Читать книгу Lang pad na liefde - Amelia Strydom - Страница 3

1

Оглавление

Dis dan hoe dit voel om na jou eie teregstelling te stap. Dead girl walking, minus die entourage wagte en die laaste maaltyd van haar keuse. Nie dat sy omgee om dáársonder klaar te kom nie. Selfs die gedagte aan haar gunstelingdisse is genoeg om haar derms te laat draai. Vandat die dagvaarding by haar afgelewer is, smaak alles soos saagsels en lê ’n klont lood haar hele maag vol.

“Geen goeie daad bly ongestraf nie,” sê Pa se stem in haar kop. “Ek het jou gewaarsku dat jy te bleddie sag is, Anouk. Te sag en te kop in die wolke en te impulsief. Nou’t dit omgedraai om jou aan die gat te byt, sien?”

Haar eie gat is een ding. Die lewe het haar vantevore ’n paar klappe gegee, en sy het nog altyd opgestaan, haar sitvlak afgestof, en aangegaan. Haarself wysgemaak dat die universe sal sorg, dat ’n mens op die ou end saai wat jy maai. Maar Skyla … Dis oor haar wat Anouk snags wakker lê. Hoe gaan sy vir haar kind sorg as sy nie meer babas kan vang nie? Sy is basies unemployable. Nie ’n roetinedier wat kantoorwerk kan doen nie – sy sal binne die eerste week by haar lessenaar aan die slaap raak van pure verveeldheid en dan die trekpas kry.

Die klakketie-klak van haar oprygstewels se hakke hou pas met die hartklop in haar keel. Hierdie vergadering is ’n wake-up call; die tyd vir ontkenning is verby. Sy kan ophou hoop dat Marielle-hulle tot hul sinne gaan kom en die klag terugtrek. Hulle soek ’n sondebok – iemand om letterlik en figuurlik te betaal vir hul verlies – en sy is ’n gerieflike teiken.

Sy sluk-sluk aan die krimpvarkie wat agter haar mangels vassit. Maak nie saak hoe diep sy in haar binneste grawe nie, sy vind nie ’n krieseltjie kwade gevoelens teenoor Marielle of Theunis nie. Wat met hulle gebeur het, is tragies, selfs al is dit hul eie skuld. Nee, kwaad is sy nie. Seergemaak is ’n ander storie. Om te dink Marielle, een van haar beste vriendinne, het haar vir die wolwe gegooi. En dít nadat Anouk uit haar pad gegaan het om te probeer help …

Vyfmiljoen rand is ’n hoop geld, maar dis nie die eintlike kwessie nie. Geld wat stom is, maak nie als reg wat krom is nie, maar dit sal die lewe met ’n gestremde kind vergemaklik. Sy gun dit vir Marielle-hulle, en dis nie asof sy persoonlik sal moet opdok nie. Dis waarvoor sy versekeringspremies betaal. Maar as sy haar lisensie verloor, of ’n maatskappy nie weer kan oorreed om haar te verseker nie … Flippit, sy wil nie eens daaraan dink nie.

Aan die bopunt van die trappe trek sy die swaaideure oop en loop met jelliebene by die monster se bek in. Die admin-gang gaap eindeloos voor haar, en tog staan sy heeltemal te gou voor die raadsaal se deur. Diep asemteug, Anouk. This too shall pass. Met inspanning lig sy haar hand om die deur oop te stoot.

“A, Anouk.” Hanno Oosthuizen, Valsbaai Medilink se hospitaalbestuurder, neem haar aan die arm. “Kom binne, laat ek jou voorstel. Manne, dis suster Viviers, die vroedvrou.”

Daar is inderdaad net mans om die tafel, ’n spul suits met begrafnisgesigte wat soos een orent kom. Soos ’n zombie skud sy hand na hand. Sy probeer nie eens die name onthou wat Hanno aframmel nie. Aangenaam, bly te kenne, en blah blah blah … Watter twak, niks omtrent hierdie vergadering is lekker nie. Eindelik kom die laaste handdruk aan die beurt.

“En dit is Rossouw van der Linde, ’n spesialis in mediese reg. Die versekeraars het hom aangestel om jou, die betrokke dokters, en die hospitaal te verteenwoordig.”

