Читать книгу Bambi en die boef - Anita du Preez - Страница 4

2

Оглавление

Bambi se selfoon lui net mooi toe sy in die bad klim. Sy gaan dit ignoreer. Daar is tans heeltemal genoeg drama in haar lewe, dankie, sy het geen begeerte om verder met enigiemand op enige foon te praat nie. Sy het juis laventelolie in die badwater gedrup en haar huisfoon van die mik afgehaal om vir haar ’n kalm kolletjie te skep. Die vervlakste foto in die Sunday Times het haar selfs dieper ontstig as wat sy aanvanklik besef het. Sy moet ’n plan van aksie uitdink. Haar beste idees kom altyd terwyl sy bad.

Sy laat sak haar kop diep agteroor en laat die lou water oor haar gesig spoel. Gewoonlik help dit om haar te laat ontspan as sy haar ledemate gewigloos in die water laat dryf. Toe sy haar ore weer bokant die watervlak lig, hoor sy haar selfoon wéér lui. Dit lê op die toiletbak en bewe van ongeduld. Sy sit dit altyd daar neer terwyl bad, want sy woon per slot van sake alleen.

Met haar kop teen die badrant gestut lê sy en luister totdat die geskril ophou. Toe die foon egter ’n derde keer begin skree en vibreer, vee sy een hand ergerlik droog en druk die groen knoppie. “Unknown number,” sien sy eers vlugtig op die skermpie.

“Uiteindelik!”

Bambi herken die melodieuse stem van Louis van Breda. Sy voel hoe alle rus en vrede oombliklik uit haar lyf wegswem. Haar impuls is om die foon dood te druk.

“Hallo? Juffrou Le Roux?”

“Waar het jy hierdie nommer gekry?” vra Bambi met moeite verby haar stramgeskrikte stembande.

“Hmmm,” sê die vent, “ek moes dan darem ’n klein bietjie indruk op jou gemaak het as jy my stem dadelik herken?”

“Ek het nie die vaagste benul wie jy is nie,” lieg Bambi, “wat ek wil weet, is waar jy aan my private nommer kom?”

“Maak dit regtig saak, juffrou Le Roux? Ons moet tog een of ander tyd praat.”

“Ek dink u het die verkeerde nommer, meneer,” sê Bambi en druk die foon dood.

Dit lui feitlik dadelik weer. Na ’n rukkie slaan die irriterende piepgeluid van ’n SMS blikkerig teen die badkamerteëls vas. Bambi klim uit die bad en droog af. Van haar kalm oasetjie is daar nou niks oor nie. Gevorderde tegnologie beteken ook nie altyd vordering nie, dink sy vies, nie as dit mense toelaat om jou privaatste oomblikke binne te dring nie. Die selfoon kyk haar aan met een reghoekige, beterweterige oog.

Bambi hou uit totdat sy ’n skoon wit hempie en ’n ou sweetpakbroek aanhet. Toe gee sy in en lees die SMS.

Jammer as aanstoot gegee. Nie bedoel. Indien vergewe ontmoet 2nm by Emperor’s vir soenoffer. Hulle burgers is fenomenaal. Asseblief?

Louis

Gmf, ’n soenoffer nogal, dink Bambi. Verbeel jou. Jammer, meneer Boef van Breda, heeltemal die verkeerde woordkeuse. Sy is op die oomblik allergies vir enige soort soen, met of sonder offer. Die blote idee om weer in die publiek saam met die glibberige vent te moet verskyn laat galbulte oral op haar lyf uitslaan. Sy gaan nie eens die moeite doen om die SMS te beantwoord nie. Sy skakel haar foon af, smyt dit eenkant op die bed en gaan lê skuins oor die voetenent in ’n sonkolletjie.

Toe Bambi wakker word, voel sy effens naar en lighoofdig. Dit neem haar ’n rukkie om te fokus voordat sy agterkom dat haar voordeurklokkie lui. Sy swaai haar voete traag van die bed af en slof deur toe.

