Читать книгу Die rooikop en die redakteur en ander stories - André P. Brink - Страница 5

Lank en lig

Оглавление

“Jy’t glad te min pit in jou, man! En daarby is jy gans te romanties. Dis jou groot moeilikheid.”

Trudie sit pens en pootjies op haar bed, arms om haar bene gevou, met haar ligte kop skuins en ingedagte op haar knieë. Sou dit regtig waar wees wat Ada gisteraand vir haar gesê het?

“Hoekom moet ek haastig wees?” wou sy van haar vriendin weet. “Ek sal wel weet as dit die regte een is.”

“Liewe aardetjie, mens!” het Ada geskok gesê. “Jy’s oumodies! Hoe dink jy het ek vir Renier in die hande gekry? Nie deur te sit en wag dat hy aan my deur klop nie, ou sussie!”

Sy het ’n tikkie jammerte in haar gevoel, maar niks laat blyk nie. Sien, sy het self so ’n halwe ogie op Renier gehad – van die heel eerste oggend dat hy daar by hulle kantoor kom werk het. En dit was ook nie die eerste keer dat sy bedroë daarvan afgekom het nie. Maar hoe kon sy nou vir haar anders hou as wat sy is? Haar ma het haar dit altyd ingeprent: “’n Meisie maak haar goedkoop as sy agter ’n man aan hardloop. Jy moet net geduldig wees, my kind.”

Daar was nog ’n ander groot rede ook, dink Trudie terwyl sy daar in haar blou slaappakkie op haar bed sit. Dis die stervoorspellings. Vandat Renier op die horison verskyn het, het dit nog nie een keer romanse voorspel nie. Een slag het dit haar selfs reguit gewaarsku om op te pas vir donker mans. En laat sy dit nou maar reguit erken: sy glo nogal aan dié dinge. Ada-hulle lag haar wel uit daaroor, maar so in die stilligheid lees hulle dit self.

Trudie kyk skuins na die groot spieël regoor die bed. Hoe is dit dan dat sy nog moet sit en verlang hier na die iemand wat moet opdaag? Sy beskou haarself ’n rukkie: die fyn liggaam, die effens deurmekaar ligte hare, die onhebbelike bruin oë, die slaapblos op haar wange. Nee, sowaar, haar skuld is dit nie.

Dis net Ada se skuld dat sy vanoggend met al hierdie kwelgedagtes opgeskeep sit. Ada het gisteraand aan Renier verloof geraak – skoon onverwags sover dit haar aanbetref. En dit het haar laat besef dat dit darem tyd is om bietjie oor die saak na te dink.

Gisteraand het sy buitendien dié ander ding raakgeloop. Trudie leun oor die tafeltjie langs haar bed en kyk na die advertensie: Vir slegs 10 sjielings stuur ons u die volledige voorspelling van u toekoms vir een jaar.

’n Kerkklok begin iewers lui. Gits, sy sal moet spring as sy nog wil bad ook. Haastig wip sy van die bed af badkamer toe. Terwyl sy in die lomende water ontspan, bly sy dink aan die advertensie. Dit sal beter wees as om week vir week te sit en wag. Dan is sy sommer seker van ’n hele jaar. En toe sy uit die bad klim en haar begin afdroog, het sy klaar besluit: sy gaan daardie voorspelling bestel.

Sommer voor kerk nog, met ’n effens skuldige iets in haar houding, skryf sy die brief en gaan dan met ’n vaart die trappe af.

Dis ’n hele week wat sy moet wag.

“Wat lyk jy nousedae so dromerig?” keer een van haar medetiksters haar een oggend voor.

“Wag maar!” glimlag Trudie op haar geheimsinnigste. “Jy sal sien. Gee my net kans.”

“Jy’s verlief!”

Sy lag. “Nee, jong, nou’s jy darem oorhaastig.”

Toe, een môre, is die brief tussen haar pos. Sy weet sommer dadelik wat dit is, kan nouliks die ure bedwing voor sy alleen in haar woonstel is dat sy dit op haar gemak kan bestudeer. Die ander sal tog net weer neus optrek.

Plat op haar maag lê sy die groot vel en deurlees, mompel brommende kommentaar so ver as sy lees. Dan sit sy vinnig regop: Hou maar u oë oop vir daardie lang, ligte man. Moenie dat hy deur u vingers glip nie. Skud daardie luiheid af.

Trudie kyk weer na die opskrif om seker te maak: Saterdag, 5 Oktober. Ja-nee, dis oor drie dae.

Met blink bruin oë sit sy en peins, haar bene oudergewoonte onder haar ingevou. Oor drie dae … Met ’n neurieliedjie op haar lippe spring sy op en dartel ’n slag oor die vloer. Sien, dis nou maar goed dat sy so lank gewag het. Ada-hulle kan maar sê wat hulle wil. Oor drie dae gaan sy haar deel ontmoet.

