Читать книгу Narsiste, psigopate, stalkers en sadiste - André le Roux - Страница 6

2. Eerste indrukke

Оглавление

The first time ever I saw your face

I thought the sun rose in your eyes.

– Roberta Flack

You can fool some of the people all of the time,

and all of the people some of the time,

but you cannot fool all of the people all of the time.

– Abraham Lincoln, toegeskryf

“Jy sal van my hou as jy my die eerste keer ontmoet,” sê ene M.E. Thomas. “Ek is nogal seker daarvan, want ek het al ’n statisties beduidende deel van die bevolking ontmoet en almal het geswig voor my sjarme.”

M.E. is mooi en jonk – in haar vroeë dertigs – en ’n gerespekteerde professor in die regte aan ’n Amerikaanse universiteit. Sy’s ’n toegewyde Christen wat 10% van haar inkomste aan liefdadigheid skenk. Sy gee ook Sondagskool.

Volgens haar eie beskrywing het sy ’n mooi glimlag met tande wat skitter en “merkwaardig mooi” borste. Al moet sy dit self sê, het sy vroeg in haar lewe agtergekom sy’s slimmer as die meeste mense.

“Ek’t net die regte kombinasie van intelligensie en sukses sodat jou ouers baie ingenome sal wees as jy my huis toe neem.”

Daar’s net een probleem: M.E. is ’n psigopaat. Sy erken dit in haar memoires, Confessions of a Sociopath – A Life Spent Hiding in Plain Sight. Let op die voorletters in haar skuilnaam: Me.

Narsisties.

Synde psigopaat het sy geen gewete nie. Sy kyk toe hoe klein diertjies in haar swembad verdrink sonder om ’n vinger te verroer. Sy ruïneer mense.

Die cliché sê eerste indrukke is belangrik. En dit is. Die cliché sê ook eerste indrukke is blywend. En dit is. Die ou gesegde geld: Jy kry nie ’n tweede kans om ’n eerste indruk te maak nie. Mense leer al van kleins af om hul beste voetjie voor te sit wanneer hulle iemand die eerste keer ontmoet.

Ons doen dit wederkerig. Almal wil graag aanvaar word.

En, sê die sielkundige en wetenskapskrywer Daniel Goleman in Social Intelligence, ons is nie inherent geprogrammeer om van die begin af nié van ander mense te hou nie, selfs vreemdelinge.

Dis veral uit gesigte dat mense (bruikbare) eerste indrukke vorm, maar gewoonlik “oorveralgemeen” hulle, volgens ’n studie gepubliseer op die Amerikaanse National Institutes of Health se webtuiste (www.ncbi.nlm.nih.gov). Eerste indrukke is gewoonlik betroubaar, maar daardie “oorveralgemening” kan tot vooroordele (en foute) lei.

Mense lei maklik eienskappe soos toeganklikheid, vriendelikheid en betroubaarheid uit gesigte af. Op grond van eerste indrukke word afleidings oor emosies en identiteit gemaak en dit beïnvloed ons optrede teenoor ander – wie ons help, wie ons aanstel in ’n pos, wie ons uitvra vir koffie, selfs watter straf misdadigers opgelê word.

’n Doodgewone stewige, selfversekerde handdruk – met oogkontak – is deel van ’n goeie eerste indruk, veral in die werkplek, het navorsers aan die Universiteit van Illinois met breinskanderings vasgestel. Dis die begin van positiewe sosiale interaksie. ’n Slap, skugtere handjie gaan nie die gewenste uitwerking hê nie.

In ’n studie aan die Universiteit van Alabama is vasgestel jou handdruk is konsekwent oor tyd heen en dit verklap iets van jou persoonlikheid. Dié met ’n stewige handdruk is meer ekstrovert en ontvanklik vir nuwe ervarings, minder neuroties.

Ook vroue met ’n stewige handdruk maak ’n beter indruk.

