Читать книгу Kobra - Деон Мейер - Страница 10

8

Оглавление

Op die trein terug Kaap toe skakel Tyrone Kleinbooi af, leun terug, wieg saam met die wa. Hy like van trein ry. Dis ’n escape van sy industry, hier in die derde klas. Almal arm, maar daar’s so ’n smaak van hoop, as if you’re on your way to something better. As hy down is, as hy ’n harde dag in die office gehad het, vat hy baie keer die trein en hy ry iewers heen. Lentegeur, Bellville, Simonstad, hy het al twee keer met Metrorail al die pad Worcester toe gery, en dan droom hy van Europe by rail, eendag. Na Barcelona toe, the Holy Grail of pickpocketing, soos uncle Solly dit altyd genoem het.

Hy weet hoekom hy vandag so knaend aan uncle Solly dink. Dis oor die pressure. Hy’t daar vir sy suster sit en lieg – O.K., dis ’n ding wat hy nou al jare lank oor sy job doen, maar hy’t nog bygelieg vandag, by Desember is daar genoeg vir die helfte van volgende jaar se study fees ook, wat natuurlik a blatant lie is. Dat toerisme sewentien persent op is, dat die Cape economy boom, that’s all true. Maar vir ’n pickpocket help dit net mooi fokkol.

Why? Die kameras, that’s why.

Toe uncle Solly hom nege jaar gelede begin coach het, was alles anders. Hier en daar ’n CCTV cam in ’n shop, ma’ hy’s nie ’n shoplifter nie, shoplifting is vir amateurs en teenagers, Ty, too easy to get caught, want da’s net een exit, en jy soek altyd meer as een, áltyd. Maak nie saak dat hy wat Tyrone is nege jaar gelede ma’ twaalf jaar oud was, nog nie eens ’n teenager nie, ma’ dis uncle Solly vir jou.

Vat nou ma’ die postcard trick – daai dae kon jy dit nog doen. Suiker in by Café Mozart se buitetafels, da’ in die Church Street mall, loep na die tourist toe met jou twelve year old even features en jou charming smile, en die postcards, almal deur uncle Solly met die hand uitgesoek, mooi goed, Table Mountain, Table Bay, cute Boulders Beach penguins, en so ’n paar met Madiba op. Nuut en blink.

“Madam, have you sent your loved ones a Cape Town postcard yet?” vra jy in jou sweetste ou kinderstemmetjie.

“Oh, aren’t you just the cutest. That’s a great idea. George, we should send Shirley a postcard … Oh, aren’t the penguins adorable …”

En hy sit die postcards neer bo-op die wallet of die selfoon of die paspoorte wat daar op die rand van die tafel lê, sy vingers wat hulle uitfan, vinnig en getrain soos ’n card sharp, terwyl hy die wallet vat en onder die postcards vasdruk. En die husband vra: “How much?” en hy sê: “Just five rand, it’s for my school fees,” en die auntie sê: “We’ll take two,” en sy vat met haar vet, beringde vingers van die poskaarte, en die husband begin sy wallet soek. “I’m sure I had it …”

Daai trick kan jy lankal nie meer traai nie, want nou’s daar kameras om elke hoek en draai in die stad, and somewhere ’n bloubaadjie wat vir screens sit en kyk en met die radio vir die Metro cops laat weet jy steel die tourists kaal. Nou moet jy vier keer per dag terugloop na jou kamertjie in die Bo-Kaap en ’n ander kleur hemp en ’n ander cap of beanie of hoedjie gaan aantrek, solat die bloubaadjie voor die screens nie vir jou begin notice nie.

So what’s a girl to do?

In dié industry moet jy gaan waar die marks is, die marks met geld. En dit beteken foreign tourists, want jou locals dra nie cash nie – behalwe vir die Gautengers en die Vrystaters oor Desember, easy pickings as jy hulle weg van ’n kamera kan kry, Clifton beach en Kampsbaai. En die Biscuit Mill market op ’n Saterdagoggend, now there’s a paradise, al daai malende mense, ma’ jy kan net twee of drie wallets steel before word gets around.

