Читать книгу Dubbelspiraal - André Jansen - Страница 6
Cassinga 1978
ОглавлениеDie tuinhekkie knars, en Jooste kyk op. In sy kop sit hy olie op Hanna se inkopielys. Ag, dit sal nie help nie, sy sal nie weet waar om te soek nie, al verduidelik hy. Miskien is daar nog ’n blikkie in die garage, naby die stokou verfblikke. Moet gaan kyk. Later.
Waarom pla die hek nou? Dit piep al jare lank. Dis deel van hoe dinge is, soos die gebrom van Piet se grassnyer. Wag, dis nie Piet se gewone grassnydag nie. Is dit sowaar sy dikbek-tienerseun – Morné, mos? Daar was lank laas soet walms uit die tuinhuisie. Die snuiter sal dit nie wáág om uit sy ma se handsak te steel nie, nou glo hy ewe vroom aan die Calvinistiese werksetiek. Is Piet siende blind, of het hy gehensop? Tieners is maar hel. Gelukkig is sy eie taamlik mak.
Êrens huil ’n stofsuier. Dis Thelma, langs Piet. Haar vloere en matte moet papierdun wees. Al maak die hoeveelste suinig betaalde huishulp onder haar skerp tong alles hóé skitterblink en sindelik, is dit in Thelma se oë altyd halwe werk, en dan suig sy weer. Jy kry iets mos net reg as jy dit self doen.
Die geluid van die motor wat ’n rukkie gelede soetjies verbygesnor het, asof iemand ’n adres soek, en ’n entjie in die straat af stil geraak het, is nie deel van hoe dinge hier rond is nie. Die twee kerkpakke met skitterblink skoene, girtsend op die tuinpaadjie langs die motor wat Hanna al weer buite gelos het nadat sy en Martie die inkopies afgepak het, beslis ook nie. Onthou tog om dit in die garage te stoot voor die dou vlekkies maak.
Jehovasgetuies? Nee, hulle’s altyd man en aanvallige vrou, en dié twee is veel ouer en baie leliker. Versekeringsafsmeerders? Ook nie. Dié deel niks en kom een-een.
Die voorste een marsjeer, met sy regterarm gereed om terug te salueer. Die ander een se hande wil joune met sagte mededoë toevou.
Jooste se keel trek toe, want hy weet wat’s aan die gang.
Eerder pakke as uniforms.
Die bure moenie skrik nie.
Die voorste een het hy laas Desember by die eerste minister se vakansiehuis op Oubosstrand naby Jeffreysbaai gesien. Soms het die mans langs die braaivleisvuur in ’n halfmaan aandagtig na hom gestaan en luister, die koppe vooroor gebuig, want die wind het sy woorde uitgerafel. Sy ligbruin oorkam-slierte het ook taks vertoiing, en dan het hy die meeste met sy uitgespreide vingers vir ’n kam oor sy pienk kopvel teruggeskep. Die koppe het partykeer almal saam geknik terwyl hy met ’n driftige hou in sy bak linkerhand nog ’n kommunis se kop afgekap het.
Jy sou maklik kon dink dis ’n klomp goedige omies met pense wat ou stories klets, die meeste kaalvoet of met sandale aan, in kortbroek en kortmouhemp, bier of whisky byderhand. Toe nie. Die gesag van topgeneraals en kabinetsministers belas met veiligheid steek jy moeilik weg. Dis mense met min tyd vir grappies.
Binne-in die blokhuis van drie verdiepings met die bulderende see ’n hanetreetjie van die voorstoep af, en die staalplate aan die buitekant wat jy vir die wind, reën, inbrekers of 7.62 mm-koeëls uit ’n AK-47 se loop voor die vensters kan trek, was Jooste en sommige van die ander Kreti en Pleti om en by twee dosyn sterk. Sekretarisvoëls, skoothondjies, gorillas en ’n paar bokkies vir beddens opmaak, kook en skottelgoed was – ’n plofbare dieretuin. Die gepeupel het baie minder praatjies gemaak as die manne daar buite. Oë het elke nou en dan buitentoe geflikker. Veral die skoothondjies was op hul senuwees. Enige oomblik kon “my minister” een van hulle nader wink met ’n opdrag.
Bel my vrou. Is die kaartjies bespreek? Gaan kyk na my bruin baadjie, ’n knoop voel los. Vat my blou pak droogskoonmaker toe, daar’s ’n vlek op die broek.
Jooste was die Generaal se agterryer omdat Wachthuis skaars sou agterkom hy’s weg.
Daardie aand, met die base veilig in die konferensiekamer gehok, het omtrent die helfte van die dieretuin Jeffreys binnegeval en ’n kroeg op die dorp gaan verken. Die tropinstink was sterk; hulle het nog soos grommende brakke stywebeen om mekaar gestap. Niks ernstig nie. Manne moet teen die bossies pis, mekaar aan die tand voel, om te weet waar staan elkeen op die leer.
Jooste het maar eenkant by die toonbank gesit en kyk terwyl hy besluit of hy moet bly of gly. Hy’s g’n kroegvlieg nie. Het ook g’n bliksem omgegee waar hy op die leer staan nie. Hulle kon maar brom en lippe terugtrek, net nie vir hom nie. Om sy hande besig te hou, het hy die klam etiket van sy bierbottel losgetorring en opgevou, ’n simpel ou gewoonte wat hy probeer afskud omdat dit selfs hom soms irriteer. Hy’t bietjies-bietjies gesluk terwyl hy probeer raai het wie’s die alfas en wie die betas.
Vyf manne het ingekom en uitgelate in die bondel gegroet. By die taptoonbank het hul drankies al gereed gestaan. Vriendelike kêrels, vol ou grappe en papgekoude sêgoed, almal se pelle. Met die eerste happie agter die blad het hulle potspeltafel toe gestap, maar ’n klompie gorillas was daar reeds besig om die balle driftig te laat klik-klak. Ná ’n paar minute van rondtrippel het die dorp se manne guerrillataktiek begin toepas.
“Ses in die middelsakkie, maat,” was die bekkigste een se ongevraagde raad. ’n Ander het die mik aangegee terwyl die man met die stok nog oor sy skoot gewik en weeg het. Die res het elke keer as hulle in die pad was, ’n sekonde of wat te laat wegbeweeg, of net te min plek vir die stok se terugtrek gelos.
Dit kon maklik ontaard het. Blitsig. ’n Stampie aan die elmboog. Bier wat op die vloer mors. Dit sou ’n slagting afgegee het, want die kil oë wat van die stokke opgekyk het, het in Rhodesië met die Selous Scouts patrollies geloop, en dinge gesien waaroor hulle nog nooit met hul vroue of selfs beste maats gepraat het nie. Gelukkig het niks ontplof nie. Die leier van die plaaslike spannetjie het eerder die bekkige een se mou saggies gepluk en ’n taktiese aftog geblaas om nog ’n bier of twee te gaan wegslaan en twak te praat tot hulle ’n beurt kry.
Jooste het só gesit en kyk dat die flankmaneuver hom heeltemal onkant betrap het. Hy’t nie eens agtergekom iemand sit op die stoeltjie langs hom nie.
“Pretoria,” antwoord hy toe die vriendelike vrou met die effens verweerde gesig vra waar hy vandaan kom. Te veel optimistiese mooimaakgoed. Elmboë op die toonbank geanker, asof sy gaan afgly. Glas en lippe wat na mekaar toe duik en halfpad bots. ’n Groot eerste sluk vir plek bo-in sodat die res nie stort nie. Toe hy by die kroegman bestel, sê sy, kon sy dadelik hoor hy’s nie van hier nie.
“Met vakansie?”
“So half en half,” probeer hy systap. Dit help nie.
“Jy’s met vakansie, maar jy werk, of jy werk, maar het darem ’n daggie of wat af?” Die stem is donker, maar Jooste het hom tog verbeel hy hoor spore van ’n vorige, meer verfynde lewe.
“Seker maar die tweede.”
“Lekker. Op ’n plek soos dié voel werk in elk geval soos vakansie.”
Jooste weet nie wie se werk sy bedoel nie; los dit daar. Hy voel half kriewelrig. Hy ken nie die reëlboek vir kroeë nie, weet nie wat om te sê of doen nie. Wat soek sy eintlik? Sy vra nog uit, vertel so ’n bietjie van haarself, van die omgewing en van die inwoners. Sy luister na hom waar ander lankal sou ingedruk het, en knik haar kop asof sy verstaan terwyl hy bieg dis die eerste Desember dat die gesin nie almal saam is nie, al is dit net vir ’n paar dae. Hy bestel nog, en terwyl die bier in die glase sak en die stemmegeruis in die kroeg styg, begin hy ontspan. Hulle moet met die koppe nader aan mekaar sit om te hoor wat die ander een sê, en hy ruik haar lyf en hare.
“En waar bly jy?” wil sy later weet.
“Gastehuis hier om die hoek.”
“Saartjie se plek? Saartjie Bosman? Dis heel skaflik daar. Buitekamer?”
“Dis reg, ja.”
Haar hand op sy been voel warm, net neffens ’n stewige jakobregop, en hy kriewel nie daarvan weg nie. Nog ’n bier stryk meer van die plooie uit haar gesig. Haar groot oë kyk stip na hom, en net na hom. Nog ’n drankie, en hul vingers strengel inmekaar. Hy los haar hand net om te betaal. Hulle stap styf teenmekaar in die straat af, en sy stuur hom toe hy links in plaas van regs wil draai. Hy sukkel met die sleutel, maar sy kry gou oopgesluit, en dis toe dat hy besef sy’s nie ’n gewillige amateur nie. Hy wil-wil hom opruk oor die prys wat sy noem, en haar uitsmyt, maar dink: Ag, te hel daarmee, het nog altyd gewonder hoe dit sal wees.
Die volgende oggend was dit nie die feit dat ’n ligweg snorkende vrou met gesmeerde grimering nog kaal langs hom lê en in die helder daglig so oud en afgerem lyk nie, maar dat dit so maklik was, en dat sy gewete hom glad nie pla nie. Dit was so ánders as Hanna se roetine. Hy kon truuks uithaal, dinge wat hy nooit met Hanna sou waag nie. Fantasieë uitleef. Waar hy voorheen net gewonder het, weet hy nou. Daar ís vroue vir wie sulke dinge niks snaaks is nie. Wat sy met haar tong gedoen het, en hy ná ’n bietjie afrigting met syne … Dis nie hý nie, dis sý, Hanna, dit weet hy nou.