Sy is amper te opgewonde om te slaap. Hoe sal hy lyk? Watse werk sal hy doen? Sal hy vriendelik en gaaf en lief wees? Maar natuurlik! Hoe kan sy nog wonder?

Sy sal iets besonders moet aantrek om sy aandag te trek. Peinsend dink sy aan die rokke in haar kas. Dis almal mooi. Selfs Ada het eenkeer gesê: “Weet jy, Trudie, jy het darem die lieflikste goed in jou kas, jong!”

Maar sy twyfel of iets heeltemal mooi genoeg is vir die geleentheid. Dis mos darem ’n besondere dag in ’n meisie se lewe. Maar ’n nuwe rok kos deesdae soveel … Tog, probeer sy haarself oortuig, dis regtig tyd dat sy weer iets nuuts aanskaf. Al sou dit nie vir Saterdag wees nie, behoort sy in elk geval iets te koop. Daar is nog ’n skuldgevoel in haar binneste toe sy aan die slaap raak, maar sy hou dit weg.

Die volgende oggend dwing Trudie haar om niks aan die ding te dink nie. Dis sommer skone spandabelheid. Maar in die laaste groot winkelvenster voor sy by die kantoor kom, sien sy dit. Die rokkie. Die blou – ’n teer, wonderlike ligblou, met wit afwerking.

“Ag, dit sal nie vir my pas nie,” knyp sy oë toe.

Maar toe sy die middag terugkom, gaan sy weer staan. Miskien kan sy darem net gaan kyk. Dis tog nie te sê sy sal koop nie …

’n Kwartier later kom sy met ’n netjiese pakkie by die voordeur uit. Sy voel nog skuldig. Dis ’n groot hap uit haar salaris wat sy maar ’n paar dae gelede getrek het.

Maar sy skud haar ligte kop parmantig. Hoekom sal sy nie vir haar iets moois koop nie?

Dieselfde aand pas sy dit aan en draai ’n slag voor die spieël en glimlag vir haarself. Dit maak tog nie meer saak wat dit gekos het nie. Dis die mooiste, mooiste rok wat sy nog in haar lewe gehad het.

Dit voel amper soos in haar kleindogtertjiejare toe sy drie weke voor ’n verjaardag 21 klippies bymekaargemaak en in haar onderste laai gebêre het om elke dag een weg te gooi, sodat sy kan sien hoe die groot dag aankom. As sy baie haastig was, het sy partymaal gekul en twee op ’n slag weggegooi.

En nou voel sy net so haastig dat Saterdag moet kom.

“Jy sal ook nooit grootword nie!” het haar ma op ’n dag bietjie afkeurend gesê. “Jy moet leer om besadig te wees, my kind.”

Besadig – sý? Trudie glimlag terwyl sy oor haar skouer in die spieël loer. In haar wange keep twee vrolike kuiltjies. Nee wat, dan maar liewer kind bly en wens dat dit Saterdag moet word.

Eindelik het Vrydag en die lang nag na Saterdag toe ook op die een of ander rare manier verbygesleep. Teen ’n ongehoorde uur is Trudie al op en in die bad. Mens moenie haastig wees met ’n bad nie, het sy iewers gelees. Die hitte moet so stadig insypel, lomerig deurdring. Jy moet ontspan. Heeltemal ontspan. Daarna droog jy jou af sonder om te veel wrywing te veroorsaak. Reël vir reël kom sy na, asof sy ’n eksamenvraestel beantwoord. By die grimering trek sy egter die streep. Al daardie pommades en saamtrekmiddels en lostrekmiddels is oorbodig. ’n Tikkie poeier op haar astrante neusie en so ’n lekseltjie rooisel op haar lippe is heeltemal genoeg.

Die liewe, liewe tyd gaan so traag om. Voor sy loop, loer Trudie nog ’n slag na die voorspelling. Die brokkie is netjies met ’n inkkringetjie omraam: Hou maar u oë oop vir daardie lang, ligte man. Moenie dat hy deur u vingers glip nie. Skud daardie luiheid af.

Dis net jammer hulle gee nie ’n paar wenke oor die taktiek wat mens moet volg nie. Sy sal maar haar oë oophou.

In die bus begin sy al rondkyk. Daar voor sit ’n ligte man. Sou dit …? Maar as hy opstaan om uit te klim, sien sy dat hy kort is. Ook maar goed.

By die tweede laaste halte klim ’n lang, ligte man in. Trudie se hart klop in haar keel. Ag, vaderlandjie tog, nie hý nie! Sy hare begin al uitval en sy’s seker hy het valstande.

Hou maar u oë oop vir daardie lang, ligte man …

Haar hart voel sommer lam. Moet sy of moet sy nie? By die laaste halte klim sy uit. Hy is ’n tree voor haar. Op die trappie aarsel sy nog.

“Dag, my vrou!” hoor sy hom skielik sê. Hy soen ’n lelike vroumens. “Lank gewag? Ek moes eers gaan kyk hoe dit met Brian gaan.”

“Toe nou, klim uit!” por iemand van agter aan. Sy staan sowaar nog daar en droom!

