Читать книгу Lydia en die loodgieter - Anita du Preez - Страница 5
Оглавление3
Sondagaand is Lydia half skuldig-dankbaar sowel as spyt dat Tania terug is universiteit toe. Boykie het die kind net ná vyf kom oplaai en Lydia moet nog voorberei vir haar lesings die volgende dag.
Daarvan kom egter nie veel nie, want eers moet sy op twee e-posse van ma Caroline antwoord omdat dié wil weet: Wat maak Lydia nog in dié ongekultiveerde land en waarom kry sy nie haar alie op die eerste vlug Parys toe na haar ma toe nie, na die beskawing toe?
Boonop lui Lydia se voordeurklokkie net voor sewe. Sy stoor vinnig haar voorbereidings op haar geheuestokkie voor sy iets verloor en gaan brom-brom voordeur toe. Ordentlike mense is Sondagaande ná sewe in hul huise, het haar ouma Bettie altyd gesê, en sy wil soms saamstem. Sy hoop nie dis Cat nie, want dan kry sy sweerlik niks verder uitgerig nie en sy haat dit om so halfvoorbereid voor ’n klas vol studente te staan. Dit klink egter nie soos Cat se gewone lui nie, maar haar vriendin is effe onvoorspelbaar en haar manier van lui kan afhang van haar bui.
Toe Lydia die dowwe, bonkige figuur deur die riffelglas in haar voordeur teen die lig onderskei, weet sy dadelik wie dit is. Haar hart skop teen haar ribbes vas. Wat sou die man wou hê? Meer nog, wat is dit wat sý wil hê? Sy oorweeg dit om stilletjies te maak of sy nie tuis is nie en gaan staan met haar rug teen die koue gangmuur. Sy wag dat hy moed opgee.
Die hele petalje van die Saterdagoggend rol deur haar brein. Wil sy dit herhaal? Daar kan tog geen ander rede wees waarom hy op ’n Sondagaand om sewe voor haar deur staan nie? Sy herleef sidderend die gevoel van sy mond op hare.
Dan onthou sy ook die feit dat hy dadelik geweet het dat sy bekommerd was oor haar ongewaste lyf sonder dat sy ’n woord gesê het. Dat hy sommer net geweet het wat sy dink. Dit is wat haar aan die hart gegryp het. Dit was die mees intieme, kosbare, erotiese ding wat sy nog in haar ganse lewe gevoel het. Veral ná Bernard en sy afkeer in enige sulke dinge.
Maar die man is immers ’n rowwe loodgieter. Iemand wat heel moontlik nie die vaagste benul het van die fynere dinge van die lewe nie. Nie dat sy dink dat sy beter ... Maar sy kan mos nie? En tog het hy meer deernis en sensitiwiteit teenoor haar geopenbaar in daardie paar minute as Bernard in al die jare van hul huwelik saam.
Lydia sug. As sy net ... Sy sien hoe die dowwe figuur wegdraai van haar deur en sy beeld vervaag soos hy moed opgee en begin wegstap, presies soos sy wou hê. Daar ontsnap ’n onwillekeurige miaau-geluidjie van protes uit haar keel.
Sy vroetel koorsagtig die kettinkies af en ruk die voordeur oop. Die voorportaal se lig stroom buitentoe en ets sy lyf af teen die donker buite. Hy draai om, en skielik is sy weer kwaad. Kwaad dat hy haar rustige, vervelige bestaan sommerso kom binnedring. Sy is nie lus vir komplikasies nie.
“Daisy?” Die enkele woord vra reeds presies daarvoor om verskoning, en sy sien die onsekerheid ook op sy gesig.
Toe is sy in sy arms. Hoe sy daar gekom het, weet sy nie, maar sy gee geen duit om nie. Met een tree is hy met haar en al in die voorportaal en druk hy die deur met sy hakskeen op knip. Sy mond en arms vou haar met soveel krag teen hom vas dat haar rug teen die gangmuur agter haar vasstamp. Sy skep swaar asem.
“Waar het jy my nommer ...?”
