Читать книгу Nuwe stories van Rivierplaas - Alba Bouwer - Страница 5

Die groot beesslag

Оглавление

ELKE JAAR gaan ou-Melitie en Aron met klein-Melitie en Sanna na Die Land toe. Dit beteken hulle gaan vir hul mense in Basoeto-land kuier. Dan werk Emily van ou Hoppies vir tant Lenie. Emily bring soggens Alie se koffie en Emily was saans Alie se voete, en dis nie lekker nie, want Emily dra nie ’n plat blikkie snuif in haar kopdoek nie en Emily se voorskoot ruik nie so lekker na strooisrook en boerseep nie en Emily het nooit tyd vir stories maak nie. As dit skooltyd is, is dit goed, maar as die vakansie kom, is dit vir Alie niks lekker sonder ou-Melitie nie. Dan is die vakansie net soos wanneer ’n mens by die soetkoekblik kom en jy maak dit oop en dit ruik pure na pitjie-soetkoek, maar daar is nie eens een koekie in nie. Net so is die vakansie as ou-Melitie nie daar is nie.

Dan kom die dae wanneer dit soggens skemerdonker is al is die groen blinding op, en wanneer Alie haar voete onder haar invou van pure koud kry, sodat die riempiesmat sulke blokkies op haar bene maak as sy soggens haar pap sit en eet. Dan sê oom Jan: “Vanjaar gaan die winter kwaai wees. Kyk hoe lê die misbank oor die rivier.”

En op ’n aand as Alie langs tant Lenie voor die stoof staan en luister hoe maak die vet in die pan so sjee-sjee-sjirts-sjirts soos die vleis bak, en die hele kombuis voel soos ’n warm kombers wat om jou vou maar nêrens aan jou raak nie, op so ’n aand kom daar ’n tok-tok-tok aan die agterdeur. “Kyk bietjie wie’s daar, Alie,” roep oom Jan.

“Stadig, Alie,” sê tant Lenie, “moenie dat die kers doodwaai nie.”

Alie draai die knop van die bodeur so keplarts oop en trek die deur mooi stadig by haar kop en die kers in haar hand verby – sê nou dis die tokkelos wat saam met die donker uit die rivier opgekruip het om haar vinnig te gryp. En sê nou –

“Lumela, nonwe Alie, hoekom jy stan so ver by die deur?” sê die donker anderkant die deur, en die dun ligstokkie van die kers val op die blink gespe van Aron se lyfband.

“Jôna whê, nonwe Alie, lumela. Hoekom jy’s bang?” sê ’n ander stukkie van die donker en ’n armband maak trienge-rienge-trienge.

“Ou-Melitie! Ou-Melitie! Mammie, dis ou-Melitie en Aron,” skree Alie, en sy spring een lang spring oor die kliptrappie dat die kersvlammetjie sê “foeps” en net ’n slag oor ou-Melitie se blink wit tande waai voordat die donker dit insluk.

“Jôna whê, nonwe Alie,” sê ou-Melitie, en Alie voel ou-Melitie se harige kombers teen haar arm. “Jy’t banja by my gadenk?”

Alie se keel voel so styf soos wanneer sy baie koud kry, maar sy dans net op en af op een beentjie en hou die harige kombers vas en sê: “Ou-Melitie! Ou Melitie!”

“My op dees aarde, Aron, is dit tog nie julle nie?” sê tant Lenie. “Alie, maar si’ jy die kers hier bring dat ek kan lig maak. Naand, ou-Melitie.”

“Naand, mevrou, naand, meneer Jaan,” sê Aron en hy druk sy ou bruin wolmussie onder sy arm.

“Goeiste, Aron, is dit julle? Naand, ou-Melitie,” sê oom Jan, en hy hou die olielampie van die spens met die haarnaald wat oor die glas hang om te keer dat dit bars, hoog op sodat die lig deur die deur en tot in die donker val.

“Naand, meneer Jaan, naand, mevrou,” sê ou-Melitie en sy wikkel haar arm uit onder die rooi kombers wat om haar skouers hang en vat aan haar kopdoek, net daar waar sy die klein plat blikkie snuif bêre.

“Meneer Jaan sy’s goed en die mevrou ok sy’s goed?” vra ou Aron.

“Ja, dankie, Aron,” sê oom Jan. “Dit gaan met almal nog goed. Het julle goed geloop?”