Haastig begin sy aanstap, loer onderlangs rond of sy niks belowends gewaar nie. Voor sy by die kantoor ingaan, maak sy seker dat haar rokkie kreukelloos is.

Sy dink daaraan dat Ada-hulle gepraat het van ’n nuwe man wat vandag begin werk. Hy is oorgeplaas van ’n ander afdeling.

“Hulle sê hy’s vreeslik slim,” het Ada nog vertel. Sy weet mos altyd alles vooruit, selfs noudat sy verloof is.

Sou dit hy wees?

Sy trek haar skouers reguit en stap in, groet ’n paar maats so in die verbygaan. Sy kry maar swaar om vanoggend te konsentreer.

Tienuur kom die hoofbestuurder by sy kantoor uit.

“Die nuwe ou …” hoor Trudie iemand fluister. Sy kyk vinnig op en sug van teleurstelling. Hy is taamlik kort en donker.

Toe hy by haar kom om kennis te maak, kyk sy nouliks in sy oë toe hy sy hand uitsteek.

“Aangename kennis,” mompel sy. Hy het nogal aantreklike oë, dink sy afgetrokke. Grys en diep. Maar wat maak dit saak?

Haar oë rek skielik en sy loer skuins by sy arm verby.

“Juffrou?” vra Hugo Theron bietjie verbaas.

“Daardie man …!”

Hy staan daar by die toonbank. Hy is lank. Hy is lig. Hy is … hý. Sy weet dit. Dit móét hy wees?

“Wie?” kyk Hugo bietjie geamuseerd om en lig ’n wenkbrou. “O … dis Wouter Eghardt. Hoekom vra jy?”

“Sommer …” Sy staar nog. Iets paniekerigs kom in haar op. Wat moet sy nou maak? Sy kan tog nie sommer reguit na hom toe loop en vir hom sê: “Jy is myne. My waarsêer het so voorspel” nie.

Wat doen ’n meisie as sy baie graag ’n man se aandag wil trek? Sy vergeet skoon van haar nuwe rokkie, voel of sy kan trippel van senuweeagtigheid. Wat moet sy doen? Hy het blykbaar net iets vir die hoofbestuurder kom sê en sal enige oomblik skoert.

Sy kry Hugo aan ’n arm beet. “Meneer Theron! Ek moet hom ontmoet. Dis … dis dringend. Dis absoluut noodsaaklik.”

Wouter Eghardt maak aanstaltes om te loop.

“Maar wat …?” vra Hugo verslae.

“Asseblief!” sê Trudie opgewonde. Nou moet sy vinnig dink. “Hy’t my handsak gesteel.”

“Wat?” vra hy geskok. “Maar hy’s een van die stad se bekendste prokureurs. Ek ken hom al jare.”

Sy voel of sy teen ’n kaal muur kan uitklouter. “Meneer Theron, asseblief! Hy mag nie wegkom nie. Ek sal u alles later vertel, ek belowe.” Sy rem aan sy mou, is half bewus daarvan dat ’n paar van haar vriendinne haar verbaas aanstaar.

“Jou handsak?” vra Hugo. Hy begin met haar aanstap en wink na Wouter.

“Ek bedoel sommer … Sê vir hom ek is siek. Enigiets! Hy mag net nie wegkom nie.”

“Hallo, Hugo,” groet Wouter vriendelik. Hy glimlag en ’n egalige ry sterk, gesonde tande is sigbaar.

Trudie merk dat Hugo knipoog. “Wouter … hierdie dametjie wil jou spreek. Juffrou Trudie Visser – Wouter Eghardt.”

“Aangenaam.” Die sterk hand vou hare skoon toe. “Waarmee kan ek u van diens wees?”

“Meneer …” Sy dink dat dit sulke opslae maak. “Ek wil hê u moet my asseblief terugneem na my woonstel. Ek is siek …” Sy bloos as sy daaraan dink hoe haar stralende voorkoms haar woorde weerspreek.

“Maar …” protesteer hy.

“U sal my verskoon, meneer Theron?” Sy kyk haastig na Hugo. “Regtig! Ek is siek. Meneer Eghardt …?”

Hy is in die war. “Maar, juffrou, ek het dringende sake. Ek … regtig, dis onmoontlik. Daar is tog sekerlik iemand anders?”

“Daar is niemand nie,” sê sy haastig. “Dis nie so ver nie, meneer. Asseblief?” Sy kyk hom so pateties as moontlik aan. “Dis ernstig, meneer. U sou tog nie wil voel dat u verantwoordelik is vir my dood nie?”

“Jou dood?”

“Die siekte,” verduidelik sy. “Ek móét nou huis toe gaan.”

Wouter kyk bekommerd oor haar ligte kop na Hugo. “Wel, as dit nie te ver is nie …”

Sy begin sommer stap. Dit maak nie saak watter klomp leuens sy hom alles in die kop geblaker het nie. Hy mag net nie wegkom nie.

