Читать книгу Ridder in 'n wit jas - Amelia Strydom - Страница 3
Proloog
Оглавление“Hoeveel verdiepings nóg?” Die derde stel trappe troon soos Everest bo Carli uit. Sy was in haar lewe nog nooit so tot op die been moeg nie. Nie eens toe sy as mediese student skofte van ses-en-dertig uur moes spoed nie. Sedert die begrafnis voel dit of sy ’n sak klippe oral saamsleep.
“Amper bo.” JP vat haar pols en trek haar agter hom aan. “Wanneer kom draf jy saam met my en Darius? Dit sal jou goed doen.”
“Dit sal my doodmaak.” JP en Darius, die liefde van sy lewe, is fiksheidfreaks. Kompleet met liggaamsboulywe.
“Wag eers,” pleit Carli toe hulle bo kom. “Ek moet my . . . asem terugkry.”
JP loer na sy horlosie en sug dramaties. Dan kyk hy haar op en af. “Kom hier dat ek jou presentable maak.” Hy druk ’n paar ontsnapte haarslierte agter haar ore in en knyp haar wange geniepsig.
“Ouch!”
“Ek gee jou net ’n kleurtjie. Die vampire look is adorable by Robert Pattinson, maar doen niks vir jou nie.”
“Al van blosser gehoor? Buitendien, dis heel gepas. Ek dwaal deesdae ook snags rond.”
Hy gee haar arm ’n drukkie. “Kom ons gaan hoor wat meneer Wikus Louw te sê het. Laat my die praatwerk doen, hoor, versekeraars is sharks.”
Carli knik verlig. Wat sou sy sonder JP gedoen het? Sy was bitter teleurgesteld toe haar beste pêl in hul tweede jaar opgeskop het. Hierdie laaste week is sy egter dankievaderbly die kadawers het hom die hiebie-jiebies gegee. Waar anders sou sy ’n prokureur gekry het wat sy honderd persent vertrou?
“Wat bedoel jy, julle gaan nie uitbetaal nie?” bulder JP. “Die lewenspolisse se premies is op datum en my kliënt is die enigste begunstigde.”
Die bebrilde bleeksiel agter die lessenaar lyk allesbehalwe geïntimideerd. “Klousule vier. In die geval van selfmoord betaal ons nie uit nie.”
Carli se mond val oop. Hoe kan die man sy feite so verkeerd kry? Dis bitter onprofessioneel. “My suster en swaer is in ’n motorongeluk dood.”
Wikus Louw draai na haar. Carli wonder of hy en die begrafnisondernemer hul gesigsuitdrukkings uit dieselfde instruksieboek geleer het. Sakkarien-simpatie vir treurende geliefdes.
“Ek is jammer, dokter Cloete, maar dit was nie ’n ongeluk nie. U suster en swaer het hul eie lewens geneem. Hulle het doelbewus by die afgrond afgery.”
“Nee, ek glo dit nie! Hulle sou nooit –”
“Belaglik!” JP se vuis dawer op die tafel. “Julle soek ’n loophole. Daardie couple het alles gehad. ’n Suksesvolle praktyk, ’n gelukkige huwelik.”
Miskien nie alles nie, dink Carli. Maar hulle sou tog nooit daaroor . . .?
Louw hou ’n papier na haar uit.
“Geen verslag gaan my oortuig nie!”
“Dis nie ’n verslag nie.” Hy haal sy bril af en vryf oor sy voorkop. “Dis ’n brief van u suster. Dit was by hul testament.”
Onwillig neem sy die brief in Em se onberispelike handskrif. JP kom lees oor haar skouer. Woorde bespring haar soos aanvallers uit die donker: Onkoloog . . . Metastatiese kanker . . . Prognose vier tot ses maande . . . So jammer . . .
Carli sak terug in haar stoel en wag vir die vlaag naarheid om te bedaar.
“Weet jy iets hiervan, Carli?” vra JP.
“Niks! Hulle het niks gesê nie.”
“Ek, ahem, gee u bietjie privaatheid.” Wikus Louw vlug by die deur uit.
