Читать книгу Bosveldliefde vir Jemma - Amelia Strydom - Страница 4
Оглавление2
“Lientjie, néé!” Jemma pluk venynig aan die treklaken om die kreukels glad te kry. “Moenie jy ook nog karring nie! Ek het géén begeerte om my swaar verdiende verlof op te offer om iewers in die grammadoelas vroedvrou vir die sterre te gaan speel nie.”
“Oukei, oukei! Jinne, jy laat dit klink asof die mense van jou verwag om die baba gratis en verniet te kom vang. ’n Maand in ’n luukse privaat reservaat met net een ou pasiëntjie klink nou nie vir my na ’n hengse opoffering nie, en veral nie as mens in ag neem dat jy ses maande se inkomste gaan verdien nie. Jy kan mos maar daar ook gaan ontspan en boonop ’n hoop dollars bymekaarmaak.”
“Ek soek die séé,” brom Jemma. “Nie die dorre ou Bosveld nie. En ek soek rus en vrede. Elke jaar vandat ek hierdie praktyk oopgemaak het, vat ek Julie af, want dis ons stilste babamaand, sodat ek vir vier salige weke aan geen selfoon of serviks hoef te dink nie.” Sy skop ’n geel geboortebal dat dit met ’n gekletter teen die asblik aan rol. “Én jy vergeet van daardie onuitstaanbare mansmens.”
Lientjie skud onverstoord ’n kussing reg. “Die onuitstaanbare mansmens het darem ’n pragtige bos lelies met ’n alte verskonende kaartjie gestuur. En jou aanbeveel ten spyte van jou parmantigheid, anders sou die Jordans tog nie daai vreeslik vrygewige aanbod gemaak het nie. Ek’s seker Stiller het nie bedoel om jou achilleshiel nerfaf te trap nie, Jem. Hoe moes hy nou weet jy gaan in ’n tierwyfie verander net omdat daar ’n dokter op standby is?”
Jemma snork onvroulik, maar Lientjie hou haar doof en praat voort. “Eintlik verstaan ek nie waaroor jy so ’n bohaai opskop nie. Meeste pa’s skop mos teen tuisgeboorte. Dit kos altyd oorreding om hulle te oortuig dis veilig. Dis seker nou Adam Jordan wat aandring op ’n dokter, man, nie Kaydee nie. En hulle ís ver van ’n hospitaal af daar op die wildplaas.” Lientjie gryp een punt van die duvet en beduie vir Jemma om anderkant te vat. “Is dit so ’n doodsonde dat hulle ’n pediater daar wil hê? Ek is doodseker dis nie bedoel as betwyfeling van jou bekwaamheid nie.”
“Jy wéét ek kan die baba so goed soos enige dokter resussiteer op pad hospitaal toe.”
“Ek weet, ja. Jou noodhulpkwalifikasies is indrukwekkend. Maar jy werk self nooit sonder ’n backup vroedvrou nie.”
Dis waar. Jemma dring aan op twee pare hande by elke bevalling, net ingeval daar ’n probleem met die ma sowel as met die baba is.
“En ek kan nie saamgaan nie, iemand moet die fort hier hou,” gaan Lientjie voort. “Waar gaan jy op sulke kort kennisgewing ’n ander vroedvrou kry om jou in die boendoes te gaan assisteer? Kan jy Stiller nie maar as ’n tweede paar hande sien nie? Wat medikasie en toerusting byderhand gaan hê, goed wat jy nie mag dra nie?” Lientjie se oë vonkel. “En wat dan boonop iets vir die oog is?”
“Nou’s my eie vennoot ook aan die vyand se kant,” kla Jemma. “Was dit daai blougroen oë wat jou so betower het? Hoekom gaan doen jý nie die bevalling nie, as dit vir jou so idillies klink?”
Lientjie weier om vies te word. “Want ek’s nie die een wat gevra is nie. Ek spaar ook nie om na my sus se bybie te gaan kyk nie. Met hierdie meevallertjie kan jy jou vliegkaartjie Kanada toe koop én daai temperamentele ryding van jou laat aftree.”
“Micky makeer niks, dankie,” verdedig Jemma die suur-lemoengeel Golfie waarmee sy al sedert haar studentejare ry. “Soos jy haar beswadder, sou mens sweer sy laat my gedurig in die steek.”
“Elke nag wat jy hier wegry, bekommer ek my vrek oor jou. Ek verstaan jy’s te trots om ’n nuwe kar van jou ma te aanvaar, maar dit slaan my dronk dat jy nou nie hierdie gulde geleentheid wil aangryp nie. Dink net aan al daai geld!”
Lientjie se gesig is so verstandig geplooi dat Jemma moet lag.
