Читать книгу Stories van Bergplaas - Alba Bouwer - Страница 6

Оглавление

Dis somer op Sadewee.

Die sand in die voetpad maak gladde warm walletjies tussen Bramie se tone en die lug ruik na keurtjiebos en boegoe, want die wind stoot van die berg se kant af deur die boord. Onder die takke van ’n pruimboom gaan hy staan om te kyk hoe die lang skaduwee van Vaalkop oor die dennebos en die sementdam en tot teen die ringmuur om die opstal van die bergplaas lê. Die huis en die kelder en die lemoenboord wat net anderkant die groen ysterhek in die muur begin, staan oop en warm in die son, en die bergstroom wat hoog op teen die kop uitspring en by die huis verby na die wingerde loop, blink net hier en daar deur die akkerbome.

Bramie versit die mandjie met die emmertjie koffie en die beskuit na sy ander hand toe, en stap uit die pruimboom se skaduwee uit en af in die voetpad na die onderste wingerd waar oom Koos en die plaasvolk aan die werk is. Die sonbesies laat die warm lug om sy kop bewe en ver anderkant die boord by die bruinmenshuise hoor hy ’n harde roep. Seker Klein Willem Houtmens se ma wat hom roep om te gaan fynhout maak. Bramie kyk weer na die berg se skaduwee. Nog net ’n klein rukkie dan sal die kleingoed kom hout optel in die akkerbos en dan is daar altyd nog tyd vir ’n bietjie speel voor die huis toe gaan. Miskien sal Grietjie dan haar sokkies klaar gestop hê en dan kan sy ook wegkom.

Bramie versit weer die mandjie na die ander hand. Tog goed hy is nie ’n meisie nie. Hy en Grietjie is ’n tweeling en hulle is albei tien, maar Grietjie moet sokkies stop en rantsoenbrood uitpak en eiers klits en allerhande werke doen wat nooit op lekker tye kom nie. Koffie wegbring wingerd toe en droë boontjies gaan haal op die solder en fynhout maak, dit kom alles altyd op ’n beter tyd. Grietjie moet ook altyd skelm saamspeel. “Meisiekinders hoort nie by so ’n werf-ravottery nie,” sê tant Letta. En Grietjie kan tog net so vinnig soos Klein Willem Houtmens en Jaffie hardloop en sy ken die beste wegkruipplekke op die hele plaas. Hoekom hoort sy nou nie daarby nie?

“Hiert, jou dikkop-duusmannetjie! Die son droog jou kaiings uit, nè?” sê ’n stem agter Bramie en hy skrik so dat hy amper die mandjie in die voetpad laat val.

“My jinne, outa Jafta, waar kom jy dan nou vandaan?” sê Bramie en hy versit weer die mandjie.

“Ver vandaan vannie son ennie maan,” sê Jafta. “Die baas wag al vir sy drinkgoed, Bramie. Wikkel jou stompies.”

’n Entjie verder kom oom Koos uit die wingerd uit aangestap. “My wêreld, Braam, hoe lyk dit my jy loop vandag rus-rus, kêrel?” sê hy. “Het jy die ander skoffel gekry, Jafta? Val sommer by die onderste ry in as julle klaar het, gehoor.”

“Ja, baas,” sê Jafta en hy stap tussen die wingerdrye af. “Hiert jou, Ou Willem Houtmens, hoe word jy so slap van lit? Lyk my die son laat jou olie uitloop!”

Ou Willem Houtmens met sy stywe bene en arms, net soos ’n houtpop, kom tydsaam orent en lê oor sy skoffelsteel, maar hy sê niks, stoot net sy paprandhoedjie agtertoe en gee ’n skewe laggie voordat hy buk en die skoffelsteel weer vasvat.

Op die verste punt skoffel die voorman, outa Warie. Kort en vierkantig soos die vleisblok langs die waenhuis is hy, en toe hy sy hoed afhaal om ’n slag die sweet af te vee, lyk sy kop vir Bramie soos die vloer onder die bed as ai Nonkie twee dae nie daar gevee het nie, vol fyn wolbondeltjies. Hy kyk nie een maal op nie, knyp net sy ou skrefiesoë nog nouer.

“Jafta Paal,” sê hy stadig, “van sit en staan, kom min gedaan, maar van baie praat, kom yslike kwaad, ja.”

Jafta Paal se rug maak eintlik hoepel soos hy skoffel en sy gesig lyk soos een wat niks hoor en nooit iets sê nie.

