Читать книгу Dubbelspiraal - André Jansen - Страница 5
Soweto 1976
ОглавлениеDie wêreld wasem om Koos Jooste.
Soos een gees vir al die dooies, rys die grys rook in die stil winterlug op en sprei dan uit, arms in ’n seënbede of banvloek oor die massas daaronder uitgestrek. In die wêreld onder die rook is daar drie kleure. Die seuns se skoolbroeke is grys. Die meisies se skoolrompe is swart. Die seuns en meisies se hemde is wit. Daar is baie van dié swart en wit en grys meisies en seuns. In die rook is hulle vae skimme, en nes gedagtes sweef hulle deur die woeste landskap, flikkerende grys en wit en swart beelde uit ’n antieke projektor op ’n doek.
En rooi.
Tussen die grys en swart en wit is daar rooi – van die vlamme wat triomfantlik op en om ’n omgekeerde motor dans, ’n skilpad op sy rug in die vuur. Wat meteens soos ’n oop roos op ’n gesig blom, of traag in die stof drup waar iemand met die arms wyd uitgestrek lê en ruk. Wat in die dwarrelende rook uit pistool- en geweerlope flits, priemende blitse in die halfdonkerte. Wat in ’n flikkerende plas om ’n stukkende bottel vloei.
Daar is geluide ook.
Knalle, gille, dreunsang, hoë, histeriese bevele, knetterende vure, die dwiep-dwiep van ’n helikopter se rotorblaaie, die dowwe geronk van kragtige dieselenjins, die geskuifel van honderde voete, dalk duisende, gedemp deur die stof.
Dit ruik na diesel en kruit en stof en sweet. ’n Rookreuk kleef ook aan alles. Brandende bande gee die rook byt, en saam met die laaste bietjie peperreuk van traangas maak dit die oë seer.
Dis ’n onvaste wêreld. Voertuie draf soos skaaphonde buite-om die trop. Offisiere beduie. Dit reën klippe. ’n Vangwa se voorruit versplinter in duisende diamantjies. Dis ’n menserivier in ’n stedelike woestyn, met ’n stroomop geskarrel, elke nou en dan, waar figure gebukkend hardloop en ’n lyf met slap arms en bene wegsleep. Die stroom vloei stadig deur en om en bo-oor hindernisse, vul ’n holte, dam teen ’n muur op en spat in honderde stukkies uiteen waar die lui liggrys parabool van ’n traangasblik oorkrul en sissende wit rook uitblaas. Hier breek ’n dyk, daar word ’n wal haastig gegooi om die vloed te stuit.
Op die derde dag van die rebellie is die manne agter die geweerlope al tam. Hulle sien orals spoke. Waar kom hierdie besete kinders vandaan? Dis nie wat hulle by die polisiekollege geleer het nie. Dis ’n oerwoud. Dis slagterswerk. Herlaai. Lê aan. Vuur.
Koos Jooste kyk in dié wankelende wêreld rond en sien hy’s alleen. Vir ’n oomblik glo hy dis die droomwêreld net voor jy wakker word, wanneer jou bene en arms in stroop pomp en roei. Maar nee, dis die nuwe werklikheid wat die oue onbeskof opsy gestamp het, nes kinders met oumense maak.
Sy oë brand nog van die rook wat hom ná ’n suggie lug toegevou en weer weggetrek het. Net hy staan in dié skielike niemandsland, en reg rondom is daar gevaar. Dis Afrika, waar die jagdiere die swakkes van die trop afsny, en dan keel toe spring. Hulle sal hom nie mis nie, die uniforms. ’n Ou in civvies, net in die pad, ’n verwenste verantwoordelikheid. Hy voel baie, baie alleen, en vervloek Wachthuis.
Die opdrag was vaag, want almal is onkant betrap. In Wachthuis se gange skarrel die ontleders vervaard rond, die telefone lui aaneen, die teleksmasjiene ratel nes masjiengewere. Die Minister soek nóú sy verslag, die kabinet wag. Nóú. Wie sit daaragter? Komaan! Is dit agitators? Kom die opdragte van Lusaka? Kan ons die seine onderskep, blokkeer? Ons wil name hê. Ons wil mense vang en moer tot hulle ons vertel wat ons wil hoor. Waar gaan dit volgende ontplof? Het ons genoeg mense daar? Moet ons manne uit die Kaap laat kom? Uit Durban? Of moet hulle bly, want dit gaan daar ook uitbars? Wat weet ons CIA-kontakte, ons MI5-kontakte, ons SDECE-kontakte, ons Mossad-kontakte? Die veiligheidskomitee sit weer om twintig uur, magtig. Die baas moet hulle dan feite voer. Feite. Ons moet weet wat de hel is aan die gang.
Daarom het die Generaal geblaf: Gaan kyk. Ontleed. Rapporteer. Maak sin uit die waansin, en bliksems gou. Weg is julle.
Die sê is maklik, die doen is moeilik, want hier op voetsoolvlak sien Jooste géén sin in die gekkehuis nie, net die raserny van iets wat teen die tralies spring en hap om die man met die porrende stok by te kom.