Skud nou daardie luiheid af.

Sy is seker sy het selfs Ada nou in die skadu gestel.

“Hierlangs, juffrou.” Wouter Eghardt kyk bekommerd af na haar. “U lyk nie erg siek nie?”

“Dis … dis inwendig.”

“O.” Hy sluit ’n groot motor oop. “Klim maar in.”

“Dankie.” Sy loer tersluiks na sy aantreklike, sterk gesig. “Ek is regtig jammer oor die moeite.”

Hy loer na sy horlosie. “Ons sal net moet spring, anders is ek laat vir ’n afspraak.”

“Met u vrou?” trek sy die stoute skoene aan.

Hy kyk vinnig na haar en lag effens. “Nee, sulke goed hou ek nie aan nie.”

“U … u is ’n prokureur, het meneer Theron gesê?”

“Ja.”

Dis jammer dat hy so effens kortaf klink. Sy het gehoop hy sou vriendeliker wees. Maar dit sal wel nog regkom. Sy het heeltemal goed begin.

“Waar is die gebou, juffrou?” vra hy onverwags.

Sy beduie. Daar gekom, klim hy uit en kom maak haar deur vir haar oop.

“U hoef nie saam te kom nie,” aarsel sy.

Gelukkig steur hy hom nie daaraan nie. “Ek wil net graag sien dat u veilig by die woonstel kom.”

’n Baie besorgde man … Hy sal eendag mooi vir ’n mens sorg.

By die woonsteldeur draai hy om. “Nou ja, juffrou. Jy sal nou seker regkom?”

“Baie dankie, meneer. Ek behoort vanmiddag al beter te voel.”

Hy aarsel. “Ek sal net kom loer hoe dit gaan.”

“Dis vreeslik gaaf van u.” Sy juig binne.

Net toe sy deur die venster sy motor sien wegtrek, gaan sy weer af. Sy sal gou as moontlik terug by die kantoor moet kom.

Hugo Theron! Hy is haar nuwe afdelingsbestuurder. Vir die eerste keer besef sy hoe onbesonne sy regtig opgetree het. Dit kan haar nog in ’n lelike pekel laat beland. Met ’n skietgebedjie in haar binneste gaan sy bushalte toe en stap ’n rukkie later huiwerig by die kantoor in.

Hugo gewaar haar onmiddellik waar hy by een van die tiksters se lessenaars met ’n stapel papiere staan.

“Juffrou Visser!”

’n Ysblokkie glip in haar hart. “Meneer?”

“Ek wil u asseblief in my kantoor spreek.” Hy begin aanloop.

Sy loop skoorvoetend agterna, soos in die dae toe sy agter haar ma aan slaapkamer toe is om raas te kry as sy verbrou het.

Hy staan opsy en laat haar eerste by die deur ingaan.

“Sit gerus.” Hy skuif in sy leunstoel reg en sit sy vingerpunte teenmekaar. Hy lyk nou soveel strenger as vanoggend. “Wel, juffrou Visser?”

“Meneer …”

“Ek reken u het iets om te verduidelik.”

Sy kyk na hom en sien die ernstige grys oë en die netjiese swart hare. “Meneer … dis ’n bietjie moeilik om te verduidelik.”

“Ek luister.”

“U sien … toe hy … toe meneer Eghardt vanoggend daar by die deur inkom, het ek geweet dat ek met hom moes praat. Dis …” Sy stamel effens. “Dis so voorspel, meneer.”

“Voorspel?”

Sy bloos. “Ek het vir so ’n voorspelling geskryf, meneer sien. Mens sê vir hulle wanneer jy verjaar en hulle stuur vir jou ’n gelukbringer en ’n voorspelling.”

“En hulle sê toe vir jou jy moet jou bene agter Wouter Eghardt aan breek?”

Sy sluk en voel lus om te huil. “Hulle het net gesê ’n ligte man, meneer.” Sy aarsel en straal weer. “Ek wéét dis hy!”

“U moet net onthou dat kantoorure darem vir werk bedoel is, nè?”

“Ek is jammer.”

Sy kyk na hom en merk tot haar verbasing dat hy haar met ’n breë glimlag aankyk.

“Jou werk is op jou lessenaar,” sê hy in ’n poging om die glimlag weg te steek. “Dit moet klaarkom – al kos dit dalk bietjie oortyd.”

“Dit sal, meneer.” Sy kyk hom met tintelende bruin oë aan. “Dankie dat meneer so gaaf was!”

“Vergeet dit maar.” Hy staan op om die deur oop te maak “So tussen hakies …”

“Meneer?”

“Jy sê jy moes die mense laat weet wanneer jy verjaar.”

“Hoekom vra u?”

Hy glimlag weer met ’n fyn lig in sy oë. “Wanneer verjaar jy nou eintlik?”

“Die twintigste Oktober. Maar hoekom?”

“Sommer.” Sy kan nie peil wat in sy oë aangaan nie. “Terloops, ek sou graag so af en toe wou hoor hoe die ding vorder.”