Rossouw van der Linde? Hanno kon netsowel Anouk se vinger in ’n kragprop gedruk het. Die naam – die hand wat om hare vou – stuur ’n duisend volt deur haar lyf. Haar kop ruk so heftig op dat sy byna haar chiro nodig kry. Dis waaragtig hy! Sy skouers span breër onder die staalgrys baadjie, sy bolyf getuig van ’n gim-kaartjie wat gereeld benut word, maar andersins lyk hy nes sewe jaar gelede. Dieselfde soen-jou-van-jou-voete-af-mond, dieselfde vermetele grinnik, dieselfde blonde wegstaankuif. Om van sy oë nie te praat nie. Blou soos by die branders se breekplek, met ’n donkerder ring om sy irisse. Oë wat sy beter as haar eie ken, wat sy elke dag in Skyla se gesiggie herken.

“Hallo, Anouk.” Selfversekering drup uit elke lettergreep. Die herontmoeting het hom dus nie onkant gevang nie. Anders as sy, was die boggher voorbereid daarop.

Haar mond is droër as kitssoppoeier en haar tong sukkel om sy naam te vorm. “Ro … Rossouw.”

“Ken julle mekaar?” vra die hospitaalbestuurder.

“Ons het ontmoet,” antwoord Rossouw. “Jare gelede.”

Ontmoet? Anouk gee hom ’n giftige kyk. As haar regterhand nie in syne vasgevang was nie, het hy dalk ’n klap ook gekry, sommer om hom te herinner hoe kômmin ’n girl uit die karavaanpark kan wees. Dís mos waarteen sy pa hom jare gelede gewaarsku het, toe hulle twee “ontmoet” het.

“Kom sit, ons het heelwat om te bespreek.” Hanno trek vir haar ’n stoel langs hom uit, en Anouk sak dankbaar daarin neer. Sy loer na die ander kant van die tafel, net om tweehonderd persent seker te maak. Mens weet nooit nie, haar kop het dalk só begin raas van die stres dat dit ’n spook uit die verlede opgeroep het. No such luck. Sy ysblou blik bots teen hare.

“Reg,” sê Hanno. “Kom ek skets gou weer die situasie vir diegene wat vandag eers by ons aansluit. Twee weke gelede het Theunis en Marielle Lategan ’n klag van wanpraktyk gelê. Hulle eis miljoene as skadevergoeding van die hospitaal, suster Viviers, en die twee spesialiste wat noodbehandeling toegepas het tydens die geboorte van hul baba. Dokter Muller is ’n ginekoloog, dokter Botha ’n pediater.”

Wanpraktyk. Miljoene rande. Anouk wring haar hande inmekaar. Dis ’n warm dag, maar haar vingers voel soos ysies. Kan dit háár lewe wees – haar reputasie, haar loopbaan – wat soos vuil skottelgoedwater al om die dreingat spiraal?

“Die Lategans se derde baba het ernstige breinskade opgedoen weens ’n suurstoftekort,” gaan die hospitaalbestuurder voort, so saaklik dat ’n mens sou sweer hy praat oor die effektebeurs.

Anouk druk haar handpalms teen haar slape, waar ’n spanningshoofpyn sedert die nag van klein Luc se geboorte nesgeskop het. Nagmerriebeelde klou soos klitsgras aan haar gedagtes. Marielle se doodsbleek gesig, die paramedici wat met die draagbaar ambulans toe hardloop, die lewelose grys bondeltjie wat dokter Muller uit haar vriendin se stukkende lyf trek …

Dis eers toe Hanno sy hand op haar skouer sit dat Anouk besef sy het haar naam gehoor. Haastig kyk sy op. Elke paar oë in die kamer is op haar. Hoe lank probeer die hospitaalbestuurder al haar aandag trek? Sy voel weer soos die dogtertjie wat kort-kort aangespreek is omdat sy by die venster uitstaar. “Ek wil jou verseker dat jy – nes dokter Muller en dokter Botha – die bestuur se volle ondersteuning het. Ons ken jou as ’n bekwame, versigtige vroedvrou.”

Sy wil dankie sê, maar vertrou haar stem nie.

“Ons het al die relevante inligting oorweeg en drie onafhanklike kundiges se raad ingewin,” sê Hanno. “Volgens hulle is die aantygings ongegrond.”

Die staalbande om Anouk se longe gee skiet. Dalk is dit nie so erg soos sy gedink het nie? Dalk gaan sy en Skyla orraait wees?