Hy’t die geld byna met ’n lied in sy hart uit sy beursie gehaal. Nie vir die diens nie, want dié was maar moeg en terloops en net duskant onhigiënies, maar vir die bevryding. So voel ’n tronkvoël seker as die bewaarder sy seldeur die heel laaste keer oopsluit en opsy staan sodat hy die wye, vrye wêreld kan instap.
Van die houthakkers en waterdraers in die kombuis op Oubos ken Jooste net vir Dawie Visagie, ’n kodeklerk op Wachthuis se derde verdieping, met krom skouers en rustelose vingers van die ewige getik op sy klakkende masjien en ’n handdrukkie soos ’n slap snoek. Jy wil altyd daarna jou hand aan jou broek afvee.
Dis die agtermiddag van die volgende dag. Dis weer braaivleistyd vir die here en meesters daar buite. Hulle het vars lug nodig ná die hele dag se samesprekings agter geslote deure, al ruil hulle net sigaretrook in ’n bedompige vertrek vir die vure s’n. Hulle lyk vodde.
“Hoe lank nog?” wil ’n fyn skoothondjie met skoenlapperhandjies weet.
“Die hel alleen weet. Elk geval nog ’n nag in die paradys vir ons almal.”
“Kla ons?” vra Jooste, steeds in ’n roes. “Dis Jeffreys. Dis Desember.”
Buite bots die ysblokkies in die eerste minister se whiskyglas.
“Dis Angola,” flap Dawie uit, en stoot sy ken in die rigting van die konklaaf uit. “Of hoe, André?” Hy kyk na die fyn skoothondjie. “Jy’t mos gehoor toe jou minister jou geroep het.”
André kriewel. Dis nooit goed as die vingers na jou as die bron van ’n gerug wys nie.
“Angola?” Dié gorilla se lippe beweeg sekerlik terwyl hy deur Kyk blaai. “Angola? Wat soek ons daar?”
“SWAPO’s, man. Kubane. Russe, as hulle hul gevrete wys. PLAN. FAPLA. Kies maar. Net nie UNITA nie. Hulle’s ons s’n. Maar veral SWAPO’s.”
“Dis mos ’n saamkoekery van kommies soos brommers om ’n drol daar.”
“En nou gaan ons instorm en Doom spuit?” veronderstel ’n tasdraer met ’n modieuse goueraambril.
“Jy lag. Glo my. Oor ’n paar maande ry ons manne deur Luanda se strate op soek na ’n Wimpy.”
Hier’s Skietpiet nou self op die voorstoep. Met sy wit hemp en ewe donker das as die pak lyk hy nes ’n withalskraai. Girts, girts kraak die blink skoene op die gruispaadjie. Net voor hy die trappies na die voordeur toe klim, steek hy sy regterhand links onder sy baadjie in. Sy handlanger girts ’n halwe stappie agter hom.
Jooste staan op en kyk vinnig deur die ruit in die straat op en af. Hy kan alles sien. Die lae muurtjie wys net waar die erf se grens loop. Enige swart gesig wat nie op uitnodiging kom spit of stryk het nie, sal gou geskraap word.
Dis steeds normaal. Hessie hang ’n klompie goedjies aan die wasdraad, in haar sandale met die houthakke, haar hare nog klam van die bad, en met net ’n huisjassie aan wat tussen die knope deur interessante stukkies van haar wys. Op ’n ander dag sou hy ’n rukkie staan en kyk het. Later sal sy met ’n geverfde gesig en ’n rokkie met ’n lae hals in haar kar klim en stad toe ry om met die laaste bietjie skeigeld ’n nuwe man te gaan vang.
Hans se seun werk aan sy motorfiets; onderdele lê die wêreld vol. Hoop hy maak die blerrie ding se knaldemper reg.
Niemand steur hulle aan die kraai en die begrafnisondernemer by Jooste se voordeur nie.
Hulle moenie vir ’n Bybel of Gesangeboek vra nie, dink hy. Dié’s seker dik onder die stof. As hy dit kan kry. Hy’s nie reg vir gaste nie, met naweekstoppels en tuinmaakskoene, maar sommerkloppers moet vat wat hulle kry. Hy kyk vinnig rond. Die voorkamer lyk darem nie te sleg nie. Hy krap gou die stukke van die oggendkoerant bymekaar, bondel dit op en prop dit bo-op die tydskrifte op die rakkie onder die koffietafel in. Hy buk oor die televisiestel en skakel dit af. Die beeld plof in tot ’n punt. Jammer hy gaan Noord-Transvaal teen Vrystaat misloop. Hy’t rêrig uitgesien daarna.
Uit die kombuis hoor hy flardes van Springbok Radio se treffersparade waarna Martie altyd luister, sulke lawwe “Ooooh baby baby”-goed. Die blêrende Bee Gees is terug, hy onthou hulle van seker tien jaar gelede, en daar’s Abba om van mal te word. Hoekom sing niemand meer soos Nelson Eddy en Jeanette MacDonald nie?
Dis goed Hanna en Martie het soontoe gevlug om die inkopies uit te pak, die nuwe rompe en toppies weer vir mekaar te wys, en deur die tydskrifte te blaai terwyl hulle babbel oor goed waarvan hy nooit deel is nie. Toe ’n mens nog oor die radio na Spiekeries geluister het, kon hy hulle naby hom vat terwyl hulle lees of knope vaswerk of naels verf, maar vandat hy die televisie het, raak hy ongeduldig as hulle praat en sy konsentrasie verbreek. Wanneer hulle tussen hom en die beeld verbystap, wil hy skree.
Die voordeurklokkie lui. Jooste se lyf ruk, al het hy dit verwag. Hy staan op, stap na die deur toe en maak dit oop asof hy ’n kisduiwel se deksel oplig, reg vir nog skrik. Hopelik sal Hanna dink dis van sy goor pelle wat saam kom kyk, en hulle uitlos.
“Meneer Jooste?”
“Dis reg.”
Jy weet mos.
“Ek dink ons het al skrams ontmoet. Piet Bester. Mag ek binnekom?”
“Ja. Ja, natuurlik.” ’n Mens moet ordentlik wees, al wil jy eerder sê hulle moet fokof. Jooste staan opsy dat die man kan verbykom.
“Dié kant toe, regs,” beduie hy die pad na die sitkamer toe.
“Dankie.”
Die tweede man staan ’n oomblikkie ongemaklik in die deur, steek dan sy hand uit, en sê: “Visagie.”
Outomaties skud Jooste die hand. Hy is vaagweg bewus dat hy “Jooste” antwoord en “Bly te kenne” byvoeg. Hy stap agter hulle aan tot in die sitkamer, maak ’n gebaar in die rigting van die stoele en bank.
“Sit gerus.”
“Dankie.”
Die generaal trek sy broekspype op voordat hy gaan sit, vooroor, met sy elmboë op sy knieë. Hy soek iets om sy hande mee besig te hou.
“Iets om te drink? Koffie of tee? Bier miskien?” bied Jooste sonder geesdrif aan. Hy vrek self vir ’n stywe dop, maar hy wil nie kombuis toe gaan nie. Hy wil nie verduidelik wie’s die besoekers nie. Hanna en Martie moenie nou al weet nie.
“Dankie, dis gaaf, nie vir my nie,” druk die generaal dié handgranaat se pennetjie terug. Jooste besef: Wat doen jy met ’n halwe koppie warm koffie as jy dalk gou wil verkas?
Die ander man ken sy plek. Hy skud net sy kop, lig sy hand en laat sak dit weer.
Daar is ’n ongemaklike stilte, en die generaal besluit op ’n blitzkrieg. Hy tower ’n langwerpige koevert uit sy binnesak. Jooste sien die ampswapen in die hoek. Ex Unitate Vires. Die generaal praat, en in Jooste se ore klink sy stem asof dit van die ander kant van ’n lang tonnel kom.
“Meneer Jooste,” sê hy deur die stywe, droë lippe. “Dis miskien beter as ons eers gesels voor … voor ons die res van die huisgesin betrek. Ek het slegte nuus. Daar is geen maklike manier om dit te sê nie, en ek val maar met die deur in die huis. Dis beter so. Dit gaan oor u seun.”
Daar steek ’n stukkie wit enkel tussen die bokant van sy sokkie en die onderkant van sy broekspyp uit. Dit lyk soos ’n lyk se yskoue vlees.
“In opdrag van die staatspresident is dit my plig om die volgende boodskap aan u oor te dra.”
Hy’t dit geoefen, weet Jooste, met militêre presiesheid. Alles moet glad verloop, met gesinchroniseerde horlosies. Tik, tak, op die sekonde af. Nes die klok wat eens in sy oupa se voorhuis gehang het, toe hier, regs van die televisie, en nou in die gastekamer wat ook sy kantoor is. Dis ’n mooi klok, oud, kom uit Holland. Vir vrede met Hanna het hy dit van die muur afgehaal en daai landskap in sy plek gehang. Blou berge en ’n stroompie. Bome. Het hy al honderd keer daarteen vasgekyk, of duisend? Hoekom sien hy nou eers hoe banaal dit is?
“Dit is met leedwese dat ek u moet meedeel dat u seun, Johannes Jacobus Jooste …”
Hardloop, Kobussie, haaaaardloooooop. Nee, moenie kyk waar’s Mamma nie, kyk voor jou. Hardlooooop! Toemaar, hier’s ’n sakdoek, ons bind dit sommer om jou knie. Nee, jy was laaste, maar het jy gesien hoe vinnig moes die ander outjies hol om voor te bly? Ek soen die arm beter. Dis mos sommer baie beter, nè?
“… in die uitvoering van sy plig … in diens van die republiek …”
Baai, Pa. Ag nee wat, dertig rand is vir eers genoeg. Dankie. Ja, ek sal laat weet. Baai, Sus. Luister, as daai Boetman weer te vatterig raak, sê net, dan kom donner ek hom. Baai, Ma, natuurlik sal ek skryf. Elke week. Belowe.
“… gesneuwel het.”
Sy oë het geblink, soos ’n outjie op die speelgrond wat vir sy beste maatjie se cowboys-en-kroeks-span gekies is. Hy wóú gaan. Dit was ’n avontuur. Met regte, egte gewere.
Die generaal raak ’n tikkie angstig omdat Jooste nie reageer nie. Hy vrees emosie, maar géén emosie maak hom ewe bang. “Die staatspresident het my voorts versoek om sy persoonlike leedwese aan u oor te dra.”
Rêrig? Ken hy Kobus se naam? Ken hy myne?
Die man hou die koevert na hom uit, maar Jooste staar net na hom. As hy daaraan raak, is dit amptelik. As hy weier om dit te vat, is daar nog ’n kans dat Kobus by die voordeur kan instap.
“Meneer Jooste …?”