Oom Koos drink die laaste slukkie koffie vinnig uit, skiet ’n paar druppels onder ’n wingerdstok in en pak weer alles in die mandjie. “Draf nou gou huis toe, Braam,” sê hy, “en loop leer jou lesse. Julle speel nie vanmiddag buite in die bloedige son nie, gehoor.”

“Ja, Pa,” sê Bramie en hy tel die mandjie op en begin weer in die warm voetpad terugstap. Net toe hy by die huis se hoek kom, sien hy Klein Willem Houtmens en Jaffie en Diksiel by die kant van die akkerbos regs van die huis inloop. Met twee vingers plat in sy mond soos outa Warie hom geleer het, gee Bramie ’n lang fluit en die drie kinders gaan staan. Hy waai vir hulle met sy een arm en toe glip hy gou om die soldertrap se hoek kombuis toe om die mandjie neer te sit en te kyk waar Grietjie is.

Op die misvloerstoepie voor die agterdeur staan klein Trui van ou Jafta en sy lyk net soos ’n skeefgesakte ballasmandjie met Dingetjie wydsbeen op haar een heup. Ai Nonkie kyk oor die onderdeur. “Ja, Truia, wat wil jy hê?”

“Antie Nonkie, antie Meisie vra as antie Nonkie seblief vir antie Meisie ’n bietjie soetolie vir haar bors by die nôi kan vra, seblief, antie Nonkie,” sê Trui en dit lyk of haar oë al hoe groter rek van mooi vra.

“Ek sil die nôi roep,” sê ai Nonkie. “Maar vir wat vee jy nie Dingetjie se gesig af as jy werf toe kom nie? Wat sal die mense sê?”

“Ja, antie Nonkie,” sê Trui en sy versit Dingetjie na haar ander heup toe.

Bramie glip by die agterdeur in, deur die kombuis, af in die gang en tot agter die spensdeur waar hy luister hoe tant Letta in die gang verbystap en in die kombuis sê: “Dag, Trui, wat makeer Meisie?” Toe spring hy sagpoot soos ’n kat in die gang af en deur die eetkamer tot in Grietjie se kamer waar sy kop onderstebo voor die venster sit en sukkel met ’n sokkie op ’n stopskulp.

“Grietjie, kom ons gaan speel ’n bietjie by die akkerbos. Klein Willem Houtmens-hulle tel hout op.”

Grietjie swaai so vinnig om dat haar twee lang bruin vlegsels se punte kips teen die ruit kap. Sy stoot gou die sokkie met skulp en naald en al onder die kussing in en spring op. “Dan moet ons gou maak voor Ma terugkom,” sê sy. “Kom ons gaan by die sydeur uit.”

’n Entjie in die akkerbos in kry hulle vir Jaffie en Diksiel wat agteroor teen ’n boom sit. Net Klein Willem Houtmens is besig om fynhout te soek.

“Kom ons speel ’n bietjie,” sê Bramie.

“Dis laat vir speel,” sê Diksiel. “Ons moet nog hout soek.”

“Ag, issie te laat nie,” sê Grietjie. “Kom ons speel ’n bietjie aljander of so.”

“Nee wat, aljander is niks lekker nie, dis meisiespeletjies,” sê Bramie.

“Wegstiekentjies is beter,” sê Jaffie.

“Maar hier is niks meer wegkruipplekke in die bos wat almal nie ken nie,” sê Bramie.

“Ons gaan anderkant die huis om en dan speel ons by die kraal en die kelder, daar’s nog baie plekke,” sê Grietjie en sy skiet haar twee vlegsels oor haar skouer agtertoe. “Roep vir Houtmens, Diksiel, dan loop ons.”

Klein Willem Houtmens sit sy draggie hout versigtig teen ’n akkerboom neer en val agter die ander in. Op ’n ry stap hulle, al teen die ringmuur langs en voor om die huis na die kelder se kant toe, met Bramie en Jaffie heel voor.

“Ek gaan nie weer eerste toehou nie. Ek moet amlie toehou,” sê Diksiel en hy spoeg ’n straaltjie in ’n braambos teen die muur.

“Maar dis om jy nooit ’n man kan uithardloop blok toe nie,” sê Bramie. “Jy’s te vet, Diksiel!”

“Oehalalla, ou Dikke kan nie hol nie!” sê Jaffie en hy spring soos ’n perd wat steier in die voetpad.