“Jy’s darem bitterlik wys vir jou jare, Lien! ’n Regte moedertjie, en jy’s nog skaars gekwalifiseer. Ek weet nie hoe ek ooit sonder jou klaargekom het nie.” Sy gee haar swartkop-vennoot ’n vinnige druk en gaan dan ernstig voort.
“Ek’s nie blind vir my eie foute nie. Ek weet my tone is langer as ’n volstruis s’n as dit by die hele vroedvrou-versus-verloskundige-debat kom.”
Lientjie glimlag begrypend en Jemma het skielik die behoefte om verder te verduidelik.
“Man, sien, my familie het nog nooit my beroep aanvaar nie. Die dag toe my ma my wegvat varsity toe, het sy gesê my pa draai in sy graf om oor ek so ’n nederige beroep gekies het.” Jemma sluk hard en tuur ’n oomblik nikssiende by die venster uit. “Sy kon nie verstaan dat geld en aansien nie vir my belangrik was nie. Sy’t wragtig gedink ek’s net te lui om medies te gaan swot. Sy dink dit nou nog.” Jemma swaai om. “Ek wóú nooit ’n dokter wees nie, Lien. Ek wil tog nie ’n onpersoonlike wit jas oorkant die lessenaar wees nie. Ek’s trots daarop dat ek tyd het om my pasiënte te leer ken. My ma verstaan dit glad nie. Ek’s vir haar ’n hengse teleurstelling omdat ek nie in haar formidabele spykerhakke gevolg het nie.”
“Maar Jemma, dink net aan al die publisiteit wat jy vir vroedvroue gaan skep as jy hierdie sterre se bybie vang. Dit gaan natuurlike tuisgeboorte cool maak!”
Jemma vryf ’n denkbeeldige kol van die geboortebad se rand af. “Weet jy hoe sal my familie dit sien as ek by hierdie celebs betrokke raak? Hulle sal sê dis nou weer ’n tipiese voorbeeld van my kastige jongste-kind-rebellie. Volgens hulle het ek ’n vroedvrou geword net om anders te wees. Van kleins af spot hulle dat ek die kollig soek omdat ek altyd die laaste een was om goed te bemeester. Hierdie geboorte . . . dit sal lyk of ek aandag soek, man. En as hulle dan nog hoor dat daar ’n dokter by was . . . Dit sal hul mening versterk dat vroedvroue net gynies se handlangers is. Nee wat, ek het klaar besluit. Ek gaan Julie see toe en klaar!”
Dis amper halftien toe Jemma die kliniek toesluit. Woensdagaande gee sy voorgeboorteklasse. Die vyf paartjies in die huidige groep kuier alte graag ná die klas nog ’n bietjie saam. Vanaand moes sy hulle omtrent by die deur uitboender.
Sy kyk links en regs oor die parkeerterrein voordat sy na haar kar stap. Die geboorte-eenheid is agter die hospitaal en Micky staan dikwels saans alleen in die verlate noordelike parkeerterrein. Vanaand is daar geen ander siel te sien nie. Sy oorweeg dit om sekuriteit uit die kliniek te gaan bel en te vra vir ’n wag om haar te vergesel. Ag nee, besluit sy egter, dis te veel moeite om weer oop te sluit. Sy wil net by die huis kom, dit was ’n lang dag.
Sommerso in die drafstap soek sy die motorsleutels in haar oorgroot handsak. Natuurlik het hulle weer heel onder gaan nesskop waar sy hulle nie raak gevat kry nie. Vies steek sy voor Micky vas, maak haar handsak op die dak staan en begin met mening grawe. Sy’s nie bang nie, maak sy haarself wys, dis net grillerig om alleen in die swak verligte parkeerterrein te wees. Dit voel of onsigbare oë uit die halfdonker na haar loer en Jemma is verlig toe haar vingers eindelik om die sleutels vou. Nou net die deur oopsukkel. Micky dateer uit die era voor sentrale sluiting.
Toe die slot oopklik, loer sy eers na die agterste sitplek om te verseker dat geen booswig hom daar tuis gemaak het nie. Sy wens haar pasiënte wil ophou om vir haar e-pos te stuur met veiligheidswenke soos dié een. Sy weet hulle bedoel dit goed en is besorg omdat sy snags alleen rondry, maar dit gee haar die heebie-jeebies. Sy’t so ’n vrugbare verbeelding dat sy nie bangmaakstories nodig het nie.
Met ’n verligte sug sluit sy die Golfie se deur van binne. Te laat val dit haar by dat sy oudergewoonte vergeet het om haar handsak in die kattebak te bêre. Dan maar die ding onder haar sitplek indruk, al weet sy dit flous nie die smash-and-grabbers nie. Sy draai die sleutel in die aansitter. Maar pleks van ’n gerusstellende enjinbrul is daar net ’n kommerwekkende kuggie. Toe sy weer probeer, net doodse stilte.