“Maar –”

“Ek is besig met ’n sielkundeverhandeling oor outosuggestie.”

“O.” Sy loop by die deur uit en spring vinnig terug. “O gom!”

“En nou?”

“Hy’s daar!” beduie sy benoud. “Ek het vir hom gesê ek is dodelik siek …”

Hugo loop uit. “Ek sal jou werk hierheen bring. Ek sal vanoggend nog in my ou kantoor gaan werk.”

“O, dankie, meneer!”

Die hele oggend werk sy in sy kantoor. Dis ’n yslike stapel wat hy haar gegee het, maar sy weet dis haar verdiende loon. Tog voel sy in haar binneste ’n bietjie seer toe sy twaalfuur hoor hoe Ada-hulle loop. Dis al halfeen toe sy die laaste vel klaar getik het.

Toe sy eindelik moeg by die deur uitkom, merk sy Hugo buite.

“Klaar?” vra hy.

“Dankie.” Sy wil verbystap toe hy keer.

“Hoekom so haastig? Ek wag juis dat jy moet klaarmaak.”

“Hoekom?”

“Ek is in ’n sekere sin darem verantwoordelik vir die oortydwerk, nie waar nie? Sal jy saam met my gaan eet?”

Sy aarsel en dink daaraan dat dit goed sal wees om in sy goeie boekies te bly. Maar heimlik wens sy dat dit Wouter Eghardt is wat haar vra.

Die hele ete deur dink sy aan hom. Hy is so groot, so mooi gebou! Laat sy nou net iemand kry wat nog nie glo aan die sterre nie …

Aan die een kant is sy maar bly toe Hugo haar by haar woonstel besorg.

“Tot siens,” groet hy vriendelik. “Rus maar lekker die naweek.”

“Ek sal.” Sy aarsel “Dankie vir die moeite.”

Hy glimlag skuins. “Dis ek wat moet dankie sê – vir die plesier.”

Gawe man, dink sy terwyl sy by haar woonstel ingaan. Ek is gelukkig om so ’n bedagsame baas te hê.

Sy sal maar die bed so bietjie omkrap asof sy gelê het en ’n ander rok aantrek. Wouter sal seker netnou hier wees … Dit tintel in haar binneste. Wie sou nou ooit gedink het dat daardie advertensie haar soveel geluk sou bring? Ada wou mos nooit glo nie.

Teen halfvier klop Wouter aan die deur.

“Kom maar binne.” Sy sak bietjie verder agteroor in die stoel en glimlag floutjies toe hy inkom. “O, hallo.”

Hy bly staan. “Ek het net kom kyk hoe dit gaan.”

“Dit gaan baie beter.”

“Ek is bly.” Hy lyk bietjie haastig.

“Ek het drie dokters hier gehad,” jok sy dolgelukkig. “Dit was net betyds.”

“Wat is nou eintlik die fout?”

“O …” Sy beduie vaag. “Hier binne, sien?” Sy besef dat hy nie afgeskrik moet word nie. “Maar gelukkig sal dit gou regkom.”

“Dis gaaf.”

Sy kry ’n blink gedagte. “Dokter het gesê ek moet probeer ontspan, wegkom hier uit die woonstel.”

“Hoekom neem jy nie vakansie nie?”

“Nee,” keer sy. “Net vir ’n paar uur. Ek het gewonder …” Sy kyk hom pleitend aan. “Sien jy dalk kans om my vanaand vir ’n rukkie iewers te neem? Iewers waar ek kan vergeet en ontspan?”

Hy lyk geskok en lig ’n wenkbrou. “Juffrou Visser!” Hy kom ’n tree nader. “Ek moet eerlik sê, dit wil my lyk daar is iewers ’n lang slang in die gras. Hoekom nou juis ek?”

“Ek ken niemand anders nie.” Sy trek haar pikante gesiggie op ’n patetiese plooi. “Dis maar eensaam hier in die stad.”

Hy glimlag ineens breed. “Ek weet nie hoe ver ek jou moet glo nie.”

“Dink jy ek jok?” vra sy blitsig.

“Nee,” verseker hy haastig. “Ek bedoel maar net.” Die glimlag word breër. “Dis nie aldag dat mens so ’n kans kry nie. Hoe laat kom ek jou haal?”

“Halfagt?”

“Dit sal in die haak wees. Ons gaan seker fliek of iets?”

“’n Dans sal beter wees, dink ek,” aarsel sy.

“Maar jy voel dan siek?”

“Dokter het mos juis gesê ek moet uitkom, vrolik wees,” keer sy.

“Nou goed.” Hy vermurwe en gee pad deur toe. “Halfagt dan?”

Trudie bly met ’n onhebbelike glimlaggie agter. As haar ma haar darem nou moes hoor! Sy het altyd soveel reëls voorgehou wat ’n meisie moes nakom om nie goedkoop te wees nie.

Goedkoop? Trudie frons en skud haar kop. Nee wat, sy maak mos maar net soos die voorspelling haar voorgesê het.

