kaal soos die dag toe hy in hierdie wêreld aangekom het, en eensamer as in sy kinderdae.

Sy pa het eers vasgeskop teen ’n tweede kind, en toe die een verlaat wat hy wel het. Pitzer se ma is in sy tienerjare dood. Studies het hom aan die gang gehou, die genade van onderwysers wat deur sy omstandighede ontroer is. Gaandeweg het ook hulle belangstelling in hom verloor. Toe kom daardie noodlottige dag, net ’n paar maande voordat hy sy mediese studies sou voltooi, toe ’n pasiënt wat deur ’n perdekar omgery is in sy sorg gesterf het, omdat hy as geneesheer die duidelike tekens van interne bloeding misgekyk het. Met ’n laaste, hortende asem het daardie man Pitzer se toekomsdrome in verwyte omskep. Die gebeurtenis het sy selfvertroue geskud, en hy het die knaende vermoede gekry dat sy professors dink hy kan nie met mense se lewens vertrou word nie. Skaars ’n week later het hy self daardie opvatting gehuldig. Hy het die universiteit verlaat, hom tot selfbejammering en drank gewend, en selfs ’n paar vrot gedigte neergepen, totdat sy skuldgevoel oor sy verkwiste lewe hom genoop het om ’n pad te probeer terugvind na die blink toekoms wat eens vir hom voorgelê het. As hy nog ’n kans sou kry om iemand se lewe te red, kon hy dalk weer sy eie lewe op koers kry, maar niemand het die kans durf waag nie. Hy het dit ook nie gewaag om weer sy voete op die Charité-hospitaal se gronde te sit nie. Maar hy het nooit ophou studeer nie, en dit selfs reggekry om ’n doktorsgraad by Königsberg te verwerf, oor die fisionomie van idiote. Hy het navorsing gedoen, sy teorieë ontwikkel, by tweederangse plattelandse skole klasgegee, en geld gespaar totdat hy dit kon bekostig om te kom na hierdie land met sy primitiewe mense. Môre kom sy toerusting, en dan kan hy aan die werk spring.

Ten minste het hy sy kleretrommel, hy kan soos ’n heer lyk. Hy trek skoon onderklere aan, borsel sy pak af, en trek aan, en steek sy voete in sy gunstelingskoene – die deftige paar Wilhelm Breitsprechers is die een luukse wat hy hom veroorloof. Hy kam sy hare en baard, waks sy snorpunte, en dan is hy gereed om die wêreld tegemoet te gaan.

Sodra hy by die deur uitstap, tref die teleurstelling hom weer. Terwyl hy hom met bekende roetines besig gehou het, het hy hom half begin verbeel dat die dorp ewe bekend sou voel, dat hy as’t ware in ’n Duitse straat sou uitstap. Die stofstraat en verbygaande ossewa herinner hom egter aan sy seer lyf, die genadelose hitte, die ondraaglike tekort aan beskawing in Afrika. Hy haal diep asem, hoes van die stof wat sy keel krap en wonder of daar ’n plek is waar hy appelstrudel en koffie kan geniet. Sal dit nie wonderlik wees om weer in ’n kaffeehaus te gaan sit nie, met kanttafeldoeke, silwer teelepels, die lug swaar van die reuk van koffie en pyptabak? Hy haal ’n sakdoek te voorskyn en poleer sy knypbril se lense. Handskoene en koerante, dames met sonsambrele, mense wat boeke lees – dít is sy Duitsland. Nie hierdie plek nie. Die Kaiserreich se swart, wit en rooi vlag hang aan ’n vlagpaal by die poskantoor, pap teen die vlamwit lug. Dit lyk vir hom onvanpas.

Hy sal sy werk hier doen en maak dat hy wegkom, so vinnig moontlik.

Baie van sy landgenote glo dat die koloniale ryk ’n paradys is vol asembenemende vergesigte, eksotiese mense en diere, om van groot rykdom nie te praat nie. Nie daartoe in staat om feëverhale te ontgroei nie, projekteer hulle hul begeertes op die blanko doek van verre lande. Vir hulle is Afrika die romantiese droom van verlore jeug, van onskuld en avontuur. Hulle wil die land kom tem en sodoende hulle jammerlike lewens tot iets grandioos verhef.

