Читать книгу Nuwe stories van Rivierplaas - Alba Bouwer - Страница 6

Die toefelantat

Оглавление

EEN MIDDAG kom Alie en Lulu spring-spring oor die wit wintergras van die skool af huis toe.

“Jôna whê,” sê ou-Melitie voor die agterdeur waar sy die vadoeke oor die tuindraad ophang. “Nonwe Alie sy wel iets sê nou.”

Van die sementdam af skree Alie al: “Ons gaan oormôreaand ’n prent sien! Ou-Melitie, ons gaan regte bioskoop sien.”

“Een van die lande bou!” skree Lulu.

“Jô, wat sy es nou darrie deng?” sê ou-Melitie, en sy skud die groot wit meelsakvadoek ’n slag hard uit. “Wat es nou darrie prent?”

“My hede, Alie,” sê tant Lenie van die kombuisdeur af, “wanneer sal jy leer om tog eers oor die drumpel te kom voor jy begin praat? Kind, jou gesig lyk eintlik soos ’n kalkoen se kam van die hardloop. Wat op aarde is dit?”

“Ons gaan ’n prent sien, ’n regte prent, oormôreaand van …” en Alie gee ’n lang sluk, want haar stem is skoon op en sy is so bang Lulu sal sê voordat sy klaar gesê het.

“Van die lande bou,” sê Lulu.

“Wat op aarde kan dit nou wees?” sê tant Lenie.

Oom Jan kom om die hoek van die huis met ’n stukkie vel in die hand, en Alie weet op die daad nie wat gaan nou die vinnigste na haar bene toe afsak nie – die lus om te bly staan en nog baie van die prent te praat of die lus om vinnig, sommer vinnig weg te glip, want daardie stukkie vel beteken sy sal oom Jan die hele middag moet help voorslagriempies sny, en dis die naarste werk van al die nare werke op Rivierplaas. As jy styf hou en reg op die velletjie kyk, is die middag so vreeslik lank en jou arms word so lam. As jy met jou hande daar sit en jou kop dink ver weg na die rivierklippe toe of na die vlei toe of na enige ander lekker ding toe, dan hou jy nie reg nie en dan maak oom Jan ’n dik stem.

“Alie,” sê oom Jan, “eet nou gou jou kos, dan kom hou jy vir my die velletjie dat ons nuwe voorslae kan sny. Toe, ounooi, maak nou gou.”

Alie sien hoe vat ou-Melitie aan haar kopdoek, net daar waar haar snuifblikkie sit, en dis so goed asof ou-Melitie sê: “Arme nonwe Alie,” want ou-Melitie weet van Alie en die voorslagsny. Dan sê tant Lenie: “Alie vertel nou net van ’n prent wat oormôreaand by die skool gaan wys. Wat sou dit wees?”

“Dis sommer die landboumense wat ’n bioskoopprent oor boerdery gaan wys,” sê oom Jan. “Meneer Bronkhorst het my netnou by die winkel gesê.”

“O,” sê tant Lenie, “dis toefelantat. Nou reken.”


“Toefelantat?” sê Alie, en die woord gaan vir haar soos ’n groot sagte joep-joep-lekker in die kies. “Wat is toefelantat, Mammie?”

“Toefelantat is toverlantern, kind,” sê tant Lenie. “Hulle gooi met ’n masjien prentjies op ’n groot doek en dan lyk alles op die prentjie lewend. Wag, jy sal oormôreaand sien.”

“Toefelantat, toefelantat, toefelantat,” sê Alie so hard en sag en hard soos sy op een beentjie by die kombuistrappie probeer opspring en by die deur in, en sy vergeet skoon om te wag tot Lulu by die kraal is en om vir haar te waai voordat sy by die deur ingaan.

Ou-Melitie maak die oonddeur oop met haar voorskoot se punt. “Nonwe Alie,” sê sy, “vandag jy kry die afval by die klein artappeltjie. Ek het vor jou geskep die dolos banja.”

“Toefelantat, toefelantat, toefelantat,” sê Alie, so hard en sag en hard en sy sit haar boeksakkie en haar jassie op die kombuisbankie neer.