Stiptelik op tyd daag Wouter op.

“Maar jy lyk piekfyn!” sê hy van die drumpel af.

Trudie het ’n eenvoudige liggeel aandrok aan, met ’n klein ruiker van ’n enkele rooi roos.

Sy glimlag en trek haar sjaal reg. “Kom!”

Hulle ry na ’n puik klub en sy dink heimlik dat Wouter darem ’n baie handige mens is om jou by die elegantste plekke in die stad te besorg.

Maar die aand is nie heeltemal so volmaak soos wat sy gehoop het nie. Die voorspelling het niks gesê van hoe lank dit sal duur voor die veroweringstaktiek werk nie. Sy het maar gereken dit sal van die begin af slaag – soos ’n vioolsnaar wat dadelik met ’n ander resoneer.

Die eerste rukkie dans hy met haar, maar toe sy haar weer kom kry, sien sy hom aan die ander kant van die vertrek by ’n lang blonde meisie.

Nou ja wat, besluit sy, dit gaan mos maar so by ’n dans.

“Juffrou?” kom ’n ander man by haar buig.

“Ek is jammer,” skud sy haar kop. “Ek is bietjie moeg nou. Later miskien.”

Haar oë volg Wouter. Hy kan darem dans, dis nou maar eenmaal waar. Ná die dans kom hy terug na haar, sê ’n paar vriendelike woorde, en dan is hy weer weg na iemand anders.

Dit het die hele aand so gegaan. Later moes sy maar inwillig om ’n paar teleurstellende danse met ander maats te dans, maar die hele tyd het sy bly dink dat dit darem baie lekkerder sou gewees het as dit Wouter was. Hy is so perfek gebou … Hy is so ’n heer. Hoekom gee hy dan nou soveel aandag aan ander?

Dis elfuur toe hy weer na haar kom. “Jy is seker moeg? Ek dink ek neem jou maar terug.”

’n Ongelukkige gevoel spoel deur haar. Sy het darem gehoop hy sal nog een dans aan haar afstaan. Maar sy laat niks blyk nie.

Terug in die motor kyk hy na haar: “Die aand geniet?”

“Dankie,” jok sy, “dit was heerlik.” Sy aarsel. “En jy?”

“O ja!” Hy swaai in die verkeerstroom in. “Het jy daardie meisie gesien met wie ek laaste gedans het?”

“Die rooikop?”

“Nee, die donker een.”

“Wat van haar?”

“Man, sy’s oulik!”

Trudie voel iets strams in haar keel.

“Wat makeer?” kyk hy besorg na haar.

Sy ruk haar reg “Niks. Net ’n bietjie moeg …”

By haar woonstel klim hy saam met haar uit en vergesel haar na die deur. “Slaap lekker.”

“Goeienag,” groet sy. “En dankie.”

Sy sien hom weggaan en voel meteens verlate en tam. Hoekom is hy dan nie warm en toegeneë nie?

Dit sal nog regkom, troos sy haar toe sy later die lig afskakel. Mens kan nie te veel van een dag verwag nie. Buitendien, sy het darem al ver gevorder van vanoggend af.

Die volgende dag bly sy heimlik hoop dat hy sal bel, maar dit gebeur nie. En Maandagoggend voel dit nes al die dae in die verlede toe sy kantoor toe stap.

“Wat het met jou en daardie pragtige Wouter-mansmens gebeur?” wag Ada haar in. “Gits, jy’t Saterdag my voete onder my uitgeslaan!”

’n Tikkie opgewektheid vaar terug in Trudie. “Jy sal nog sien!” sê sy geheimsinnig.

“Goeiemôre,” kom Hugo in. Hy aarsel by haar. “Lekker naweek gehou?”

“Dankie.”

Dit lyk of hy nog iets wil sê, maar dan bedink hy hom en loop verby kantoor toe.

Die dag gaan gou om net om een rede: omdat sy glo dat Wouter ná kantoorure sal bel. Maar dit gebeur nie en die hele leë aand sleep verby.

Dinsdagoggend toe sy met ’n paar lêers na Hugo se kantoor gaan, keer hy haar onverwags voor: “Juffrou Visser?”

“Meneer?”

“Ek wou net verneem … hoe gaan dit met daardie ander besigheid wat jou waarsêer voorspel het?”

Sy pruil en voel onseker.

Hy kyk skerper na haar. “Ek is jammer. Ek het nie bedoel om persoonlik te raak nie.”

“Dis nie dit nie,” keer sy vinnig. “Dis … dis net dat dit nie so voor die wind gaan nie. Miskien is ek te haastig.” Om die een of ander rede vertrou sy vir Hugo. Hy is tog besig met ’n sielkundige verhandeling; dis nie of sy haar hartsgeheime vir ’n nuuskierige vreemdeling uitblaker nie.

Hy glimlag op sy vriendelike manier. “Hou maar moed. So tussen hakies … ek het jou gesê ek ken Wouter goed. Miskien kan ek bietjie help?”

