Читать книгу Ridder in 'n wit jas - Amelia Strydom - Страница 4

1

Оглавление

“Maak haar vol, seblief, malome.” Die petroljoggie lyk half deur die slaap toe Carli net na dagbreek uit haar motor wip. “En tjek vir my die res ook: olie, water, bande. Ons het ’n ver pad voor, ek en sy.” Sy klop liefderyk teen haar Fiat se geronde dakkie.

“Sy?” grinnik die joggie. “It’s a baby girl car?”

“Bajada. Ek soek g’n mannetjieskar nie! Te vol draadwerk, julle spesie.”

“Hoekom het jy nie ’n pienk kar gekoop nie?”

“Dogtertjies dra ook blou,” roep sy oor haar skouer. “Ek’s nou terug, gaan net gou koffie koop.”

Die winkeltjie – vier-en-twintig uur oop – is verlate en sy kyk besluiteloos rond. Sy moet seker eet, maar is lus vir niks. Die muffins lyk droog, die vleispasteie olierig. Die mislikheid wat sedert die begrafnis soos ’n skootbrak op haar hakke bly, stoot in haar keel op. Nee wat, dis te vroeg vir eet. Sy sal later stilhou.

Vir “Brekfis op Bloemfontein”, soos Laurika sing.

Buite balanseer sy die geriffelde kartonkoppie op die enjinkap terwyl sy die petrolgeld aftel. Twee luiperds en ’n buffel. Sy sluk swaar toe sy die geld in die joggie se hand stop. Vervlakste petrolprys wat so aanhou styg. Sy sal wéér moet volmaak ook, dis nie altemit nie. Én daar’s tolhekke . . . Eish, hierdie maand gaan sy elke rand tien keer omdraai.

Alles het so vinnig gebeur. JP het haar bas gered met die ekstra salaristjek uit die boedel, maar haar bank­balans krimp vinniger as ’n strandbal met ’n speldeprik. Wie sou kon raai ’n trekkery is so duur? Haar nuwe vergoedingspakket sluit wel ’n gemeubileerde kothuis in, maar sy kon dit nie oor haar hart kry om Em se antieke meubels te verkoop nie. Stoorplek kos ’n fortuin, en haar kar moes gediens word vir die lang pad. Nuwe bande kry. Ag, ’n duisend dingetjies. Totdat dokter Eben Greyling haar betaal, sal sy van bruinbrood en groente­sop moet leef.

Skuldig proe sy aan haar wegneem-koffie. ’n Onnodige luukse, sy moes tuis gemaak het. Maar haar ketel was ingepak en sy was haastig om in die pad te val. Dokter Greyling verwag haar eers môre, maar sy het klaar gegroet dié kant en wil nie sit en wag nie. Nee wat, as sy vandag ry, kan sy môre al by die mobiele kliniek inval en haar nuwe baas met haar fluksheid beïndruk. Of sommer ontspan, die plaas verken waar sy die volgende jaar gaan bly. Rustigheid is presies wat sy nodig het ná al die hel.

Sy neem nog ’n slukkie koffie en wens sy kon haar treurigheid saam met die bitter vloeistof wegsluk. Sy gaan nié nou tjank nie. Nie hier op die snelweg agter die stuur nie.

Aargh! Sy klap die paneelbord dat haar handpalm brand. Emmari en Jak is haar trane nie werd nie. Nie noudat sy weet wat hulle aangevang het nie. Lafaards. Banggatte. Sy draai die radio met mening aan. Sing saam met ’n boy band wat sy nie kan verdra nie. Solank sy nie hoef te dink nie.

Sy vorder goed tot op Bloemfontein, toe begin die geneuk. Eers padwerk. Nie soos mens hulle in Gauteng kry nie. Nie die ry-’n-bietjie-stadiger-en-kom-’n-halfuur-laat-soort nie. Nie een-baan-is-toe-padwerk nie. Aikôna. Hier staan jy ’n halfuur lank botstil terwyl die aankomende verkeer deurry. Toe sy die derde keer agter die geel bordjie stilhou, wil Carli gil van frustrasie.

Haar boude is deurgesit, haar blaas wil bars, en haar kop is suf.

Asof daar nie genoeg vertragings was nie, begin dit net voor Springfontein sous. Reënvlae waai wit teen haar voorruit vas. Haar skouerspiere kramp. Toe Colesberg se bordjies voor haar opdoem, is sy gedaan. Sy kan nie wag om van die besige hoofweg af te draai nie.