“Ons het goed galoop. Ja-a, meneer Jaan,” sê Aron en hy kyk af op die stoeptrappie. “Almal hier by Rivierplaas ok sy’t goed galoop?” en hy kyk weer op.

“Ja dankie, Aron,” sê oom Jan. “Is klein-Melitie en Sanna ook terug en gesond?”

“Klein-Melitie en Sanna, selle es ok goed. Ja-a, meneer Jaan,” sê Aron en hy kyk weer af op die stoeptrappie, totdat oom Jan met hom begin praat oor die mielies en die trapmasjien en die nuwe weikampie.

“Hedetjie, ou-Melitie,” sê tant Lenie, “jy kom of jy geroep is, ou mens. Ons wil môremiddag bees slag en vark slag, en ek het net gister gesê, ek weet nie wat maak ek sonder jou nie.”

Ou-Melitie staan nou vorentoe, sodat die geel lig van die spenslampie aan haar kop raak.

“Jô,” sê sy, “ons sal hom die bees slag, môre?”

“Ja, môre moet ons brandasem werk. Julle moet maar goed rus vannag. Wag, vat gou hier ’n stukkie brood en ’n bietjie vet, en ek dink hier is nog ’n stukkie rib vir julle,” sê tant Lenie. Ou-Melitie wikkel haar rooi kombers agtertoe en vee haar kaal voete aan die stoeptrappie af. Dan stap sy tot binne-in die warm kombuis se geel ligkol en maak al twee haar hande bak vorentoe vir die skotteltjie kos wat tant Lenie haar gee.

“Tanki,” sê sy, en sy sit die skotteltjie op haar kop en wikkel die rooi kombers met haar skouers vorentoe.

“Hoekom nonwe Alie sy prat neks?” sê ou-Melitie. “Sy het nie banja by my gadenk nie?”

“Ou-Melitie,” sê Alie, “juffrou Barnard dra nou ’n blou rek wat soos ’n valletjie lyk bo-om haar kous en dit het ’n pienk laprosie op. Lulu se groot suster sê dis ’n fensiegart. Ons het gesien toe juffrou Barnard buk om die inkbottel uit die kas uit te haal. En ek het gister die karsweep een slag net so hard soos Sammie geklap, regtig. Ek sal jou môre wys.”

“Jô,” sê ou-Melitie, “nonwe Alie sy’s grot nou. Jy’t ok gakry die kiewietnes by die bossietjies?”

“Kyk, Alie, ou-Melitie is moeg. Sy’t nie nou tyd vir redekawel nie. Bly jy nou maar môre by die stroois, Melitie, dan kom jy so teen die middag werf toe. Ons sal nie voor vieruur se kant slag nie. Nou ja, nag dan, ou-Melitie.”

“E, mevrou,” sê ou-Melitie. “Nag, mevrou, nag, meneer Jaan, nag, nonwe Alie.”

“Nag, meneer Jaan, nag, mevrou, nag, nonwe Alie, “ sê ou Aron.

“Nag, Aron,” sê tant Lenie.

“Nag, Aron, nag, Melitie,” sê oom Jan.

“Nag, Aron, nag, ou-Melitie,” roep Alie oor die onderdeur. “Jy moet vroeg kom, ou-Melitie.”

Dan sluk die donker Aron en ou-Melitie met die skotteltjie op die kop in en Alie maak die bodeur keplarts toe. Nou voel die warm kombuis vir Alie net soos die oggende wanneer sy in die kapkar wakker skrik en sy het gedink hulle ry nog op die lang pad tussen die baie koppies en plase deur dorp toe, en hier maak sy nou haar oë oop en hulle is al op die dorp.

Net so voel die warm kombuis nou vandat die spenslampie se lig weer aan ou-Melitie se kop geraak het.

Die dag van die beesslag en die varkslag is vir Alie amper so lekker soos ’n hele Nagmaalnaweek op die dorp. Die middag van die slagdag kook tant Lenie altyd ’n groot pot boontjiesop, so groot dat daar sommer vir die aand ook vir almal ’n skeppie is. Boontjiesop met ’n varksooltjie in en daarby patat-in-sy-rokkie, van die patats wat tant Magriet uit die Boland stuur. As hulle klaar geëet het en oom Jan het sy stoel so vinnig onder die tafel ingestoot, dan, dink Alie, dan begin die eintlike middag van die slag. “Hoppies!” skree oom Jan oor die onderdeur, “maak mooi leeg die waenhuis en kyk of die bees al in die kraal is. Draai die rieme mooi op oor die balke. Ek wil nie weer bloedspatsels op my rieme sien nie. Stoot die kar goed terug en sê Jantjies moet jou help om die planktafel van die solder af te bring.”