“Jô, nonwe Alie,” sê ou-Melitie, “jou kop sy’s nie hier nie. Jy wil hom nie hê die afval by die klein artappeltjie nie. Ek sal hom by Piet set,” en ou-Melitie tel weer die bord met haar voorskootpunt op.

“Nee, asseblief, ou-Melitie, asseblief tog!” sê Alie, en sy gaan sit mooi reg langs die tafel. “Ek sal gou eet.”

“Jy’s bly by die afval en die banja dolos?” vra ou-Melitie, en sy tel Alie se boeksak en jas op en hang hulle aan oom Jan se sweeprak op.

“Dankie, ou-Melitie,” sê Alie. “Vandag is die afval weer die lekkerste,” en sy pak haar tweede dolos mooi stadig op die bord se rand.

Een aand by die voetewas het Alie gevra: “Ou-Melitie, wat is die lekkerste van al die lekker: kerrie-afval met klein aartappeltjies en baie dolosse, of brood en varkvet met sout en peper, of warm brood en kaiings, of harde groenmielies, of tant Sannie van Brakfontein se souskluitjies met suiker oor, of warm vetkoek met goue stroop? Wat is die beste lekker, ou-Melitie?”

Ou-Melitie het ’n rukkie hard aan die skurwe hak gevryf en toe sê sy: “Sos jy eet hom die afval, hy’s die beste. Sos jy eet hom die brot en vet, hy’s die beste. Sos jy eet hom die kajang, hy’s die beste. Sos jy eet hom die kleitjie by mevrou Sannie, hy’s die beste. Sos jy eet hom die vetkoek, hy’s die beste. Hoekom jy wel weet, nonwe Alie? Jy eet hom elkeen alleen mos, nou elkeen es die lekkerste.”

Nou weet Alie dis net waar, want nou is kerrie-afval met klein aartappeltjies net die heel, heel lekkerste van alles, soos sy daar sit en kou en by elke kou in haar kop sê: “Toefelantat, toefelantat, toefelantat.”

“Alie!” roep oom Jan van buite af. “Eet nou klaar dat jy kan kom vashou. Toe, ounooi, roer jou.” Alie wens sy kan soos ’n akkedissie in ’n klipmuur wegraak vir daardie voorslagsny, maar sy weet dit sal nie help nie, sy moet maar net klaar eet, haar ou rokkie gaan aantrek en waenhuis toe loop. Maar sy sal die hele middag in haar kop die toefelantat, toefelantat, toefelantat sit en omrol, omrol soos ’n mens ’n suiglekker in jou kies rondstoot.

Op die aand van die toefelantat moet al die aandwerkies op Rivierplaas vroeg gewerk word, en ou-Melitie moet vroeg vuur opsteek in die kombuis en vroeg kos maak, want niemand moet laat by die skooltjie aankom nie. Die hele huis en werf voel vir Alie soos ’n groot seeppot wat staan en kook, en almal is soos borreltjies wat vinnig in die rondte hardloop en wip. Te lekker vir Alie, sulke seeppot-aande.

Alie trek haar blou valletjiesrok aan, haar amper-kerkrok, haar wit sokkies met die blou strepies en haar bandjieskoene wat met ’n knopie vaskom. Ou-Melitie moet die skoenknopies met die skoenhakie deurhaak, want Alie kan dit nog nie so goed doen sonder om die knopie af te draai nie.

“Jô, ok die bentjie sy word dek, die skoentjie hy wel nie vas nie,” sê ou-Melitie en haar kopdoek raak amper aan Alie se skoen.

“As my beentjies eers dik is, sal ek ook nie meer my sokkies swart aankap nie, ou-Melitie?” vra Alie, want daardie aankap is ’n groot ding.

“Aikôna,” sê ou-Melitie, “sos die bentjie sy’s dek, die kousie ok sy sal wet bly. Nou jy moet moi loop, nonwe Alie, en jy sal vor my kom sê van darrie prent?”

“Alie!” roep tant Lenie. “Kom nou, ons wag al, hoor.”

