Читать книгу Stories van Bergplaas - Alba Bouwer - Страница 4
VOORWOORD
ОглавлениеDie vandag omstrede aanspreekvorme soos “baas” en “noi”, “outa” en “aia” word in hierdie tiende druk van Stories van Bergplaas as histories outentiek behou. Vir ’n groep van vandag se Suid-Afrikaanse gemeenskap staan sulke woorde egter in die teken van ’n posisie van onderhorigheid en onderdanigheid waaraan hulle hul in groot mate ontworstel het.
Dat daardie fase van verhoudinge al hoe meer agter ons lê, is goed. Daar was ’n bevoorregting van een groep bo ’n ander wat ’n ernstige belemmering sou wees op ons pad vorentoe.
Tog was daar, binne ’n raamwerk wat vandag as onhoudbaar besef word, van mens tot mens meermale ’n toegeneentheid en wedersydse respek wat in enige opset waardevol moet wees.
Juis dáárom het dit vir my gegaan toe ek twintig jaar gelede hierdie plaasstories geskryf het oor ’n kindertyd wat toe ook al dertig jaar in die verlede gelê het. Naas die leef- en werkpatrone op ’n Bolandse plaas in die jare twintig was dit juis dít wat ek wou vaslê en oordra.
Die tyd van druiwetrap in ’n parsbalie en van misvloere smeer, is vir goed verby. So ook, glo ek, van “baas” en “noi”. Geen regdenkende mens verlang dit terug nie. Waarna ons in Suid-Afrika wel kan terugverlang – en opnuut na kan reik – is die liefde wat in daardie jare, ondanks alles wat fout was, tussen sulke plaasmense kon lewe.
Ek is dankbaar dat ek iets so kosbaars kon meemaak.
Alba Bouwer
28 November 1983