“Emily,” sê tant Lenie, “maak nou ’n mooi vuur onder die groot seeppot, hoor. Sorg dat hy mooi uit die trek uit staan net anderkant die slypsteen langs die waenhuis, nie weer soos verlede jaar toe die wind kort-kort die vuur doodgewaai het nie. Ons sal die vark sommer daar krap. Ai, ek hoop dis dié keer nie ’n maselvark nie. En jy weet vanaand moet jy die skaap se afval ook krap. Ou-Melitie kan die derms krap en die wors help stop. Sy sal seker nou kom.”

In die kamer hoor Alie iets sê “klieks-klieks” en sy voel ’n koue straaltjie langs haar nek afloop, maar die straaltjie jaag haar vorentoe tot in die kamerdeur, waar oom Jan sy geweer agter die wakis in die hoek uitgehaal het en dit staan en opvryf nadat hy dit gelaai en klieks-klieks oorgehaal het. Dan sit hy dit bo-op die hangkas neer en haal onder uit die wakis die lang, skerp varkslagmes; hy vryf dit op en sit dit ook op die kas neer, mooi hoog waar niemand kan bykom nie.

Dit is soos ’n storieboek met baie blaaie, hierdie middag van die beesslag, maar Alie is altyd bly as sy die eerste blad omgeblaai het, dis daardie klieks-klieks in die kamer as oom Jan die geweer laai en regsit. Nou kan sy waenhuis toe gaan, waar ou Hoppies en Jantjies die rieme oor die balke gooi en Sammie en Diek die kapkar agtertoe stoot. “Jôna-nana-joe-soe!” maak Diek en dan sê Sammie: “Jô-la,” en as hulle sê “la”, dan stoot hulle die kar agtertoe. “Jôna-nana-joe-soe” en “Jô-la” maak hulle en “kwirr” sê die karwiele. Dit het hulle gehoor by Aron as hy rieme brei en hy draai die bos styf vas en los dit dan.

Nou gaan Alie na die plek langs die slypsteen waar Emily onder die groot seeppot die vuur aan die brand steek. Die vuur in die swart stoof lyk vir Alie altyd soos ’n ou swartbekhond met baie rooi tonge wat wil buitekant toe lek en nie kan nie. Maar die vuur onder die swart seeppot is soos ’n swerm swaels met rooigeel vlerke wat wil opvlieg en nie kan nie. Wipper-wipper slaan die warm vlerke teen die seeppot se ronde maag en om sy skerp swart pootjies.

“Nonwe Alie, jy sal die hand brand by darrie pot,” sê Emily, en sy steek ’n bondeltjie fynhout dwarsdeur die rooigeel swaelvlerke. “Kyk by ou-Melitie, sy kom nou.”

Nou is daar nog een plek waar Alie kan gaan kyk en dis die kraal, waar die slagbees in die een hoek staan en die slagskaap vasgemaak in die ander hoek. Maar sy het nog net een keer daarnatoe gegaan, net een keer, en toe het die bees sy kop opgelig en haar reg in die oog gekyk net toe sy haar kop oor die kraalmuur stoot. Daardie kyk was net soos die groot oog wat boaan die prent van Ouma se Breë en Smalle Weg is en wat al agter jou aan kyk, net waar jy staan. Nee, sy sal nooit weer kraal toe gaan op die slagdag nie.

Net toe oom Jan met die geweer by die agterdeur uitkom, kom ou-Melitie oor die werf aangestap. Alie spring soos ’n springhaas oor die wit gras na haar toe.


“Jôna whê, nonwe Alie,” sê ou-Melitie. “Nou ons sal stan by die anner kant, jy sal hom nie weet darrie skiet nie. Kyk wat het ek vor jou gabreng by Die Land.”

“Wat, ou-Melitie? ’n Kiewieteier?”

“Aikôna. Darrie eier ons sal hom soek by Rivierplaas se bossietjies.”