“Dit sal snaaks lyk,” besluit sy. “Hy moenie … gedagtes kry nie.”

Hugo lag. “Vertrou my maar.”

Met ’n ligter hart is sy daar uit. En so waar as wrintie, daardie aand bel Wouter!

“Hallo, Trudie,” groet hy. “Hoe gaan dit met die kwale?”

“O, ek is so gesond as kan kom.” Sy voel lus om sommer te begin sing.

“Is jy môreaand besig?”

“Nee, nie juis nie.” Sy hou haar onskuldig. “Hoekom?”

“Kan ek jou nie kom haal nie? Ons gaan eet iewers. En daarna gaan ons na ’n uitvoering van die stadsorkes.”

“Dit sal heerlik wees!”

“Dan sien ek jou môreaand teen sesuur?”

“Goed.”

Dit kos inspanning om daardie aand te gaan slaap.

“Mens hoef nie juis ver te soek om te raai wat aangaan nie,” terg Hugo haar die volgende oggend. “Is ek reg?”

Sy voel hoe sy bloos. “Is dit meneer se doenigheid?”

“Watse gemeneerdery is dit?” vra hy, ’n glimlag in sy grys oë. “As mens soveel van mekaar se geheime ken, is dit mos nie nodig om formeel te wees nie.”

Trudie geniet die aand terdeë. En tog, toe sy tuiskom, moet sy nes die vorige keer teenoor haarself erken dat dit nie so heerlik verloop het as wat sy gehoop het nie. Hierdie keer kon Wouter natuurlik nie met ander meisies dans nie, maar die joviale manier waarop hy ’n hele handvol meisies gegroet het, het haar ongelukkig laat voel. En sy is seker hy het geknipoog vir die kelnerin wat hulle met ete bedien het.

Maar wat staan haar dan te doen? Die waarsêer het tog voorspel dat Wouter haar deel in die lewe sou wees. Hoe kan sy nou kop uittrek? Alles sal wel nog regkom – nes hy besef dat hy iets vir haar begin voel.

Die volgende oggend gaan sy self vir Hugo vertel wat gebeur het.

“Tevrede?” vra hy. Hy is besig met ’n verslag en het sy bril op. Dit pas hom nogal goed, dink sy terloops.

“O ja,” verseker sy, en glimlag effens. “Ek wens net dit wou bietjie gouer gaan.”

Hy betig haar met ’n vermanende vinger. “Jy’s glad te haastig. Maar luister, ek wil graag verder uitvra. Kom jy vanmiddag saam met my eet?”

“Sê nou Wouter sien ons?”

Hy lag gerusstellend. “Ek weet waar hy smiddae eet. En ons noem dit ’n sake-ete, nè?”

Die oggend van die twintigste is daar ’n lieflike bossie angeliere op haar werktafel.

“Wouter!” is haar eerste gedagte. En sy voel sommer uitbundig.

Maar een van die nuwe tikstertjies kom gou snip: “Weet jy wie die goed hier kom sit het? Die baas. Ai, ek wens ek was so gelukkig.”

“Jy jok!” protesteer Trudie.

“So waar as padda manel dra.”

Huiwerig loop sy later na Hugo se kantoor.

“Hugo? Ek wil dankie sê vir die angeliere. Maar hoe het jy geweet?”

“Onthou jy daardie eerste dag?” glimlag hy. “Toe het jy my al vertel wanneer jy verjaar!”

Sy kry ’n plooi oor haar voorkop. “Wouter het nog niks gesê nie …”

“Hy sal jou nog verras, toe maar.”

En daardie aand daag Wouter met ’n groot doos sjokolade op. Dis ’n dol-heerlike aand. Hy loop weer vroeg – halfnege. Maar sy voel so opgewek dat dit nouliks saak maak.

So het die ding maar voortgegaan. Wouter het haar uitgeneem, nooit baie gereeld nie – en toevallig gewoonlik net ná sy met Hugo oor hom gepraat het. Dit het haar begin bekommer dat dinge nie vorder nie. As hulle saam uitgaan, het sy pal die indruk gekry dat Wouter nie al sy aandag net aan haar gee nie. Sy het onbevredig begin voel. En tog … dit was wat voorspel was. Op die een of ander duistere manier sou dit nog regkom.

Met Hugo het sy alles openlik bespreek. Hy wou die gegewens immers vir sy proefskrif gebruik. Presies waaroor die verhandeling gaan, kon sy nie begryp nie. Maar dit was nie juis ter sake nie. Eintlik het dit Hugo net nog ’n raps hoër by haar in aansien laat klim. Hy was regtig so gaaf as kan kom. Soms het hy saam met haar gaan eet. Altyd was hy vriendelik, bedagsaam, het gereeld verneem of die werk nie te veel is nie.

“Hy’t ’n ogie op jou!” het Ada ’n slag geterg.

“Jy’s mal!” het Trudie teengewerp. “Waar kom jy daaraan?”