“Ja, ja, ek weet julle kom julle net verlekker in my uur van –” sê sy nog voordat sy die deur oophet. Maar dit is nie Harold en Margaret op hulle gewone Sondagmiddagbesoekie nie. Op haar drumpel leun Louis van Breda teen die kosyn met ’n bruin papiersak in die hand.

Bambi kry nie een woord uit nie. Sy het vergeet presies hoe mooi hy is. Hy lyk allesbehalwe soos ’n geharde skelm in sy sagte ligblou V-nek-trui en verbleikte jeans. Sy langerige amper swart hare is effens deurmekaar. Om sy mond huiwer ’n klein glimlaggie, maar sy donker oë lag nie. Hoe kan ’n skurk in so ’n pragtige gedaante kom?

“Jy!” kom dit krapperig uit haar slaapdroë keel.

“Met burgers,”sê hy fronsend, en hou die papiersak omhoog. Hy bly effe verbouereerd stil toe hy die uitdrukking op haar gesig sien.

“Die berg het nou maar na Mohammed gekom,” sê hy toe sy steeds nie reageer nie. Hy hou die sak na haar toe uit.

Toe die heerlike reuk wat daaruit ontsnap Bambi se neus tref, dam die spoeg in haar kiewe op en sy besef dat sy rasend honger is. Sy weet voor haar siel dat die regte ding om te doen sou wees om nee dankie te sê en die deur toe te maak, maar haar siel, haar hart en veral haar maag weier. Skielik maak die storie van Esau en sy lus vir lensiesop vir haar sin.

“Ek ís nogal honger,” is wat haar mond sê. Haar brein het skynbaar alle verbinding met haar oordeelsvermoë verbreek en slegs met haar smaakkliere kontak behou.

“Beteken dit ek kan maar inkom?”

“Ek moet seker my kop laat lees.” Bambi maak tog die deur effens wyer oop voordat sy omdraai en kombuis toe loop.

“Maar jy hét baie om te verduidelik,” gooi sy oor haar skouer.

Hy kom agter haar aan en staan haar takserend en aankyk terwyl sy twee borde van die droograk langs die wasbak vat en dit kletterend op die kaal tafel neerplak.

“Wat?” vra sy ergerlik, skielik intens bewus van haar skoongeskropte gesig, haar verlepte ou sweetpakbroek – en veral van die feit dat sy nie ’n bra aanhet onder die stywe hempie nie.

Hy sit die kos op die tafel neer en hou sy hande skuldontkennend op.

“Absoluut niks, juffrou Le Roux, absoluut niks,” sê hy, “maar kan ons dalk net eet voor ons dinge uitbaklei? Ek is vrek honger en ek het baie moeite gedoen. Emperor’s doen gewoonlik nie wegneemetes nie. Ek moes omtrent mooipraat.”

Bambi gluur hom woordeloos aan terwyl hy die burgers, skyfies en piepklein bakkies met doopsouse versigtig op die borde uitpak.

“Ek hoop dit is nog warm.” Hy stoot haar bord oor die tafel na haar toe. “Ek het so gou gery as wat ek kon.”

Bambi sit versteen en staar na die perfekte ovale van sy vingernaels en die beduidenis van are op die rugkante van sy sterk, bruingebrande hande toe hy sy burger sonder seremonie weerskante vasvat en begin eet. Haar mond gaan onwillekeurig effens oop toe sy fyngebeitelde lippe oor die burger sluit.

Hy kyk op. “Eet nou maar,” sê hy met sy mond vol, “ons kan netnou alles opklaar wat jou pla.”

Hy het darem nie hieroor gelieg nie, dink Bambi toe sy haar tweede hap vat, die burgers ís fenomenaal. Sy byt een van die skyfies. Dit smaak heerlik, maar is beslis van iets anders as aartappel gemaak. Bambi vat nog ’n happie.

“Patat,” sê hy kouend, “lekker, huh?”

“Ek ken patatskyfies, meneer Van Breda, ek is darem nie heeltemal agter die klip nie.”

Hy kyk haar met een geligte mondhoek aan. Toe leun hy oor die tafel, doop een skyfie versigtig in die bakkie suurroom op haar bord, dan in die soetrissiesousie langsaan, en hou dit voor haar mond.