Maar die N1 se verkeer en vragmotors was kinder­speletjies teen die plaaspad se seepgladde modderpappery. Oral blink onheilspellende damme water wat wie weet hoe diep is. O vrek! Sy weet net genoeg van grondpaaie om te verstaan dat die goed verraderlik is, selfs vir ervare bestuurders.

Sý is ’n grondpadgroentjie.

Wat nou? Terugdraai dorp toe? In ’n motel oorslaap en môre, wanneer dit lig en droog is, plaas toe ry? Oornag­verblyf gaan minstens driehonderd rand kos – driehonderd rand wat ’n hoop bruinbrood en groente kan koop. Nee wat, eerder moed hou en versigtig aanry. Of wag, sy sal dokter Greyling bel en vra hoe die pad vorentoe lyk.

Hoekom lui dit nie? Sy loer na die skerm. Dêm, nie eens een balkie nie! Sy moes dit seker verwag het, simpel stads­japie wat sy is. Nou ja, dan maar deurdruk. Só erg kan dit nie wees nie.

Asof Moeder Natuur vasberade is om haar verkeerd te bewys, begin dit harder reën. Sy kan boggerôl deur die reën­gordyn sien en het weinig beheer oor die kar.

Sy snak na asem toe sy deur ’n besonder diep poel spat. Yskoue water stroom oor haar voete. Dit loop by haar kar in. Sou die enjin droog bly? Of gaan dit begin stotter en stik en hier in die middel van nêrens vrek?

Iewers vanuit ’n stowwerige hoekie van haar langter­myngeheue onthou sy Jak se woorde toe hy haar leer bestuur het: “As dit by modder kom, moet jy rý, sussie. Hou jou kar in tweede, jou voet op die petrol en moet om vadersnaam nie briek nie. Jy wil nie in die middel van ’n modderpoel momentum verloor nie.”

Die raad maak ’n reuseverskil. Haar selfvertroue groei soos die kilo’s verbykruip en haar Fiat bewys sy’s meer as ’n mooi gesiggie. Iets roois trek haar aandag ’n entjie vorentoe.

’n Spoorwegkruising. Haar moed plons in haar nat skoene. Dit trein sal letterlik bo-op haar wees voor sy dit sien. En nou? Terugdraai Colesberg toe en nog ’n paar honderd ophoes? Die risiko neem dat sy vasval met die omdraaiery? Liewers nie. Maar om darem blindelings oor te jaag . . . Oukei, dis nie Russiese roulette nie. Dit wemel seker nie hier van treine nie. Vir die soveelste keer sien sy daardie opgefrommelde wrak op die rotse. Ugh, sy moes nooit na die foto’s gekyk het nie. Buitendien is wat sy nou doen geensins soos Jak en Em se keuse nie. Met ’n laaste futiele blik na weerskante gee sy vet. Die agterwiele wip veilig oor die spoor en sy fluit verlig tussen haar tande deur.

Veertig senutergende minute later sê haar GPS in ’n snobistiese vrouestem: “Destination on left”. Die reën het genoeg bedaar dat sy die naam op die uithangbord kan lees. Sielerus. Aha, presies wat die spreekwoordelike dokter voorgeskryf het. Maar hierdie verkluimde dokter met die nat voete het eers dringender behoeftes. Soos ’n badkamer, droë sokkies, en ’n koppie koffie. In dié volgorde. Ou Maslow was reg: die lewe draai om die basiese behoeftes.

Sy volg die klipperige paadjie – kwalik twee uitgetrapte spore – teen ’n slakkepas. Eindelik bereik sy ’n okerkleurige plaashuis. Sy parkeer en rek haar stywe nek vir enige teken van die inwoners. Maar die vensters sit klein en hoog teen die mure asof die huis sy geheime bewaar. Haar oë gly oor die plaaswerf. Nêrens ’n roering nie. Dan maar bel. Sy klim nie ’n sekonde vroeër uit as wat absoluut nodig is nie.

Steeds geen sein nie. Sy smyt die foon terug in haar sak. Hoe leef mens sonder selfoonopvangs? Sy dog haar nuwe baas is die enigste dokter vir myle? Moet sy toeter blaas? Seker te ongeskik. Sy sug en skakel die enjin af. A girl’s gotta do what a girl’s gotta do. Sy háát natreën, maar sal gaan klop. Sy kners op haar tande, pluk die motordeur oop en nael deur toe. Haar skoene gly byna onder haar uit en sy skakel oor na ’n drafstap. ’n Modderige agterent is die laaste ellende wat sy nou wil oorkom.