“Julle is in uiters bekwame hande. Van der Linde en Seun Prokureurs is dié kenners van mediese reg en hulle verloor byna nooit ’n saak nie. Ons het die volste vertroue dat hierdie onaangename besigheid binnekort verby sal wees.” Hanno knik vir Rossouw, wat sy das regtrek en opstaan.

“Dankie, meneer Oosthuizen.” Sy blik swiep oor die vertrek en haak vir ’n breukdeel van ’n sekonde by haar vas. “Hierdie aanklag is inderdaad ongegrond – selfs onregverdig.”

Anouk moet net keer of haar kakebeen sak tot op die tafelblad. Slaat haar met ’n veer om! Rossouw klink soos ’n akteur in ’n courtroom-drama. Waar’s die outjie wie se pa hom kort-kort ’n klap teen die agterkop gegee het omdat hy sy taal so meng? ’n Gewoonte wat Magnus op háár slegte invloed geblameer het.

“Ons weet almal die ouers is die eintlike skuldiges. In my opinie grens hul onverantwoordelikheid aan kindermishandeling.”

“Magtag.” Dokter Muller vryf sy bril met ’n sakdoek skoon. “Dis fantastiese nuus.”

Rossouw lig sy wysvinger asof hy ’n kleuter stilmaak wat hom in die rede geval het. Geen trouring nie, sien sy onwillekeurig en gee haarself ’n denkbeeldige skop onder die dinges. So what? Hy kan ’n hele harem vroumense aanhou as dit hom gelukkig maak.

“Moenie té opgewonde raak nie, dokter,” sê Rossouw. “Dinge is nie so eenvoudig nie. Al die uitdrukking ‘justice is blind’ gehoor? Dis nêrens duideliker as in sake soos hierdie nie.”

“Enige regter wat sy sout werd is, moet tog insien dat ons almal net ons werk gedoen het,” meen dokter Muller, die gynie. “Vader, man, die vrou was nie eens meer Anouk se pasiënt nie.”

Rossouw haal sy skouers op, sy aantreklike gesig onleesbaar. “Die lewe is selde regverdig. Die uitkoms van wanpraktyksake het min te doen met die skuld of onskuld van die betrokke praktisyns. Navorsing het bevind dat die lyding van die pasiënt – én die ouers, in hierdie geval – die deurslag gee in die beslissing.”

Dokter Muller vloek gedemp.

“Geboortebeserings is die heel moeilikste sake om te wen,” sê Rossouw. “Emosies loop hoog wanneer dit by babas kom.”

“Dis hoekom die versekeraars ons so uitroei,” brom Muller. “Ek moet elke maand eers ’n spul snitte doen om MedInsure te betaal voor ek self ’n sent verdien.”

“Verloskunde ís die spesialiteit met die hoogste premies, ja.” Rossouw vou sy arms. Die baadjie, wat lyk of dit spesiaal vir hom gemaak is, trek sy skouers in ’n stywer omhelsing. Anouk voel sy blik op haar, kyk gou af na haar hande. “Wat ek nou gaan sê, kan dalk hard klink, maar ek stel bloot ’n feit: Dit sou beter gewees het as julle nooit begin resussiteer het nie.”

“Wat moes ons anders gedoen het?” Douw Botha se gesig word stoptekenrooi. Hy is een van die knapste pediaters wat Anouk ken, maar is nie bekend vir sy geduld nie. Nie eens met sy pasiëntjies nie. “Wat verstaan ’n prokureurtjie soos jy, wat nog nat agter die ore is, van ons werk?”

Rossouw se lippe word ’n dun streep. Hy tel ’n pakkie papiere op en tik dit tydsaam teen die tafelblad om die kante gelyk te maak. As hy hardop tot tien getel het, kon dit nie duideliker wees hoe hy stry om sy humeur te beteuel nie. Die lug in die raadsaal is dik genoeg om met ’n mes te sny. Eers toe sy stapeltjie perfek haaks is, wend Rossouw hom weer na dokter Botha. “Mag ek maar voortgaan?”

Die pediater mompel iets.

“Ek verstaan dat u alles in u vermoë moes doen om albei pasiënte te red, dokter, maar ek probeer verduidelik waarom hierdie saak so kompleks is.” Hy tel ’n dokument op en hou dit in die lug. “Volgens ons onafhanklike eksperts, was die baba se brein reeds onherroeplik beskadig toe sy ma uiteindelik by die hospitaal gekom het.”