“Ag nee basta wat, Bramie, netnou wil Diksiel nie speel nie,” sê Grietjie.

Naby die huis kry hulle Trui in die voetpad. “Kom ons speel gou wegkruipertjie agter die kelder, toe,” sê Grietjie.

“Antie Meisie wag vir die soetolie,” sê Trui en sy versit Dingetjie met ’n wippie na die ander heup toe.

“Sy weet mos nie of hulle jou ophou met ’n werkie op die werf nie,” sê Bramie.

“Ja,” sê Trui en sy draai om agter hulle aan.

Agter die kelder onder ’n akkerboom gaan hulle staan en Trui maak vir Dingetjie plaps sit op ’n oop kol tussen twee boomwortels en laat die botteltjie soetolie versigtig teen ’n klip regop staan.

“Wie tel uit?” vra Jaffie.

“Grietjie moet uittel!” sê Klein Willem Houtmens vinnig en toe staan hy gou agteruit soos een wat skaam kry oor hy gepraat het.

“Toe, Grietjie, tel jy maar uit,” sê Bramie.

“Staan nader,” sê Grietjie. Sy vryf ’n slag haar hande teen haar sye en steek ’n voorvinger mooi reguit vorentoe: “In die wingerd staan ’n perd, aan die perd hang ’n stert, aan die stert sit ’n vlooi en die vlooi se bloed is rooi. Outyd, noutyd, jy’s in, jy’s uit.” Trui val eerste uit.

“Dis goed,” sê Bramie. “Trui se hare is so styf oor haar kop gevleg, sy sal nooit haar oë kan toehou nie.”

Grietjie maak of sy nie hoor nie en begin weer: “In die wingerd staan ’n perd …” Al hoe vinniger, al hoe vinniger gaan dit totdat net sy en Diksiel oorbly. Toe haal sy ’n slag diep asem en tel stadig en met ’n kopskudjie by elke woord uit, heen en weer, heen en weer tussen haar en Diksiel. “… Outyd, noutyd, jy blý, jy’s uit!” Die vinger gaan staan na Diksiel toe.


“Oehalalla! Grietjie het haarself aangemaak!” sê Jaffie en hy steier weer soos ’n steeks perd.

“Sy hardloop julle almal lekker in, toe maar!” sê Bramie.

“Onthou ’n bietjie: nie op die solder nie en nie binne-in die kelder nie en nie bo in ’n boom nie,” sê Grietjie. “Ek gaan vinnig tel en net tot by vyftig.” Sy sit ook sommer haar kop teen die keldermuur en begin: “Een, twee, drie, vier, vyf, ses, sewe …”

“Ba-ba-ba-ba!” kraai Dingetjie en Grietjie loer na die boom se kant om te kyk wat Dingetjie maak en toe gaan sy weer aan: “Agt, nege, tien, elf, twaalf …”

Bramie glip om die hoek van die kraalmuur en staan ’n rukkie stil. Waar sal Grietjie nou nie soek nie? Agter die hoop fynhout in die kraal, tussen die kalkblikke agter die kelder, in die slangbos anderkant die akkerboom – Bramie staan stil en net sy oë gaan heen en weer, heen en weer, en toe, skielik, sien hy die ou bruin deurtjie met die oorslag en die pennetjie: Hans Boesman, die skaapwagter, se kamer. Bramie korrel na die son – Hans sal nog lank nie met sy trop van die berg af kom nie, en in hierdie kamertjie in die hoek waar die kraalmuur teen die waenhuis se agterkant vasloop, sal niemand soek nie, want niemand sal dink hy kan dit waag om daar in te gaan nie. Almal op die bergplaas is vir Hans Boesman so bang soos vir Antjie Somers of oom Giel Bewersfontein se bul.

