Читать книгу Lydia en die loodgieter - Anita du Preez - Страница 3

Оглавление

1

Lydia se gesig vat vlam. Sy voel hoedat die blos vanuit die dieptes van haar lyf opstyg tot by haar wange. Sy het dit nog altyd gehaat dat sy so maklik bloos. Om die waarheid te sê, as sy terugkyk, kan sy die meeste dinge wat al met haar gebeur het, klassifiseer onder erg, erger of ergste, gemeet aan hoeveel dit haar laat bloos het. Die dag toe die maer, bleeksielerige baster-Fransmannetjie Julian Perreault sy liefdesgedig oor haar vir die hele graadtienklas voorgelees het, pas byvoorbeeld onder die opskrif “erg”.

Wat sy nou hier voel, val egter heeltemal buite daardie skaal, want dit voel asof haar ore enige oomblik aan die brand kan slaan. Dít is egter nie haar grootste bekommernis nie. Wat haar die meeste ontstel, is die heerlike, dowwe, polsende pyn diep binne-in haar, wat niks anders as begeerte kan wees nie.

Sy was so seker daarvan dat niks en niemand ooit weer ná die gemors met Bernard erotiese gevoelens in haar sou kon oproep nie – en hier sit sy nou. In haar eie kombuis. Twee jaar ná haar egskeiding, en sy voel asof ... wel, sy voel ongelooflik sexy, terwyl die oorsaak van die stuwing van pure wellustigheid wat sy tot haar diepste vernedering ervaar, salig onbewus van alles, op sy hurke besig is om onder haar wasbak rond te krap.

Verbleikte jeans span styf oor een van die mooiste, stewigste sitvlakke wat Lydia nog ooit aan ’n man gesien het. Perfek. Tien uit tien. En Lydia het darem ook al heelwat gesien.

“Ai, my swak hart,” prewel sy geluidloos en wonder waarom sy nie net opstaan en uitloop, soos gewoonlik, en die man los dat hy sy werk kan doen nie. Maar dit is asof sy aan haar kombuisstoel vasgespyker is. Veral toe hy sy gewig effens versit van een heup na die ander om dieper onder die wasbak by te kom.

Lydia kan nie anders nie as om te aanskou hoedat die jeans agter nog verder afskuif totdat die verleidelike gleufie tussen sy perfekte boude ontbloot word. Sy probeer wegkyk, maar elke hardkoppige neuron in haar brein weier en registreer elke detail met entoesiasme. Soos die twee identiese dimples weerskante van sy stuitjie en die fyn goue haartjiespoor aan die onderpunt van sy gespierde, bruingebrande rug.

Desperaat probeer sy haar gedagtes kanaliseer na enige vervelige onderwerp. Soos haar belastingaanslag, of die dik pak opstelle van haar kunsgeskiedenisstudente wat langs haar skootrekenaar lê en wag om nagesien te word, maar haar twee oë bly vasgenael op die uitsig voor haar. Dit laat haar wonder hoe dit sal voel om ’n mens se vingers in te woel by die borand van die spierwit onderbroekie wat net-net begin uitsteek bokant sy ...

“Daar’s hy!”

Lydia ruk uit haar semibeswyming.

“Alles nou weer terug na normaal,” belowe die man en toring fors bokant haar uit toe hy orent kom. Dis asof sy teenwoordigheid haar hele kombuis vul. Die man het iets. Iets buitengewoons. Presence. En dis so sterk dat sy haar stembande nie dadelik aan die werk kry nie. Hy wonder seker wat met haar aangaan!

Hy draai om na die wasbak. “Warm en koud,” sê hy en speel met sy sterk vingers oor die krane se koppe om te demonstreer. “Reg so?” Twee blouselblou kykers loer vraend onder die donker wenkbroue oor sy skouer na Lydia. Nog nooit was die fyn swart haartjies op ’n man se voorarms vir haar presies so aanloklik nie. Snaaks, Bernard het ook sulke haartjies op sy arms, maar hierdie is ... hierdie is ... Dis sexy. Dis wat dit is. Ongelooflik eroties.

