Читать книгу Bosveldliefde vir Jemma - Amelia Strydom - Страница 3
Оглавление1
“Ag nee, vervlaks,” brom Jemma toe haar selfoon in haar sak vibreer. Die stilte in die kraamkamer versplinter met die Black Eyed Peas wat hul optimisme uitbasuin oor die groot aand wat voorlê. Hoekom vergeet sy alewig om die dekselse foon op silent te stel? Die sadistiese stukkie tegnologie moes ook nou natuurlik wag tot albei haar hande in steriele handskoene is.
Melanie, wat nog pas roerloos gelê het asof in ’n koma, se oë vlieg oop. Sy lyk nes ’n wasbeertjie – haar sweet en trane het die grimering om haar donker oë laat loop sodat net twee blouswart kneuskolle daarvan oorbly.
“Kan iemand daai blerrie foon stilmaak? Ek probeer ’n bybie uitdruk.”
Regtig, juffertjie? dink Jemma vies. Pleks jy ’n aks harder probeer, pleks jy saamwerk, dan kon alles al ’n uur gelede verby gewees het! Dadelik is sy egter spyt oor haar ongeduld. Natuurlik irriteer die musiek se leedvermakerige entoesiasme die arme meisie. Vandag is seker die allerverskriklikste dag in haar jong lewe.
Melanie is sewentien jaar oud. ’n Blote kind wat nou self moet kind kry. Die meeste tieners kraam vinnig en betreklik maklik, maar dis nie vreemd om een teë te kom wat dwarstrek nie.
Jemma hou haar gehandskoende hande hulpeloos omhoog en draai na haar kollega. “Lientjie? Asseblief, man?” Die swartkopmeisie drafstap na Jemma se kant van die geboortebad en vroetel in haar kollega se broeksak.
“Ander kant, dink ek,” lag Jemma en swaai haar sitvlak sodat Lientjie die trillende foon kan bykom. Sy vat dit raak, maar laat val dit in haar haas byna in die geboortebad.
“Oeps!” Lientjie vang die foon net betyds voor dit in die water plons. Haar stem is reeds weer professioneel toe sy antwoord: “Jemma Lindeque se foon, hallo . . . Sy’s besig met ’n pasiënt, dokter, kan ek ’n boodskap neem?”
Op daardie oomblik skeur nog ’n kontraksie deur Melanie se tenger liggaam. Sy lig haar halflyf uit die bad en bulk soos ’n verwonde bees. Lientjie bly komkommerkoel. “Jammer, dokter, herhaal seblief?” Sy’s ’n oomblik stil en sê dan aangenaam: “Alles in die haak hier by ons, dankie. Ons pasiënt is in sterk kraam. Suster Lindeque sal terugbel sodra sy kan.”
“Wie’s dit, Lien?” vra Jemma saggies terwyl sy die waterbestande Doppler teen Melanie se maag druk. Die fetale hart klippetieklop deur die vertrek.
“Nóú sit ek jou foon op silent,” sê Lientjie. “Dis ’n man met ’n mooie stem. ’n Dokter Reuben Stiller. Ken jy hom?”
Jemma dink ’n oomblik. “H’n-’n. Hy gesê waaroor dit gaan?”
“Nee, net dat dit – ek haal aan – ‘superbelangrik’ is dat jy hom so gou moontlik terugbel.” Lientjie rol haar oë.
“Nogal, nè. Al wat ek nou as superbelangrik sou beskou, is nóg ’n pasiënt in kraam. Jy’s seker hy’t niks in daai lyn gesê nie?”
“Niks. Hy’t nie soos ’n gynie geklink nie. Wou weet wat ons met die pasiënt aanvang dat sy so gil.”
“Ek wil hóm sien suffer met hierdie bleddie pyn sonder om te gil!” sê Melanie skril.
“Gil gerus, jong,” sê Jemma. “Soms help dit. Nou moet jy net druk so hard jy kan, dan is jou baba gou-gou hier en al die pyn verby.”
