Читать книгу Stories van Bergplaas - Alba Bouwer - Страница 7
ОглавлениеAs Bramie skemeroggend wakker word, skuif hy hom ’n slag dieper tussen die lakens in, maak sy oë styf toe en luister hoe die water in die bergstroom langs die huis afloop. Saam met die bruin bergwater gly hy oor die gladde klippe, onder die groot akkerboomwortel deur, ghloemps oor die rand van die wasbalie regoor die kombuis en dan weer saggies verder onder die blomtuindraad deur af wingerd toe. Sy oë wil net weer slap word en sy kop lekker lig van seil saam met die heuninggladde water, dan sê ou Warie se rantsoenemmertjie klieks! soos hy dit aan die onderste tak van die ou lemmetjieboom voor die agterdeur ophang. Nou kan Bramie skaars mooi tot by tien tel, dan begin die werfklok langs die keldermuur kloeng-kloeng-kloeng-kloeng-kloeng! lui soos ou Warie die draad daaraan trek. Voordat die laaste kloeng mooi doodval, staan ai Nonkie in die kamerdeur. “Môre, Brampies! Hier’s jou dop, ou seur van Sadewee.”
“Dankie, ai Nonkie, môre, ai Nonkie,” en Bramie vat die koppie koffie en sit dit op die stoel voor sy bed neer, mooi langs die Kinderbybel, want ’n mens mag nooit iets op ’n Bybel sit nie, sê tant Letta. Bramie trek sy oë op twee smal vetergaatjies en kyk hoe die vaal rokie uit die koffie ’n dun wurmpie in die lig maak en stadig wegraak. Net soos hy die koppie optel om die rokie plat te sluk, staan Grietjie in die deur. Haar oë is nog nou van die slaap en haar vlegsels lyk gekoek en deurmekaar, maar haar gesig is rooi van haar koffie wat sy vinnig ingesluk het. “Môre, Boeta,” sê sy. “Onthou jy Giel het gesê ons moet vanoggend vroeër by die poort wees want hy moet nog sy ma se botter by die pastorie gaan afgee?”
“Hm,” sê Bramie en hy knyp sy oë styf toe en sluk lang, stadige slukke.
Grietjie gooi haar vlegsels agtertoe en knyp haar oë so styf toe dat haar voorkop vol slootjies word. “Hm, hm,” sê sy. “Lyk my Abraham het sy tong uitgedroom. Hm, hm!” en sy loop toe-oë en voel-voel by die deur uit na haar kamer toe.
Bramie sluk sy laaste koffiesluk, gryp sy handdoek en spring deur die venster om in die bergstroom net bokant die wasbalie sy gesig te was. Grietjie moet in die waskom in haar kamer was omdat sy ’n meisie is en sy moet skoene dra skool toe omdat sy in ’n meisieskool is, maar hy kan lekker in die bergsloot was en kaalvoet skool toe gaan tot hy dertien is soos Giel, tot dan kan hy kaalvoet na die seunskool gaan, en dan moet hy ook skoene en sokkies dra.
“Môre, duusmannetjie,” sê Jafta Paal van die lemmetjieboom af waar hy sy rantsoenemmertjie aan die hoogste tak ophang. “Hups soos ’n ratel en vroeg uit die katel, ni!”
“Môre, outa Jaffie,” sê Bramie en hy glip gou weer deur sy venster en trek hom vinnig aan. Voordat Grietjie haar vlegsels uitgekam en gevleg het, sal hy tog klaar in sy hemp en sy broek wees, met die gestreepte skooldassie om die nek geknoop. In die kamer langsaan hoor hy Grietjie praat: “Ai Nonkie, hoekom vleg jy nie eendag vir my ook sulke mierpaadjies oor die kop soos Trui altyd het nie, hè, ai Nonkie? Eina!”
“Staan stil, Grieta,” sê ai Nonkie. “En basta met jou mierpaadjies. Jou hare is te lank en te glad vir mierpaadjies. As jy sulke Masbiek-hare het soos Trui, kan ons altemitters vir jou mierpaadjies maak.”