Hy het voor sy koms al geen dergelike illusies gehad nie, en dit wat hy tot dusver gesien het, sal selfs die hardnekkigste romantikus tot ander insigte bring. Wat hy verwag het om in Afrika te vind, is presies wat hy hier aantref – ’n onherbergsame plek van ongemak en sukkelry, bewoon deur woestelinge en untermenschen. Met sulke lae verwagtinge het hy gedink hy kan nie teleurgestel word nie, maar die hoofstad laat hom dink Duits Suidwes-Afrika is selfs meer troosteloos as wat hy gevrees het. Die dorp lyk na ’n klompie kleinhoewes nadat ’n oprukkende leër dit van groenigheid en mense gestroop het. As dit die beste is wat hierdie land kan bied … Die siniese waarnemers wat glo die protektoraat is net goed vir wetenskaplike navorsing en wapentoetse, is waarskynlik reg, besluit hy.

* * *

Toe hy hom op die trein voorgestel het dat hy in ’n hotel in Windhoek by Lisbeth Löwenstein besoek aflê, het Siegfried iets gans anders in gedagte gehad. Die werklikheid is egter beter. Hy maak die Südwester Hotel se voordeur agter hom toe om die komende hitte uit te hou, en gee sy naam by ontvangs. Die klerk vra hom om te wag, en stuur ’n seuntjie om die gas te gaan roep. Die muurhorlosie agter hom wys kwart oor tien, vroeg genoeg om op die bestemde tyd by die kerk aan te kom. Daar is ’n stoel, maar Siegfried verkies om te staan, sodat sy pasgestrykte broek se nate skerp bly.

Dit was moeilik om toestemming te kry om die basis skaars ’n dag na sy aankoms te verlaat. Hy het vir oberleutnant Von Schlicht verduidelik dat hy ingestem het om ’n vriend met haar troue by te staan, ’n nuwe setlaar vir wie dit veel sou beteken. Hy kon die offisier nie blameer dat hy nie sy storie wou glo nie; hy sukkel self om te verstaan waarom hy aangebied het om fraulein Löwenstein by die kerk in te bring. In die betowerende maanlig het dit gepas gevoel, maar helder oordag is dit moeiliker te verklaar. Nadat ’n boodskapper hotel toe gestuur is om die storie te bevestig, het hulle hom die dag afgegee. “Ek is eenhonderd persent hierteen,” het die offisier gesê, “maar blykbaar is die verhouding tussen die weermag en die setlaars maar broos, en oberst Adendorff meen ons moet witvoetjie soek waar ons kan. So, net hierdie een keer, Bock, asseblief, probeer om niemand die harnas in te jaag nie.”

Hy het belowe om hom onberispelik te gedra en hier is hy nou, met sy hande agter sy rug, besig om in gepoetste stewels heen en weer te tree. Die ontvangsarea se mure is versier met nogals amateuragtige steendrukke van berglandskappe. Hy kyk na hulle, en by elke rotsstulping sien hy ’n figuur wat nie werklik daar is nie – die voortvlugtige met die leë hande wat na hom staar. Elke keer as hy die gebeure in sy gedagtes terugspeel, soek hy ’n nuwe besonderheid wat hom sal help verstaan presies wat gebeur het, die hoe en hoekom, maar elke keer wanneer hy dink hy onthou ’n spesifieke aspek, weet hy nie of dit regtig so was of net sy verbeelding nie.

Voetstappe klink op, hy kyk om en sien Lisbeth met die trap afkom, in ’n nou rok wat haar slank en elegant laat lyk. Sy glimlag vir hom en lyk werklik beeldskoon. Die onsekerheid wat om haar oë huiwer, dra net by tot die allure. Siegfried het nie verwag dat sy so ’n uitwerking op hom sou hê nie. “Fraulein Löwenstein,” sê hy, “jy lyk wonderlik.”

“Dit ís my troudag.”

“Hoe voel jy noudat jy vir herr Kamke ontmoet het?” vra hy sag toe sy naby kom.

“Ek glo hy is ’n goeie man.”

“Sal ons gaan?”

“Net een ding, daar’s ’n strik agter. Kan jy asseblief seker maak dit lyk reg? Ek kon nie daar sien nie.”

Sy staan stil terwyl hy om haar loop. Die strik sit laag teen haar rug en lyk vir hom heel goed. Tog gee hy dit ’n paar plukkies. Hy is bewus daarvan dat sy kneukels aan haar rug raak. “Perfek.”

Hulle loop uit in die stil, helder oggendlug en met die stofstraat langs, die lang vrou en die kort man, ingehaak. Siegfried voel trots om saam met haar te wees, ’n eenvoudige vrou, nederig van afkoms, maar een wat fisiek ’n aantreklike prentjie slaan, en wie se lewe en gevoelens, besef hy, meer kompleks is as wat dit met die eerste oogopslag vir hom voorgekom het. Hoeveel mense kry dit reg om ’n ongewenste lot so moedig tegemoet te gaan? Haar hakke klap op die leiklip-sypaadjie, een van die enkeles op die dorp.