“Tot siens, ou-Melitie, “ sê Alie, en sy druk gou haar twee koperarmbandjies oor haar vuis en waai vir ou-Melitie so trienge-rienge van die deur af. Sy mag hulle mos nie skool toe dra nie, maar vanaand sal sy hulle langs Anna Poen se oor laat raas, vanaand en in die skool.

Tussen al die perdekarre en vasgemaakte ryperde staan twee groot, blink motors wat Alie nog nooit daar gesien het nie. Dis seker die mense wat die prent gebring het. Almal is binne-in die skool, waar die houtmure tussen die drie kamers weggeneem is sodat daar baie plek is. As dit plaaskerk of biduur in die skool is, staan almal nog ’n rukkie buite en praat, maar vanaand is almal binnetoe, want almal is nuuskierig om te sien hoe werk die snaakse masjientjie met die groot lig waarmee die twee vreemde mans werk.

Heel agter in meneer Bronkhorst se klaskamer staan die ligmasjien en heel voor, waar juffrou Jansen vir die kleintjies skoolhou, hang ’n groot, wit laken met ’n swart raam bo en onder, en al die banke staan so dat ’n mens met jou gesig na die laken toe kyk. Maar die snaaksste is vir Alie dat meneer Bronkhorst en sy vrou saam in ’n skoolbank sit. Voor hulle sit oom Sias en tant Bettie, en sy het ’n lang string krale aan wat tiks-tiks oor die bank sleep elke keer dat sy haar omdraai om agtertoe te lag. Oom Jan en tant Lenie gaan sit net regoor hulle, en oom Jan se twee swart stewels kruip soos twee ou swart molle onder die voorste stuk van die bank uit nadat hy hom in die sitplek ingewikkel het. Die skooltjie ruik na pyprook en laventel, en Alie weet dis uit tant Bellie se swart kralesakkie dat die laventel kom. Al die grootmense in die skooltjie se banke lyk vir Alie soos die eetkamer se tafel en stoele en sideboard wat eenkeer in die waenhuis gestaan het toe oom Jan ’n nuwe vloer in die eetkamer ingesit het.

Alie en Lulu gaan sit waar die ander kinders sit en net agter Anna Poen, want Alie wil haar koperarmbandjies aspris laat raas.

“Sal oom Krisjan eers bid?” vra Lulu.

“Toefelantat is mos nie van die Bybel nie,” sê Alie. “Hy sal nie hoef te bid nie.”

Oom Krisjan het darem sy biduurpak aan en Alie wonder of hy nie dalk maar sal bid nie.

Voor op die tafel en agter op die kaste staan ’n paar lanterns en die skool is so lekker halfdonker en vol geraas, net soos iets wat ’n mens droom en jy weet die hele tyd dis maar net droom en nie regtig nie. Alie wil nog ’n slag so oor haar hare vee, sommer net dat die armbandjies hard moet raas, maar daar staan meneer Bronkhorst op en hy klap sy hande ’n slag dat almal moet stilbly en dan vertel hy van die prent oor boerdery wat gaan kom om vir almal te wys wat is die regte maniere om te boer. Dan blaas hy die voorste lanterns dood en iemand blaas die agterste lanterns dood en voordat Alie tyd het om nader aan Lulu te sit vir die donker, begin daar sulke snaakse ligkolle en ligstrepies en skaduwees oor die wit laken te val en die ligmasjientjie sê aanmekaar “sji-i-rr, sji-i-rr” daar agter en een vreemde man sê: “Ons neem u na plase waar die regte en die verkeerde dinge te sien is, vriende, dan kan u self besluit wat die beste is.”

Heel eerste kom daar ’n groot mielielandprent op die laken, met sulke hoë mielies waar net ’n man se kop uitsteek. So lyk Rivierplaas se mielies ook as dit die somer mooi gereën het. Uit die mielieland kom ’n man gestap, en hy kom al nader en nader, totdat hy baie groter as die mielies staan.

“Kyk hoe netjies is so ’n boer se broekplooie in,” hoor Alie oom Jan êrens in die donker sê. “Ek kan nie dink hy’t ’n hand vuil gesmeer om daardie lap mielies te plant nie.”