Pasop net vir die “politieke” handdruk, sê die lyftaal- en leuenkenner Joe Navarro, eertydse FBI-profielopsteller, in What Every Body is Saying. Die meeste mense hou nie daarvan as die ander een sy linkerhand bo-oor die handdruk sit nie.

’n Eerste indruk begin al vóór die eerste handdruk, op ’n taamlike afstand, sê Navarro op sy Psychology Today-blog (www.psychologytoday.com). Want ons lei baie af uit ’n ander persoon se postuur, manier van loop, kleredrag en hoe hy optree wanneer hy dink niemand kyk nie.

Ons hoef nie naby te kom nie. Ons kan dreigende gevaar op ’n afstand sien. Die hele idee om ander mense se lyftaal te verstaan, sê Navarro, is om insig te kry in hul “gedagtes, gevoelens en intensies”. (Dis veral die narsis en psigopaat se intensies waarop jy bedag moet wees – dis nie onskuldig nie.)

Goleman haal ’n eksperiment aan waarin studente aan mekaar voorgestel is. Hulle was vreemdelinge en het net drie tot tien minute in mekaar se geselskap deurgebring. Onmiddellik hierna is hulle gevra of hulle dink hulle sal vriende kan word of net kennisse bly. Nege maande later was daardie eerste indrukke ’n akkurate aanduiding van hoe die vriendskappe al dan nie sou verloop. Dis immers soos enige verhouding tussen mense begin – met ’n eerste indruk.

Net so bepaal jou intelligensie hoeveel jy van ander mense hou. Dié met ’n hoër intelligensie het ’n groter afkeer van mense wat hulle as konserwatief of konvensioneel beskou, terwyl mense met ’n laer intelligensie net omgekeerd dink oor mense wat hulle as liberaal en onkonvensioneel beskou.

Aantreklikheid sal ook help. Aantreklike mense word gewoonlik in vele opsigte positiewer beoordeel as minder aantreklike mense, die sogenaamde aantreklikheid-stralekrans (attractiveness halo). Hulle word as sosiaal aanvaarbaarder beskou met groter sosiale en seksuele aansien en beter vaardighede, gesonder en intelligenter.

Kortom: Hulle is meer “geskik”.

’n Bietjie alkohol maak dat jy mense inderdaad aantrekliker vind, selfs al dínk jy net jy’t vooraf ’n alkoholiese drankie gedrink. Vrolike, spontane en sosiaal “openlike” mense wat maklik glimlag, skep ’n beter indruk. Ook vroue met baie grimering. Hulle word beskou as vrouliker. Ja, mense wat ontwerperuitrustings dra of in duur motors ry, skep ook ’n beter indruk. (Iets wat jou duur te staan kan kom, want dis ook hoe swendelaars lyk.)

Selfs babas en jong kinders reageer positiewer op aantreklike gesigte.

Net so word kinderlike trekke toegeskryf aan volwassenes met “babagesigte” (groot oë, smal neus, hoë wenkbroue, ronde gesig, vol lippe, kort ken). Hulle word as naïef beskou, onderdanig, warm, eerlik, minder aggressief, en word makliker oorgesien vir leierskapposisies of moeilike take.

Eerste indrukke bepaal hoe jy láter teenoor daardie persoon gaan optree, of hy vriend, vyand of selfs jou groot liefde gaan word. Gewoonlik is dit te laat wanneer die persoon se ware kleure begin wys. Dan’s julle (ongelukkig) getroud of hy’s weg met jou geld. Mense is inderdaad nie goed daarmee om geveinsde optrede of leuens uit te ken nie.

Narsiste en psigopate soos M.E. floreer daarop.

Jy’t ’n leuenverklikker in jou kop nodig om jou te waarsku: Hier is iets nie lekker nie … Is die persoon wie hy voorgee om te wees? Goleman noem dit jou “interpersoonlike radar”.