Foreign tourists hang uit by die Waterfront en in die stad, and that’s CCTV country, so jy moet baie sharp steel, altyd in die crowd, jy moet met die voet beweeg tussen die V&A en Langstraat, tussen die Castle en die kabelkar, want die minibus-taxi’s se weird routes vat te lank, en die common taxi’s rook jou …

Voor November moet hy twaalfduisend rand kry, vir hierdie jaar se university fees. Voor einde Januarie nog negeduisend vir volgende jaar se eerste payment.

Twenty-one K. Hoe doen jy daai, uncle Solly? In dié swaar winter, met dié reën wat nog gaan aanhou tot September toe? Met die fences wat vir jou squeeze met “recession” en “tough times”?

Hoe doen jy daai en bly uit die tjoekie uit?

* * *

Bennie Griessel en Mooiwillem Liebenberg kry niks.

Hulle deursoek die groot ou huis noukeurig en deeglik. Morris se rekenaar, iPad en moontlike selfoon is nie daar nie.

Kaptein John Cloete, die Valke se mediaman, daag op. Hulle gaan sit by die gastehuis se eetkamertafel om te beraadslaag.

“Die Giraffe sê dis jou roep, Bennie,” sê Cloete. Hy het nikotienvlekke op sy vingers en permanente skadu’s onder die oë. Griessel vermoed dit is die prys wat die skakeloffisier betaal vir sy oënskynlik onwrikbare kalmte en geduld, ondanks die onmenslike druk wat sy pos meebring.

“Dis ’n uitlander, John.”

“So hoor ek.”

“Ons sal eers naasbestaandes moet kontak. Dit kan ’n rukkie vat.”

“Sal ek sê ‘vermoedelik ’n Britse burger’?”

Dis nie wat Griessel wil hê nie. Ontvoering is ’n delikate, ingewikkelde, gevaarlike gemors. As daar vandag of môre ’n losprys-eis inkom, met instruksies van geen media nie, is dié aap klaar uit die mou. En jy kry hom nooit weer terug nie. Dis boonop soos bloed in die water vir die mediahaaie. Die feit dat dit ’n buitelander is, gaan hulle mal maak. En dan neuk hulle alles op.

“Ons weet nog te min. Ek wil niks oor die Brit sê nie.”

“’n Onbekende derde persoon?”

“Nee. Heeltemal niks van ’n derde party nie.”

“Jy weet dit gaan uitkom, Bennie.”

Hy knik. Daar is te veel mense op die plaas wat reeds weet. Maar kolonel Nyathi sal in elk geval die media-uitreiking finaal goedkeur, hy moet nou probeer doen wat hy glo die beste is vir die ondersoek.

“Ek sal vir die eienaar vra dat hy met sy mense praat, maar ek dink ons moet net sê een plaaswerker en twee gaste is geskiet. Niks meer nie.”

“Die oomblik wat ons die lyfwagte identifiseer, gaan die media vra wie hulle opgepas het.”

“Dan moet ons hul identiteit eers weerhou.”

“Hel, Bennie …”

“Ek weet, John, maar as die Brit nog lewe, moet ons nou die regte ding doen. Kan jy dink, as ons dit opfok, wat die Engelse se koerante dan oor ons gaan skryf?”

“Jy sal met die lyfwag-mense moet gaan praat. Hulle sal moet saamspeel.”

“Dis goed so.”

Cloete sug. “Ek sal sê die ondersoek is in ’n sensitiewe stadium, ons sal meer inligting uitreik sodra ons seker is dit sal nie die proses belemmer nie. Dit behoort ons te cover, maar hulle gaan weet ons steek iets weg.”

“Dankie, John.”

“Wag maar eers tot Die Giraffe dit goedkeur …”

* * *

Net ná een bring Christel de Haan en twee restaurantwerkers vir hulle kos – stomende borde waterblommetjiebredie. Griessel bedank haar, en bel vir Vusi Ndabeni en Frankie Fillander om saam te kom eet.

Dan verduidelik hy die dilemma oor die ontvoering en die media aan De Haan.

“Kan julle vra dat niemand met die koerante praat nie?”

“Ons sou dit in elk geval gedoen het. Marcus is baie bekommerd oor ons handelsmerk se reputasie. Ons wyn gaan alles Europa toe.”

