Читать книгу Orion - Деон Мейер - Страница 14

9

Оглавление

Lank voor die wekker om vyfuur afgaan, is hy wakker. Hy lê net in die donker, staar na die dak en wag vir die instrument om sy elektroniese geluide te maak, swaai dan sy voete van die bed af, druk die wekker dood. Hy doen bestekopname van die pyne in sy lyf – die ribbes is minder seer, die oog klop steeds. Dit sal vanoggend ’n pers skakering begin aanneem, weet hy teen hierdie tyd. Dit is nie die eerste keer nie.

Hy stap kombuis toe. Die skottelgoed is netjies in die afdroograk gepak. Hy sit die ketel aan. Die koue dring deur die verslete ou polisiesweetpak. Hy gooi die kitskoffie in die beker, wag vir die water om te kook, dan die melk, stap na die eet-sitvertrek, sit die koffie op die tafeltjie neer. Soek die regte CD. Klarinetkonsert. Druk die knoppie van die draagbare speler, sit die oorfone op, gaan sit op die stoel, teug aan die koffie. Hy stel die volume sagter.

Hy weet al sedert gister hy sal aan Nagel moet dink. Sedert daardie oomblik in die prokureur se kantoor … Ek en Nagel het ’n kinderverkragter gevang, wou hy sê.

Dit is omdat hierdie ding so baie is soos sy werk was. Die eerste keer sedert … sedert hy weg is. Die eerste keer dat hy weer ’n moordenaar soek. Daarom sal hy aan Nagel dink. Dit is normaal. Hy moet net versigtig wees. Hy kan aan Nagel dink, aan alles wat Nagel hom geleer het. Hy moet dit net daarby hou. Dan sal hy veilig wees. Die grense nou bepaal. Dan kan hy aangaan.

Jan Smit.

Speel al die angles. Nagel, in sy adamsappel-hoppende diep bas. Ênghils. Nagel wat nie Engels kon praat om sy lewe te red nie. Moordsaak is soos my fokken Portapool, Van Heerden. Al lyk alles blou en verfrissend, al skyn die sonnetjie blink op die water, iewers is daar ’n fokken lek. Ons gaan dit net kry as ons oral kyk.

Hy skryf in die notaboek.

1. Bure

Hy sit terug en dink weer. Skryf.

2. Manie Meiring Vervoer

3. Watter soort onderneming?

4. Registrateur van maatskappye (verwysings) (??)

5. Binnelandse Sake (??)

Hy leun terug, sluk aan die koffie. Is daar ander angles?

6. Gereelde/groot kliënte?

7. Bank?

Dit is al wat hy het. Hy kou aan die pen se agterkant, teug weer aan die koffie, sit die pen neer, leun terug, maak sy oë toe.

Dit was nie so erg nie. Hy kon Nagel uitsluit.

Hy luister na die musiek.

Hy sien die groot vragmotors van die pad af, net voor die Polkadraaikruising. MMV in groot, oordadige donkerpers letters, met ’n pyl daardeur om spoed aan te dui. Hy draai af en ry deur die poele reënwater en modder na die geboutjie waarop staan Kantoor/Ontvangs. Die wolkbank hang donker en laag. Dit gaan netnou weer reën. Hy klim uit. Die wind is vandag nog kouer. Seker gesneeu op die berge.

Daar is ’n vrou agter ’n rekenaar, besig om oor die foon te praat.

“Die trok moes al daar gewees het, Dennis. Hulle is op tyd hier weg, maar jy weet hoe dit is by die tonnel. Of ’n blerrie spiedkop het hom weer …”

Sy glimlag vir Van Heerden. Sy is blond en oorgewig en op haar voortande is ’n strepie van die bloedrooi lipstiffie. Sy luister ’n oomblik, praat dan weer. “Okay, Dennis, bel my as hy teen twaalfuur nog nie daar is nie. Okay, bye.”

Sy wend haar na Van Heerden. “Het jy in ’n deur vasgeloop of het haar man vroeg by die huis gekom?”

“Is Manie hier?”

“As hy is, sal ek vreeslik bekommerd wees.” Sy maak haar oë groot en rol dit na die dak.

Hy wag.

“Manie was my skoonpa, skattebol. Al drie jaar in die graf, bless his soul. Jy soek my man – Danie. Of is dit iets waarmee ék kan help?” Die suggestie dun, soos ’n ou gewoonte.

“Ek ondersoek die moord op Jan Smit. Ek wil met iemand praat wat hom geken het.”