Die Lutherse kerksaal is net ’n paar deure ver, maar die geboue is ver uitmekaar en hulle het nie tyd te verspil nie.

’n Opgeskote swart seun jaag ’n troppie bokke met bruin koppe aan, en die bokke blêr toe hulle die grasse langs die pad sien waar hulle nie kan stop om te wei nie. Oorkant die straat is messelaars besig om ’n huis te bou. In ’n doringboompie se yl skaduwee skaaf ’n ander man ’n plank wat oor twee houtbokkies vasgeklamp is. Die geswiep van sy hale sweef op die stil oggendlug. ’n Oop landauer met twee swart perde kom verby, met ’n man wat ’n pluiskeil dra. Hy knik en lig sy hoed in die verbygaan, staar openlik na die vrou in die trourok eerder as na die soldaat in uniform, wat ’n baie meer algemene gesig is.

Siegfried kyk ook na die bruid. “Is jy op jou senuwees?”

Sy sug sag en kyk vorentoe. “As jy soos ek grootgeword het, is dit glad nie so ongewoon om magteloos te voel as jy die onbekende aandurf nie. Ons lewe met hoop en vrees.”

Hy dink daaroor. “Ek weet jy praat van sosiale status, maar daar is ander dinge wat jou ook só kan laat voel … soos om kleiner en swakker as almal anders te wees in die wêreld van seuns en mans, of om nie die mense rondom jou se waardes te begryp nie. Jy is nie alleen nie.”

“Ek weet,” sê sy. “Ek het vir jou. En saam sal ons hierdie ding doen.”

Buite die saal wag ’n stralende setlaarsvrou hulle in, wit en melerig soos ’n deegkluitjie, saam met ’n man van byna sestig met ’n groot voorkop, kalfagtige oë en ’n gekorste seerplek op sy lip. Hulle stel hulle bekend as die Jürgense, die bruidegom se bure.

“Sal jy haar inbring?” vra frau Jürgens vir Siegfried, en slaag nie daarin om haar afkeer weg te steek nie.

Siegfried soek nog na woorde toe Lisbeth dit bevestig: “Hy is my vriend.”

Herr Jürgens kyk na sy sakhorlosie. “Dis omtrent tyd.”

“Kom sodra julle die musiek hoor,” sê frau Jürgens. “Ons praat later.” Sy vat haar man se arm en hulle verdwyn in die saal.

Oomblikke later hoor hulle die geluide van Wagner se “Bruidskoor” wat op die klavier uitgetimmer word. Siegfried kyk na Lisbeth. Sy lyk meer gereed vir ’n begrafnis as ’n bruilof. “Lisbeth,” sê hy. Dis die eerste keer dat hy haar voornaam gebruik, en hy is bewus van die intimiteit wat dit suggereer.

Sy kyk bo die deur, na die kruis wat daar geverf is. “Ek was nog nooit in ’n Christelike kerk nie.”

“Hulle behoort geëerd te voel om jou hier te ontvang,” sê hy. “Dis nou tyd vir jou dapper gesig.”

Sy draai haar kop en glimlag vir hom, en dit is nie net dapper nie, dis pragtig.

Hy hou sy elmboog uit, sy lê haar hand op sy voorarm, en saam loop hulle by die kerk in. Hulle vordering met die gangetjie langs word deur dertig pare oë gevolg, maar Siegfried is net bewus van een mens, die lang vrou, so statig aan sy sy. Die geluid van die verwoed gespeelde klavier weerklink in die groot ruimte.

Herr Kamke wag voor vir hulle – skraal en sonbruin, in ’n vormlose swart pak. Hy moet seker twintig jaar ouer wees as sy bruid. By hom is die dominee, onder ’n swierig versorgde dos grys hare, soos ’n brander wat gevries is net toe dit breek. Die musiek stop, die dominee verhef sy arms en sy stem, en Siegfried staan eenkant toe.