Ná die bevalling strompel Jemma met hangskouers na haar kantoor. Medies gesproke het alles seepglad verloop en Melanie het ’n gesonde seuntjie van oor die drie kilogram. Lientjie gaan die twee nog ’n rukkie lank dophou en dan kan hulle huis toe gaan, waar Jemma hulle môre sal besoek.
Jemma rol haar kop van kant tot kant om haar stywe nek uit te strek. Hierdie bevalling het haar ontstel. Sy’s ’n vroedvrou in murg en been. Babas vang is in haar bloed. Haar pa was ’n ginekoloog, en haar ma en albei susters ook. Sy is hart en siel pro-lewe – sy glo dat elke nuwe lewetjie ’n geskenk is. Maar ná hiérdie bevalling . . .
Dis nie die eerste onwelkome baba wat sy vang nie. Glipse vorm ’n stewige deel van haar praktyk se kwota geboortes. Maar Melanie se afsydigheid teenoor haar eie baba, haar totale gebrek aan belangstelling, het Jemma soos ’n vuishou getref.
Hoekom sou Melanie besluit het om die baba te hou? Dalk omdat haar ma belowe het om hom te help grootmaak? Sou dit nie maar beter gewees het om hom te laat aanneem nie? Jemma was dwarsdeur die swangerskap al bekommerd omdat die werklikheid van moederskap net nie tot die tiener wou deurdring nie, maar sy’t haarself getroos dat die baba minstens ’n liefdevolle ouma sou hê.
Nou wonder Jemma egter. Nóg ma nóg ouma het hulle aan klein Günther gesteur. Jemma wou hom dadelik aan Melanie se bors sit, maar die meisie was kwansuis “te moeg” – al was sy heeltemal energiek genoeg vir ’n sigaret buite die gebou. Terug in die kraamkamer het Jemma aangedring dat die baba dadelik moes drink. Melanie het met ’n sug toegegee, maar Jemma sal nooit die afsku op haar gesig vergeet toe sy afkyk na die suigeling nie.
Arme seuntjie, dink Jemma. Watter hartseer lê nie nog vir jou voor nie? Sy vee haar oë met die rugkant van een hand af. Sy gaan nié nou tjank nie. Melanie sal oukei wees. Sy’t net tyd nodig. Jemma het vantevore gesien hoe onwillige tieners in goeie ma’s ontluik, en veral as hulle borsvoed.
Uit die bloute dink Jemma aan haar eie ma. Sou sý geborsvoed het? Die prentjie wil hom nie laat teken nie. Jemma kan die gesofistikeerde dokter Lindeque nie iets so . . . liggaamlik sien doen nie.
As tiener was Jemma heilig oortuig sy en haar susters is aangeneem. Hoe anders, het sy geredeneer, sou haar yskoningin van ’n ma drie kinders bekom het? Beslis nie op die gewone manier nie!
Miskien moet sy haar ma reguit oor die borsvoeding vra. Sommer Sondag wanneer hulle deur hul weeklikse telefoongesprek worstel. Sy sou graag wou weet.
Sy wens sy kon haar eie geboorte onthou. Het haar ma met teerheid na haar gekyk, of het haar gesig soos Melanie s’n gelyk? Was dokter Jemima Lindeque teleurgesteld oor nóg ’n dogter, spyt dat Jemma nie ’n seun was wat die familienaam kon voortdra nie? Heel waarskynlik. Sy kyk immers nou nog na Jemma met gelyke dosisse teleurstelling en afkeer in daardie staalgrys oë.
Demmit, dink Jemma, ek het nie tyd om te sit en droom nie. Hierdie papierwerk gaan nie vanself gedoen kom nie. Dan onthou sy ook van die “superbelangrike” oproep. Sy klap haar foon oop, maar is voorgespring deur ’n SMS: “Bel asb sodra baba uit is. In omgewing. Moet ASAP spreek. Reuben Stiller.”