“Hoekom is jou hare nie ook so soos Trui en Meisie en antie Willem Houtmens s’n nie, hè, ai Nonkie? Eina!” sê Grietjie.
“Ek het ordintlike Malbaarbloed en ordintlike Malbaarhare, daaroor,” sê ai Nonkie. “Nou kam ek my ’n kondee en ek knoop my kopdoek daarom. Staan stil, Ounooi.”
“Hoekom kan ek nie ook so ’n bolla, so ’n kondee, dra nie, ai Nonkie? Dan steek ons soggens net my vlegsels op en dan hoef ons mos nie elke oggend so uit te borsel nie, hè, ai Nonkie?”
“’n Bril pas nie by ’n bôjaan nie en ’n kondee pas nie by ’n kind nie, daaroor,” sê ai Nonkie.
“Kondee, kondee, kondee,” sê Grietjie vinnig soos een wat tafels leer. “Kondee – eina, ai Nonkie! Jy gee altyd so ’n harde trek as jy die strikkie bind. Hoekom kan my hare nie so kort soos Bramie s’n wees nie? Dan hoef ek nooit koeke uit te kam en linte te soek nie.”
“Toe maar, Ounooi,” sê ai Nonkie, “jy’t ’n alte goeie kop gladde hare, laat bly maar die ou kortkopseunskinders wat soos afhoringrammetjies lyk, laat bly maar vir hulle, wat!”
Bramie steek sy kop by die deur in: “Kondee-kondee-kondee,” sê hy. “Die pap is in die spens en jy moet kom-eet, kom-eet, kom-eet!”
Toe hulle klaar geëet en monde afgevee en tant Letta en oom Koos gesoen het, stap Bramie en Grietjie in die plaaspad langs die wingerd af tot by die wit poort. Daar wag hulle vir Giel en sy broertjie Gert wat met die eenperdkarretjie van Janbewersfontein af in die ver hoek van die kloof kom. Bramie se donkerblou petjie wip-wip langs Grietjie se wit hoed met die skoolband om, en agter hulle draf Lappies, die bont brakkie. Toe hulle by die poort kom, hou Giel net in die pad stil. “Môre! Môre!” skree hy van ver af. “Roer julle stampers, ons is laat!”
Lappies draf saam tot by die pad en staan en kyk hoe Grietjie eers inklim en op die agterbankie gaan sit by Gert, en Bramie dan opwip en op die voorste bankie langs Giel neerval. Dan gee hy ’n kort blaffie, spring kortom en hardloop na die hek waar hy deurglip en ruik-ruik al op oom Koos se spore aandraf na die skoffeldam in die wingerd.
Die oggend se ry met die karretjie is vir Bramie die lekkerste lekker van die dag, baie lekkerder as die middag se terugry. Die oggendwindjie vee soos ’n sagte, koel blaretakkie oor jou wang, en oral in die skeure en voue teen Vaalkop kruip die vroeë skaduwees weg soos groot blou voëls wat wag dat die son hulle moet kom uitlig. Sjlip-sjlap, sjlip-sjlap skiet die karwiele die los sand in die pad op, en ug-ug-ug-ug maak die ou swart perd van pure lospoot draf tussen die dennebome en onder die keurtjietakke deur. Gert sit met ’n boek op sy skoot en probeer so tussen die stamp en die swaai deur nog ’n paar spelwoorde leer, want hy is twaalf en in standerd vier by ’n meneer wat alte maklik ’n lat inlê oor sleg spel. Grietjie sit en lees in haar biblioteekboek en blaai net af en toe girts die bladsy om. Giel praat niks, want hy dink aan al die huiswerk wat hy nog nie gedoen het nie en aan die Engels en die geskiedenis wat hy nooit kan onthou nie. Af en toe versit hy net sy voete voor teen die plank en gee die leisels ’n ligte plukkie. Bramie hou sy kop so skuins na die dennebos se kant toe en luister hoe ’n duif roep:
“Soet s-oe-ntjies! Soet s-oe-ntjies!” Al hoe verder en verder weg raak die soet soentjies en al hoe nader kom die geluid van die rivierwater soos die pad afsak na die drif toe.