Maar buiten die voorarms, registreer haar brein beslis ook iets omtrent daardie hande. Sonder dat sy enige beheer daaroor het, flits ’n prentjie van daardie hande op haar kaal vel deur haar kop en haar hele lyf word weer vuurwarm. Sy staar asof bedwelmd na die simmetriese ovale van sy netjies gevylde naels aan elkeen van sy perfek gevormde vingers. Dit lyk glad nie soos die hande van iemand wat heeldag toilette en goed se pype las nie. Nee, dit lyk meer soos die hande van ’n ...

Hy draai vraend om na haar.

“Perfek, dankie,” kras dit uiteindelik uit haar droë keel en sy staan strammerig van haar stoel af op.

Dis eers nadat sy haar voordeur agter hom toegemaak het dat die volle impak Lydia tref. Sy was jou waarlik lús om te ... Sy sluk die idee liewer heel in, maar dit bly in haar vassteek. Sy leun teen die gangmuur aan en vryf woes oor haar gesig, knoop dan vervaard haar bos rooiblonde hare agter haar kop vas in ’n stywe bolling.

Sy was vas onder die indruk dat alle moontlike drange in haar lyf lankal toetentaal opgedroog het. Bernard het haar tog die laaste ruk van hul huwelik knaend daarvan beskuldig dat hul liefdeslewe meganies geword het. Dít nadat hy haar so afgesit het met sy gestortery ná die tyd ... En nou skielik, vandag, hier uit die bloute ... En dit met die lóódgieter?

Haar wroeging word onderbreek deur die gelui van haar deurklokkie. Ongeduldig. Iets opstandigs vlieg in haar op. Sou hy dalk ...?

“Hei! Maak oop!” roep Cat en druk die klokkie nog ’n keer.

“Kan nét jy wees,” brom Lydia terwyl sy die deur oopmaak.

“Oh my word! Kyk hoe lyk jy! Ek moet net keer of ek voel welkom!” Cat beur met pakkies en al by Lydia verby, gangaf tot in die kombuis.

“Ek het gewéét ons moes gisteraand vir jou die skottelgoed gewas het!” roep sy uit en gaan staan om die chaos in Lydia se kombuis gade te slaan. Lydia skuif ’n spul vuil glase eenkant toe om plek te maak vir Cat se inkopies en skakel die ketel aan.

“Tee?”

Cat trek haar neus vieserig op voordat sy swaar op een van Lydia se bentwoodstoele gaan sit. “Wie wil dan nou tee hê? Mind you, ná gisteraand is tee seker beter as nog rooiwyn,” sê sy effens uitasem.

“Jy kan bly wees jy kry enigiets.”

“Flippet, vriendin. Have no fear, niemand sal jóú ooit van gasvryheid beskuldig nie.”

“My water het opgepak, oukei!”

“Jou wat?” Cat se mond hang oop.

“Water, man. Water.” Lydia fladder ongeduldig ’n hand in die rigting van die wasbak. “Iets het gebars. Hier was niks water nie.”

“You had me there for a moment, girl!” verklaar Cat verlig, terwyl sy tevergeefs in haar oorvol Gucci-handsak soek na haar boksie aarbeigeur sigarette.

“En toe?”

“Nee, die loodgieter was hier. Hy het nou nét geloop. Om die waarheid te sê, ek dog hy het iets vergeet of so toe jy die klokkie lui.”

Cat vat haar tee by Lydia. “Uhu.” Haar groengrys oë loer alwetend oor die rand van haar koppie.

“Wat?”

“En toe staan ék daar en toe is jy spyt?”

“Moenie vir jou simpel hou nie, Cat.”

“Veertien jaar, Lydia le Fleur. Veertien jaar ken ek al jou ins and outs, en ek kan mos sien.”

“Wat sien?”

“Nee, vertel jy my!” Cat vou ingenome haar arms oor haar ruim boesem.

“Ag sjarrap, Cat ...”

“Oukei. Is dit miskien die lang, fris geboude donkerkop in die wit T-shirt en die jeans wat ek hier voor in sy ou wit bakkie sien klim het, hmm? Dalk die een met ‘Joshua Ferreira Plumbing and Sanitation’ in groot blou letters op die kante?”

“Hoe de duiwel moet ék weet?” Lydia voel hoedat die blos al weer oor haar wange sprei. Sy verwens haar ligte vel die honderdduisendste keer in haar ses-en-dertig jaar.