ASAP nogal, dink Jemma vererg. Tipies dokter! Aanvaar sommer sy’t niks beters om te doen nie. Tog is sy nuuskierig oor wat die man met die mooi stem so dringend wil hê. Sy antwoord met ’n SMS: “Nog uur hier. Ry agterom hospitaal. Volg bordjies na Aktiewe Geboorte-eenheid.”
Jemma is besig om die geboorteregister in te vul toe ’n skaduwee oor die ligblou bladsy val. Sonder om op te kyk, vra sy: “Het sy al gepiepie? Sy mag nêrens gaan voor daai happy event nie. As sy weier om saam te werk, neem ons haar op. Waarsku haar solank: geen pieps, geen panties.”
Die diep lag wat opklink, herinner Jemma aan die rykmanswhiskey wat haar oupa in sy studeerkamer gebêre het: sterk, volrond, classy. Boonop slaan hierdie lag haar asem net so effektief weg soos die amberkleurige vloeistof. Dit laat haar wange selfs nog vinniger vlam vat. Ergerlik voel sy hoedat haar hele gesig rooier as haar kurktrekkerkrulle bloos.
Sy vlieg op uit haar stoel en loop haar vas in ’n gespierde borskas. “Ek . . . uhm . . . jammer. Ek’t gedink jy’s Lientjie, my kollega. Sy’t ook die gewoonte om mens so stilletjies te bekruip.”
Haar oë gly boontoe oor die wit hempsknope, die oop boordjie waarby ’n paar donker borshare tergend uitkrul, die kuiltjie in die sterk ken, tot by die uitsonderlike akwamaryn oë wat haar eie soos magnete aantrek. Oë so blougroen soos die branders se breekplek op ’n helder sonskynoggend. Oë wat behoort aan die lieflikste mansmens wat Jemma nog in haar agt-en-twintig jaar aanskou het.
Jemma weet dat sy iets behoort te sê om die stilte te verbreek – die stilte wat voelbaar soos elektrisiteit tussen hul lywe knetter. Maar dis asof haar brein se ratte vasgehaak het. Die man staan so naby haar dat sy subtiele geur haar behoorlik bedwelm. Iets met sandelhout en speserye . . .
Sy tree dronkerig agteruit om haar uit sy energieveld te verwyder. Maar omdat daar in haar vuurhoutjieboksiekantoor nêrens is om heen te retireer nie, struikel sy bloot oor ’n stoelpoot. Byna beland sy op haar agterwêreld en die visioen van ’n man gryp net betyds haar elmboë vas. Sy bloos sowaar nóg rooier en mompel ’n onverstaanbare verskoning.
“So ja, versigtig!” Hy hou ’n oomblik lank haar arms vas. Dan laat los hy en neem hy haar regterhand in syne. “Reuben Stiller, aangenaam.”
Jemma krys haar naam uit sonder om haar oë van die vloer af te lig. Sy kan dit nie waag om weer na hom te kyk voordat al haar varkies hokgeslaan is nie. Sy vertrou haarself eenvoudig nie. Dit verg al haar konsentrasie om haar hand vir ’n oomblik stil in syne te hou. Dis asof haar lastige ledemaat skielik nuwe senu-eindpunte bygegroei het – dit tintel verruklik orals waar haar hand aan sy vel raak. Sy is hiperbewus van die donker haartjies op sy hande, van die wrywing waar sy mou oor haar hand vee. ’n Onbesonne begeerte om sy hand na haar mond te bring, om sy elegante vingers met haar lippe te verken, spoel oor haar.
Hemel, wat gaan met haar aan? Jemma los sy hand asof dit in ’n adder verander het. Senuagtig loer sy op na die betowerende kykers. Waarvandaan kom hierdie gewaarwording van herkenning, wonder sy koorsig. Sy weet sy’t Reuben Stiller nog nooit vantevore ontmoet nie. Hy’s nie die tipe man wat ’n mens kan vergeet nie: lank en atleties met donker hare wat wil-wil krul oor sy kraag. Sy glimlag is innemend, en toe Jemma sy oë ontmoet, is die humorsin daarin onmiskenbaar. Dit gee ’n tikkie seunsagtigheid, ’n ondeundheid aan sy andersins gesofistikeerde voorkoms.