Sy kyk hom op en af. “Jy lyk te maer vir ’n polisieman.” Dan draai sy om en skree deur die oop deur na agter. “Danieeeee …” Dan weer na Van Heerden. “Het julle al iets gekry?”

“Nee, ek is nie …”

“Wat?” sê Danie Meiring as hy ingestap kom, ietwat ergerlik, sien dan vir Van Heerden.

“Polisie,” sê die vrou en wys met ’n rooinael-vinger na hom. “Dis oor Jan Smit.”

Die man is kort en fris, die dik nek wat by ’n skoon oorpak se kraag uitbeur. Hy steek sy hand uit. “Meiring.”

“Van Heerden. Ek sou graag ’n paar vrae wou vra.”

“Het daai vet Soutpiel aangejaag?” Die klein ogies sit naby aan mekaar, onder ’n aggressiewe frons.

Van Heerden kry nie die kloutjie by die oor nie.

“Die Engelse poot. O’Hagan, of iets. Kon hy niks uitrig nie?”

Die lig gaan op. “O’Grady?”

“Dis hy.”

“Ek is nie van die Polisie nie. Dit is ’n private ondersoek namens sy vriendin, juffrou Van As.”

“O.”

“Hoe goed het jy hom geken?”

“Vrotterig.”

“Watter soort kontak het julle gehad?”

“Eintlik niks. Hulle het die orders deurgefaks na Valerie toe en ek het elke Krismis ’n bottel whisky by sy winkel gaan aflewer. Nie eers tee gekry nie. Hy was nie eintlik ’n babbelbek nie.”

“Hoe lank het julle besigheid gedoen?”

“Ek weet nie. Valerie?”

Die vrou het die gesprek aandagtig gevolg. “O, al jare. Baie jare. Hy was lank ’n kliënt van Pa Manie.”

“Vyf jaar? Tien?”

“Ja, tien, maklik. Miskien meer.”

“Jy hou nie rekords nie?”

“Nie van só lank terug nie.”

“Was daar enigiets aan sy besigheid wat soms eienaardig was?”

“Die Soutpiel het ook gevra,” sê Danie Meiring. “Wou weet of Smit nie dalk dagga in sy ou kaste gesmokkel het nie. Of klippies. Maar hoe sal ons weet? Ons laai en laat waai – dis ons besigheid.”

“Enige gereelde kliënte of bestemmings?”

“Nee, dit was rond en bont met die gaan haal. En die aflewering ook, behalwe vir die groot antiekwinkels in Durban en die Transvaal.”

“Hoe het hy betaal?”

“Hoe bedoel jy?”

“Per tjek? Kontant?”

“Maandelikse rekening per tjek,” sê Valerie Meiring.

“Wat de fok het dit met die prys van eiers uit te waai?” vra haar man.

Hy hou sy stem kalm. “Daar was dalk Amerikaanse dollars in sy kluis.”

“Fok,” sê Meiring.

“Was sy betalings op datum? Gereeld?”

“Altyd,” sê Valerie. “As almal maar só betaal het.”

Van Heerden sug. “Dankie,” sê hy en stap deur toe.

Hy staan lank in die navrae-ry by Binnelandse Sake se kantoor in Bellville, tot dit sy beurt is en die bruin vrou moeg opkyk om sy versoek aan te hoor. Hy sê hy is van die prokureursfirma Beneke, Olivier en Vennote. Hy het dringend ’n volledige geboorteregister nodig van Johannes Jacobus Smit, identiteitsnommer …

“Jy moet R30 betaal by toonbank C en die vorm invul, meneer. Dit neem ses tot agt weke voor dit van Pretoria af kom.”

“Ek het nie ses weke nie. Die Meester van die Hooggeregshof sit oor ses dae oor Smit se testament.”

“Spesiale gevalle is op die tweede verdieping, meneer. Hulle moet vertoë rig as jy dit vinniger wil hê. Kamer 209.”

“Maar dit kan gedoen word?”

“As dit ’n spesiale geval is.”

“Dankie.”

Hy vul die vorm in, staan vir 45 minute in die tou by toonbank C, betaal die R30 en stap met die kwitansie en die vorm die trappe op na die tweede verdieping. Daar is ’n swart man agter die lessenaar van kamer 209. Sy lessenaar is vol leggers, in netjiese stapels.

“Kan ek help?” Hoopvol dat die antwoord “nee” sal wees. Hy vertel die storie.

“Mmm,” sê die man.

Van Heerden wag.

“Pretoria is baie besig,” sê die man.