Ou-Melitie wikkel haar hand onder die rooi kombers uit en – daar blink dit in die son: twee klein armbandjies van koperdraad met drie swart kraletjies in elkeen ingevleg.

“Haai, ou-Melitie! Is dit myne? Regtig?”

“Nou jy kan hom ok mak so trieng-trieng,” sê ou-Melitie, en sy knyp haar oë toe soos een wat amper lag of amper nies en stoot die twee blink armbandjies oor Alie se ronde vuisie.

Trienge-rienge, trienge-rienge maak hulle op Alie se arm en – tjak! spoeg oom Jan se geweer skielik by die kraal. Alie druk haar kop onder ou-Melitie se rooi kombers in.

“Jô!” sê ou-Melitie en sy vou die kombers styf oor Alie se rug, net daar waar die koue straaltjie afkriewel. “Meneer Jaan sy skiet gou! Nou ons moet pakisa, nonwe Alie, die mevrou sy sal wag.”

Met haar hande oor haar ore en styf teen ou-Melitie se kombers stap Alie aan huis toe. Miskien kom daar nog ’n skoot en miskien hoor sy nog die vark se skree. Tant Lenie kom by die kombuisdeur uit met die krompuntmes in haar hand en haar bont voorskoot aan.

“Nou moet julle bak staan, ou-Melitie,” sê sy. “Alie, kyk dat Hennie nie wegraak deur al die werkery nie. Hy’s agter die waenhuis by Diek en Sammie.”

Ou-Melitie vou haar kombers op en sit dit agter die rondaweldeur, dan gaan sy en Alie waenhuis toe. By die seeppot is Emily en ou Hoppies al besig om die vark te krap, en in die waenhuis lyk dit vir Alie net soos in die tabernakel waar die priesters geoffer het, so koel en skemerig met die ou bees wat so wydsbeen van die balk af hang en almal wat so werskaf met die messe. Agter die waenhuis slag Aron die skaap af. Elke week slag Aron ’n skaap, maar as dit die groot bees- en varkslag is, is die skaapslag ook anders, want dan krap Emily ook die afval, maar sonder die kop. Die kop kry Diek en Sammie en klein-Melitie en Sanna om op die kole te braai. En dis die lekkerste van die hele slag.

Agter die waenhuis sit Hennie by Diek en Sammie langs ’n konka met kole. Hy het ’n stukkie gladde draad met ’n stukkie beesvleis aan wat hy deur een van die konka se gate teen ’n rooi kool sit en brand. Sammie het langs die konka ’n holte in die grond gemaak, en Diek tel met ’n ou hoepel ’n klompie kole uit die konka uit daarin. Dis vir die skaapkop. By Aron staan klein-Melitie en Sanna in hul rooi kombersies en wag met ’n dopemmertjie vol kookwater wat hulle by Emily gekry het. Ou Aron spoel die kop mooi skoon af en krap dit bietjie skoon, dan vat Sanna aan die nekkant en klein-Melitie aan die twee ore en hulle dra dit na die konka toe.

“Sô-sô!” sê Sammie en hy krap die kole in die duikie eers mooi gelyk vir hulle om die kop op te sit. “Soeka, Pi-e-ti!” verwilder hy Piet, die ou grys kat, wat met lang-lang treë aangesnuffel kom.

By die groot tafel in die waenhuis staan oom Jan en biltong sny, en tant Lenie sny die vleis wat in die pekelvaatjie gepak word om vir oom Koos en tant Magriet Boland toe te stuur. By die klein tafeltjie krap ou-Melitie die derms vir die wors, sulke vinnige lang krappe en sy skeur nooit een nie, en by die ander tafel staan Jantjies by die vleismasjientjie en maal vir die wors wat hulle nog moet stop.

Trienge-rienge skud Alie haar twee armbandjies langs ou-Melitie se arm.

“Selle mak ok moi,” sê ou-Melitie tussen die krappe deur. “Nonwe Alie, jy sal vor my die wet skotteltjie breng?”

Alie gaan haal die wit skotteltjie in die kombuis, maar sy loop gou weer terug en sit dit saggies by ou-Melitie neer sodat tant Lenie haar nie moet sien en ook stuur nie.

“Alie, my ou stuurdingetjie,” sê tant Lenie, “terwyl jy op die been is, bring vir ons gou die lanterns uit die buitekamer, dit word nou te donker.”