“Hallo, Jemma. Ek vertrou jou pasiënt het die ontberings van natuurlike geboorte oorleef? Of het sy hard genoeg geskreeu om ’n epiduraal te verdien?”
Jemma kners so hard op haar tande dat sy iets in haar kakebeen hoor kraak. Die lamheid in haar bene verdamp summier. Niks soos ’n goeie dosis arrogansie om ’n mens aarde toe te bring nie.
“Die pasiënt en haar baba is albei piekfyn, dokter. Dankie vir u belangstelling. Geen verdowing was nodig nie, die pasiënt het baie goed reggekom daarsonder.”
“Sjoe, dan wil ek liewer nie dink hoe sy sou geklink het as sy nié goed reggekom het nie! Ek kan nie help om my te verwonder aan die oplewing van natuurlike geboorte nie. Waarom sou enigiemand hulself so wou martel? Niemand weier immers pynmedikasie vir iets soos ’n wortelkanaal nie. Waarom hierdie obsessie om daarsonder te kraam?”
“Seker maar omdat ’n baba nie ’n vrot tand is nie, dokter Stiller,” sê Jemma yskoud. “Seker maar omdat geboorte veronderstel is om ’n piekervaring in ’n vrou se lewe te wees. Maar toemaar, ek kan sien ek mors my asem.” Sy dwing haarself om diep en reëlmatig asem te haal om die tamboerslae van haar hart te laat bedaar. “Ek neem aan u het my nie spesiaal kom sien om my beroep te kritiseer nie. Waaraan het ek die voorreg te danke?”
Die vent gooi sy donker kop agteroor en lag. Jemma verwonder haar onwillekeurig aan die lagplooitjies wat sy blougroen oë omraam. Dan sien sy tot haar ontsteltenis hoe die duiweltjies in daardie einste kykers vermenigvuldig. Hierdie hunk is sowaar besig om hom slap te lag oor haar verontwaardiging!
“Jy kan gerus jou sarkasme saam met jou gedokter sluk, Jemma. Noem my Reuben. En glo my, sodra jy my aanbod gehoor het, sal jy vriendeliker voel.”
“Verkoop jy iets, Reuben?” vra Jemma, haar stem tot ’n pylpunt geslyp toe sy hom op die naam noem. “Want ek kan jou sommer nou al sê ek stel nie belang nie. Miskien moet jy bietjie jou reëlboek vir mediese verkoopsverteenwoordigers lees. Dis nie juis slim taktiek om potensiële kliënte te beledig nog voordat jy die produk bekendgestel het nie.”
“O nee, ek verkoop niks nie. Ek’s ’n dokter, hoor, g’n rep nie!” Hy probeer nie eens sy binnepret verdoesel nie. “Ek stel in jou professionele dienste belang.”
“My dienste?” Sy frons. “Verduidelik asseblief. Miskien is dit omdat ek nie so geleerd soos jy is nie, maar ek verstaan nou nie. Een oomblik minag jy my werk, die volgende wil jy van my dienste gebruik maak. Hoe het ek dit dan nou?”
“O, maar dis nie vir myself nie, dis vir ’n pasiënt.”
“Ag nee, ek het amper vir Ripley’s Believe It or Not! gebel.”
Hy bars weer uit van die lag. Darem een ding wat ’n mens van die selfvoldane vent kan sê, dink Jemma: Hy’s darem nog nie so opgetrek met homself dat hy sy humorsin verloor het nie.
Toe hy weer praat, is Reuben se stem ’n paar grade warmer. “Verskoon my lompheid. Ek’s hier namens ’n pasiënt. ’n Baie . . . bekende pasiënt.”