“Dit is ’n noodgeval.”

“Daar is baie noodgevalle,” sê die man.

“Is daar iets wat ek kan doen? Iemand wat ek kan bel?”

“Nee. Net ek.”

“Hoe lank sal dit neem?”

“’n Week. Tien dae.”

“Ek het nie so lank nie.”

“Meneer, dit neem gewoonlik ses tot agt weke …”

“Ek het gehoor. Daar onder.”

Dan sug die man diep. “Dit sal help as julle ’n hofbevel kan kry. Of ’n geregtelike versoek.”

“Hoe lank neem dit dan?”

“’n Dag. Selfs minder. Pretoria neem hofbevele baie ernstig op.”

“O.”

Die man sug diep. “Gee my solank die besonderhede. Ek sal kyk wat ek kan doen.”

Hoop is nie op kantoor nie.

“Sy het ’n sake-ete,” sê die vrou by ontvangs.

“Waar?” vra hy.

“Ek dink nie sy wil gesteur wees nie, meneer.”

Hy kyk na die keurig versorgde middeljarige vrou. “Ek is Van Heerden.”

Geen reaksie nie.

“As sy terugkom, sê vir haar ek was hier. Sê vir haar ek het haar dringend gesoek in verband met die Smit-saak, waarvoor ons nog net ses dae oor het, maar jy wou nie sê waar sy is nie. Sê vir haar ek is met middagete en ek weet nie wanneer ek sal terug wees nie, maar as haar personeel nie die Smit-saak as belangrik beskou nie, dan aanvaar ek ook dit is nie belangrik nie.”

Die vrou trek stadig, afgemete ’n dagboek nader. “Sy is in die Long Street Café.”

Hy stap uit. Dit reën. Hy vloek sag. Daar gaan nie parkering wees in Langstraat nie. Hy sal die een of ander tyd ’n sambreel moet koop.

“Table for one?” vra die vrou as hy instap.

“Nee,” sê hy en soek met sy oë na Hoop. Praat niemand meer Afrikaans nie? Hy sien haar sit, agter teen die muur. Hy stap in, die water op sy skoene wat ’n spoor op die vloer laat. Sy sit saam met ’n ander vrou, albei vooroor geleun, koppe bymekaar, in druk gesprek. Hy gaan staan langs die tafel.

“Hoop.”

Sy kyk op, gesteurd, haar oë wat effens rek. “Van Heerden?”

“Ons moet ’n hofbevel kry.”

“Ek …” sê sy. “Jy …” Sy kyk na die vrou oorkant haar. Van Heerden kyk ook na haar. Sy is beeldskoon. “Dit is Kara-An Rousseau. Sy is ’n kliënt.”

“Hallo,” sê die vrou en steek ’n slanke hand na hom toe uit.

“Van Heerden,” sê hy en neem haar hand, maar wend hom tot Hoop.

“Jy sal moet kom. Ek het inligting van Binnelandse Sake nodig en dit neem ses tot agt weke …”

Sy kyk vir hom en hy sien die sekelmaan herrys, dof en stadig.

“Net ’n oomblik, Kara-An,” sê Hoop en staan op. Sy stap na die deur, uit, tot op die sypaadjie. Hy stap agterna, die humeur wat in hom opstyg soos ’n lighoofdigheid.

“Wie het vir jou gesê ek is hier?”

“Wat maak dit saak?”

“Weet jy wie Kara-An Rousseau is?”

“Ek gee nie om wie sy is nie. Ek het ses dae oor om jou kliënt se gat te red.”

“Sy is hoof van Nasionale Pers se Korporatiewe Maatskaplike Betrokkenheid. En ek gaan nie toelaat dat jy so met my praat nie.”

“Jy sien al hoe Nasionale Pers se rande instroom, Hoop. Onthou jy iemand met die naam Wilna van As?”

“Jy gaan nie insinueer dat ek die een belangriker as die ander ag nie. Wilna van As is nie my enigste kliënt nie.” Die sekelmaan is nou in volle glorie.

“Sy is mý enigste kliënt.”

“Nee, Van Heerden. Ék is jou enigste kliënt. En ek is nie nou ’n vreeslik gelukkige kliënt nie.”

Hy kan nie meer keer nie. “Jy is niks van my nie.” Hy draai om en stap in die reën van Langstraat in. Hy steek in die middel van die straat vas en draai om. “Kry iemand anders om rond te fok.”

Dan ’n nagedagte: “En watse fokken naam is Kara-An?”

Hy loop die twee blokke na sy motor toe, onbewus van die reën.

