Читать книгу Orion - Деон Мейер - Страница 11

7

Оглавление

Van Heerden is nie die man wat sy verwag het nie.

Kemp het gesê hy is ’n oudpolisieman. Hoe sal ek sê? So ’n bietjie …anders? Maar hy’s blerrie goed met ondersoeke. Jy moet net ferm wees met hom.

Die Vader weet, sy het goed met ondersoeke nodig.

Sy het nie geweet wat om te verwag nie. Anders. Dalk ’n oorring en ’n poniestert. Nie die … spanning nie. Die manier waarop hy met Wilna van As gepraat het. “Spanning” is nie die regte woord nie. Hy is ’n moeilik hanteerbare man. Soos plofstof.

Hulle het op tweeduisend rand per week ooreengekom. Vooruit. Sy sal dit eers uit haar sak moet betaal as Van Heerden niks kry nie. Te veel geld. Al betaal Wilna van As dit later af. Geld wat die firma nie kan bekostig nie. Sy sal vir Kemp moet bel. Sy steek haar hand na die telefoon uit.

Van Heerden staan in haar deur.

“Ek sal weer met Van As moet praat,” sê hy, sy skraal lyf en sy blou-oog en sy fok-jou-houding. Met ’n bruin koevert in sy hand leun hy teen haar kosyn en sy besef sy het geskrik en hy het dit gesien. Haar weersin in die man is klein en ontkiemend soos ’n saad.

“Ons sal daaroor moet praat,” sê sy. “En jy moet dit dalk oorweeg om te klop voor jy inkom.”

“Hoekom moet ons daaroor praat?” Hy gaan sit weer in die stoel oorkant haar, dié keer vooroor, sy liggaamstaal antagonisties.

Sy haal diep asem, dwing geduld, fermheid in haar stem terug. “Wilna van As is bloot as mens geregtig op ons simpatie en respek. Daarby was sy die afgelope nege maande blootgestel aan meer trauma as wat die meeste van ons in ’n leeftyd ervaar. Ongeag die min tyd tot ons beskikking, het ek vanoggend jou houding teenoor haar ontstellend en onvanpas gevind.”

Hy sit in die stoel, sy oë op die bruin koevert wat ritmies teen sy duimnael tik.

“Ek sien julle is net twee vrouens.”

“Wat?”

“Die firma. Vroueprokureurs.” Hy kyk op, beduie vaagweg na die kantore om hulle.

“Ja.” Sy kan nie die strekking, die verband verstaan nie.

“Hoekom?” vra hy.

“Ek kan nie sien wat dit met jou onsensitiwiteit te doene het nie.”

“Ek kom daarby, Hoop. Is dit doelbewus dat julle net vroue is?”

“Ja.”

“Hoekom?”

“Want die reg is ’n manswêreld. En daar buite is duisende vroue wat die reg het om met deernis en insig behandel te word wanneer hulle wil skei, of vervolg word. Of na testamente soek.”

“Jy is ’n idealis,” sê hy.

“Jy is nié.”

“En dit is die verskil tussen ons, Hoop. Jy dink Jong Dames Dinamiek en jou vrouepraktyk en ’n gereelde skenking aan die Straatkinderfonds en die Sending was jou hartjie wit soos sneeu. Jy dink jy en ander mense is inherent goed as jy saans in jou duur BMW klim op pad na die Health and Racquet Club. Jy is so fokken tevrede met jouself en met jou wêreld. Want almal is eintlik dierbaar. Maar laat ek vir jou sê ons is sleg. Ek, jy, die hele lot van ons.”

Hy het die koevert oopgemaak terwyl hy praat en haal twee poskaartgrootte foto’s uit. Hy skiet dit oor die lessenaar.

“Het jy dit al gesien? Wyle Johannes Jacobus Smit. Vasgebind in sy eie kombuisstoel. Vul dit jou met deernis en simpatie en begrip en insig? Of watter ander aangeplakte, politiek korrekte woord jy ook al wil opdis. Iemand het dít aan hom gedoen – hom vasgebind met draad en hom gebrand met ’n blaasvlam tot hy gewens het hulle wil hom skiet. Iemand. Mense. En jou onaantasbare engel Wilma van As is in die middel van hierdie ding. Tony O’Grady van Moord en Roof sê hy dink sy was deel daarvan, want ’n klomp klein dingetjies wil nie pas nie. En as dit by moord kom, is die statistieke aan sy kant. Dis gewoonlik die man of die vrou of die houvrou of die skelmpie. Miskien is hy reg, en miskien is hy verkeerd. Maar as hy reg is, waar is jou idealisme dan?”