“I rest my case,” lag Cat en sluk proesend haar laaste tee weg. “Lydia die yskoningin het die hots vir ’n plumber!”

“Hou jou in, Cat. Ek het nie seks op die brein soos jy nie.”

“Niks fout met ’n bietjie –”

“Catharina!”

“Oukei, oukei!”

“Wil jy nie wys wat jy als gekoop het nie?” probeer Lydia die weerlig van haar aflei.

“Nee,” frons Cat en soek haar aansteker.

“Ag toe, man!” Lydia gryp na een van die winkelpakkies.

“Los,” brom Cat, “dis net ’n paar goedjies van Victoria’s Secret vir vanaand vir my en Vic, en jy dink al klaar ek is die een of ander pervert!”

“Het ek miskien so iets gesê?”

“Nee, maar ...”

“Nee, maar niks,” terg Lydia, bly om ’n bietjie die verleentheid na Cat se kant toe te skuif, “wys my nou, toe, dan kan jy my help skottelgoed was.”

Cat is duidelik nog lank nie klaar met Lydia nie. Sy hou haar egter in totdat Lydia haar afsien by die voordeur.

“Baai, vriendin. Dankie vir die tee,” sê sy ewe onskuldig en trippel heupswaaiend die tuinpaadjie af op haar luiperdvel-stiletto’s.

Toe kom dit.

“Daar is niks soos ’n stukkie plumber’s butt om ’n girl se hormone bietjie op te jaag nie, nè, of wat praat ek alles?” roep sy oor haar skouer. Lydia dog sy bars ’n aartjie net daar waar sy op haar eie drumpel staan.

Selfs toe Lydia later die aand haar lekker sagte flennies aanhet en met die gewone dankbaar-dat-die-dag-verby-is gevoel haar duvet oopvou, bly die ongedurigheid in haar lyf spook. Hoekom weet sy nie. Dis nie asof sy nie gewoond is aan mans óf aan Cat se skerp tongetjie nie. Van albei het sy heelwat ervaring. Cat het tog immers nog nooit ’n geleentheid laat verbygaan om haar uit te torring nie. Sy bedoel niks daarmee nie, dis maar haar manier om te wys sy gee om.

En sy wat Lydia is, is mos min of meer immuun teen mans, dan nie? Nou waarom kan haar lyf nie sy gewone lê kry nie? Sy waardeer dan deesdae haar eie bed so baie.

Buiten die groter goed, soos die gerieflike studio waar sy na hartelus mag skilder sonder dat Bernard haar daaroor kwalik neem, is een van die klein vreugdetjies in haar lewe sedert sy by hom weg is die feit dat sy nie meer die bed met sy fiemies hoef te deel nie. Met hom in haar bed was daar geen rus of duurte nie. Sy obsessiewe gevroetel om die duvet met militêre presisie oor sy lyf te vou het haar mal gemaak.

En dan was daar die kussings wat loodreg moes lê, die bedlamp en sy leesbril, sy waterglas en stapeltjie sielkundehandleidings wat nooit heeltemal met die wiskundige formasie in sy kop wou saamspeel nie. Einde ten laaste moes hy dan weer opvlieg om seker te maak die voordeur is gesluit, die stoof af, of die agterste vensters almal toe. Partymaal was dit ’n druppende kraan. Dan moes die hele petalje hom weer van voor af afspeel, totdat Lydia van pure uitputting in ’n soort slaperige koma verval het.

Vandat sy weg is by Bernard, was dit tot dusver een van haar klein private heerlikhede om haar voete oor die koel laken te gly, haar uit te strek en die duvet lekker deurmekaar te krap en dit knus om die kontoere van haar lyf te vou. Maar wat is dit nou dat sy nie haar gewone lê kan kry nie?

Sy stamp knorrig die stapel kussings agter haar rug rond en gee die duvet so ’n ergerlike pluk dat sy haar voete ooptrek. Ten einde laaste gee sy op en trek moedeloos haar kopie van Alexander McCall Smith se The No 1 Ladies’ Detective Agency nader, wat sy met soveel vreugde in die plaaslike biblioteek opgespoor het. Sy geniet die man se boeke gewoonlik baie, al het Bernard snedige aanmerkings gemaak oor intelligente vroue wat drek lees, maar teen bladsy veertien besef sy dat dit nie dié keer vir haar die ding gaan doen nie.