“Ek weet!”

“Hy’s maar net vriendelik. En hy help my met Wouter.”

Ada het op haar lessenaar kom sit en haar lippe begin verf. “Sê my … is jy regtig verlief op Wouter?”

“Hoekom?” het sy verbaas teruggevra.

Ada het haar skouers opgehaal. “Ek vra maar.”

“Maar die waarsêer het dit tog voorspel, man!” Dit was haar laaste woord.

Tog, die ding met Wouter het begin skeefloop. ’n Paar van Trudie se vriendinne het al begin opmerk dat sy stiller as gewoonlik is.

En een middag met sluitingstyd, terwyl sy nog besig was om papiere op haar lessenaar te rangskik, het Hugo daar kom staan: “Jy lyk so stil en anders deesdae, Trudie?”

Sy het ’n bietjie gesug: “Daardie voorspelling begin op my senuwees werk, Hugo. Hoekom sloer dit dan so?”

Hy was naby haar, maar rustig soos altyd. “Neem jy dit nie dalk te ernstig op nie?”

“Ag, ek weet tog nie.” Sy was moeg en nie lus vir redekawel nie.

Dieselfde aand het die breekpunt gekom. Sy sou saam met Wouter uitgaan, maar net ná ete het hy gebel: “Ek is vreeslik jammer, Trudie, maar ek sal nooit my draai kry as ek nie vanaand aan hierdie nuwe saak van ons werk nie.”

“O … Dan is dit seker maar daarnatoe.”

Sy was lus vir buitelug. Op ’n impuls het sy een van haar vriendinne gebel om ’n ent te gaan stap. Later is hulle by ’n kafee-bioskoop in. Toe hulle uitkom, ry Wouter vlak by hulle verby met ’n stralende brunet langs hom.

“Haai!” kry haar vriendin Trudie aan die arm beet. “Dis mos Wouter?”

Sy het op haar lip gebyt. “Ja.” Sy het wild gedink. “Sy suster kuier by hom.”

“Sy lyk nie juis of sy sy suster kan wees nie.”

Maar Trudie was nie meer lus vir praat nie. En terug in haar woonstel moes sy dit konfronteer: dit sou nie meer help om agter Wouter aan te loop soos watter goedkoop flerrie nie.

Die volgende dag was ’n nagmerrie. Sy het hoofpyn gehad en die werk was aaklig. Boonop het daar nog oortydwerk ook bygekom en sy het aangebied om dit te doen, omdat Ada en haar verloofde planne vir die aand gehad het.

Halfses het sy moeg agteroor geleun toe Hugo daar inkom. Sy het nie besef dat hy ook nog aan die werk is nie.

Hy het haar verbaas aangekyk. “My liewe mens, wat maak jy hier?”

Sy het haar dapper gehou. “Wat maak jý hier?”

Hy het skielik nadergekom en op ’n punt van die lessenaar gaan sit. “Trudie … hoekom jok jy vir my?”

“Jok?”

“Jy’t altyd gesê dat jy Wouter liefhet.”

“Dit was die voorspelling wat dit gesê het.”

“En nou?”

Sy bly lank stil en sluk, kyk nie na hom nie. “Ek het gisteraand … finaal agtergekom dat ek niks vir hom beteken nie.”

“Ek is bly.”

“Bly?” Sy kyk hom vies aan. “Bly omdat ek seerkry? Dis natuurlik weer ’n interessante resultaat vir jou tesis!”

“Trudie …” Hy het haar stil aangekyk. “Miskien moes ek al lankal vir jou gesê het: ek is glad nie besig om ’n tesis te skryf nie.”

“Maar …” Sy staar hom geskok aan. “Jy het dan gesê …?”

“Ek weet.” Hy glimlag skielik. “Dit was net omdat dit die enigste manier was waarop jy altyd openlik met my sou gesels. En omdat ek behoefte aan jou opbeurende geselskap gehad het.”

“Maar hoekom?” vra sy verwonderd.

“Omdat ek jou liefhet, Trudie. Van daardie eerste oggend toe jy my aan die arm gegryp het om Wouter te bestorm.” Hy glimlag. “Verbaas dit jou baie?”

“Dan is dit waar …” fluister sy. Iets onverklaarbaar opgeweks stoot in haar op.

Hy lê sy hande op haar skouers. “Trudie?”

Sy begin lag, tintelend en heerlik. “Maar … jy is dan kort en donker, Hugo!”

“My ou blindemol!”

Sy dink aan Ada se tergwoorde: “Jy’t glad te min pit in jou, en jy is gans te romanties. Jy kan nie loop stilsit en reken jou deel gaan by jou aangestap kom nie.”

Toe maak niks ook meer saak nie. Want Hugo soen haar en sy voel hoe sy diep, diep in sy arms alles vind waarna sy ooit gesoek het.

As Adrienne du Toit, Die Brandwag, 8 Februarie 1957

Die rooikop en die redakteur en ander stories

Подняться наверх