Wanneer jy dus ’n sinistere vreemdeling ontmoet, help dit jou om dadelik te besluit of jy betrokke kan raak of liewer moet wegbly. Dis deel van die “sosiale brein”, wat ons interaksies, gedagtes en gevoelens oor ander mense en ons verhoudings orkestreer. Vir Goleman is daardie radar deurslaggewend vir oorlewing.

Nes in oertye. Moet ek veg of vlug (of vries) of nader staan om te paar? Vandag staan dit bekend as “nadering of vermyding” (approach or avoidance).

Wees bedag daarop dat mense geneig is om enigiets te aanvaar wat hul eerste indrukke bevestig of versterk. Enigiets tot die teendeel word eenkant toe geskuif. Wat beteken as jy die eerste keer geswig het voor die sjarme van ’n narsis, gaan jy geneig wees om enige negatiewe tekens wat daarna opduik mis te kyk.

Moet dus nie jou eerste indrukke goedsmoeds vertrou nie. Gee eerder kans, want eerste indrukke word blitsig gevorm. Dit neem net ’n tiende van ’n sekonde, sê navorsers.

Ek’t jou gehoor

Stemtoon is als.

Mense som iemand op en lei persoonlikheidstrekke soos aggressie, warmte, selfversekerdheid en, belangriker, betroubaarheid uit stemtoon af, het navorsers aan die Universiteit van Glasgow bevind.

Jeugdigheid tel. Ouer mense beoordeel jong mense op foto’s as betroubaarder, minder vyandig maar tog aggressiewer as wat ander jong mense dieselfde foto’s beoordeel. Jy vertrou ook makliker mense wat soos jy lyk of wat jou aan jouself herinner (implisiete egotisme).

Wanneer eerste indrukke die begin van verliefdheid is, hou die pienk lenseffek in gedagte. Julle kan niks verkeerds in mekaar se oë vind nie. Julle kyk deur ’n rooskleurige bril. En dit kan tot agtien maande duur voordat julle mekaar se foute begin raaksien. Liefde met die eerste oogopslag kan wel werk, maar dis teoreties beter om nie langtermyn-verhoudingsplanne te maak voordat jy iemand nie minstens agtien maande ken nie.

Netnou het jy met ’n bedrieglike narsis of psigopaat te doen … Ander mense het dit dalk reeds gesien, maar jy sou nie na enige waarskuwings geluister het nie, want jou kop was in pienk wolke toegedraai.

Ander mense se mening kan inderdaad jou eie mening beïnvloed. “Daar is iemand wat ek aan jou wil voorstel. Jy sal baie van hom/haar hou.” En dan hou jy baie van hom of haar! Net so sal ’n vriend van ’n vriend ’n beter indruk op jou maak.

Jy slaan jou vriende hoër aan as ander in jou portuurgroep, wat sommige navorsers toeskryf aan die binnekring- of ingroep-vooroordeel. Jou vriende gaan immers nie daarvan hou as hulle agterkom jy dink nie so baie van hulle nie. En jy dink jy verstaan jou vriende beter as wat hulle jou verstaan – jy’s immers “dieper” om te peil as hulle. Maar dis ’n illusie (illusie van asimmetriese insig).

Dis eweneens vasgestel jy dink jy’s gewilder onder jou vriende as wat jy is, en jy dink ook jy kom beter met mense oor die weg as wat die geval is.

Soort soek soort, ook met eerste indrukke. Jy gaan ’n beter indruk van iemand kry as julle iets gemeen het. Veral as daar boonop ’n emosionele aanklank is.

Hoe meer tyd mense het om iemand op te som, hoe meer kyk hulle verby fisieke voorkoms na ander faktore wat moontlike gevaarligte kan laat flikker. Maar om iemand reg op te som raak al hoe moeiliker in ’n tyd van selfies en sosiale media. Mense leer nie meer hoe om gesigsuitdrukkings of ander nieverbale tekens te “lees” nie, maan Goleman in Focus, want mense het minder persoonlike kontak.