Die prentjie in haar kop het niks te make met die boek nie. Nee, dis die beeld van die verduiwelse man wat haar wasbak kom regmaak het wat soos ’n stout film op haar retinas vasgebrand bly sit. Teen elfuur gee sy moed op, gooi die boek op die bedkassie neer, stel haar selfoonwekker en skakel vies die bedlampie af.

Die gepiep van ’n SMS maak haar skaars ’n halfuur later wakker. Sy dog eers dis oggend, toe vroetel sy die foon dronkerig van die bedkassie af en voel na haar leesbril.

Dis Bernard.

Mis jou erg. Wat nou?

Ag tog. Sou Bernard so wraggies al weer verwag dat sy hom moet oornooi? Een oomblik lank oorweeg sy dit. Sy is op stuk van sake nou wakker en die arme Bernard ... As hy maar net kon weet hoe swaar dit vir haar was om haar van hom los te skeur. As hy maar net kon weet hoe lief sy vir hom was ... Steeds is?

Haar vingers huiwer oor die gloeiende lettertjies op haar foon. Daar was tog goeie tye. Veral aan die begin. Bernard was haar alles. Doktor Bernard le Fleur, kliniese sielkundige en hoogaangeskrewe senior lektor by die sielkunde departement van die Universiteit van Kaapstad. Sy was so trots op hom en kon aanvanklik nie glo nie dat hy haar, ’n eerstejaarstudentjie in visuele kuns, uitverkies het bo die stringe hubare vroumense – ook ’n hele paar op sy personeel – wat hul oogtande en etlike ander liggaamsdele wou gee om hom nader te hark.

Wil jy oorkom? tik sy haastig, maar sy kom nie so ver om “send” te druk nie. Sy kan hom voor haar geestesoog oproep, daar in die halfleë huis in Oranjezicht. Sy skraal, sensitiewe vingerpunte wat vat-vat na sy goedjies langs die bed. Die sexy groewe om sy smal lippe. Die bleek, asketiese gelaatstrekke met die donker, broeiende oë. Sy swart hare is seker deurmekaar.

Nee! Wat makeer haar? Dis die ou Bernard aan wie sy dink. Die een op wie sy verlief geraak het die eerste dag toe sy hom in die hoofgebou van die universiteit sien verbystap het, met sy kenmerkende kromskouer-hinkstappie en die diep plooi tussen sy oë. Sy was onmiddellik absoluut gefassineer deur die enigmatiese man. Hier was die diep denker, die dromer na wie sy gesoek het. Sy was daarvan oortuig dat sy hóm wou hê en niemand anders nie.

Ongelukkig was sy nie al een wat so gedink het nie, en Bernard het dit goed geweet. Ook dat hy sy werk kon verloor as hy sou lol met ’n student. Maar dit alles het bygedra tot die opwinding van hul liefdespel. Die skelm ontmoetings. Die openlike bewondering waarmee elke derde vroumens op kampus na hom gekyk het, terwyl Lydia geweet het dat sý die een was wat in sy arms mag lê, het haar tegelyk waansinnig en permanent op hitte gemaak. En sy was pas agttien.

Presies so oud soos hul meisiekind, Tania, die resultaat van hul stomende klandestiene sessies in sy woonstel, besef Lydia weereens. Geen wonder die kind ... Wag, laat sy liewer haar gedagtes hokslaan. As sy eers oor Tania en haar dinge begin wroeg, slaap sy nie weer nie.

Haar vinger huiwer oor die knoppies. Nee. Die Bernard wat sy geleidelik leer ken het ná hul troue, was helaas ’n heel ander persoon. Wat sy aanvanklik as die puntenerigheid van die sielvolle akademikus bewonder het, het geleidelik sigself geopenbaar as ernstige obsessief-kompulsiwiteit. ’n Sprekende voorbeeld van die stereotipiese wounded healer, soos Cat hom dadelik opgesom het. Sy wat Lydia is, het haar bloedig vererg vir haar vriendin, al moes sy later erken dat Cat, soos altyd, reg was. Sy dwangneurose het haar daaglikse brood geword.

