Читать книгу Die rooikop en die redakteur en ander stories - André P. Brink - Страница 4

Pygmalion

Оглавление

Dis maar ’n klein ou dorpie wat hier tussen die bome voor hom lê, maar ná die beslommernis vanmiddag met die motor is hy eerlik nie lus om vanaand nog verder te ry nie. Hy sal maar kyk of hier iewers ’n plek te vinde is waar hy kan tuisgaan.

Hy draai in een van die eerste breë dwarsstrate af en vertrou maar dat dit naastenby die hoofstraat is. Hy moet noodgedwonge baie stadig ry om al die slaggate te vermy en terselfdertyd rond te kyk vir ’n moontlike uithangbord voor ’n hotel of losieshuis.

Dit lyk nie of daar so iets op die plekkie is nie. Agter die bome raak die son al weg. Bietjie ongeduldig hou Anton voor ’n woonhuis stil en gaan klop aan.

“Middag …?” maak ’n breë oom die deur oop.

“Anton Viviers,” steek hy sy hand uit. Die oom loer vlugtig na sy lang, goed versorgde vingers voor hy hulle in sy eie stewige hand toevou.

“En wat kan ek vir jou doen, neef?”

“Kan oom my nie na ’n losieshuis of iets beduie nie?” val hy met die deur in die huis. “Ek het bietjie moeilikheid met die motor gehad op die pad en nou kan ek nie vanaand nog veel verder nie.”

“Wat wil hy hê, Theuns?” roep iemand van binne af.

’n Spiertjie trek in Anton se wang. Hy sou darem bietjie meer hoflikheid verwag het.

“Hy wil slaapplek hê,” roep die oubaas oor sy skouer.

’n Tante verskyn in die gang. Sy is effens geset, met grys hare in ’n bolla en twee verrassend lewendige blou oë agter ’n bril.

“Dienie sal nou op kuier wees,” sê sy aan die man. “Dis die vrou van die losieshuis,” verduidelik sy aan Anton.

Hy trap bietjie onseker rond. “Miskien kan ek maar daar gaan wag?”

Sy trek haar neus op ’n plooi. “Sy gooi nooit genoeg sout in haar kos nie. Kom in, dan bly jy by ons oor.”

Vir ’n oomblik is hy skoon uit die veld geslaan. Maar ná vanmiddag se gesukkel en die lang rit – hy is net ná ete uit Johannesburg weg – is hy maar te dankbaar om ruskans te kry. Nog ’n bietjie skepties loop hy agter die tante die gang af.

“En wat doen jy nou eigelik in hierdie wêreld, as ek mag vra?” verneem die oom terwyl die tante kombuis toe is om koppies reg te sit.

“Ek het ’n oom bietjie dieper die Bosveld in,” lig Anton hom in. “Hy’t my vir ’n vakansie genooi.”

“Maar dis mos nie juis vakansietyd nou nie?” verneem die oubaas weer. “Hou jy nie skool nie?”

“Wat laat oom so dink?” vra hy effens geamuseerd.

Die oom plooi sy mond. “Sommer maar. Jou hande en so. Dis mos ’n dorpsmens se voorkomste.”

Hy kan nie help om vir die naïwiteit te glimlag nie. “Ek is ’n pianis, oom.”

“Hoe?” vra oom Theuns onseker.

“Ek speel klavier,” verduidelik hy.

“Maar wat werk jy?”

“Dis my werk, oom. Ek het net ses maande gelede van oorsee af teruggekom.”

“O.”

Daar is ’n mengsel van geamuseerdheid en ergernis in Anton se binneste. Al die grootste koerante van die land was die afgelope maande vol van sy opspraakwekkende sukses. Hy het pas ’n aanstelling as lektor in Johannesburg gekry, en hier weet hulle sowaar nie eens wat ’n pianis is nie!

Die gesels kom maar met rukke en stote, soos trekke aan ’n pyp. Tog is dit glad nie formeel of ongemaklik nie; dis asof hy ten spyte van sy ergernis oor die mense se onkunde tog ’n gemoedelike rus hier by hulle vind. Ná koffie neem die tante haar breiwerk, en vertel so algaande en ongevraagd van al die mense op die dorpie.