Hy het sy rug op die gemeente en sy oë op die grond, staar na die grys planke met die wye gleuwe tussenin. Hy is bewus van die mense om hom, lede van ’n jong gemeenskap. Hulle is ingestel op die nuwe band wat hier tussen man en vrou gesmee word, maar dit is die laaste ding waaraan Siegfried wil dink. Pleks daarvan probeer hy onthou dat dit die mense is vir wie die schutztruppe kom beskerm, setlaars en amptenare wat hierdie land omskep in iets regeerbaar en ekonomies lewensvatbaar, ’n buitepos van Duitsland, ’n plek waar die landlose klas kan kom wortel skiet, wat vir mense soos herr Kamke en Lisbeth ’n toekoms bied. Miskien sal ook hy die grondslag vir ’n beter toekoms hier lê.

Die seremonie onderbreek kort-kort sy dwalende gedagtes. Uiteindelik gee die bruid en bruidegom mekaar ’n onbeholpe soen, daar is ’n ge-oe en ge-a van die gemeente, en dan roep die dominee Siegfried na ’n sykamer toe, waar die register geteken moet word. Hy word as getuie benodig, saam met die Jürgense.

In die klein kamertjie skud herr Kamke sy hand. Die boer se hand is klewerig van iets wat hy aangesmeer het teen die grofheid. Terwyl die paartjie die wetlike aspekte afhandel, staan Siegfried terug en staar na die agterkant van herr Kamke se nek, hoe grof die vel daar is in vergelyking met die gladde dele reg agter sy ore. Vanaand gaan hierdie harde lyf op Lisbeth Löwenstein neerdruk, kan hy nie help om te dink nie. Die gedagte pla hom. Dis nie jaloesie nie, besluit hy, dit skrei teen sy sin vir regverdigheid. Dit is nie wat die vrou wil hê nie. Hy sien dit gebeur, en kan dit nie keer nie.

Op ’n punt rebelleer sy longe, meteens daarop uit om van regte of kastige slym ontslae te raak. Hy voel die gekrap in sy bors, probeer dit onderdruk, maak geluide in sy keel. Hy sien dat die ander na hom kyk, Lisbeth inkluis. Hulle dink seker ek word oorval deur emosie, wat selfs nog meer beskamend is, dink hy. Dit is in elk geval nutteloos om daarteen te stry. Hy gryp sy sakdoek en laat die hoesbui kom. Toe hy sy asemhaling terug onder beheer het en weer bewus raak van almal om hom, kyk hulle na hom, in afwagting. “Ek vra verskoning,” mompel hy. “Gaan voort.”

Toe die tyd kom, maak hy sy handtekening onder die nuwe frau Kamke s’n.

Met die formaliteite afgehandel, wens die Jürgense die paartjie geluk en die dominee kloek van vrolikheid. Siegfried forseer ’n glimlag. Dan draai die bruid na hom toe, plaas haar hande op sy skouers en soen hom op die wang. “Dankie,” sê sy.

* * *

Presies vier-en-twintig uur na sy aankoms is Albert Pitzer terug op die stasie om sy tweede trommel te gaan haal, die een wat die spoorwegbeampte in Swakopmund gesê het hy sal aanstuur. Hy wil nie ’n dag langer in Windhoek bly as wat nodig is nie. Hy het hom al klaar vasgeloop in iemand wat hom ken, ’n medestudent wat sy graad voltooi het, nou ’n weermagdokter. Heinrich Salzwedel het baie vrae vir hom gehad, en het blykbaar nie sy antwoorde geglo nie.

Hulle vat erg lank om sy toerusting uit die goederetrok te laai. Hy hou die deur dop soos wat nuwe bagasie verskyn, deur amptenare geëien word en weggedra word deur jong swart mans wat vrolik gesels, asof dit hulle is wat goed ontvang. Die meeste dra hoed, maar ’n paar loop kaalkop. Hulle klein bossies hare verdoesel nie die vorm van hulle skedels nie, en hy staar met groot belangstelling daarna.

Later is daar net twee portiere oor. Hulle verdwyn in die goederetrok en Pitzer staan alleen, op sy tone van afwagting; sekerlik gaan hulle nou enige tyd met sy trommel verskyn. Hy wag, maar niks gebeur nie. Hy kyk rond, hoop om die stasiemeester se oog te vang, maar selfs hy het blykbaar ’n ander plek gekry waar hy moet wees. Om die waarheid te sê, daar is hoegenaamd niemand nie, besef hy geskok. Dis net hy, ’n verhongerde bruin hond wat die treinwiele ruik en druppeltjies urine daarop uitdruk, en ’n vrou wat teen die stasiegebou se muur sit met haar bene reguit uitgestrek en ’n baba op haar dye wat haar maag met sy voete vertrap. Selfs die masjiniste het die lokomotief verlaat, en is waarskynlik iewers besig om biere in hulle keelgate af te gooi. Pitzer loop na die goederetrok toe en loer huiwerig in. Dit is donker en dit vat ’n rukkie voordat hy seker is wat hy sien. Die twee portiere lê en slaap, of probeer slaap. Buiten die twee figure is die wa dolleeg.