Hoe sou hy en sy neuroses sonder haar regkom? Wie sou sy pantoffels vir hom aangee wanneer hy oortuig voel dat die vloer gekontamineer is met wie weet watter kiem? Wie sou die deurknoppe vir hom met Dettol-water afwas? Hoe sou hy by die werk regkom sonder dat sy darem tuis sake vir hom reghou?

Haar hart krimp van verlange na hom, bekommernis oor hom. Dan onthou sy weer sy rou gewaste hande en sy bloedrooi geskropte lyf wanneer hy uit die stort geklim het nadat hulle liefde gemaak het. Dit was dalk die laaste strooi: dat hy alles van haar, insluitend haar geur, dadelik van sy liggaam moes afskrop voor hy kon kalm word. Dit, en Tania wat moes kant kies.

Liewer nie, Bernard, besluit sy uiteindelik. Dit help nie. Al is sy hoe lief en jammer vir hom, sy sien nie kans nie. Nee. Nie om alles weer van voor af te moet beleef nie.

Nee.

Lydia sit haar selfoon neer en woel die duvet weer agter haar rug in. Bernard se angstige gesig terwyl hy worstel om sy obsessies hok te slaan, bly by haar. Sy weet presies hoe hy daar op die rand van hul dubbelbed sit, te bang om sy skraal, kaal voete op die grond te laat sak omdat hy soos gewoonlik nie weet waar sy pantoffels is nie, en sy is nie daar om te help nie.

Die hartseer dreig om haar te oorweldig en sy sluk swaar aan die knop in haar keel. Tog raak sy geleidelik rustig en die beeld van Bernard wat agter haar ooglede skuil, word stadig verplaas deur dié van die harde, bruingebrande rug van ’n man in ’n wit T-hemp wat voor haar wasbak kniel. Die laaste ding wat sy sien voordat sy wegdommel, is die fyn oliestrepie op sy wang toe hy omdraai na haar en hoedat sy dit versigtig met haar wysvinger afvee. Sy glimlag onwillekeurig terwyl sy haarself toelaat om weg te raak in die fantasie.

“Hoekom lyk jy só?” wil Cat weet die oomblik toe Lydia die volgende oggend haastig oor die pragtige ou Bataafse teëls van die visuelekunsgebou se voorportaal trippel. Sy wou koes, maar Cat mis niks wat by haar lessenaar verbygaan nie. Sy neem alle aspekte van haar pos as sekretaresse van die fakulteit bitter ernstig op, en wat haar betref, is die welsyn van elke lid van die personeel deel van haar werksbeskrywing.

Lydia plak ’n glimlag op.

“Al weer Bernard?” frons Cat.

“Ag, die arme ding. Hy het gisteraand laat ge-SMS, ja, maar ...”

“Arme ding se stert, Lydia, jy kan nie dat hy jou so manipuleer nie! Selfs Tania het uiteindelik die lig gesien en val nie meer vir sy twak nie, maar jý?”

“Ag jong, jy weet hoe dit is ...”

“Nee, ek weet nié.” Cat vou haar arms met groot nadruk. “Presies hóé is dit?”

“Jy weet mos hy sukkel, Cat, die ellendige siekte ...” Lydia sit haar tas en skootrekenaarsak neer, want die spul boeke onder haar arm is swaar.

“Nou waarom drink hy dan nie sy pille nie, hè?”

“Ag, los tog, Cat. Jy verstaan nie. Ek het jou al hoeveel keer gesê. Om nie jou pille te drink nie is een van die simptome van die siekte.”

“Ag, regtig! Wel, dit is nou die grootste bol stro– ”

“Ek moet gaan, Cat. Sien jou later,” val Lydia haar liefs in die rede en vat haar tas, want as dié argument eers weer begin, kom sy nooit by haar klas uit nie.

“Gee maar vir my,” sê Tristan skielik langs haar toe Lydia teen die smal trappe op sukkel met al haar goed. Sy gee vir hom haar tas. Gelukkig is daar gewoonlik so ’n eerstejaarstudent met mooi maniere naby wanneer sy swaar moet dra. Dis nie die eerste keer dat Tristan sy hulp aanbied nie. Hy is ook gewoonlik smiddae een van die laastes wat hul esels opvou en tekenmateriaal wegpak en is dikwels daar om die spul weer vir haar terug te dra na haar motortjie. Eienaardige jong man met sy kaalgeskeerde kop en permanente frons.