“Proe,” sê hy en kyk haar waterpas in die oë.

Bambi wil nog teëstribbel en die skyfie uit sy hand neem om self te proe, maar hy ruk sy hand effens weg en bring dit dan so na aan haar mond dat sy vingerpunte skrams aan haar lippe raak. Sy byt noodgedwonge die skyfie se punt versigtig. Die ryk romerigheid gemeng met die pikante bytsmakie gly heerlik in haar keel af terwyl haar binnekant onwillekeurig saamtrek weens die sensasie van sy vingers teen haar lippe. Sy sit verskrik agteroor. Hierdie verdomde mansmens het ’n uitwerking op haar wat niks goeds voorspel nie. Hy bring sy hand weer nader om ’n bietjie room van haar ken af te vee, maar sy draai haar kop vinnig weg.

“Baie lekker, ja, maar ek kán self eet, hoor?” sê sy so bitsig as moontlik, want sy donker oë wys dat hy goed weet watter effek hy op haar het.

Sy moet vinnig wal gooi. Sy het hier te make met ’n mansmens wat baie ervaring het in die sagmaak van halsstarrige vroumense. Een wat presies weet hoe aantreklik hy is en gewoond is daaraan dat vroue soos vrot vye val vir sy kamstig toevallige sensuele taktieke. Sy stoot haar bord agteruit.

“Dankie vir die kos,” sê sy, “maar voor jy gaan, wil ek ’n paar dinge weet.”

“Ek eet nog,” protesteer hy.

“Meneer Van Breda, jy kan bly wees jy sít nog. Ek sal met plesier vir jou ’n wegneembakkie gee vir die res.”

Hy sit agteroor en vou sy arms. “Ek luister.”

“Eerstens, hoe het daardie joernalis uitgevind wat my naam is? Tweedens, waar het jy my selnommer gekry, en derdens, hoe het jy uitgevind waar ek woon?”

“Ek kan dieselfde vir jou vra, juffrou Le Roux. Hoe weet jy wat my naam is?”

“Dit staan lewensgroot in die koerant, as jy nie agtergekom het nie. En antwoord nou asseblief my vrae.”

“Al drie?”

“Ja, al drie.”

“Een en dieselfde antwoord,” verklaar hy met sigbare genot. “Mevrou Zelda Barkhuizen. Sy was maar te bly om my in te lig nadat jy verdwyn het. Baie gawe dame.”

“Dit moes ek geweet het,” sug Bambi.

“En waarmee kan ek nog help?” wil hy met geligte wenkbroue weet.

“Jy kan belowe om my nooit weer te kom pla nie.”

“En die Mauritius-vakansie?”

“Kan jy met die grootste plesier gebruik om een van jou kommin sleepsels mee te beïndruk.”

“Ék, juffrou Le Roux, het my nog nooit opgehou met ‘sleepsels’ nie.” Hy stoot sy stoel hard oor die teëls agteruit sodat Napoleon krassend in sy hok rondfladder. “En ek weet nie wat ek jou aangedoen het wat so erg is nie, maar ek weet beslis wanneer ek genoeg gehad het.”

By die voordeur draai hy om. Sy oë is pikswart en sy hande bal.

“Net een ding,” sê hy deur geklemde kake, “dalk moet jy ’n slag van jou hoë perdjie afklim voor jy van hom afval.”

Bambi soek nog na asem om hom iets vreesliks toe te voeg, maar die deur gaan sag agter hom toe en sy bly verdwaas sit tussen die oorskietkos. Sy ruk soos sy skrik toe die voordeur weer oopgaan. Hy steek sy kop om die kosyn.

“Net nog iets, jy moenie jouself weer so vol grimering beplak nie. Dis ietwat passé. Buitendien is jy baie mooier daarsonder.”

Bambi onderdruk ’n intense begeerte om hom met die naaste ding te gooi, want niks op die tafel lyk swaar genoeg nie. Buitendien het hy al weer haar voordeur agter hom toegetrek.