Sy het opgekyk van die foto’s af. Bleek. “En jy gaan my borrel bars …”

“Het jy al ’n moordenaar ontmoet, Hoop?”

“Jy het jou punt gemaak.”

“Of ’n kinderverkragter. Ek en …” Hy stamel, ’n enkele hartklop, maar hy praat daaroor, daardeur, ietwat verstom oor homself. “Ek het ’n kinderverkragter gevang. ’n Sagte, ronde oubaas van nege-en-vyftig wat lyk of hy enige Desember vir Vader Krismis kan instaan. Wat sewentien dogtertjies tussen die ouderdomme van vier en nege met Wilson’s toffies na sy kar gelok het en teen Constantia se berg …”

“Jy het jou punt gemaak,” sê sy sag.

Hy sak terug in sy stoel.

“Laat ek dan my fokken werk doen.”

Die noordwester waai die donker buite teen die venster aan. En binne praat Wilna van As, soek sy na Jan Smit met haar woorde, haar hande op haar skoot inmekaar gevleg, nooit heeltemal stil nie. “Ek weet nie. Ek weet nie of ek hom geken het nie. Ek weet nie of dit móóntlik was om hom te ken nie. Maar dit het nie vir my saak gemaak nie. Ek het hom liefgehad, want hy was … Dit is asof hy ’n wond gehad het, asof hy soos ’n … ’n … Ek het soms in die nag langs hom gelê en gedink hy is soos ’n hond wat geslaan was – te veel, te hard. Ek het baie dinge gedink. Ek het gedink miskien is daar ’n vrou en ’n kind iewers. Want toe ek swanger was, het hy so bang gelyk. Ek het gedink hy het ’n vrou en ’n kind gehad wat weggeloop het. Of miskien was hy ’n weeskind. Miskien is dit iets anders, maar iewers het iemand hom so vreeslik seergemaak dat hy nooit vir iemand anders daarvan kon vertel nie. Dit het ek geweet en daarom het ek nooit gevra nie. Ek weet niks van hom nie. Ek weet nie waar hy grootgeword het nie en ek weet nie wat van sy pa en sy ma geword het nie en ek weet nie hoe hy met die besigheid begin het nie. Maar ek weet hy was op sý manier lief vir my. Hy was sag en hy was goed vir my en soms het ons saam gelag – nie baie nie, nou en dan – vir mense. Ek weet hy kon pretensieuse mense nie verdra nie. En dié wat hul geld rondgegooi het. Ek dink hy het dalk swaargekry. Hy het so mooi, so versigtig met sy geld gewerk. Ek dink hy was bang vir mense. Of miskien skaam … Daar was nie vriende nie. Daar was net ek en hy. Dit is al wat ons nodig gehad het.”

Net die wind en die reën teen die ruit. Sy kyk op van haar hande, na Hoop. “Daar was so baie kere dat ek wou vra. Dat ek vir hom wou sê hy kan maar vir my vertel, ek sal steeds vir hom lief wees, maak nie saak hoe groot die seer is nie. Daar was tye dat ek net wou vra omdat ek so verskriklik nuuskierig was, omdat ek hom wou ken. Ek dink dit is omdat ek hom wou plaas, omdat ons maar met almal só maak, hulle op ’n plek in ons koppe plaas sodat ons volgende keer kan weet wat om vir hulle te sê of wat om vir hulle te gee, dit maak die lewe so bietjie makliker. Maar ek het nie gevra nie. Want ek dink as ek gevra het, sou ek hom dalk verloor het.”

Sy kyk na Van Heerden. “Ek het niks gehad nie. Ek het soms gedink miskien het sy pa ook gedrink en sy ma ook geskel en miskien het hy ook van Rugby af gekom. Soos ek. Maar ons het mekaar gehad en verder was niks nodig nie. Daarom het ek nie gevra nie. Nie eens toe ek swanger geraak het en hy gesê het ons sal moet plan maak nie, want kinders verdien nie die sleg van hierdie lewe nie en ons kan hulle nie beskerm nie. Ek het nie gevra nie, want ek het toe geweet hy was geslaan. Soos ’n hond. Te veel. Ek het net gegaan dat hulle die kind kan uitsny. En toe het ek gegaan sodat hulle my kan regmaak dat ek nie weer ’n kind kan kry nie. Want ek het geweet ons het net vir mekaar nodig.”

En dan vee sy ’n druppel van die punt van haar neus af en kyk weer vir haar hande en hy weet nie wat om te sê nie. Hy weet hy kan nie sy ander vrae vra nie.

Die huis is ’n grafkelder.

“Ek dink ons moet ry,” sê die prokureur eindelik en staan geluidloos op. Sy stap na Wilna van As en sit haar hand op die vrou se skouer.

