Читать книгу Narsiste, psigopate, stalkers en sadiste - André le Roux - Страница 5

1. Hy kyk vir jou

Оглавление

Hy kyk vir jou met die mooiste glimlag.

Dan raak hy gewelddadig en sê: “Kyk wat het jy my nou laat doen!”

Jou tienerdogter raak “verlief” op ’n man veel ouer as sy.

Die man verdwyn met jou dogter.

Jy raak verlief op die man waarop jy nog altyd gewag het.

Toe verdwyn hy met jou hart. En jou geld.

Jou nuwe baas maak jou lewe hel by die werk.

Jy’s elke dag miserabel.

Jou buurman, jou buurvrou … Gawe mense.

Toe daag die polisie op.

Die Century City-reeksmoordenaar … Nou raak dit erger.

Tussen 2011 en 2015 word sewe vroue en ’n vyftienjarige meisie ontvoer, verkrag en beroof. Vier ontbinde lyke word op ’n oop stuk veld in die noordelike voorstede van Kaapstad by Akasiapark, Goodwood, ontdek, naby die Century City-stasie. Almal is kaal, hande agter die rug vasgebind.

Die man wat aangekeer word, Khangayi Sedumedi, ’n 30-jarige sekerheidswag by Checkers, word beskryf as ’n alleenloper sonder vriende nadat sy ma sestien jaar gelede verdwyn het. Hy was ’n enigste kind wat by sy ma se suster alleen in ’n agterkamertjie in Gugulethu gewoon het.

Sy tannie het hom beskryf as ’n “vriendelike seun” al het hy met niemand gepraat nie. Hy sou soms saam met haar kerk toe gaan.

Hy’t glo dwelms gebruik en is voorheen twee keer gevonnis vir diefstal. Nou was dit verkragting en moord met 24 aanklagte teen hom.

“Ek dink tik het hom in ’n monster verander,” het sy tannie gesê.

Die Kaap het nog ’n reeksmoordenaar bygekry.

Tussen Mei 2014 en Maart 2016 is etlike jong vroue by die Rhodes-gedenkteken by die Universiteit van Kaapstad verkrag.

’n “Welsprekende” 43-jarige man is in sy wegkruipplek teen die hange van Tafelberg in hegtenis geneem. Hy’t in die hof verskyn op 28 aanklagte – 6 van roof met verswarende omstandighede, 5 van menseroof, 1 van aanranding met die doel om ernstig te beseer, 2 van seksuele aanranding, 2 van poging tot verkragting en 12 van verkragting.

Die Kaap het nog ’n reeksverkragter bygekry.

Daar’s ’n man in die donker buite jou kamervenster.

Hy kyk vir jou terwyl jy slaap.

Wie is hierdie mense?

’n Belangriker vraag: Wat is verkeerd met hierdie mense? Nóg belangriker: Waar is hulle?

Tussen ons.

Jy sal hulle ontmoet. En hulle sal gewoonlik ’n baie goeie eerste indruk maak.

Narsiste, psigopate, stalkers en sadiste

Подняться наверх