“Ons het ook mos ’n musiekmensie hier,” deel sy mee.

“So?” Hy dink aan al die moeders in Clarendon en Houghton wat hom al met die prestasies van hul dogters probeer beïndruk het.

Die tante vertel maar een stryk deur sonder dat Anton veel ag gee.

Deur die venster sien hy die son wegraak met al die kleurigheid van ’n Bosveldskemer. Die aarde adem ’n balsem. Sy moegheid damp weg. Ná ete, neem hy hom voor, gaan hy ’n bietjie stap om lug te skep.

Dit doen hy ook. Hy kies nie ’n besondere koers nie, slenter maar sommerso deur die stowwerige strate en teug die aandlug in. Dis nog nie naastenby donker nie en die lenterigheid in die lug laat hom onwillekeurig opgewek voel. Heimlik glimlag hy oor die ontsaglike kontras wat dit met die stad vorm. In sy geheue probeer hy bepaal wanneer hy laas werklik uit die stad was; dit moes in sy kinderjare gewees het. Vandat sy studies begin het, het hy nooit weggebreek nie; met latere konsertreise het hy hom by groot plekke bepaal. Toe is hy oorsee vir twee jaar. Daar was dit eweneens maar stad op stad. Veral Amsterdam het sy hart gesteel; twee maal het hy selfs saam met die Concertgebouw-orkes opgetree, met Van Beinum en Kubelik as dirigente.

En nou? Hy glimlag. Nou dwaal hy deur die strate van ’n klein Bosvelddorpie waarvan hy nog nie eens die naam uitgevind het nie.

Hy is op die punt om terug te draai toe hy iemand in ’n huis digby hoor sing. Bloot uit gewoonte bly hy ’n oomblik staan, sy kop effens skuins om te luister. Dan stap hy versigtig maar baie beslis nader in die rigting van die huis. Dis ’n sopraanstem, suiwer soos glas en met ’n ryk, gedempte kwaliteit soos hy nog selde gehoor het.

Toe hy hom kom kry, staan hy in die tuin voor die huis tussen die struike, reg onder die venster. Dit stroom soos water oor hom, spoel die stof van die strate van hom af. Die tegniek is nie goed nie, maar die kwaliteit …! Dit laat hom voel soos ’n kind wat ’n skoenlapper tussen sy vingers hou, suiwer vir die skoonheid daarvan.

’n Halfuur later raak die klank stil. Hy bly nog ’n minuut staan en wag, luister soos ’n opgewonde skoolseun, maar dis verby.

’n Oomblik oorweeg hy dit om sommer in te stap en die sangeres te soek: die venster was te hoog bo die grond om deur te kyk. Maar hy skud die gedagte af: hierdie Bosveldmense sal so iets nie begryp nie.

Vaagweg herinner hy hom tant Soes se woorde: “Ons het mos ook so ’n musiekmensie hier …”

Sou dit hierdie sopraan wees? Haastig, amper gretig, sluip hy by die tuin uit en stap die straat af terug na oom Theuns-hulle se huis.

“Wat jaag jou?” kyk die oubaas verbaas op toe hy inkom.

Anton glimlag bietjie verleë. “Ek het maar sommer ’n ent gestap.” Hy weeg sy woorde. “Wie bly dáár … anderkant die tweede hoek?” Hy beduie naastenby.

“Bart Steyn-hulle. Hoekom?”

“Is dit hulle dogter …” Hy trap ineens rond. “Het hulle ’n dogter wat sing?”

“Og, maar het ek jou nie vaneffe, voor ete, nog van haar vertel nie?” vra die tante.

“Het sy enige opleiding gehad?” vra hy.

“Sy’t les geneem by die orreliste,” lig die tante in. “Ek het vergange gehoor sy wou graag verder gaan, maar Bart-hulle was bietjie teë daarop en sy self wou ook maar nie te graag hier weg nie. Mens groei maar vas aan die ou plekkie.”

“Dis ’n sonde om haar hier te hou!” sê hy met vuur.