Carli gryp na JP se hande op haar skouers. Reddingsboeie wat keer dat sy nie verdrink nie.
“Sy was vier jaar skoon. Ná die mastektomie, die bestraling, die chemo. Ons het gedink sy’t die kanker gewen.”
“Hulle’t ook so gedink. Dit moes ’n helse skok gewees het . . . hul verstand skoon benewel het.”
“Maar tog, om darem . . .” Sy skud weer haar kop, die woorde te afgryslik om hardop te sê.
“Shit,” sê JP gevoelvol. “Daar’s nie ander geld in die boedel nie. As die polisse nie uitbetaal nie –”
“Dink jy ek wil hul bloedgeld hê?”
“Alles sal verkoop moet word.” Sy stem is sag. “So gou moontlik. Die praktyk, die huis, die voertuie. Hulle was vrot van die skuld.”
“Dit lieg jy, JP!”
“Ongelukkig nie. Hulle het agtien maande gelede ’n tweede verband geneem. Vir nog tweehonderd duisend.”
“Die infertiliteitsbehandeling.”
Geleidelik begin die genadelose realiteit insink. As die praktyk verkoop word, sit sy sonder werk. Sonder die ruim salaris wat Jak en Emmari betaal het. Sy sal gelukkig wees om elders die helfte daarvan te verdien. Dit staan boonop al einde Maart se kant toe – die beste poste is gevul. Sy torring aan haar stringetjie krale.
En haar tuinwoonstel agter op die erf! Sy sal nie eens ’n krot in die middestad teen daardie huurprys kry nie. Met hierdie gek besluit het Emmari-hulle haar nie net sonder familie gelaat nie, maar ook sonder werk. Sonder ’n dak oor haar kop.
En noudat haar laaste erfgeld daarmee heen is . . .
Dêmmit! Bekommernis plons soos ’n klip in haar maag. Dít ook nog. Nie dat sy Emmari en Jak dáárvoor kwalik neem nie. Hulle het nie geweet nie, sou nooit toegelaat het dat sy haar geld daarop spandeer nie. Nee, dit was haar eie impulsiwiteit, die streep van doen eers en kry later spyt wat van kleins af haar lewe versondig. Tog was dit ter wille van Em, om haar gelukkig te maak. Hoe de hel moes sy weet haar ousus treur oor die verdomde Groot K en nie oor die mislukte in vitro nie? Sy bid net hierdie finansiële gemors is hul enigste onwelkome nalatenskap . . . Sy vou haar arms om haar lyf, skielik koud tot in haar murg. Wag, liewers nie nou dááraan dink nie!
“Hoe lyk jou geldsake?” vra JP versigtig.
Carli draai haar poniestert om haar vinger. Hoe verduidelik sy? Selfs vir haar beste pêl?
“Ek weet jy’t ’n stronthuisie vol studieskuld,” gaan hy voort. “Sal jy regkom, jong? Jy weet ek en Darius help graag, jy moet net praat.”
Sy blaas haar asem stadig uit. Moet sy nie maar die hele sak patats op die vloer omkeer nie? Bieg presies hoe platsak sy weens haar eie domonnoselheid is? Nee, sy kan nie van JP verwag om haar probleme op te los. Eers het Pa haar in watte toegedraai, haar beskerm, en na sy dood het Emmari daardie rol oorgeneem. Nou is sy mooi groot. Dis tyd om op haar eie bewerige beentjies te staan.
“Ek sal regkom,” sê sy, dapperder as wat sy voel. “Ek’s onervare, maar ek’s darem ’n dokter.”
JP knik, skynbaar gerusgestel. “Jy is. Danksy die breindrein is hier heeltemal te min dokters in hierdie land.”
Veral in die grammadoelas, dink Carli grimmig. Waar geen regdenkende jong mens haar wil gaan begrawe nie. Maar as sy so laat in die jaar ’n goeie pos kan kry . . .
Sy kan dit sien as ’n nuwe begin. ’n Skoon bladsy. Wat het vir haar oorgebly in Pretoria? Pynlike herinnerings en ’n hoop probleme, dis al.