Читать книгу Die rooikop en die redakteur en ander stories - André P. Brink - Страница 3

Blou rok

Оглавление

Sy het die blou rok vir die geleentheid aangetrek, die een wat Albert haar gegee het voor hy weg is. Dis paslik, so, het sy al lankal besluit, vandat sy gehoor het dat hy vanmiddag hier aankom.

Sy lyk skraal daar voor die spieël, met besonder groot bruin oë, hare bietjie argeloos agtertoe gekam. Mens sou haar miskien gelate kan noem, iets tussen hartseer en tam. Dis selfs moontlik dat sy effens bang lyk.

Dis drie-uur volgens haar horlosie, maar dis ’n raps agter. Miskien moet sy maar stasie toe gaan. Mens moet buite wees as jy so voel; binne druk dit jou vas, soos kroep. Besluiteloos tel sy haar handsakkie van die bed op en gaan voordeur toe. Maar nes sy by die sitkamertjie se venster verbykom waar sy oudergewoonte afkyk na die straat onder, sien sy Martin tussen die mense aankom en na die gebou se hoofingang mik.

Sy mag hom nie sien voor sy hier uitgaan nie; dit sal die laaste bietjie moed wegneem. Daar is nou regtig vrees in haar oë terwyl sy onhandig sukkel om die deur te sluit, die sleutel uittrek en so stil soos ’n muis wegsluip om in die kombuis te gaan wegkruip.

Jare en jare wag sy daar voor hy klop: drie egalige, presiese, bedoelde tikke. Hy klop nooit anders nie. Sy het daaraan gewoond geraak en geleer om daarna uit te sien. Maar vandag vrees sy dit en krimp vir die geluid.

“Susan!” hoor sy hom roep.

Haar skraal vingers draai en draai die smal band van haar handsakkie.

Weer die drie egalige, presiese kloppe. Dan raak dit stil.

Hy is weg, dink sy. Hy is weg. Sy vlug na die venster en sien hom onder in die straat uitkom. Hy kyk een keer op en loop dan weg. Hy het sy grys pak aan, netjies, regop en presies.

Ek moenie huil nie, dink sy. Dit hoort so. Albert kom vandag terug. Ek het my blou rok vir hom aangetrek.

Sy wag ’n hele rukkie voor sy die deur oopsluit en met die hysbak afgaan. Sy sal maar die ent stasie toe loop, anders moet sy te lank stilsit met haar gedagtes. Selfs nou bly sy rondkyk met heimlike hoop en vrees dat sy Martin se grys pak sal sien.

Hy het dit aangehad toe sy hom die eerste keer gesien het. Dit was 1943, onthou sy, en dit was herfs. Albert was toe drie jaar weg. Sy het daardie dag alleen teruggekom van die kerkhof. Sy het niemand gesê dat haar kindjie dood is nie, omdat sy bang was vir mense. Hulle sou met hulle nuuskierige oë na haar kyk en miskien fluister: “Dis Susan Rautenbach, arme vrou. Haar skoonmense het haar mos weggejaag, weet jy? En nou is haar kind glo dood.”

Sy het altyd geweet dat Driesie sou doodgaan. En tog het sy altyd daarteen baklei ook. Hy was al wat sy nog van Albert gehad het, al wat Albert regtig nog lewendig laat bly het in haar binneste. Hulle wou hom vroeg al van haar af wegvat, haar skoonmense. Hulle sou hom grootmaak, sorg vir sy opvoeding. Dit was die enigste keer dat hulle ooit belang gestel het in haar. Om te weier het nagte wakkerlê gekos. Sy wou tog maar die beste vir haar kind hê.

Die vierde nag het Albert na haar toe gekom, soos sy daar siek en moeg halfpad tussen droom en werklikheid gelê en staar het in die donker. Toe het sy geweet dat sy self vir haar kind sou sorg, hoe moeilik dit ook sou gaan. Albert sou dit van haar verwag.

Toe is hy dood, nog nie drie jaar oud nie. Sy het self die paar reëlinkies vir die begrafnis getref. Dit sou nie ’n diens wees nie. Sy het net die dominee gaan vra of sy die oggend vroeg kan kerk toe gaan. Hy het haar snaaks aangekyk, sy kop geknik en ja gesê. Dit was vreemd, so alleen in die groot kerk in die skemeroggend. Buite, by een van die vensters, was ’n herfstige boom wat teen die ruite gekrap het. Die blare was roes en oker, lewe wat ryp geword het.

