Читать книгу Ek wens, ek wens - Zirk van den Berg - Страница 4
1
ОглавлениеEngel met vlerke van klip
Seb staan onder die boom aan’t vroetel met die Rubik-kubus aan sy sleutelring. Hy kan om die dood nie verstaan hoe jy veronderstel is om op die ou end al die blokkies te kry waar jy hulle wil hê nie, elke kant net een kleur. Om met die speelding te karring is bloot iets om te doen terwyl hy wag, en hy hou daarvan om na die helder kleure te kyk. Sy swart pak sit los aan sy maer, geboë lyf. Sy skoene en sy das is ook swart, en vandag dra hy die hemp met die pers skynsel. Hulle kleredrag moet sober wees, glo die baas, maar moet tog ’n tikkie hoop suggereer. Die weer speel nie saam nie – die grys stuifreën hou geen belofte in nie. Die boom hou hom amper droog en hy kan sy bril op hou, maar elke nou en dan glip ’n druppel uit sy yl hare en verby sy boordjie af. Hy kon in die kar gesit en droog gebly het, maar sy kollega Ernie het op pad hierheen gerook en dit het gevoel soos selfdood om in daardie dampe aan te hou sit. Nie dat Seb bang is vir die dood nie – hy werk daagliks daarmee – maar hy is nog nie gereed om hierdie lewe te verlaat nie, saai ofte not.
Ernie is nog jonk, en het meer weerstand teen ander mense se smart. Ná twintig jaar in die beroep het Seb soveel hartseer gesien as wat hy maar kan verduur. Sover moontlik vermy hy dit om begrafnisse by te woon, maar Ernie se gewone maat, Derick, het ’n ander verpligting – waarskynlik ’n werksonderhoud – en Ernie is nog nie ervare genoeg dat hulle hom kan vertrou om alles alleen te doen nie. Seb het by die kerk die voortou geneem, en laat die take by die graf aan Ernie oor, terwyl hy op ’n afstand ’n ogie hou. Die jong man is nog geïnteresseerd in die werk se meganiese aspekte, soos die rollers wat, as jy die hefboom oorstoot, wrywing teen swaartekrag inspan om die kis stadig in die aarde te laat afsak.
Stemme verrys in samesyn, ’n swaarmoedige lied, en Seb kyk na die mense rondom die graf. Hulle is ook onder die waaksame oog van ’n klipengel wat op die graf langsaan pryk. Dit is die einde van die teraardebestelling. Hulle sing vir die lae wolke, miskien verbeel hulle hulle dat God in die grys newel luister, dat Hy reëndruppels huil, of miskien is dit trane van blydskap oor die ontslapene se siel wat in die hemel aankom. Godsdiens is vir Seb minstens net so verbysterend soos die Rubik-raaisel. Hy werk met dooie lywe, die oorskietvleis, sien groen en pienk sappe sypel, niks wat lyk of dit ’n siel kan wees nie.
Die eerste mense breek van die groep af weg, hou mekaar aan die elmboog of om die skouers vas. Sambrele flap oop, swart en blou en skelrooi, ’n gele met ’n smiley face op. Die roubeklaers loop langsaam terug na die parkeerterrein toe. Volgens Seb se berekeninge sal twee hulle motorbatterye pap aantref, omdat hulle hulle ligte aan vergeet het. Straks kan iemand ’n redelike bestaan maak deur karre by begraafplase aan die gang te kry.
Toe hy terugkyk, is daar nog net die predikant in sy teatrale toga – met sy heilige boek in sy hande terwyl hy koponderstebo agteruit tree – en ’n handjievol mense langs die oop graf. Die weduwee klou aan haar broer, wat die begrafnisreëlings getref het, en dan is daar ’n vrou, seker sy eggenoot, en twee jongmense, die volgende geslag wat aantree vir die dood. Hulle draai een vir een om, haak hulle arms diékant en daai kant om mekaar, en loop weg met stampe en stote soos rangerende treine.
Seb druk die sleutels in sy broeksak en bêre sy bril in sy baadjie se binnesak – reën op die lense maak dit nutteloos – en staan eerbiedig nader, met sy kop effe gekantel en sy hande wat mekaar geselskap hou. Hy tree versigtig oor die ongelyke grond. Hy sukkel met sy knieë ná ’n klomp ambisieuse pogings in die driesprong toe hy jonk was. Die oorledene se broer knik toe hy Seb se oog vang, en hou verby.
Seb loop tot waar Ernie hurk, blond en pienk en spekkerig. Die jong man karring met die hefboom op die chroomraam wat die graf omring. Sonder die dooie se gewig om dit voort te dryf, beweeg die ratte nie.
Anderkant die gat het die twee grafgrawers sigarette opgesteek.
“Ons hou aan om hulle te plant,” sê die oudste een, “maar niks groei ooit nie.”
“Nou wat dan van al hierdie?” kap sy maat terug, en wys na die grafstene. “Hulle slaan oral op.”
Die twee grinnik daaroor. Dan loop die oudste een om die laaigraaf te gaan haal, terwyl die jongetjie begin om die sintetiese grasmatte rondom die graf bymekaar te maak.
Seb haak die groen nylonbande aan een kant van die chroomraam los en loop om na die ander kant toe. “Ernie, kom help ’n bietjie hierso.”
“Net ’n oomblik, ek wil net sien hoe hierdie …”
Ernie sal enigiets doen om werk wat vuil maak te vermy.