Hy skud sy kop driftig, en die man sit die koevert op die koffietafel neer, so na aan Jooste as wat hy kan, en ver van homself af weg.
“Kobus?”
“Ja. Dit spyt my.”
“Kobus.”
“Hy sal met volle militêre eerbewys ter aarde bestel word.”
Wat ’n moerse troos. Jooste sukkel om asem te kry. Sy bors voel styf. Sy keel is toegetrek.
“Hy’s ’n Parabat. Laas toe ons gepraat het, was hy op Tempe. Waar was hy?”
“Meneer Jooste, u moet verstaan, ek is nie by magte …”
Jooste haat die mans. Hoe hulle na hom kyk. Sou ’n telegram beter gewees het – dooie woorde op papier, sodat hy soos ’n gewonde dier na ’n hoekie toe kon sluip om hom rondom sy pyn te krul? Nou moet hy praat. Hy haal sy woede op hulle uit.
“My magtig, generaal!” Te hard. Hanna sal skrik. Hy praat sagter. “Ek moet nou-nou met my vrou gaan praat, met my dogter. Dit gaan haar uitmekaar skeur, my vrou. Jy’t geen idee nie. Sy en haar seun was na aan mekaar. Sy sal wil weet wat gebeur het. My dogter ook, met haar broer. Ék wil weet wat gebeur het. Dis my – ons – enigste seun. Ons het die reg om te weet.”
“Ek verstaan, meneer Jooste, maar in dié stadium …”
Hy is ongelukkig nie ’n gewone ouer van wie die feite weggesteek kan word nie. Hulle kan hom nie met halwe waarhede of trompop leuens ’n rat voor die oë draai nie. Die verskoning van staatsveiligheid maak by hom geen hond haaraf nie.
“Ek was ook by Oubos, generaal. Nie in die binnekringe soos jy nie, maar ek weet wat aan die gang was, en wat daar besluit is. Ek wil weet. Jy kan maar net sowel tyd spaar en my vertel, want ek sal dit êrens anders hoor. Vertel my. Iemand anders se storie is miskien verdraai.”
Die generaal huiwer ’n oomblik, en blik na sy stil en feitlik onsigbare metgesel, maar kry geen hulp van die kapelaan nie. Hy besluit. Jooste ís in ’n soort susterdiens, en ís dus verlangs familie, hoe onsmaaklik ook al.
“Goed, meneer Jooste, maar ek kan net die buitelyne noem. Net vir u ore. Selfs u onmiddellike gesin mag nie weet nie. Dis hoogs geheim.”
“Ek luister.”
“Daar was Donderdag, 4 Mei, ’n aanval deur valskermsoldate op Cassinga in Angola.”
Jooste reageer nie onmiddellik nie. Sy verwysingsraamwerke bots. Dis verwarrende tye.
“Cassinga … Moscow?”
“Korrek.”
“Julle’t die Moscow-basis aangeval? Goeie hel! Dis tweehonderd-en-sestig klieks binne Angola! Moscow? Dis ’n vesting, loopgrawe, bunkers, kanonstellings, lugafweer. Ek het lugfoto’s gesien.”
“Korrek.”
“Met Parabats? Ons het nog nooit Parabats gebruik nie.”
“Dis korrek.”
“Is julle mal?”
Vir ’n oomblik lyk dit of die generaal hom wil opruk. Mense praat seker selde só met hom. Hy hou hom in, al is dit moeilik. “Die operasie was in alle opsigte ’n sukses, meneer Jooste.” Hy kan die trots nie wegsteek nie. “Omtrent tweehonderd-en-vyftig dapper soldate het die vyand ’n gevoelige slag toegedien. Ons raam omtrent seshonderd van die vyand het gesneuwel, teenoor drie van ons. Ons reken die PLAN se rug is gebreek. Dit was ’n dawerende sukses.” En hoe durf jy dáárteen beswaar maak, meneer Jooste?
Maar mý seun moes in ’n plastieksak huis toe kom, dink Jooste bitter. Die besef het nog nie behoorlik by hom vat gekry nie.
“Moscow?”
Hy kom agter dat Hanna in die binnedeur staan, en kyk om. Sy’s versteen, met haar hand hulpeloos halfpad na haar mond. Wat het sy alles gehoor? Genoeg, want haar oë staan stokstyf.
Jooste spring op en gaan na haar toe en probeer haar vertroostend na hom toe trek, maar haar lyf is soos ’n snaar gespan. Sy rem met haar elmboë en hande van hom af weg, asof hy ’n verkragter is. Haar gesig is lelik vertrek, hy’t dit nog nooit só gesien nie. Vir ’n breukdeel van ’n sekonde sien hy suiwer afsku in haar onbewaakte oë.
“Is dit Kobus?”
“Ja,” prewel hy.
“Het hy seergekry?”
“Nee, hy’s …”
Vir ’n oomblik is alles doodstil. Toe klief haar kermgil deur alles.
Daar’s ’n haastige geskraap van stoelpote in die kombuis.
Hanna buig vooroor, haar arms oor haar maag gevou, en haar gil hou eers op toe daar nie meer lug in haar longe is nie. Sy staan ’n rukkie so terwyl haar skouers ruk.
Die generaal se simpatieke agterryer maak sy rug styf, en sy hande druk dieper duike weerskante van hom in die bank. Uiteindelik kan hy sý plig doen.
Toe kom Hanna egter regop, suig lug in haar longe, kyk na hulle met daardie verwronge maskergesig, en sê met ’n vreemde hol stem:
“Mans!”
Dit klink vir Jooste na die ergste vloekwoord wat hy nog ooit gehoor het, vol weersin en vlammende haat.
Dis nie net sy seun wat dood is nie, weet hy.
’n Fragmentasiebom se skerwe en splinters het drie mense verskeur.
Vier bajonetpunte deurboor die aarde. ’n Korporaal met ’n rooi gesig en bolwange blaas die laaste taptoe op ’n beuel. Snuiters in uniform staan styf en presenteer geweer. Iemand met ’n pers petband en lapelstrokies bid vroom. Iemand anders sê ’n paar patriotiese woorde.
’n Klompie rooi lapelle het met hul aankoms hand geskud, ’n mens sou sweer hul span het gewen, maar Jooste se blik laat hulle skuldig wegkyk. Ja, dink hy, ’n kantoor as slagveld is soveel veiliger. Oorlog as teorie, wit krytpyle en -strepe op ’n swartbord, vingers op ’n kaart, syfers. Rou emosies laat julle doodseker maak jul skoenpunte blink nog.
Daar is geen trane agter Hanna se dowwe oë oor nie. Sy leun swaar op Martie. Hanna is die kind. Sy leun nie op hóm nie. Sy ruk toe die geweerkolwe die grond met ’n geroffel tref, asof ’n salvo skote in haar lyf vasslaan.
Daar is die sagte, hoë gehuil van ’n Transall se enjins, op pad na Waterkloof.
Jooste kom agter die mense beweeg. ’n Hand voel swaar op sy skouer, iemand sê iets wat seker vir hom bedoel is, maar hy’t geen benul wat hy moet antwoord nie. Hy skud maar die hande wat swewend uit moue, swart of kakie, na hom uitgesteek word.
Die bloedjong troepie met die Tiffies se swart baret, seker net ’n paar maande uit die skool, Kobus se maat, sê hy, druk die pakkie so half verskonend in Jooste se hande toe die manne met die kastele en swaarde al weg is, en die meeste van die ander mense reeds in hul motors sit, en die Magirus met ’n rokende uitlaat sidderend wag dat die laaste van die erewag agter inklouter.
“Net ’n klompie van Kobus se goed in sy staalkas, oom,” mompel hy, en hol vir die Magirus wat al begin ry het.
Koos Jooste wonder: Is jy volgende, seunie?
Jooste weet daar was mense by die huis, maar hy sal net vier of vyf se name kan noem. Hulle het koffie en tee gedrink uit koppies wat Martie by Susan gaan leen het. Hulle het koek geëet wat iemand by Tuisnywerheid gaan haal het. Hy vermoed dit was hy self, maar sal dit nie sweer nie. As iemand gelag het, wou hy sy vinger op sy lippe lê en sjuut sê. Hanna moes natuurlik ook daar gewees het. Hy sal nie kan sê watter rok sy gedra het nie.
Toe die koppies en pierings oplaas gewas en afgedroog is, het ’n kilte by die huis ingetrek, en dit was nie die naderende winter nie. Feitlik alles het Hanna ontstel. Die foto-albums het Jooste laat ineenkrimp, want die beelde van Kobus in sy eerste skooluniform, of saam met die ander kannetjies van sy rugbyspan, of met ’n emmer en grafie in ’n swembroek op Margate se strand, was genoeg om haar verwytend na hom te laat staar, asof hy hul seun persoonlik by die vliegtuig ingestoot het.
Martie, met haar adolessente floskoppie, het ook nie gehelp nie. Elke “Onthou julle toe Kobus …” en “As Kobus nog hier was …” het ’n nuwe roof afgekrap.
Hy was later radeloos. Probeer hy met ’n sagte stem troos, het Hanna vir hom tande gewys en kras woorde geblaf. Bly hy eerder stil, is hy as ongevoelig uitgekryt. Sy het haar tande al hoe meer geborsel, maar hy kon die whisky deur die tandepasta ruik.
Sonder dat sy dit reguit sê, kon Jooste aanvoel hoe ou renonse uit die dieptes opborrel. Oor sy werk, wat sy nie rêrig verstaan het nie, behalwe dat die maandelikse tjek altyd te min was vir wat sy eintlik wou hê. Oor sy kollegas, wat sy nooit ontmoet het nie, en sy vriende, met wie sy by niemand kon spog nie. Oor die doodgewone adres en huis. Oor haar klere, altyd uit die mode. Oor die vakansies, elke jaar by dieselfde plek, nooit oorsee nie. Oor haar daaglikse sleur. Haar lewe moes ánders gewees het.
Hy het magteloos gevoel. Dis mos hoe dinge ís, wou hy vir haar verduidelik. Hoe kan jy dit nou anders wil hê?
Haar mond het miskien niks gesê nie, maar haar lyf en houding was spraaksaam. Snags het sy opgekrul in die bed gelê, en weggekrimp as hy aan haar raak. Later het sy in Kobus se kamer gaan slaap. Dié was nou vir haar ’n veilige hawe, nes sy hom in haar baarmoeder beskerm het. Sy het seker gemaak almal hoor haar snikke agter die toe deur.