Dit is soos ’n hol trom toe hy op die hout langs die deur timmer, en die portiere kom met wydgerekte oë orent.

“Waar is my trommel?”

Hulle kyk na hom, dan na mekaar, en dan terug na hom. Begrip dring stadig tot die skepsels deur.

“Wat het van my trommel geword? Dit was veronderstel om van Swakopmund af te kom.”

Die portiere – een jonger en sterker, die ander ouer en maerder – kyk so verwilderd na hom dat hy wonder of hý die een is wat besig is om mal te word. Hy moes geweet het dinge gaan verkeerd loop. Nou die dag in die woestyn toe honderd opgeleide en gewapende mans nie daarin kon slaag om ’n enkele ongewapende vlugteling vas te trek nie, moes hy geweet het dinge sal nie volgens plan verloop nie. Pitzer deel nie sy volk se algemene bewondering vir manne in uniform nie. Die soldate se mislukking was vir hom ’n aanduiding dat dinge selfs nog slegter is as wat hy hom voorgestel het. Nou word daardie indruk bevestig. Die jong portier wat wegdraf om die stasiemeester te gaan roep, vul Pitzer nie met vertroue nie.

Toe die stasiemeester uiteindelik opdaag, lyk hy vies oor die onderbreking. Hy is ’n groot, gespierde kêrel met grys oë wyd uitmekaar soos dié van ’n haai, en klein geel tandjies. Hare is teen sy slape vasgeplak van die sweet. “Wat’s fout met jou trommel?”

“Daar is niks mee verkeerd nie, behalwe dat dit nie hier is nie.”

“Wat het jy daarmee gedoen?” vra die stasiemeester, wat lyk asof hy regtig sukkel om te verstaan wat aangaan.

“Die vraag is wat het júlle daarmee gedoen. Ek het dat hulle dit van Swakopmund af aanstuur.”

“Dan moet ons die mense in Swakopmund vra waar dit is.”

“Dit móét hier wees, ek het dit nodig.” Pitzer doen sy bes om sy ontsteltenis in bedwang te hou.

“Jy het dit nodig … Ek het ’n gewillige wit vrou nodig, maar sien jy enige hier rond?”

Pitzer beskou mans wat op sekspraatjies staatmaak om gemeenskaplikheid te bewerkstellig as ’n lae klas. Sy minagting wys seker.

“Kyk, probeer net ontspan en ons sal sien wat ons kan doen,” paai die stasiemeester. “Kom na die kantoor toe, dan skryf ek jou besonderhede op, stuur ’n telegram Swakop toe en vind uit wat aangaan.”

* * *

Vir Lisbeth is die troue ’n interessante wedervaring, soos om in ’n toneelstuk te wees wat sy nie ken nie, maar sy sê al die regte woorde en die man wat sy belowe het om te gehoorsaam lyk ingenome met haar vertolking. Hy probeer eers heeltyd op die mense in die kerkbanke fokus, maar kyk tog later na haar, lank genoeg om sy skurwe lippe teen hare te druk.

Na die formaliteite poseer hulle vir foto’s – een met net hulle twee, en een met die getuies by. Dan neem haar bruidegom haar aan die arm en lei haar buitentoe.

Die gaste dring nader, gretig om die bruidegom op die skouer te klop en sy hand te skud. Lisbeth is nou wel nie die middelpunt van belangstelling nie, maar sy is reg langs hom, en dit is ook spesiaal. Nadat hulle haar man gelukgewens het, glimlag mense beleef vir haar en probeer bemoedigende of vermaaklike goed sê. Die meeste van die vroue sê sy lyk lieflik. Sy glo hulle, en wens haar ma kon haar gesien het. Sy het nog nooit so ’n mooi rok gehad nie.