“O?” vra Jemma, teen haar wil nuuskierig.
“Jy ken seker vir Kaydee? Die popikoon?”
“My suster het dertienjarige tweelingdogters, natúúrlik ken ek vir Kaydee! Ek moes al ’n swaar verdiende fortuin blaas op, kom ons kyk. . .” Sy tel op haar vingers af: “CD’s van Kaydee, plakkate van Kaydee, T-hemde met Kaydee se gesig op . . .”
“My innige simpatie, Jemma. Mag ek jou maar Jemma noem? Dis ’n besonderse naam.”
“Dankie,” sê sy, haar mond ineens droog. “Jy mag maar, jy het tog reeds.”
Dis sy beurt om verleë te lyk. “Jammer, jong, ek’s nie groot op formaliteite nie.” Jemma glimlag toe hy sy hande in sy broeksakke druk asof hy skielik nie meer weet wat om met hulle te maak nie.
“Wel, wanneer jou susterskinders weer verjaar, kan jy vir hulle – hoe sê die tieners? – frosty geskenke gee. Hoe klink persoonlik ondertekende foto’s van Kaydee? Hul vriendinnetjies sal mos vrek van jaloesie.”
“Wow, ek luister?”
“Kaydee en haar man, Adam Jordan, is op die oomblik in Suid-Afrika. Adam het ’n hoofrol in ’n rolprent wat hier verfilm word. Kaydee verwag hul eersteling en sy het my gevra om ’n bekwame vroedvrou te vind vir ’n tuisgeboorte. My navrae het my voor jou deur gebring.”
Jemma is taamlik seker wat die datum is, maar sy loer nietemin gou na die almanak teen die deur. Nee, gekkedag is al verby. Dis einde Mei, nes sy gedink het.
“Dokter Stiller . . .”
“Asseblief, Reuben.”
“Oukei, Reuben. Verwag jy regtig ek moet glo dat ’n Hollywoodglanspaartjie soos Kaydee en Adam hier by ons in Donker Afrika wil kraam? Ek verstaan dat Adam hier verfilm, maar hy kan darem seker ’n vliegkaartjie bekostig om beskawing toe te vlieg vir die bevalling. Of het Brangelina ’n modegier begin? Is die in-ding nou om hier te kraam en ‘Out of Africa’ onder die baba se voet te laat tatoeëer?”
Toe Reuben antwoord, is sy mooi stem ernstig. “Ek weet dit klink verregaande. Maar Kaydee is eintlik heeltemal onopgesmuk. ’n Regte natuurkind.”
“So sy soek ’n Afrika-ervaring. Wil sy voor ’n vuur in ’n wildreservaat kraam, begelei deur tjankende jakkalse en manlief wat tussen haar kontraksies op ’n drom slaan?”
“Ek glo nie sy’t al gedink aan die soundtrack nie, maar ek sal dit voorstel.”
Jemma kan nie help om te glimlag nie.
“Hulle besit ’n pragplaas in die Bosveld, Jemma. Groot Vyf, luukse lodge en als. Jy sal die laaste drie weke van Kaydee se swangerskap daar tuisgaan en vir so ’n week agterna bly om na hulle twee om te sien. Kaydee wou nog altyd ’n tuisgeboorte gehad het. Sy en al vier haar broers is tuis gebore. Natuurlik doen hulle dit ook ter wille van privaatheid. Jy kan dink hoe die media hulle pes.”
“Dis malligheid,” sê Jemma ontstoke. “Dis malligheid, ek kan dit nie doen nie. Ek het pasiënte. Ek kan hulle nie in die steek laat net omdat ’n ryk sangeressie haar vingers klap nie. Party is by my vir hul derde, selfs vierde babas. En nou moet ek vir drie, vier weke weggaan en alles net los?”
“Jy’t nie eens gevra wanneer Kaydee se datum is nie.” Hy glimlag lui.