“Die nuwe groep inwoners van die digitale wêreld is dalk behendig op ’n sleutelbord, maar hulle kan die ene duime wees wanneer dit kom by die lees van gedrag van aangesig tot aangesig.”

Die tekens van ongure karakters kan hulle dus heeltemal ontgaan. In Social Intelligence noem Goleman dit “sosiale outisme”.

Die rangorde-effek (serial position effect) is die geneigdheid om die eerste en laaste items op ’n lys beter te onthou as die goed in die middel. Dit geld ook vir die indruk wat jy van iemand vorm. Byvoorbeeld, kyk na hierdie lys beskrywings van Koos: “Koos is intelligent, toegewyd, krities, impulsief en jaloers” teenoor “Koos is jaloers, impulsief, krities, toegewyd en intelligent.”

Wat is jou indruk van Koos?

Albei lyste bevat presies dieselfde eienskappe, maar wanneer die positiewe eienskappe (intelligent, toegewyd) eerste genoem word, is jou indruk van Koos ook positiewer – die geneigdheid om te dink die eerste items op ’n lys is belangriker en beteken dus meer.

Só ook wanneer jy iemand die eerste keer ontmoet en jy dink hy’s gaaf en aangename geselskap teenoor stug en teruggetrokke, is dit daardie eerste indruk wat gaan vassteek.

Natuurlik, die laaste deel van ’n eerste indruk is nog belangriker. Dis die indruk wat jy met jou gaan saamneem (serial recency effect).

Sny dit maar fyn

Hoe goed kan jy vreemde mense en situasies opsom?

Dalk beter as wat jy dink.

Die sosiale sielkundige Nalini Ambady was ’n kenner van nieverbale gedrag (sogenaamde tells) en interpersoonlike persepsies. Sy en ’n kollega het die term thin-slicing of thin-slice judgment geskep – noem dit maar fyn sny – wat aantoon hoe vinnig mense (korrekte) afleidings maak bloot uit dun grepies van ander mense se gedrag. Hulle vorm die regte eerste indrukke op grond van baie min inligting, gewoonlik onbewustelik.

Intuïsie, dus. En dis inderdaad betroubaar.

In ’n klassieke eksperiment het Ambady videogrepe aan studente gewys van onbekende professore wat klas gee. Die video’s was net tien sekondes lank, met die klank af. Die studente moes die professore beoordeel op grond van vyftien eienskappe soos gewildheid, eerlikheid, bekwaamheid, ensovoorts.

Dié studente se beoordeling het merkwaardig ooreengestem met die beoordeling van ander studente wat reeds ’n hele semester by die professore klas geloop en hulle persoonlik leer ken het.

Toe het Ambady met ’n ander groep studente die tyd verkort na vyf sekondes. En weer het dié studente akkuraat geoordeel, selfs toe die video’s net twee sekondes lank was. Wanneer ons instinktiewe besluite neem, is dit net dít: instinktief en onmiddellik.

En instinktiewe besluite is dikwels betroubaarder as langoorwoë besluite, sê die skrywer-joernalis Malcolm Gladwell in Blink. Jy’t nie ’n magdom inligting nodig om te kan besluit nie. Ons lê te veel klem op “weldeurdagte” besluite.

Gladwell se definisie van fyn sny: “Die vermoë van ons onderbewuste om patrone te vind in situasies en gedrag gegrond op dun snitte ervaring.”

Fyn sny, is nuttig op ’n praktiese vlak. Jy besluit baie vinnig of daardie hond vriendelik is of nie, of die man wat van voor af aankom jou wil beroof of nie, of die verkoopsman te vertrou is of nie. Dit raak selfs makliker wanneer iemand begin praat.

Stemtoon.

Fyn sny, is ook aan die werk in spoedafsprake, waar vroue se oordeel akkurater is as mans s’n. Dis gevind vroue se oordeel met fyn sny, is oor die algemeen beter.