Ongetwyfeld. Toe Anouk die Doppler op Marielle se buik sit, het die fetale hartjie verklap dat die storie nie ’n goeie einde kon hê nie. Daarna het dit nog ’n driekwartier geduur voor die baba in teater gebore is.

“As u nie geresussiteer het nie,” sê Rossouw, “of vroeër handdoek ingegooi het, was ons waarskynlik nie nou hier nie. Die ouers is veral ontevrede oor die verkoelingsterapie.”

“Bog,” roep dokter Botha uit. “Hulle was maar te gretig om toestemming te teken vir die verkoelingskombers. Navorsing wys dat twee-en-sewentig uur van geïnduseerde hipotermie pasgebore babas se kanse op oorlewing verbeter en breinskade beperk. Dit verminder breinswelling en inflammasie, wat selfs skadeliker as suurstofgebrek kan wees.”

Rossouw haal sy skouers op. “So lees ek. In hierdie geval het dit dalk té goed gewerk. Met soveel breinskade is daar min sprake van lewenskwaliteit … en is ’n groter eis ter sprake.”

Shit. Anouk sluk aan die naarheid wat haar wil-wil oorweldig. Magnus van der Linde bars seker van trots. Nie net is sy enigste seun ook ’n hotshot regsgeleerde nie, hy het boonop in ’n monster soos Pappie ontaard. Sy het dikwels gewonder of sy Skyla ’n onreg aandoen, maar die vet weet, haar kind is beter af sonder sulke familie.

“’n Gestremde baba,” gaan Rossouw voort, “is miljoene meer werd as een wat gesterf het.”

Nee, vader, sy kan nie hierna luister nie! “Weet jy wat dit kos om ’n gestremde kind te versorg?” bars die vraag oor haar lippe. “Theunis en Marielle sukkel finansieel. Jy laat dit klink of hulle geldwolwe is, maar –”

“Stop die bus net daar,” sny Rossouw haar af. “Hou op om die Lategans te verdedig, An … suster Viviers. Dis erg genoeg dat jy hulle ná die geboorte om verskoning gevra het. Hulle regspan beskou dit as ’n skuldbekentenis en gaan dit teen jou gebruik.”

Regtig? Dêmmit, sy en haar groot mond! Maar hoe moes sy nou raai dat haar vriendin teen haar gaan draai?

“Ek het nie om verskoning gevra nie. Ek het gaan sê ek’s jammer dat so iets met hulle gebeur het.”

“Semantiek.” Rossouw vou sy arms en trek sy mond in daardie plooi wat eens vir haar so sexy was. “Hoe minder jy in so ’n situasie sê, hoe beter. Luister nou mooi: Hulle is die opposisie. Ek soek jou woord dat jy dit van nou af sal onthou.”

Die groep suits om die tafel se koppe draai heen en weer soos tafeltennis-toeskouers. As sy nie so ontsteld was nie, was dit dalk komies.

“Hulle is nie slegte mense nie.”

“Nog net so naïef, sien ek. Jy sal wraggies ’n verskoning vir Hitler ook kan uitdink.” Hy trek sy vingers deur sy kuif en Anouk voel asof sy terug val in tyd. Presies só het die seewind sy hare deurmekaargekrap. Só het haar Rossouw gepraat, voor hy ’n ton regshandboeke ingesluk en ’n besemstok by sy dinges opgedruk het. Al wat makeer, is sy skitterwit glimlag. Van dié het sy nog geen glimp gekry nie.

Háár Rossouw? Waar kom dit vandaan? Hy is niks van haar nie, sy hart het nooit aan haar behoort nie. Net jammer sy het dit te laat besef, verliefde sot wat sy was.

Rossouw druk sy handpalms op die tafel. “Besef jy wat hierdie mense aan jou loopbaan kan doen?”

“Natuurlik, ek’s nie stupid nie.”

“Stupid is as stupid does.”

“Wa-wa-wag nou,” keer Hanno. “Dis nie nodig om persoonlik te raak nie.”

Rossouw verwerdig hom nie om in die hospitaalbestuurder se rigting te kyk nie. “Dit was malligheid om die vrou by haar huis te gaan sien. Hoekom het jy nie vir haar gesê om hospitaal toe te gaan nie?”