“By my ma ... sjuut nou.”
Sy lippe eis hare eenvoudig weer op en sy het geen verweer of lus om verder te vra nie. Haar lyf neem heeltemal oor by haar verstand en al waarvan sy bewus is, is sy harde liggaam so styf ingepas teen hare, en sy wonderlike, eksotiese, bedwelmende mansreuk in haar neus.
Sy gespierde bobeen in die growwe denim druk teen haar bekken en dit veroorsaak ’n warm vloedgolf van plesier wat dreig om haar weg te spoel. Hy vroetel sy hande ongeduldig onder haar lang, los romp in, vat haar boude stewig vas en druk haar nog stywer teen hom aan. Lydia se kop duisel, sy het nie asem oor nie, en sy vleg haar vingers krampagtig in sy dik swart hare. Dis asof sy binne-in hom wil klim.
Nog nooit het sy so iets ervaar nie. Sy een hand gly af na die sagte binnekant van haar regterknie en lig haar been hoog om sy lyf op. Nou is Lydia heeltemal magteloos en aan sy genade oorgelaat. Toe hy haar hempie begin losknoop, help sy hom. Sy is uitbundig bly dat sy geen bra aanhet nie.
Sy asem is koorsig, dit jaag oor haar keel en af tot by haar borste. Toe hy een tepel liggies tussen sy tande neem, stort Lydia oor die rand van vreugde en sy voel gewigloos, asof sy smelt teen sy borskas. Sy voel sy stormende hartklop teen haar oor en toe sy haar hand onder sy T-hemp inwoel, ook die effense rukkerige sametrekking van sy maagspiere. Haar hand soek boontoe oor sy gladde vel, vind die sagte haarvag op sy bors en kom versigtig tot rus op die klein, harde bultjie van een van sy tepels. Hy trek sy asem skerp in, kreun en vou sy hand afwerend oor haar vingers.
“Daisy ... wag ... dalk.”
“Ek weet,” stem sy amper in trane saam.
“Dis ...” stotter hy.
“Te gou ... ek weet,” vul sy in waar hy nie kan of wil nie.
Teësinnig tree hulle gelyktydig effens weg van mekaar. Lydia voel weer die harde muur agter haar rug. Albei se asems kom oneweredig oor hul lippe en hulle kyk saam half skaam af na die plankvloer.
“Wat bedoel jy ... by jou ma?” Dis beter as sy probeer aangaan met hul gesprek sodat daar weer kalmte in haar kan kom.
Joshua vou sy hande om haar wange. “Want my ma het ...” Lydia voel dat sy vingers steeds bewe.
“Is sy die vrou ...?”
“Ja, wat die foon geantwoord het. Dis sy wat my die eerste dag –”
“Hiernatoe laat kom het?”
“Daisy! Dalk moet jy ophou om my sinne vir my te voltooi!”
“Net as jy ophou om my gedagtes so te lees!”
“Hmm ... Dit ís nogal angswekkend, nè? Dalk moet ons drink daarop?”
“Dalk moet ons ophou nonsens praat en tee maak.”
Hy vryf met albei hande oor sy oë asof hy ook sukkel om weer helder te dink. Toe gee hy ’n hees laggie en stut hom met een arm langs haar teen die gangmuur. Met dom vingers knoop hy haar bloes met die ander hand toe.
“Tee? Oukei. Dis dalk die beste plan.”
“Nou klink jy nes Cat. Sy sou ook iets sterkers wou aanbeveel.”
“Sy klink na ’n besonder wyse vrou. Vertel my van haar.”
Lydia skuifel onder sy arm uit en kies liewer koers sitkamer toe, waar haar klein, outydse drankkabinet staan. Tee gaan nie vir hulle die ding doen nie en na die maan met haar voorbereiding vir die klasse. Sy het ook ’n lewe. Buitendien kan hierdie dalk kwalifiseer as ’n noodgeval.
Lydia daag die Maandagoggend laat by die werk op.