Aanlyn profiele soos op Facebook, met bra beperkte inligting, help mense ook om iemand beter te beoordeel. (Dis net nie te sê die inligting op grond waarvan jy afleidings maak, is altyd waar nie.)

Maar, waarsku Gladwell later in What the Dog Saw and Other Adventures, wanneer jy iemand ontmoet, word jou persepsie van hom gekleur deur die feit of jy van hom hou of nie. Daarby ontmoet jy iemand in ’n bepaalde situasie. Jy’t geen idee hoe die persoon in vele ander situasies gaan optree nie. Jy weet ook nie of hy ’n eerlike mens is, sy vrou slaan of te veel drink nie. (Of mense doodmaak in sy vrye tyd nie.) Nuwe situasies kan jou persepsie verander.

Navorsing het ook gewys mense kan sekere persoonlikheidsteurings aflei uit video’s van net dertig sekondes. Watter steuring dit is – narsisme of psigopatie, byvoorbeeld – is nie so belangrik nie. Solank jy kan agterkom: Hierdie ou is nie lekker nie.

Dis wanneer jy maar jou intuïsie kan vertrou om fyn te sny.

Die effek van bogemiddeldes

Die indruk wat jy van jouself het, is ewe belangrik.

Dis altyd effens opgeblase. Ons dink ons is net daardie bietjie slimmer, aantrekliker, vinniger of sterker as wat ander mense dink ons is. Ons is altyd ’n bietjie bo die gemiddelde. Daardie waarskuwing: “Moenie dink jy’s beter as ander mense nie,” is net ’n ideaal. Ons álmal dink ons is.

Trouens, ons is bly ons is nie soos dié of daardie mens nie.

Waarmee niks verkeerd is nie, want dis goed vir die selfbeeld en optimisme. Maar wanneer dit handuit ruk, as jy té opgeblase raak, word jy narsisties of minstens windmakerig, wat jou ongewild kan maak.

’n Toets wat wyd gebruik word om te bepaal watter dunk jy van jouself het, is die How I See Myself Scale. En keer op keer, dwarsoor die wêreld, dink die meeste mense hulle is bogemiddeld.

Wie wil nou gemiddeld wees?

Mense is dan geneig om hul suksesse toe te skryf aan hul eie vermoëns en hul mislukkings aan eksterne faktore of ander mense. Dis die selfdienende vooroordeel. Verskillende studies het inderdaad gevind as jou dunk van jouself te groot is, kan dit jou sosiale vaardighede negatief beïnvloed en selfs tot antisosiale gedrag lei. Dit kan jou vyandig teenoor ander en maklik geïrriteerd maak.

Dis ’n fyn balans om vir ’n kind te leer – tussen gesonde aanmoediging (“Mooi so!”) tot ongesonde aanmoediging (“Jy’s die beste!”). Dit kan lei tot arrogante, egosentriese en selfsugtige kinders wat altyd dink hulle weet beter.

Jy dink sélf jou kinders is bogemiddeld. Dis die Lake Wobegon-effek.

Die Lake Wobegon-effek

Lake Wobegon is ’n denkbeeldige, mitiese dorpie in Minnesota, afgelei van ’n weeklikse radioprogram wat telkens afgesluit is met: “Well, that’s the news from Lake Wobegon, where all the women are strong, all the men are good- looking, and all the children are above average.”

Wat natuurlik onmoontlik is.

Dié effek is al aangetoon by hoërskoolleerders wanneer hulle gevra word om hul eie leierskapvaardighede te beoordeel (in een opname waaraan ’n miljoen leerders deelgeneem het, het net 2% gesê hul leierskap is ondergemiddeld), en motorbestuurders oor hul eie bestuursvernuf (in ’n studie het 93% van Amerikaanse studente en 69% van Sweedse studente gedink hulle is beter bestuurders as die res). Ook kankerpasiënte oorskat hul kanse op herstel. Mense dink hulle leef oor die algemeen gesonder as hul portuurgroep.