Die bo-deur staan oop en sy hamer daaraan. “Hallo? Dokter Greyling?” Geen antwoord nie. Sy druk aan die binneste gaasdeur. Oop, nes sy gedink het. Etiket vereis seker dat sy om die huis draf en iemand op die werf gaan soek. Dan klik sy haar tong en maak die deur oop. Sy is doodmoeg en bevrore.

Binne loer sy nuuskierig rond. Die huis is oud en skemerig, maar gesellig. Al druppend stap sy verby ’n spens en waskamer tot in ’n ruim leefarea. ’n Kombuis, eet­kamer en woonkamer alles in een. ’n Geelhouttafel glim in die lig van ’n staanlamp. Sy loer verlangend na die rusbank voor die knetterende vuurtjie. Stap dan maar roep-roep gangaf.

Grafstil. Nog ’n gaasdeur. Dié is ook nie gesluit nie en maak oop op ’n lang stoep. Die rooi politoer kielie haar neusgate sodat sy onvroulik nies.

“Verskoon my,” sê sy hardop. Niemand antwoord nie. Die enigste teken van lewe is ’n oopgevoude slapbandboek op ’n rottangstoel. Op die voorblad glinster ’n sinistere skalpel, kompleet met ’n straaltjie bloed.

Jig, is dit die baas van die plaas se idee van ontspanningslektuur? En waar de hel is hy? Alet, die agent wat haar aanstelling gehanteer het, het gesê hy boer deeltyds met skape en . . . nog iets. Daai swart-en-wit melkkoeie as sy reg onthou.

’n Beweging by die klipskuur trek haar aandag. ’n Tengerige figuur in ’n helderblou oorpak kom by die deur uit, laag gebuk teen die gietende reën.

“Haai!” roep Carli. “Hallooo!” Het hy haar gehoor? Jip, hy raak aan sy pet en wink haar nader. Agge nee! Wil hy sowaar hê sy moet wéér deur die reën hardloop?

“Ek soek na dokter Greyling!” brul sy. Die werker knik oordrewe en beduie na die skuur. Carli rol haar oë en trek haar broekspype op. Sy ril toe sy op die grasperk trap. Hier lê die koue water so diep dat dit haar skoensole vassuig en opnuut oor haar tone stroom.

“Middag, juffrou.” Die werker hou die houtdeur wyer oop. “Dokter is hierso binnekant.”

“Dankie.” In die skuiling van die skuur steek sy vas. Sy vee haar nat voorkop met ’n nat mou af. Water drup in haar oë. Vies wring sy haar hare uit: eers haar toutjieskuif, toe haar poniestert. Ai, dat sy nou só hier moet aankom. Sy wou so graag ’n goeie eerste indruk maak.

“Jantjie?” ’n Ryk sjokoladestem klink op uit die skemerte. ’n Onverwagte straaltjie warmte biggel langs haar bevrore ruggraat af. “Kry vir ons gas ’n handdoek, seblief. ’n Lekker grote. Sy’s omtrent nat.”

“Sekerlik, dokter.” Jantjie skuur by haar verby en Carli loer in die rigting van die stem.

Eers sien sy niks, dan pas haar oë geleidelik aan by die swak lig. Sy maak die vae buitelyne uit van . . . wow! Die grootste, swartste perd wat sy in haar dag des lewens aanskou het. Sy druk haar hand teen haar bors en staar na die pragdier.

“Staan nader, juffrou. Ek praat nie graag met mense wat ek nie behoorlik kan sien nie.” Verbeel sy haar of is daar ’n tikkie ongeduld in die mooi stem? Voor sy kan antwoord, bevestig hy haar vermoede: “Toe, ek kan nie nou hier los nie.”

Carli wil-wil haar vererg, maar haar voete gehoorsaam ewe pateties die kortaf bevel en steek eers digby die reuse­perd se agterpote vas.

“Kom maar. Sultan is ’n befoeterde dierasie, maar hy kan nie nou skop nie.”

Carli laat gly nietemin in die verbyloop haar voorarm oor die perd se agterlyf. Tweede natuur, dié gewoonte om ’n perd bewus te maak van haar teenwoordigheid sodat hy nie van skrik skop nie. Sy het as tiener omtrent in die stalle geleef. Dan sien sy die man in die hoek, en haar hand vlieg vir die tweede maal in soveel minute na haar skielik fladderende hart. Die eienaar van die Stem staan vooroor gebuk. Een van Sultan se hoewe – so groot soos ’n tafelbord – is tussen sy knieë vasgeknyp. ’n Verbleikte denim ry laag om sy heupe, met ’n leervoorskoot bo-oor vasgebind. Sy lang, brons bolyf is kaal. Dun straaltjies vloei blink daarteen af. Sweet? Reën?