Sy en Joshua kon die vorige aand eers nie ophou gesels nie. Amper asof hulle hulself nie kon vertrou om stiltes toe te laat nie. Sy het die meeste gepraat, want sy was bang vir haar eie mond wat liewer ander dinge wou doen. Sy kon sien dit was met hom ook die geval. Sy het vertel van Bernard, van Tania, van Caroline en selfs van Stephan en Braam. Dit was asof hy ’n kraantjie binne-in haar ingewande oopgedraai het ná jare van opkrop.
Al waarvan sy hom nie vertel het nie, is haar werk. Sy was huiwerig, bang om hom af te skrik. Dit het verkeerd gevoel om haar pos as senior lektrise met ’n meestersgraad onder sy loodgietersneus te vryf.
Hy het haar later meestal net stilweg aangekyk en geluister met sy glasie sjerrie in sy groot hand wat hy kort-kort na haar uitgehou het vir nog ’n bietjie. As sy mooi daaroor dink, het hy bitter min van homself geopenbaar. Net dat hy dit geniet om met sy hande te werk. Hy het die sjerrie in die glasie stilweg om en om gedraai. Ook dat hy sy vakleerlingskap by sy pa se besigheid gedoen het en toe later op sy eie begin werk het.
“Lang storie.” Hy het afgekyk en stil geraak. Sy kon sien daar was dinge waaroor hy nie wou uitwei nie. Toe hy uiteindelik weer praat, het hy gemaak lighartig verduidelik dat sy ma soms ingestaan het wanneer die gewone ontvangsdame nie kon kom werk nie.
“En sy is nogal iemand om mee rekening te hou, hoor! Tertia Ferreira roer dinge met ’n gemanikuurde ysterhandjie en sy mis niks.”
“Klink of sy en my ma goed oor die weg sou kom,” het Lydia met ’n wrang laggie gesê.
Skielik was sy gesig doodernstig.
“En wat nog?” Die woorde het simpel geklink in haar eie ore, maar sy kon aan niks anders dink om die eensklapse somber stilte te verbreek nie.
“Wel ... My seun is op universiteit en sy ma ... my vrou is ... Wel, sy is dood.”
Lydia wou dadelik ’n duisend goed vra. Waar? Wanneer? Hoe? Sy kon egter duidelik sien dat hy nie wou praat nie. Sy moes nie uitvra nie, dit kon sy aan die harde, geslote uitdrukking op sy gesig sien, en sy het dadelik oor iets anders begin praat om nie die magic te versteur nie.
“Vertel my van jou,” het sy die ou kaart noodgedwonge uitgegooi. ’n Fyn skewe laggie het om een van sy mondhoeke geplooi. Hy kon haar lees, dit kon sy aan die verdonkering van sy irisse sien. “Nee, regtig, ek wil weet.”
“Ek het twee susters. Een is ’n mediese dokter. Nooit getroud nie, en die ander was onderwyseres en nou is sy ’n ma van drie met ’n florerende tuisnywerheid. En dan is daar my broer, Ettienne ...”
“Van jou, asseblief?”
“Ag, ek moes miskien medisyne gaan studeer het soos my oudste suster, maar ...”
“Toe val jy eerder in by jou pa se besigheid?”
Hy het geknik, maar sy kon weereens sien daar was goed wat hy nie wou sê nie.
“En wat doen jy die graagste?”
Hy het teruggeleun teen die bank se kussing en sy het gedink hy gaan nie antwoord nie.
“Daar is ’n paar plekke waarnatoe ek graag gaan. Daar is veral een plekkie langs ’n rivier.” Hy het weer lank stilgebly. Sy was te bang om hom te pla met nog vrae. Toe hy weer praat, was dit asof hy van iemand anders praat.
“En ek skryf so nou en dan.”
Dit was onverwags, en tog nie. Sy kon hom tot toe nog glad nie sien as iemand wat ten volle bevrediging sou kry uit loodgieterswerk nie. Daar was heeltyd iets baie anders aan hom. Dit het eintlik perfekte sin gemaak dat hy sou skryf.
Lydia het vorentoe gesit. “Gedigte?”