“… dertig, een-en-dertig, tween-dertig, drien-dertig …” tel Grietjie. Bramie loop tot by die skewe deur, trek die pennetjie stadig uit, maak die deur versigtig oop en loer net so ’n klein bietjie in. Teen die een muur onderkant die venstertjie met die kakiegordyntjie voor, staan Hans se ou uitgesakte ysterkatel en langsaan die ou voerkis. Dit ruik na pypolie en ou koffie en dis so skemerdonker. Bramie mik ’n slag en staan agteruit, maar toe hou hy sy asem op, stap in en trek die deur saggies agter hom toe. Hy staan op die bokvelletjie voor die bed en kyk rond. Die voerkis! Dalk is dit leeg. Versigtig tel hy die breë oorslag op, lig die deksel en loer in. Die strepie lig wat langs die gordyntjie deurkruip, val skuins oor die kis en Bramie sien ’n klein bondeltjie klere en los twakkrummels in die kis lê. Daar trek net so ’n klein koue grilletjie teen sy rug af en hy staan weer effens tru, maar toe dink hy aan Grietjie wat hom nooit sal kry nie en hy klim gou in, wikkel hom vas in die een hoek in en laat die deksel stadig sak. Hy kan amper regop sit en in die middel van die deksel is ’n klein trippensgaatjie wat ’n ligspikkel in die kis maak. Dit ruik na twak en skaapvel en oulyf in die kis en Bramie skuif ’n slag rond en probeer sy asem ophou, maar dit voel meteens of sy asem te dik en te min is.

“K-oe-oe-k!” roep Grietjie. “K-oe-oe-k!”

Bramie voel hoe ’n vlooi laag af teen sy been ’n kriewelspoortjie trap en toe is daar op sy arm ook een, en dit ruik al hoe meer na twak en skaapvel en oulyf en sy asem voel al hoe minder en al hoe dikker. As hy die deksel so effens oplig en asemhaal, sal hy weer kan hou, en sowaar, hier sal Grietjie tog nooit soek nie. Bramie druk sy hand versigtig boontoe en stoot, maar niks roer of lig nie. Hy laat sy arm sak, lig weer en gee ’n harde stoot, en toe slaan ’n warm skrik dwarsoor hom en dwarsoor die kriewelspoortjies van die vlooie en die ruik van twak en skaapvel en oulyf. Hy laat sak sy kop, stoot sy arms boontoe en slaan met albei vuiste teen die deksel dat sy kneukels seerkry, maar die deksel sit styf, styf vas. Toe onthou Bramie die oorslag. Dit het natuurlik afgeval en nou sit dit vas. Hy maak sy mond oop om ’n groot, harde skree uit te stoot, maar skielik word sy asem so dik en sy kop so warm en so groot dat hy inmekaarvou soos ’n ou slap knipmes en die donker en die ruik van twak en skaapvel en oulyf soos ’n dik kombers om hom vou en hom al hoe vaster druk. Hoog op teen sy been maak die vlooi weer ’n kriewelspoortjie en hy voel skielik ver weg en baie alleen en sy kop raak los en dryf weg, weg, weg van sy lyf af …

Buite is Grietjie aan die soek. Diksiel kry sy eerste agter die slangbos en blok hom sommer dadelik. Jaffie en Truitjie sit naby mekaar tussen die kalkblikke en Houtmens lê onder twee sinkplate in die hoek van die kraal. Net Bramie bly weg, doodstil weg. Om die kelder, deur die kraal, tussen die naaste bossies, oral soek sy, maar Bramie is nêrens nie.

“Ons sil maar help soek,” sê Klein Willem en almal begin rondhardloop en kyk. Onder die akkerboom begin Dingetjie hard huil en Trui sê: “Ek sil moet loop, Grietjie.”

“Nee wag,” sê Grietjie, “ons kan nog een maal speel. Ek sal skree ‘orreltjies oor’, dan moet hy uitkom.”

Sy gaan staan teen die kraalmuur, maak haar hande bak voor haar mond en skree: “Orreltjies oor, Bramie! Kom maar uit!”

Almal wag doodstil. Die sonbesies skree hard in die dennebos en Dingetjie sê met ’n huilstemmetjie: “Ba-ba-ba,” soos Trui haar op en af op die heup staan en skommel. Maar Bramie antwoord nie.

Jaffie skop ’n akkertakkie opsy en sê: “Altemitters het Brampies hom êrens doodgeval.”

“Ag, jy’s stuitig,” sê Grietjie. “Waar kan hy hom op die werf doodval?”

“Altemit het ’n slang hom doodgepik,” sê Diksiel en hy rek sy oë wyd oop. Klein Willem Houtmens staan doodstil teen die akkerboom en vryf met sy een hand oor sy kop. Hy kyk langs die kraalmuur op tot by Hans Boesman se bruin deur en weer terug. Toe kyk hy weer en sy oë bly staan op die skewe bruin deurtjie. “Grietjie,” sê hy, “Hans Boesman se deur is ope. Is Brampies nie altemitters daar nie?”