Hy smyt die nat klere in die hoek van die badkamer en stap kaal slaapkamer toe. Hy maak die klerekas oop en soek ergerlik na ’n denim, hemp en trui. Hy het dit nie nodig nie, dink hy weer. Hy vrek liewer van die honger. Hy gaan nie rondgefok word nie. Nie deur haar nie, nie deur Kemp nie, nie deur vyf vet tandartse nie. Hy het dit nie nodig nie.

Wie gee om as daar vir niks geld is nie?

Wie gee om vir enigiets? Niemand. Ook nie hý nie. Hy is vry. Vry. Los van dit wat ander mense bind – die gejaag na niks, die versameling van statussimbole, die leë, nuttelose, voorstedelike bestaan. Bowenal is hy vry van die verraad, klein en groot. Die gelieg en bedrieg, die rugstekery, die wantroue, die speletjies.

Fok haar.

Hy sal netnou na haar kantoor toe ry en die restant van die voorskot op haar fokken netjiese ontvangsdame se fokken netjiese lessenaar gaan neergooi en sê sy moet vir Hoop sê hy het dit nie nodig nie. Want hy is vry.

Hy ryg die seilskoene vas en staan op. Sy huis is donker, somber in die vroeë middag. Koud. Sy huis is koud in die winter. Eendag ’n verwarmer koop. Kaggel laat inbou. Stap deur die te klein sitkamer.

Hy maak die voordeur oop. Hy gaan ’n dop in Table View kry.

Fok haar.

Net soos hulle is. Die een dag is Wilna van As die belangrikste ding in die wêreld, want daar is net sewe dae oor en, o, ons moet die arme vrou help, want sy het haar afgesloof vir ’n man (asof sy nie ’n keuse gehad het nie) en die volgende dag is dit Karin Setzkorn-Barnard of wie de fok ook al, hoof van Nasionale Pers se Korporatiewe Kakpraat of wat de fok ook al, en Hoop Beneke sien net rande rol. Net soos hulle is. Almal van hulle. 24-uur-lojaliteit.

Hy maak die deur toe.

Maar nie hy nie. Hy is vry.

Binne lui die telefoon.

Fok dit.

Prokureurs. Bloedsuiers. Parasiete.

Die telefoon lui.

Hy steek vas.

Seker Hoop. Ek is jammer, Van Heerden, kom terug, Van Heerden, ek is ’n armsalige sot, Van Heerden.

Fok haar. Fok almal.

Die telefoon lui.

Hy sis deur sy tande en sit die sleutel terug in die deur, trek dit oop, stap telefoon toe.

“Ja.” Reg om haar aan te vat.

“Meneer Van Heerden?”

“Ja.” ’n Onbekend-bekende stem.

“Ngwema. Binnelandse Sake.”

“O.”

“Pretoria sê jou I.D.-nommer is verkeerd.”

“Pretoria?”

“Ek het mooi gepraat met hulle, gesê dit is ’n noodgeval. Maar jou I.D. is verkeerd. Behoort aan iemand anders. ’n Mevrou Dörthe Ziegler.”

Hy trek die notaboek nader, slaan dit oop, lees weer die nommer vir Ngwema.

“Dit is die een wat ek gestuur het. Dis verkeerd.”

“Fok.”

“Ekskuus.”

“Dis onmoontlik,” sê Van Heerden.

“Dit is wat die rekenaar sê.”

“O.” Hy dink. Hy het die nommer in O’Grady se lêer gekry. Hy sal die identiteitsdokument nou moet gaan soek.

“Nie sleg nie, nè?” sê Ngwema.

“Ekskuus?”

“Ek sê dit is nie sleg nie. Twee uur sewe-en-dertig minute na ons jou versoek gekry het. Nie sleg vir vir ’n klomp swartes op Afrika-tyd nie.”

En dan lag Ngwema met oorgawe.

Hoop hoor hoe Kemp oor die telefoon sug. “Wil jy hê ek moet met hom gaan praat?”

“Nee dankie. Ek is klaar met hom. Die man is nie reg in sy kop nie.”

“Nee wat, net ’n bietjie ... Was jy ferm met hom?”

“Ja, ek was ferm met hom. Hy het skynbaar ’n probleem met ’n vrou as gesagsfiguur.”

“Hy het ’n probleem met énigiemand as gesagsfiguur.”

“Is daar iemand anders?”