Waarskynlik ’n kombinasie.

Sy moet wegkyk, en vinnig ook. Ordentlike meisies staar nie só na mans nie, veral nie natgeswete, halfnaaktes nie. Haar oë bly vasgeplak, raak net nie uitgekyk nie.

“En as jy my nou só staan en kyk?” Hy kantel sy gesig na haar op. Die kaal gloeilamp wat van die dak swaai, laat sy oë soos oniks skitter. Sy donker hare versmelt teen die perd se flank. “Nog nooit gesien hoe iemand ’n perd beslaan nie?”

Sy hap na woorde. Tevergeefs. Genadiglik praat hy verder voor die stilte ondraaglik word.

“Eben Greyling.” Hy flits vir haar ’n glimlag wat sy ganse gelaat verhelder. Ten spyte van al die botteltjies mineraal­water wat sy leeg gedrink het, wat nou pynlik dringend moet uit, is haar mond kurkdroog.

“Gee my ’n minuut,” sê hy, “dis die laaste hoef.” Met geoefende hande vis hy ’n paar spykers uit die voor­skootsak en knyp hulle tussen sy lippe vas. Weer glimlag hy vir haar, dié keer ’n dunlip-gryns wat drup van macho selfvertroue. Dankie tog die spykers is nie in háár mond nie. Sy sou sweerlik ’n paar ingesluk het.

“Ahem,” maak Jantjie langs haar keel skoon. “Die juffrou se handdoek.”

“O, dankie.” Die handdoek is grof gewas en verbleik, maar dit ruik skoon, die ene son en suurlemoene. Sy druk aan haar hare. Steel nog ’n onderlangse kykie terwyl sy so koponderstebo staan.

Woep-woep-woep, kap hy die spykers met seker hale in. Toe die hoefyster vas is, draai hy die perd se been om sy handewerk te beoordeel. Skynbaar tevrede klop hy die dier op die nek.

“So ja, Sultan, hou in vadersnaam hierdie stel aan. Hoef­olie, seblief, Jantjie, dan kan hy stal toe.”

Hy kom orent met die grasie van ’n oerwoudkat. Carli sluk moeisaam toe sy welgevormde arms dakwaarts strek. As hy om vadersnaam net sy hemp wil aantrek . . . Hy vou een hand agter sy rug en pluk aan die leervoorskoot se band. Die knoop wil nie loskom nie.

“Ag, help gou, seblief.” Sonder meer swaai hy om en bied sy rugkant vir Carli.

Haar hart word belaglik lig, ’n heliumballon wat wil wegdryf. Moet sý die voorskoot losmaak? Hoe, nogal, sonder om aan daardie sexy jeanverpakte agterwêreld te raak? Of aan sy bruingebrande vel?

Sy knyp die knoop tussen haar naels vas. Haar vingers is so dom dat geen mens sou glo sy was heel vaardig tydens chirurgie-rotasies nie. Miskien omdat hy soveel liggaams­hitte uitstraal? Sweerlik meer as die normale sewe-en-dertig grade? Hopelik begin haar vingerpunte nie sis nie.

Hy roer sy skouers sodat sy rugspiere rimpel. Jimmel, hy sou model kon speel vir Grey’s Anatomy. Die teksboek én die TV-reeks. Hy sal McDreamy en McSteamy doodgewoon laat lyk.

“Vat vás die knoop, juffrou. Sultan is die een wat byt, nie ek nie.”

Hoor jy, Carli? Get a grip. Letterlik én figuurlik. Hoeveel van jou varkies het langs die pad uitgespring om in die modderpoele te rol?

Sy wikkel haar vingers om die bloedsirkulasie te herstel. Hy’s haar báás. Sy’s hier om te werk, nie om die jeans van sy sitvlak af te kyk nie.

Eindelik gee die knoop mee. Sy trek die leervoorskoot af, versigtig om die geringste velkontak te vermy.

“Thanks.” Hy hang dit teen ’n muurspyker op. “Wees ’n engel en deel jou handdoek, toe. Ek’s sopnat gespook met daai perd.”

Haar maag slaan lui bollemakiesie. Wil hy daardie spier­paleis afdroog met die handdoek wat sy pas gebruik het? Iets omtrent die idee is so intiem dat haar lyf van kop tot tone tintel.

