Читать книгу Kobra - Деон Мейер - Страница 4

2

Оглавление

Tyrone Kleinbooi sien die auntie in die derdeklas-wa opklim, hier waar Metrorail-trein 3411 by Bellville-stasie se Platform 4 staan, net voor 08:50 op die Maandagoggend. Sy is duidelik in haar beste klere uitgevat, met ’n stemmige kopdoek, en ’n groot handsak is in al twee haar hande vasgeklem. Hy skuif so ’n bietjie om die oop sitplek langs hom aanlokliker te laat lyk.

Sy kyk na die sitplek, en na hom, en dan kom sy nader, soos hy geweet het sy sal. Oor hy ordentlik lyk. Even features, soos uncle Solly dit genoem het. Jy’t even features, Ty. Dis ’n boon in hierdie industry.

Industry. Asof hulle vir ’n maatskappy gewerk het.

Sy kom sit sugtend, laat die handsak op haar skoot rus.

“Môre, auntie,” sê hy.

“Môre.” Sy kyk sy lang, skraal lyf op en af, en sy vra: “Nou wa’ kom jy vana’?”

“Van die stad af, auntie,” sê hy.

“En wa’ gaan jy heen?”

“Stellenbosch, auntie.”

“Swot jy da’?”

“Nee, auntie?”

“Nou wat gaan jy da’ maak?”

“Ek ga’ my suster sien, auntie.”

“Nou wat maak sý?”

“Sy swot, auntie. B.Sc. Human Life. Eerstejaar.”

“Ma’ dis ’n grand kursus, nè. Wat doen mens daarmee?”

Die trein ruk, en vertrek.

“Da’s baie wat jy kan doen, ma’ sy wil ’n dokter word. Sy’t nie die selection gemaak laas jaar nie, nou try sy só inkom.”

“’n Medical doctor?”

“Ja, auntie. Sy’s ’n slim kind.”

“Ek sal so sê. Medical doctor nogal. En jy? Wat doen jý?”

“Ek’s ’n pickpocket, auntie.”

Sy vat haar handsak ’n oomblik lank stywer vas, maar dan lag sy. “Aag, jy,” sê sy en stamp hom met haar elmboog in die ribbes. “Wat doen jy rêrig?”

“Ek’s ’n painter. Ma’ nie pictures nie. Huise.”

“Ek het jou nogal nie gevat vir ’n manual labourer nie. Maar dis ’n goeie, eerlike werk,” sê sy, “vir ’n jong lat soos jy.”

“Nou wa’ gaan die auntie heen?”

“Ook Stellenbosch toe. Ook na my suster toe. Sy sukkel so met die gout lat sy moet gaan lê …” En Tyrone Kleinbooi, donker soos diepgeroosterde koffiepitte, en met sy even features, knik hoflik en luister aandagtig, want dit is vir hom baie lekker. Hy is net vaagweg daarvan bewus dat die reën gewyk het. En dis goed. Reën is sleg vir sy industry. Dit was tot dusver ’n baie skraal maand gewees.

* * *

La Petite Margaux se moderne nuwe opstal is hoër op teen die berg, minimalistiese, opeengestapelde glasvierkante in byna onsigbare rame van staal en beton.

Die Duitse eienaar ontvang vir Griessel en Cupido by die deur, sigbaar ontsteld. Hy stel homself voor as Marcus Frank, ’n groot bleskop man met ’n gewigopteller se skouers en nek. “It is a great tragedy,” sê hy, met net ’n skeut van ’n Teutoonse aksent, en lei hulle na die sitkamer. Die plafon is twee verdiepings hoog. Na weerskante is ’n wye, indrukwekkende uitsig oor berg en vallei.

Twee vroue staan op toe hulle inkom, die een jonk en aantreklik, die ander ouer – eienaardig, eksentriek.

“Captain Cupido, captain Griessel, this is Christel de Haan, our hospitality manager,” sê Frank, en vat simpatiek aan die jonger een se arm. Haar oë is rooi agter die byderwetse donkerraambril. Sy klem ’n snesie in haar linkerhand vas en knik net, asof sy nie haar stem vertrou nie.

“And this is ms Jeanette Louw,” sê hy met ’n infleksie wat net té neutraal is, sodat Griessel skerper fokus en die lyftaal sien. Daar is ’n atmosfeer hier wat nie heeltemal pas nie.

Louw staan nader en steek haar hand uit. Sy is dalk vyftig, met groot blonde hare uit ’n bottel, bonkig, die kakebeen sterk. Geen grimering nie, en sy dra ’n man se swart ontwerperspak, met ’n wit hemp en ’n rooi-en-swart strepiesdas daarby. “Hallo,” sê sy ernstig in ’n diep rokerstem, haar greep sterk toe sy die speurders groet.