“Dit maak nie saak nie, ek’s tjok en blok vir Junie en Augustus. Julie neem ek verlof. Ek gaan elke jaar Suidkus toe wanneer Gauteng op sy koudste is.”
“Hierdie jaar kan jy jou verlof op ’n asembenemende wildreservaat deurbring. Waar die dae óók heerlik warm is. Adam se personeel sal jou op die hande dra. Is dit nou nie wonderlik hoe dinge uitgewerk het nie?”
Hy knipoog en iets pluk aan Jemma se binnegoed. Verdomp, hy’s gorgeous.
“Hoekom laat iets my dink jy’t geweet ek is Juliemaand vry?” grom sy.
“Ek doen my huiswerk. Jy’t ’n onberispelike reputasie, almal in die veld respekteer jou.”
“Die heuningkwas gaan jou nêrens bring nie.”
“Hoekom ontmoet jy nie net vir Kaydee en Adam nie? Ons kan iets reël – ’n braai, miskien – en as jy daarna nog voel jy sien nie kans nie, dan het jy darem daardie handtekeninge gekry.”
“Nee. Ek wil hulle glad nie ontmoet nie. Ek het klaar besluit ek gaan nie die bevalling doen nie.”
“Genade, jy’s die hardkoppigste vrou wat ek nog teëgekom het! Dit moet die rooi lokke wees. Wat op aarde kan jy verloor deur hulle te ontmoet?”
Jemma plooi haar mond. “Daar’s één ding waarteen ek geen verweer het nie: ’n swanger vrou met ’n geboortedroom. Ek gáán Juliemaand afvat – ek’s dit aan myself en my pasiënte verskuldig. Maar ek weet daar sal niks van kom as ek eers jou Kaydee ontmoet het nie.”
Hy vee die skelm kyk so haastig van sy sexy gesig af dat sy dit ampertjies mis. Daar gee sy nou mooitjies die truuk waarmee hy haar kan sagmaak op ’n skinkbord vir hom aan! Sy skud haar kop dat haar poniestert wip.
“Aikôna, vergeet dit! Ek sien sommer hoe trek die rook by jou ore uit soos jy konkel, maar spaar jouself die moeite. Ek sê jou nou, ek gaan dit nie doen nie. Ek gaan nie eens met Kaydee práát nie. Buitendien, daar’s ander vroedvroue ook in die land, ek sal vir jou ’n paar nommers gee.” Sy blaai deur haar dagboek na die bladsy met telefoonnommers. “Waar’s die reservaat?”
“Naby Pilanesberg. Dis bietjie meer as ’n uur se ry van Rustenburg af.”
“ ’n Úúr van Rustenburg af?” Verligting sif soos somerreën oor Jemma neer. “Wel, in daardie geval is ’n tuisgeboorte in elk geval buite die kwessie, by my of enige ander vroedvrou. Mens moet ’n halfuur van die naaste groot hospitaal wees – een met ’n neonatale ICU.” Sy klap haar boekie toe. “Daar het jy dit. Jou kliënte sal maar ’n ander plan moet maak.”
Iets aan sy lag laat haar dink dat hy hierdie keer vír haar lag, nie saam met haar nie. Sy voel soos ’n skooldogter wat per ongeluk by die seunskleedkamers ingestorm het.
“Wat’s so snaaks?”
“Hulle sal binne ’n halfuur daar kan wees, Jemma.”
“Ag kom nou, jy’t nou net gesê Rustenburg is ’n uur weg. Miskien sal ons dit binne ’n driekwartier kan haal as ons die spoedgrens breek en laag vlieg, maar –”
“Maar wat as ons so ’n bietjie hoër vlieg?” Hy glimlag onskuldig. “Jy hou nie rekening met die mense waarmee ons te doen het nie. Hulle’s meer as ’n uur per motor van Rustenburg af, maar met een van hul helikopters is dit minder as ’n halfuur weg.”