“Hoit!” sê Gert en die swart perd gee ’n paar skommeltreë, stap kips-kaps, kips-kaps oor die droë sementblad en gee ’n harde snuif voordat hy sy kop laat sak en ploeps-plaps, ploeps-plaps deur die drif loop en anderkant teen die skuinste uit waar hy ’n slag sy maanhare losskud, sy nek sekel maak en met ’n ruk op ’n draffie wegspring teen die skuinste uit en om die draai die dorp in. Eers moet hulle die botter by die pastorie aflaai en dis Bramie wat moet afklim en die mandjie by die kombuis gaan gee. Daarna hou hulle by die steil straat voor die meisieskool stil waar Grietjie afklim, en dan ry hulle aan na oom Karel Theron se dorpplaas waar hulle uitspan en die kar en perd laat staan tot die middag ná skool.
Hierdie middag se terugry is, soos al die ander middae, nie lekker nie. Gert sê maar nog niks, want hy het tóg teëspoed gehad met die spelling. Grietjie probeer nog hier en daar ’n stukkie in haar boek lees, maar Giel raas en skree en skoor met almal, want hy is te bly dat die skooldag weer ’n keer agter die rug is. “Hoit! Hoit!” skree hy op die ou perd, sommer in die straat al, en by die drif gee hy die leisels ’n paar harde plukke sodat die perd kop onderstebo en met baie snuiwe en proese deur die water struikel en anderkant teen die droë sementblad uitbeur.
In die sandpad deur die dennebos draf die ou swart perd met rukke en swaaie, en Bramie knyp sy boeksak styf tussen sy voete vas en hou agter hom aan die karbankie vas sodat Giel nie dalk moet sien en hom met sy groot mond moet uitlag nie.
“Hoit, jou ou perde-asem!” sê Giel. “Loop dan dat ons by die huis kan kom, a! Nog net drie weke dan is dit vakansie, en nog net drie jaar dan gaan ek glad nie meer na die vervlakste ou skool toe nie!”
“Is dit nooit vir jou lekker in die skool nie, Giel?” vra Grietjie.
“Nee, nooit,” sê Giel. “Skool is ’n plek vir meisiekinders en sagtehandjies.” Hy kyk ’n slag rond, gee die leisels ’n plukkie en stamp Bramie met sy elmboog in die sy. “Sagtehandjies soos jy, ou Braam. Jy’s g’n boer nie, ek sien dit nou al.”
Bramie kyk ver weg oor die sandpad soos een wat dink en nie hoor nie, maar Grietjie sê dadelik: “En wat weet jy miskien van boer, ou Stoffel Gieljan? My pa sê ’n boer moet kop ook hê anders stap sy plaas te voet onder hom uit.”
“Ha!” skater Giel dit uit. “Kop, kop, nè! En wat sal jou kop help as jy nie hande het wat kan werk en baklei nie? Ou Braam is ’n regte sagtepootjie.”
Bramie kyk ’n slag na Giel, toe kyk hy weer voor hom in die pad en hy sê soos een wat gesels soek: “Daar loop die sendingskool se kinders al by die keurtjiebome. Hulle het ons vandag amper uitgeloop.”
“Dan ry ons hulle sommer gou in,” sê Giel en hy spring op en klap die leisels op en af en op en af dat die ou swart perd met ’n ruk en ’n vaart begin hardloop.
Slenter-slenter en op ’n deurmekaar bondel stap die bruinkinders met Klein Willem Houtmens en Jaffie en Diksiel heel voor en Trui tussen die kleintjies van Janbewersfontein op die agterste rand van die klomp. Regoor die troepie pluk Giel die leisels op. “Hoit!” skree hy. “Dag, julle grootpote! Vir wat loop julle so vinnig vandag?”
“Dag, Gielie, dag, Gertjie, dag, Brampies, dag, Grietjie, dag …” loop die stemme uit die troepie almal deurmekaar en oormekaar en die bondeltjie druk teenaan mekaar in die skaduwee van die keurtjieboom en staan grootoog en kyk na die karretjie en die swart perd.