Kemp lag. “Daar is ’n hele eskader private speurders in die boek, Hoop. En hulle is almal vuurwarm as dit kom by skelm foto’s neem vir huisvroutjies wat manlief in die arms van sy sekretaresse wil vang. Maar van dié soort ding weet hulle heeltemal niks.”

“Daar moet iémand wees.”

“Van Heerden is wat jy nodig het.”

“Presies wat het hy al vir jou gedoen?”

“Dit en dat.”

“Dit en dat?”

“Hy is goed, Hoop. Mis nie veel nie. Jy het hom nodig.”

“Nee,” sê sy.

“Ek sal rondvra,” sê Kemp.

“Ek sal dit waardeer.”

Sy groet en sit die telefoon neer. Dit lui dadelik weer.

“Hier is ’n mevrou Joan van Heerden om jou te sien,” sê die ontvangsdame. “Sy het nie ’n afspraak nie.”

“Die kunstenaar?”

“Ek weet nie.”

“Vra haar om asseblief in te kom.”

Haar dag is soos ’n Dali-skildery, dink sy. Surrealistiese verrassings net waar jy kyk.

Die deur gaan oop. Die vrou kom in, klein en skraal en mooi, iewers in haar vyftiger- of sestigerjare – jare wat met grasie gedra word. Hoop herken haar en staan op.

“Dit is ’n baie groot voorreg, mevrou Van Heerden,” sê sy. “My naam is Hoop Beneke.”

“Aangename kennis.”

“Sit, asseblief. Kan ek u iets aanbied om te drink?”

“Nee dankie.”

“Ek is ’n baie groot bewondereraar van u werk. Ek kan natuurlik nog nie een bekostig nie, maar eendag …”

“Dit is ruimhartig van u om so te sê, juffrou Beneke.”

“Noem my Hoop, asseblief.”

“Ek is Joan.”

Die formaliteite is skielik verby.

“Waarmee kan ek help?”

“Ek is hier oor Zatopek. Maar jy moet asseblief nie vir hom sê ek was hier nie.”

Hoop knik, wagtend vir nog inligting sodat sy kan verstaan.

“Dit gaan nie maklik wees om saam met hom te werk nie. Maar ek het kom vra dat jy geduldig moet wees.”

“Ken ek hom?”

Joan van Heerden frons. “Hy het gisteraand gesê hy werk vir jou. Hy moet ’n testament soek.”

“Van Heerden?”

“Ja.”

“U ken hom?”

“Hy is my seun,” sê Joan van Heerden.

Hoop sak terug in haar stoel. “Van Heerden is jou seun.” Sy knik net.

“Genade,” sê Hoop. En dan sien sy die ooreenkoms in die oë – diep, donkerbruin, intens. “Zatopek.”

Joan glimlag. “Ek en my oorlede man het gedink dit is ’n wonderlike naam.”

“Ek het nooit besef … Sy ma …”

“Hy loop nie te koop daarmee nie. Ek dink dit is vir hom ’n saak van eer. Hy wil dit nie gebruik nie. Misbruik nie.”

“Ek het nooit besef nie.” Sy sukkel steeds om die twee mense aan mekaar te koppel, ma en seun, geëerde kunstenaar, waardige, mooi vrou en … wanaangepaste seun.

“Hy het swaar gehad, Hoop.”

“Ek … Hy … Ek dink nie hy werk meer vir my nie.”

“Ai.”

“Hy het vanmiddag … Hy is …” Sy soek eufemismes, haar empatie met die vrou voor haar groot. “Ek vind dit moeilik om met hom te kommunikeer.”

“Ek weet.”

“Hy het … bedank, dink ek.”

“Ek het nie geweet nie. Ek wou jou kom voorberei.”

Hoop maak ’n hulpelose gebaar met haar hande.

“Ek kom maak nie verskoning vir hom nie. Ek het gedink as ek probeer verduidelik …”

“Jy hoef nie.”

Sy leun vorentoe, haar stem sag. “Hy is my enigste. Ek moet doen wat ek kan. Hy moes sonder ’n pa grootword. Hy was ’n wonderlike kind. Ek het gedink ek het geslaag, selfs as enkelouer.”

“Joan, jy hoef nie …”

“Ek moet, Hoop.” Daar is vasberadenheid in haar stem. “Dit was my … ons keuse om hom in dié wêreld in te bring. Ek moet my verantwoordelikheid nakom. Ek moet die foute wat ek gemaak het, probeer regstel. Ek het hom grootgemaak en gedink ek kan pa en ma wees, as ek hard genoeg probeer. Ek was verkeerd. Ek wil jou vertel hoe hy was. ’n Mooi kind, hy het gelag en die wêreld was vir hom ’n wonderlike plek, ’n ontdekkingsreis. Hy het nie geweet van die ander kant van die lewe nie. Ek het hom nie vertel nie. Ek moes. Want toe hy dit ontdek, was ek nie daar om hom te help nie. En dit het alles verander.”