“Christel and I will leave you now, at ms Louw’s request,” sê Frank. “We will be in my office, when you need us.”

“No,” sê Cupido, “we need to talk to you now.”

“Ek wil net eers alleen met julle praat,” sê die blonde vrou met ’n sekere gesag.

“Please. My office is just here.” Frank beduie in die gang af.

“No. We don’t have time for this,” sê Cupido.

“Dit was my mense in die gastehuis,” sê Louw.

“Hoe bedoel jy ‘jou mense’?”

“Vaughn, kom ons hoor wat sy sê.” Griessel het nie die energie vir ’n konfrontasie ook nie. En hy het die toon tussen dié mense gesnap. By die verlies is daar wrywing. En spanning. De Haan begin huil.

Cupido knik teësinnig. Marcus Frank stuur sy gasvryheidsbestuurder besorgd die gang af.

“Sit, asseblief,” sê Jeanette Louw, en gaan neem self stelling in op een van die hoekige banke.

Griessel gaan sit, maar Cupido bly staan, vou sy arms voor sy bors. “Wat gaan hier aan?” vra hy, duidelik nie gelukkig met die toedrag van sake nie.

“Ek is besturende direkteur van Body Armour, ’n persoonlike-sekuriteitsmaatskappy in die Kaap. Ons het die gastehuis bespreek, en ons kontrak met La Petite Margaux sluit ’n NDA in. Hulle het geen …”

“’n Wát?” vra Cupido.

“’n Non-disclosure agreement,” sê sy asof sy haar redelikheid met moeite behou.

“Vir wat?” vra Cupido.

“As jy my kans gee, sal ek alles verduidelik …”

“Ons werk teen die horlosie, mevrou.”

“Ek besef dit, maar …”

“Ons is die Valke. Ons het nie tyd vir ginnegaap en monkey business nie.”

“Ginnegaap?” Griessel sien hoe haar beheer begin verdwyn en haar gesig vertrek, ’n versnit van kwaad én rou. Sy sit vooroor, steek met ’n verwytende vinger na Cupido. “Jy dink ek wil ginnegaap terwyl van my mense in daardie gastehuis lê? Los jou houding, en sit, sodat ek vir jou die inligting kan gee wat jy nodig het. Of ek loop, dan kan julle my kom soek as julle lus het.”

“Ek vat nie orders van ’n …”

“Asseblief,” sê Griessel skerp.

Louw sak stadig terug in die bank. Dit duur ’n rukkie voor Cupido teësinnig “O.K.” sê, maar hy bly staan met sy gevoude arms.

Dit neem Louw ’n oomblik om haar emosies in bedwang te kry, dan wend sy haar tot Griessel: “Kan ek eers vra: Hoeveel liggame is daar in die huis?”

“Twee,” sê Griessel.

“Net twee?”

“Ja.”

Sy knik asof sy dit verwag het. “Kan jy hulle asseblief beskryf?”

“Middel tot laat dertigs, kort hare, skraal, skoongeskeer, al twee het blykbaar Glocks gedra …”

Louw hou haar hand in die lug, sy het genoeg gehoor. Haar oë gaan toe, dan weer oop. “Dis al twee my mense. B.J. Fikter en Barry Minnaar.”

“Ek is jammer,” sê Griessel. En dan: “Jy bedoel hulle het vir jou gewerk?”

“Ja.”

“Watse werk presies?” vra Cupido.

“Hulle was lyfwagte.”

“Wie was die derde persoon in die huis?” vra Griessel.

“My kliënt. Paul Anthony Morris.”

“Wie’s hy dat hy bodyguards nodig het?” vra Cupido.

“Ek … Hy’s ’n Britse burger. Dis al …”

“Shit,” sê Cupido, want hy sien die implikasies.

Louw verstaan sy reaksie verkeerd. “Kaptein, dit is al inligting wat hy bereid was om te gee.”

“Mevrou,” sê Griessel, “in dié stadium vermoed ons dat hy … vermis word. En hy is ’n uitlander. Dit beteken …” Hy soek na die regte woord.

“Big trouble,” sê Cupido.

“Dis reg,” sê Griessel. “Ons het so gou moontlik al die inligting nodig wat ons kan kry.”

“Dis hoekom ek hier is,” sê Louw. “Ek sal alles gee wat ek het.”

“Ma’ nie voor die plaas se mense nie? Why?” vra Cupido.

“As gevolg van die geheimhoudingsklousule het La Petite Margaux geen kennis van wie in die gastehuis was nie. En ek het ’n diskresieverpligting teenoor my kliënt. Dit is waarom ek alleen met julle moet praat.”

Cupido rol sy skouers.

“Vertel ons wat jy weet,” sê Griessel.

Sy knik, en haal diep asem, asof sy haar kragte bymekaarmaak.

Kobra

Подняться наверх