Die tante haal haar skouers op. “Wie weet? Is dit nie maar die belangrikste dat sy gelukkig is hier nie?”

Hy kan stik van opgewondenheid, maar hy weet baie goed dat dit niks sal baat om met hierdie mense verder te gesels nie. Ongewoon vroeg gaan hy kamer toe, maar dis baie laat voor hy aan die slaap raak. Die klank van daardie verrassende stem nog in sy ore.

Daar is nie eens meer ’n gedagte aan verder ry die volgende oggend nie: hy moet eers nader kennis maak met die eienares van daardie stem wat hy gisteraand gehoor het.

“Ek hou van julle dorpie,” vertel hy terloops aan ontbyttafel. “Ek dink ek sal so ’n rukkie hier oorbly. Ek sal sommer netnou die losieshuis gaan soek.”

“En hoekom kan jy nie hier by ons bly nie?” vra tant Soes aweregs.

Hy wou teenstribbel: hoe kon hy nou so van hulle gasvryheid misbruik maak? Maar op die duur is hy oorreed en met ’n besonder opgewekte binneste kry hy kort ná ontbyt koers buitentoe. Eers gooi hy ’n draai verby die huis waar die vreemdeling die vorige aand gesing het, half in die hoop dat hy haar daar sal raakloop. Twee maal slenter hy voor die deur verby, maar hy gewaar niks. Miskien is dit ook beter, besluit hy. Hy moet eers ’n ent gaan stap en die saak van ’n kant af deurdink: dis moontlik dat hy gisteraand nie suiwer kon oordeel nie. Hy kan die meisiemens mos nie sommerso trompop gaan nader nie!

Peinsend stryk hy verby die laaste huise na die rivier, soos oom Theuns hom beduie het. Hy is juis besig om deur die struike te dring na die waterkant, toe hy weer die stem hoor. Daar is geen twyfel aan nie: dis dieselfde stem as gisteraand. Versigtig koers hy deur die boskasie.

Agter ’n boom gaan hy skielik staan: sy sit daar op ’n groot klip op die wal, haar voete in die water. Sy het lang, ligte hare, ’n skraal liggaam; meer kan hy nie uit hierdie hoek sien nie. Al wat tewens saak maak, is haar stem. Eintlik sit sy maar daar en neurie – bekende liedjies, ’n paar arias.

Hy klou aan die boomstam, voel soos ’n wetenskaplike wat ná jare en jare van navorsing ’n lewensbelangrike serum ontdek het. Hoe op aarde kom hierdie verlate dorpie aan so ’n talent?

Hy moes in sy opgewondenheid daar agter die boom beweeg het, want sy hou ineens op met sing en draai vinnig, half verskrik na hom om.

“Wat maak jy hier?”

“Ek het jou hoor sing,” verduidelik hy rustig. “Gee jy om dat ek kom luister het?”

Sy skud haar ligte hare agteroor. “Wie is jy?”

“Anton Viviers,” sê hy en wag vir ’n blik van herkenning op haar gesig, maar sy bly hom vreemd aankyk.

“Ek is ’n pianis,” verduidelik hy en probeer so natuurlik as moontlik naderkom. “Gee jy om as ek hier kom sit?”

Daar is iets nuuskierigs in haar wye blou oë. “’n Pianis?”

Hy knik. “Dis dié dat jou stem my getref het. Ek het dit gisteraand al gehoor …” Sy kyk hom sonder ’n woord aan. Hy glimlag bietjie verskonend. “Ek het daar in die tuin staan en luister.”

“Hoekom het jy nie ingekom nie?”

Anton is ’n oomblik uit die veld geslaan. “Julle is tog vreemd.” Hy gaan op die klip sit, kyk haar ineens ernstig aan. “Weet jy dat jy ’n besondere stem het?”

Sy haal haar skouers argeloos op, speel met ’n rietjie in die water. “Ek hou daarvan – dis al.”

“Waarom het jy jou nie verder laat oplei nie?”

“Dan moes ek hier weg.” Sy sê dit eenvoudig, natuurlik, soos mens sou sê: “Dis ’n mooi dag.” Maar in haar stem hoor hy die vraag: “Kan jy ’n vis uit die water wegneem?”