Jooste weet dis die einde van die pad vir hulle. Hy aanvaar dit gelate, is eintlik bly, al sal hy dit nie erken nie. Hy’t nog altyd met besluite gesukkel. Sy maag was taks op ’n knop oor die vrees vir die onbekende. Nag ná nag het hy wakker gelê terwyl hy opsies teen mekaar opweeg. Die volgende oggend was daar meestal nog geen oplossing in sy suwwe kop nie.
Alles was makliker sodra die besluit uiteindelik geneem is. Dan moes jy net aan die wipwa vasklou terwyl hy op sy onvermydelike spoor loop.
Die besluit word vír hom geneem, en hy voel verlig.
Jooste die getroue dienaar gaan kantoor toe. Hy wil nie, want die oormaat troos wil hom laat verstik. Dis asof die suurstof naby hom weggesuig word.
“Só jammer om te hoor van jou seun.”
Net soos volkome vreemdelinge mos oor ’n swanger vrou se maag mag vryf, mag hulle hom ’n kloppie op die skouer gee, en sy hand toevou. Die parfuums van al die vroue wat hom ’n drukkie gee, smelt tot ’n walglike soet klont in sy neusholte saam.
“Sê maar as ek kan help,” prewel hulle in sy oor. “Enigiets.”
Die simpatieke blikke van mense wat hy skaars ken, is ewe erg.
“Ek weet nie wat om te sê nie.”
Hy wil sy hand gedurig was van al die geskud.
“Ek kan net dink hoe jy moet voel.”
Goor, dankie, en leeg, en dood. En jy? Mateloos dankbaar dis nie jóú seun nie?
Soms brom Jooste iets en draai weg terwyl die stukke binne-in hom rammel. Ander kere glimlag hy effens en sê dankie. Aan die einde van ’n dag weet hy glad nie wat hy gedoen het nie. Daar was wel telefoonoproepe, en papiere op sy lessenaar, en hy onthou hy het iemand gevra om fotokopieë te maak, dit moet ou Dicky gewees het, en vir iemand om ’n legger te gaan liasseer en ’n ander een te gaan soek, maar wie was dit, en waarom was die leggers belangrik?
Hy verloor tred met hoeveel dae of weke in dié waas verdwyn voordat hy lank genoeg kan konsentreer om sy omgewing werklik raak te sien. Hy doen baie ontdekkings. Daar is tekens dat hy lank reeds in hierdie kantoor woon. Sy vinger draai om en om oor ’n baie ou koffiekring. Dit is op sy lessenaar se blad. Dis beslis sy telefoon wat so lui. Dis grys, met ’n hoorbuis van maroen plastiek. Waarom lui en lui en lui die telefoon so? Wag ’n bietjie, dit hou op as jy die hoorbuis optel.
Dis sonder twyfel sy stoel waarin hy sit. Dit piep as jy só oorleun om ’n laai oop te trek. Dis die mat in sý kantoor, ja, ’n soort groen met ’n skurfsiekte wat in brak kolle uitslaan, veral by die deur, en ’n kraakvars eiland onder die dik, stywe plastiek waarop die wieletjies loop. Dis sý besoekers se stoel voor die lessenaar, met so ’n bruinerige plastiekoortreksel wat soos ’n ritssluiter girrrts as vroue met kort rokke in die somer daaruit opstaan. Dit is sy kladblok op sy lessenaar. O ja. Hy het self al daardie telefoonnommers en krulletjies en pyltjies en datums met sy balpuntpen daarop gemaak terwyl sy woorde in die maroen hoorbuis verdwyn, en hy in die verte staar. Ja.
Daar is selfs lewe buite sy kantoor, kom hy later agter. Ander telefone lui en raak stil. Deure gaan oop en toe. Hysers pieng. Mense praat. Trollies met leggers word knersend verbygestoot. Die beker met warm koffie verskyn nie uit die bloute op sy lessenaar nie. Iemand met ’n naam sit dit daar neer. Margaret, noem hy haar wanneer hy dankie sê.
Hoe kan alles so normaal wees terwyl sy wêreld stadig kantel, en dinge oor die rand begin gly en in die afgrond stort? Dis ’n belangrike ontdekking en ’n belangrike vraag, weet Jooste, die ontrafelaar van geheimenisse en oplosser van probleme.
Hoekom is dit so belangrik?
Want dit is iets om sy brein mee besig te hou.
Hoekom is dit belangrik om sy brein besig te hou?
Sodat hy kan vergeet van die middelste laai van sy lessenaar, links.
Wat is daar in die laai wat só dreigend is?
Toegedraai met bruinpapier wat van die rondrol in sy motor se kattebak al gehawend is by die hoeke, lê daar ’n skoendoos met sy seun in, en hy is doodbang daarvoor.
Jy kom deur Ali Baba se grot by Dave Andrews uit. Dis aan Wachthuis se sonkant, want die grotbewoners het goeie lig nodig, al is daar heel ironies ook ’n donkerkamer.
Dis waar Joost die monnik ’n uur of wat met drie verskillende rolletjies film kan verdwyn. Jy wag maar geduldig, want tyd jaag die monnik nie. Hy offer net aan die gode van volmaaktheid. Drie rolletjies film, drie ontwikkelde negatiewe, drie positiewe afdrukke, drie elemente met ’n vaste hand en vlym uitgesny en oormekaar geplak. Dan een collage, geflits, ontwikkel en gedruk, en jy kry ’n foto, miskien ’n bietjie greinerig of bewerig, dalk half uit fokus, of al drie, van ’n grootoog-man wat sy verleentheid, en die kaal vrou langs hom, agter die laken probeer wegsteek.
Jy sal sweer Van Vuuren die pornograaf het dit self opgestel en gekiek. Kyk, jy sien selfs die hotel se naam op ’n asbak op die bedkassie. Dis al wat jy nodig het om die maer bleskopmannetjie soos ’n kanarie te laat sing. Sy vrou wéét mos hy flerrie rond, sy moet dit net met haar eie oë sien. Met sy baas se sekretaresse, nogal.
En as die mannetjie dalk meer ruggraat het, dreig jy dat die baas die foto sal sien. Dié sal ontplof. Wat gaan hy in die middaguur doen as sy sappige stukkie dan ’n ander man streep? Dis tatta werk, ou maat, en tatta pensioen, en net jy en vroutjie-lief heeldag knussies saam by die huis, behalwe as jy daai legger vir ons bring.
Die monnik neem ook paspoortfoto’s. Soms het Julia Verdoorn, een van die drie wyse maagde, hulle nodig. Haar werktafel staan onder een van die vensters, en lyk of iets daarop ontplof het. Maar kyk mooi. Al die bladsytjies van die paspoort wat sy met haar fyn vingers uitmekaar gehaal het, lê op hul plek. Intussen staan die eintlike eienaar met swaaiende arms voor ’n konstabel wat hard probeer om die vreemde aksent waarmee hy die verdwyning probeer aanmeld, te verstaan. En ’n kamermeisie draai met tuitlippies in haar nuwe rok voor ’n spieël dié kant en daai kant, en glimlag skalks terwyl sy reeds sien hoe al die mans by die partytjie om haar kloek. Wachthuis betaal heel skaflik. Kontant.
Een nadeel van Karen Bouwer se werk is dat haar vingers gedurig swart is. Of blou. Of groen, soms. Al meng jy ook hoe versigtig, kom ink tog onder die naels in. Jy kan die rubberhandskoene nie hééldag dra nie, en as jy jou weer kom kry, moet jy by die wasbak gaan skrop. Karen is Wachthuis se meesterlike namaker van handskrifte en handtekeninge en stempels. Sy’t jare lank by die meester geleer, en goed geleer. Sy sou seker met ’n veel blinker motor kon ry deur tjeks te vervals, soos hy in sy jongdae. Dankie tog vir haar sterk ingebore sin vir etiek.
Dan is daar Janneman Vermaak, die boekbinder. Nadat die nuwe foto aangebring is, en die nuwe handtekening, en ’n klompie nuwe stempels, kan hy met sy gom en sy naald en gare aan die werk spring. Dan ’n ruk se knyp in die pers, en Wachthuis kan ’n man of vrou met ’n nuwe naam en identiteit die wye wêreld instuur om geheime te gaan uitsnuffel. Selfs ’n kundige sal sukkel om te bewys die paspoort is nie eg nie. Watter kans staan ’n moeë beheerbeampte by ’n besige lughawe?
Hans Kok is ’n heel ander spesie. Hy is die meester van die tikmasjien. Sy lessenaar kreun skoon van hulle. ’n Klomp staan op die vloer. Jy sou sweer dis ’n museumuitstalling. Bloot die name sal ’n gesoute joernalis ’n ernstige nostalgie-aanval gee. Remington en Underwood, Imperial en Olivetti, ’n Smith Corona, almal nog met hamers wat klont as jy te vinnig tik. Ook elektriese IBM’s, met gholfballetjies vol letters. Gee hom ’n foto van ’n notule, kennisgewing, rondskrywe of brief, skelm geneem, en hy kies die regte masjien, dan die regte papier en lint, verander hier en daar ’n woord of frase in die teks om die grootste moontlike verwarring, verdeeldheid en agterdog te saai, en trek ná een of twee probeerslae ’n dokument uit wat in die oorspronklike se plek teruggesit kan word. Dan sit jy agteroor en kyk hoe die vingers wys en die stemme so hard word dat die spoeg spat.
Vandag laat die gewoel en gewerskaf in die Ali Baba-grot Jooste koud. Hy stap na Dave Andrews se hokkie, tik aan die deur en stap in.
“Koos, dis ’n groot lekkerkry,” sê Andrews met dun lippe wat in ’n bruin boskasiebaard wegkruip, terwyl sy lang, maer vingers met die knopperige kneukels die koerant waarin hy sit en lees het, skuldig opvou en op ’n sytafeltjie neersit. Die nuwe Citizen, waarvan hulle stapels verniet weggee om die sirkulasiesyfers te masseer. “Wat ’n dag as die gode van Olimpus afkom. ’n Voorreg, glo my. Sit.”
Hy wys na die besoekerstoel in sy chaotiese kantoortjie, stap na die deur, steek sy kop uit en bulder: “Fransien, liefie, twee koffies, skattebol, ta! Daan, jy’t nog net ’n halfuur voor die drukker se motorfietsman jou kom gryp aan die keel. En onthou ‘welkom’ het net een ‘l’, sal jy? G’n mors-op dié keer nie, dankie. Ek kom kyk daar nou. Des, swietie, hang vir my aan net ’n sekonde.”
Andrews moet ’n stapel papier op sy lessenaar eenkant toe skuif om Jooste behoorlik te sien, en vir ’n oomblik lyk dit asof die toring oor die rand gaan stort.