Hulle tou na die Südwester Hotel se agtertuin toe, waar tafels op die gelykgemaakte grond opgestel is, met wit doeke en bekers bier en skinkborde vol dauerwurst en leberkäse, rogbrood, suuruitjies en kaas. Linte van verskillende kleure is tussen die bome gespan en die geel voëltjies is ook in die omtrek. Op die koelste plek het ’n orkes in Beierse uitrusting hulle ingerig, die mans met lederhosen en ’n vrou in ’n dirndl wat sing. Miskien was haar fantasie in Karibib tog nie so vergesog nie, dink Lisbeth, daardie manifestasie van Duitsland bestaan wel hier. Die orkes begin speel. Herr Kamke vat Lisbeth se hand en lei haar na die dansvloer toe. “Eins, zwei, drei,” tel hy en daar trek hulle. Elke keer as haar dansmaat haar so draai dat sy wegkyk van die gebou af, sien sy ’n groep swart kinders op ’n afstand onder ’n boom sit en kyk hoe die wit mense jolyt maak. Om haar is daar handegeklap en juigkrete, dis die ene joligheid. ’n Paartjie sluit by hulle aan, en dan ander. Sommer gou dans hulle in ’n stofwolk. Die hotelbestuurder stuur portiere met emmers water. Hulle kry almal van die dansvloer af en sprinkel water, doop hulle hande in die emmers en saai druppels soos sade. Toe die dansery hervat, is daar minder stof, maar modder koek om hulle skoene.

Tussen danse gaan sit Lisbeth op ’n voustoel en aanvaar die beker bier wat haar bruidegom aanbied. Sy sit dauerwurst en kaas op ’n broodrol, knibbel daaraan, melk en vleis tesame. Sedert sy van die huis af weg is, hou sy nie meer by die kosjer-reëls nie.

Siegfried Bock sit eenkant, sy stoel ’n tree of wat van die tafel se rand af geskuif. Hy lyk ietwat verlore. “Is alles reg?” vra sy. “Hoekom dans jy nie?”

“Ek verkies dit om te kyk … Jy lyk of jy dit geniet.”

“Ek moet.”

Sy gaan sit langs hom, maar dit maak hom blykbaar net nog senuweeagtiger. Hy vroetel met sy bosak se flap, knoop dit vas en los.

“Is dit nie jou geleerde vriend nie, daar by die agterdeur?”

Sy kyk en dit is inderdaad doktor Pitzer. “Dan het ek twee vriende hier … Verskoon my.” Sy loop vinnig na die deur toe, voordat die wetenskaplike op vlug kan slaan. “Herr doktor Pitzer! Kom, u is welkom.”

“Ek ken niemand hier nie.” Sy hand is nog op die deurknop.

“Ek ook nie.”

Sy trek hom aan die mou en lei hom na die hooftafel toe. “Dis my man, herr Kamke. En daar anderkant is reiter Bock, u onthou hom dalk van ons eerste dag op die trein.”

Die voormalige medepassasiers lig hulle hande, groet mekaar van ver af.

Lisbeth wag terwyl doktor Pitzer ’n paar teue bier neem. “Kom dans saam met my.”

Hy skud sy kop.

“Kom, dis my dag en ek vra u.”

Pitzer vee sy snor af. “Ek het nog altyd gedink dans is ’n mors van tyd en energie. Kyk hoe belaglik lyk almal, wip sonder rigting rond, dis niks meer as Brown se beweging nie. Ek sou darem graag wou glo dat mense tot meer in staat is as die eenvoudigste stofspikkeltjies.”

Die geleerde se meerderwaardige houding kwets haar, maar natuurlik sê Lisbeth niks. Sy vat haar bruidegom aan die arm en vra: “Kom!”

Hulle dans en eet en drink en mense begin haar soos ’n vriend behandel, hulle deel vertellings en maak beloftes. Haar twee medepassasiers is die enigstes wat nie dans nie, en hulle beland op die ou end aan dieselfde tafel met ’n leë stoel tussen hulle, en dit lyk nie of hulle hoegenaamd met mekaar praat nie.

Teen sononder stuur die hotelbestuurder bediendes uit om lampe op die tafels te sit en stormlanterns aan die boomtakke te hang.

Dapperder in die donker, kom die swart kinders nader. Lisbeth loop na hulle toe en vat een van die meisies se hand. “Kom. Almal van julle.” Sy lei hulle dansvloer toe. ’n Stilte sak oor die gaste neer. “Ons gaan een dans hê vir die kinders,” kondig sy aan. Die orkesleier kyk wantrouig na haar. “Toe, vir my,” pleit sy, en daarop gee hy die musikante die teken om te speel. Die kinders vat hande in ’n groot kring, Lisbeth tussen hulle. Hulle spring en huppel in die rondte, laggend. Party van die gaste begin op maat van die musiek op die tafel te klap. Vlamlig speel oor die kinders se glimlagte en Lisbeth se modderbespatte rok. Bokant die bome sprankel die sterrehemel.

Dit is byna middernag toe die musikante hulle instrumente wegpak, bediendes die tafels afdek en die gaste afskeid neem.