“Miskien moet jy haar lêer lees. Ek het dit gesê tot ek blou in my gesig was. Dokter Muller ook, maar sy en Theunis wou eenvoudig nie hoor nie.”

“Jy’t niks geskryf nadat sy jou daardie dag gebel het nie. Nêrens aangeteken dat jy haar weer aangeraai het om vir ’n keisersnit te gaan nie.”

“Ek was haastig om by haar te kom – dis hoekom ek dit nie neergeskryf het nie,” antwoord Anouk. “Ek het soos die duiwel gery om ’n laaste keer te probeer.”

Hy skud sy kop asof hy nie kan glo iemand is so domonnosel nie. ’n Sonstraal skyn deur die venster op sy hare. Dis donkerder as wat sy onthou, sy vel ligter. Hy is seker te besig om geld te maak om buite te kom. Flip, sy moet haar kop laat lees. Hier sit sy in die grootste professionele bollie denkbaar, en eerder as om te fokus, speel sy spot the differences.

“As dit nie in jou notas is nie, is dit haar woord teen joune.”

“Ek het haar nie in ’n professionele kapasiteit gaan sien nie.” Anouk stoot haar stoel agtertoe. Sy gaan wraggies nie na hom sit en opkyk nie. “Sy was nie meer my pasiënt nie. Sy’t my gevra om as haar vriendin te kom, net om seker te maak dat sy wel in kraam is.”

“Is dié soort ding nie obvious nie?” vra hy.

“Vals alarms is algemeen. Marielle het toe reeds vir ’n paar dae Braxton-Hicks gehad. Oefenkontraksies.”

“En toe jy daar aankom?”

“Toe tref ek ’n train smash aan. Marielle was in skok van die inwendige bloeding, haar baba het skaars ’n hartklop gehad. Notas maak was die laaste ding op my brein, ek was te besig om hulle lewens te probeer red.”

Rossouw blaas ’n asem deur saamgeperste lippe uit. “Jy preek vir die koor. Ons verstaan dalk hoekom jy nie boek gehou het van die gebeure nie, maar ons is nie die regter nie.”

“Wat van ’n skikking?” vra Anouk. “Kan MedInsure nie vir die ouers ’n aanbod maak nie? Ek’s seker hulle sal settle vir minder.”

“Ek het MedInsure geadviseer om nie te skik nie,” antwoord Rossouw. “Ons staan ’n uitstekende kans om die hofsaak te wen.”

“So alles gaan nog steeds vir jou oor wen of verloor? Ons praat oor menselewes, nie oor beach volleyball… of ’n potjie skaak nie.”

“Ons praat ook oor miljoene rande,” sê hy koel, “en dis die bottom line. Jammer as dit jou seepbel bars, sweetheart, maar dís besigheid.”

Patronising poephol! Sy klim sommer oor die tafel en verwurg hom met sy rooi das. Hoe durf hy só met haar praat?

Hy haak sy duime deur die lussies van sy belt. “Hei, ek’s nie die vyand nie. My werk is om my kliënte teen gold diggers soos die Lategans te verdedig. Jy’s ook ’n kliënt, ingeval jy daardie deel misgeloop het.”

“Hulle is nie gold diggers nie, net ouers wat vir hul kind omgee.”

“Werklik?” Al is sy stem sag, kriewel ’n rilling by haar ruggraat af. Geen wonder Hanno dink die son skyn uit sy gat nie. Kan nie pret wees om in die getuiebank te sit wanneer hy ondervra nie. Nee, kyk, Pappie het Van der Linde junior ’n intimidasietegniek of twee geleer.

“Ek het nog nie kinders nie,” gaan hy voort, “so ek’s nie ’n ekspert oor ouerskap nie.”

Kolle vuur slaan in haar nek uit, maar Anouk bly uitdrukkingloos sit. Nie nou wegkyk nie, die man is skerper as ’n spuitnaald se punt. Dank vader hy is so mal oor sy eie stem, anders het hy sweerlik die bloed deur haar are hoor suis. Sy voel of ’n neonlig op haar voorkop flits.

“Maar ek kan nie verstaan hoe ouers so met hul kind se lewe kan dobbel nie. Om teen mediese advies ’n ‘unassisted homebirth’ te hê?” Hy krom sy wysvingers om die term. Kan die versoeking nie weerstaan om te wys hoe deeglik hy sy huiswerk gedoen het nie. “Ouers wat omgee, neem nie sulke besluite nie.”