“In watter klas is jy nou, Houtmens?” vra Giel. “Lyk my jy dra die meeste boeke!”
Klein Willem Houtmens kyk na die pakkie boeke in sy hand en toe kyk hy weer op na die karretjie.
“Willem is in standerd ses en hy’s maar twaalf. Sy kop is sowaar lank,” sê Jaffie.
Al die kleingoed kyk na Klein Willem en hy laat sy kop sak en krap met sy toon ’n kringetjie in die sand.
“Houtmens is slimmer as ons almal,” sê Bramie.
“Ag, sommer baie slimmer,” sê Grietjie en sy skud haar kop dat die vlegselpunte teen Gert se skouer vee.
“Wat?” sê Giel. “Slim? Wat help slim hom nou miskien? Sal hy altemit kan boer en kan baklei, hè?” Giel spoeg ’n straaltjie oor die rand van die kar en toe blink sy oë soos dié van een wat ’n splinternuwe wegkruipplek uitgedink het. “Sowaar, dis nou ’n plan! Braam, jy en Houtmens kan mekaar ’n slag baklei dat ons sien, julle is tog ewe groot van lyf. Komaan, ou Braam, jy en Houtmens vat mekaar,” en Giel stamp Braam met sy vuis in die sy.
“Baklei?” sê Bramie so asof dit ’n nuwe Engelse woord is wat hy glad nie ken of verstaan nie.
“Niemand mag op Sadewee baklei nie,” sê Grietjie. “Pa looi die man wat baklei.”
“Ga,” sê Giel en hy spoeg weer oor die rand van die kar in die sand. “Ek sê mos julle is ’n ou lot sagtehandjies.”
“Toe, Braam,” sê Gert wat skielik ook wakker is, “vat jy en Klein Houtmens mekaar ’n slag lat ons sien. Hy’s tog ouer as jy, maar julle is ewe groot, toe, man.”
Klein Willem Houtmens gee ’n tree agteruit en sy oë is groot en bang, en dit lyk of die troepie bruinkinders op ’n kleiner bondeltjie druk. Jaffie staan styf teen Diksiel en Trui pluk haar rok op die een heup vorentoe soos een wat ’n vlooi voel. “Oeha!” sê een van die kleintjies en hy gaan plat in die skaduwee sit.
“Ga,” sê Giel en hy trek sy mond op ’n vies plooi, “waar’t jy nou gesien twee uitgevrete mannetjies kan nie eers mekaar vat nie? Sies, julle is ou regte ouvrouens. Braam, jy en Houtmens, en sommer julle almal op Sadewee.”
Bramie voel hoe sy gesigvel styf trek en sy maag op ’n klein hopie krimp en hy druk sy naels teen die harde plank van die karbankie dat sy vingers lam word. Deur die dennebos sny die sonbesies se bewestem en die ou perd gee ’n harde snuif en versit sy een poot so hard dat die karretjie wikkel.
“Toe wat, ou Braam man,” sê Gert soos een wat die eerste ryp pruim van jou afsoebat. “Maak net so ’n klein molletjie, man!”
“As jy en Houtmens mekaar nie eers kan vat nie, sal ons weet julle is ’n lot ouvrouens op Sadewee, sowaar,” sê Giel en hy spoeg weer ’n blink streep oor die kar se rand.
Toe voel dit vir Bramie of hy losraak uit sy eie vel en hy klim stadig van die karretjie af, spoeg ’n slag oor sy een skouer en sê: “Komaan, Houtmens, vir wat staan jy nog so?”
“Bramie!” skree Grietjie. “Wat makeer jou?”
“Bly jy stil, Grietjie,” sê Gert. “Dis nie meisiekind se sake dié nie, hoor jy.”