Alie gaan haal gou die lanterns uit die buitekamer, wat vir haar altyd na baard ruik, want al die rondlopers wat altyd daar slaap, het sulke ou koekiesbaarde soos ’n brandsiek skaap.

Jantjies steek die lanterns op en hang hulle aan die balke. Nou lyk die waenhuis net soos ’n grot in ’n storie, en Alie gaan op ’n hopie op ’n wolsak sit om mooi te kyk na die grot.

“Wag, laat ons nou eers die kar’naadjies regsit,” sê tant Lenie. “Ek dink ons begin by Hester-Dirk. Ons moet haar ’n goeie stukkie vark by haar beesvleis gee. Sy is alteveel ’n mens wat self graag uitdeel en altyd groot kar’naadjies stuur.”

“Ja,” sê oom Jan, “en hierdie stukkie is net groot genoeg vir tant Annie en oom Piet. Ons moet hulle ook weer ’n slag onthou.”

“Al stuur hulle nooit as te nimmer kar’naadjies nie,” sê tant Lenie. “Nee, man, wag, daardie is darem so ’n ou lieslappie-vleis. Netnou skinder ou tant Annie ons nog warm oor ons weldaad. Gee haar hierdie stukkie.”

“Stukkie wors kan ons bysit by Meraai-Piet s’n as ou-Melitie eers gestop het. Sit maar eenkant. Wat het jy daar – skaaprib? Nee wag, vrou, jy kan nooit onthou dat jy nie skaapvleis by kar’naadjies moet sit nie. Skaap is mos nie winterkar’naadjies nie.”

“Aag, basta,” sê tant Lenie, “in die Boland het ons ook nie soveel onnodige perkate nie. Ek weet nie hoekom ’n stukkie skaap nou skielik nie kar’naadjie is nie.”

“Nie, ek wiet oek nie,” sê oom Jan. “Dis oor julle in die Boeland net snoek iet.” Voor tant Lenie kan rooistem maak vir oom Jan, kom Emily met die kastrol sop van die huis af en die drievoetpotjie poetoe-pap.

“Ag, Emily, jou ou robyn,” sê tant Lenie. “Skep gou vir ons elkeen ’n bekertjie sop en roep vir Hennie dat hy hier binne kom eet. Alie, jy gaan nie na die konka toe nie, anders eet julle weer die helfte van die skaapkop op soos laas, voor die kleingoed weg. Julle eet net hier.”

Alie maak sulke kort draaitjies by die waenhuisdeur uit na die konka toe om Hennie te roep, maar eintlik om te sien of die kop al gaar is. Sammie en klein-Melitie en Sanna en Hennie sit soos skaduweetjies om die warm konka met die rooi oë, en Diek is besig om die kop onder die warm kole uit te lig met die ouhoepel. “Die ogge ek sal hom eet,” sê Sammie en sy tande blink.

“Ek wil ook die oog eet,” sê Hennie.

“Kleintjiebaas,” sê ou-Melitie van die waenhuishoek af, waar sy haar hande aan haar voorskoot staan en afvee, “jy sal hom eet die og anner dag. Kom eet jou sop nou.”

In die waenhuis sit oom Jan en tant Lenie op die dwarsbeen-veldstoeltjies en Alie en Hennie elkeen op ’n wolsak, elkeen met ’n beker sop. “Ogies eers,” sê oom Jan, en Alie loer deur haar vingers na die ou besie wat nou net met twee pote aan die haak hang en nie eens meer een oog het om te loer of een oor om te luister nie.

“Segen Vader ’t geen wy ete, laat wy nimmer U vergete, aam,” sê oom Jan, en Alie kyk of sy tot by tien kan tel voordat oom Jan sê “aam”. In die waenhuis by die groot slag kom die “aam” altyd so by sewe of agt. Saans in die spens kom dit tot by nege, en as die dominee daar eet, kan Alie maklik tot by elf kom voordat oom Jan se “aam”.

Almal eet gou klaar en dan val elkeen weer by sy plek in. Sanna en klein-Melitie stap met die klein skotteltjies vol vleis op die kop stroois toe om te gaan slaap, en Sammie en Diek kan nog ’n rukkie sit voordat hulle die konkavuur moet doodgooi en loop.