Van Heerden en die prokureur hardloop saam deur die reën oor die straat. As sy die sleutels in die BMW se deur druk, staan hy langs haar.

“As ons nie die testament kry nie, kry sy niks?”

“Niks,” sê sy.

Hy knik net. En dan stap hy stadig na die Toyota terwyl die water op hom neersif.

Hoop steek dertien van die kerse in haar badkamer aan, maar sy tel hulle nie. Die kerse is veelkleurig, groen en blou en wit en geel – een is welriekend, almal is kort en dik. Sy hou van kerslig en dit maak die klein, witgeteëlde badkamer van die meenthuis in Milnerton Rif meer draaglik.

Haar tydelike huis, met sy twee slaapkamers en sy oopplankombuis en wit melamienkaste. Haar tydelike belegging – tot die firma goeie geld begin maak. Tot sy iets kan koop wat op die see uitkyk, ’n wit huis met ’n groen dak en ’n houtdek en ’n uitsig oor die Atlantiese Oseaan en sy sonsondergange, ’n huis met ’n groot kuierkombuis en eikehoutkaste en ’n boekrak wat die hele voorkamermuur bedek.

Sy gooi die badolie in en roer die water met haar hande terwyl sy buk oor die bad, haar klein borste wat saam met die spiere van haar skouers beweeg.

Haar seehuis sal ’n groot bad hê.

Sy draai die krane toe en klim stadig in die warm water, luister vir ’n oomblik of sy die reën buite kan hoor, sodat die stoom en die warmte en die gemak van bad daardeur benadruk kan word. Sy droog haar hande aan die wit handdoek af, strek, tel die boek op wat op die toe toiletdeksel lê. London. Edward Rutherfurd. Dik en wonderlik. Sy maak dit oop by haar Biblioteekweek-boekmerk.

Jong Dames Dinamiek. Hy kan nie veel van ’n speurder wees as hy haar so maklik en verkeerd kategoriseer nie.

Buitendien, sy is nie ’n gimnasiummens nie – sy is ’n drawwer.

As ons nie die testament kry nie, kry sy niks? Asof hy nie die eerste keer, in haar kantoor, gehoor het nie. Asof Wilna van As eindelik vanaand tot hom deurgedring het.

Ons is almal sleg …

Eienaardige man.

Sy fokus op die boek.

Terwyl die uie, peperkorrels en naeltjies in die water kook, bel hy.

“Ek maak kos,” sê hy as sy antwoord.

“Hoe laat?” vra sy en hy wil nie die verbasing in haar stem hoor nie. Hy kyk na sy horlosie.

“Tienuur.”

“Goed,” sê sy.

Hy sit die telefoon neer. Sy sal bly wees, weet hy. Sy sal aannames maak, maar sy sal niks vra nie.

Hy stap terug na die kombuis – die enigste vertrek in die huisie waar daar nie verval en gebrek is nie. Hy sien die water is weggekook. Hy gooi stukkies pypkaneel in sy palm en voeg dit by die bestanddele van die silwer pot. Hy voeg die olyfolie by, meet met die oog, draai die gasplaat se vlam af. Die uie moet stadig verbruin. Hy trek die snyblok nader en kerf die lamskenkel in stukke, verplaas dit eindelik na die pot. Hy sny die gemmerwortel fyn, voeg dit by, dan die twee kardemompeule, en roer. Hy draai die vlam nog verder af, kyk na sy horlosie, sit die deksel op.

Hy dek die tafel met die wit tafeldoek, die messegoed, glase, sout, swartpeper, die kandelaar met die wit kerse – dit is oud, hy kan nie onthou wanneer laas hy dit aangesteek het nie.

Terug na die werkoppervlakte. Hy maak die twee blikke Italiaanse tamaties oop. Hy het dit nog altyd bo vars, gekookte tamaties verkies. As jy die regte Italiaanse blikke kan kry. Hy kap die tamaties fyn, kry die klein groen brandrissie uit die yskas, spoel dit onder die kraan af, sny dit saam met die tamaties. Hy skil die aartappels, tap warm water in die wasbak, gooi skottelgoedseep daarin, was die mes, die snybord. Dan trek hy die bottel rooiwyn se prop uit.

Daar was iets in daardie kluis. Waarvan iemand geweet het.

Worteltjies en die eetlepel lemoensap, ’n titsel bruinsuiker. Rasper bietjie lemoenskil. Later bietjie botter.

Dit is al wat sin maak. Want niks anders is weg uit die huis nie, geen kaste is oopgeruk, geen beddens omgegooi, geen televisie weggedra nie.