Die verskynsel is bekend as gewaande meerderwaardigheid (illusory superiority) of positiewe illusies. Kortom, die bogemiddelde-effek. Dis ’n kognitiewe vooroordeel en geld vir jou intelligensie, hoe goed jy vaar in toetse of ander take en hoeveel positiewe persoonlikheidstrekke jy dink jy het.

Mense dink ook hulle het inherent geluk aan hul kant, sê die sielkundige en wetenskapskrywer Steven Pinker in The Better Angels of Our Nature. Die meeste mense dink hul eerste werk gaan beter wees as ander s’n, hul kinders gaan begaafder wees en hulle gaan baie oud word. Net so dink hulle die kanse is skraler as die gemiddelde mens s’n dat hulle die slagoffer sal word van ’n motorongeluk, misdaad, siekte, depressie, ongewenste swangerskap of ’n aardbewing. Ook bekend as die positiwiteits- of optimisme-vooroordeel.

“Nee, ek sal nooit betrokke raak by ’n narsis of psigopaat nie. Nie ék nie.”

Jy dink ook jy gaan ’n taak gouer klaarmaak as wat die geval is – en dit gaan jou vriende langer vat om hul take te voltooi. Die sielkundige en ekonoom Daniel Kahneman en sy medewerker Amos Tversky noem dit die planning fallacy. Dis ’n optimisme-vooroordeel. Net so dink ontwikkelaars dikwels ’n gebou gaan veel gouer opgerig word en nie so baie kos nie. (Die Sydney-operahuis is 10 jaar laat teen $102 miljoen voltooi, terwyl vir $7 miljoen begroot is.)

Wanneer mense oorselfversekerd is, sê Pinker, hou dit implikasies in vir gewelddadige optrede. As mense heeltemal rasioneel was, sou hulle ’n aanslag loods net as hulle waarskynlik sal wen en net as die voordele van sukses meer is as die verliese in so ’n geveg. Net so behoort die swakker party oor te gee sodra dit duidelik word hy kan nie wen nie.

Maar dit gebeur nie.

Soos in die Viëtnam-oorlog (1955 – 75) vir Amerikaners. En vir Suid-Afrikaners in die Bosoorlog van ’n volle 25 jaar (1965 – 90), terwyl troepe gedurig verseker is: “Ons is besig om te wen, manne!”

Maar oorlog is nie altyd “rasioneel” nie, veral nie as die leiers dink hulle is “slimmer” as die vyand nie. Reeksmoordenaars redeneer dieselfde: “Julle kan my nie vang nie, want ek’s slimmer as julle. Dis tyd vir nog ’n moord.”

Dis gevind mense met ’n ondergemiddelde IK dink hul IK is hoër as wat dit is, maar mense met ’n bogemiddelde IK onderskat hul IK. ’n Britse sielkundige het gevind mans is geneig om hul IK met vyf punte te oorskat, terwyl vroue hul IK met vyf punte onderskat.

Jy en jou selfbeeld

Kenners het lank geglo geweld spruit uit ’n lae selfbeeld of slegte eiewaarde, met ander woorde, die waarde wat jy aan jouself as mens heg (self-esteem).

Net die teenoorgestelde is waar.

Pinker wys daarop dat eiewaarde gemeet kan word en dié met ’n hoë telling is die psigopate, straatslim boewe, boelies, mans wat mishandel, reeksverkragters en haatmisdadigers.

Nie die soort eiewaarde wat jy naby jou wil hê nie …

Die bogemiddelde-effek val in drie kategorieë, verduidelik die skrywer Ian Leslie in Born Liars:

1.Ons is oordrewe seker van ons eie vaardighede en kwaliteite.

2.Ons is onrealisties optimisties, soos die kankerpasiënt wat sy kanse op herstel oorskat. Of vra studente hoe hul toekoms lyk en die meeste vertel hoe rooskleurig dit sal wees met ’n goeie werk, groot salaris en slim kinders.