“Jy is tog seker meer verskuldig aan jouself as dit?” dring hy aan.

“Ek is gelukkig,” sê sy. “Ek hou skool vir die kleintjies en ek help in die huis. Ek het nog nooit na iets anders verlang nie. Buitendien, daar is niks buitengewoons aan my stem nie.”

Hy voel magteloos. “Ek het tog darem seker ’n bietjie vermoë om te oordeel. Ek weet dat mens nie elke dag ’n stem soos joune hoor nie. As jy die regte opleiding het …”

“Ag!” Sy lag, onbesorg soos ’n kind. Inderdaad lyk sy soos ’n kind daar op die rots, met haar voete in die water: ’n klein, pragtige dogtertjie.

Hy raak ineens verleë en weet nie hoe om die saak verder aan te pak nie.

Sy bly met die rietjie speel, neurie baie liggies, ongeërg tussen haar tande.

“Weet jy,” kyk hy onverwags op, “ek weet nog nie eens wat jou naam is nie.”

“Marieke,” sê sy gewoonweg, sonder skroom. “Marieke du Preez.”

Hy frons en dink ’n oomblik. “Ek verbeel my tant Soes het gesê jou van is Steyn?”

Sy skud haar kop, kyk hom ’n oomblik met iets treurigs in haar oë aan. “Hulle het my aangeneem.”

Hulle bly nog ’n rukkie daar sit.

Dan staan sy op en trek haar sandale aan. “Nou ja, ek moet loop.”

“Wanneer kan ek jou weer sien?” vra hy dringend.

Sy suig aan ’n grassie. “Môre ná kerk of so, as jy wil.’

“Sal jy dink oor die saak?”

“Watter saak?”

“Om verder te gaan studeer. Jy móét.”

“Hoekom?” vra sy soos ’n kind.

Hy onderdruk ’n wreweligheid. “Jy’s dit verskuldig – aan jouself en aan die wêreld.”

Sy lag klinkklaar en hardloop die groen oewer uit. Bo wuif sy met ’n hand. “Tot siens!”

Hy bly daar staan, midde-in die wêreld. Hy is net bewus van een dringende besef: sy mág nie hier bly nie. Dit gaan hy bewerk, hoe lank hy dan ook hier sal moet bly.

Dit was moeilik, bitter moeilik. Hy het Marieke dikwels gesien, elke slag daaroor gepraat. Soms, as hy op ’n weeksoggend by die wit skoolgeboutjie verbykom, het hy die kinders hoor sing en gaan staan om te luister. Af en toe sou sy voorsing om hulle iets nuuts te leer. Daardie stem …! Eenkeer het sy by ’n Kersfunksie vir die mense gesing. En die blote gedagte dat hulle dit maar so as vanselfsprekend aanvaar, wou hom gek maak.

Saans het hy dikwels gaan kuier en dan sou sy soms sing. ’n Slag of wat het hy haar begelei. Maar sy wou net nie kopgee nie. Hy het die Steyns oor die saak gaan spreek, een oggend toe sy in die skool was.

Hulle het geluister, nie juis mooi begryp hoekom hy so gretig was nie.

“Sy moet self besluit,” het hulle gesê.

Hy het die dominee gaan spreek.

“Kan u dan nie help nie?” het hy gevra. “Dis onmoontlik dat daardie stem hier verlore gaan.”

“Ek vra my af of dit werklik ’n kwessie van verlore gaan is,” het die dominee aan sy pyp getrek.

Dit wou hom mal maak, daardie sentimentaliteit. Kon hulle dan nie besef wat hulle aan haar het nie?

Hy was al aan die moed opgee, byna twee weke ná sy koms, toe hy een middag alleen saam met Marieke rivier toe stap. Dit was die eerste keer dat hulle ná daardie eerste slag weer soontoe is. Hy het nie weer oor die saak gepraat nie, gehoop dat sy dit sou doen. Maar sy het argeloos vertel van haar klasse, van insidente op skool, van die vreugdetjies van haar lewe.