Hy kyk weer rond. Hy is op ’n oop stuk grond, tussen heuphoë, droë geel wintergras, hier en daar platgetrap, ’n deel daarvan swart gebrand. Vyftig meter ver, na regs, is ’n stofstraat, en anderkant die straat begin die grys Monopoly-huisies met die asbesdakke en asbespypskoorsteentjies, ry op ry op ry langs die reguit strate, twee Saracens breed. Voor hom sien hy die donker, ronde opening van ’n duiksloot, agter hom roes twee of drie antieke motorwrakke en sinkbaddens vol gate, weet hy, en links is daar net veld, besaai met plastieksakke, papier, blikke, bottels en ander onnoembare opdrifsels.
Die brandpunt het reeds honderd, honderd-en-vyftig meter in die straat af beweeg. Die linie staan nou met die rûe na die oop veld, die voertuie agter hulle gelaer. Die rebelse horde het tussen die beskerming van die huise deur gesyfer, om asem te skep vir die volgende aanslag.
’n Effense beweging voor Jooste trek sy aandag, en instinktief kniel hy op sy linkerknie, met die regter as steun. Hy trek sy pistool uit sy lyfband en hou dit voor hom uitgestrek. Vir ’n oomblik dink hy dis ’n kat of hond in die duiksloot, maar dan skud ’n veel groter figuur die skaduwees van hom af. Wakker, soos ’n muishond wat pas uit die bossies gesluip het, staan hy daar en loer, dié seun met heelwat Khoi in sy gesig, seker ’n Xhosa dan, so negentien, ’n jaar of twee ouer as Jooste se eie seun, maar veel meer volwasse en uitdagend, asof ’n baie groter hap van sy lewe reeds agter hom lê. Sy oë dartel heen en weer, skerp en intelligent in die platterige gesig, sien Jooste, en mooi in sy pistool se voorste visier.
Hy hoef net sy regterwysvinger sag te krul om daardie gesig met die prominente, wye wangbene in ’n morsige, rooi pappery te verander, met vlieënde stukkies harsings en beensplinters.
Doen dit, sê Jooste se verstand. Dié een storm nie saam met die trop nie. Dié een loop sy eie paadjie, soos ’n rooijakkals, en ’n rooijakkals se tande kan groot bene kraak. Krul jou wysvinger stywer en verwyder die bedreiging permanent uit die samelewing. Veral omdat hy in sy regterhand, wat los langs sy lyf hang, ’n bottel met amber vloeistof en ’n stuk lap in die nek vashou. A, seunie, jy wil agterom sirkel, gooi, kyk hoe die vlamme lek en sprei, en dan weer hier kom wegkruip. Ek wed daar’s ’n hele klomp sulke bottels in daai swart gat weggesteek.
Die seun verstyf, en Jooste staan stadig op, die pistool vas in sy hand. Toe wys hy met die loop na die bottel in die seun se hand en beduie na links, die veld in. Die seun beweeg nie. Jooste herhaal sy gebarebevel, dringender. Die seun se oë wyk nie, maar sy hand swaai, en die bottel boog ’n kort entjie deur die lug. Weerloos, en deeglik daarvan bewus, aan die noodlot oorgegee, staan die seun net daar, sonder sigbare vrees.
Doen dit.
Jooste verskuif die pistool, mik sekuur en trek die sneller. Die skok ruk deur sy arm tot by sy skouer, en hy sien die blink blits van die doppie in die sonlig. Die kruitrook prikkel sy neus. Voor hom is daar opeens ’n wolk fragmente en vloeistof.
Paniek flits in die seun se oë. Hy ruk sy kop weg en lig sy regterskouer om sy gesig teen die glassplinters te beskerm. Dan staan hy weer nes tevore. Hy kyk Jooste reg in die oë. Die pistool se loop wys reeds weer na hom.
Sien jy? wou Jooste met die skoot sê. Ek kán skiet. Die pistool is gelaai. Die veiligheidsknip is af. Die volgende koeël tref jou tussen die oë. Moenie kanse waag nie, mannetjie.
Hy ruk sy kop na regs, beduie na die huise oorkant die straat. Die seun draai en stap soontoe, sonder omkyk. Jooste kyk oor sy pistool se visier agterna. Jy kan nou nog, tussen die skouerblaaie. Gister se dagorder was duidelik – skiet met skerp. Geen genade nie. Geen haan sal daarna kraai nie.
Hy kan nie. Hy’s g’n laksman nie. Die seun het nog niks gedóén nie. Neem waar, het Wachthuis gesê, nie neem deel nie. Jooste laat sak die pistool en slaan die veiligheidsknip vas. Hy steek die wapen teen sy kruis in sy lyfband in, met ’n hand wat liggies bewe, en trek sy trui daaroor reg. Hy’s net bly dit was raak. Geen vuurwapen het nog ooit in sy hand tuis gevoel nie.
Die seun stap oor die stofstraat. Halfpad steek hy sy arms na weerskante uit, die wys- en middelvingers in ’n vrede-V, toe verdwyn hy tussen die huise en word weer een van duisende.
Jooste stap na die duiksloot toe, buk, en kruip in. Ja, daar staan ’n halfdosyn bottels regop. Hy slaan hulle een vir een teen die sement stukkend, tot die petroldampe dreig om hom te laat stik, en hy weer uitskarrel.
Wie jy ook al was, dink hy terwyl hy na sy linie terugstap, met ’n onwillekeurige wrang glimlaggie oor daardie laaste gebaar, jou gesig onthou ek.