Hy frons en kyk veelseggend na die handdoek. Sy gee dit aan. Flippit, sy kan hom nie kwalik neem as hy dink hy’t die stompste potlood in die blikkie aangestel nie.

Hy vryf sy bolyf met besliste hale droog en trek ’n swart T-hemp oor sy kop. Dankie tog. As die moue net nie so begeerlik aan sy biseps wou klou nie.

“Raait, juffrou. Jy weet nou wie ek is.” Verwaande blik­skottel, hy spot sowaar met haar. Weet natuurlik presies watter uitwerking hy op vroue het.

“Ja, maar . . . Jy ís ’n dokter, nè?”

Weer die skewe glimlag wat haar longe toedruk. Een mondhoek lig ’n goeie sentimeter hoër as die ander.

“En nie die hoefsmid nie? In die Karoo moet mens veelsydig wees.”

“Enne . . .” Carli loer na Sultan. Dié trek sy ore plat en rol sy oë spierwit vir ’n skrikkerige Jantjie. “Ek dog u boer met, um, daardie swart-wit kolletjieskoeie.”

“Kolletjieskoeie?” snork hy. “Ek boer met Friesperde, juffrou, nie Frieskoeie nie.” Hy praat stadig en duidelik asof sy ’n vyfjarige is.

“O, wel . . . aangename kennis. Ek’s Carli Cloete.” Sy steek haar hand uit.

Hy kyk daarna asof dit iets is wat hy onder Sultan se hoef uitgekrap het. Wat, groet mense in die Karoo nie met die hand nie? Dan hou hy sy handpalms op vir inspeksie. “Vuil. Ek wil nie aan jou raak nie.”

Haar hand hang ’n ekstra lang, ekstra vernederende oomblik in die lug voor sy dit agter haar rug indruk. Gmf, asof sy aan hom wil raak. Kan sy nou help dat Pa en Em haar maniere geleer het? Buitendien lyk sy hande g’n so danig vuil nie.

“Waarmee help ek? Verdwaal? Of het jy karmoeilikheid?”

Karmoeilikheid? Hy weet sowaar nie wie sy is nie. Kon nie eens bodder om sy nuwe kollega se naam te onthou nie. Hemel, sy’t die kontrak verlede week geteken, nie verlede jaar nie.

“My kar makeer niks, dankie. Bietjie modderig, maar niks wat nie sal afwas nie.”

Sy oë gly bietjie vir bietjie oor haar. Sy lyk natuurlik bedremmeld verby. Haar hare klou aan haar kopvel, haar arms is hoendervleis, en haar skoene slurp. Maar dís nie waarna die blikskottel kyk nie. Sy oë het suid van haar ken vasgesteek. Met ’n sinkende gevoel besef Carli wat sy aandag getrek het. Haar katoenhemp is nie net dun en deurweek nie, dis wit. Deurskynend asof dit spesiaal gekies is om haar kantbra uit te stal. En aangesien sy so koud kry . . .

Skaamkwaad pluk sy aan die nat bloes. Sy oë vlieg gesteurd na hare, en hy trek sy vingers deur sy kuif. Skielik lyk hy minder na ’n seksgod en meer na ’n seuntjie wat hand in die koekblik betrap is. Blitsvinnig gooi hy die handdoek na haar. Sy vang dit net betyds. Oukei, as sy dit oor haar nek drapeer, só, hang dit weerskante oor als wat deurskyn.

Maar die handdoek skep ’n nuwe probleem. Walms Eau de Eben Greyling stu daaruit op en maak dit onmoontlik om te konsentreer. Móét hy so manlik ruik? So . . . skoon? Kon hy nie maar na salpeter en mansweet gestink het nie?

“Waarmee help ek dan? Of is ek veronderstel om te raai?”

“Eintlik veronderstel om te wéét.” Sy’t genoeg gehad van sy neerhalende stemtoon. “Dalk lui my doopnaam ’n klokkie. Carolien Cloete? Die nuwe dokter?”

Die kleur sypel vinniger uit sy gesig as wat jy “mes” kan sê. Hy vernou sy oë en kruis sy arms voor sy breë borskas. Ô-ô, hier kom moeilikheid. Die bordjie by die plaashek flits deur haar gedagtes. Sy het gehoop die naam is profeties, dat sy op hierdie Karooplaas kan heel word. Maar hoe meer sy van haar werkgewer sien, hoe onwaarskynliker lyk dit. Sielerus gaan sy nie hiér kry nie.

Nie as dit afhang van die man wat haar aangluur met moord in sy oë nie.

Ridder in 'n wit jas

Подняться наверх