Toe het sy lank stilgebly en ineens na hom gekyk: “Anton, is dit lekker in die stad?”

Hy het vinnig opgekyk en haar fyn gesiggie bestudeer, maar daar was niks anders as ’n vraagteken in haar oë nie.

“Natuurlik,” het hy gesê. “Musiek, kuns, lewe – soveel daarvan as wat jy maar kan inneem.”

“Is die mense anders daar?”

“Hulle is fyner van gees,” het hy ietwat versigtig geantwoord. “Hulle lewe dieper, het meer kans om deur te dring tot alles wat mooi is.”

Hy het gehoop dat sy sou verder gaan, maar die hele middag het sy dit onaangeroer gelaat.

Dit was twee dae voor sy weer op haar terloopse, impulsiewe manier oor die saak gepraat het: “Kom daar baie mense na so ’n musiekkonsert toe?”

“O ja!” Hy het begin uitwei, dit so mooi as wat hy kon geskilder.

Sy het met ’n snaakse uitdrukking geluister, toe opgestaan om te loop. Sy was ’n paar tree weg toe sy omdraai.

“Anton?”

“Hallo?”

“Kom kuier vanaand weer by ons. Jy was vier dae laas daar.”

“Natuurlik!” het hy verras ingewillig. Hy kon nou eenmaal nie vatkans aan haar kry nie.

Dit was die Saterdag van daardie week, pas ná koffie, dat sy in die tuin voor haar huis ’n roos afgepluk en in sy knoopsgat gesteek het. Haar vingers het effentjies gebewe.

Hy het sy hande liggies op haar kaal arms gelê en in haar oë afgekyk: “Marieke?”

Daar was iets vreemds aan haar wat hy nie kon peil nie.

Sy het afgekyk grond toe. “Sal jy my help as ek stad toe gaan, Anton?”

’n Vreugde het in hom opgestoot. “Natuurlik! Bedoel jy …?”

“Sal jy nooit vir my kwaad word nie?”

“Natuurlik nie,” het hy verseker, dol soos ’n kind met ’n nuwe speelding.

Die twee dae daarna, voor hulle sou weggaan, het Anton iets vreemds in die dorpie se houding begin aanvoel. Voorheen was almal so hartlik soos oom Theuns-hulle, maar nou was dit of hulle hom ontwyk het. Miskien was dit sy verbeelding, maar toe die dominee hom ook in die dorp voorkeer, was die twyfel weg.

“Jy het ’n verantwoordelikheid op jou, broer,” het hy gesê.

“Ek sal haar laat studeer, dominee,” het hy verseker. “Sy sal die wêreld aan haar voete hê. Besef u watter stem sy het?”

Die predikant het sy kop geskud. “Jou verantwoordelikheid is meer as dit. Jy wil haar ’n nuwe mens maak. Maar elke mens is verantwoordelik vir dit wat hy skep.”

Hy het net sy skouers opgehaal. “’n Sedelessie,” het hy besluit.

Die Steyns was baie ernstig toe hy Marieke die dag kom oplaai.

“Jy moet goed vir haar sôre,” het die tante hom eenkant gekry. “Ons is lief vir die kind. En … sy is lief vir jou, jong.”

“Lief?” het hy verbaas gefrons, toe gelag. “Ag, tante verbeel tante maar. Daar is nie sprake daarvan nie.”

Tog het dit bietjie gepla hier binnekant. Sou dit die verandering in Marieke se houding verklaar: dat sy hom liefhet? Maar dit was tog onmoontlik. Hulle doen hierdie stap tog suiwer ter wille van haar kuns.

So is hulle daar weg.

Die stad het Marieke betower, soos hy verwag het. Die eerste ruk was sy ’n skone kind. Hy het haar maar laat begaan en begin reël vir haar lesse. Gelukkig kon hy ’n netjiese woonstel vir haar naby sy eie kry; hy het selfs ’n klavier gereël. Teenoor geeneen van sy vriende het Anton ’n woord oor Marieke gerep nie. Heeltemal in die stilligheid het hy haar haar lesse laat neem, ure per dag vir haar begelei. Soms het sy ná so ’n oefening in ’n stoel neergesak en met moeë, toe oë bly lê en rus. Dan het hy moed ingepraat. Hulle sou die wêreld verower.

