Читать книгу Bambi en die boef - Anita du Preez - Страница 5
3
ОглавлениеBambi slaap die nag sleg. Sy glo dis omdat sy nog nie op datum is met haar lesingvoorbereiding nie. Dít verklaar egter nie die vreemde droom wat haar sweterig laat rondrol nie. Teen voordag gee sy moed op en gaan sit met tee op haar balkonnetjie wat op Tafelberg uitkyk.
Tot haar intense ergernis en verleentheid het sy heelnag iemand wat ontstellend baie soos Louis verdomde van Breda lyk, toegelaat om ongelooflike dinge met haar lyf aan te vang. Sy het kort-kort loom en welgeluksalig half wakker geword uit die fantasie, met wat selfs vir háár gevoel het soos ’n idiotiese glimlag op haar gesig, en dan bloot weer daarin weggeraak. Einde ten laaste het haar wil haar onderbewuste so sterk aangespreek dat sy glad nie weer kon slaap nie.
Sy vat ’n groot sluk van haar tee. Dankie tog, dit was blote onsin, en niemand sal ooit daarvan weet nie.
Wat sy nodig het, is werk. Van sit en staan kom niks gedaan, sê haar ma graag. Ook dat ledigheid die duiwel se oorkussing is. En sy is reg. Bambi kort fisieke arbeid om die bog in haar kop te verdryf.
Sy sluk haar beker tee leeg en gaan trek haar rubberhandskoene aan. Gelukkig is daar genoeg rommel en skottelgoed in die kombuis om haar besig te hou, dink sy terwyl sy die oorskiet van die vent se kamstige soenoffer in die vullisdrom uitkrap asof haar lewe daarvan afhang. Daarna takel sy alles wat naastenby vuilerig lyk.
Dit is eers toe sy agterkom dat sy op haar knieë besig is om die toilet te skrop dat sy haar vir haarself vervies en gaan stort. Sy werk die res van die dag aan haar beplanning vir die nuwe semester. Toe haar oë nie meer in die rekenaarskerm wil vaskyk nie, gaan draf sy ’n ent. Sy kies die mees moordende roete en dryf haarself asof sy idees koester om binnekort die Comrades aan te pak.
Sy tree amper bo-oor die dik roomkleurige koevert toe sy natgesweet by die huis kom. Iemand moet dit onder haar voordeur ingestoot het. Toe sy effens bewerig op die bank neersak, klop haar hart nog so woes dat sy eers ’n rukkie met die koevert in haar hand sit voordat sy sover kom om dit oop te skeur.
Twee koepons vir vliegtuigkaartjies val eerste daaruit. Toe gelukwensings, inligtingstukke en kontaknommers van borge. Laastens ’n opgevoude, handgeskrewe briefie.
Hiermee doen ek met plesier afstand van my aandeel in die prys. Ek het reeds die organiseerders in kennis gestel en hulle het nie ’n probleem daarmee nie. Neem iemand saam vir wie jy omgee.
Louis van Breda
Sy sit sprakeloos. Hoe het sy dit dan nou? Sou die man dan tog ’n hart in sy borskas wegsteek? Het sy hom heeltemal verkeerd opgesom? Bambi voel verskriklik skuldig en gemeen. Het sy hom dalk sonder verhoor skuldig bevind?
As sy mooi daaroor dink, het hy haar nie werklik enigiets so onvergeefliks aangedoen nie. Sy is ook nie een wat haar gewoonlik aan skinderstories steur nie. Haar reël is tog om enigiemand ’n kans te gee en slegs ’n opinie oor mense te vorm op grond van hul optrede, nie op grond van hoorsê nie. Waarom was sy dan so vinnig om ander se opinies omtrent Louis goedsmoeds en heelhuids te aanvaar? Soos Harold se vae praatjies oor misdade, en die twee floozies in die badkamer se insinuasies.
Die kil gevoel dat sy dalk ’n groot fout gemaak het, neem van haar besit. Sy ril en gaan staan ’n lang ruk onder ’n warm stort.
Toe sy uit die stort klim, weet sy wat om te doen. Sy gaan die vakansie vir die twee mense gee wat dit in die eerste plek moes gekry het: Margaret en Harold. Hopelik sal die organiseerders nie ’n probleem daarmee hê nie, veral as sy hulle die hele storie vertel. Hoe meer sy daaraan dink, hoe beter klink die idee vir haar. So sou daar darem ’n mate van reg en geregtigheid geskied.
Teen die tyd dat sy skoon klere aanhet, erken sy egter aan haarself dat daar nog iets is wat sy sal moet regstel, al is sy hóé min lus daarvoor. Humble pie is nie juis haar geliefkoosde gereg nie, maar sy sal op die een of ander manier moet dankie sê. Dit was op slot van sake ’n betreklik groot gebaar om afstand te doen van so ’n prys.