Hy het ’n punt, maar sy sal haar toonnaels een vir een met ’n tang uittrek voor sy dit erken. “Mens dink mos altyd sulke goed gebeur met ander.”

“Soos jy gedink het ánder vroedvroue word van wanpraktyk aangekla?” Hy lig sy goue wenkbroue.

Sy draai na die hospitaalbestuurder. “Hanno, móét ek hierdie man gebruik? Kan ek nie ’n ander prokureur kry nie?”

“Wel …” Hanno knyp sy neus tussen sy duim en voorvinger vas. “Soos ek gesê het, sy firma is die beste. En aangesien MedInsure betaal …”

“Hulle sal sekerlik heroorweeg. Aangesien hul regshulp dit duidelik gemaak het dat hy my nie behoorlik gaan verdedig nie.” Sy gluur na Rossouw. “Daar’s ’n … wat noem julle prokureurs dit nou weer? Conflict of interest.”

“Dit wíl voorkom asof julle twee, ahem, unfinished business het,” sê Hanno.

“Daar’s geen unfinished business tussen ons nie.” Rossouw se Arktiese kykers boor in hare.

Anouk gee ’n onprofessionele snork. “Uiteindelik iets waaroor ons saamstem.”

“Ook nie belangekonflik nie,” sê hy. “Maar ek staan met graagte opsy. Wil jy hê my pa moet jou verteenwoordig, suster Viviers? Hy hét meer ervaring.”

’n Vloekwoord vreet haar tongpunt soos ekstra skerp peri-perisous, maar sy spoeg dit nie uit nie. Die bliksem weet hoe sy en sy pa oor mekaar voel. Magnus van der Linde sal die sleutels van sy rykgat-SUV in die see smyt voor hy ’n vinger lig om haar loopbaan te red.

“Moet jou pa asseblief nie verontrief nie. Ek sal self met MedInsure se mense praat.” Anouk swaai om en kyk oor haar skouer na die ander wat haar en Rossouw oopmond sit en aangaap. Shame, seker die meeste opwinding wat hulle sedert die Curriebeker-finaal beleef het. “Nou sal u my asseblief moet verskoon,” sê sy. “Ek’s laat vir my voorgeboortekliniek.”

Way to go, Van der Linde, dink hy toe hy later die middag agter die stuur inskuif. Sien jy nou hoekom jy nooit hierdie donnerse saak moes aanvaar het nie? Anouk is reg, jy sit met belangekonflik groter as die Skiereiland. Jy kan nie objektief bly nie. Kon nog nooit, wanneer dit by haar kom nie.

Hel, toe sy by die deur instap, het die jare weggesmelt. Voel almal so oor hul skoolliefde? Nie dat hy en Anouk saam op skool was nie. Hy was in ’n privaatskool in Kaapstad, sy pa se alma mater, terwyl sy elke dag moes skoolbus ry na die naaste openbare skool. Vyftig kilo’s soontoe, vyftig terug. Hulle het mekaar net naweke gesien. Vakansies …

Sewe jaar, en sy lyf onthou haar soos gister. Die rondings van haar borste. Die duikie aan die onderpunt van haar keel, net bo haar borsbeen. Die welige bos hare waarin ’n ou se vingers kon verdwaal. Anouk Viviers, sy longest-running fantasy. Die een wat weggekom het, wat hom geleer het om die pad te vat voor hy te veel voel. Los hulle voor hulle jou kan los. Never spend the night. Dis sy filosofie ná Anouk en dit werk vir hom.

Deur die jare het hy dikwels gewonder waar sy is, wat sy doen. Hy het haar selfs ’n keer of wat deur die internet probeer opspoor, maar hy kon nie eens ’n Facebook account kry nie. Wie is deesdae nie op sosiale media nie? Is sy nog altyd ’n technophobe?

En toe beland die lêer verlede week op sy lessenaar. Hy het wipplank gery tussen die opwinding om haar weer te sien en bekommernis oor die eis teen haar. Sy vingers het reeds haar selnommer halfpad ingetik voor hy besef het wat hy doen.

Rossouw flikker sy hoofligte vir die geroeste skedonk voor hom. Die vinnige baan is nie vir miskruiers nie, magtag! Hy sit sy voet neer en die enjin spin soos die oerwoudkat waarna dit vernoem is.