Daar is nie bejammering in haar stem nie, net kalm beredenering.

“Hy was sag hierbinne, nog altyd. By die Polisie het hulle hom gespot dat hy te sag was vir die werk, en hy het daarvan gehou, soos ons almal seker so bietjie anders wil wees. En toe … ek was so bly toe hy universiteit toe is, hy was so gelukkig, so vol geesdrif en ek was trots op hom en ek het geweet sy pa sou ook trots op hom gewees het. Maar die lewe is vol draaie en toe gaan hy terug Polisie toe en sy mentor word geskiet, reg voor sy oë, en hy glo dit was sy skuld en toe het hy verander, want ek het hom nie voorberei op dinge soos dood en menslike feilbaarheid nie. Dit is wat ek dink. As hy weer in homself kan glo, as hy net weer ’n kans kan kry …”

Hoop weet nie wat om te sê nie. Sy wil uitreik na die vrou. “Joan …”

“Daardie prokureur, Kemp. Hy lyk so kwaai, maar ek dink hy het ’n sagte hart – hy weet my kind is nie sleg nie. Daar was ander, maar hulle het hom nie veel van ’n kans gegee nie. En ek weet nie hoeveel kanse hy nog oor het nie. Hierdie ding met die testament … Zet sal dit kan doen. Hy het dit nodig. Hy het dit só nodig.”

“Ek …”

“Ek maak nie verskoning vir hom nie.”

“Ek weet.”

“Hy mag nie weet ek was hier nie.”

“Hy sal nie.”

Die telefoon lui. Hoop frons.

“Antwoord gerus,” sê Joan.

“Dit moet dringend wees. Hulle lui nie gewoonlik nie.” Sy tel die gehoorbuis op. “Ek is in konsultasie, Marietjie.”

“Meneer Van Heerden is weer hier, Hoop. Hy soek ’n identiteitsdokument.”

Sy maak haar oë vir ’n oomblik toe. Die dag kan nie erger raak nie. “Sê vir hom hy moet net daar wag. Jy laat hom onder geen omstandighede toe om deur te kom nie.”

“Goed, Hoop.”

“Ek is op pad.” Sy sit die instrument saggies neer.

“Hy het nou net by ontvangs aangekom.”

“Heigent hert,” sê Joan van Heerden.

“Moenie bekommerd wees nie, ek sal dit hanteer.” Sy stap deur toe, maak dit versigtig oop. Die gang is leeg. Sy maak die deur agter haar toe en loop na die ontvangsportaal. Hy staan daar, ongeduldig. Sy sien hy het droë klere aan, denim en seilskoene.

“Ek soek Smit se I.D.-boek.”

“Dit is by Wilna van As. Sal ek haar bel?”

“Ek sal soontoe ry. Ek wil die winkel sien.” Hy kyk nie na haar nie. Hy staar na die Piet Grobler-skildery teen die muur. Man with writer’s block eating an apricot jam sandwich.

“Mag ek vra waarom jy die identiteitsdokument wil hê?”

“Moord en Roof se lêer het die verkeerde I.D.-nommer. Ek moet die regte een kry vir die geboorteregister.”

“Sal dit ons help?”

Hy kyk bo-oor haar. “Ek wil weet waar hy gebore is. Wie sy ouers was. Sy lewe voor Van As.”

“Dit is ’n begin.”

“Ek ry nou.”

“Goed.” En dan, wanneer hy omgedraai het, voeg sy sag, impulsief by: “Zatopek.”

Hy steek net voor die glasdeure vas. “Fokken Kemp,” hoor sy en dan is hy uit en sy glimlag vir die eerste keer sedert middagete. Dié dag kan nie ...

Die ontvangsdame hou die telefoon na haar uit. “Dit is Kara-An Rousseau, Hoop.”

Sy neem die oproep by die toonbank. “Hallo.”

“Haai, Hoop. Moenie vir my lag nie. Ek soek daardie speurder van jou se telefoonnommer.”

“Van Heerden?”

“Ja, die een in die restaurant vandag.”

“Hy is … effens volgeboek op die oomblik.”

“Nee, nie vir werk nie.”

“O.”

Orion

Подняться наверх