Hoe de joos sy hom in die hande gaan kry, is nou weer ’n ander saak. Sy gaan haal die telefoonboek. Daar is hordes Van Breda’s, maar nie een met die voorletter L nie.
Dis eers teen die aand se kant dat sy onthou van sy SMS wat sekerlik nog in haar selfoon se geheue moet wees. Sy kyk, en inderdaad – dis daar, tot haar spyt. Nou het sy geen verskoning nie. Sy sit lank met die foon en speel, gaan maak naderhand eers vir haar tee. Toe sy uiteindelik haar vinger verskuif van “inbox” na “options”, laat sy dit huiwer by “delete”, maar sy spreek haar streng aan, haal diep asem en druk “call back”.
Teen die tyd dat dit anderkant begin lui, is haar keel kurkdroog. Toe sy amper moed wil verloor, antwoord ’n vrouestem.
“Louis se foun, Vera wat praat.”
Bambi vries. Daar kom geen klank uit haar keel nie.
“Halloooo!” sê die vroumens vieserig.
“Louis,” hoor Bambi haar roep, “is jy nog innie stort? Hie’ is foun vi’ jou en die mens willie met my praat nie.”
Skielik kry Bambi lewe en sy druk die verbinding dood. Sy is onmiddellik smoorkwaad vir haarself. Sy het haar pas presies soos ’n veertien jaar oue bakvissie gedra. Hoe kon sy so simpel wees? Sy kon mos net gevra het om met hom te praat! Hy kan mos net soveel vroumense aanhou om sy foon te beantwoord as wat hy wil. Dit is immers geen misdaad nie en het absoluut niks met haar te doen nie. Boonop sal hy en sy vriendin nou albei kan sien van wie die oproep gekom het en heerlik daaroor lag.
Vaderland, gaan die nadraai van die vervlakste perdewedrenfiasko dan nooit end kry nie? Gaan sy nou elke dag nuwe maniere vind om haarself belaglik te maak? Wel, besluit Bambi, dit is nou maar tot daarnatoe met die dankie-sê. Sy het probeer. Nottedem gaan sy weer bel nie. Sy skakel haar selfoon af.
Toe Bambi die volgende oggend by die kollege opdaag, besef sy dat daar nog heelwat maniere oorbly waarop sy belaglik kan wees.
“Juffrou Le Roux!” roep meneer Barkhuizen welluidend toe sy die personeelkamer binnestap. “En hoe voel jy?”
“Nog steeds met my hande, meneer,” sê Bambi so vrolik as moontlik deur geknersde kake.
Meneer Barkhuizen verkies om niks agter te kom nie. Hy draai na die paar personeellede wat daar rondsit met hul koffie.
“Julle weet seker dat ons nou ’n celebrity in ons midde het,” sê hy genoeglik.
Natuurlik ontketen sy woorde eindelose kwinkslae van almal wat die foto in die koerant gesien het, en martelvrae oor presies hoe en wat en waar van almal wat dit nié gesien het nie.
Dit gaan nie veel beter toe haar eerste studente instap vir hul lesing nie. Niemand sê iets nie, want hulle is maar skrikkerig vir haar, maar langs die witbord voor in die lokaal het iemand die voorblad-koerantknipsel vasgeplak. Bambi besluit om dit net daar te los en te maak of sy niks gepla is nie, maar sy is deurentyd bewus van die fluisteringe en die vrae op die gesigte.
Teen die einde van die uur lange lesing oor enkeleienaarskap versus vennootskappe is sy seker dat daar bitter min daarvan by haar studente se ore ingang gevind het. Haar vermoede word bevestig toe Chad Williams met opset laaste uitstap, met sy gebreide mus laag oor sy wenkbroue getrek.
“Nice one, ma’am!” waag hy en rol sy oë in die rigting van die foto. Bambi maak of sy hom nie hoor nie en buk af om haar tas toe te knip.
Dit het haar lank geneem om Chad en sy trawante se vertroue te wen, en nou lyk dit vir haar of dinge grootskaals gaan misluk. En dit alles oor een verdomde foto. Sy ruk die belaglike leëkopflossiefoto van haarself van die muur af, frommel dit op en smyt dit in die drommetjie langs haar lessenaar. Toe sy afkyk, loer die helfte van Louis van Breda se aantreklike gesig vir haar uit die boonste hoek van die opgeskroefde stuk papier. Sy druk dit ergerlik dieper onder ander rommelpapiere in, vat haar tas en gaan soek lafenis in die personeelkamer.