’n Vroedvrou. Moeilik om te glo. Hý was die een wat medies wou geswot het as sy pa nie ’n koronêr daaroor sou skiet nie. Dié het omtrent “en Seun” by die firma se naam gevoeg toe Ma haar eerste kraampyn kry. Gelukkig is die mediese eise waarin hulle spesialiseer stimulerend genoeg om sy dae interessant te hou.

Hy het Anouk nog altyd in ’n kreatiewe rigting voorgestel, iets met minder verantwoordelikheid. Gedink sy sal juwele ontwerp, of ’n strandkunstenares word wat vakansiegangers se kinders teken. Vryheid was vir haar belangrik, en daarvan kan ’n vroedvrou nie veel hê nie. Sy sou sommer stokkiesdraai en strand toe gaan op die eerste helder dag ná goor weer. Hoe het so ’n loskop lank genoeg stilgesit om as verpleegkundige te kwalifiseer? Sy was soos ’n skoenlapper, altyd op pad na die volgende kleurvolle blom. So na aan ADD as dêmmit aan ’n vloekwoord.

Sy moes vrek hard gewerk het, en nou kan sy als verloor weens mense wat nie verantwoordelikheid vir hul eie kortsigtigheid wil neem nie. Dís waarom hy die saak aanvaar het: om Anouk te help. Hy moet sy ego opsy stoot en professioneel optree. Sure, hy het ’n sagte plekkie vir haar, maar dit durf nie sy fokus befoeter nie. Vanaand sal hy sê hy is jammer, haar oortuig hy is aan háár kant. As sy hierdie saak wil wen, moet sy leer om haar stert nie so vinnig te wip nie. Die opposisie gaan haar nie met handskoene behandel nie.

Hy draai van die N2 af, ry deur Gordonsbaai, dan kuslangs Rooiels se kant toe. Die kronkelpad is besig. Dis Vrydagmiddag, die groot uittog in volle swang. Sy hande kramp soos hulle die stuurwiel vasklem. Hy rol sy skouers, strek sy nek van kant tot kant. Die son sak oor die see, en die weerkaatsing is verblindend. Selfs met sy donkerbril is bestuur moeilik. Bekende bakens flits by hom verby: die stilhouplekke langs die pad, die haai-uitkykpunt waar ’n swart vlag wapper, die uitgestrekte lagune. Hoeveel keer het hy en sy pa hierdie pad gery? Elke naweek, elke skoolvakansie tot sy pa daardie Januarie die strandhuis verkoop het. Sommerso, sonder ’n woord. Omdat hy en Anouk “die pap te dik begin aanmaak” het. Daai huis was die één plek waar hy sy ma nog kon voel, waar ’n handvol herinneringe oorgebly het wat hy gelukkig sou kon noem.

Hy het mooigepraat, gesmeek, maar dit was te laat. Hul huis het ’n nuwe eienaar gehad, en Pa het ’n strandhuis aan die Weskus gekoop, ver van Anouk af. Niks moes in die pad van sy enigste kind se sukses staan nie, veral nie ’n sigeunerin met bruin oë en ’n trailer trash-agtergrond nie. “Jy sal nog eendag vir my dankie sê,” het Pa hom verseker. Yeah, right, wanneer die water in die oseaan opgedroog het.

Dit was ’n gesukkel om uit te vind waar sy bly. Die gryskopsuster in die babasaal het met groot vermaak vertel van Anouk se nomadiese lewe, haar rondswerwery tussen ’n halfdosyn karavaanparke. “Daardie enetjie gaan waar die wind haar waai. As dit nie vir haar tuisgeboortepraktyk was nie, het sy soos ’n swaeltjie agter die warm weer aan getrek.”

Hy skud sy kop. Hoekom skiet sy dan nie wortel nie? Hy sou dink iemand met haar verlede sou juis haar eie huis wou hê. Oukei, eiendomme langs die kus is nie goedkoop nie, en Anouk is aan die see geheg, maar sy behoort tog ’n klein plekkie te kan bekostig?

Hy ry amper verby die karavaanpark se afdraai, sien die bord net betyds. Die sinkplaatpad dwing hom om stadiger te ry. Hy parkeer die Jag voor die houtkantoortjie, steek sy sonbril in sy bosak, en loop by die trappies op. Die vrou agter die lessenaar druk haar sigaret gou dood.