“Kaartjies vir die Minister,” verduidelik hy. “Dis waarmee ons tyd en geld mors. Is ons ’n drukkery? Wat van Blitsdruk en daai plekke? Hulle moet ook ’n lewe maak. Ek haat dié plek.”
Bedoel Andrews die geharwar buite sy kantoor, of ’n wyer wêreld? Ligjare gelede sou ’n ander Jooste miskien gevra het. Intussen het die wêreld vergaan, al het niemand dit agtergekom nie.
“Ministers, nè, Dave.” ’n Mens moet iets sê, vir goeie maniere. Bly neutraal. “’n Noodsaaklike kwaad.”
“Ministers, Koos, ministers?”
Jooste verwens homself.
“Het jy die koerant gelees vandag? Die eerste minister. In die parlement. In ons volksraad! Ja, hy’t geweet van die inligting-gemors, maar sý vingers in die geldlaai? Nooit gesien nie! Ministers! Ek spoeg op hulle!”
Jooste staal hom. Dalk doen hy dit rêrig.
“My buurman het klaar sy koffers gepak vir Perth, weet jy?” gaan Andrews driftig voort. “Al sy goed in ’n vraghouer. Kan ek hom blameer? Met deesdae se gemors? Ek kan nie. Tog gaan ek hom mis. Ons woon al veertien jaar langs mekaar, braai byna elke Vrydagaand saam vleis, een week by my, volgende week by hom. Wat as ’n barbaar sy huis koop?”
Die gedagte laat Andrews gril. Hy sien allerhande swarigheid. Met die stang stewig tussen die tande, gaan hy met ’n gepynigde stemtoon op galop oor alles wat met die land fout is. Dis ’n lang lys. Jooste laat die tirade maar by die een oor in en die ander uit spoel. Almal ken Andrews se gesanik. Elkeen het al die een of ander tegniek ontwikkel om dit te oorleef. Gelukkig bring die geratel van koppies en lepels taamlik gou verligting.
“Ag, dankie, Fransien, sit sommer hier, nee, daar op die sytafeltjie. Dankie, pop. Haai, jy wil nie miskien tee gehad het nie, Koos? Ek moes gevra het seker. Nie dat jy die een van die ander sal kan sê nie.”
“Dis orraait,” prewel Jooste. Andrews se beker is reeds gemelk en gesuiker en geroer; vir hom is daar ’n bietjie melk in ’n ekstra koppie, en klonterige suiker in ’n potjie. Hy skink en skep en roer. Die koffie is al koud genoeg om dadelik te begin drink.
“So, wat doen ek vir jou, Koos?”
Ná die warrelwind van die vorige klompie minute lyk dit of die oog van Andrews se storm verbygetrek het. Vir die hoeveelste keer wonder Jooste waarom die man hier werk, as hy by elke moontlike geleentheid so teen die bestel uitvaar. Hy ken natuurlik die stories, oor die jare dik aangeplak van wolhaar. Van die jong Andrews, tydens die Tweede Wêreldoorlog ’n matroos in die Britse Vloot, wat met walverlof in Kaapstad smoorverlief geraak het. Toe HMS Shropshire in Junie 1941 ná etlike weke se herstelwerk sy ankertoue in Simonstad losgooi, was bevare seeman Andrews se kooi aan boord leeg. Hoe hy die militêre polisie jare lank ontduik het, en ’n bestaan gemaak het met die vaardighede wat hy intussen aan Karen Bouwer oorgedra het. Oplaas word hy vasgetrek – ’n agtelosige spelfoutjie op ’n te gulsige tjekkie, en ’n teller met ’n skerp oog – maar toe belowe die destydse Diens hom vrywaring as hy vir hulle kom werk.
Hy is dus nie uit vrye wil hier nie, maar hy’t goed aangepas, lyk tevrede met sy pos, en het nog nooit ’n bedankingsbrief geskryf nie. Oor sy werk is daar geen klagtes nie. Maar tog – met sy kritiek ondergrawe hy mos juis die bestel wat hy, so sou ’n mens reken, probeer beskerm?
Dan onthou Jooste ’n lesing van jare gelede, tydens ’n indoktrinasiekursus. Jy kan jou land liefhê, al haat jy die stelsel. Swart mense, of ouens soos Andrews, is nie noodwendig onpatrioties nie, al kom hulle teen die staat in opstand. Maar: Móét jy afbrand voor jy weer bou?
Hy sien ’n ander toneeltjie: die ouderling wat kom aanklop het, ’n rukkie nadat hy konstabel geword het, want die kerkraad merk met sorg dat die broer se bank in die kerk so dikwels leeg is. Ja, dit was, want hy kon nie meer huigel nie. Daar was te veel leuens wat hy nie meer kon miskyk nie. Die eerste en grootste het hom die hardste getref: reeds as seun het hy opreg en hard en lank gebid, maar sy pa het nooit ophou hoes nie. Eers was dit net verwarrend om te besef jy kry nie wat jy vra nie, al sê hulle wát, dis sommer tjol. Toe word dit verraad. Daarna het hy die een leuen op die ander ontdek, en geleidelik wars geraak.
Dit was maar ’n stram gesprek waarvan Jooste niks onthou nie, behalwe een stukkie wysheid, die man se laaste probeerslag om die verlore skaap weer in die kraal te jaag. Broer, sê hy, daar’s meer geloof in ’n eerlike twyfelaar as ’n blindelingse volgeling.
Minstens vra Andrews vrae, waar die meeste in gelid marsjeer. Engelse kinders leer mos op skool en universiteit om self te dink, sê hulle, eerder as om alles vir soetkoek op te vreet.
“’n Klein gunsie, Dave.” Jooste haal ’n taamlik gehawende Instamatic-kamera uit sy baadjiesak.
“Jis, Koos, ek weet die geld is min, maar moet julle die geheime dokumente nou skiet met daai goed? Is die Leicas in die pandjieswinkel?”
Jooste kan ’n effense glimlaggie nie verhelp nie.
“Nee,” verduidelik hy, “dit was Kobus s’n. My seun.” Sy keel trek steeds toe. “Ek wil net sien wat daarop is. Het geen idee wat dit kan wees nie. Ek kan na ’n apteek toe gaan, maar …”
Want gistermiddag laat, toe die meeste mense al huis toe was en hy nog verskonings gesoek het om te bly, het hy uiteindelik die moed bymekaar geskraap om die middelste laai links in sy lessenaar oop te trek. Dit was soos om ’n lykhuislaai uit te skuif. Is dit hy, meneer, mevrou? Is dit jul seun? Kan ons maar sy naam op die kaartjie aan sy groottoon skryf?
Die pakkie het ’n hele tydjie tussen sy hande gerus terwyl hy hom gestaal het om die bruinpapier af te skil.
Dit was maar ’n karige klompie goed. Niks om van te skrik nie. ’n Beursie, met ’n paar rand in note en munte, Kobus se ID, weermag-betaalboekie en ’n papiertjie met ’n klompie telefoonnommers daarop. Twee kondome, ’n bossie sleutels.
’n Halfdosyn briewe, die meeste van ’n Karlien in Bloemfontein. ’n Skoon, vierkantige matriekhandskriffie met klein hartjies op elke “i” en “j” in plaas van punte. Deurspek met eksplisiet erotiese paragrawe. Wie was sy? ’n Skoolmeisie, dalk, ’n Kovsie-eerstejaartjie, of maar net ’n Tempe Tiger wat vir dosyne ander kliënte dieselfde gedoen het? Hy kan nie onthou dat daar ’n onbekende meisie by die begrafnis was nie. Het sy nie geweet nie, of het sy ná Kobus gou weer iemand anders gehad? Kobus het nooit iets gesê nie. Moet hy vir haar skryf? Die nommers bel?
’n Klompie foto’s van ouens wat hand om die skouer in die skaduwee van ’n boom staan. Hy herken die Tiffie van die begrafnis op een daarvan. ’n Paar kwitansies. ’n Gehawende pak speelkaarte met kaal meisies op die rugkante. ’n Plakkaat van Farrah Fawcett-Majors, peulend uit haar rooi baaibroek, gevou om in te pas. En die goedkoop Instamatic met die syfer 10 in die venstertjie. ’n Patetiese nalatenskap. ’n Seksbehepte laitie wat gereken het die lewe is een groot jol.
“Ek verstaan,” verseker Andrews hom. “En ek’s jammer oor Kobus. Dit moet swaar wees. Ek gee dit vir Van Vuuren, en later vanmiddag kry jy dit, geen probleem.”
Andrews stap saam met Jooste na die hyser toe. “Doen my ’n guns, Koos, hoor jy? Ek sukkel hier onder, man. Alles is duur – chemikalieë, papier, toerusting. My neus is al bruin van lek vir ’n bietjie meer. Van my mense wil loop, ek kan nie meer geld belowe nie. Elke jaar soebat ek by die boontjietellers, maar wat kry ek? Zat. Sê tog vir die gode op Olimpus dit kan nie so aangaan nie, man. Jy en Van Tonder is mos dik pelle. Sê hy moet met die Generaal praat.”
“Dave, jy weet ek …”
Maar Andrews het reeds tussen die toonbanke deur verdwyn.
“Des, liefie, wat het jy vir my? Daan, is daai kaartjies al klaar?”
’n Mens moet besig lyk.
Dis dieselfde dag, maar heelwat later. Jooste sit met die vierkantige, nog effens taai foto’s in sy hand.
Foto een.
Dis moeilik om alles behoorlik uit te maak, want die beligting is swak. Jy kan ’n blitsblokkie op so ’n kamera druk, en dan kry jy skerp skaduwees waarin besonderhede wegkruip. Daar is ’n deurmekaar bed en ’n bedkassie met ’n radiowekker en ’n glas met ’n klein lagie amber onderin, en ’n asbak met ’n sigaret en ’n krulletjie rook. Daar’s te min persoonlikheid vir ’n woonstel. Eerder ’n goedkoop hotel, seker, al is daar geen naam of logo op die asbak nie.
Die meisie is te sien. Sy lê op haar maag op die bed, en kyk half oor haar skouer agtertoe. Een been is by die knie gebuig, regop in die lug. Sy’s kaal. In die harde lig is haar neus skerp afgeëts. Sy het kort blonde hare, dik. Sy het sterk skouers, en haar ruggraat lê in ’n diep kloof. Haar boude is stewig, haar bene lank, met mooi kuite. Haar naam is sekerlik Karlien. Betaal jy ekstra vir so ’n foto, of is dit deel van die pakket?
Foto twee.