Die netjiese boer loop nou by die mielieland verby na sy weikampe toe. Mooi hoog staan die rooigras en die tamboekie op sy veld, en Alie wonder of hy ’n ryperd het wat hy êrens vasgemaak het voordat hy so begin stap het. Dalk het hy ook ’n dogtertjie wat skelm leer perdry en dalk is sy net so groot soos sy en Lulu en dalk het sy lang vlegsels soos Cillie en sy kan …

“Kyk,” sê Lulu saggies langs Alie se hare, “sy voorkop is nie wit en sy gesig bruin nie, sy hele gesig is wit. Hy’s nie regtig nie, hy’s sommer ’n prenteboer.”

Die prenteboer het sy hoed afgehaal om die sweet van sy voorkop af te vee daar in die weikamp waar sy Afrikaners staan, en Alie sien sy voorkop is nie wit nie. Miskien is hy sommer ’n prenteboer. “Hy was seker lank in die bed van griep,” sê Alie saggies langs Lulu se hare, want dis al soort siekte wat oom Jan nog ooit gehad het. Die prenteboer se bul is kleiner as Rivierplaas s’n, en Alie wonder of hy ook al daardie boer se dogtertjie gejaag het. En daar staan ’n os met net sulke weglêhorings soos ou Botterblom.


“Ronderib,” sê oom Sias se stem in die donker. “Tag, Jan, kyk sulke diere!”

Die prenteboer loop so tussen die Afrikaners deur en klap hier en daar een op die rug en op die boud, en dit lyk vir Alie darem so na “aanstel voor vreemde mense”, soos tant Lenie altyd sê.

Sji-i-rr, sji-i-rr, draai die ligmasjientjie daar agter, en die prenteboer stap met sulke lang, lang treë deur die rooigras by die weikamp uit.

“Kyk na die draad om sy kampe,” sê die man agter, “jakkalsdraad. ’n Goeie boer sorg vir sy kampdrade.”

Dan skielik is die boer en die mooi mielies en die vet osse weg, en daar kom ou treurige mielietjies en arm veld op die prent, en ’n kamp vol ou brandsiek osse.

“Dis die boer wat verkeerd boer, nie die regte kunsmis nie, nie goeie spaarkampe nie en …”

“Ghoeps-ghaps-ghips,” sê die ligmasjientjie, die ou droë mielietjies en die brandsiek besies en alles wikkel deurmekaar, en daar is alles pikdonker.

“Pardon, vriende,” sê ’n ander stem van agter af, “hier is ’n foutjie.”

“Dit was ook te ellendig droog op daardie ou plasie,” sê oom Sias se stem in die donker. “G’n prent kan dit verdra nie. Vat ons maar weer na die plooibroek-boer toe. Hoe sê jy, ou Jannie?”

“Ja-nee,” sê oom Jan se stem in die donker, “laat ons kyk of hy net so netjies by die huis aangekom het.”

Sji-i-rr, sji-i-rr begin die ligmasjientjie weer, en daar kom eers weer die armoedige ou mielielandjies en besies ewe vinnig verby, en toe kom daar ’n draadkampie vol hoenders met ’n bloekomboom langsaan waarin ’n paar treurige ou henne sit en slaap.

“Dis die treurige plaas se hoenderhokke,” sê die man agter, “kyk net hoe ellendig lyk hulle van die hoenderluise en die tampans.”

Alie voel soos wanneer iemand lag vir haar dun beentjies, net so voel sy, want Rivierplaas se hoenderhokke lyk net soos daardie en die Jan-Rap-hoenders slaap ook partykeer in ’n bloekomboom, maar Rivierplaas is nie ’n ou treurige plasie nie en nie een hoender het hoenderluise nie.

Weg is die treurige plasie en daar ewe skielik stap die prenteboer weer, dié slag by sy hoenderhokke. Sulke klein halwe afdakhuisies met ysterpale en huisieneste is dit, en die hoenders is almal so groot en vet, en hulle drink water uit sementkrippies met ’n kraan langsaan. Nee wat, nou hou Alie niks van daardie boer en sy plaas nie, want dis sommer regtig spog. En as hy Rivierplaas se hoenderhokke sien, sal hy ook sommer sê die rooibont hoendertjies het hoenderluise en hulle is treurig en dis ’n ou treurige plasie. Haar keel voel soos die dag toe sy vir Lulu gewys het sy kan ’n turksvy heel insluk en ou-Melitie haar aan haar voete kop-na-ondertoe gehou het om die turksvy uit te kry. Net so toe en styf voel haar keel oor daardie prenteboer wat naar is oor Rivierplaas se hoenderhokke. Sy sal ou-Melitie vra wat hulle moet sê as hy op Rivierplaas kom en hy sê ’n woord oor daardie kampie en die rooibont hennetjies.