Die nylonbande is glad van die modder, en glip maklik onder die kis uit. Toe Seb hulle uitryg en eenkant gooi, swiep een van die punte om en skiet modder op sy pak. Verdomp! Hy probeer dit afvee, maar dit maak ’n bruin vlek. Hy sal die pak weer droogskoonmaker toe moet vat. Sy rekening daar is byna soveel as wat sy tienerseun aan deodorant spandeer, of sy Goth-dogter aan maskara. Hy rol die bande op en begin die chroomraam losskroef. Nou kom sit Ernie eers hand by, dra twee van die stukke eenkant toe vir die grafgrawers om weg te vat nadat hulle die gat toegegooi het.
Die ouer man kom poer-poer met die pad langs, op ’n rooi trekker met ’n laaigraaf-arm agteraan.
“Komaan,” sê Seb vir Ernie.
“Ek wil dit sien.” Die jong man vergaap hom aan die masjinerie. Hy was voorheen ’n motorverkoopsman, en hou van goed wat dreun.
Nou ja, ek kan nie eintlik natter word as wat ek is nie, dink Seb. Hulle bly dus maar staan, terwyl die begraafplaaswerker die trekker aan die graf se voetenent in posisie bring, die stabiliseringspote laat sak en die grond in die gat begin gooi. Die laaigraaf se rukkerige bewegings hou Seb se aandag nie lank nie, en hy kyk liewer na die operateur wat die een hefboom ná die ander skuif en dit blykbaar geniet om al daardie krag tot sy beskikking te hê.
Sodra die grond omtrent gelyk is, skakel die man die masjien af en sluit by sy kollega aan om die graf met skopgrawe af te rond.
Hierdie deel interesseer Ernie nie. “Ek dink ons kan maar tjaila.”
Uiteindelik.
Dit reën nou harder. Iewers op ’n kol moes Seb aan sy nek geraak het, ’n druppel of iets het hom gekielie, en nou is daar modder in sy boordjie wat hom irriteer. Hy vee sy hande aan sy sakdoek af voordat hy sy boonste knoop losmaak en sy das loswikkel.
Hy is nat, moeg en miserabel toe hy uiteindelik in die kar klim – en het skaars die sleutel in die aansitter, of die voorruit begin opwasem.
“Kyk net hoe laat is dit al,” sê Ernie. “Daar’s nie veel wat ons voor vyfuur by die werk gedoen gaan kry nie. Dink jy jy sal my op pad terug by die huis kan aflaai? Dalk kan ek nog die einde van die game op TV sien.”
Dit is nog nie vieruur nie. “As jy wil,” sê Seb.
Hy weet nie watter wedstryd Ernie bedoel nie, en wil nie vra nie. Ernie sal sy onkunde ongelooflik vind, straks nog onvergeeflik. Die outjie is ’n sportgeesdriftige wat sterk identifiseer met groepe vreemdelinge wat dieselfde span ondersteun. Ernie droom daarvan om ’n sportkommentator te word, maar praat effens sleeptong, wat alles wat hy sê kinderagtig laat klink.
Seb laai sy jong kollega af en ry kantoor toe. White Lily Funerals se kantoor is op die hoofstraat, tussen Supercheap Autos en Discount Wheels met hulle verbleikte bont driehoekvlaggies kruis en dwars oor hulle rye karre gespan. ’n Deel van die gebou was voorheen ’n viswinkel, en White Lily het gevolglik ’n groot venster teenaan die sypaadjie. Hulle gebruik daardie deel as ontvangs. Langsaan is ’n ou pakhuis waar die eintlike werk agter hoë mure gedoen word.
Seb ry met die steeg langs die pakhuis na die agterplaas toe. Eers oorweeg hy dit om die modderige lykswa vir Ernie te los om Maandag skoon te maak, maar dan sal die modder al hard wees en die taak moeiliker. Hy spuit dus maar die lykswa met die tuinslang af.
Doreen van ontvangs verskyn in die deur. Haar rokke herinner Seb altyd aan die plastiekblomme op grafte – helder en onvernietigbaar. Haar uitrustings oorbrug die jare; tuisgemaak met patrone wat sy in haar jeug gekoop het, aangepas (maar nooit genoeg nie) vir haar breër wordende middellyf. Sy dra te veel grimering en kleur haar hare so swart soos Elvis s’n. Sy was die eerste werknemer, toentertyd toe meneer Abrie die onderneming begin het, en het meer tyd hier ingesit as enigiemand anders. Die afgelope klompie jare kom wys meneer Abrie net ’n paar keer ’n week sy gesig om sy werknemers op hulle tone te hou. Deesdae is hy selfs skaarser.
“Waar’s Ernie?” vra Doreen.
“Ek het hom op pad by die huis afgelaai.”
“Jy moenie dat daai outjie so bo-oor jou loop nie.”
“Aag, dit maak nie saak nie, hy het ander goed wat hy wil doen.”
“Het ons nie almal nie?” vra sy.
Seb weet nie wat om te sê nie. ’n Mens het jou werk en jy doen dit, dit help nie om vir ander goed te wens nie. Sover moontlik bepaal hy hom by die voor-die-hand-liggende. Hy dink nie oor die verlede nie, dit maak hom hartseer. Hy dink nie oor die toekoms nie, dit maak hom bang. Hy wens wel af en toe vir die een of ander ingryping wat hom losruk van hierdie aardgebonde verdomde lot. Dan wil hy die grond van sy bleek wortels afskud en hemel toe sweef, ’n distel op die wind … Maar dit help nie om sulke drome te droom nie.