Dieselfde meisie. Is sy al agtien? Die fotograaf het nader beweeg. Sy staan op haar knieë op die bed. Die flitslig maak sulke rooi kolletjies in haar oë. Haar hande is agter haar kop gestrengel, en haar borsies is opgetrek. Sy’t ’n plat magie, en die skaamdons is lig. Van Vuuren het sekerlik ’n ekstra afdruk of twee gemaak, vir sy pelle ook. Tot siens, Karlientjie. Jy’t onverwags ’n hele klomp bewonderaars bygekry waarvan jy nooit sou kon droom nie. En hulle betaal boggerôl.
Foto drie.
Dis ouens met baarde en vuil kakiefrokkies en laphoede. Hul R1’s staan teen ’n boom, behalwe een in die hande van iemand op die voorgrond, die loop op die grond gerig. Op die agtergrond steek ’n Ratel se neus agter die stam uit. Hulle is trots op hul trofee, want almal grynslag. Die swart man sit ineengeduik op sy hurke. Die dowwe oë kyk sykant toe. Hy’t net ’n gerafelde kortbroek aan. Hy is dun, maar seningrig gespierd. Sy hande is agter sy rug vasgebind. Die fotograaf se skaduwee strek tot in die foto in.
Foto vier.
Die oë is selfs dowwer. Sy voete is na binne gedraai. Sy kop lê in die stof. Daar’s ’n roesrooi plas in die stof by sy kop. Iemand het sy hande losgemaak.
Foto vyf.
Dis eintlik ’n foto van niks. Die lens van dié kamera is nie opgewasse vir die grootsheid van die wêreld onder die fotograaf se voete nie. Boonop was daar ’n geskud en gestamp toe die foto geneem is, en die sluiter- en filmspoed van die goedkoopste kamera op die mark kan nie daarvoor vergoed nie. Daar is ’n ronde streep teen die linkerkant. As jy goed kyk, lyk dit na ’n vensterraam in ’n vliegtuig. Boaan is daar ook ’n smeer wat miskien ’n vlerk kan wees. Dit lyk asof die son nog laag op die horison sit. Die vae groen en bruin patroon is sekerlik die bosse en bome en Oshonas van Angola. Daar’s ’n dowwe kol wat die weerkaatsing van ’n gesig in die ruit kan wees.
Foto ses.
Dié een is hopeloos onderbelig, want die fotograaf het dit nie gewaag om ’n blitsblokkie te gebruik nie. Die dowwe kolle is sekerlik ’n hele ry gesigte wat na die kamera kyk. Die figure sit almal vooroor, met die elmboë op die knieë. Daar’s ’n groteske boggel op elke rug. Sommiges maak tekens, lyk dit – duim tussen die wys- en middelvinger, vinger-V.
Foto sewe.
Die skaduwees is kort. Daar’s rook op die agtergrond, en ’n mortierbuis sonder sy voetplaat op die voorgrond. Links is daar die geraamte van ’n viertrek. Die grond rondom is swart gebrand. Wat wou die fotograaf eintlik vasvang?
Foto agt.
Dis binne-in ’n vertrek, maar daar is genoeg lig, want daar is geen dak nie, en een muur lê verkrummel in ’n hoop. Die manne staan hand om die skouer. Onder die neuse is die skaduwees lank, die son staan reg bo hul koppe. Vyf van hulle, met moeë glimlagte op die besmeerde gesigte. Een hou ’n Russiese PPSH-submasjiengeweer uit die Tweede Wêreldoorlog vas, die ander ’n AK-47 uit elke oorlog daarna. Een het ’n Oos-Duitse helm op sy kop, en die ou langs hom hou sy vingers agter sy rug in ’n V daarbo. Deel van ’n lessenaar is op linkerhand, besaai met papiere. Iemand, deur die foto se raam middeldeur gesny, is besig om die papiere in ’n groot sak te stop. Daar is plakkate teen ’n stuk muur wat nog staan. Die Portugese woorde belowe sekerlik bevryding. Daar’s ook ’n groepfoto met drie rye mans en enkele vroue teen die muur. ’n Mens kan die gesigte net-net uitmaak.
Foto nege.
Dieselfde as die vorige een, behalwe dat Kobus nou in die helmdraer se plek staan, met sy kop half agteroor, sy vuis gereed om die grapmaker langs hom te donner as hy weer hasie-ore maak. Nou doen die ou aan die ander kant dit.
Jooste sit die foto’s neer, kyk op en staar in die verte. Ná ’n ruk kyk hy weer na foto agt, en dan aandagtig na foto nege. Dis nie Kobus se gesig waaraan hy liggies met sy vinger raak nie.
“Vroumense is gif, man,” blaf Frans Conradie, en hy weet, want hy kom gereeld in dié kroeg vir syne wegkruip. “Eers suig hulle jou voël af, dan suig hulle jou breins uit, en laaste suig hulle jou beursie leeg.”
Fred Brown is juis weer hier om – sonder sukses, al beweer hy baiekeer anders – gelukkies op te tel.
En Koos Jooste, die jongste rekruut van dié klein drinkskrum, nog net ’n proefleerling, dink aan al die eerstes in ’n mens se lewe. Die eerste seks. Die een keer wat jy nooit vergeet nie. Die bruisende bloed, die adrenalien wat pomp. Die terugkeer na dieselfde heuningpot, so dikwels moontlik. Luister hoe sy asemhaal, terwyl die nag daarbuite sý asem ophou, wanneer jy gaan pie het, en terugkom, en in die skynsel van die straatlig na haar gesig lê en kyk en kyk. Die voornemens: trou, kinders. Uit pligsgevoel, uit skuldgevoel. Jy weet dis eintlik ’n spul twak, maar daardie boosaardige oog van De Breede en de Smalle Weg staar na jou waar jy ook al is. Totdat sy oplaas passief onder jou lê en aan môre se wasgoed dink terwyl julle Sondagnag in die donker gewoonteseks pleeg.
Hy kán nog onthou hoe dit was, al word dit elke keer ’n bietjie moeiliker. Hanna Meiring was in daardie dae op Bethal elke matriekseun se nat droom. Hy’s nou nog nie seker waarom sy juis hom gekies het nie. Dis nie asof hy gou ryk sou word nie. Sy matriek was orraait. Met ’n bietjie moeite kon dit selfs goed gewees het, maar hy’t net genoeg gedoen om almal van sy nek af te hou. G’n nagte met die boeke nie, g’n dae in die biblioteek nie. Waarom sou hy, al het hy die kop gehad? Sy pa sou nooit genoeg geld hê om hom verder te laat leer nie, en slim genoeg vir ’n beurs was hy ook nie. Hy’t geweet hy sou as teller by ’n bank, klerk by die poskantoor, of stoorman by die SAS & H moet begin.
Toe word hy, kan jy dit glo, vir diensplig geloot. Dit ook nog. Môre moes nog ’n bietjie langer wag. Hy was nie lus vir stof vreet op Voortrekkerhoogte se paradegrond nie, maar daar was ’n alternatief – jy kon jou tyd eerder as ’n diender uitdien. So bepaal die noodlot jou toekoms.
’n Konstabel verdien ook maar minder as niks, en ná jou basiese opleiding weet jy waaragtig nie veel meer as toe jy begin het nie, maar hulle gee jou darem elke maand ’n tjekkie wat jy in ’n bankboekie kan laat inskryf, jy dra ’n netjiese kakie-uniform, al is dit soms met daardie simpel kurkhelm op die kop, en dis nie te moeilik om verskonings uit te dink om in die vangwa te gaan rondjaag nie.
Hulle’t hom selfs weer Bethal toe verplaas, en hy kon verniet in sy ou kamer by die huis bly. Later was die dronkies se kots en pis en die ewige sweetreuk in die hok agter jou rug ook nie meer so erg nie. Ná ’n paar maande het hy hom wysgemaak hy’s ’n taamlike kaas.
Sonder veel hoop het hy by Hanna vlerkgesleep, en hy weet steeds nie hoeveel van haar pa se whisky in haar lyf was toe sy een aand, met haar ouers veilig elders, aan sy gulp begin vroetel het nie. Die meganika van die knippie aan haar bra het hom ’n ruk gepootjie, maar wat toe daaruit getuimel het, is steeds in sy geheue vasgebrand.
Dit was albei se eerste keer, lomp en onkundig en gou verby en in haar geval ’n pynlike verrassing. Dit was baie ver van hul fantasieë, en tog só ’n ekstase dat hulle skaars vir die volgende keer kon wag. Daarna was albei in ’n heel ander wêreld. Hulle sou seker selfs sonder die baba getrou het, want albei was vas oortuig hulle’s mal verlief.
Deesdae se kinders is mos nie so nie. Jou eerste is selde jou laaste. Dis ’n buffet waar jy kan skep soveel jy wil. Vry in die bondel. Toetsritte. Soos Kobus en Karlientjie. Is dit beter so, of raak jy later so kieskeurig dat jy glad nie meer kan besluit nie? So dikgevreet dat jy skoon wars raak?
Tog is hulle bes moontlik reg, want dis ’n fout, weet Jooste nou, om met die seks te begin en te hoop ware liefde kom later by. Leer mekaar eers goed ken, dan’s die seks die kersie op die koek.
Dis egter nie vir vrouepraatjies dat Koos met sy nuwe pelle in die kroeg sit en suip nie. Conradie was dáár, weet hy. Conradie was die skakelman, in radiokontak met die terugwaartse hoofkwartier, en met Grootfontein. Hy sal weet.
Conradie staar in die dieptes van sy hoeveelste dop-en-dam. Jooste moes besluit het die tyd is reg, en moes hom gevra het, en nou staal Conradie hom. Daar is dinge wat ’n man diep, diep in homself opsluit.
“Dit was amper ’n moerse fokop, weet jy?” Sy tong sleep effens. “Dit was op die hond se gat af.”
Issie. Dit was ’n moerse sukses. Skietpiet het self so gesê. Hy sal mos weet.
Brown maak of die ander se praatjies hom min pla, en hy in die rookdowwe ruimte ’n potensiële bedmaat soek, maar eintlik luister hy fyn. Jooste kyk orals behalwe na Conradie se gesig.
“Kapokhaantjie was daar, weet jy? Met een van die laaste heli’s daar uit, net voor ’n moerskont van ’n T-34 daar aankom. Gee hom dit. Hy’t nie in sy kantoor sit en baklei nie.” Conradie gooi ’n oordrewe saluut. “Ouens het hulle volgeskyt daaroor. Bang hulle vang hom.”
Conradie vee oor sy gesig en verskuif sy massa.