Haar lesing oor art nouveau verloop redelik goed, bloot omdat sy nog altyd so entoesiasties was oor die werk van Alphonse Mucha. Die eerstejaars is gewoonlik haar mees uitputtende klas omdat hulle, vars uit matriek, nog onder die indruk verkeer dat hulle alles weet, maar selfs die mees wysneusiges luister aandagtig, geniet haar Powerpoint-aanbieding en vra selfs agterna ’n paar sinvolle vrae. Party kom blaai glad deur die versameling boeke wat sy saamgesleep het.

Ook die onderwerp van die tekenklas daarna is skynbaar na die smaak van selfs Nicole Hay, die blasé blonde enetjie van Constantia met meer geld as verstand.

Lydia sug nietemin verlig toe vieruur aanbreek en haar dagtaak verby is, en sy gaan sit vir ’n oomblik agter haar lessenaar. Sy kla nie, want sy was maar te bly toe sy op twee-en-dertig die pos by haar alma mater losgeslaan het, maar ná agt ure op haar voete is sy gewoonlik taamlik leeggetap. Sy pak haar goedjies eers op toe die laaste studente raserig by die deur uit bondel en die uitbundige getrammel van voetstappe teen die houttrap stil raak. Toe sy opkyk, sien sy dat Tristan steeds agter sy esel sit en werk. Hy besef dat sy hom raakgesien het en kom half skuldig orent.

“Amper klaar,” sê hy terwyl hy staan-staan nog ’n laaste vinnige iets op die papier aanbring met die stuk houtskool in sy hand. Lydia wys met een hand dat hy nie hoef te jaag nie en maak met die ander haar papiere bymekaar. Toe sy egter naderstaan om te sien hoe Tristan vorder, haal hy haastig sy tekening van die esel af, rol dit op en sit dit in die koker wat hy altyd saamdra om sy werk te vervoer.

“Eers as dit heeltemal klaar is,” keer hy toe sy haar hand uitsteek om dit by hom te vat.

“Jy weet ek kan jou nie daarmee help as jy dit vir my wegsteek nie, nè?”

“Net hierdie keer,” belowe hy ernstig, “andersins vra ek mos altyd raad.”

“Ons sal sien,” dreig Lydia, want sy weet uit ondervinding dat baie van die konkoksies waarmee eerstejaars van die huis af aangesit kom klas toe, haar hare laat rys. Sy verkies dit as hulle hul werkstukke voortdurend oopstel vir haar kritiek en in klastyd daaraan werk sodat sy ’n ogie kan hou.

“Dit gaan so cool wees,” verseker Tristan haar met rooi wange.

“Belowe?”

“Mind-blowing, ek belowe.”

Teen Vrydagaand is Lydia vodde. Sy val byna letterlik met die deur in haar huisie in, swaar gelaai met die dag se boeke en die sak goed wat sy saamgeneem het klas toe om stillewes uit te pak vir die studente. Sy los als net daar by die voordeur, druk al die slotte agter haar toe en skop haar skoene in die loop uit op pad na die ketel. Lekker warm tee is al wat haar nou weer sal laat kans sien vir die lewe.

Sy het skaars gaan sit met haar koppie Earl Grey toe die deurklokkie lui. “Genade tog,” mompel sy toe sy gangaf strompel, “wie de joos ...?”

Die klokkie word weer gelui. Toe weet sy sommer wie dit is. Haar pa. Braam du Toit het sy eie manier om deurklokkies te lui. Om die waarheid te sê, die meeste mense het, en as sy nie so moeg was nie, sou sy dadelik die swaar, afgemete ritme van sy gelui herken het. Dis anders as Cat se frenetiese vinger op die knoppie. Selfs anders as Stephan – haar pa se woonstelmaat sedert hy en haar ma, Caroline, geskei is – se sagte, tentatiewe gelui.