Tienuur het hulle hom gaan begrawe; sy en die dominee en die ondernemer. Die ander was al weg toe sy nog daar gebly het.

Die wind was in haar hare en die son het gestraal. Maar in die volle herfsdag was daar iets weeïgs, iets ver en seer wat dieselfde was as haar hart.

Sy is later daar weg, alleen tussen die grafte deur na die wit pilare van die hek. Daar het sy ’n rukkie gaan staan om te rus. Sy moes werklik baie gedaan gewees het, want die aarde het begin tol en sy het geval.

Martin het haar daar by die hek gekry. Sy het ’n bekommerde stem in haar ore gehoor en dof sy vreemde gesig met die sterk lyne gesien.

“Wat makeer?”

Sy het deur die duiseling gedring en regop gesit. “Niks.”

“Wat het gebeur?”

“Ag …” Sy het oor haar oë gevee om beter te sien. “Ek was maar net bietjie moeg, dis al. Regtig.”

“Kom.” Hy het haar opgehelp. Haar bene wou swik, maar sy arm het gekeer.

“Dis nie nodig nie,” het sy verweer. “Ek sal nou regkom. Moet asseblief nie moeite doen nie.”

“Jy kan nie hier bly nie.”

Sy het opgekyk in sy ferm grys oë. “Dis nou oor,” het sy volgehou, behep met haar ou verleentheid en vrees vir mense.

Hy het hom nie aan haar gesteur nie. “Waar bly jy?”

Sy het nie geantwoord nie, omdat sy skaam was vir die buurt.

“Waar bly jy?” het hy aangedring.

Moeg het sy met ’n hand beduie. “Ek sal self daar kom.”

“Jy moet eers iets eet.”

“Nee.” Sy het die vrees in haar keel gevoel. “Ek is nie honger nie.”

Hy het op ’n snaakse, vorsende manier na haar gekyk en sy motor se deur oopgemaak. Sy wou nie inklim nie, het daar staan en bewe van reaksie en vrees. Op die een of ander manier het hy haar tog oorreed. Sy het nie meer die wil of moed gehad om teen enigiets te protesteer nie. Die warm ete in die kafee het wondere verrig, die duiseligheid weggeneem. Maar dit het ook haar ou gevoel van verset teruggebring.

“Ek sal nou regkom, dankie.”

“Ek sal jou huis toe neem.”

“Nee!” Sy het amper gepleit.

Hy het met sy elmboë op die tafel na haar oorgeleun. “Wat het jy daar by die kerkhof gemaak?”

“My kind is dood.” Dit was nie haar stem nie.

“Het jy alleen gegaan?”

Sy het geknik.

“Jou man …?”

Sy het reguit na hom gekyk, vrees en uitdaging in haar binneste.

“Ek is jammer,” het hy dadelik verskoning gevra. “Ek wil nie nuuskierig wees nie. Ek het net gedink ek kan help … miskien …”

Ná die drie jaar wat verby was, kon sy dit nie verstaan nie: dat hy dit werklik opreg kon bedoel.

“My man is in die Noorde,” het sy eindelik gesê en met haar vinger patroontjies op die tafeldoek getrek. “Van die begin van die oorlog af.”

Dit was al wat sy hom daardie dag van haarself vertel het. Alle ander vrae het sy afgeweer. Op die duur het sy hom moeg toegelaat om haar huis toe te neem: dit sou sy eie verdiende loon wees. Hy het niks oor die buurt gesê nie; nie daardie dag nie.

Sy wou hom nie weer sien nie en tog was sy dankbaar. Daar was iets anders in sy houding as in dié van die mense wat sy die vorige drie jaar leer vrees het. En daardie aand het sy lank wakker gelê, traanloos gedink aan Driesie, getas na Albert, gewonder wat Martin … wat die vreemde man besiel het …

Hy het twee weke gewag voor hy weer gekom het en toe het hy dit gedoen op so ’n terloopse manier dat sy hom dit nie kon kwalik neem nie. Dit was weer by die kerkhof. Hy het by die wit hek gestaan toe sy uitkom. Eers baie later het sy uitgevind dat hy elke dag daar vir haar gaan wag het, gehoop het dat sy weer sou kom.