“Plek was al vodde toe ek daar kom,” gaan hy voort. “Cans en Buccs reeds van vroegdag besig. Eerste trosbomme het met oggendparade tussen die terries in gehop. Meeste van hulle is tóé bokveld toe. Toe nog vuurpyle, masjiengewere. Rook. Brande van die petrollorries wat opgeblaas het. Terries het rondgehol soos miere. Steeds skoon uit hul verstand geskrik toe die troepies begin skiet.”
“Ek hoor daar was net tweehonderd-en-vyftig,” por Jooste, want dit pla hom. So min, so min.
“Dis reg. Vier Herks en vyf Transalls vir die springers. Ekstra Herk vol Parabats in die lug op die kaplyn as reserwe. Al ons Flossies op een plek! Bloujobs het hulle ook volgeskyt oor al die tjoppers oos van die gevegsone om die laities terug te bring. Pumas kan maar net sestien man dra. Orraait, dis met volle toerusting. Miskien meer sonder die bagasie. Super Frelons darem meer, maar daar’s so min van hulle. Doen jou sommetjies oor hoeveel sorties dít beteken.
“En toe gaan spring ’n klomp nog op die verkeerde plek. Land agter die rivier wes van Cassinga en moet met nat voete veg. Weet jy hoe kak is dit om met nat voete te veg?”
Brown toon belangstelling: “Hoekom?”
Conradie snork. “Ontleder plak mos ’n verkeerde skaal op ’n lugfoto, en die afstande word verkeerd gelees. Pennelekkers! Maar hulle’t goed gedoen.”
“Baie goed. Die troepies, nie die pennelekkers nie.” Jooste is moedswillig, want dít pla hom. “Seshonderd van die vyand gesneuwel.”
“Gesneuwel? Gesneuwel! Watse fokken gesneuwel is dit met jou, Koos? Dis gedisinfekteer, man. Dis ’n plaag wat jy met gif vrekspuit. Dis terries, Koos, het jy vergeet? Terries wat landmyne plant en blanke vroue doodskiet en Suidwes wil vat, en mý land sommer ook, as hulle kan. Moet geen fout maak nie, Koos. Ons het hulle ’n moerse bloedneus gegee, daar. Snotklap. Ons het gat geskop, maat. Daar’s ouens wat reken die terries gaan nooit weer dieselfde wees nie.”
“En net driehonderd-en-veertig gewond?”
Selfs Brown verstyf. “Twee dooies vir elke gewonde? Dis mos tien gewondes vir een dooie, meestal?”
Conradie kyk meteens agterdogtig na Jooste. Dit sal waarskynlik die laaste keer wees dat hy genooi word. “Is jy besig om sag te raak, Koos? Eintlik ’n boetie? Reken jy ons kan rêrig soos gelykes in dié land saamleef? Jy moet jou kop laat lees.”
“Nee,” paai Jooste, want hy moet nog weet. Hy haal ’n opgevoude vel papier uit sy sak. “Maar het jy dié gesien?” Hy vou die vel oop en sit dit op die toonbank neer, waar bier en water kolle laat deurslaan.
Dis ’n pamflet. MASSACRE AT KASSINGA staan boaan, en nog ’n paar gillende koppe in hoofletters. Barbaric attack vang die oog in die teks, en refugee camp, en hundreds of innocent women, children and old men mown down.
“Ag, Koos, kom nou!” bars Conradie uit. “Ja, ek het dit gesien. Dis kak. Dis Swapo-propaganda, man. Dit was g’n vlugtelingkamp nie. Daar wás vroue, maar hulle het harder baklei as die mans.”
Jooste sê niks, want hy weet daar wás vlugtelinge ook, en druk met sy vinger op die foto in die pamflet. Hy voel nou nog draaiings in sy maag as hy daarna kyk. Daar is ’n sloot, seker vier meter breed en goed vyftien meter lank. Miskien anderhalf meter diep, of selfs twee. Vol lyke. Jesus, Kobus, het jý dit gedoen?
“Shit,” sê Brown onwillekeurig. “Dit lyk soos daai ander plek – by Viëtnam – Kambodja. Of Auschwitz.”
“Onthou julle nog Pretoria se stasie ná Harris se bom?” kap Conradie terug.
“Ek’s jammer, Frans.” Jooste wink die kroegman nader en maak ’n sirkelbeweging met sy hand vir nog ’n ronde. “Ek weet dis propaganda, maar die hel alleen weet, as julle die ouens ry op ry op die rand van dié gat laat staan het, voel ek lus om te kots. Ek hoor die kapokhaantjie het gesê geen gevangenes nie.”
“In die tjoppers terug huis toe, magtig, Koos, dis al. Daar was nie plek nie. Ons het veertig terries gevang, om te ondervra, maar daar was skaars plek in die tjoppers vir ons eie mense. Toe los ons hulle daar. Dink jy ons is barbare, Koos? Dink jy ons het die manne, masjiene of tyd gehad om so ’n gat te grawe? Of die lus? Gebruik jou kop, man. Goeie bliksem, waarvoor veg ons as julle hier by die huis twyfel? Ons ouens het ook foto’s geneem. Honderde foto’s. Dis net nooit in pamfletjies gedruk en uitgedeel nie.”
Die nuwe drankies verlig die spanning. Jooste het die pamfletjie reeds weer opgevou en in sy sak gesteek, maar dit kan net sowel nog daar op die toonbank lê. My seun het ook foto’s geneem. Het hy ook só gepraat?
Conradie gaan weer voort.
“Op die hond se gat af. Weet jy, ek haat dit om dit te sê, want hulle’s lekker wintie, baie van hulle, maar ek haal my hoed af vir daai bloujobs. Hulle’t ons bas gered. Daar’s ’n helse lot wat die generaals ons nie vertel het nie. Hoe goed ’n ZPU-2 grondlangs skiet. Krink daai vier lope af grond toe, en manne gaan lê baie, baie plat, bely al hul sondes, en hoop die 14,5 mils mis hulle.
“En wat van die vierhonderd Kubane met hul tenks, T-34’s, vier van hulle, en wie weet hoeveel gepantserde troepedraers en lugafweerkanonne net vyftien kilometer suid. Toe húlle die pad vat, was ons in die kak. Daar was net ’n raps meer as twintig outjies met teentenkmyne en RPG-7’s om hulle te keer. Met tien – tel hulle – tien RPG-7-plofkoppe. Vir hulle koop ek enige dag van die week ’n bier.
“Toe daai twee Mirages. Engele, sê ek, absolute engele, daai vlamgatte. Eers al hul ammo oor Fidel se manne uitgesproei. Toe gaan sê hulle nog ’n paar keer ‘Boe!’ en die Kubane hol die veld in. Sommer baie tyd gekoop. En natuurlik die tjopper-ouens wat almal daar uitgehaal het. Goeie ouens.”
“En Kobus, Frans, my seun? Weet jy hoe’t hy …?”
Dis ’n rukkie stil, toe word Jooste weer bewus van Conradie se stem: “Daar was ’n soldaat, sê hulle, Koos, ’n vrou, so half onder ’n lorrie, wat ’n hele uur, twee uur, gemaak het of sy dood is. Soldaat, Koos, g’n vlugteling nie, hoor jy my? Uniform en alles. Ure lank, kan jy glo? Mense het om haar gestap, rondgestaan, sigarette gerook, en nie een het gesien sy haal nog asem nie. Niemand nie.
“Meeste troepies was al weg om in die tjoppers te klim, toe rol sy om en trek met haar AK-47 los. Tref vir Kobus, en nog twee ouens skrams. Hele magasyn leeg. Was besig om die tweede een in te stamp toe hulle haar vodde skiet.
“Kobus is nie dáár dood nie, Koos. Eers later, in die hospitaal. Nou kan hulle sê ons het net drie by Cassinga verloor.”
Die gedagtes maal deur Jooste se kop. Hy’t die meeste van wat Conradie vertel het, ook by ander mense gehoor, maar Conradie was self daar. Dit maak ’n verskil. Jy kry ’n gevoel, nie net dooie syfers en statistieke nie. Dis nie pyle op ’n bord nie, maar mense in wie se lywe koeëls vasgeslaan het, en wie se bloed in die stof geklont het. Dis lewende geskiedenis wat vertel word oor iets waarin hy ’n belang het, en waarvan hy ook deel was, al is dit met ’n ompad.
Hy, Jacobus Johannes Jooste, het gehelp om die syfers en statistiek op papier neer te sit. Ons raam daar is soveel SWAPO’s in Angola. Ons ontledings wys soveel groepe van soveel sterk gaan in soveel maande oor die grens sypel en soveel ongevalle veroorsaak. Soveel landmyne gaan geplant word. Soveel boere gaan aan stukkies geblaas word. By Oubos het die manne met aandag na die Generaal se syfers geluister, en toe besluit. Met ander syfers was daar dalk ’n ander besluit. Dis nie so erg nie. Ons kan dit maar los. Kom ons bly suid van die kaplyn, slaan die terries op ons eie grond.
Dan het Kobus miskien vir Karlientjie huis toe gebring.
Is alles die moeite werd? Sou hy, as hy geweet het wat hy nou weet, daardie dag in die koelte van die Polley’s-arkade ingestap het vir sy afspraak? Hy kan eienaardig genoeg nie meer onthou waar hy die eerste keer gehoor het die veiligheidsouens soek mense nie. Praatjies in die aanklagkantoor, dalk, of voor in die vangwa op patrollie, of miskien ’n stuk papier wat op die kennisgewingbord gefladder het. Eers het dit geen indruk gemaak nie, maar tog ’n saadjie geplant wat hy later opgevolg het.
Met ’n konstabel se salaris, het hy baie gou besef, moet jy vir bababedjies en selfs luiers skuld maak.
Hanna het met die eerste baba ’n miskraam gehad, ’n aaklige tyd, diep weggesluit. Tog was geld vir doktersbesoeke en hospitaalrekenings toe reeds ’n faktor. Met Kobus was daar nie probleme nie, net meer rekenings. Wachthuis se kerwe was beter as die polisie s’n. Dis ’n kleiner opset, ’n man word dalk gouer bevorder. Dit klink baie opwinderder as huismoles en klagtes oor doefie-doef-musiek.
Jooste het briewe geskryf. Hy het gebel om op te volg, maar niemand kon iets sê nie. Hy’t eendag selfs geld op ’n telegram geblaas om te wys hoe gretig hy is. Hy’t al moed verloor, toe klop iemand net voor aandete aan die deur, so ’n doodgewone vaal ou mannetjie, kon vir waterwese gewerk het, of die poskantoor, alles wat ’n spioen in jou verbeelding nie is nie, met ’n vorm wat hy moes invul.
Jooste se vingers het later om die balpuntpen gekramp soos hy sy motivering skryf terwyl die mannetjie met sy tassie op sy knieë in die karig gemeubileerde vertrekkie rondkyk, die bredie ruik en maak of hy nie na Hanna se bene en melkboesems staar nie.