“Demmit, Micky!” Sy slaan plathand teen die stuurwiel. “Hoekom alewig in die nag? En dit nadat ek jou net vandag teenoor Lien verdedig het.”
Sy vroetel haar beursie uit haar handsak en probeer die kajuitliggie aanskakel. Maar selfs dié is morsdood. Dan maar met haar selfoonliggie die AA-kaart opspoor.
Sy is besig om deur die magdom kaartjies in haar beursie te vroetel toe iemand aan die ruit langs haar klop. Sy gil gesmoord en wip so hoog in haar sitplek dat die hele motortjie saam met haar ruk. Die figuur staan tru en lig sy hande paaiend. Jemma trek haar oë op skrefies om die halfbekende gesig te probeer eien. Dis Reuben Stiller! Sy laat sak haar voorkop ’n oomblik pateties teen die stuurwiel voordat sy die deur bewerig oopsluit.
“Ek’s so jammer,” sê hy. “Ek wou jou nie laat skrik nie.”
Jemma maak haar mond oop, maar haar stembande weier om saam te werk. Sy lig floutjies haar hand om te beduie dat dit in die haak is.
“Wil jou kar nie vat nie? Het jy hulp nodig?”
Sy knik dankbaar en klim met knakkende knieë uit sodat hy haar plek in die motor kan inneem. Ook hy draai die sleutel sonder sukses.
“Lyk soos die battery. Het jy dalk jou ligte aan vergeet?”
Jemma mik ’n giftige kyk na sy kant toe en verwerdig haar nie eens om te antwoord nie. Hy trek sy skouers op en glimlag ontwapenend.
“Oukei. Hoe oud is hierdie battery?”
Jemma plooi haar mond soos sy dink. “Laat ek sien . . . Sy’t my laas met Lizette se bevalling in die steek gelaat. Vrek ongerieflik, hulle’s op ’n plot naby Donkerhoek. Uhm . . . daai kleintjie is nou so drie.”
“Dis dan tyd,” sê hy lakonies. “Jy’s gelukkig die battery het so lank gehou.” Hy kom staan hande in die sakke langs haar, naby genoeg dat sy haar in sy unieke manlike reuk kan verlekker ten spyte van die simpel omstandighede.
“Wat maak jy hier?” vra sy eensklaps agterdogtig.
Hy kyk af na sy skoene. “Ek’t kom kyk of ek jou nie van plan kan laat verander nie.”
“Gedink die blomme het my dalk saggemaak?”
“Die hoop beskaam nie. Jammer dat ek jou verkeerd opgevryf het, Jemma.”
“Ek’s ook jammer ek het my humeur so verloor. Maar my besluit staan.” Sy hoop die finaliteit in haar stem oortuig hom. “Ek moet gaan, ek wil terug kliniek toe dat ek die AA kan gaan bel.”
Hy skud sy donker kop beslis. “Vergeet dit. Ek haal gou die battery vir jou uit, dan vat ek jou huis toe. Jy kan môre vir jou ’n nuwe een gaan koop.”
“Dankie, maar dis beter dat die AA dit sommer nou kom vervang. Wat as ek vannag moet ry vir ’n bevalling?”
Selfs in die dowwe lig van die parkeerterrein kan sy sien hoe die lagkreukels om sy oë plooi. “Die AA sal jou nie va-naand met een kan help nie.”
“Dra hulle dan nie die goed saam nie?”
“Nee, man, alle batterye is mos nie dieselfde nie. Ry saam, jou vennoot kan jou kom oplaai as ’n bevalling opduik. Ek verstaan van jul webwerf julle werk altyd twee-twee?”
Jemma draai die punt van haar vlegsel om en om haar wysvinger en sug. “Ek wil nie moeite wees nie.”
“Jy bedoel jy wil nie by my in die skuld wees nie?” Sy oë lag en sy maak verleë keel skoon.
“Net so.”
“Kom, Jemma, no strings attached.”
Jemma weifel nog ’n oomblik, maar besluit dit sal kortsigtig wees om sy aanbod te weier. Sy’s moeg en allesbehalwe lus om ure lank op die AA te wag. Boonop twyfel sy of daar vanaand ’n kraamgeval sal wees. Hulle gaan waarskynlik eers weer oor ’n week of so besig word.
“Nou goed, dankie. Maar jy sal my ongelukkig moet help karwei aan my toerusting. Ek wil dit nie in Micky los nie, netnou het ek dit vannag nodig.”
“Micky?” Hy sluit die kattebak oop.
“Ek het die kar so gedoop toe ek haar gekry het. Kyk, haar registrasienommer begin met MKY.”
“Ek sien. Ek’t nog altyd gewonder hoe mense aan die name vir hul karre kom. Myne was nog altyd maar net ‘die Jeep’.”