Alie gaan sit weer op die wolsak en maak haar oë groot en klein, groot en klein, om mooi te dink oor die storie van die waenhuisgrot waar al die krygsmanne so die ou draak staan en uitmekaar sny. Al vinniger en vinniger draai hulle en sny hulle, en dit voel vir haar net of die grot heeltemal skemer en ver weg is. Dan sê oom Jan: “So ja, nou’s ons oor die hond. Slaaptyd nou. Môre maak ons skoon.”

Almal was hande en ou-Melitie gooi die uitgewaste meelsakkie-doeke oor die vleis.

“Hennie sit seker nog altyd by die kleingoed,” sê tant Lenie. “Alie, gaan kyk gou.”

Alie loop soos ’n kroes hoendertjie om die waenhuishoek. Die konka brand nie meer nie, en dis doodstil. Daar is nie eens meer een skaduwee nie. “Hennie! Hennie!” roep sy.

“Miaau,” sê ou Piet teen haar been, maar Hennie is nêrens nie.

“Alie, kry jy vir Hennie?” roep tant Lenie.

“Nee, Mammie,” sê Alie met ’n klein stemmetjie.

“Gits, waar is die kind?” sê tant Lenie. “Ou-Melitie, help gou soek. Dalk het hy by die huis gaan lê en slaap. Hy is nie so bang vir die donker soos Alie nie.”

Ou-Melitie se rok maak sulke kort bogies soos sy huis toe draf en die kers in die kombuis opsteek. Maar Hennie is ook nie in die huis nie.


“Hennie!” roep oom Jan.

“Hennie!” skree tant Lenie, en haar stem klink vir Alie soos die vaal misbank oor die rivier. “Vader vol van mededogen, waar kan die kind wees?”

Ou Aron lig met die lantern in al die hoeke van die skemer waenhuis. Nie daar nie. Ou-Melitie soek in die buitekamer wat na baard ruik, en Alie draf al agter haar aan. Nie daar nie. “Hennie!” roep oom Jan.

“Jô-jô-jô, hier es hy, meneer Jaan!” roep Aron skielik agter die waenhuis, en almal draf soontoe. Aron lig die lantern hoog op, sodat die lig teenaan die wa se agterwiel val: daar lê Sammie en Diek, elkeen met ’n sak om die lyf gedraai, en tussen hulle lê Hennie, met sy mond bruin van die vet soos hy skaapkop geëet het, en ’n wolsak bo-oor hom, al drie vas aan die slaap.

“Maar moe’ jy die kleingoed nie kwint nie?” sê oom Jan.

“Sulke tye moet die blinde sambok sommer uitspring en hulle looi,” sê tant Lenie.

“Jôna whê!” sê ou Aron.

Sammie maak sy oë stadig oop en knyp hulle weer vinnig toe vir die lantern se lig. Dan spring hy regop, dat Hennie ook wakker word en orent kom. “Dis koud,” huil Hennie, en hy trek sy mond met die vetkring om op ’n skewe plooi. Toe word Diek eers wakker, en net so vinnig soos Sammie spring hy op en staan met knipoë eenkant.

“Hoekom julle es nie by die stroois nie? Jô! Pakisa! Pakisa!” sê ou-Melitie, en sy tel die sakke op en skud hulle uit, maar haar gesig lyk vir Alie net soos wanneer sy amper nies of amper lag.

Sammie en Diek stap kroes-kroes soos twee ou henne wat hoenderluis het, weg en oom Jan tel Hennie op en dra hom huis toe.

“Nag, almal,” sê hy. “Kom, Alie.”

“Nag, julle almal,” sê tant Lenie. “Julle het mooi gewerk, ou Aron. Môre kry julle julle stukkie vleis.”

“Nag, meneer Jaan. Nag, mevrou,” sê Aron en ou-Melitie en Emily en ou Hoppies en Jantjies almal deurmekaar, en Alie hoor hoe maak ou-Melitie se armbande trieng-trieng soos sy die groot haakspeld voor op haar kombers vassteek.

Alie gee ’n lang sprong sodat sy tussen oom Jan en tant Lenie loop, anders voel dit vir haar of die donker ’n hand sal uitsteek en haar gryp. By die kombuisdeur kyk sy nog ’n slaggie om na die groot, donker waenhuis, wat so mooi die donker terugstoot van die besie en die vark en die skaap wat so stuk-stuk tussen sy mure lê.

Nuwe stories van Rivierplaas

Подняться наверх