Die bondeltjie bruinkinders val uitmekaar en staan agtertoe en Bramie sien hoe Jaffie se oë wit en rond lyk soos dié van ’n muil voor hy die loop neem, en hoe Trui haar hele linkerhand se vingers in haar mond druk. En half opsy, soos ’n pruim wat uit die mandjie geval en alleen eenkant toe gerol het, staan Klein Willem Houtmens met sy pakkie boeke in die een hand.
Bramie knip sy oë en sluk die droë kol in sy keel af. “Komaan, Houtmens,” sê hy sonder om op te kyk na Klein Willem se gesig, en hy sien hoe die pakkie boeke in die smal bruin hand effens ruk, maar net daar bly hang. Toe maak hy sy oë toe, gee ’n tree vorentoe, lig sy regterarm op en slaan sommer ’n wilde hou met sy vuis, en sommer nog een en nog een.
Hy sien niks, hoor net hoe ’n bondeltjie boeke flaps op die sand val, en toe voel hy klam, stywe kroeshare teen sy kneukels, die sagte warm kol van ’n oog, ’n neus, ’n elmboog wat opgelig is, ’n hand wat keer en –
“Bramie!” skree Grietjie. “Braam!” En toe staan sy langs hom en gryp hom aan sy skouers, en ver weg roep Giel: “Grietjie man, laat bly hulle! Jy bederf die hele baklei, verbrande meisiekind!”
Almal is so ver, ver weg en Bramie maak sy oë stadig oop en voel of hy uit die donker kelder kom en dronk van die mosruik in die son uitsteier. In die skerp middagson en tog so asof hy nie in die lig is nie, staan Klein Willem Houtmens met sy oë styf toe, sy mond op ’n stywe slootjie geknyp en ’n dun rooi straaltjie by sy neus uit.
Bramie voel hoe sy maag ’n ruk gee en ’n groot, seer kol in sy keel opstoot. Toe spoeg hy hard en ver in die sand, gee Grietjie ’n stoot en sê: “Kom klim op die kar dat ons kan ry.”
Gert skuif eenkant toe en sit agteroor. “Dit was nie so ’n goeie mol nie, wat, Houtmens keer dan net,” sê hy ontevrede.
“Ou Braam het hom darem geplant, hoor!” sê Giel en hy pluk die leisels. “Allamatjiesfontein, ou Braam, jy plant hom toe darem!”
Bramie vee die sweet met sy hempsmou van sy gesig af en druk sy boarm teen sy mond om die seer kol in sy keel te probeer afstoot, en hy sien net so skuinsweg hoe die bondeltjie bruinkinders soos ’n klompie natgereënde kuikens teen die dennebos af streep, maar hy kyk bo-oor hulle om Klein Willem Houtmens nie raak te sien nie.
“Ja-nee,” sê Giel, “jy’t hom darem geplant, ou Braam!”
Grietjie gooi haar vlegsels agtertoe en ruk haar kop in die lug. “Ek wens ek kan jóú plant,” sê sy. “As jy ’n bruinkind is en die boer se kind slaan jou, sal jy mos ook nie terugslaan nie. Sies!” en sy spoeg tussen Braam en Giel deur dat daar ’n nat kol voor teen die karplank sit.
“Meisiekinders hoort ook nie by so ’n baklei nie,” sê Giel. “Nè, ou Braam?”
Bramie kyk net voor hom soos een wat nie luister nie en nie hoor nie en toe sê hy: “Moenie die poort verbyry nie, Giel, jy ry so vinnig.”
“Hoit!” skree Giel en hy pluk die ou swart perd in en wag dat Bramie en Grietjie afklim.
Toe die blou petjie en die wit hoed ’n entjie in die plaaspad teen die wingerd op is, kom Lappies met ’n vaart en ’n kort blaffie deur die hek en teen die draad af tot by hulle. “Dag, Lappies, dag, Lappies,” sê Grietjie sonder om ’n hand uit te steek of hom met die boeksak ’n klappie te gee. Lappies gaan staan, lig sy ore op en wip sy kop heen en weer soos een wat nie mooi verstaan nie en nie mooi weet nie, toe spring hy kortom, hardloop ’n draai, kom terug, glip heen en weer tussen Bramie se bene deur en hap na sy voete. Toe voel dit of die seer kol in Bramie se keel opstoot en dwarsoor sy hele gesig spoel. “Lappies!” sê hy hard, en hy mik ’n skop wat die kollyfbrakkie soos ’n leë mandjie laat omdop en ’n ent in die pad laat afrol voordat hy weer op sy pote kom en met ’n tjankie in die pad ophardloop en deur die hek glip terug wingerd toe.