“Mens sou dit nie juis digkuns kon noem nie.”
“Nou wat dan?”
“Sommerso oor dinge ...”
Sy het nie gevra watter dinge nie, al wou sy bitter graag.
“En jy? Waarvan hou jý?” Sy kon sien hy was haastig om die fokus weg van homself te skuif.
“Ek skilder.”
“Maak sin,” het hy geknik. “Is jy op die oomblik besig met iets besonders?”
Lydia het geaarsel. Sy het geweet wat kom.
“Mag ek sien?”
Toe was dit sy wat nie wou deel nie. “Ag, dis daar heel bo in my studio.”
Hy het albei hande om hare gesluit. Haar opgetrek van die bank af.
Toe hy doodstil gaan staan voor haar nuwe, vreemde skildery, wou sy tienduisend dode sterf.
“Wie is die man by jou?” wou hy ná ’n ruk weet.
“Geen idee nie,” het sy ietwat kortaf geantwoord.
Sy was skielik kwaad. Sy moes hom nie toegelaat het om haar te dwing om hom die skildery te wys nie. Sy het omgedraai trap toe.
“En hoekom moet dit juis iemand spesifiek wees? Dis net ’n skildery, nie iemand se portret nie,” het sy oor haar skouer gesê van die tweede trap af. “Ek dink nie eens dis ek in die prent nie,” het sy bygevoeg.
Skielik was hy by haar. Sy arms het van agter om haar skouers gesluit.
“Ek is jammer, ek het geen reg gehad nie.” Sy lippe was teen die fyn haartjies agter in haar nek. Derduisende elektriese duiweltjies het eensklaps wakker geskrik presies daar waar sy mond aan haar vel geraak het en opgewonde teen haar rugstring af gedartel. Met moeite het sy hulle bestraf en aangehou trapaf loop.
“Dis oukei, kom ons gaan drink liewer ’n laaste sjerrie,” was al waaraan sy kon dink om te sê.
Toe hulle weer sien, was die bottel leeg. Die koeitjies-en-kalfies-gesprek om hul skielike ongemak toe te smeer, het egter uiteindelik opgedroog, en hy is ewe formeel daar weg, net toe ’n fyn reëntjie teen die ruite begin spat. Haar ouma Bettie se ou staanhorlosie het waarskuwend afgekondig dat dit al halfeen was toe hy met ’n “nag, Daisy” en een bitter klein piksoentjie op haar voorkop by die voordeur uit is.
“Hey? Hoe lank gaan jy nog daar staan soos een wie se kos die katte gevat het, vrou?” vra Cat met ’n oordrewe gekykery op haar groot Guess-polshorlosie. Lydia besef dat sy seker al ’n hele ruk daar op die trap van die kunsdepartement staan en mymer.
“Aitsa! Dit gebeur nie aldag dat ou Miesies Presies laat kom nie, what went wong, dear?” Cat kyk met hooggeligte dun wenkbroue na haar.
“Kon nie my karsleutel kry nie,” lieg Lydia tot haar eie verbasing gladweg. Sy kry lewe en stryk verby.
Sy is verstom toe sy by haar klas instap en almal is rustig besig agter hul esels. “Ek het hulle solank aan die gang gesit,” verduidelik wysneus Nicole Hay ewe wipperig en belangrik.
Teen vieruur die middag het Lydia net een ding voor oë: om by die huis te kom, want sy voel beslis ’n onbedaarlike lus vir skilder in haar groei. “Verfaanvalle,” het Bernard destyds gespot toe hulle nog die moeite gedoen het om met mekaar grappies te maak.
Dat dit iets te make het met Joshua se reaksie op die skildery, dit weet sy, en sy’s tegelyk half vies en half bly daaroor – sy sou graag sélf wou uitpluis wie en wat sy nou eintlik besig is om te skilder.
Toe sy haar voordeur oopsluit, lê daar ’n helderkleurige pamflet op die drumpel, wat iemand daar moet ingedruk het terwyl sy by die werk was. Sy smyt dit in die rooi porseleinbak op die halfmaantafeltjie waar sy alles sit waarna sy later moet kyk, en klim dadelik die trap na haar ateljee.