“Jy gaan ’n nuwe mens word!” het hy op ’n dag verseker. “Jou tegniek verbeter elke dag. En met daardie stem …!”

Sy het dig teen hom kom staan, sy kraag reggetrek. “Is dit so belangrik, Anton? Is jy nie tevrede met my soos ek is nie?”

“Natuurlik nie!” het hy gesê, sonder om te snap wat sy bedoel. “’n Kunstenaar kan nooit tevrede wees nie.”

In hom was die vuur van sy onderneming. Hy sou haar skep, ’n nuwe mens maak. Hy kon lag oor haar vorige tuiste. Hulle sou haar nooit ken as hulle haar nou moes sien nie!

Sy was ’n maand in die stad toe hy ’n klein private konsert in sy woonstel gereël het. Die paar gaste was uitgesoek: ’n vooraanstaande konsertbestuurder, ’n paar professors, enkele musiekkritici.

Marieke was bleek en vir die eerste keer het hy gewonder of sy dalk te hard gewerk het.

“Voel jy gesond?” het hy haar bekommerd gevra.

Sy het met skigtige oë na hom gekyk. “Ja. Maar ek is so bang, Anton.”

Hy het haar speels gesoen. “Dit sal goed gaan, Marieke.”

Daar was kleur in haar wange toe hy teruggaan na sy plek.

Die aand was ’n ontsaglike sukses. Die gaste kon hul ore nie glo nie. So ’n stem was eenvoudig ongehoord in die stad. Marieke het bietjie gespanne en senuweeagtig daar gesit en luister na wat hulle sê, heeltyd net haar oë op Anton gehou asof sy goedkeuring eintlik al was wat saak gemaak het.

Die koerante het die volgende dag gejubel oor die vonds. Reëlings vir die eerste groot openbare konsert het begin.

Gedurende die drie weke voor die konsert het Anton gemerk dat Marieke stiller word.

“Ná die konsert kan jy rus,” het hy belowe. “Dan sal jou naam gemaak wees. Is jy nie bly dat jy weggekom het van daardie godverlate plekkie nie?”

Sy het ’n oomblik na die vloer gestaar, toe omgedraai en by die venster gaan staan sodat hy nie haar gesig kon sien nie.

“Marieke?” het hy bietjie verbaas aangedring.

“Is die sang ál wat tel?” het sy sag gevra.

“Dis tog hoekom jy gekom het?” het hy verbaas teengewerp.

Sy het nie weer daaroor gepraat nie.

Hy was so opgewonde soos voor sy eie eerste uitvoering toe die konsert aanbreek.

Die applous was oorverdowend. Marieke in haar eenvoudige wit aandrok, haar hare sonder pretensie agter haar kop vasgemaak, het die gehoor betower.

Dit was ’n opgewonde groepie mense wat die onthaal daarna bygewoon het.

“Jy behoort ’n professoraat te kry uit hierdie vonds,” het mense teenoor Anton geskerts. “Waar het jy haar gekry?”

Hy het maar geglimlag en na Marieke geloer. Sy het skraal en ingetoë daar op haar stoel gesit, haar oë neergeslaan.

“Jy het ’n geniale oor vir talent!” het ’n ander hom gelukgewens.

Só het die aand verloop.

Toe die laaste gaste vertrek het, het hy glimlaggend teruggegaan na Marieke. “Wel?”

“Jy’s seker tevrede?” het sy op ’n ongewone, amper bitter manier gesê.

Hy het haar ’n oomblik ondersoekend aangekyk. “En jy?”

“Dit maak seker nie veel saak nie.”

“Dit was tog jou konsert?”

“Was dit?”

Hy raak ergerlik oor haar toon. “Wat makeer jou?”

“Niks,” sê sy. “Dit maak buitendien nie saak nie, maak dit? Ek was tog maar net die middel tot jou doel.”

“Wat bedoel jy? Dis tog jou sukses.”