Jemma voel hoe haar mond oop en toe gaap soos ’n sterwende forel s’n. Haar verskonings is besig om op te droog. Dan kom Reuben haar onverwags en onbedoeld te hulp.
“Buitendien hoef jy nie jou kop te breek oor noodgevalle nie. Dis waar ek inkom.” Verbeel sy haar, of swel sy borskas nog breër? “Ek’s ’n neonatoloog. Jy moet net vir ons die kerse aansteek, Kaydee se rug vryf en die baba in die jacuzzi vang. Maar die oomblik as Jordan Junior uit is, is hy my verantwoordelikheid. Hierdie ouers gaan nie kanse vat nie.”
Oombliklik is Jemma smoorkwaad. Só kwaad dat sy reeds haar vingers om Reuben se nek kan voel sluit, kan voel hoe sy die suurstof bietjie vir bietjie uit sy sexy strot wurg.
“Kanse vat?! O, ek sien! Jy bedoel ek’s daar vir window dressing, om die ervaring vir die bedorwe brokkie spesiaal te maak. Maar sodra dit by die lewensbelangrike kwessies kom, soos by die baba se gesondheid, dan kan ek nie vertrou word nie. Dan moet Hollywood die professionals inroep – iemand wat ten minste MBChB agter sy naam kan skryf!” En boonop lyk of hy van die ER-stel ontsnap het, dink sy heimlik.
“Wel, ek het nuus vir jou, dókter Stiller. Vroedvroue is kundiges in eie reg. Ons is heeltemal bekwaam om die verantwoordelikheid vir ma én baba te dra – ons doen dit al eeue lank. En as jy dink ek sal ewe gedienstig agternadrentel soos ’n gekniehalterde perdjie, maak jy ’n hengse fout! Ek’s geen dokter se handlanger nie. Sê vir Kaydee hier’s ’n news flash: you can’t have it both ways, dearie. Óf jy vertrou ’n vroedvrou volkome om na jou en die baba om te sien óf jy doen dit op die gewone manier, in ’n hospitaal, op die dokters se turf.”
Toe sy opkom vir asem lig Reuben sy hand in ’n vredesgebaar. “Hokaai, nie so vinnig op jou perdjie nie! Ek weet rooikopvroumense is berug vir hul kort humeur, maar gee ’n man darem ’n kans om te verduidelik –”
“Nee wat, ek dink nie jy moet eens probéér nie. Jy praat jouself net al dieper in die sop in met jou verfoeilike stereotipes. As dit nie teen vroedvroue is nie, is dit teen rooikoppe! Teen ‘vroumense’! Ek’t niks verder te sê vir ’n chauvinistiese snob soos jy nie. Kry jou ry, ek het werk om te doen.”
Toe hy nie dadelik gehoorsaam nie, kry Jemma hom aan een bultende boarm beet. Genadeloos stuur sy hom deur toe.
“Jemma, kan ons nie net –”
“Nee, ons kan nie. Ek’s seker jy sal ’n ginekoloog kan invlieg vir die celebrity-bevalling as die prys reg is. Weet nie wie die pasiënt se rug gaan vrywe nie, want geen gynie sal so laag daal nie. Maar ek laat myself en my professie nie so beledig nie. Óf ’n pasiënt vertrou my óf sy kan dit heeltemal los. Ek werk nie met ’n dokter wat oor my skouer loer nie.”
Toe hy vir oulaas in die deurkosyn omswaai, sien Jemma die onweer in sy blougroen oë. Hy kners sigbaar op sy tande.
“Lyk my iemand het ’n chip op haar skouer. Kan nie sê ek’s verbaas nie. Ek het gewonder of jy nie issues het nie – die enigste verpleegkundige in ’n familie van dokters. Ook maar goed ek het jou persoonlik kom sien. Ek sal die Jordans laat weet dat ek nie so ’n opvlieënde geitjie kan aanbeveel nie, maak nie saak hoe bekwaam jy is nie.”
En daarmee verdwyn hy in die gang af.