3.’n Oordrewe sin van beheer. Ons dink ons besluite beïnvloed die wêreld, want ons is in beheer. Wanneer mense dobbelsteentjies gooi, gooi hulle harder wanneer hulle na hoër nommers mik en sagter as hulle laer nommers wil hê. Of hulle blaas daarop. Asof dit nou enigsins die val van die dobbelsteentjies sal beïnvloed.

Druk, druk, drukkk maar daardie hysbakknoppie …

Die enigste mense met ’n meer realistiese siening van hul eie vermoëns en die wêreld, en vir wie bogenoemde drie kategorieë nie geld nie, is depressielyers. Hul wêrelduitkyk is akkurater, bekend as depressiewe realisme. Maar terwyl depressiewe mense situasies waaroor hulle geen beheer het nie korrek takseer (dat hulle inderdaad geen beheer het nie), takseer hulle situasies waaroor hulle wel beheer het óók as sonder beheer.

Dié “realisme” help die depressielyer nie veel nie. Hy’s steeds depressief.

Die skrywer Kathryn Schulz som dit op in Being Wrong:

1.Depressiewe mense verkeer nie onder die vrolike illusie dat hulle die verloop van hul lewe kan beheer nie.

2.Hulle glo nie, soos die res van ons, dat hulle in alle opsigte ’n bietjie bogemiddeld is nie.

3.En hulle verstaan, alte akuut, dat hul lewe net ’n kortstondige spikkeltjie is…

Sadder but wiser.

Maar Schulz sê ook mense met ’n positiewe uitkyk op die lewe erken makliker hul alledaagse foute en kan dan hul denke verander. As ons onsself nie oorskat het nie sou ons nie gewaag het nie. Dit maak ons optimisties. Schulz noem dit die “optimistiese model van foute”. Teenoor defensiewe pessimisme, wat mense help om die algemene uitdagings en stres van die lewe beter te hanteer.

Defensiewe pessimisme is ’n strategie om gereed te maak vir ’n stresvolle gebeurtenis of om dit te vermy. Dan onderskat mense hul eie vermoëns en dink hulle hulle gaan nie so goed vaar nie ondanks suksesse in die verlede. Dit kan hulle egter motiveer om harder te probeer, om beter voorbereid te wees.

Net so kan “’n bietjie” narsisme goed wees.

In Evil Genes haal Barbara Oakley ’n Psychology Today-skrywer aan wat sê dit lyk of matige narsisme mense help om gouer van beserings en trauma te herstel.

“Dit gee hulle ’n onrealistiese sin van onkwesbaarheid en hulle glo hulle sal enigiets wat die lewe na hul kant toe gooi, kan hanteer.”

Jy’s natuurlik ook ’n beter werker as jou kollega, met beter vaardighede. Jy verdien daarom ’n groter verhoging (as jou baas dit net wil raaksien).

Groot handelsvolumes op aandelebeurse is al aan die bogemiddelde-effek toegeskryf omdat makelaars dink hulle is goed, en prokureurs gaan maklik hof toe omdat hulle seker is van hul saak.

Maar mense is blind vir hul eie vooroordele op grond waarvan hulle hulself beoordeel. Dis die bias blind spot en dis eweneens gevind mense met ’n hoër dunk van hulself toon groter illusionêre meerderwaardigheid as mense met minder eiewaarde. Dit kan jou oordeelsfoute laat begaan wanneer jy belangrike besluite moet neem.

Andersyds is dit nie noodwendig ’n slegte ding as jy dink jy’s ’n bietjie beter as wat jy is nie. Dis gevind mense wat hulself op dié manier mislei, vaar inderdaad beter.

Boonop: Miskien is jy so goed soos jy dink.

Indien nie ’n bietjie beter nie.

Narsiste, psigopate, stalkers en sadiste

Подняться наверх