Читать книгу Orion - Деон Мейер - Страница 6

2

Оглавление

My ma is ’n kunstenaar. My pa was ’n myner.

Sy het hom die eerste keer gesien op ’n koue winterdag op Olënpark se witgerypte rugbyveld – sy gestreepte Vaal Reefs-trui byna van sy lyf afgeskeur, hy wat stadig kantlyn toe stap vir ’n nuwe een, sy natgeswete lenigheid, die definisie van skouers en maag en ribbes wat dofweg blink in die flou laatmiddagson.

Sy het die storie noukeurig vertel, elke keer, die ylblou van die lug, die vaalwit van die stadion se gras, die kleinerige studenteskare wat luid hul span teen die myners ondersteun, die pers van hul serpe helder spatsels teen die dowwe grein van die houtbanke.

Ek het met elke aanhoor daarvan die beelde verder uitgebou, haar skraal gestalte uit ’n swart-wit foto van daardie tyd ingevoeg – sigaret in die hand, donker hare en oë, ’n sekere broeiende skoonheid – waar sy hom sien en die lyne van sy gesig en sy liggaam vir haar onweerstaanbaar reg is. Asof sy deur alles kon sien. “Tot in sy hart,” het sy gesê.

Sy het op daardie oomblik twee dinge met sekerheid geweet. Die een was dat sy hom sou skilder.

Ná die wedstryd het sy buite vir hom gewag, tussen die beamptes en tweedespanspelers, tot hy uitgekom het met das en baadjie en nat hare. Hy het haar in die skemerte gesien, haar intensiteit op hom gevoel. Hy het gebloos en na haar toe gestap asof hy geweet het sy wil hom hê.

Sy het die papiertjie in haar hand gereed gehou.

“Jy moet my bel,” het sy gesê toe hy voor haar staan. Sy maats was om hom en daarom het sy net die toegevoude voornaam en nommer vir hom gegee, omgedraai en geloop, terug na die huis in Thomstraat waar sy loseer het. Hy het laataand gebel.

“My naam is Emile.”

“Ek is ’n kunstenaar,” het sy gesê. “Ek wil jou skilder.”

“O.” Teleurstelling in sy stem. “Watse skildery wil jy maak?”

“Een van jou.”

“Hoekom?”

“Want jy is ’n mooi man.”

Hy het gelag, ongelowig en ongemaklik. (Hy het later vir haar gesê dit was vir hom nuus, omdat hy maar altyd gesukkel het om ’n meisie te kry. Sy het geantwoord dat dit was omdat hy dom is met vroue.)

“Ek weet nie,” het hy eindelik uitgekry.

“As betaling kan jy my uitneem vir ete.”

My pa het weer gelag. En net meer as ’n week later het hy op ’n koue winteroggend, ’n Sondag, met sy Morris Minor van die enkelkwartiere op Stilfontein Potchefstroom toe gery. Sy het met haar esel en skildertas ingeklim en vir hom beduie – op die Carletonvillepad uit, tot naby Boskopdam.

“Waarheen gaan ons?”

“Veld toe.”

“Veld toe?

Hy het geknik.

“Doen ’n mens dit nie in ’n … kunskamer nie?” “’n Ateiljee.”

“Ja.”

“Soms.”

“O?”

Hulle het op ’n plaaspad afgedraai en teen ’n randjie stilgehou. Hy het haar help dra, haar dopgehou terwyl sy die doek op die esel span, die tas oopmaak en die kwaste regpak.

“Jy kan maar uittrek.”

“Ek gaan nie alles uittrek nie.”

Sy het net stil na hom gekyk.

“Ek weet nie eens wat jou van is nie.”

“Joan Killian. Trek uit.”

Hy het sy hemp uitgetrek, daarna sy skoene.

“Dit is genoeg,” het hy geskerm.

Sy het geknik.

“Wat moet ek nou doen?”

“Staan op die klip.”

Hy het op die groterige rots geklim.

“Moenie so regop staan nie. Ontspan. Laat jou hande sak. Kyk daar, na die dam toe.”

En toe het sy begin skilder. Hy het vir haar vrae gevra, maar sy het nie geantwoord nie, net nou en dan gemaan dat hy stil moet staan, afwisselend na hom en die doek gekyk, verf gemeng en aangewend – tot hy moed opgegee het met die gesprek. Na ’n uur of wat het sy hom laat rus. Hy het weer sy vrae gevra, uitgevind sy is die enigste dogter van ’n aktrise en ’n dramadosent in Pretoria. Hy het hul name vaagweg onthou uit Afrikaanse flieks van die jare veertig.

Eindelik het sy ’n sigaret aangesteek en begin om haar kunsgoed op te pak.

Hy het begin aantrek. “Kan ek sien wat jy geteken het?”

“Geskilder het. Nee.”

“Waarom nie?”

“Jy kan dit sien wanneer dit klaar is.”

Hulle het teruggery Potch toe en warm sjokolade by ’n kafee op die Bult gedrink.

Hy het haar oor haar kuns uitgevra, sy vir hom oor sy werk. En iewers in die laatmiddag van die Wes-Transvaalse winter het hy lank en stil na haar gekyk en gesê: “Ek gaan met jou trou.” Sy het net geknik, want dit was die tweede ding wat sy met sekerheid geweet het toe sy hom daardie eerste keer gesien het.

Orion

Подняться наверх