Sy het hom bly afweer, bang omdat hy goed geklee was en sy net een goeie rok gehad het wat sy buitendien nooit sou dra nie: die bloue wat Albert vir haar gegee het. Maar Martin het nooit ongeduldig geword nie. Hy het nooit iets gesê oor haar voorkoms of oor die buurt nie. Sy het vanself begin om meer aandag aan haarself te gee, om geen ander rede nie as dat sy nog ’n binneste, ’n vroulike trots gehad het. Sy het in ’n wassery gewerk, die hele liewe dag. Dit het haar hande rooi en lelik gemaak, maar wat sou dit so erg saak maak? Af en toe het sy gedink aan die geld wat Albert vir haar gestuur het en wat sy nooit gesien het nie. Maar sy het geen wrok meer gevoel nie; miskien was dit alles tog maar haar verdiende loon omdat sy Albert liefgehad het.

Die verandering het onmerkbaar stadig gekom. Martin se vreemdheid het weggeraak en hy het gewys dat hy regtig belang stel; nooit onbehoorlik nie, maar altyd met die doel om te help. Sondae het hy haar kom haal kerkhof toe.

Sy het hom drie maande geken toe hy voorgestel het dat hulle ’n steentjie op Driesie se graf sit. Ter wille van haar kind het sy dit toegelaat. Daar was trane in haar oë toe die klein wit steentjie die eerste dag daar op die graffie verskyn het. En vir die eerste keer het sy opreg dankbaar teenoor Martin gevoel. Die skuheid het verdwyn. En toe hy haar weer na haarself begin uitvra, het sy vertel, brokkig en sonder plan, maar met iets soos ’n vreugde in haar binneste.

Sy het vertel van haar jeug in die weeshuis, die minderwaardigheid teenoor ander dogtertjies, die strewe en verlange om mooi klere te hê. Van die vreemde oom wat eendag in die straat vir haar ’n sjieling gegee het en gesê het dat sy pragtige oë het … Van haar pos as tikster in ’n klein besigheid en van Albert wat eendag daar ingekom het. Al die verlange in haar binneste het sy uitgestort. Daardie wondermooie dae van liefde tussen haar en Albert, dae van blink son en koel water en ongerepte drome. Albert se ouers en hulle afkeer wat hulle nooit voor hom geopenbaar het nie. Smalende verwysings na verskil in stand en opvoeding … Hulle troue, ten spyte van al daardie teenstand.

En toe die oorlog.

Hy is vroeg in 1940 weg. Twee weke ná sy vertrek het sy ontdek dat hulle kindjie aan die kom is. Sy het by sy ouers ingewoon en hom dadelik laat weet. Sy briewe was so heuglik, so opgewek, so vol vooruitsigte. Hy het so geglo aan die toekoms, was so vol glansende ideale.

Háár lewe was anders. Dit het ondraaglik geword om gedurig die verwyte en subtiele beledigings van sy ma te verduur. Sy het ontdek dat haar skoonma haar briewe oopmaak en die geld wat Albert stuur, verwyder. Daar was ’n geweldige rusie. Ná sy geweier het om haar kindjie aan hulle af te gee, is sy weg van hulle. Albert se briewe was nou ongereeld en kort. Driesie het die verlede en die hoop wakker gehou. Toe is hy dood …

Martin het met soveel begrip geluister. Hy het beter werk vir haar gekry sodat sy ’n woonstel kon huur. Albert was ’n krygsgevangene nog van voor Driesie se dood af en daar was niks meer om die herinneringe lewend te hou nie. Snags het sy nog gedink aan die verlede en aan hulle liefde. Maar dit was alles so oneindig ver. Dit het ’n ander wêreld geword. Intussen was Martin altyd daar, vriendelik, bedagsaam, opreg. Hy het nooit, ooit iets onredeliks verwag nie. Sy weet dat hy haar liefhet. Sy weet dat sy hóm liefhet. Maar nie een van hulle het ooit ’n woord daaroor gerep nie.