“Heigend hert!” sê Hesti Human terwyl sy verwaaid by die deur instrompel met stapels papiere onder die arm. Hesti doseer sielkunde maar lyk altyd asof sy self op die drumpel van die een of ander lewensramp staan. Sy gaan sit, trek ’n stapel papiere nader en raak besig met haar pen.
“Hesti,” sê Bambi uit die bloute, “kan jy dalk vir my sê hoe die psigologiese profiel van ’n misdadiger lyk.”
“Hmm … ek het darem meer inligting as dit nodig!”
Bambi sit vorentoe. “Ek bedoel … as jy iemand ontmoet … uhh … sou jy aan die persoon kon sién of hy ’n aartsskelm is, of hoe?”
Hesti lag. “Kriminele denke is nou nie eintlik my forté nie, maar ek kan jou sê dat psigopate byvoorbeeld dikwels uiters suksesvolle, charismatiese persone is wat bedrewe is in die kuns om mense te manipuleer.” Hesti trek haar oë ondersoekend op skrefies. “Hoekom?”
“Ag man … ek …” Bambi vat haar tas. “Ek moet loop, sien jou môre.”
“Wag, Bambi,” sê Hesti skielik toe Bambi amper by die deur uit is, “laat ek liewer maar sê, mense kan jare lank saam met so iemand leef sonder om ooit te weet. En die ergste is, die persoon self weet nie dat hy aan ’n persoonlikheidsafwyking ly nie.”
Wat Hesti gesê het, pla Bambi só dat sy later voor haar rekenaar gaan sit en die woorde “criminal mind” google. Bladsye vol inligting verskyn op die skerm. Hoe verder sy lees, hoe meer onrustig raak sy. “Certain predispositions or personality traits, such as impulsiveness or extroversion, increase the chances of criminal behavior.”
Sy sit sommer die rekenaar af en gaan maak tee. Louis van Breda is sonder twyfel ’n ekstrovert. Dit maak hom natuurlik nie noodwendig skelm nie, maar nou ís daar baie stories aan hom gekoppel. En waar daar ’n rokie is … Ai, dink Bambi, darem ’n ontsettende jammerte dat so ’n indrukwekkend mooi man –
Haar foon lui skril voordat sy haar gedagte kan voltooi.
“Juffrou Le Roux, ek het opgelet dat jy my gisteraand gebel het. Waarmee kan ek help?” vra Louis van Breda vreeslik formeel, sonder enige sweem van ongemak.
Praat van die duiwel, dink Bambi skuldig. Sou die man vergeet het dat hy laas nog kwaad was vir haar? As hy hul onderonsie van Sondag met die burgers nie eens meer onthou nie, kan dit net een ding beteken: Sy is vir hom so onbelangrik dat sy nie eens op die buiterante van sy verwysingsraamwerk is nie. En daar was mos boonop die ene Vera wat sy foon beantwoord het. Sy vervies haar dat dit haar enigsins pla en skraap haar denke bymekaar.
“Ek wou bloot dankie sê, meneer Van Breda,” sê sy ewe formeel.
“My plesier, juffrou. Maar dit is onnodig om dankbaar te wees. Jy het tog ook ’n aandeel gehad in die wen van die prys.” Hy lag saggies. “Ek is oortuig daarvan dat die beoordelaars jou nie kon miskyk nie. Nie in daardie asemrowende uitrusting nie.”
“Dis nie eens myne nie,” glip dit uit.
“Nie? Wie s’n is dit dan?” vra hy geamuseer.
“Lang storie,” antwoord Bambi.
“Gelukkig is ek mos van kleins af mal oor lang stories.”
“Ongelukkig is ek ’n vrot verteller.”
“Dit glo ek nie, jy het dalk net nog nooit die regte een gevind om na jou stories te luister nie.” Bambi kan die geamuseerde klank in sy stem nie verdra nie.
“Nou ja, nogmaals baie dankie, meneer Van Breda,” knip Bambi die gesprek kort, “en totsiens.”
“Nag, juffrou Le Roux. Lekker slaap.” Tot haar ergernis is die spotklankie steeds in sy stem.
Dis darem ’n vreeslik sexy stem. Veral die effense krapperigheid. Hy klink ook … normaal. Wat sou die man nou eintlik doen vir ’n lewe? Niemand het nog enigiets –
Die foon onderbreek weer haar mymering.
“Ek sien jy doen toe die ding sonder my,” sê Bertus.
“Bertus! Jy het geen idee hoe ek wens jy was daar nie.”
“Dis moeilik om te glo as ek so na die foto in die Times kyk!”
“Jy weet mos jy moenie als vir soetkoek opeet wat jy in die koerant sien nie.”