Jan Smit. Die alleenloper met die houvrou. Die man sonder geskiedenis, sonder vriende.

Wilna van As. Sy was oortuigend vanaand. Maar hy sal sy oë oophou.

Jan Smit.

Hy kyk na sy horlosie. Die vleis is al ’n halfuur in. Hy haal die deksel af, skraap die tamatie-en-rissie-pulp in die vleiskastrol, plaas die deksel terug. Hy sit die ketel aan, gooi die basmatirys in ’n ander kastrol, wag tot die water kook, voeg dit by die rys, steek die vlam aan, sit die rys op, kyk weer na sy horlosie.

Hy gaan maak seker die voordeur is oopgesluit, steek die kerse aan. Sy sal netnou hier wees.

Jan Smit.

Waar de fok begin jy?

Lemoensap het weggekook. Eetlepel regte botter by.

Hy stap kamer toe, haal die notaboek uit sy baadjiesak, gaan sit op die verslete leunstoel in die té klein sitkamer, kyk na die aantekeninge wat hy gemaak het terwyl hy vanmiddag die dossier by O’Grady gelees het.

Niks. Fokkol.

Hy staar na die identiteitsnommer. 561123 5127 001. Op 23 November 1956 het Jan Smit se lewe begin. Waar?

Die deur gaan oop. Sy kom in saam met ’n windvlaag en ’n druppende sambreel. Sy sien hom sit, glimlag vir hom, vou dan die sambreel toe en laat dit teen die muur by die deur aanleun. Sy het ’n doek om haar hare. Sy trek haar reënjas uit. Hy staan op en neem dit by haar, gooi dit oor ’n stoel se leuning.

“Dit ruik lekker,” sê sy. “Die stoel gaan nat wees.” Sy skuif die jas na die klein houtkoffietafel.

Hy knik.

“Tamatiebredie,” sê hy en stap kombuis toe, gaan haal die rooiwyn, gooi daarvan in elke glas, gee vir haar. Sy trek ’n stoel by die tafel uit, gaan sit.

“Jy het weer werk,” sê sy.

Hy knik.

Sy teug aan die wyn, sit die glas neer, knoop die doek agter haar kop los en trek dit af, skud haar hare reg.

Hy stap kombuis toe, maak die brediepot oop, sit die aartappels by, draai die swartpeper daaroor uit, ’n teelepel suiker, bietjie sout, proe, gooi nog suiker by, net ’n skeut, proe weer, sit die deksel op, haal die rys van die vlam af. Draai die vlam onder die wortels dood. Hy stap terug na die tafel, gaan sit oorkant haar.

“Dit is ’n onmoontlike ding,” sê hy. “Ek soek ’n testament.”

“Sam Spade,” sê sy en haar oë lag.

Hy snork sonder venyn.

“Ek is so bly,” sê sy. “Dit is so lank …”

“Moenie,” sê hy sag.

Sy kyk na hom met oorweldigende deernis. “Vertel my,” sê sy en leun terug in die stoel. “Van die testament.” Die kerse se lig glinster dieprooi in die wynglas wanner sy dit optel.

“Dit was wonderlik,” sê sy en plaas haar mes en vurk netjies langs mekaar op die bord.

Hy knik net. Die vleis was nie sag genoeg na sy smaak nie. Hy is uit oefening.

“Het jy weer baklei?” Dit is die eerste keer dat sy melding maak van sy oog.

“Ja.”

“Ai,” sê sy. “Waarom?”

Hy haal sy skouers op, deel die laaste rooiwyn tussen die glase.

“Hoe groot is die voorskot wat sy jou gegee het?”

“Tweeduisend.”

“Jy moet vir jou klere koop.”

Hy knik en sluk aan die wyn.

“Nuwe skoene ook.”

Hy sien die sagtheid van haar oë, die sorg, die kommer. “Ja,” sê hy.

“En jy moet uitkom.”

“Waarheen?”

“Saam met iemand. Neem iemand uit. Daar is so baie oulike jong …”

“Nee,” sê hy.

“Wat is haar naam?”

“Wie?”

“Die prokureur?”

“Hoop Beneke.”

“Is sy mooi?”

“Wat maak dít saak?”

“Ek het maar net gewonder.” Sy sit haar leë glas neer en staan stadig

op. “Ek sal moet gaan slaap.”

Hy stoot sy stoel terug, strek vir haar reënjas, hou dit sodat sy haar

arms in die moue kan steek, tel haar sambreel op.

“Dankie, Zet.”

“Plesier.”

“Nag.”

Hy hou die deur vir haar oop.

“Nag, Ma.”

Orion

Подняться наверх