Net af en toe het een ’n vlugtige droom geopenbaar oor die toekoms as hulle dalk, dalk aan mekaar sou behoort. Dit was al amper drie jaar dat Albert nog nie van hom laat hoor het nie. Miskien was hy dood. Sy het nooit gewens dat dit so moet wees nie. Dit sou sondig wees. Maar in werklikheid was hy tog al dood in haar binneste.

’n Maand gelede het sy brief gekom. Martin was by haar toe dit kom.

“Wat is dit, Susan?” het hy gevra toe sy die koevert laat val.

Met bewende vingers het sy dit weer opgetel. “Nee, niks.”

Hy het haar stil sit en beskou. Onhandig het sy die koevert oopgeskeur. Miskien was sy verniet die kluts kwyt, maar in haar binneste het sy geweet dat sy Albert se handskrif altyd sou herken.

Hy is vrygelaat. Die drie-en-twintigste Desember sal hy in Johannesburg aankom. Die skip kom die vorige aand in Tafelbaai aan. Hy verlang.

Dit was al. Die hele brief het nouliks een velletjie dun lugpospapier beslaan.

Hy verlang.

Dit was sy skrif. Maar dit was nie Albert self nie. Dit was iemand met toevallig dieselfde naam en handskrif uit ’n ander wêreld wat nie meer aan haar behoort het nie.

“Susan …?”

Sy het die brief opgevou en kon dit nie weer in die koevert kry nie. Martin het by haar kom staan.

“Albert kom terug,” het sy gesê.

Hy het geen enkele woord gesê nie.

“Martin …?” Sy wou met haar hele hart hê dat hy moet praat.

Daar was g’n emosie op sy ernstige gesig nie. “Dis gaaf, Susan. Ek is bly.”

Die dae daarna het sy oortuig geraak dat sy verspot was om haar te ontstel. Albert bestaan tog nie meer nie.

Daar het weer ’n brief gekom wat geen twyfel gelaat het nie. En nou het sy haar gedurig bly inprent: Albert kom terug. Albert kom terug. Haar man kom terug. Sy is gretig om hom weer by haar te hê. Sy het hom lief. Sy hét hom lief.

Vandag is dit die drie-en-twintigste. Oor twee dae is dit Kersfees. Daar is klaar ’n tinteling in die lug, ’n glimlag op elke gesig in die straat.

Sy bly maar soek vir ’n grys pak.

By die stasie-ingang kyk sy weer op haar horlosie. Kwart voor vier. Mense stroom verby. Te midde van almal voel sy eensaam, ’n rietjie in ’n groeiende stroom.

Sy stryk ’n kreukel in haar rok reg. Haar blou rok.

Dit was Kersdag 1939, ’n maand voor Albert weg is, dat sy dit gekry het. Hulle was saam by die see, sy vir die eerste keer in haar lewe. Somer en son en sand en die ver wit van branders op die kim.

Die rok was die mooiste wat sy nog gehad het: blou soos die verste see of soos die lug heel bo op ’n oop dag.

Hy het haar vroegoggend wakker gesoen. “Liefsteling!”

Sy het met borrelende blydskap in sy blou oë gekyk. “Ek het jou lief, Albert!”

Sy het die rok kerk toe aangehad die oggend. Hulle het ’n klein grys klipkerkie gekry. Die dominee was ’n ou mannetjie met ’n kort wit bokbaardjie en fletse, vriendelike ogies. Alles was so gemoedelik, so goed, so eg.

Daarna het hulle gaan stap, myle langs die see af, sy met haar skoene in haar hand.

“As ek weer terug is ná die oorlog, kom ons terug hiernatoe,” het hy belowe.

Sy het opgekyk na sy gesig, die nabyheid van sy groot, sterk liggaam gevoel. “Jy moet terugkom, Albert.”

Hy het haar gesoen. “Ek sal, liefsteling. Dan sal dit nog wonderliker wees as nou. Ons is nog so jonk. Ons sal soveel ryper wees, nè? Soveel meer in staat om die mooiste dinge te waardeer.”

“Moet jy gaan?” het sy gehuiwer, soos ’n kind aan hom geklou.

Hy het vol oortuiging geknik. “Ek moet, Susan. Ek glo dit met my hele hart. Dis iets wat roep, hier binnekant.”

Hy was altyd so vol oortuiging, so vol geloof in homself en in die lewe.