“Het jy my ter wille van my sukses weggeneem van my mense?”

“Natuurlik,” sê hy onbegrypend. “Watter ander rede?”

“Dis dus net my stem wat getel het,” sê sy op daardie selfde sagte, verwytende manier. “En ek self?”

“Hoe bedoel jy?”

“Jy het meer as een keer gesê dat jy my ’n nuwe mens wou maak. Jy het. Is jy nou tevrede?”

“Maar mens …!” Hy soek woorde. “Jou naam is gemaak. Nou kan jy verder gaan. Die hele leer boontoe is oop voor jou.”

“Noudat jou deel gedoen is en jy jou gelukwensinge ontvang het, nou moet ek alleen verder?”

“Wat op die liewe aarde skort dan?” vra hy vererg.

“Ek sou graag wou teruggaan.”

Hy verloor sy humeur. “Jy is besonder dankbaar! Hoekom gáán jy dan nie?”

Sy staan op en vir die eerste keer kan hy sien dat sy ook kwaad is. “Omdat ek nie kan nie. Jy het my op hierdie lewe ingeënt en nou verwag jy dat ek alleen verder moet gaan. Hoe kan ek my weer tuis aanpas? Hoe kan ek alleen verder? Het jy dan geen verantwoordelikheid in die saak nie?”

“Ek het dit tog vir jou gedoen.”

“Maar jý het dit gedoen! Wat gaan jy verder doen?”

Hy luister verslae, dink terug aan wat die dominee destyds gesê het: “Elke mens is verantwoordelik vir dit wat hy skep.”

Dis ’n geharwar in hom.

Marieke is weer kalm. Sy tel haar handsakkie op en loop uit. By die deur sê sy: “Ek het gedink dat jy my liefhet.”

Toe sy uit is, bly hy daar staan. Iets in haar woorde het hom geroer.

Hy dink aan haar ma wat gesê het: “Sy het vir jou lief …”

Sy gedagtes loop ver, ver paaie terug. Daardie eerste aand toe hy haar gehoor het … daardie eerste dag by die rivier … Sy was so tenger, so broos, so onskuldig-mooi.

Vir die eerste keer wonder hy: was dit regtig net ter wille van haar stem dat hy haar hierheen gebring het? Of was dit vrees om van haar weg te gaan?

Het hy werklik ’n verantwoordelikheid teenoor haar? Dit is per slot van sake tog hy wat haar weggeneem en haar verander het. Hy het haar lewe gegee soos Pygmalion aan die standbeeld van Galatea. En nou?

Dit was die nuus, ’n week later, dat Marieke ’n spesiale beurs vir sangstudie in Wene ontvang het, wat Anton eindelik laat besluit het. Hy het haar dadelik gaan opsoek toe hy die nuus hoor. Sy het hom ingetoë ontvang.

“Geluk, Marieke!”

“Dankie,” het sy konvensioneel gesê.

“Hoe lank gaan jy?” wou hy weet.

“Twee jaar.”

Twee jaar. Dit was ’n lang ruk – ’n lang ruk om van haar weg te wees. Hy het geskrik toe hy besef wat hy dink. Hoekom sou dit aan hom saak maak?

Maar nou het hy nie meer oor die antwoord getwyfel nie: hy kon nie so lank sonder haar wees nie. Sy was nog altyd marmer in sy beeldhouershande, maar nou, noudat sy haar eie lewe gevind het, was dit anders. Voorheen was daar geen sprake dat sy van hom sou weggaan nie, daarom het hy dit nie besef nie. Maar nou weet hy dat hy haar liefhet, dat juis dit die rede is waarom hy haar wou herskep.

“Marieke?” sê hy.

Sy kyk stil na hom op. Sy is nog bleek.

“Kan ek saam met jou gaan?” vra hy.

“Om my te help studeer?” vra sy bietjie bitter.

“Omdat ek jou liefhet.”

Pygmalion, dink hy terwyl hy haar soen, het ook ontdek dat hy Galatea liefhet.

Die Huisgenoot, 27 Augustus 1956

Die rooikop en die redakteur en ander stories

Подняться наверх