Grietjie gaan staan soos een wat iets wil sê, toe skop sy ’n klippie opsy en stap sonder praat ’n entjie voor Bramie uit huis toe.
Die aand nadat hulle klaar in die spens geëet het, nadat ou Warie en ai Nonkie al ná die boekevat weg is huis toe en Hans Boesman kom nagsê het, is daar ’n sagte kloppie aan die kombuisdeur.
“Wie’s dit?” skree oom Koos uit die spens uit.
“Dis ek, baas,” sê ’n stem. Bramie voel hoe sy gesig meteens styf word en hy sien hoe Grietjie haar vlegsels agtertoe gooi en haar kop oplig soos een wat skrik.
Oom Koos staan op, stap kombuis toe en maak die bodeur oop. “Goeiste, ou Houtmens,” sê hy, “en wat soek jy so laat?”
“Niks nie, baas,” sê Houtmens stadig en hy bly ’n rukkie stil. “Daar’s sommer ’n moeilikgeit by die kinders, baas.”
“Moeilikheid by die kinders?” sê oom Koos. “Is een siek?”
“Nee, baas,” sê Houtmens en hy bly weer ’n rukkie stil.
“Toe praat nou, Willem,” sê oom Koos. “Wat is die moeilikheid?”
“Baas,” sê Houtmens, “ek wil net vra as die baas met Bramie sil praat, hy’t Klein Willem vanmiddag ’n toe-oog geslat, baas, en so lat sy neus ook stukkend is.”
“Wat?” sê oom Koos, so hard dat Lappies op die stoep opspring en ’n blaffie gee.
“Ja, baas, Jaffie het kom sê. Klein Willem het vir sy ma gesê hy’t geval, baas, en toe kom Jaffie sê,” sê Houtmens.
“Abraham!” roep oom Koos, maar voordat Bramie reg by die spensdeur uit is, staan Grietjie al langs oom Koos.
“Pa,” sê sy, “Pa, Giel het aan Bramie gesit en aan Bramie gesit om met Klein Houtmens te baklei, Pa, en hy’t gesê hulle is almal ouvrouens op Sadewee om hulle nie kan baklei nie en toe baklei Bramie met Klein Houtmens en toe slaan Klein Houtmens nie en toe slaan Bramie hom so, Pa. Maar Bramie wou nie, Pa, dis Giel,” en Grietjie staan uitasem ’n tree agteruit.
“Margareet!” roep tant Letta van die spens af. “Kom hier! Jou pa het nie vir jou geroep nie.”
“Maar Pa, dis regtig so, Pa,” sê Grietjie voor sy stadig omdraai.
“Kyk hier, ek wil nie stories van bure se kinders hoor nie, gehoor, Magriet, loop spens toe,” sê oom Koos. “En mannetjie, wat het jy te sê?”
Bramie kyk na Ou Willem Houtmens se stywe arm en die verslete baadjiemou, en êrens in hom gaan ’n seer plek sit wat baie groter is as die bang wat oor hom gekom het toe hy Houtmens se stem by die deur hoor.
“Ja, Pa,” sê hy, “ek het met Klein Houtmens baklei, Pa.”
Oom Koos steek sy hand in sy sak en haal sy halfvol tabaksakkie uit. “Hier, Houtmens,” sê hy, “vat dié en loop jy maar solank huis toe. Ek sal met Bramie afreken. Dankie dat jy kom sê het.”
“Dankie ook, baas, nag, baas, nag, nôi, nag, Bramie, nag, Grietjie,” sê Willem en hy draai stadig om en stap in die donker weg.