Die skildery kyk haar vreemd aan, en sy sit eers daarna en staar sonder om ’n kwas te lig. Het sý werklik die goed geskilder? Wat sou die beelde op die doek beteken? Soms, as sy so wegraak in ’n kunswerk en ’n dag of wat later daarna kyk, kan sy nie glo dis sy self wat dit geskilder het nie, en hierdie keer is dit erger as ooit.
Sy besluit om liewer eers versterking te gaan haal en kom later weer die trap op met ’n skinkbord met slaai, neute, rosyne en ’n fles koffie. Dit kan ’n lang nag word, besef sy.
Dit voel soos minute later toe haar selfoon lui, maar die horlosietjie op die skermpie glim halfelf. En die naam: Bernard. Sy antwoord taamlik traag, probeer gaaf klink, maar sy is innerlik sommer omgekrap dat hy al weer inmeng net wanneer die muse op haar skouer wil kom tuis raak.
“Verf jy?” vra hy.
“Uhu.” Lydia knyp die verfkwas tussen haar tande vas en smeer met haar wysvinger ’n flenter blou oor ’n skadu op die manlike figuur se skouer. “Hoe weet jy?”
“Ag, engelhart, ek ken jou mos.”
“Uhu,” antwoord Lydia en smeer versigtig nog blou aan. Ai, Bernard, dis nie asof jy ooit iets met daardie kennis oor my gedoen het toe jy nog kon nie, is dit?
“Nou ja, dan los ek jou maar.” Bernard klink so verwese dat sy dadelik weer vermurwe.
“Nee, ek luister, Bernard. Wat wil jy sê?” Sy gebruik haar beste stem terwyl sy stilletjies ’n strepie okerbruin verf aanbring.
“Ek het nuus,” sê Bernard.
“Ek luister.”
“Sit jou kwaste neer, my dier.” En dan, met groot nadruk: “Ek het medikasie begin neem!”
Lydia gehoorsaam, want skielik is sy lam. Van pure woede, van frustrasie ... van ... Nou moet sý al weer haar kwaste neersit?
“Weet jy wat dit beteken, my liewe, liewe Lydia?”
Sy hoor die ingehoue opgewondenheid en trots in Bernard se stem, maar sy voel net woede. Hoeveel jaar lank het sy nie gesmeek dat hy juis dit moet doen nie?
“Waarom nou, Bernard?”
“Ek dink jy weet, Lydia.”
Haar mond bly stom.
“Lydia?”
“Werk die medisyne, Bernard?”
“Ek kan jou kom wys, as jy wil.”
“Dis bietjie laat, Bernard,” keer sy. Sy is skreiend bewus van die dubbele betekenis van haar woorde. “Ek moet vroeg op. Anderdag?”
“Ek verstaan,” sê Bernard. Lydia verstom haar daaroor, oor sy kalmte. Dalk is hy tóg besig om te verander? Toe voeg hy by: “Dit sal dalk tyd neem, maar jy sal verstaan.”
“Nag, Bernard,” sê Lydia en druk die foon dood.
Sy is skielik doodmoeg en op die krop van haar maag sit die skuldgevoel soos ’n klont lood. Dalk hét hy ’n ommekeer beleef, en wie sal hom aanmoedig as sy dit nie doen nie? Hier reik hy ’n hand uit na haar en sy klap dit weg. As daar een mens is wat weet wat dit Bernard aan selfbeheersing gekos het om die pille te begin drink, is dit sy.
Sy kon hom darem bietjie meer geprys het. ’n Kloppie op die rug kan tog geen skade doen nie. En al sou sy nie weer die drade met hom wil optel nie, is dit tog bloot ’n geval van een mens wat ’n ander aanmoedig. Wat ’n nare skepsel is sy nie soms nie!