Dit was so ’n onvergeetlike dag in hulle samesyn. En die blou rok het sy altyd gebêre. Al haar ander mooi klere het sy verkoop ná sy van sy ouers weg is en vir haar en Driesie se bestaan moes spartel. Net hierdie een het sy oorgehou, omdat dit die herinnering aan hulle mooiste dae saam sou wakker hou.

Sy gaan met die trap op en loop in die rigting van die perron. Hier het sy van hom afskeid geneem daardie Januarie toe hy weg is. Hulle het aan mekaar geklou, soos skulpe aan rotse.

“Ek sal vir jou wag, Albert,” het sy belowe. “Ek sál!”

Deur haar trane het sy die trein sien wegraak.

En nou is sy weer hier, ná vyf jaar. Vandag kom Albert terug.

Sy stryk oor die rok, asof sy daar moed soek.

Dis twee minute oor vier.

Iemand in ’n grys pak stap verby. Haar hart ruk. Maar dis ’n vreemdeling.

Tien oor vier kom die trein aan. Die perron is ’n malende mensemassa. Haar tenger figuur raak verlore in die bondel. Sakdoeke wuif, mense juig. ’n Blaasorkes speel.

Soldate in uniform stroom uit, val mense om die nek. Sy staan maar daar in haar blou rok, skugter en bang, soek en soek met haar groot bruin oë tussen die mense.

“Susan?” vra iemand aarselend.

Dis hy. Hy is skraal en bruin, met ’n borselsnor. Die uniform is effens groot vir hom.

“Albert?”

So staan hulle teenoor mekaar, opsommend, aarselend.

“Wel?” Hy lag ineens hard en omhels haar. Die snor krap haar wang.

“Eindelik, nè?” Hy gooi sy kop agteroor en lag uitbundig. “Eindelik, eindelik!”

Sy glimlag stram. “Ek kan dit nie glo nie.”

“A, jy sal!” belowe hy luidrugtig. “My vrou! Dis amper te goed om te glo, nè? En wat het jy al die jare aangevang?”

“Gewerk,” aarsel sy. “Dit was ’n lang tyd …”

“Dit kan jy glo,” verseker hy. “Ma-hulle het my toe in die Kaap ontmoet. Pa is daar vir ’n konferensie. Ek moes glo eers bly, maar ek wou mos eers my vrou kom groet!”

Hy druk haar vas en soen haar weer. Sy glimlag weer stram. Hulle loop by die uitgang uit.

“Jy sal die pad moet beduie,” sê hy joviaal. “Nou is ek vreemd in my eie land!”

“Kom,” sê sy.

Hy slaan sy arm om haar. “Hoe gaan dit nou eintlik nog?”

“Goed,” sê sy en soek na iets om te sê. “Jy lyk maer, Albert.”

“Senings,” sê hy lughartig. “Dis ’n ander soort lewe daardie.”

Sy loop klein en stil langs hom. “Ek … het vandag my blou rok aan,” sê sy eindelik met ’n verleë glimlag. “Jy het hom nog vir my gegee, onthou jy?”

“Ja!”

Maar sy sien in sy oë dat hy vergeet het. Vyf jaar is ’n ewigheid.

“Dit is my woonstel,” sê sy eindelik.

“Mooi plek!” sê hy. “Jy het mos deftig geword!”

’n Vlugtige gedagte aan Martin glip verby.

“Kon jy darem uitkom met die geld wat ek gestuur het?”

Sy knik net en kyk nie na hom nie.

“Gits, nè?” sê hy toe sy die woonsteldeur oopsluit. “En nou is ek weer tuis. Tuis …! By my vrou!” Hy slaan sy arms om haar.

Sy sluk en glimlag weer, tas na hom sonder om hom te vind.

“Ek gaan tee maak,” sê sy. “Ek wil net eers my rok uittrek.”

Sy trek ’n ou rok aan en vou die bloue versigtig op. Dan bêre sy dit in die kas, bly ’n lang minuut so staan met haar kop teen die blou materiaal.

“Waar is jy?” roep hy uit die sitkamer.

“Ek kom.”

Sy stoot die laai met die blou rok toe. Sy sal dit nie weer aantrek nie.

Die Huisgenoot, 29 Oktober 1956

Die rooikop en die redakteur en ander stories

Подняться наверх