Oom Koos maak die bodeur toe, maar Bramie bly doodstil soos die bakkis teen die muur staan. Toe draai oom Koos om. “O so,” sê hy, “en dan is jy ’n man wat ’n bruinkind slaan en jy weet hy sal nie terugslaan nie? Kyk, kêrel, weet jy nie liegters en bakleiers hoort nie op hierdie bergplaas nie, hè?”
“Ja, Pa,” sê Bramie.
“En nou kan jy kies wat jy wil hê: ek gee jou ’n goeie loesing of jy loop nou na Houtmens se huis toe en jy loop vra vir Klein Willem ekskuus,” sê oom Koos.
Bramie dink aan die bythale van die muilswepie oor ’n bobeen en hy dink aan Antjie Somers en die lang donker pad deur die watersloot na Houtmens se huisie toe en aan Klein Willem se gesig, maar voordat hy kan kies, sê oom Koos: “Nee wag, ek dink jy loop maar sommer nou en jy loop vra vir Klein Willem ekskuus,” en hy maak die bodeur oop en haal die onderdeur se werwel af. Toe staan Grietjie in die spensdeur. “Pa,” sê sy, “asseblief, Pa, kan ek saamgaan?”
“Margareet!” sê tant Letta agter haar. “As ek my sonde nie ontsag nie, loop ek jou nog vanaand deur, hoor! Dis om jy aljimmers saam met die kleingoed ravot dat julle nie meer maat en perk ken nie. Kom vat jou kers en gaan kamer toe.”
“Loop slaap, Ounooi,” sê oom Koos. “Toe, Braam, kry jou stryk.”
“Ja, Pa,” sê Bramie en hy stap stadig oor die stoepie en uit die ligkol van die kombuislampie uit in die voetpad af na die houtbruggie oor die watersloot. Sy bene voel dik en swaar en hy steek sy hande in sy broeksakke en kyk reg voor hom totdat hy die voetpad in die donker soos ’n vaal strepie kan sien lê. Toe hoor hy ’n takkie agter hom kraak en ’n nat snoetjie vroetel teen sy kaal hak.
“Lappies!” sê hy. “Oubaas se ou Lappa!” Hy gaan sit en druk Lappies se warm lyf teen sy wang vas en hy voel twee warm, nat strepies oor sy wange loop. Oor die smal bruin hand met die pakkie boeke, oor Lappies wat soos ’n leë mandjie onder sy skop uitrol, oor al die dinge huil hy nou teen Lappies se warm steekhaarlyf. Lappies lek, lek aan Bramie se gesig, toe spring hy vrolik opsy en gee ’n kort blaffie. Bramie staan stadig op, spoel sy gesig in die watersloot af en stap weer aan in die voetpad.
Ou Willem Houtmens loop net by sy deur in toe Bramie daar aankom. “Naand, outa Willem, is Klein Willem hier?”
Twee, drie, vier koppe loer gelyk oor die onderdeur toe hulle Bramie se stem hoor.
“Naand, Bramie,” sê ’n paar stemmetjies tegelyk.
Agter die koppe kom Klein Willem se gesig in die flou kersliggie te voorskyn. Sy een oog is dik en toe en in sy een neusgat is ’n wit lapprop. Bramie sien skielik weer die smal bruin hand met die pakkie boeke wat effens ruk en hy voel die sagte, warm oog onder sy kneukels en sy maag krimp inmekaar. Toe sluk hy hard en hy sê saggies: “Ekskuus, Klein Willem, dat ek jou geslaan het. Ek is regtig spyt. Ekskuus.”
Klein Willem vryf met sy hand deur sy hare, toe gee hy ’n snaakse snuifie. “Dankie, Bramie,” sê hy, “dis maar reg. Dis maar nie iets nie. Dis maar reg.”
“Ekskuus,” sê Bramie weer en hy staan nog ’n oomblik stil. “Nag, Klein Willem, nag, ai Lily.”
“Nag, Bramie,” sê al die stemme deurmekaar en toe draai Bramie om en stap in die donker terug met Lappies soos ’n wit vlaggie in die voetpad voor hom.