Sy oorweeg dit om hom terug te bel en geluk te wens met sy reusestap, maar sy kom nie so ver nie. Wat is dit met haar? Daar was tog ’n tyd toe Bernard vir haar die begin en die einde van alles was. Wie sê dit kan nie weer so wees nie? Boonop weet sy voor haar siel dat al wat Tania wil hê, wat sy nodig het soos suurstof, is dat haar ma en pa versoen moet word. Hoe kan sy die kind daarvan ontneem? Skuld hulle Tania dit nie ten minste om weer te probeer nie?
En wat dan van haar loodgieter? Wat dan van hierdie Joshua?
Nee, liewer nie daaraan dink nie. Daar is immers net mooi niks om oor te dink nie.
Toe sy omdraai, is die skildery meer as lewensgroot reg voor haar en lyk die man op die doek vir haar skielik presies nes Bernard, al het sy nog nie die gesig ingevul nie. Sy haal dit van die esel af en sit dit gesig teen die muur neer.
Lydia is skaars in haar kamer toe haar selfoon weer lui.
“Gaan jy inskryf?” vra Caroline. Lydia is gewoond daaraan dat haar ma sommerso sonder inleiding met ’n onderwerp in die huis val en verwag jy moet weet waarvan sy praat. Dit het altyd veral vir Braam mal gemaak.
“Waarvoor, Ma? Miss World?” gaap Lydia.
“Ag jammer, kind, ek het mos geen begrip van tyd nie. En moenie vir jou stuitig hou nie, ek is ernstig. Die Artes Internationale-kompetisie. Dit word gehou in Junie of Julie by die Galerie Emmanuel Fournier. Het jy enige idee hoe eksklusief dit is? Ek het nou net op die internet gesien hulle vra inskrywings van oor die hele aardbol. En jou pa het gesê hy het een van hul inskrywingsvorms by jou afgegee. Stephan het dit vir hom van die winkel af gebring. Jy moet eenvoudig –”
“Nee, Ma.”
Iets roer agter in Lydia se kop. Die pamflet wat sy vroeër in die rooi bak gegooi het. Haar oog het skrams die titel gevang en dit was sekerlik iets soos die kompetisie waarvan haar ma nou praat. Dan was dit Braam wat dit onder haar deur ingedruk het. Tipies Stephan. Hy dink mos dat alles wat sy skilder, meesterstukke is net omdat daar al ’n paar uit die klein galerytjie in sy kunswinkel verkoop het.
“So? Gaan jy?”
Lydia sug diep. “Waarom sou ek dít nou wou doen?”
“Omdat die prysgeld vir die wenner, rofweg geskat, tweehonderd-en-vyftig-duisend rand is! Plus ’n jaar in daai kunstenaarswoonstel-besigheid.”
“Nou ja. Dis mos duidelik dat dit buite my liga val.”
“Wel, al wen jy nie, is dit een helse eer as jy op die kortlys sou kom. En die finale uitstalling en prysuitdeling is hier. Die galery is net hier naby my!”
“Waar is hiér, Ma?” vra Lydia moeg.
“Hier in Parys, in die Rue Saint-Claude, kind. Hier in die stad van die avant-garde sedert Noag!”
“Noag, Ma?”
“Oukei, Toulouse-Lautrec, Da Vinci, Magritte, maak dit saak? Parys was en is nog altyd –”
“Oukei, Ma. Ek sal daaroor dink. Dankie, Ma. Kan ek asseblief nou net eers gaan slaap?” Lydia kry lag vir haar ma wat sulke name rondgooi terwyl sy geen idee van kuns, kunstenaars of hul herkoms het nie.
“Ja, nag, kind. Jy moet seker vroeg opstaan om jou pêrels voor daai klomp swyne te gaan werp.”
“Is so. Nag, Moedertjie Ma.”
Daar is tog ’n warm kolletjie in haar binneste toe Lydia eindelik haar lig afskakel. Oor haar ma, oor Braam en Stephan. Miskien selfs oor Bernard en sy pille. En dan is daar boonop hierdie nuwe toevoeging tot haar lysie menslike kapitaal: Joshua. Oor wie sy eintlik glad nie behoort te dink nie.