Sy sit vir ’n hele ruk versteen terwyl haar kop allerlei kwetsende woorde bedink wat sy móés gesê het. Ingedagte druk sy een van die patatskyfies wat op haar bord oorgebly het in die room en die rissiesous en proe daaraan, maar dit smaak skielik hopeloos te ryk.

Haar deurklokkie ruk haar getob tot stilstand. Haar hele lyf span stokstyf en sy kry dit nie reg om op te staan nie. Die deur gaan stadig oop en Bambi probeer naarstiglik die sin onthou wat sy geformuleer het om die vent mee te verpletter.

“Koe-ieeee!” roep Margaret en stap in, met Harold kort op haar hakke.

“En dié?” vra sy en wys na die twee borde halfgeëte kos.

Harold smyt ’n kartondoos kitshoender vieserig op ’n werksoppervlak neer. Lekker vinnig herstel van hul kamstige siekte, dink Bambi vlugtig.

“Carrying coals to Newcastle,” sê hy onvergenoegd, “en ons dink jy sit hier en vrek van die honger!”

Margaret lig die papiersak op. “Emperor’s?” lees sy op die strokie binne-in, “doen hulle dan takeaways?”

“Nee, net vir spesiale skurke,” antwoord Bambi.

“You don’t say!” sê Harold.

Margaret gaan sit oorkant Bambi. “Moenie my sê hy was hier –”

“In lewende lywe,” antwoord Bambi.

“Hier kom ’n ding,” lag Harold terwyl hy oudergewoonte die inhoud van Bambi se yskas inspekteer.

“Hier kom net mooi niks nie,” sê Bambi, “ek kan julle verseker ons het die laaste van meneer Voor-op-die-wa van Breda gesien, oukei? Ek het hom goed die waarheid vertel.”

“So tussen die lekker burgers deur?” vra Margaret ongelowig.

“Ek was toevallig honger.”

“Toe eet jy eers sy kos en vreet hom daarna van ’n kant af uit?” vra Harold kamstig geskok.

“Min of meer.”

Harold skud sy kop en kyk hulpsoekend na die enigste ander man in die vertrek. “Ja, Napoleon, dit ondersteun ten volle my teorie dat vroue, asook sekere wyfiespinnekoppe –”

“Sien jy iemand hier wat in die minste belang stel in jou ewige teorieë, Harold?” vra Bambi.

“Ek sê maar net,” brom hy en lig die houer duur Häagen-Dazs-roomys triomfantelik uit die vrieskas.

“Roomys, enigiemand?” vra hy plesierig.

“En wat nou van Mauritius?” wil Margaret weet. “Harold, jy was gister nog siek tot die dood, hou jou in, man!”

“Vergeet van Mauritius,” sê Bambi, “daar is nie ’n kans dat ek hom sal vra of ons twee kan gaan nie. En al was dit my laaste kans op aarde, ek sit ook nie my groottoon op dieselfde strand as daardie lummel nie. So ek is jammer, Margaret, nie een van ons gaan nie. Hoe hy dit reggekry het om die prys te ontvang sonder my daar, sou ek graag wou weet.”

“Ag, seker omkoopgeld of iets.” Harold swaai die roomysbak deur die lug om sy woorde gewig te gee. “Dié soort ouens het mos almal friends in high places.”

“There goes that idea,” sug Margaret, “en ek het al gesien hoe ons heeldag soos twee nimfe in die vlak watertjies rondlê.”

“Toemaar, my vrou,” troos Harold, “as ek hierdie jaar my bonus kry, vat ek jou self, hoor?”

“Sal julle twee nou ophou karring, asseblief? Ek voel sleg genoeg oor die hele besigheid. En dit is nie asof ek nie probeer het nie. Hoe moes ek nou geweet het daar gaan ’n gewetenlose skurk in gedrang kom?”

“Ag, toemaar wat,” sê Margaret, “ek maak vir ons lekker rooibostee.”

“Koffie vir my, asseblief,” sê Harold en gaan sit genoeglik by die kombuistafel met die houer roomys en ’n eetlepel.

Bambi en die boef

Подняться наверх