“Middag, het meneer ’n booking vir die naweek?”

’n Booking? Sy speel seker. Rough and tough is nie sy scene nie, dankie. As hy vakansie wil hou, doen hy dit waar iemand vir hom sy bed ooptrek en ordentlike kos kook. Hy werk sy gat af. Wanneer hy die dag afvat, wil hy rus.

“Middag. Ek soek vir Anouk Viviers?”

Die vrou glimlag dat haar oë toeskreef. “Staanplek 7. Draai links wanneer meneer nou hier uitloop. Mens kan haar woonwa nie mis nie, dis die een wat so mooi gedecorate is. Sy’s by die huis, is netnou verby met haar ancient Chevy.”

Kan dit nog haar ma-hulle se Bel Air uit die 1950’s wees? Hy sê dankie, stap uit en loer na sy Jag. ’n Kring seuns staan daarom.

“Hei! Wat maak julle?”

“Ons kyk net, oom,” roep ’n rooikop. “Dis ’n dêm mooi kar.”

“Dis dêm duur ook, so loop speel julle iewers anders.”

Hy kon netsowel met die meeue daar doer onder gepraat het.

“Watse kar issit, oom? ’n Lamborghini?”

Hy kners op sy tande vir die “oom”. Goeie donner, hy’s ses-en-twintig, nie ses-en-vyftig nie. Sy pá is ’n oom.

“Moenie simpel wees nie, ’n Lamborghini is geel,” meen een van die outjies. “Dis ’n Aston hierdie.”

Elke stowwerige seunsgesig draai na hom. “Dis ’n Jag F-type.”

“Jis, oom moes dit in rooi gevat het!”

“Ek hou van die swart. Toe, weg is julle.”

“Oom kan oom se kar nie sommerso los nie.” Weer die rooikop. “Sê nou die bobbejane kom? Hulle sal oom se dak vol duike spring. Ons sal dit vir oom oppas.”

“Oom kan net ’n lassie maak vir Coke en chips,” onderhandel ’n kort laaitie met ’n Stormers-pet.

“Bietjie laat vir bobbejane,” antwoord Rossouw.

“Nie te laat vir skollies nie. Hulle sal die wieldoppe van oom se kar afsteel vir tikgeld.”

“Dink op jou voete, nè?” Rossouw haal ’n noot uit sy beursie. Meer as wat die seuns verwag het te oordeel na hoe hulle na asem snak. “Hou tog maar ’n oog, ek gaan ’n rukkie wees. Maar as ek een van julle mannetjies aan my kar sien vat, trek ek julle velle af, oukei?”

“Sharp.” Die rooikop stoot sy borskas uit. “Ek sal kyk dat niemand eens op oom se Aston asemhaal nie.”

“Jag,” sê Rossouw in die wegloop. “F-type, coupé.”

Die vrou by ontvangs was reg: Net ’n blinde sou Anouk se karavaan kon mis. Rossouw fluit tussen sy tande deur. Nou het hy alles gesien. Sy het sowaar as wragtag die buitekant met ’n blommotief versier. Pienk en blou en wit, soos die lappieskomberse wat ou tannies maak. Slaat hom dood, dit lyk nogal mooi ook. Ánders, gesellig, nie simpel nie. Anouk het nie haar oog vir detail verloor nie. Daar is selfs ’n stukkie wit picket fence voor die woonwa, ’n wit houttafeltjie met stoele.

Die karavaandeur is toe, maar hy hoor musiek daaragter speel. ’n Babablou Bel Air met wit trimmings staan lewensgroot langsaan geparkeer. Lyk wraggies soos haar pa s’n, maar opgeknap. Sou Anouk ’n idee hê wat dit werd is? ’n Versamelaar sal sy hand diep in die sak steek vir daardie baby. Hy klop aan die deur.

“Ek ko-om,” roep Anouk.

Rossouw skakel sy onweerstaanbare glimlag aan, reg om haar uit haar sokkies te charm. Totaal onnodig, want dis nie Anouk wat die deur oopmaak nie. Dis ’n dogtertjie. Haasbek. Blonde boksterte. Oogkleur so blou as kan kom. Die enigste mens wat hy ken met sulke oë is … Shit. Waddehel gaan hier aan?

Lang pad na liefde

Подняться наверх