Hierdie keer gaan herr Kamke saam met Lisbeth kamer toe. Hy sak hard op die bed se rand neer, trek sy skoene uit en leun terug teen die kussings. Hy is ’n bietjie dronk, in ’n goeie luim. “Jy was wonderlik vanaand,” sê hy. “Ek het nog altyd geweet daar is iets spesiaals omtrent jou.”

Dít, besef sy, is nie halfpad so erg soos wat sy gevrees het nie. Sy blaas die kers dood, tree uit haar rok uit, trek die een kledingstuk na die ander uit, totdat sy naak voor hom staan.

* * *

Siegfried staan op aandag in die middel van die ondersoekkamer, met net sy onderbroek aan, en loer na sy klere wat op ’n stoel in die hoek gebondel lê. Hy wens hy kan dit weer aantrek. Dis maar net katoen, maar dit is ’n wapenrusting teen hierdie oë. Dokter Salzwedel en oberst Adendorff loop om hom en inspekteer sy liggaamsbou. Siegfried verwens sy lyf. Dit dra sy siel, maar verraai hom om elke hoek en draai. Die deur is oop, en laat die lig van agter op hom val. Van voor af stroom sonlig deur die venster. Hy probeer sy bors uitstoot, maar kan nie wegsteek dat hy fisiek klaaglik onderontwikkeld is nie. Dit kom daarvan om aan jou bed gekluister te wees terwyl ander kinders rondhardloop en boomklim.

En nou lyk dit asof hy die militêre aksie ook gaan misloop. Toe hy gister van die troue af terugkom, het hy die barakke leeg aangetref. Die res van sy kompanie het skielik vertrek, na berigte van ’n Herero-mag onder hoofman Andreas by ’n plek genaamd Heusis, omtrent vyftig kilometer wes van Windhoek. Die gevegte in hierdie deel van die land is veronderstel om verby te wees, met die Herero’s oorwin, en die verwagting was dat hulle in die suide ontplooi sou word, in die voortslepende oorlog met Nama-kommando’s. Hy kan sy kamerade voor sy geestesoog sien, netjies geklede ruiters wat onder die Afrika-son galop en die vyand die stryd aansê … Hy het verwag dat hy gestuur sou word om by hulle aan te sluit, maar dit is blykbaar nie die plan nie. Miskien het iemand in iemand se oor gefluister, en nou staan hy hier in ’n vertrek wat na spiritus ruik, waar alles helder en strak is, met die reghoekige groen leerpanele in sommige van die roomkleurige metaalmeubels as enigste kontras. Selfs die vloer is wit geverf.

Oberst Adendorff tik met sy kierie teen sy stewels se punte, ’n slanke stuk ebbehout met ’n ivoorhandvatsel en ’n silwer filigraanband by die lasplek. Die offisier is bleek en skraal, met woeste swart wenkbroue om te vergoed vir die yl stoppels op sy kop. Die storie loop dat as ’n mankemente knie hom nie op kantoor gehou het nie, Adendorff pleks van generaal Von Trotha in bevel sou gewees het van al die troepe in die protektoraat. “Ek kan sien waarom jy my laat kom het,” sê hy vir die dokter.

Dokter Salzwedel, plomp en haarloos soos ’n weisswurst, haal sy draadraambril af en vryf sy oë. “Op die monstervorm het hulle hom opgeskryf as ’n soldaat – nie ’n halwe of driekwart nie, ’n hele een. Daar’s nie eens genoeg van hom om te keer dat ’n koeël ’n regte soldaat tref nie.” Met sy bril terug in posisie, gaan die dokter na sy lessenaar toe en maak ’n lêer oop, volg met sy vingers terwyl hy die blad deurlees.

“Was jy op dieselfde skip as Albert Pitzer?” vra hy vir Siegfried. En aan Adendorff: “’n Klasmaat van universiteit af, toeka se tyd. Ek het hom nou die dag in die Kafee Elbe gesien.”

“Ja … maar ek het doktor Pitzer eers later ontmoet, op die trein,” sê Siegfried.

“Dokter? Ek het nie geweet hy het sy studies voltooi nie …” Dokter Salzwedel lig sy wenkbroue, stoot sy onderlip uit en knik stadig terwyl hy die inligting oordink. Dan maak hy keel skoon, en bepaal hom weer by die saak voorhande. “Daar is geen melding dat jy tydens die oorvaart siek was nie. Waarom?”

“Ek was nie siek nie, dokter.”

“Nou hoekom het jy dan soveel gewig verloor?”