“In Hans Boesman se kamer?” vra Grietjie. “Nooit! Hy sal nooit daar ingaan nie.”

Almal kyk na die bruin deur. “Maar die pennetjie is af. Altemitters is hy daarin,” sê Jaffie.

Grietjie gee ’n paar treë vorentoe en toe gaan sy staan. “Bramie!” roep sy. “Kom uit! Ons weet tog waar jy is!” Almal staan weer doodstil. Net Dingetjie skud “ba-ba-ba” op en af op Trui se heup.

“Jaffie, gaan kyk jy of Bramie nie in Hans Boesman se kamertjie is nie, ek mag nie daar ingaan nie,” sê Grietjie.

Jaffie maak twee bang wit oë. “Aikôna, sowaar, Grietjie,” sê hy. “Hans Boesman toor ’n mens dood, sowaar, vir vrek.”

“Sowaar, vir vrek,” sê Diksiel en hy druk hom stywer vas teen die akkerboom.

Klein Willem Houtmens maak hom stadig los van die akkerboom en sluk ’n slag.

“Ek sil gaan kyk, Grietjie,” sê hy, maar hy bly nog staan.

“Ek sal saamgaan tot by die deur,” sê Grietjie en sy gee ’n tree vorentoe.

Klein Willem Houtmens loop voor en Grietjie gaan stadig agterna. Voor die bruin deurtjie staan hulle ’n slag stil en Houtmens kyk na Grietjie. Toe stoot hy sy arm vinnig vorentoe, pluk die deur met een haal oop en staan ’n entjie agteruit. Grietjie leun vorentoe en loer in. “Hy’s nie hier nie,” sê sy.

’n Entjie agter hulle staan Trui en Jaffie en Diksiel styf teen mekaar. “Altemitters is hy in die voerkis,” sê Jaffie.

“Is jy nou gek?” sê Grietjie. “Wie sal in Hans Boesman se kis klim? Hans maak ons dood as hy ons hier kry,” en sy stoot die deur haastig toe en steek die pennetjie in.

“Hans toor ons vir vrek,” sê Jaffie en hy staan agteruit.

Grietjie voel hoe ’n groot bang ’n droë kol in haar keel maak. Sê nou Bramie is regtig getoor en dood en weg? Sy maak haar mond oop, maar kry niks om te sê nie. Toe vryf Klein Willem Houtmens weer ’n slag oor sy kop. “Ek sil in die voerkis kyk,” sê hy. “Altemitters sit hy daar vasgetoor.”

Hy haal die pennetjie af, maak die deur oop, gee twee lang treë oor die drumpel deur die kamertjie tot teen die kis en lig die deksel met een swaai op. Toe sluk hy ’n slag en laat die deksel met ’n harde ghoef toeval. “O gomma sowaar!” sê hy en spring agteruit soos een wat ’n slang gesien het.

Toe staan Grietjie met een sprong vas teen die voerkis en sy ruk die deksel oop. “Bramie!” skree sy. “Bramie! Is jy dood?” Sy gryp Bramie aan die arm en ruk hom hard. “Bramie! Vat sy ander arm, Houtmens, dat ons hom hier kan uithaal. Bramie!”

Buitekant staan Jaffie en Diksiel met groot, wit oë ’n paar treë van die deur af, en Trui hoor glad nie hoe Dingetjie op haar heup skree nie, so rek sy haar nek om te kyk.

Toe Grietjie en Houtmens vir Bramie met sy slap lyf net oor die drumpel van die kamertjie gesleep het, kom ou Warie met sy skoffel oor die skouer om die hoek van die kraalmuur gestap.

“Oempie Warie,” sê Jaffie. “Brampies is doodgetoor, oempie Warie.”

Ou Warie gaan staan, stoot sy hoed agtertoe en kyk van die een gesig na die ander soos een wat iets soek. Toe los hy skielik die skoffel dat dit plonks op die grond val, gee ’n lang tree vorentoe en gryp Bramie aan sy bene. “Brampies,” sê hy. “My hedetjie, die kind se gesig is so wit soos die kraalmuur! Brampies!” En hy hou Bramie kop na ondertoe en gee hom ’n harde skud.