“Kyk die ou hond!” sê Lulu hardop en sy lag ’n harde lag, dat oom Krisjan se stem in die donker sê: “Sjuut, kinders.”

Die prenteboer het by sy huis aangekom, ’n mooi wit plaashuis met ’n stoep met baie trappies, en op die onderste trappie sit ’n ou groot hond, wat met een poot agter sy oor sit en krap en krap. Amper soos die hond wat ou Aron gehad het wat die geelslang doodgebyt het. Krap-krap-krap sit die ou hond, en dan laat hy sy poot sak en draf om die huis weg. Alie wens hy kom weer, want hy is die mooiste op die prenteboer se plaas, die ou hond wat so sit en krap. As sy op die prent was, sou sy agter hom aangeloop het om die huis. Agter die huis is tog seker ’n rondawel en miskien speel die prenteboer se dogtertjie daar voor die rondawel, of miskien is die huishulp besig om vadoeke op te hang en miskien lyk sy soos ou-Melitie.

Maar sy sal tog nie soos ou-Melitie wees nie, niemand kan soos ou-Melitie wees nie, dit weet Alie, en sy is op die plek bly, want al lyk die prenteboer se mielies so mooi en al is sy Afrikanerbeeste so vet en al het hy sulke spoghoenderhokke, hy en sy dogtertjie kan nooit ’n ou-Melitie hê nie. Te lekker voel Alie nou, soos wanneer sy lank met ’n deelsom gesukkel het en daar kry sy skielik die antwoord reg.

Nou het Alie ook niks meer lus om na die prenteboer se mooi damme en sy groot kraal en sy skure te kyk nie.

“Ek wens die ou hond kom weer om die huis,” sê Lulu saggies langs Alie. “Hy’s mooier as die prenteboer. Ek is moeg vir sy ou wit gesig.”

Nadat die prenteboer nog ’n paar van die wonderlike dinge op sy plaas gewys het, is dit weer donker, en meneer Bronkhorst en oom Krisjan steek die lanterns op en almal kan huis toe gaan.

“Was dit nie interessant nie!” sê tant Bellie vir ou tant Enna-Piet.

“Ag ja,” sug ou tant Enna, “ek sê vir Piet, as ’n mens alles tog so agtermekaar kan hê, nè?”

“En toe, Alie, hoe was die toefelantat toe vir julle twee?” sê tant Lenie toe sy en Lulu styf teen mekaar langs die grootmense huis toe stap.

“Ek hou nie van die ou prenteboer nie,” sê Alie.

“Sy gesig is te wit,” sê Lulu.

“Reken,” sê tant Lenie, “’n toefelantat-man se gesig is mos maar so wit. Ek wens darem ek het daardie kraantjie in my hoenderkampie gehad, hoor.”

“En so ’n dam, nè? Maar hier beneden is het niet,” sê oom Jan.

“So ’n hele toefelantat-plaas – ai, sal dit nie vir jou te koninklik wees nie!” sê tant Lenie.

Die wintergras kraak so kwirts-kwirts onder hul voete. Net anderkant die draad staan die pendoringboom, wat in die vaal koue maanskyn ’n skaduweetjie naby die huis maak, en daar in die kombuisvenster flikker-flakker die liggie van die kers wat ou-Melitie daar gesit het om haar te help wakker bly by Hennie tot oom Jan-hulle by die huis kom. Ver weg in die donker veld gee ’n skaap ’n koue blêrtjie, en ’n verskrikte kiewiet vlieg op en skree: “‘vierplaas! ‘vierplaas! ‘vierplaas!”

Nuwe stories van Rivierplaas

Подняться наверх