Hy bedank haar, en bel vir Cupido.

“Ek het die Gmail-adres, Benna. Paul underscore Morris, one five. Help ons fokkol. En daar’s niks in die contract wat sê wie Morris is nie. No address, no next of kin. Ek versta’ nie hoe hierdie mense besigheid doen nie. En jy moet daai office sien. Grênd, pappie, big bucks.”

“Waar’s jy nou?”

“N1, by Century City, ek is op pad na julle toe. Iets gekry?”

“Niks. Ons is amper klaar, Vaughn, jy kan maar kantoor toe. Gee vir IMC die twee lyfwagte se selnommers, dat hulle die seltoring kan identifiseer en al die oproepe van Vrydag af kan begin nagaan.”

“Daai’s smart, Benna …”

“Dis Ulinda se idee.”

“Daai darkie darem. Nobody’s fool, despite the battering.” Radebe was ’n ligswaargewig wat al vier sy professionele gevegte met punte verloor het voor hy die sport gelos het. Dit was sy vermoë om houe te absorbeer wat aan hom sy “ratel”-bynaam besorg het.

“Sien jou by die kantoor,” sê Griessel en lui af.

* * *

Net na ete gaan stap hy, Liebenberg, Ndabeni, Radebe en Fillander langs die res van die plaasgrens af, maar kry niks. “Behalwe ’n verkoue,” sê Fillander droog. As daar spore was, het die reën intussen alles uitgevee.

Net na 15:00, toe die staatspatoloog reeds gekom en gegaan het en die laaste ambulans wegry, verseël hulle die misdaadtoneel. Sy kollegas gaan terug kantoor toe, en Griessel ry stad toe om met Jeanette Louw van Body Armour te gaan onderhandel.

Hy sit die motor se verwarmer aan om die koud en nat te verdryf. Die druk van JOC-leier wees lê ongemaklik op hom, sodat hy alles weer deurdink, stadig en met groot konsentrasie. Want sy kop is nie helder nie. Want hy wil nie ’n gat van homself maak nie. Nie ná al die kyke oor hoe hy lyk nie.

Hy swets hardop oor sy sotlikheid van gisteraand. Want JOC-leier is ’n geleentheid om weer relevant te wees. Hy het die afgelope ses maande so hard gewerk om in te haal, om aan te pas by die Valke, om die hele span-ding te aanvaar en ’n doeltreffende speek in die Valke-wiel te word. Ondanks die feit dat hy die oudste speurder in die Geweldsmisdaadgroep is, verstok in die tradisionele manier van dinge doen.

En nou lyk hy só.

Hy sal moet kophou.

Hy fokus op die saak, gaan weer deur alles wat hy vanoggend gesien en gehoor het. Hy kom tot dieselfde gevolgtrekking: Hulle moet eers weet wie Morris is.

Fok weet, hy sal vanaand moet slaap kry, hy kan nie môre weer so lyk en voel nie.

Wat hom die meeste bekommer, is dat hy weer begin lieg het. Hierdie keer vir Alexa, vir Nyathi, vir sy kollegas. En die déjà-vu wat al die ou, slegte herinneringe terugbring van tien, elf jaar gelede. Anna, daardie tyd nog sy vrou: “Waar was jy, Bennie?”

“By die werk.” Met sy stink drankasem, sy gesuipte oë, wankelend op sy voete.

“Jy lieg, Bennie,” sou sy antwoord, met vrees in haar stem. Dit is wat hy onthou – die vrees. Wat gaan van haar man word, wat gaan van haar en die kinders word?

Dit was die naweek so maklik om vir Alexa te lieg, en vanoggend vir Cupido. Die ou, glibberige gewoonte was soos ’n gemaklike kledingstuk, jy gly net daarin.

Destyds kon hy dit regverdig. Rasionaliseer. Die stres, die trauma van onmenslike geweld en wat dit aan sy kop gedoen het, die onmoontlike ure, die slapeloosheid, die drome, en sy eie vrese, dat sy geliefdes so iets kan oorkom.

Maar nie meer nie.

Hy wil nie meer lieg nie.

Kobra

Подняться наверх