“Ek het nie, dokter.”

“Is ek nou veronderstel om te glo dat jy in hierdie toestand was toe die dokter jou ondersoek het in … waar?” Hy loer na die vorm. “Charlottenburg. Toe die dokter wat jou ondersoek het, besluit het jy is geskik vir diens?”

Siegfried antwoord nie. Traudl se pa is ’n man met invloed in Berlyn en wou sy dogter red van ’n knaende en ongeskikte vryer. Sy eie pa het werklik geglo die leër sal ’n man van hom maak.

Die dokter lig sy hande moedeloos en wend hom tot die offisier. “Wat moet ons met hom maak? Ek sal hom teen die deur kan laat lê om die wind te keer, maar dalk waai hy weg.”

Albei mans grinnik. Hulle is kennelik vriende. Toe oberst Adendorff ingekom het, was daar ’n vlugtige gesprek oor ’n skaakspel waarmee hulle besig is.

Hulle praat asof dit my nie aangaan nie, asof ek nie hier is nie, dink Siegfried. Is dit ’n geval dat die noodlot wraak neem omdat hy daardie vlugteling in die woestyn laat wegkom het? Hy het dit gedoen sonder om te dink, en kon sedertdien nie ophou dink daaroor nie. Is dit ’n onvergeeflike ding om jou land se vyand te laat wegkom? Of sou dit onvergeeflik gewees het om iets anders te doen? Sy gebrek aan optrede kon gemotiveer gewees het deur dankbaarheid, want die ontsnapte krygsgevangene het waarskynlik sy lewe gered. Of miskien was dit omdat hy die man se magtelose posisie herken het, en nog altyd self so magteloos gevoel het, dat hy genoop was om ’n swakkere te beskerm. Hy wens hy kan dit met iemand bespreek, maar daar is niemand wat hom nie sal veroordeel nie.

Die stemme in sy gemoed en die stemme om hom raak meer as wat hy kan verduur. “Hoekom gee julle my nie ’n kans nie?” bars hy uit.

Adendorff loop tot vlak voor hom, so naby dat Siegfried die haartjies in daardie wilde boskasies van wenkbroue kan sien. Siegfried staal hom om uitgeskel te word, maar die offisier se stem is sag.

“Die kwessie is nie of ons jou ’n kans moet gee nie, maar of ons ’n kans moet waag. Ons is hier in ’n oorlog gewikkel. Ons kan nie veg met manne wat vir ander ’n las sal wees, of hoogstens ’n passasier nie. Dis nie jou skuld nie, ek weet. Die natuur was nie goed vir jou nie, jy is duidelik nie opgewasse vir die taak wat jy veronderstel is om hier te verrig nie. Jy moet verstaan dat dit ’n situasie wat reeds moeilik is, nóg moeiliker maak. Vergewe maar as ek en die dokter ons toevlug tot humor neem.”

Siegfried weet nie wat om te sê nie. Hy het nog nie veel kans gehad om skanse teen gaafheid op te bou nie.

“As hy iets kon doen wat nie te veeleisend is nie …” sê dokter Salzwedel. “Hy kan ’n kampwag wees.”

Siegfried onthou die uitgeteerde, gebroke vroue wat hy op Swakopmund gesien het, wesens uit die onderwêreld wat deur die newel strompel. “Moet dit asseblief nie doen nie … Stuur my na ’n gevegseenheid toe. As ek nie die mas opkom nie, kan hulle my terugstuur en dan kan u met my doen wat u wil.”

Oberst Adendorff tik met sy vingerpunte teen sy lippe.

“Ek ken ’n paar manne in leutnant Berghammer se peloton,” gaan Siegfried voort. Dit is nie heeltemal waar nie, hy ken maar net een of twee name uit Manfred Eberhardt se briewe aan Traudl, maar dalk, as hy na dieselfde eenheid toe gaan, kan dit help bewys dat hy sy teenstander se gelyke is. Voorts sal hy miskien kan uitvind hoe die man dood is, ten minste seker maak dat hy iets het om vir Traudl te vertel. Miskien was Manfred Eberhardt nie die held waarvoor almal tuis hom aansien nie, miskien was dit tifus wat sy lewe geëis het, ’n dood wat nie besonder eervol is nie. Of sê nou hy het iets doms of lafhartigs aangevang, die een of ander skandalige daad wat sy dood teweeggebring het, tot sy kamerade se verligting?

Oberst Adendorff knik stadig. “Daardie eenheid is effens onderbeman, hulle het verliese gely.”

Die vertes in

Подняться наверх