“Nou van waar af ken jy dié Van Breda-man?”
“Van nêrens af nie, Bertus.”
“Nou hoe koetsjie-koetsjie jy dan sommer met ’n vreemde mansmens in die openbaar? Jy het dit nog nooit met my gedoen nie. En daai rok! Lyk of die ding aan jou lyf vasgegom is.”
“Dit was ’n noodgeval, Bertus. Verstaan jy dan nie? Eintlik alles jou skuld. Omdat jy my gedrop het en ek nie vir Margaret in die steek wou laat nie.”
“Ingewikkelde storie, lyk dit my,” sê Bertus baie nors.
“Los dit tog net, oukei? Dis oor en verby.”
“Nie as jy een van die dae saam met hom op Mauritius gaan rondflenter nie! Hy lyk vir my boonop soos een van daai smoothie-tipes.”
“Los tog net, Bertus. Glo my, dit was alles net ’n simpel misverstand en dis geskiedenis.”
“My krisis is ook darem opgelos,” sê Bertus gekrenk, “thanks for asking.”
“Ag, jammer ou Bertie. Ek sou nog daarby gekom het.”
“S’oukei,” brom Bertus, maar sy kan hoor dit is allesbehalwe oukei. Sy weet sy moet nou uitvra, maar hy spring haar voor.
“Nou dan sien ek jou een of ander tyd,” sê hy.
Een of ander tyd? Dit klink vir Bambi gevaarlik baie soos laaste sien van die blikkantien. Die don’t-call-us-we’ll-call-you soort antwoord. Hieraan is sy nie gewoond nie. En van Bertus, nogal! Sy dog hy vrek oor haar en gaan binnekort die groot vraag pop!
Bambi voel skoon naar. Soos wat dit nou lyk, gaan die gevolge van daardie foto nog lank rimpels maak in haar lewe. As dit iemand soos Bertus, wat nog altyd gedink het sy is die beste ding sedert bobotie, só vinnig kan laat afkoel, watter kans het sy om ’n ander ordentlike man te ontmoet?
Buitendien het sy daarvan gehou dat ou Bertus maar altyd beskikbaar was. Hy is glad nie te versmaai nie. Daar is baie wat sal sê hy is ’n vangs. Hoewel sy persoonlik dit moeilik vind om romanties te voel teenoor iemand wat in ander se monde rondgrawe vir ’n lewe, word ambisieuse jong losloper-ortodontiste met suksesvolle praktyke nie agter elke bos uitgeskop nie.
Maar daar het sy dit nou. Met James en die vervlakste Derrick ook nou uit die prentjie, toon haar sosiale lewe eensklaps sterk ooreenkomste met ’n broodkorsie wat lank agter die yskas gelê het. Miskien moet sy net gaan slaap, soos wat meneer Potensiële Skobbejak Vlieg-in-die-salf van Breda vroeër voorgestel het. Dinge lyk gewoonlik beter in die oggend.
Bambi ruk soos sy skrik toe haar foon haar wakker lui. Sy was weer in dieselfde onverklaarbare droom besig met die geheimsinnige, onweerstaanbare man wat nes die Van Breda-vent lyk. Die wekker wys kwart oor tien.
“Slaap jy dan al?” vra Margaret.
“Nie meer nie, dankie.”
“Ag jammer, vriendin, slaap maar weer. Baai.”
“Nee, praat, ek is nou wakker.”
“Ek het hom gegoogle.”
“Vir wie?”
“Die mán. Louis van Breda.”
“Het jy niks beters om met jouself aan te vang nie, Margaret? Waar’s Harold?”
“Hy is verskriklik ryk en belangrik!”
“Wie? Harold?!”
“I wish!” lag Margaret stuitig. “Louis van Breda, dommie. Hy besit maatskappye by dosyne en hy dien op hordes rade en het stringe grade en goed.”
“O ja, en?”
“Wat bedoel jy, ‘o ja, en’? Die man is briljant. Hy het by Harvard studeer. I kid you not!”
“En jy dog dit is genoeg rede om my wakker te bel?”
“Wel ek dog jy –”
“Nag, Margaret,” sê Bambi, “anderdag kan jy my als vertel van sy hordes en stringe, oukei? Nou wil ek slaap.”
Bambi hoor hoe Margaret luidkeels by Harold kla oor pêrels voor swyne in die oomblikke voordat sy die selfoon dooddruk. Haar laaste gedagte voordat sy weer insluimer, is dat sy nog nooit tevore patattjips uit die hand van ’n Harvard-genie met moontlike plaaslike mafiakonneksies geëet het nie. Dit amuseer haar so dat sy met ’n verspotte glimlag aan die slaap raak.