Iets het hom gewaarsku om weg te bly van Liefde vir sy Land, en hoe gretig hy is om die Euwels van Kommunisme te bestry, en watter Ideale hy wil beskerm. Hy het, skots en skeef, eerder gepraat van sy kind, en die soort wêreld waarin hy dié wil grootmaak. Hy’t gesê hy weet dit sal moeilik wees, want daar’s te veel van hulle, en hulle glo ook in ’n wêreld, ’n heel ander een, waarin hulle húl kinders wil grootmaak. Miskien sal ons nie vir ewig kan uithou nie, maar dis die moeite werd om te probeer. As ons dit nie met getalle kan doen nie, moet dit met beter organisasie, toerusting en motivering wees. Ons moet net onthou hulle is nie almal ape nie. En ook: dis nie een groot vyand nie, maar duisende verskillendes, miskien miljoene.
Toe hy die eerste keer in sy kerkpak met die droogskoonmaakstank deur die blinknuwe Wachthuis se breë, goed verligte gange stap om voor die keurpaneel te verskyn, was dit soos ’n ander wêreld waarvan hy sonder enige twyfel deel wou wees. Hy onthou min van die drie gesigte wat vrae oor sy politiek, sy godsdiens, sy skooljare, sy familie, sy finansies, die koerante wat hy lees, soos masjiengeweervuur op hom laat reën het tot sy kop gedraai en sy tong geknoop het. En hoekom het hy ná sy loting eerder polisie-opleiding as die leër gekies?
“Die weermag leer jou niks wat jou later gaan help nie, en base word suur oor die kampe. Jy’s op die ou einde drie maande van die werk af weg, maar hulle moet jou betaal. Die polisie lei jou op vir wat dalk ’n loopbaan kan word.”
“’n Pragmatis … wat huiswerk doen.”
Hy onthou selfs minder van nog vorms wat hy moes invul, aanlegtoetse wat hy moes aflê, verklarings wat hy moes onderteken, ede wat hy moes sweer. Hy onthou wel die wag, die telefoon wat nie wou lui nie, die posbode se voetstappe wat verbyhou. En toe uiteindelik die brief. Hy is aangestel.
Hulle het ’n plekkie in Sunnyside gekry. Hulle was in die groot stad. Hulle was in die hemel. Ná ’n paar jaar kon hulle meer dinge bekostig, al was baie daarvan op skuld. Dit was ’n goeie tyd. Met groot geesdrif, ywer en optimisme het hulle Martie gemaak.
Die ovaal tafel in Van Tonder se kantoor is groter as die deur. Hulle’t die pote eers agterna aangeskroef, loop die storie, en die deur met ’n geswets weer gehang, ’n aks skeef, seker uit wraak. En nou staan die ding daar breed in die pad as jy na Van Tonder se lessenaar mik. Jy moet skoon draaie deur die kantoor swenk. Al die ontwrigtende gewoel en gewerskaf is gedoen omdat die wêreld Van Tonder ’n guns skuld. Hy vergeet nooit, en vorder altyd in.
Die stoele het materiaalbekleedsels wat nie soos ritssluiters klink nie. Daar is glase en kraffies met water op Van Tonder se tafel, maar geen asbakke nie. Om dié tafel word oorleg gepleeg, en samesprekings gevoer, en úitgepraat. Baie daarvan is net skyn, want meestal het Van Tonder reeds besluit wat hy wil hê. As dit moet, sal hy ter wille van die oorlog hier en daar ’n veldslaggie verloor, maar daar’s selde twyfel oor die uiteinde.
Van Tonder se stoel aan die kop van die tafel is leeg, maar nie vir lank nie, want ’n minuut of wat later kom hy ingestorm en laat sy yslike lyf daarop neersak. Dis ’n titaniese stryd.
Waarom, presies, wonder Jooste vir die hoeveelste keer, kon ek nog nooit aan hom vat kry nie? Ja, hy doen sy bes om jou soos iets onder sy skoen te laat voel. Ja, hy’s beterweterig en ongeduldig. Hy’s blitsig by om af te kraak, en traag om te prys. Die naam van enigiemand wat teen sy bullebakkery en omkopery en heuningkwas baklei, word sorgvuldig vir latere vergelding in sy agterkop gebêre. Tog kan jy dit van baie ander base sê, en steeds van hulle hou, of hulle minstens respekteer. Ná alles word gawe kêrels nie grootbase nie. Jy trap op lyke om bo uit te kom. Dis net – iéts aan Van Tonder laat hom altyd kriewel. Miskien is dit maar net die selfversekerde beterweterigheid.
“Sesde verdieping skarrel ’n bietjie rond,” sê Van Tonder uitasem, en dan hard, in die rigting van die binnedeur: “Geen oproepe of besoekers nie, mevrou. Dankie.”
Mevrou se tikmasjien ratel voort.
Met al die geharwar het Jooste skaars agtergekom dat Van Tonder vir Stephen Jones in sy kielsog by die vertrek ingesuig het. Jones knik net sy kop vir Jooste toe hy gaan sit. Sy dromerige grysgroen oë lyk altyd asof hulle in ’n ander wêreld rondswerf, maar as jy hom oor ’n week sou vra wat in dié vergadering gesê is, sal hy dit byna woordeliks kan herhaal.
Van Tonder se flets ogies dwaal gedurig rusteloos rond, bang hulle mis iets. Sy greep kom van wat hý weet, en ander nie. Sy trouring sny ’n diep keep in sy vinger, en die arms van sy bril twee teen die kante van sy kop. Sy mond is ’n wurmpie wat slymerig rondkriewel, en sy skouers trek met elke asem ’n entjie op, asof hulle moet help om lug in sy longe te hys. Van Tonder is alomteenwoordig, en eendag sal ’n hele paar steunende mans sy lyk by die voordeur uitdra.
“Koos, wel, dis nogal vir jou ’n ding. Jy weet hoe besig is sesde verdieping. En tog,” sê Van Tonder, “het hulle belang gestel in jou krummeltjie. ’n Nietigheid, natuurlik, net ’n bagatel in ’n baie groot prent, maar tog. Interessant. Die hele tyd dink ons dis Wambo’s en Herero’s en sulke gespuis wat ons daar bo klits. Wat maak ’n mak Soweto-Xhosa daar? Een van onse eigene gebroeders? Het hy sê maar van Caxito of Katenga daarheen gewandel omdat die ANC se opleiding ’n bietjie straf vir sy tenger gestel was, of is hy gestuur? En so ja, waarom? Daar staan hy, derde van links in die middelste ry, saam met ’n klompie dames en here van edele inbors wat niks verstaan as hy sy moedertaal praat nie. Hoekom? Dis ’n raaisel. Jy’s seker dis hy? Kyk mooi.”
Van Tonder beduie na Jones, wat in sy aktetas rondgrawe en met vergrotings van Kobus se laaste twee foto’s vorendag kom. Of altans van die groepfoto teen die muur in die foto. Hy skuif die afdrukke na Jooste oor. Dis die eerste keer dat hy die gesig vergroot sien, en bewerk om vir die swak gehalte van die oorspronklike te vergoed. Dis nie ’n ateljeeportret nie, maar dis goed genoeg.
“O ja. Soweto, 18 Junie 1976.”
“H’m,” brom Van Tonder, terwyl hy sy regterwysvinger in die lug heen en weer skud. “Jy was ’n soet seuntjie met dié een, Jooste, maar sesde verdieping is so ’n bietjie verbaas dat hulle nou eers hoor van jou vorige ontmoeting met ta.”
In reaksie op nog ’n onsigbare bevel haal Jones ’n legger uit sy aktetas en sit dit voor hom neer. Dis sy verslag van destyds, sien Jooste. Is dit al regtig twee jaar gelede?
“Hierin sê jy niks.”
“Dit was nie belangrik nie.”
“Wel, Koos, dis waar sesde verdieping ’n bietjie van ’n probleem het, sien. Miskien is dit nie. Dis moontlik. Ek sê nie dis belangrik nie. Ek sê nie dis iets wat die wêreld aan die brand gaan steek nie, glad nie. Dis net dat sesde verdieping voel, en ek reken eintlik met rede, dat hulle die kéúse moes gehad het om te besluit of dit belangrik is of nie. Maar hulle het nie die kéúse gehad nie, het hulle?”
“Nee.”
“Weet jy hoekom sit die base op die sesde verdieping, Koos? Dink jy dis vir die skoon lug daar bo? Dink jy dis vir die goeie oefening van trappe klim tot daar? Nee, Koos, dis vir die uitsig. Dis vir die groter prentjie, die geheelbeeld, die vista, die panorama. Nou moet ons op ou spore terugloop, sien, en sulke spore is altyd moeiliker, want die wind het hulle toegewaai. Dit maak sommige mense ’n bietjie moerig. Hul lippies is skoon opmekaar geknyp.
“Sê my, Jooste, net uit nuuskierigheid, hoekom het jy hom toe nie gepot nie? Watse sagte hartjie klop daar in jou borskas? G’n haan sou daarna gekraai het nie.” Van Tonder se ogies dartel weer rond, ’n teken dat sy kop reeds met ander dinge besig is. “Toemaar, ek soek nie ’n antwoord nie, wonder maar net.
“Ek wonder ook, terloops,” gaan hy voort, terwyl hy na Jones kyk, “waarom Kruithuis nie opgelet het daar’s ’n patroon minder in die magasyn nie.”
Die telefoon lui op sy lessenaar en hy kyk gesteurd op.
“Ek het gesê geen oproepe nie, mevrou!”
“Dis belangrik,” kom dit gedemp van agter die deur.
Van Tonder hys hom op sy voete, en gaan tel die hoorbuis op. Hy luister ’n rukkie, en knik dan sy kop. “Ek kom,” sê hy. En dan vir die twee mans by die tafel: “Luister, dis weer die base wat in hul onderbroeke piepie. Ons kan later praat as dit nodig is.”
Jones maak sy goed bymekaar terwyl Van Tonder by die kantoor uitstoom. By die deur, toe hulle na aan mekaar staan, vra Jooste vir Jones:
“Het hy ’n naam, dié ou?”
Jones knik. “Peter Ndlela.”
“Peter Ndlela? Dit sê my niks.”
“Vir my ook nie.”
Van Tonder staan neffens links by die hyserdeure, miskien binne hoorafstand, miskien nie. Sy oë flikker vir ’n oomblikkie in Jones se rigting, maar Van Tonder se oë loer altyd soos ’n verkleurmannetjie s’n rond.