Bramie steun soos ’n ou siek koei en maak sy oë oop. “Grietatjie, wat het julle nou weer aangevoor?” sê ou Warie en hy lig Bramie regop en hou hom om die lyf vas. “Kyk hoe naar is hy nou! Span maar die jong ossies in, Brampies, so ja, spoeg maar uit, spoeg maar uit.”

“Ons het wegkruipertjie gespeel en toe kruip hy in Hans Boesman se ou kis weg en toe word hy so,” sê Grietjie en sy voel weer die droë bang kol in haar keel.

“Margareet!” roep tant Letta van die kombuis af, en toe weer: “Margareet!”

Dis soos ’n kat wat jy op die solder los, daardie roep oor die werf. Soos rotte agter soldersakke gly Jaffie en Diksiel en Klein Willem Houtmens om die kelderhoek en draf terug akkerbos toe, en Trui spring in die voetpad af dat Dingetjie se kop soos ’n stuk wasgoed in die wind heen en weer ruk. By die hoek vlieg sy om, hardloop terug akkerboom toe, tel gou die botteltjie soetolie op, skommel Dingetjie oor op die ander heup en sleep op ’n drafstappie die kraalhoeke om. Net toe sy weg is, kom tant Letta om die huis se hoek. “Margareet!” sê sy. “Kan jy nie hoor as ek jou – en nou? Wat makeer Bramie?”

“Hy’s naar, nôi,” sê ou Warie. “Lyk my die son het hom gevang, ja. Spoeg maar, Brampies, wat jy uit het, het jy kwyt. Spoeg maar, ja.”

“Wat op aarde het julle weer aangerig, Margareet? Julle weet so goed julle moenie in die son speel nie!” sê tant Letta. “Of het julle weer groen pruime geëet?”

“Niks, Ma, ek weet nie, Ma,” sê Grietjie en sy kyk vinnig na Hans Boesman se deur, maar dis styf toe met die pennetjie weer ingesteek.

“Bring hom huis toe, Warie,” sê tant Letta. “Ek sal hom in die bed sit met ’n boegoebrandewynlap op die maag. En kom jy dadelik in, Margareet, en kom help ai Nonkie met die rantsoenbrood.”

Toe Bramie reg wakker skrik, lê hy in sy bed en dis stil, donker nag om hom. Ver weg skree ’n kriekie en op die solder draf ’n rot ghip-ghip-ghip oor die balke. Amper so donker soos in Hans Boesman se voerkis is dit, en skielik voel Bramie weer so ver weg en alleen en met die vlooi se kriewelspoortjie teen sy been op. Sy maag voel toe en warm en hy steek sy hand onder die kombers in om daaraan te vat. Toe voel hy die boegoebrandewynlap. Met een pluk trek hy dit af en gooi dit op die vloer, maar meteens slaan die ruik van twak en skaapvel en oulyf skerp en duidelik oor hom en om hom. Bramie voel hoe sy maag begin opkrimp en soos ’n papierblaser oprol en boontoe skiet, sommer dwarsdeur sy keel en sy neus en sy ore. Hy draai soos ’n tol om, hang deur die oop venster buitentoe en steun en spoeg en spoeg op die grond in die maanlig.

Deur die venster langsaan kom Grietjie se kop met die twee vlegsels wat tot amper op die grond swaai toe sy vinnig deurklim. Toe staan sy in haar kort wit naghempie voor Bramie se venster.

“Is jy weer naar?” vra sy. “Het Hans Boesman jou nie dalk regtig getoor nie?”

Bramie gee ’n snuif en ’n hik. “Dit het so gestink in die kis,” sê hy. “Dit het vreeslik gestink. Dis daarvan.”

“So soos ou melk in ’n toe kan, so stink?” vra Grietjie.

“Nee, baie slegter, soos twak en skaapvel en oulyf, so.”

“Sies,” sê Grietjie en sy spoeg ook. Bramie vee met sy hand oor sy mond. “Nou’s dit oor,” sê hy.

“Maar ons sal jou nóóit daar gekry het nie, dis die slimste wegkruipplek op die hele plaas, sowaar,” sê Grietjie.

“Hm,” sê Bramie en hy wikkel weer sy lyf terug deur die venster en hoor hoe Grietjie se bed in die kamer langsaan kraak soos sy inklim. ’n Vlooi maak ’n jeukspoortjie teen sy een been, maar hy roer nie eens nie, want sy kop voel groot en lig en ver weg van sy been af en trek stadig weg met hom, die sagte donker in.

Stories van Bergplaas

Подняться наверх