Dis geen wonder Braam en Stephan kom soos sout en peper oor die weg nie. Beslis beter as Braam en ma Caroline. Praat van plofstof! Niemand was verbaas nie toe hulle hul egskeiding aangekondig en gevier het met een helse paartie; nog minder toe Caroline kort daarna met groot gedruis op die eerste die beste vliegtuig Frankryk toe is. Daar is praatjies en vraagtekens omtrent Braam en Stephan se saamblyery, maar geeneen het die moed om reguit te vra nie. Lydia ook nie.

“Vaderland, meisiekind, hoe laat jy my dan so wag, jong?” raas Braam toe sy uiteindelik al die slotte en kettinkies van die deur afgewoel gekry het. Nog voor sy kan verduidelik dat sy eintlik haarself reeds ingegrendel het vir die naweek, gryp hy haar en druk haar stewig teen sy groot, sagte lyf vas.

“Ek neem aan jy het nog nie begin kook nie, ek ruik niks?” sê hy snuiwend bo-oor haar kroontjie.

“Kóók?”

“Kook, ja, kook. Soos in kos.”

Braam druk haar sagkens opsy. Verbasend ligvoets vir een met sy gewig stap hy gangaf kombuis toe om seker te maak dat daar werklikwaar niks op haar stoof staan en prut nie. Lydia hoor hoe hy die oggend se pappot se deksel hoopvol oplig, toe sy skielik onthou. Sy het haar pa vir ete genooi!

“Ek ...”

“Het skoon vergeet, ja, dit kan ek sien,” kla Braam hand op die heup en trek sy lippe styf.

“Sorrie, Paaa ...” Lydia gaan sit en sluk sommer byna al haar Earl Grey in een teug weg.

Braam hoor haar egter nie eens nie. “Watse soort kaas het jy?” vra hy met sy kop halfpad in die yskas. Hy kom steunend te voorskyn met ’n ui, ’n halfdosyn eiers, twee tamaties en ’n pakkie sampioene.

“Cheddar?”

“Dié?” wil Braam weet van die effens muwwe stukkie kaas waarvan die kleefplastiek al losgetrek het.

Lydia knik.

“Red my volk.”

Gelukkig sien Braam die bottel merlot langs die wasbak raak en hy gryp na glase in die kassie bokant die stoof. Hy hou die glase teen die lig, trek sy gesig op ’n plooi en sidder dat sy maag dril.

“Nes jou ma,” verklaar hy terwyl hy die glase behendig onder die kraan afspoel, “vrotste skottelgoedwassers in Afrika, en dan ...” Braam sug dramaties. “En dan is daar Tania ...”

“Wie wil nou hê daar moet ‘Sy kon goed skottelgoed was’ op mens se grafsteen staan?” brom Lydia.

“Hmm ... Jou ma se storie ook altyd gewees.”

Braam buk onder die wasbak in en voel-voel aan die pype.“Het jy die spul laat regmaak?”

“Vroeg die week al, daar het ’n pyp iewers gebars, toe laat maak ek sommer die lek onder die wasbak ook reg.” Lydia is bly sy het iéts reg gedoen. “Hoekom vra Pa?”

“Omdat die ou wat die job gedoen het ’n vrót job gedoen het. Dit lek nog altyd hier onder. Kyk!” Braam wys hoe nat sy vingers is.

Lydia voel hoe sy begin bloos. Die Vader weet hoekom ...

Braam kom steunend orent. “Jy moet dat ek vir jou die nommer van ’n behoorlike loodgieter gee voor ek loop, hoor? Hierdie paloeka wat hier gewerk het, het g’n clue wat hy doen nie.”

Lydia slurp die laaste bietjie koue Earl Grey op sodat haar pa nie moet sien hoe rooi haar gesig geword het toe hy van loodgieters begin praat nie. Jy sou sweer sy het self die flippen pyp gelas en word nou daaroor gekritiseer soos wat sy bloos!

“Kry jy warm of is jy net honger?” vra Braam toe hy opkyk. Gelukkig gaan hy oudergewoonte voort sonder om te wag vir haar om te antwoord. “Nou maar gooi vir ons van daardie merlot, dan maak ek vir ons killer omelette.”

Maar Lydia bly sit net daar met haar mond vol tande en iets wat fladder in haar maag, en dis beslis nie hongerte nie.

Lydia en die loodgieter

Подняться наверх