Hy lig haar verslete swart dokterstas wat nog aan haar pa behoort het uit die kattebak. Sy beduie dat die plastiektrommel en die suurstofsilinder ook moet saamkom.
“Dis omtrent ’n pakkaas. Gaan dit saam na elke tuisbevalling toe?”
“Jip. Ek moet gewoonlik ’n paar keer heen en weer stap om als uit te dra. ’n Beslommernis as die huis ’n klomp trappe het. Of as hulle my eers op nommer nege-en-negentig bel.”
Hulle stap gesels-gesels tot voor die hoofingang. Reuben beduie na ’n blinkswart Jeep Wrangler wat half eenkant staan.
“My ryding. Nie soveel karakter soos Micky nie, maar hy kry my waar ek moet wees.”
“Darem seker ook nie so vol nukke soos Micky nie,” lag Jemma. “Almal torring aan my om ’n nuwe motor te kry: Lientjie, my ma-hulle, tot my pasiënte!”
Hy maak galant die passasiersdeur oop en laai haar toerusting op die agtersitplek. Behaaglik vly Jemma haar op die leersitplek neer. Sy kar ruik na hom, besef sy. Vars en aards.
Hy skuif langs haar in. “So, waarheen ry ek?”
Sy gee die adres van haar sinkdakhuis in ’n kleurryke ouer voorstad. By die hoofpad draai hy egter links pleks van regs. Dadelik is sy geïrriteerd. Hoekom maak die man asof hy presies weet waarheen om te ry as hy onseker is?
“En nou? Jy sal daar voor moet omdraai, my huis is anderkant toe.”
“En nou ontvoer ek jou gou vir ’n koppie koffie.”
“Agge nee, Reuben, asseblief. Ek’s vodde, ek wil gaan slaap. Ek kan vannag uitgeroep word, ek kan nie in koffiewinkels rondflenter nie.”
“Wie’t enigiets oor ’n koffiewinkel gesê?”
Woede vlam in haar op. “Jy neem my na jou kliënte toe, nè? Jy gaan my wragtig teen my sin na hulle toe sleep sodat hulle my kan probeer oorreed. Dis laag, man! Dis ontvoering! Dit sal my glad nie verbaas as jy nog my kar gesaboteer het ook nie!”
Versigtig loer Jemma na sy kant toe, skielik bekommerd dat sy nou te ver gegaan het. Maar selfs in die flikkerende stadsliggies is die skuld op sy aantreklike gesig onmiskenbaar.
“Jy hét my kar gesaboteer! Jou skurk! Hoeveel betaal hierdie mense jou om tot sulke nonsens te daal?”
“Tegnies gesproke het ek nie jou kar gesaboteer nie. Ek het bloot nagelaat om jou te sê dat jy vroeër vanaand die kajuitliggie aan vergeet het. Ná jy jou lippe rooi gemaak het in die spieël.”
Dit tref Jemma soos ’n skoot yswater in die gesig. Dis waar. Skaamkwaad gluur sy by die venster uit.
“Dankie tog, so jy’s ’n skadelose stalker, nie ’n motorsaboteur nie.” Sarkasme drup uit haar woorde soos sjokoladestroop uit basaarkrimpvarkies. Sy onderdruk ’n rilling en voel hoe haar tande teen mekaar wil-wil kletter.
“Jy kry koud. Hoe onbedagsaam van my.” Hy skakel die verwarmer aan.
“Dankie,” mompel sy onwillig. “Maar ek klappertand altyd so as ek die hel in is. Van kleins af. Dis flippen embarrassing.”
“Adrenalien,” sê hy droog, sy oë stip op die pad. “Ek’s jammer om ’n pes te wees, Jemma. Jammer dat ek hierdie . . . onkonvensionele metodes gebruik om jou te probeer oortuig. Ek is regtig nie gewoonlik so opdringerig nie. In hierdie geval voel ek net dat, wel, dat die doel die middele heilig.”
“En wat is die doel miskien? Is dit die lekker vet tjekkie wat jou onkonvensionele metodes motiveer, of die heimlike begeerte om daai handsome bakkies van jou op ’n paar koerantvoorblaaie te kry?”
Sy swye ná haar beskuldiging is so koel dat Jemma haar baadjie stywer om haar skouers trek. Dikbek kyk sy hoe die straatligte verbyflits. Hulle lê ’n hele paar kilometer in stilte af voor hy eindelik weer praat.
“Ons is hier. Probeer net een ding onthou. Agter al die geld, al die roem en die blink is Kaydee en Adam net twee opgewonde, onseker jong mense wat ondersteuning nodig het deur ’n groot nuwe ervaring.”
Jemma maak haar mond oop om ’n antwoord terug te slinger, maar besef dan dat sy regtig niks het om te sê nie.